SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 número3The third Afrikaans church Bible: Processes and practices of a direct translationLanguage change in the Afrikaans translations of the Gospel of Mark índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Revista

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versión On-line ISSN 2224-7912versión impresa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 no.3 Pretoria sep. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n3a11 

    LITERARY BIOGRAPHIES

     

    Biografie in konteks - wat kontroversies ons kan leer: 2) Philip Roth en sy biograwe

     

    Biography in context - what we may learn from controversies: 2) Philip Roth and his biographers

     

     

    Ronél Johl

    Emeritus professor, Skool vir Tale, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: csjohl@uj.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    In die eerste van drie gevallestudies oor die literêre biografie in konteks het ek gekyk na die wyse waarop die konteks waarbinne Leon de Kock se André P Brink en die spel van liefde ontstaan het en gepubliseer is en die daarmee verbandhoudende omstredenheid kon bygedra het tot die destabilisering van die teks in die sosiale verbeelding en die gevolglike twyfel oor die wetenskaplike integriteit van die biografie waarop sommige kritici aanspraak maak. In die huidige stuk val die fokus meer spesifiek op die destabilisering van elemente wat dikwels as "voorvereistes" vir 'n wetenskaplike biografie voorgehou word: "feitelikheid", "objektiwiteit" en "waarheid". Die eerste twee formele biografieë oor die Amerikaanse skrywer Philip Roth, wat twee jaar ná die biografie van Brink verskyn het en eweneens in 'n kontroversie betrek is, word as gevallestudies gebruik met die oog op die moontlike veralgemening van gevolgtrekkings.

    Trefwoorde: waarheid in biografie, objektiwiteit in biografie, feitelikheid in biografie, gevallestudie, gemagtigde biografie, ongemagtigde biografie, akademiese biografie, die argief


    ABSTRACT

    As the titles of the two contributions featured here suggest, a particular concern is with what, as researchers, we may learn about the literary biography when we draw the boundaries wider than the generic and consider the biographies within the discursive contexts in which they originate and circulate. What becomes clear even from a fairly limited examination of the epitexts of the first round of the Philip Roth and André P Brink biographies is that the context(s) from which the biographies emerged and within which they circulate have the ability to complicate and undermine any uncritical claims to the truth and objectivity of, about, and in the texts.
    In the previous contribution (the first of two) I looked at some of the ways in which the context in which the Afrikaans version of Leon de Kock's biography of Brink originated and was published, plus the controversy surrounding the history, could have contributed to the destabilisation of the text in the social imagination and the resulting doubts about the integrity of the biography. In the present contribution, I would like to address in more detail the destabilisation of particular aspects that are often considered "prerequisites" for scientific (literary) biography: "factuality", "objectivity" and "truth". Two biographies of the American writer Philip Roth, which appeared two years after the biography of Brink and were similarly embroiled in controversy, are used as "case studies", with the Brink reference, with a view to possible generalisation.

    Keywords: truth in biography, objectivity in biography, factuality in biography, case study, authorised biography, unauthorised biography, academic biography, the archive


     

     

    Inleidend en ter aanknoping, die Brink-biografie weereens

    1.

    By 'n noukeurige herlees van die resensies van De Kock se Brink-biografie val dit op dat twee van die resensente dit nodig geag het om lesers by voorbaat te waarsku dat die "waarheid" in die gedrang is in die biografie. Joan Hambidge het 'n parabel gebruik om die punt tuis te bring. Na aanleiding van die omstrede bekendmaking en die gebruik van die bandopnames van Anne Sexton se terapiesessies in Diane Middlebrook se biografie van haar, verduidelik Hambidge in haar bespreking:

    Ná die dood van die beroemde Amerikaanse digter Anne Sexton het haar terapeut, dr. Orne, die onderhoude wat hy opgeneem het, bekend gemaak. Hy is inderdaad geskors as sielkundige, maar sy verweer sal my altyd bybly: "Dit staan tog in die gedigte opgeteken." Helaas nie. 'n Gedig is nie op 'n een-tot-een-vlak gelyk aan die werklikheid nie en daardie terapeut het kennelik ook nie kon onderskei tussen fantasie en werklikheid nie. Lees gerus An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski (New York: Routledge, 2012). Dieselfde geld die [Brink-Hoernale. Dit verromantiseer alreeds die werklikheid en 'n "naked I" op 'n bepaalde manier. De Kock besin wel oor die kwessie dat iets in 'n mate gefiksionaliseer kon wees in die joernale.59

    Brink se biograaf, is die implikasie, mag oor die kwessie van fiksionaliteit en die literarisering van die werklikheid nagedink het, maar hy het nietemin die dagboeke as 'n betroubare weergawe van Brink se ervaring van die werklikheid (sy "waarheid" dus) aanvaar en gebruik om die skrywer se "lewe" ('n werklikheid buite die teks) te rekonstrueer: om "'n boek te skryf wat Brink se eie, dringendste belange weergee, gegrond op sy eie optekeninge oor homself en sy doen en late."60 Lesers wat vertroud is met poststrukturalistiese taalopvattings sal die komplikasies van die redenasie besef.

    Jean Meiring, in Rapport, gebruik in sy bespreking van André P Brink en die spel van liefde Brink se foto op die boekomslag en laat die skrywer as't ware "self" die waarskuwing rig: "Op die elegante stofomslag tuur Brink, op die kruin van sy loopbaan, die kamera amper vol in die oog. Op sy lippe talm 'n sin. Dit is asof hy voorbehoedend wil waarsku: Moenie áls glo wat hier, uit die argief opgediep, as die waarheid voorgehou word nie."61

    Die versoeking in literêre biografieë is groot om direkte gelykenisse of parallelle tussen die geskryfde en die geleefde werklikhede te vind en te gebruik sodat die een as't ware die bewyse van die waarheid van die ander verskaf en die twee stelle waarhede mekaar wedersyds bevestig. Dit het ook in Ira Nadel se biografie van Philip Roth tot probleme gelei en ook in Blake Bailey s'n. Die ontstaan- en publikasiegeskiedenisse van dié twee biografieë word met die oog op die bespreking in aanvulling tot die Brink-biografie gebruik, omdat ook in dié gevalle kwessies van waarheid, feitelikheid, objektiwiteit en betroubaarheid binne die raamwerk van die beskikbaarheid van die persoonlike Roth-argief op die voorgrond gestoot word. Terwyl die Brink-artikel veral op mediaverslae en onderhoude gesteun het om die epiteks van die Afrikaanse weergawe van die Brink-biografie te rekonstrueer, betrek ek in hierdie stuk ook epitekste aan die ontvangskant (resensies en kommentare) om lig te werp op die maniere waarop die kommunikatiewe konteks bygedra het om die implisiete aansprake op "die waarheid" in die tekste te help destabiliseer.

    2.

    Die probleme met "waarheid" en "objektiwiteit" sover dit die biografieë betref, spruit uit 'n verwagting by lesers en akademici dat biografieë die "feite" van 'n lewe op 'n betroubare manier agterhaal. Willie Burger (2014) verduidelik:

    "Ware ervarings" van "regte mense" in "werklike omstandighede" is kennelik baie gewild. (Hier word nie nou verder ingegaan op die komplekse verhouding tussen feit en fiksie en die mate waarin elke sogenaamde realiteitsprogram ook maar gemanipuleerde "fiktiewe" realiteit is nie.)

    Die punt is bloot dat die honger na realiteit - soos met die populêre wending - 'n geleentheid geskep het vir tekste wat 'n wyer aantal lesers tref en dat dit lei tot hibriede vorme, waarin allerlei vorme van realiteit (soos die essay, die memoires, die biografie, die etnografie, die joernalistieke verslag, die akademiese ondersoek) met fiksie gekombineer word.

    Burger verwys hier na die opkoms van kreatiewe niefiksie as 'n genre in die laaste helfte van die twintigste eeu en die impak daarvan in die huidige. Tussen hakies verskyn 'n lys "suiwer" genres met 'n lang tradisie dat hulle skrywers bemoeienis maak met die werklikheid/realiteit en die agterhaling van die waarheid - van 'n lewe, in die besonder, én in die algemeen. Onder dié genres verskyn die biografie ook.

    En in haar bespreking van De Kock se Brink-biografie as "'n wetenskaplike literêre biografie" noem Annemarie van Niekerk (2019) pertinent die onderskeiding van feite en interpretasie, feite en fiksie as vereistes vir die (wetenskaplike) literêre biografie:

    6. Daar moet 'n duidelike onderskeid wees tussen wat feite is en wat die biograaf se interpretasies is.

    7. Waar fiksie as bron gebruik word, moet dit deur die biograaf as fiksie (en nie feite nie) benader word. Die gebiografeerde moet byvoorbeeld nie na aanleiding van 'n roman geïnterpreteer word nie.

    Só 'n "vereiste" bring mee dat Kannemeyer se gebruik van JM Coetzee se Boyhood: Scenes from Provincial Life, wat as 'n gefiksionaliseerde outobiografie en 'n roman beskryf word, om die skrywer se kinderjare te help rekonstrueer in sy biografie van die skrywer, byvoorbeeld ook as problematies beskou sou kon word.

    Van Niekerk noem twee ander vereistes wat ten nouste met die bogenoemdes skakel:

    4. Die dokumentasie moet onberispelik wees en die bronne kontroleerbaar.

    5. Die biograaf moet krities (my [AvN] toevoeging: en verantwoordelik) omgaan met die betroubaarheid van sy/haar bronne ongeag of dit gaan om lewende getuies (bv deur onderhoude) of historíese verslae.

    Dié vereistes betrek die "argief" waarvan Meiring hier bo praat en spreek van 'n vertroue dat 'n krities verantwoordelike omgaan met die inhoud van 'n argief die waarheid "aan die lig sal bring". Dieselfde vertroue onderlê ook De Kock se verweer met betrekking tot die omstredenheid van sy aanbieding van die intieme besonderhede van Brink se sekslewe in die dagboeke. In 'n koerantonderhoud verklaar hy: "Ek vrees dat die boodskapper ek verkwalik sal word, maar dit kom uit sy joernale."62 En oor sy uitbeelding van die vroue in Brink se lewe in die biografie het hy in 'n ander onderhoud gesê elkeen het 'n geleentheid gekry om die "waarheid" van wat hy uit die joernale opgeteken het te verifieer: "Skryf daar: Elkeen van hierdie vroue in die joernale is kans gegee om te antwoord."63

    Die probleem is dat die "tekste" in die argief, op sigwaarde geneem en in isolasie beskou, nie ongekwalifiseerde of ongekompliseerde "houers" van die waarheid is nie, omdat hulle -kontra die indruk wat die geïsoleerde items mag wek wat op die rakke van "die argief" verpak staan in dose - nie sommer losgemaak kan word van die konteks van hulle makers en van hulle tyd en plek van "making" of "skepping" nie; en beskou 'n mens hulle as deel van 'n kommunikasienetwerk, soos hier die geval is, ook nie van die biograaf wat die bronne medieer en interpreteer nie. 'n Uitspraak wat Brink se biograaf na aanleiding van sy lees van 'n sentrale "hoofstuk" in die skrywer se liefdesgeskiedenis maak, is illustratief hiervan. De Kock, kommunikerende met sy lesers, beskryf hoe Brink herhaaldelik na sy oorspronklike "rou" joernaalinskrywings oor hom en Ingrid Jonker teruggekeer het om die teks in die kantlyne te korrigeer en te verander: eerstens is daar die teks waarin die skrywer "vir die eerste keer sy rou weergawe van die verhouding vertel. Maar as 'rolspeler' én 'waarnemer' sy woorde en daarna sou hy die gebeure eindeloos herlees en in kantaantekeninge korrigeer of verander soos dit hom pas".64 Van Niekerk (2014), op haar beurt, skryf in haar resensiestudie van die biografie uitgebreid oor al die maniere waarop De Kock in sy (kommunikatiewe) teks te werk gegaan het om die waarheid van Brink se "woorde" in sy joernale vir sy lesers op 'n krities verantwoordelike wyse te verifieer. Ten spyte van sy pogings, was resensente soos Hambidge en Meiring nié oortuig dat die Brink-biografie die onverdunde waarheid aan lesers aanbied nie en beide het dit reguit aan hulle lesers gekommunikeer.

    Die vraag in die huidige stuk is wát die ontstaan- en publikasiegeskiedenisse van die Roth-biografieë kan toevoeg tot verwagtinge omtrent waarheid en objektiwiteit van/in literêre biografieë.

     

    Philip Roth en sy nalatenskap

    Beide Brink en Roth was omstrede in hulle lewe en werk. Vir (Suid-)Afrikaanse lesers van Amerikaanse letterkunde wat in die 1960's en '70's grootgeword het, was beide ook ikone. Dit was 'n geslag letterkundeliefhebbers wat hulle eerste kennismakings met die werke van Oos-Europese (verset)skrywers van agter die ystergordyn, soos Kundera, Schulz, Hrabal, Gombrowicz, Kis, in die boekwinkels van die tyd in buurte soos Hillbrow, Braamfontein en Melville - en, via hierdie werke en die begeleidende inleidings, blootstelling aan 'n tydsgees wat soos 'n voorbode by Suid-Afrikaners geresoneer het - te danke gehad het aan Roth en aan Penguin Books. Roth naamlik was die algemene redakteur van die "Writers from the Other Europe"-reeks wat Penguin tussen 1976 en 1983 uitgegee het met inleidings deur figure soos Carlos Fuentes, Irving Howe, Joseph Brodsky, Heinrich Boll, Angela Carter, Czeslaw Milosz, Leszek Kołakowski, Jan Kott, John Updike en Josef Škvorecky.65 Roth was ook 'n Kafka-man. Binne dié wye konteks het literêre figure soos Brink en Etienne Leroux vir/namens rebelse jong Afrikaanse kreatiewes en lesers die mantel opgeneem en die vaandel van verset teen die "establishment" gedra.

    1.

    Roth was in die laaste jare van sy lewe legendaries onseker oor waarvoor hy die bangste moes wees: sy dood of sy biografie. Soos CJ Langenhoven plaaslik was hy skynbaar ook baie benoud oor wat biograwe oor hom sou skryf. Anders as Langenhoven, wóú Roth egter 'n biografie hê en het alles binne sy vermoë gedoen om die uitkoms daarvan te beïnvloed; om die misverstand wat hy geglo het oor sy werk en sy lewe bestaan het finaal uit die weg te ruim en eiehandig die grondslag te lê vir die beeld wat nadoods van hom sou voortleef. Die uiteindelike publikasie van Blake Bailey (2021) se Philip Roth: The biography het wyd opslae gemaak - om al die verkeerde redes - en in die proses ook Ira Nadel (2021) se Philip Roth: A Counterlife in 'n woordetwis ingesleep.

    2.

    Roth is in 'n stadium as (die laaste) Groot Amerikaanse Romanskrywer aangeprys. Sewe jaar ná sy dood, en 'n bietjie meer as vier jaar ná Bailey se biografie, is sy naam grootliks afwesig in elektroniese lyste van Great American Novelists - dalk net tydelik, maar tog veelseggend. Die verskuiwing kom boonop te midde van die groter debat oor die nut van die idee self van die "Groot Amerikaanse Roman". 'n Jaar vóór Roth se dood het Ursula le Guin - ook op die ranglys, maar laag - die vraag gevra: "Who Cares About the Great American Novel?" Die subopskrif van haar meningstuk was veelseggend: "Against a Uselessly Competitive, Hopelessly Gendered Concept."66 Dít was na aanleiding van 'n vraag van die New York Times se "Bookends" oor waar die groot Amerikaanse roman deur 'n vrou is. Le Guin het haar antwoord begin deur die vraag deels te kontekstualiseer na aanleiding van 'n antwoord wat 'n ander romanskrywer, Mohsin Hamid, aan die hand gedoen het:

    ... Bear with me as I advocate the death of the Great American Novel.

    The problem is in the phrase itself. "Great" and "Novel" are fine enough. But "the" is needlessly exclusionary, and "American" is unfortunately parochial. The whole, capitalized, seems to speak to a deep and abiding insecurity, perhaps a colonial legacy. How odd it would be to call Homer's "Iliad" or Rumi's "Masnavi" "the Great Eastern Mediterranean Poem." (ibid)

    Le Guin se argument verskuif die aandag na 'n ander een van twee van die groot kwessies -oorvereenvoudig: ras en geslag - wat debatte oor die Weste in die 21ste eeu domineer, om 'n blik te bied op die klimaat waarin Roth aan die einde van sy lewe sy reputasie probeer konsolideer het:

    Greatness, in the sense of outstanding or unique accomplishment, is a cryptogendered word. In ordinary usage and common understanding, 'a great American' means a great American man, 'a great writer' means a great male writer. ... Greatness in the abstract, in general, is still thought of as the province of men. || The writer who sets out to write the great American novel must see himself as a free citizen of that province, competing on equal ground with other writers, living and dead, for a glittering prize, a unique honor. His career is a contest, a battle, with victory over other men as its goal. (He is unlikely to think much about women as competitors.) Only in this view of the writer as a fully privileged male, a warrior, literature as a tournament, greatness as the defeat of others, can the idea of 'the' great American novel exist. (ibid.)

     

    Die "outeur" op soek na 'n biograaf

    1.

    Die amptelike weergawe van Roth se soektog na en sy uiteindelike aanwysing as biograaf het Bailey in die Roth-biografie self vertel, maar verskillende variasies daarvan het ook tydens die bekendstelling van die biografie opgeduik in onderhoude met hom en met vriende en kennisse van Roth. In 'n stuk vir The New York Times Magazine vang Mark Oppenheimer die onstuimigheid van dié geskiedenis vas:

    By 2012, when Roth gave Blake Bailey access to his papers, friends, little black book and innermost thoughts, Roth had parted ways with two previous biographers, courted another and threatened to sue a third. But Bailey, who had appealed to Roth with a sympathetic ear and a brazen request for the job, persuaded the aging author.67

    Dit blyk Roth het oor die jare minstens vyf kandidate oorweeg - 'n soektog wat hy in alle erns begin het ná die verskyning van sy voormalige vrou Claire Bloom se herinneringe Leaving a Doll's House: A Memoir in 1996. Hoewel die indruk van Bloom se memoires was dat dit 'n betreklik genuanseerde beeld probeer gee het van 'n romanse wat skeefgeloop het, was Roth diep gegrief - tot die bitter einde. Oor die daaropvolgende jare het hy tot verskeie uiterstes toe gegaan om die "skade" van Bloom se boek te probeer teenwerk: sy eerste stap was 'n dokument van 295 bladsye lank getitel "Notes for My Biographer". "I thought: Someone's got to correct this story, or this is going to be the story," het hy later aan die biograaf gesê wat hom uiteindelik sou help om sy waarheid aan die wêreld te vertel (ibid.). Vriende en adviseurs het Roth afgeraai om die Notas te publiseer.

    Die tweede stap was om 'n biograaf aan te stel wat sy kant van die saak kon stel: in 2004 het Roth Ross Miller, 'n neef van die Amerikaanse dramaturg Arthur Miller en professor aan die Universiteit van Connecticut aangestel, iemand wat Roth in 'n stadium as 'n nabye vriend gereken het. Miller het oor 'n periode van sowat twintig jaar verskillende weergawes van Roth se werke-in-wording gelees en was gevolglik 'n belangrike vroeë leser van Roth se romans van die 1980's en 1990's. Hy was/is ook die redakteur van die Library of America se versamelde werke van Roth.

    Roth was egter nie tevrede met Miller se werk aan die biografie nie en het volgens wat Bailey aan Oppenheimer te kenne gegee het probeer om stukke wat hy onder oë gekry het te herskryf (ibid.). Vyf jaar later is Miller aan die projek onttrek: op die oog af omdat hy nie al die onderhoude met bejaarde familie en vriende wat Roth vir hom gereël het gevoer het nie, nie vinnig genoeg na Roth se sin gevorder het nie en boonop 'n opinie gehad het oor Roth se gedrag teenoor sy vroue wat nie met die skrywer se persoonlike siening van die werklikheid gestrook het nie. Toe hy die projek verlaat het, moes hy die bande met onderhoude wat hy wel gevoer het aan Roth oorhandig. Roth, gegrief deur wat hy bestempel het as Miller se onbeholpe tegniek, het op elke segment skriftelike kommentaar gelewer. Dié kommentaar het hy in 'n lang dokument saamgevat wat hy die titel "Notes on a Slander-Monger" gegee en later tot Bailey se beskikking gestel het. Wat Miller betref: "... Roth railed against Miller to his last day," het Bailey aan Oppenheimer vertel (ibid.). Miller self wou nie op die bewerings in Bailey se biografie kommentaar lewer toe Oppenheimer hom genader het nie en Andrew Wylie, Roth se agent en een van die eksekuteurs van die Roth-nalatenskap, was ontwykend toe hy gevra is of die Roth-trust Miller sal dagvaar as hy met Oppenheimer sou praat: "I really don't want to go into that" (ibid.).

    Dit wil voorkom of die vrae wat Miller gevra het en die antwoorde van die respondente nie met Roth se sienings van die waarheid gestrook het nie, want daar is nêrens 'n aanduiding dat hy die bande self met die "rou" inligting aan sy amptelike biograaf beskikbaar gestel het nie.

    Toe die Miller-aanstelling nie uitwerk nie het Roth vervolgens eers Stanford-professor Steven Zipperstein genader wat aangedui het dat hy "teen 'n gemagtigde biografie" besluit het.68 In die prentjie was daar ook Roth se vriendin Judith Thurman, joernalis, skrywer vir die New Yorker en 'n bekroonde biograaf na wie Roth lank verwys het as sy toekomstige biograaf. Teen 2010 het Roth egter die Britse biograaf en akademikus Hermione Lee genader, 'n stap wat hy blykbaar gou berou het. In die eerste plek sou hy moes wag, want Lee was besig met 'n biografie van Penelope Fitzgerald. Maar daar was ook 'n ander rede: "He did not want to be remembered throughout posterity as a person who didn't like women," het 'n skrywer na aan Roth Oppenheimer laat verstaan, "And he thought that that was going to happen if he had a feminist biographer."69 Toe, met die aanbod aan Lee nog hangende, het Bailey Roth in 2012 genader. Ook Lee wou nie kommentaar lewer toe Oppenheimer haar in 2021 genader het vir sy stuk oor Bailey en die komende Roth-biografie nie.

