SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 issue3Literary aspects of the 2020 translation of the Bible in Afrikaans and the contribution of the literary advisors in the process of translationAuthority and solidarity: Forms of address and pronominal personal references in the Afrikaans Bible translation of 2020 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 n.3 Pretoria Sep. 2025

     

    ACKNOWLEDGEMENT
    ERKENNING

     

    Tom McLachlan - taaladviseur by uitstek

     

     

    Die Akademieraad betuig graag hiermee dank en erkentlikheid teenoor mnr. Tom McLachlan vir sy uitnemende bydrae as taaladviseur van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) die afgelope jare. Soos blyk uit die groetwoord van die vorige redakteur, Ina Wolfaardt-Grabe in die Junienommer het sy deurlopende taaladvies beslissend bygedra tot die opgang van die TGW as 'n gesogte en gerespekteerde afsetpunt vir navorsing in Afrikaans, waardeur 'n kernuitgangspunt van die TGW verwesenlik kon word, naamlik dat gesofistikeerde navorsing professionele taalversorging regverdig. Vir die Akademieraad is dit belangrik dat daardeur terselfdertyd gestand gedoen is aan een van die hoofdoelwitte van die Akademie, naamlik die uitbouing van Afrikaans as wetenskapstaal, oftewel die handhawing van Afrikaans in een van sy hoëvlakfunksies.

    Anders gestel: helder formulering is 'n sine qua non vir die oortuigingskrag van akademiese diskoers. Dit is dan veral op hierdie vlak waar Tom McLachlan se besonderse bydrae tot die opgang van die TGW merkbaar word. Sodanige bydrae is des te merkwaardiger as in ag geneem word dat dit kon geskied ten spyte van nie net die volgehoue druk op Afrikaans as wetenskapstaal nie, maar dat dit terselfdertyd rekening moes hou met toenemende kommer oor die gehalte van Wetenskapsafrikaans.

    Tom McLachlan het hierdie probleem reeds in 2013 raak opgesom in 'n artikel met die veelseggende titel: "Moet 'n mens Engels ken om Afrikaans te verstaan?" waarin die agterstand in die ontwikkeling van Afrikaanse terminologie getipeer word as "die inkleding van wesenlik Engelse segswyses in Afrikaanse woorde, waardeur die skyn van Afrikaansheid gewek maar idiomatiese Afrikaans verdring word". Volgens Ina Wolfaardt-Grabe is Tom McLachlan juis weens sy standpuntinname in hierdie artikel genooi om as taaladviseur in die TGW-redaksie te dien.

    Benewens die redakteur kon talle outeurs wie se tekste deur Tom taalversorg is, getuig van die waarde wat helder formulering vir die kommunikasie van gesofistikeerde navorsing inhou. Van besondere belang is hier ook Tom se bydrae tot die ontwikkeling van vakterminologie, oftewel 'n geskikte "vakjargon" in die woorde van 'n bekroonde outeur tydens ontvangs van 'n prys vir beste artikel in die TGW - hierdie outeur het trouens spesifiek verwys na Tom se hulp in sy pogings om 'n grondige vakregister vir die dissipline Middeleeuse filosofie in Afrikaans te vestig. Soos gestel in die groetwoord van Ina Wolfaardt-Grabe in die Junienommer van die TGW verteenwoordig sodanige uitspraak "die beste moontlike uitkoms van gesofistikeerde navorsing wat gerugsteun word deur professionele taalversorging".

    Ten slotte: Die Akademieraad neem met dank kennis dat Tom McLachlan steeds bereid is om op 'n ad hoc-basis die nuut aangestelde redakteur by te staan; voorts dat hy steeds beskikbaar is as taalversorger vir outeurs wat hulle artikels aan die TGW voorlê vir publikasie.

    Dr. Annelise de Vries

    Hoof- Uitvoerende Beampte

    Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns