SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 número3Translators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 MaccabeesLiterary aspects of the 2020 translation of the Bible in Afrikaans and the contribution of the literary advisors in the process of translation índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Revista

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versión On-line ISSN 2224-7912versión impresa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 no.3 Pretoria sep. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n3a10 

    LITERARY BIOGRAPHIES

     

    Biografie in konteks - wat kontroversies ons kan leer: 1) Leon de Kock en André P Brink en die spel van liefde

     

    Biography in context - what we may learn from controversies: 1) Leon de Kock and André P Brink en die spel van liefde

     

     

    Ronél Johl

    Emeritus professor, Skool vir Tale, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: csjohl@uj.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    By 'n herlees van resensies oor Leon de Kock se 2019-biografie van André P Brink, André P Brink en die spel van liefde, is dit opvallend dat Afrikaanse literêre akademici oor die algemeen lugtig was om hulle uit te laat oor omstrede sake wat dalk geredeneer sou kon word streng "buite die grense" van die werk onder bespreking val, al het dit kwessies betrek wat blyk die teks ten nouste raak. Dit sluit in kwessies soos: 1) die impak van die omstrede ontstaan- en publikasiegeskiedenis van die Brink-biografie op die teks en 2) raakpunte tussen die biograaf se (algemene: buite-tekstuele) optrede teenoor vroue soos dit voor en ten tye van die bekend-stelling van die boek aan die lig gekom het en sy hantering van vroue in die biografie self.
    In akademiese literatuur oor die Brink-biografie was daar uitsprake wat daarop dui dat akademici oor die algemeen nog "bang is" vir die biografie as genre. Annemarié van Niekerk (2019) verwys byvoorbeeld in 'n resensie-artikel van André P Brink en die spel van liefde onder andere na die voortslepende reputasie van die biografie as "onrespektabel", "gevaarlik", 'n "baster". Dié veronderstelde "ongetemdheid" van die genre dien dikwels as motivering om die diskoers oor die biografie as genre terug te trek binne die veilige grense van die akademiese dissiplines, waar daar nie oor kontroversiële aktuele aangeleenthede uitspraak gelewer hoef te word nie, wat Van Niekerk ook in haar LitNet-resensieartikel doen. Die vraag word egter dan onder andere watter van die akademiese dissiplines die verantwoordelikheid moet aanvaar om 'n algemene teorie van die biografie te formuleer (dit is 'n vraag wat ek in verdere stukke in meer besonderhede onder die loep neem). Tans is daar nog nie 'n bevredigende omvattende teorie van die biografie nie.
    Die huidige artikel neem die idee van die (literêre) biografie as 'n teks in 'n sosiaal-historiese kommunikasienetwerk as vertrekpunt; dit behels onder meer dat die biografie nie aan die kontroversies wat dit omring, onttrek word nie. 'n Kommunikasienetwerkmodel maak dit vir navorsers onder andere moontlik om verbande te verreken wat 'n teks (soos die biografieë wat in hierdie en die volgende bydrae ter sprake is) oor tyd en ruimte heen, in bepaalde kontekste van die kommunikasie, met verskillende elemente aangaan en handhaaf: van die ontstaan en produksie van die teks af tot die ontvangs daarvan. 'n Tweede vertrekpunt is dat sekere fasette van die omringende werklikheid waarin elke teks ingebed is self ook die vorm aanneem van tekste: bemarkingstukke, bekendstellings, berigte, onderhoude, ensovoorts. Wanneer dit gaan om wat Gérard Genette die "epiteks" genoem het, behels dit daardie tekste wat 'n bepaalde teks (biografie) omring wat die ontvangs en interpretasie daarvan (kan) beïnvloed. 'n Derde vertrekpunt stel dit dat die versameling epitekste wat 'n kontroversiële hoofteks omring as 'n ontvouende narratief gekonstrueer kan word wat kan help om lig op die hoofteks (biografie) te werp. Die veronderstelling (hoop) is dat dit kan geskied op wyses wat die kompleksiteit van die betwiste teks-in-kommunikasie erken en die integriteit van die proses self sal bewaar.
    Die rekonstruksie van die epiteks van André P Brink en die spel van liefde het 'n aantal gegewens opgelewer wat die hoofteks ooglopend destabiliseer en 'n vraagteken plaas agter die wetenskaplike integriteit van die biografie, 'n waarneming wat 'n kritiese teksstudie van die biografie self vrugbaar verder sou kon ondersoek.

    Trefwoorde: literêre nalatenskap, literêre weduwees, omstrede biografieë, openbare teks, epiteks as narratief, kommunikasienetwerkmodel, senderkom-pleks, epiteks, konteks, parateks


    ABSTRACT

    On a re-reading of certain newspaper reviews of the Afrikaans version of Leon de Kock's biography of André P Brink, it is striking that (Afrikaans) literary academics have generally been reluctant in venturing out on matters that could be argued to fall strictly "outside the boundaries" of the work under discussion, even if these matters involved issues that closely affect the text, such as: (1) the impact of the controversial genesis and publication history of the Brink biography on the text and (2) the perceived synergy between the biographer's (general) behaviour towards women - as it came to light before and at the time of the book's launch - and his treatment of the many women in the biography.
    Moreover, in academic literature on biography, there are regularly statements suggesting that academics are generally still "afraid" of the biography as a genre. For example, in a review article of the Afrikaans version of the Brink biography, Annemarié van Niekerk mounts a defence of the biography, starting off with a reference to the lingering reputation of the biography as "disrespectable", "dangerous", a "hybrid". This supposedly "untamed" nature of the genre often serves as motivation to withdraw the discourse on biography within the safe confines of the academic disciplines, where controversial topical issues seemingly do not have to be adjudicated, but rather be avoided, which Van Niekerk also does in her article review. The question, however, then becomes, among other things, which of the academic disciplines should assume the responsibility offormulating a general theory of biography (this is a question I would like to examine in further pieces). At present, there is still no satisfactory theory of biography.
    The current article takes as a starting point the idea of the (literary) biography as a text within a social-historical communication network, an approach which involves, among other things, that the biography is not withdrawn from any controversies that may surround it. A communication network model makes it possible to account for various connections which a text (biography) enters into and maintains across time and space in particular contexts of the communication with different elements: from its origins and production to its reception. A second premise assumes that particular facets of the surrounding reality in which each text is embedded also take the form of texts (marketing pieces, announcements, reports, interviews, etc.). In the case of so-called epitexts, this involves those texts surrounding a particular text (biography) that may influence its reception and interpretation. A third premise holds that the collection of epitexts that surround a contested main text can be constructed as a narrative in order to shed light on the main text (biography). It is hoped that this can be done in ways that do not skirt the complex issues of the text-in-communication (the biography in context), and honour the integrity of the process.
    The reconstruction of the epitext of Leon de Kock's literary biography of Brink, André P Brink en die spel van liefde, has yielded data that destabilise the main text and seem to put in question claims about the scientific integrity of the biography, an observation which a critical textual study of the biography itself could usefully explore in greater depth.

    Keywords: literary legacy, literary widows, controversial biographies, public text, epitext as narrative, communication network model, sender complex, epitext as narrative, context, paratext


     

     

    Inleidend

    In die