    Uit beskrywings van die kandidate - in die biografie, en elders - kry lesers 'n taamlik goeie idee van die biograaf waarna Roth op soek was: iemand wat lojaal sou wees, nie geïntimideer is deur die skrywer se omstredenheid nie, wat sy werk ken en positief is daaroor, begrip toon vir die Joods-Amerikaanse kwessies waarteen Roth in opstand was (verkieslik self van Joodse herkoms), iemand wat die negatiewe persepsies oor sy seksisme en misogenie sou kon omkeer (verkieslik dalk 'n vrou, dalk 'n vriendelike feminis, maar bowenal liberaal, seksueel "bevry"). Thurman, byvoorbeeld, het 'n bekroonde biografie van die Deense skrywer Isak Dinesen op die rak gehad wat as grondslag gedien het vir die rolprent Out of Africa, asook 'n biografie van die Franse skrywer Colette - vroue wat in die beskrywing van die joernalis en skrywer Richard Bernstein in die New York Times daaraan gewoond was "(to) break rules and cross boundaries, in their writing and in their lives".70 En Lee se jongste boek op daardie tydstip was 'n bekroonde biografie van Virginia Woolf wat aangeprys is omdat dit teen die konvensie in Woolf nie as 'n "slagoffef (van jeugdige seksuele misbruik) uitbeeld nie. Daarby het Lee ook akademies oor aspekte van die biografie as genre en oor Roth se werk gepubliseer.

    2.

    Bailey kom nie uit 'n streng akademiese konteks nie en was op daardie tydstip ook nog nie bekend as 'n groot Roth-kenner nie, hoewel hy Roth se werk bewonder het. Aan Oppenheimer het hy vertel dat hy teen die tyd dat die biografie uiteindelik verskyn het, elf jaar ná sy aanstelling, wel al "honderde ure" aan Roth se werk bestee en "die meeste van Roth se romans" verskeie kere herlees het.71 Teen 2012 het Bailey weliswaar al 'n naam gemaak gehad met biografieë van twee ander omstrede Amerikaanse skrywers: John Cheever en Richard Yates. Taylor (2020) vertel in sy memoires Here We Are: My Friendship with Philip Roth dat Roth met verwysing na die Cheever-biografie teenoor hom opgemerk het: Bailey "doesn't judge his protagonist - he just lets him perform. Behave, misbehave, whatever he chooses to do. But there is no moral overlay. That is the kind of moral latitude I need in a biography."72Oppenheimer se beskrywing van Bailey se agtergrond skets 'n prentjie van iemand met 'n intense belangstelling in skrywers wat aktief in opstand teen of minstens wars van gemeenskapsnorme is. 1) Oorspronklik: Bailey die aspirant akteur en mislukte fiksieskrywer met 'n besondere bewondering vir Frederick Exley. "'I was feeling,'" het hy in sy 2014-memoires, The Splendid Things We Planned, geskryf, "'a keen affinity' for Exley, with 'his alcoholism, his morbid interest in sports, his contempt for the workaday world - the whole narcissistic juvenile whirl.'"73 2) Via: 'n preokkupasie met Yates op die tydstip toe sy eerste agent, Elizabeth Kaplan, hom gevra het om met 'n voorstel te kom vir 'n boek. Die Yates-biografie, A Tragic Honesty: The Life and Work of Richard Yates, wat in Julie 2003 verskyn het, was Bailey se deurbraak.74 Soos Oppenheimer verduidelik: "as Yates climbed out of the grave and into the literary canon, Bailey's biography was lauded for finding the narrative tension in the writing life" (ibid.). In Yates se geval was dit 'n alleenlewe en een van armoede waarin hy sy dae met een sigaret na die ander rokend voor die tikmasjien deurgebring het en saans in die kroeg. Die boek het die kortlys van die National Book Critics Circle Award in Biography gehaal en Bailey kon sy lewe as onderwyser agterlaat. Hy was "a schoolteacher no more." 3) Tot: die Cheever-biografie wat in 2009 verskyn en Roth se aandag getrek het.

    "Roth, who was about to publish his final novel and despairing of finding yet another biographer, read it admiringly" (ibid.).

    Bailey-en-Roth, blyk dit, was 'n geval van 'n biograaf en 'n onderwerp op soek na mekaar. Bailey het met 'n ompad, via James Atlas, in 2012 van die Roth-Miller-uitval gehoor en dat Roth moontlik na 'n nuwe biograaf op soek was. Hy het dadelik belanggestel en 'n e-pos aan Roth gestuur, waarna dié hom na wat berig is by twee geleenthede uitgenooi het - eers na sy Upper West Side-woonstel in New York en toe na sy huis in Connecticut.

    Op 5 September 2012 het The New York Times aangekondig dat Roth 'n nuwe biograaf gevind het: "Mr. Bailey approached Mr. Roth in the spring, after finishing his latest book, a biography of Charles Jackson, who wrote 'The Lost Week-End,' but had to undergo a lengthy vetting process before securing his approval. According to Mr. Bailey, the first thing Mr. Roth wanted to know was what qualified a gentile from Oklahoma to write his biography. 'I pointed out that I'm not an aging bisexual alcoholic with an ancient Puritan lineage and I still managed to write a biography of John Cheever,' he said."75

    Roth het aan die werk gespring. Die Notas met sy gedetailleerde kommentaar op sy eksvrou, Claire Bloom, se memoires, die boeklengte "Notes for My Biographer" wat hy aan Houghton Mifflin verkoop het, het hy toe reeds onttrek en die kopieë wat hy aan vriende gestuur het, teruggevra. Dié Notas, tesame met sy Notas oor die Miller-onderhoude, plus ander aantekeninge en briewe waartoe navorsers volgens aanduidings nie gou nie - indien ooit -toegang sal kry, het hy tot Bailey se beskikking gestel.

    Die ooreenkoms tussen Roth en sy biograaf was op die punt af. Van sy kant af, volgens Bailey, was dit dieselfde as wat hy met die Yates- en Cheever-families gehad het: "He would need free and complete access to Roth, his papers, all of Roth's friends and family and anyone else - even potentially unsympathetic people." Roth het ingestem: "His cooperation had the last-gasp urgency of one who had the end in sight," was Oppenheimer se gevolgtrekking uit wat Bailey hom vertel het.76 Van Roth se kant af, was die opdrag dat al die dokumente binne agtien maande ná die publikasie van die biografie aan Roth se boedel terugbesorg word. Aan sy eksekuteurs het Roth verder opdrag gegee om sekere van die dokumente te vernietig. Bailey se biografie sou in feite die definitiewe biografie wees.

    Oppenheimer het Julia Golier, 'n voormalige minnares, daarna goeie vriendin en sedertdien mede-eksekuteur van Roth se nalatenskap, oor die toekoms van die dokumente uitgevra. Sy het hom laat verstaan dat sy en Andrew Wylie wanneer die tyd kom daaroor sal besluit, gebaseer op hulle interpretasie van Roth se wense. Sekere dokumente sou waarskynlik by sy argief in die Library of Congress gevoeg word wat reeds oor sowat 25 000 items beskik het. "When I asked about 'Notes for My Biographer' and 'Notes on a Slander-Monger' - in effect, Roth's two unpublished books - she said: "There is a good chance we will destroy them," volgens Oppenheimer (ibid.).

    Die indruk wat Oppenheimer uit sy onderhoud met Bailey gevorm het, is dat Roth in die laaste ses jaar van sy lewe al sy biograaf se vrae beantwoord het, dikwels in briewe wat oor verskeie bladsye strek. Daar was ook lang persoonlike onderhoude en gereelde telefoniese gesprekke: "he smothered Bailey with attention, charmed him and offered the warmth reserved for intimates. He played easy to get, hoping to get something in return...": sy weergawe van die waarheid (ibid.).

     

    Die amptelike biograaf

    1.

    Oppenheimer se stuk het oorspronklik op 30 Maart 2021 in The New York Times Magazine verskyn onder die titel "Philip Roth Was His Own Favorite Subject. What's Left for a Biographer? One of the great chroniclers of America's literary lives takes on the author who fought to control his own story."

    Die stuk is om verskeie redes insiggewend en help lig werp op 'n hele paar sake. Nie net omdat Oppenheimer duidelik moeite gedoen het om kommentaar te probeer bekom van verskeie sleutelfigure wat by die ontstaan van die biografie betrokke was of ten nouste daardeur geraak is nie. Maar ook omdat die blik wat die stuk op Bailey, sy onderwerp en sy boek gee grootliks77onbeïnvloed was deur die komende storm wat in April 2021 om die biograaf se kop losgebars het. Oppenheimer het ook geen spesifieke akademiese belang by die onderwerp gehad nie. Hy was aan die woord as waarnemer en as 'n algemene, sy dit dan 'n goed ingeligte, leser wat sy indrukke sonder vrees vir inkriminering kon aanbied. Sy beskrywing van sy besoek aan huis by Bailey, sy vrou en 16-jarige dogter (kompleet met hond en kat) skep derhalwe 'n indruk van durendheid, van die gemoedelikheid van die gewone, ten spyte van die biograaf se belangstellingsveld en agtergrond - en in sterk kontras met die beeld van die biograaf wat oor die volgende weke na vore sou tree.

    By nabetragting kom 'n mens weliswaar nie weg van 'n vermoede dat die lewe wat Oppenheimer beskryf het intussen ingrypend en onherroeplik verander het nie. Die beeld wat die beskrywing skep is/was van 'n huis en 'n huislikheid met "'n soort Wes Anderson-analoë gevoel", deurmekaar, vol boeke - oral -, nêrens 'n TV in sig nie, maar met 'n klein vleuelklavier in 'n vertrek digby die leefkamer, waar die biograaf in die aand, ná 'n lang dag van skryf, sou ontspan. Die studeerkamer, is weg van die gewoel, op die derde verdieping. In die gang was daar nog 'n ry liasseerkabinette met honderde geel Manila-leggers met die Roth-argiefmateriaal wat Oppenheimer graag wou sien, en niemand dalk verder te lese sal kry nie. lewers, effens ontliggaam, omdat lesers nie vertel word presies waar nie, was/is daar ook Roth se befaamde Eames-stoel en ottoman wat Bailey geërf het, waarop die onderhoudvoerder - op sy beurt -ook 'n klein swaairit onderneem. Dit was duidelik 'n besonderse ervaring te oordeel aan sy beskrywing: "After dinner I swiveled around in one of Roth's old Eames chairs, which Bailey had inherited; the chair's ottoman was known as "Nicole's seat," as in Kidman, a close friend who sat there when she visited Roth" (ibid.). Die glans van die vermaaklikheidswêreld (van celebrity) het ook die literêre wêreld en die aanhangers van groot skrywers, waaroor Donna Rifkind dit eenmaal gehad het, oorrompel. Ook Philip Roth was nie immuun nie. En ook hier vervul vroue 'n sentrale rol.

    2.

    Oppenheimer se bewondering van Bailey se klaarblyklike werksvermoë is onbeskaamd: "Beholding six years of accumulated research into one man's life is like coming upon a finished jigsaw puzzle covering a ballroom floor: awesome, but it hurts to imagine the effort" (ibid). 'n Mens vermoed dat Roth se biograaf se argivale ingesteldheid van dieselfde orde was/is as dié van JC Kannemeyer en JC Steyn wat vir hulleself in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse konteks naam gemaak het met hulle biografieë van verskeie sleutelfigure in die (Suid-) Afrikaanse letterkunde en kulturele lewe, en in die geval van Kannemeyer, met sy JM Coetzee-biografie, 'n selfs wyer konteks. "There aren't many writers like Bailey in American culture, where literary biography is an anemic tradition," meen Oppenheimer (ibid.). "Bailey's archivist tendencies have resulted in a book that is exhaustive in its attention to the details of Roth's life: everything from the drudgery of his Army service in the mid-1950s to his disastrous marriages to his struggle with mental illness. The book is often sympathetic, presenting Roth as a figure who lived a life of equal parts discipline (the famed work routine that treated writing as a miracle hewed out of monkish labor) and exuberance (he enjoys one tryst with Ava Gardner and rejects another with Jackie Kennedy). We are thrust into the minutiae of the writer's finances, feuds and psychoanalysis" (ibid.).

    Die figuur van Roth wat vir Oppenheimer uit Bailey se biografie te voorskyn kom is dié van 'n man wat in staat was tot "sonderlinge dade van goedheid, irrasionele griewe en ongeërgde wreedheid" - "a man capable of great kindness, irrational grudges and casual cruelty" (ibid.). Maar Bailey en sy onderhoudvoerder het geweet watter agterdog daar by lesers bestaan teenoor biografieë wat met die toestemming en ondersteuning van die onderwerp of die bewakers van hulle nalatenskappe geskryf word; trouens ook teenoor biografieë wat sonder toestemming geskryf word. Oppenheimer skryf daaroor in sy stuk.

    3.

    In die geval van die gemagtigde biograaf (Bailey) en sy onderwerp (Roth), kon Bailey sy voorneme om Roth so goed hy kon met ál sy foute te wys, so hard hy wou, aan wie ook al sou luister, verklaar, maar in die finale instansie berus dit, soos met enige werk wat ernstig opgeneem wil word, uiteindelik by (onafhanklike) lesers en kritici om te bepaal of hy daarin geslaag het (of nie). Die beste wat die biograaf in dié instansie kon doen, is om 'n (sover-moontlik-objektiewe) vergelykende basis vir sy lesers en kritici daar te stel. In sy onderhoud met Oppenheimer het Bailey so 'n basis geskep deur die lesers en kritici van die Roth-biografie na die Cheever-biografie te verwys as 'n voorbeeld van sy filosofie en werkwyse (hy sou sy ander werk ook kon betrek het, maar Cheever was 'n takties goeie voorbeeld in die lig van Roth se bewondering vir die biografie): "Cheever is laid out on his ass in my book," het Bailey aan Oppenheimer verduidelik, "but Cheever remains essentially a sympathetic character." ... "If you tell the whole truth about a person, their humanity comes through," ... "Philip believed that would be true for him."78

    Die indruk wat Oppenheimer gehad het ná sy lees van Bailey se Roth-biografie was allermins dié van 'n hagiografie en van Roth as 'n heilige. 'n Beduidende deel van die vroeë besprekings het tot soortgelyke gevolgtrekkings gekom. Op 2 April 2021 het 'n Los Angeles Times-opskrif by 'n bespreking byvoorbeeld selfs aangekondig: "If 'Philip Roth: The Biography' leaves you hating its subject, thank Blake Bailey".79

    ... met voete van klei

    (Subtitel: Anatomie van 'n val in stadige aksie)

    1.

    Die Roth-biografie het op 6 April 2021 verskyn. Die reklamemeul het twee weke vóór die datum aan die gang begin kom met aankondigings, plasings van profiele, onderhoude, vroeë resensies, kommentare en wat nog - waaronder ook Oppenheimer se stuk. Die media-aandag wat Bailey en sy biografie ontvang het, het egter ook ander reaksies op aanlyn forums ontlok wat uiteindelik na die hoofstroommedia toe teruggespoel en Bailey se literêre agent en die uitgewer van die biografie tot optrede gedwing het.

    'n Leser wat die eerste keer met al die mediaberigte en aanlyn verslae en kommentare oor die bewerings teen Bailey te doen kry, kry aanvanklik die indruk dat die narratiewe op 'n amorfe wyse ineenvloei. Dit raak egter betreklik gou duidelik dat die klagtes oor Bailey se seksuele wangedrag uit drie verskillende oorde gekom het en betrekking het op 'n gedragspatroon oor 'n periode van twintig jaar.

    Die vroegste klagtes behels bewerings van onvanpaste seksueel verwante gedrag teenoor skoolmeisies van tussen 12 en 13 jaar in die 1990's toe hy 'n onderwyser by 'n skool in New Orleans was, met 'n opvolg 10 jaar later wat tot 'n bewering van verkragting gelei het deur een van sy voormalige leerlinge. Dié klagtes het aan die lig gekom in kommentare wat op 16 April 2021 gelaat is by 'n kritiese bespreking van die Roth-biografie op die Reluctant Habits-blog van Edward Champion onder die titel "Blake Bailey, Casual Misogynist and Eager Rube".80 (Beide die artikel en die blog het intussen van die internet verdwyn.) Op grond van dié bewerings het Bailey se literêre agent The Story Factory hulle aan hom onttrek.

    'n Tweede stel bewerings hou verband met verskeie klagtes van onbehoorlike seksuele gedrag tydens Bailey se termyn as professor in kreatiewe skryfwerk by die Old Dominion Universiteit tussen 2010 en 2016. Dit is gedurende die tyd dat Bailey Roth se amptelike biograaf geword en aan die Roth-biografie begin werk het, te midde van werk aan sy eie memoires The Splendid Things We Planned: A Family Portrait wat in 2014 by WW Norton verskyn het. Dié klagtes is aan die lig gebring in 'n artikel wat op 10 Junie 2021 in die Virginian-Pilot verskyn het, ses weke ná die oorspronklike opskudding.81 Die titel by die artikel was: "Blake Bailey was an ODU star. Faculty and students say he abused and harassed women for years". Die aantygings daarin word ten dele ondersteun deur bevindinge van 'n formele ondersoek na die beweerde voorvalle.

    Die derde behels 'n klagte van "niekonsensuele seks" deur 'n "publishing executive", Valentina Rice, oor 'n voorval aan huis van die New York Times se boeke-kritikus Dwight Garner in 2015. Dié voorval is op 21 April 2021 in The New York Times gerapporteer en het die bal aan die rol gesit vir Norton se optrede teen Bailey. Me. Rice het nie ten tye van die voorval 'n formele klag teen Bailey gelê nie, maar die voorval aan verskeie persone, onder andere aan Garner, genoem. Die klagtes oor seksuele misbruik in die vermaaklikheidswêreld wat die #MeToo-beweging sedert 2017 na die oppervlak begin bring het, het die situasie egter verander. In 2018 het Rice sowel die New York Times as Julia Reidhead, Norton se president, onder 'n skuilnaam en alternatiewe e-posadres genader met besonderhede oor die Bailey-voorval. Reidhead het nie direk gereageer nie, maar die klagte aan Bailey gestuur wat 'n e-pos teruggestuur het:

    "I can assure you I have never had non-consensual sex of any kind, with anybody, ever, and if it comes to a point, I shall vigorously defend my reputation and livelihood," he wrote in the email, which The Times reviewed. "Meanwhile, I appeal to your decency: I have a wife and young daughter who adore and depend on me, and such a rumor, even untrue, would destroy them."82

    Twaalf jaar voor die beweerde aanval op me. Rice, was daar ook 'n ander voorval toe Bailey me. Eve Crawford Peyton, sy voormalige leerling, na bewering in Junie 2003 verkrag en ná die tyd glo vir haar gesê het: "What is wrong with you? You just don't know how the game is played" in 'n eggo van Roth se reaksie toe sy eksvrou hom oor sy seksuele ontrou gekonfronteer het: "This is what people are. This is what people do."83 Bailey het me. Peyton 'n paar dae ná die voorval en weer sewentien jaar later in 2020 in e-posse wat The New York Times onder oë gehad het om verskoning gevra en verduidelik dat hy psigies onwel was ten tye van die voorval.84

    2.

    Toe me. Rice haar in April 2021, midde-in die reeds ontwikkelende skandaal, ook nog bereid verklaar om in die lig van die bewerings deur Bailey se voormalige leerlinge haar klag onder haar eie naam te herhaal, en dit toe ook in The New York Times85 gedoen het, was Norton se reaksie onomwonde.

    Op 21 April 2021 het Norton aangekondig dat die verspreiding van Bailey se boek en die druk van 'n tweede oplaag gestaak en alle verdere publisiteit en bekendstellingsgeleenthede gekanselleer is. 'n Week later op 28 April 2021 is bekend gemaak dat die uitgewer alle bande met Bailey verbreek en 'n sessyferbedrag, gelykstaande aan die voorskot vir die biografie, bewillig het aan organisasies wat slagoffers van geweld teen vroue bystaan. Op die De Kock-skandaal twee jaar vroeër was Jonathan Ball se reaksie grotendeels 'n wag-en-kyk-houding, met 'n vae dreigement dat hulle nie sal huiwer om hulle steun van De Kock te onttrek indien daar bewyse sou wees dat hy hom aan rassisme skuldig gemaak het nie, terwyl hulle in dieselfde asem bevestig het dat hulle steeds by De Kock se boek staan, hoewel alle bekendstellingsge-leenthede gekanselleer sou word. Daar is verskeie vrae te vra oor die uitgewers se rol in die dilemmas waarin hulle kliënte hulle laat beland het en hulle onderskeie reaksies daarop, wat in albei gevalle dalk nie heeltemal goed deurdink was nie; en in Norton se geval dalk ook eerder 'n poging was om te kompenseer vir die feit dat die uitgewer nie vroeër/betyds meer doeltreffend opgetree het toe die klagte oor Bailey se gedrag in 2018 (voordat die boek se verskyning 'n voldonge feit was) die eerste keer direk aan Reidhead gerapporteer is nie.86

    Die feit dat die twee uitgewers hulle uiteindelik verplig gevoel het om op te tree teen die wangedrag van die twee biograwe met wie hulle formele kontrakte gesluit het, is egter veelseggend. Dit dui op 'n verander(en)de klimaat in die nawerking van die #MeToo-beweging, met uitgewers wat toon dat hulle ook begin besef het dat hulle, soos ander bedrywe wat op wins ingestel is, 'n wyer sosiale verpligting het teenoor spesifieke groepe (en kwesbare individue binne daardie groepe) waaruit hulle voordeel trek en waarop die bedryf 'n impak het. Met die aanvaarding van daardie verantwoordelikheid (selfs al sou dit met minder suiwer motiewe wees), erken hulle ook die "sosiale lewe" van hulle produkte. Dit skep weliswaar 'n komplekse situasie. Francine Prose, Amerikaanse skrywer, kritikus, en 'n voormalige president van PEN Amerika, wys byvoorbeeld daarop dat 'n omstrede etiese klousule in Amerikaanse kontrakte met skrywers uitgewers in staat stel om 'n skrywer se kontrak te beëindig en 'n voorskot terug te eis indien dié van "immoral, illegal, or publicly condemned behavior" beskuldig word. "The idea is to protect the publisher in cases like Bailey's," maar: "the slippery slope is obvious". Norton se optrede, derhalwe, was weliswaar wettig, maar, was/is Prose se vraag, is dit dan die taak van uitgewers om as morele arbiters op te tree deur 'n reeds gepubliseerde boek (wat deur al die vooraf-prosesse is - rj) aan die mark te onttrek?87 Prose gaan verder en vra voorts wat 'n gepaste optrede sou gewees het in dié geval? Haar voorstel: "In an ideal world, the book would continue to be distributed, and the profits put in escrow. In the event that Bailey was found guilty of the more serious charges against him, the author's share could be donated to a charity that significantly improved the lives of women" (ibid.). Maar - soos Prose ook besef - hierdie is nie 'n ideale wêreld nie. Die betrokke vroue het nie formele klagtes gelê nie - gedeeltelik sekerlik in die pynlike besef van die emosionele en psigiese koste daaraan verbonde om die gebeure nog 'n keer, in die openbaar en onder 'n moontlik vyandige "male gaze", te herleef, maar dalk ook ontmoedig deur die daaropvolgende gebeure waarby 'n uitgewer ook betrokke was, wat die indruk wek dat Bailey onaantasbaar was.

    3.

    Binne weke nadat Norton sy kontrak met die biograaf tot niet verklaar het, het Bailey 'n nuwe uitgewer gehad, met minder gewetenswroeging oor die klagtes teen die biograaf, waarmee Prose se voorstel oor die aanvaarding van sosiale verantwoordelikheid netjies gesystap word. Dié uitgewer, Skyhorse Publishing, het toe reeds 'n stewige reputasie opgebou gehad vir die publikasie van kontroversiële werke waarvoor hoofstroom-uitgewers nie kans sien nie. Onder hulle kontroversiële publikasies tel die memoires van die omstrede rolprentregisseur Woody Allen wat na bewering sy stiefdogter by die rolprentster Mia Farrow seksueel gemolesteer en met 'n ander stiefdogter getrou het.

    Skyhorse het intussen ook Bailey se 2014-memoires ooigeneem by Norton. 'n Bemoedigde Bailey het, nadat hy eers alle aantygings teen hom "kategories" ontken het,88 'n verklaring deur sy regsverteenwoordiger laat uitreik dat hoe "deplorable" sy gedrag dalk ook al was, niks daarvan regsoortredings konstitueer nie.89

    Met dié stap het Bailey nie bloot 'n onbegrip/onsensitiwiteit jeens sy slagoffers en die #MeToo-projek vir almal om te sien ten toon gestel nie, maar terselfdertyd homself, sy biografie en die uitgewers speelballe in 'n groter "twis" gemaak. Norton het onder druk dalk nie die wyer ramifikasies van hulle onttrekking aan Bailey se biografie deeglik genoeg oorweeg nie. Met dié verdelende optrede het die uitgewer hom egter onvermydelik langs lyne van marksegmentering en uitgewerhandelsmerke ten opsigte van die sogenaamde Culture Wars geposisioneer. Die beeld van Skyhorse wat in die sosiale verbeelding gevestig geraak het - ten spyte daarvan dat die uitgewer homself bemark as voorstander van vryheid van spraak, sy boeke deur die gerespekteerde Simon en Schuster versprei word en omstrede boeke oor die algemeen 'n klein deel van die katalogus uitmaak - is dié van 'n uitgewer wat uitdagend anti-woke is en 'n tuiste aan gekanselleerdes bied, ongeag. Onvermydelik raak die gebeure ook die posisionering van Bailey se biografie van Roth, en die beeld van beide skrywer en biograaf in die sosiale verbeelding.

    4.

    In Junie 2022, 'n jaar ná die Bailey-skandaal, het Skyhorse aangekondig dat Bailey aan sy herinneringe werk wat in Maart 2023 sou verskyn. Teen Maart 2023 is 'n nuwe verskynings-datum aangekondig: Bailey se memoires Repellent: Philip Roth, #MeToo, and Me sou teen die einde van Junie 2023 gereed wees vir versending. En, is aangekondig, soos die titel te kenne gee, sou die memoires op die publikasiedebakel rondom die Roth-biografie fokus.90

    Met 'n goeie skeut opportunistiese manipulering van die feite vir effek het die uitgewer die kritiek teen die Roth-biografie as bemar-kingsmateriaal ingespan en 'n gepas populistiese omslag vir die boek laat ontwerp. Op die voorblad verskyn The Daily Beast se beskrywing van Bailey as "perhaps the greatest literary biographer of our time". Die voorafreklame het 'n duidelike boodskap gestuur: Bailey was 'n "slagoffer" van die woke-kansellasiekultuur se aanval op vryheid van spraak. Die reklamestuk op die uitgewer se webblad het die "beson-derse band" tussen Roth en Bailey wat oor 'n periode van ses jaar ontwikkel en op die biografie uitgeloop het, beklemtoon. Maar, verklaar Skyhorse, "ominous forces were afoot":

     

     

    because of revelations in Bailey's biography, many were calling for Philip Roth and his work to be "canceled," while others seemed to think Bailey had been overly sympathetic and even "complicitous" with his subject's worst failings. Soon rumors exploded on the internet about Bailey's own private life, and within days he himself was roundly canceled.

    In Repellent, Bailey looks back at his fraught collaboration with Philip Roth, whose reputation as a misogynist, philanderer, and self-hating Jew - not to say one of the greatest novelists of the postwar era - left him obsessively preoccupied with his only authorized biography. Bailey also frankly describes his own wayward behavior and reflects on the extent to which writers' personal lives should affect the perception of their work.

    Repellent is a provocative account of the private Philip Roth and his biographer, as well as a clear-eyed examination of the perils courted by any writer or artist - fallible human beings, after all - in the era of cancel culture.91

    Roth se biograaf, het die reklamestuk laat blyk, sou sonder om veel daarvan te dink sy verbintenis met Roth uitbuit om sy beeld te rehabiliteer en homself te bevorder. Bailey en sy nuwe uitgewer het egter hulle hand oorspeel, het dit spoedig geblyk. Die inligting oor die komende boek het binne dae weer van Skyhorse se webwerf af verdwyn. Junie 2023 het gekom en gegaan sonder dat die boek verskyn het - en sonder dat redes verstrek is - en op webwerwe wat boeke adverteer en bevorder, soos byvoorbeeld Goodreads, was daar slegs plekhouerteks. Dit is moeilik in te dink dat die eksekuteurs van Roth se boedel - wat formeel vir die beskerming van die skrywer se naam en literêre nalatenskap verantwoordelik is - gediend sou wees met die wyse waarop Bailey en Skyhorse probeer munt slaan het uit sy wangedrag en dit boonop probeer regverdig het deur Roth daarby in te sleep. Of dat hulle sou toelaat dat die historíese verbintenis tussen Bailey en Roth uitgebuit word en die materiaal waartoe Roth Bailey eksklusiewe toegang gegee het sonder toestemming vir ander doeleindes as vir die biografie aangewend word.

    Dat Bailey nie so vry is/was om op sy Roth-verbintenis te kapitaliseer as wat hy dalk gedink het nie - en 'n leidraad dat Roth se eksekuteurs beplan om sy nalatenskap met 'n ysterhand te bestuur - blyk onder andere uit die feit dat die Roth-boedel die medekopiereghouer is van die Roth-biografie (dus ook van die Skyhorse-uitgawe), iets wat tot nog toe ongehoord was in die Amerikaanse uitgewersbedryf. Soos hier bo op gewys, het Bailey ook opdrag gehad om alle materiaal wat Roth met die oog op die biografie aan hom beskikbaar gestel het aan die eksekuteurs terug te besorg, wat op hulle beurt weer opdrag gehad het om van die materiaal (wat vir 'n groot deel weliswaar waarskynlik kopieë is) te vernietig. Volgens 'n berig in The New York Times het die eksekuteurs intussen ook in 'n ongewone stap toegetree om toegang tot die Roth-materiaal wat Benjamin Taylor in 2018 aan Princeton Universiteit verkoop het en waarvan Bailey kopieë gehad het, te beperk: "Normally, access to materials in archives is governed by an agreement with the donor, not the person who created the documents. In 2018, Princeton announced the collection was open to researchers, but it subsequently closed it and removed the guide to the collection from the internet. || Scholars researching books on Roth were stunned by the abrupt closure. A spokesman for the university said it is in 'ongoing discussions' with the Roth estate regarding the collection."92 Ook materiaal wat Roth self sedert die 1970's aan die Library of Congress begin skenk het en teen 2001 al sowat 25 000 items behels het en die periode 1938 tot 2001 dek en onder andere korrespondensie met Harold Bloom, John Updike, Saul Bellow en Cynthia Ozick insluit, is nie vrylik beskikbaar nie -spesifiek die laaste 15 dose met materiaal van 1945 tot 2018 wat tot 2050 slegs met die toestemming van die eksekuteurs van die boedel besigtig kan word.

    Wat die toekoms van die Brink-argief is - in die lig van die bogenoemde - is nog onseker.

    5.

    Die narratief van Bailey se val het sedertdien nog 'n stertjie bygelas gekry. Op 1 April 2025 het die memoires van die skandaal toe wel by Skyhorse verskyn, maar met 'n ander aanslag:

    Canceled Lives. My Father, My Scandal, and Me vertel naamlik die verhaal van die effek van die skandaal op "father and son ... ravaged by the ordeal of Blake's spectacular public humiliation". Op sy webblad bemark Skyhorse die werk onder die opskrif: "A canceled bestselling author's highly personal account of his public scandal - a scandal that was reported on the front page of the New York Times and throughout the world." Weer is dit die manier waarop die "skuld" vir die skandaal deur vernuftige taalgimnasitek voor Roth se deur gelê word - in 'n woordelikse herhaling van 'n deel van die oorspronklike reklame vir die geaborteerde Repellent - wat aandag trek. Plus, addisioneel, die manier waarop die skuld vir die kansellasies en die "terrible price" daarvan (vir die biograaf en ander na aan hom) voor die deur gelê word van "many" wat jaloers was/is op sy groot sukses:

    But [Bailey se] success [met die biografie] came at a terrible price: because of revelations in Bailey's biography, many were calling for Roth and his work to be "canceled," while others thought Bailey had been overly sympathetic and even "complicitous" with his subject's worst failings. Soon rumors exploded on the internet about Bailey's own private life, and within days he himself was roundly canceled.93

     

     

    Opvallend figureer die vroue wat slagoffers was van die biograaf se misbruik nêrens in die reklame nie - dit is immers sy "private life" wat hy op sy eie voorwaardes sal bespreek. Dit behoort nogtans interessant te wees om te sien hoe die memoires as epiteks terugspeel op die Roth-biografie.

     

    "A! (O!) die vroue"

    Dit wil voorkom of lesers buite die akademiese sfeer gemakliker is daarmee dat waarheid en objektiwiteit nie "absolute" voorvereistes is om biografieë (ook literêre biografieë) te geniet nie en elke leser self verantwoordelikheid moet neem vir wat hulle uit 'n "relaas" oor 'n lewe haal. In 'n destydse resensie van JC Kannemeyer se Langenhoven-biografie begin Madeleine van Biljon94 haar bespreking byvoorbeeld met 'n waarskuwing aan lesers: "Tussen 'n biograaf en sy onderwerp moet daar noodwendig 'n verhouding wees. Volslae onpartydigheid is onmoontlik en al waarop mens kan hoop is 'n sekere afstand sodat die 'verliefdheid' of die 'afkeur' nie te sterk deurskemer nie." Sy gaan voort: "Kannemeyer is kennelik 'verlief' op Langenhoven in sy persona as Groot Gees, as skrywer vir die volk, as kampvegter vir Afrikaans en as iemand wie se literêre waarde nog nie ten volle erken word nie. Hy is ook gefassineer deur Langenhoven se persoonlike lewe... Hierdie 'verliefdheid' word egter deurgaans getemper deur gesonde verstand."

    Ook Francine Prose se verwagtinge oor die objektiwiteit/subjektiwiteit van Bailey se biografie was nugter. Sy situeer die Roth-biografie binne die kategorie van "celeb bios", wat ooglopend 'n ander stel leserverwagtinge oproep:

    Perhaps I hadn't expected much. ... I naturally assumed that Bailey was telling Roth's side of the story, and that its villains - most notably, Roth's ex-wife, the actor Claire Bloom - would likely have told a very different version. (Indeed, Bloom did tell it, in a memoir that Roth found enraging.)

    I wasn't disappointed by Bailey's lack of "objectivity", because (again to be honest) I wasn't looking for a historical record or a moral reckoning with Roth, but rather for gossip, preferably sordid - and there is plenty of that. The world-famous writers! The movie stars! The artists and critics! The beautiful women! People I actually know! Spiced with plenty of sex, betrayals and nasty professional feuds, it's the perfect celebrity bio for readers who might feel a little déclassé committing to an 800-page celebrity bio.95

    Sy het egter 'n ander probleem gehad: Prose sou op 28 April 2021 vir Books and Books 'n aanlyn onderhoud met Bailey gevoer het oor sy Roth-biografie voordat Norton besluit het om alle bekendstellingsgeleenthede te kanselleer. In die plek van die onderhoud het sy op 25 April 2021 'n kort kommentaar in The Guardian gepubliseer. Insiggewend vir die doel hier het sy in haar kommentaar twee parallelle narratiewe in die Bailey-skandaal onderskei: "the one about two guys with serious problems with women" en die ander "the story of Bailey's book having been pulled from circulation" (ibid.).

    Daar is minstens nog twee verdere storielyne wat Prose nie genoem of nie eksplisiet geïdentifiseer het as konstituerende narratiewe nie. Die een is die storielyn van die vroue aan die ontvangkant van die attensies van die "two guys with serious problems with women". Die ander is die lyn van die konvensionalisering van die "serious problems with women" in die biografie. Daar is ook nog die vyfde (of dalk 'n voortsetting van die tweede) lyn waarvan Prose ten tye van haar skrywe nie bewus sou gewees het nie, omdat dit ontwikkel het toe Bailey 'n ander uitgewer gevind het. Hoewel dit handig is om hierdie storielyne uitmekaar te haal en afsonderlik te ondersoek ten einde 'n beter greep op die verskillende aspekte van die probleem te kry, raak dit teenproduktief sodra hulle slegs as narratiewe in eie reg hanteer word asof die lyne nie ten nouste met mekaar te maak het en op mekaar ingespeel het nie.

    Prose laat blyk iets van die simpatieë tussen die biograaf en sy onderwerp en hoe dit in die biografie neerslag vind wanneer sy praat van "this tale about a biographer, hired partly for being permissive - and bringing more attention to his subject's cruelty to women because, or so it seems, he understands it all too well" (ibid.).

    In die eerste instansie gaan dit vir haar oor wat die biograaf gekies het om te vertel: even as I tried to read it uncritically, for entertainment, certain sentences jumped out at me... The odd claim that childbirth had withered Roth's first wife's vagina; the suggestion that Roth was more excited about having dinner with Robert Penn Warren and Eleanor Clark, both important writers, when he learned that their daughter was home from Yale; the description of Roth's particular sexual acts with women mentioned by name" (ibid.). Daar is ook nog die seks met talle vroue wat nié by die naam genoem word nie - dié wat nie "noemenswaardig" was nie (net soos in die Brink-biografie); die vertelling oor hoe akademiese kollegas spesiaal vrouestudente vir die besoekende Roth uitgesoek het (wat 'n komplement van soorte vind in De Kock se beskrywing van hoe Brink sy akademiese posisie gebruik het om seksuele verhoudings met vrouestudente aan te knoop, in kontravensie van universiteitsreëls, en nie daarvoor tot verantwoording geroep is nie); die beskrywing van Roth se vrese vir die skade wat #MeToo-onthullings aan sy reputasie sou doen en sy swak vertoning toe hy uiteindelik wel in 'n onderhoud daaroor uitgedaag is deur 'n joernalis (met De Kock wat die "paradyslike onskuld" van die era voor #MeToo in die biografie gebruik om Brink se gedrag en ook sy eie - agterna, in 'n onderhoud oor die biografie - te verskoon).

    'n Mens ontkom moeilik aan die indruk dat die oormaat aandag aan die seksuele in Bailey en De Kock se biografieë vanuit 'n spesifiek manlike blikhoek vir die (bewonderende) manlike blik ("male gaze") aangebied word - as 'n soort driftige ekwivalent van die manlike skrywer se skeppingskrag. Die klem op Roth se seksuele bedrywighede in Bailey se biografie verlei James Wolcott in die London Review of Books tot sy eie, lang opsomming van Bailey se "kompendium" van Roth se lang spoor van "verowerings", met die volgende aanloop: "Ah, yes, the girls. It keeps coming back to the girls. No matter how loftily we may wish to elevate our sights and vouch that only the Work matters, the sheer volume of activity in Roth's erotic life as recorded in Blake's compendium, the turnstile whirl of passing infatuations (while certain lovers loyally remain in the corner of the frame), makes that a tough go...".96 Is daar 'n soortgelyke, hoewel veel meer omsigtig geformuleerde bewondering te bespeur in die volgende beskrywing van Jean Meiring in sy resensie van die Brink-biografie in Rapport?:

    Tereg hanteer De Kock vir Brink met 'n gesonde vervlegting van oordeel en piëteit. Hy verbeeld met durf en vaart en groot behendigheid 'n uiters komplekse man wat op byna bomenslike skaal sy drifte laat botvier het - vir woorde en verhale en vir vroue in 'n wêreld voor #MeToo. Veral oor sy omgaan met vroue, ook op papier, staan Brink se kritici nie terug nie.97

    Hierteenoor staan dié uitspraak van Joan Hambidge in die enkele voorbeeld in die resensies wat vanuit die oogpunt van die vroue in die Brink-biografie kyk na sommige van hulle se hantering, én nie terughou nie: "Terselfdertyd vind hierdie leser die grensoorskrydende opmerkings oor 'n eggenote van Brink (en die kommentaar van sy vriende) wreed, onaangenaam, ontoepaslik en uiters gemeen."98 Sy verwys ook na Brink se fiksionalisering van haar as "'n bedenklike karakter" in sy roman Philida. Dit laat 'n mens wonder of De Kock en sy uitgewer ernstig gedink het dat die vroue wat hy met die manuskrip van die Brink-biografie genader het hom met hulle weergawes van hulle verbintenisse met die skrywer sou/moes vertrou het en nie agterdogtig oor die rede vir die toenadering sou wees nie. Ek het vroeër daarop gewys dat vroue in die lewe van belangrike skrywers ook hulle eie verhale (intertekste) oor hierdie verbintenisse begin publiseer het waarin húlle perspektiewe vooropstaan. In die geval van Roth se tweede vrou, het sy hom voorgespring met haar memoires en só die koers bepaal wat sy amptelike biografie sou inslaan. In die geval van Brink kan 'n mens jou byvoorbeeld ook 'n groepsbiografie indink wat inspeel op die titel van sy weduwee se memoires: "Die vyf mevroue Brink."

    Aansluitend by die waarnemings hier bo, is daar in die tweede instansie dus ook die maniere waarop die biograwe oor vroue rapporteer - daardie sinne wat vir Prose uitspring vanweë die detail, die oormaat en die vreemdheid daarvan. Sowat 'n maand voor Prose se Guardian-kommentaar (en ook voor die Bailey-skandaal) het Laura Marsh in The New Republic in een van die eerste besprekings van die Roth-biografie wat verskyn het pertinent die wyse van verslagdoening oor die vroue uitgelig: "Women in this book are forever screeching, berating, flying into a rage, and storming off, as if their emotions exist solely for the purpose of sapping a man's creative energies."99 Wat Roth se benadering tot vroue blyk te spieël: "Roth seems to have sorted women into distinct groups: those who could help him - the facilitators and curators of Rothworld - and those who dared ask something from him ('half a pound of Parmesan cheese')" (ibid.).

    In De Kock se Brink-biografie word die konvensionalisering van die liefdes-, huweliks-en seksuele verhoudings van die skrywer vanuit 'n manlike oogpunt (wat lesers dikwels mislees) verskuil in/agter 'n literêr-kritiese benadering tot Brink se "romantisering" en "literarisering" van sy liefdeslewe en verhoudings: in 'n opeenvolgende reeks beskrywings van 'n reeks opeenvolgende siklusse in die lewe en werk van die skrywer. Annemarié van Niekerk praat van die biograaf se hantering van die liefdespel in die lewe van Brink as 'n hoërorde-ordeningsprinsipe wat die relaas van die lewe laat uitstyg tot die vlak van die wetenskaplike.

    Wat verder duidelik raak uit hierdie voorbeelde is dat Bailey en De Kock met die skryf van hulle biografieë van twee "groot skrywers" nie juis (kritiese) vrouelesers as 'n teikengehoor ('n kategorie "bedoelde" of primêre lesers) van hulle "literêre biografieë" in gedagte gehad het nie, hoewel beide melding maak van die #MeToo-moment en feminisme.

    Marsh kom in haar bespreking van die Roth-biografie tot 'n gevolgtrekking wat later profeties sou blyk: "The novelist wanted his biography to settle scores. It has badly backfired":100"In Bailey, Roth found a biographer who is exceptionally attuned to his grievances and rarely challenges his moral accounting" (ibid.). Toe Bailey voor die skandaal oor Marsh se kritiek uitgevra is, was sy reaksie een van "verbasing": "That was harsh. I mean, wow."101 Hy verduidelik dat David Remnick van The New Yorker dan van mening was dat hy "uncowed" was: "...that I let the repellent in, that I present an extremely flawed man. And if you weigh the reviews so far, most are on the David Remnick side" (ibid.). Wat 'n navorser weer by die verwikkelde kwessies van objektiwiteit/subjektiwiteit, betrokkenheid/neutraliteit, en waarheid in die morele sin, in die lig van die gedrag van die biograwe en hulle onderwerpe bring.

    By sommige resensente van die Roth-biografie was daar weliswaar 'n verwagting dat die biograaf homself op die een of ander manier van sy onderwerp moes gedistansieer het. Objektiwiteit of neutraliteit raak sover dit Bailey en Roth betref dan in elk geval 'n manier van kant kies deur die biograaf, is die standpunt; 'n vereenselwiging met of kondonering van die houding en gedrag van die onderwerp - spesifiek sover dit Roth se wyd gerapporteerde misogenie betref. James Ley maak in sy bespreking van die Roth-biografie 'n stelling wat illustreer presies hoe maklik "feitelikheid" en "neutraliteit" (asook 'n rits sinonieme) in biografieë met onverwagse gevolge gekompliseer word: "Roth," sê Ley, "chose his official biographer because Bailey was willing to be non-judgmental about his busy sex life, and given that Roth's Achilles heel as a writer is widely considered to be his depiction of women, it would appear that, on top of everything else, the biography is a spectacular own goal. Instead of settling some old scores and consolidating his literary reputation, Roth has associated himself with a posthumous scandal that has inevitably drawn attention to the charges of misogyny that dogged him throughout his career, much to his irritation."102

     

    Die ongemagtigde Roth-biografie

    1.

    Terwyl Bailey besig was om sy biografie, met ruim ondersteuning deur Roth, te skryf, het Ira Nadel ook aan een gewerk - sonder Roth se steun, en met die spreekwoordelike swaard van dreigende regsaksie oor sy kop. Nadel se Philip Roth: A Counterlife het in Maart 2021 by Oxford University Press verskyn, 'n maand voor Bailey s'n; 'n bietjie meer as die helfte van die omvang van Philip Roth: The Biography van bykans 900 bladsye. Die twee titels is veelseggend. Bailey s'n met die bepaalde lidwoord straal van vertroue in die "definitiwiteit" van sy biografie. Hy was die een met onbelemmerde toegang tot Roth, sy kontakte en dokumente; baie van dié inligting sal waarskynlik nooit weer vir ander biograwe beskikbaar wees nie. Die titel van Nadel se boek - wat op 'n vroeëre Roth-boektitel inspeel - daarenteen, stel sy biografie as die alternatiewe biografie op, onder meer omdat hy nie Roth se samewerking gehad het nie. Roth het trouens uit sy pad gegaan om Nadel se biografie in die wiele te ry.

    Bailey (2021) vertel in sy biografie die een en ander oor die geskiedenis tussen Roth en Nadel.103 Dit blyk dat 2011 - 'n jaar voor Bailey se aanstelling - 'n kritieke jaar was vir Nadel se voorgenome biografie. Eerstens was daar 'n opstel wat Nadel in dié tyd aan Roth gestuur het vir kommentaar. Volgens Bailey het Roth min van Nadel se akademiese insig gedink: "pure rubbish..." het hy blykbaar by die manuskrip van "Philip Roth and Film" geskryf. Tweedens het Roth op die galeiproewe van 'n naslaanwerk oor hom, waarvan Nadel die redakteur was, "afgekom", waarin die volgende sin hom erg gegrief het: "... a familiar pattern emerged, characteristic of [Roth's] life with women: With intimacy increasing, his anxieties over being emotionally engulfed by a woman caused him to withdraw." Die sin verwys na 'n opmerking in Claire Bloom (1996) se memoir (Leaving a Doll's House) oor haar huwelik met Roth - 'n rooi doek voor die spreekwoordelike bul. Na wat Bailey vertel, het Roth sy literêre agent en latere eksekuteur Andrew Wylie op Nadel se spoor geplaas en in die proses meer as sestig duisend dollars bestee aan prokureurskoste om Nadel te forseer om die sin te verwyder en die omringende paragrawe in die biografiese skets te herskryf. Voorts het Roth ook 'n navorsingsassistent aangestel om na te gaan presies hoe ver die Bloom-memoires se invloed reeds in die akademie ingedring het.

    Die derde van die reeks gebeurtenisse beskryf Bailey (2021) só:

    The final straw, for Roth, was his discovery that the aforementioned Nadel had signed a contract with Oxford University Press to write "a full-scale biography" of Roth, at whose urging Wylie informed Nadel that he didn't have permission to quote from Roth's work, nor would Roth's friends and associates cooperate in any way: "I trust that you will make any prospective publisher aware of this, so as not to misrepresent your position." Another letter followed from Stacey Rappaport of Milbank Tweed, who admonished Nadel to "consider the credibility of any sources on which you choose to rely in writing such a biography," particularly the "false and defamatory" Leaving a Doll's House. (hfst. 48)

    Anders as in die geval van die Brink-biografie, waar dit die resensente was wat lesers gewaarsku het oor die twyfelagtigheid van die waarheidsaansprake van die biografie, is dit in Roth se geval die skrywer self wat by monde van sy gemagtigde biograaf in sy gemagtigde biografie waarsku teen die "onwaarheid" van die ongemagtigde biografie en die onbetroubaarheid van die ongemagtigde biograaf.

    2.

    Wat Bailey nie uitspel nie, maar uit dié en ander gebeurtenisse wat hy beskryf na vore kom, is dat Nadel, soos Miller voor hom, in die kruisvuur beland het in die langdurige vete wat Bloom se memoires ontketen het - wat hoofsaaklik van Roth se kant af gevoer is. In die voorafgaande paragrawe beskryf Bailey hoe die toekenning van die vierde Internasionale Man Booker-prys in 2011 'n storm veroorsaak het toe een van die drie jurielede, Carmen Callil, haar onttrek het toe die prys aan Roth toegeken is: "He goes on and on and on about the same subject in almost every single book"... "It's as though he's sitting on your face and you can't breathe", was Callil se mening oor Roth se oeuvre, maar, het Bailey teëgekap, lesers moet in gedagte hou dat Callil 'n stigterslid is van die "feministiese" Virago Press wat Leaving a Doll's House uitgegee het. Boonop het Roth geglo - en die skrywer was nie alleen in dié oortuiging nie, verduidelik Bailey verder - dat Bloom se memoires grootliks die rede was dat die Nobelprys nie aan hom toegeken is nie (ibid.).

    In die paragraaf wat op die beskrywing van Roth se waarskuwing aan Nadel oor sy beplande biografie volg, is Bailey eksplisiet daaroor dat Roth vasbeslote was dat sy "waarheid" sou seëvier: "Another writer my age awaiting a biography and awaiting death (which is worse?) might not care," Roth wrote of Bloom's book. "I do. I can no longer allow her falsifications to impinge on my personal and professional reputation" (ibid.).

    3.

    Toe Nadel se Philip Roth. A Counterlife op 10 Maart 2021 by Oxford University Press verskyn het, was daar soos gebruiklik in die akademiese konteks nie voorafonderhoude en -reklame in die algemene pers nie en ook nie spesiaal deur die uitgewer aangevraagde besprekings nie. Die ontvangs in die media was koel - Roth sou dit as regverdiging gesien het vir sy besluit om Nadel met alle mag te verhinder om 'n biografie oor hom te skryf.

    Resensente was gou om op te merk dat Nadel se biografie nie dieselfde media-aandag ontvang het as Bailey s'n nie en van hulle het die feit dat Bailey se biografie gemagtig was en Nadel s'n nié met die swak ontvangs in verband gebring. Die Kanadese kritikus Randy Boyagoda (2021) het Bailey se biografie verkies, ten spyte van die biograaf se oënskynlike gedienstigheid aan Roth. Onder die opskrif "Why the Other Philip Roth Bio Never Took Ofí" argumenteer hy:

    I was invested in reading Bailey because Roth had collaborated with him, and not at all interested in reading Nadel; (and) given the broader, starkly divergent reception of their biographies, I'm not alone in absolutely preferring the authorized version of a writer's or an artist's life over the alternatives. Such versions of biography speak to us in consonance with the writer's mindset and intentions, promising some substantively credible correspondence to what we already know about the writer: the work.104

    Die ontvangs van Nadel se biografie in die literêre gemeenskap was gemeng. Sommige kritici het lof gehad vir die wyse waarop die biograaf die skrywer se lewe en werk uitvoerig op

    mekaar afstem. William J Connell (2024:126), in 'n laat bespreking van die biografie in Philip Roth Studies, oordeel soos volg:

    As a critic who finds in Roth not only a biographical subject but a genuine literary hero, Nadel is well equipped to examine the recurring themes and patterns that characterized different periods in the author's writing and to discuss the evolution of his books from drafts to published work.

    Most importantly, Nadel feels an obligation to move from reportage to literary interpretation of the novels. He imputes motives to characters, discusses the structure of the novels, and comments on the quality of the prose. In the biography's elegant introduction, Nadel describes how anger repeatedly proved a motivating force for Roth as a writer.

    Ander akademiese besprekings (die meerderheid) het Nadel se "wetenskaplike" werkwyse egter problematies (simplisties en eng) gevind, soos Andy Connolly (2022) wat in 'n artikellengte bespreking in Style bevind dat Nadel se biografie "fails to offer serious discussion of how its relentless biographical details add to our understanding of Roth's art. Rather, this biography tends to go in the opposite direction, collapsing the aesthetic complexities of the writer's work into biographical self-expression" (p.67).

     

    Waar ons staan?

    In die voorwoord tot die reeks van vier artikels wat ek in die vooruitsig gestel het, het ek daarop gewys dat kontroversies wat na aanleiding van en rondom literêre biografieë ontstaan dikwels genoeg bykans die hele kommunikasienetwerk waartoe die tekste behoort in so 'n mate in beroering bring dat dit ernstige aandag verdien. Wat in die loop van die ondersoek oor die omstredenheid van die Roth- en Brink-biografieë onder andere na vore gekom het, is dat die omstrede gedrag waarvan invloedryke verteenwoordigers van 'n toenemend betwiste periode in die literêre geskiedenis in die media beskuldig staan - die lewes van beide die skryweronderwerpe én die biograwe wat hulle nalatenskap moet help bestendig - net met groot toegewing losgemaak word van die oeuvres waaraan dié figure se roem gemeet word. Aan die ander kant kan egter ook nie net aanvaar word dat die lewe en die werk van skrywers op 'n simplistiese, direkte manier op mekaar afgestem is nie.

    Die omstrede optredes van skrywers (sowel die skryweronderwerp as die biograaf), dikwels gekonvensionaliseer in die biografieë, gerasionaliseer deur akademici en kritici in akademiese studies, en verdra en selfs bewónder deur geslagte van lesers, dui heen na 'n komplekse psigososiale dinamiek wat inter- en multidissiplinêre insette met die oog op dieper begrip sal verg. Van die eerste/voorlopige reaksies op die Roth- en Brink-biografieë het aan die oppervlak van die probleem begin krap, maar indringender ondersoeke oor tradisionele akademiese grense heen blyk nodig te wees.

    Soos die titels van die stukke wat hier verskyn te kenne gee, het dit vir my uiteindelik veral gegaan oor wat navorsers oor die literêre biografie kan leer wanneer die grense wyer {as die generiese) getrek en die (sub)genre beskou word binne die verskillende (die openbare en akademiese) kontekste van die diskoers waarin hulle in omloop is. Wat selfs uit 'n redelik beperkte ondersoek {aan die hand van 'n drietal biografieë) na die epitekste (sowel die ontstaan-en publikasie- as die ontvangsgeskiedenisse) van die Roth- en Brink-biografieë duidelik word, is dat die konteks{te) waaruit die biografieë voortkom en waarbinne hulle sirkuleer oor die vermoë beskik om enige gemaklike {onkritiese) aansprake op die waarheid en objektiwiteit van, oor en in die tekste te kompliseer en selfs te ondermyn. Burger se geïmpliseerde waarskuwing tussen hakies aan die begin van hierdie stuk oor die komplekse verhouding tussen feit en fiksie en "die mate waarin elke sogenaamde realiteitsprogram ook maar gemanipuleerde 'fiktiewe' realiteit is," is ter sake. 'n Opstel deur die gedragsielkundige en filosoof Max Hocutt (2001) onder die titel "Reconstructing truth" oor die dikwels verwarde en verwarrende gebruik van die term en die begrip "waarheid" kan as 'n nuttige vertrekpunt dien om 'n beter begrip te vorm van die probleme rondom waarheid en objektiwiteit in literêre biografieë, maar dit bring ons onder andere op die vlak van die konflik tussen die natuur- en geestewetenskappe, waaroor 'n hele aparte debat nodig sal wees.

    Connolly (2022:67) hier bo waag 'n omgekeerde standpunt oor wat van 'n akademiese biografie 'n goeie literêre biografie sou maak wat as 'n aanknoping sou kon dien vir 'n meer behartigbare diskoers oor die problematiek, wat die problematiese aard van die waarheids-aansprake en die neerslag van vooroordele in die tekste in ag kan neem sonder om noodwendig daardeur lamgelê te word: "A biography that offers no new contribution to understanding the aesthetic, humanistic, social, political, or otherwise extra-personal concerns of the author and his work remains mired in its narrow focus on the life of a noted individual. As such, it tends to fall into the bracket of celebrity biography" (ibid.). Wanneer die uitspraak saamgelees word met die kritiek teen Nadel se Roth-biografie kom 'n ander benadering tot die literêre biografie na vore: 'n benadering waarin die lewe en die oeuvre nie gebruik word om as (onvolmaakte) spieëlbeelde van mekaar te dien nie, maar 'n gekontekstualiseerde benadering waarin die proses van (self-bewuste) tot begrip kom deur die biograaf- van die skrywer en/plus sy oeuvre in konteks - kan lei tot nuwe insig in beide. In die lig hiervan sou 'n praktiese vraag in verband met die Brink-biografie wees: is dit dan nie presies wat De Kock vermag het nie? Van Niekerk (2014) sou waarskynlik meen van wel. Een ding wat navorsers wel weet uit wat De Kock self oor sy biografie gesê het, is dat hy Brink oor sy eie dringendste belange, hoofsaaklik sy liefdes-en sekslewe, aan die woord gestel het

    Connolly het dit - belangrik - ook oor die buite-persoonlike belange van die skrywer en sy werk: die manier waarop persoonlike belange oorstyg word en deel raak van die wyer konteks, wat spesifieke eise stel aan die biograaf, en aan die kritici wat oor die skrywer en die biograaf se bereikinge oordeel.

    Steven Zipperstein se biografie van Roth waaraan hy in 2021 begin skryf het, Philip Roth: Stung by Life (Jewish Lives), is geskeduleer om op 14 Oktober 2025 by Yale University Press te verskyn en word op Amazon soos volg bemark:

    Employing extensive archival research and well over one hundred interviews, including conversations with Roth himself, Zipperstein provides an intimate and probing look at one of the twentieth century's most influential authors, placing his work in the context of Jewishness, freedom, and sexuality in America.105

    Sou 'n mens jou 'n soortgelyke tema in 'n Afrikaanse konteks vir 'n Brink-biografie kon voorstel? En, hoe sal die Zipperstein-biografie verskil van die biografieë van Bailey en Nadel (en van De Kock se biografie van Brink)? Wat mens uit die reklame aflei, is dat Zipperstein beoog om die kwessie van seks(-ualiteit), wat so 'n prominente plek in Bailey se Roth-biografie (en De Kock se Brink-biografie) ingeneem het - saam met ander belangrike temas - in die wyer sosiaal-kulturele (Amerikaanse) konteks waaruit Roth se werk voortgekom en waarin dit invloed uitgeoefen het, te beoordeel. Indien die nuwe biografie daarin sou slaag, kan so 'n benadering, in samehang met Connolly se beskouing, die literêre biografie dalk net herfokus en die teoretiese diskoers daaroor in 'n nuwe rigting stuur.

     

    Tekste wat saampraat106

    Bailey, Blake. 2021. Philip Roth. The Biography. Skyhorse Publishing.         [ Links ]

    Bloom, Claire. 1996. Leaving a Doll's House. Virago Press.         [ Links ]

    Burger, Willie. 2014. "Twintig jaar na demokrasie: Realiteitshonger, die populêre wending en transnasionalisme." https://www.litnet.co.za/poolshoogte-twintig-jaar-na-demokrasie-realiteitshonger-die-populere-wending-en-transnasionalisme/        [ Links ]

    Connell, William J. 2024. "Book Review: Philip Roth. A Counterlife." Philip Roth Studies. 20(2):124-129.         [ Links ]

    Connolly, Andy. 2022. "Review Essay: Philip Roth. His Life as a Man, and Not Much More Besides." Style. 56(1-2):66-77.         [ Links ]

    De Kock, Leon. 2019. André P Brink en die spel van liefde: 'n biografie. [S.l.]: Jonathan Ball. https://ebook.yourcloudlibrary.com/library/oclc/detail/vvg5xz9.         [ Links ]

    Hocutt, Max. 2001. "Reconstructing Truth." https://www.researchgate.net/publication/316778714_Reconstructing_Truth        [ Links ]

    Nadel, Ira. 2021. Philip Roth. A Counterlife. Oxford University Press.         [ Links ]

    Taylor, James. 2020. Here We Are: My Friendship with Philip Roth. Penguin Random House.         [ Links ]

    Van Niekerk, Annemarié. 2014. "Leon de Kock se André P Brink en die spel van liefde: 'n LitNet Akademies-resensie-essay." https://www.litnet.co.za/leon-de-kock-se-andre-p-brink-en-die-spel-van-liefde-n-litnet-akademies-resensie-essay/        [ Links ]

    Zipperstein, Steven. 2025. Philip Roth: Stung by Life (Jewish Lives). Yale University Press.         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2024-08-15
    Goedgekeur: 2025-07-23
    Gepubliseer: September 2025

     

     

    59 https://www.netwerk24.com/netwerk24/openhartig-ongehoord-en-totaal-onverbloemd-20190519
    60 https://www.netwerk24.com/netwerk24/andre-p-brink-se-dringendste-belange-20190531
    61 Dit wat André Brink dryf. Rapport, 19 Mei 2019, https://www.netwerk24.com/netwerk24/dit-wat-andre-brink-dryf-20190517
    62 Boek oor Brink dalk omstrede - Wei uit oor 5 huwelike, baie affairs, Beeld (Johannesburg, South Africa), May 14, 2019, p. 7.
    63 'Hierdie boek - het my byna - doodgemaak' - Net soos André P. Brink, begeer Leon de, Rapport (Johannesburg, South Africa), June 2, 2019, p. 12, 13.
    64 https://www.netwerk24.com/netwerk24/hierdie-boek-het-my-byna-doodgemaak-20190602
    65 https://neglectedbooks.com/?p=7808
    66 https://lithub.com/ursula-k-le-guin-who-cares-about-the-great-american-novel/
    67 https://www.nytimes.com/2021/03/30/magazine/philip-roth-biography-blake-bailey.html
    68 Ná Roth se dood het Zipperstein egter laat val dat hy tog begin skryf het aan "'n biografie".
    69 https://www.nytimes.com/2021/03/30/magazine/philip-roth-biography-blake-bailey.html
    70 https://www.nytimes.com/1999/11/03/books/books-of-the-times-so-saucy-in-her-life-and-her-work.html
    71 https://www.nytimes.com/2021/03/30/magazine/philip-roth-biography-blake-bailey.html
    72 https://metapsychology.net/index.php/book-review/the-written-and-unwritten-worlds-of-philip-roth/
    73 https://www.nytimes.com/2021/03/30/magazine/philip-roth-biography-blake-bailey.html
    74 Dit is ook die jaar waarin Bailey na bewering sy voormalige leerling, Eve Crawford Peyton, verkrag het.
    75 https://archive.nytimes.com/artsbeat.blogs.nytimes.com/2012/09/05/philip-roth-to-cooperate-with-new-biographer/ Bailey het ook ander weergawes van die deurslaggewende moment vir Roth se goedkeuring vertel: soos een waarin die rolprentaktrise Ali MacGraw, wat in die rolprentweergawe van Roth se Goodbye, Columbus verskyn, figureer, wat Parul Sehgal in haar resensie van die biografie in The New York Times oorvertel het, https://www.nytimes.com/2021/03/29/books/review-philip-roth-biography-blake-bailey.html
    76 https://www.nytimes.com/202l/03/30/magazine/philip-roth-biography-blake-bailey.html
    77 Die aanlyn weergawe van Oppenheimer se stuk meld dat dit op 30 Maart 2021 gepubliseer en op 15 Junie 2023 opgedateer is.
    78 https://www.nytimes.com/2021/03/30/magazine/philip-roth-biography-blake-bailey.html
    79 Review: Blake Bailey Philip Roth biography exposes darkness - Los Angeles Times
    80 Champion, Edward. 2021. "Blake Bailey, Casual Misogynist and Eager Rube." Reluctant Habits, 16 April 2021.
    81 https://www.pilotonline.com/2021/06/10/blake-bailey-was-an-odu-star-faculty-and-students-say-he-abused-and-harassed-women-for-years/
    82 https://www.nytimes.com/2021/04/21/books/philip-roth-blake-bailey.html
    83 https://www.newyorker.com/culture/cultural-comment/the-allegations-against-blake-bailey-and-the-shock-of-the-familiar
    84 https://www.nytimes.com/2021/04/21/books/philip-roth-blake-bailey.html
    85 https://www.nytimes.com/2021/04/21/books/philip-roth-blake-bailey.html
    86 https://newrepublic.com/article/162156/blake-bailey-fiasco-implicates-everyone
    87 https://www.theguardian.com/commentisfree/2021/apr/25/philip-roth-blake-bailey-all-too-perfect-match
    88 The Blake Bailey Injustice - The American Conservative.
    89 https://www.theguardian.com/books/2022/jul/27/blake-bailey-biographer-accused-rape-memoir
    90 Kyk ook: https://www.theguardian.com/books/2022/jul/27/blake-bailey-biographer-accused-rape-memoir
    91 Die inligting was op 5 April 2023 nog beskikbaar op die volgende bladsy: https://uk.bookshop.org/p/books/repellent-philip-roth-metoo-and-me-blake-bailey/7244906?ean=9781510773325
    92 https://www.nytimes.com/2021/06/04/books/philip-roth-biography-blake-bailey.html
    93 https://www.skyhorsepublishing.com/9781510783324/canceled-lives/
    94 Van Biljon, Madeleine. 1995. "Kannemeyer se Langenhoven." In Die Suid-Afrikaan, 31 Oktober 1995, p. 37.
    95 https://www.theguardian.com/commentisfree/2021/apr/25/philip-roth-blake-bailey-all-too-perfect-match
    96 https://www.lrb.co.uk/the-paper/v43/n10/james-wolcott/sisyphus-at-the-selectric
    97 https://www.netwerk24.com/netwerk24/dit-wat-andre-brink-dryf-20190517
    98 https://www.netwerk24.com/netwerk24/openhartig-ongehoord-en-totaal-onverbloemd-20190519
    99 https://newrepublic.com/article/161640/philip-roths-revenge-fantasy-review-blake-bailey
    100 https://newrepublic.com/article/161640/philip-roths-revenge-fantasy-review-blake-bailey
    101 https://www.latimes.com/entertainment-arts/books/story/2021-03-31/blake-bailey-discusses-controversial-biography-of-philip-roth
    102 https://www.smh.com.au/culture/books/marred-by-controversy-the-philip-roth-biography-is-a-spectacular-own-goal-20210506-p57pkq.html
    103 Hoofstukke 48 en 50.
    104 https://www.theatlantic.com/ideas/archive/2021/05/why-authorized-biographies-are-best/618797/
    105 Philip Roth: Stung by Life (Jewish Lives): Zipperstein, Steven J.: 9780300251555: Amazon.com: Books.
    106 Dokumente van 'n meer informele aard wat aanlyn beskikbaar is, word in die voetnote aangedui.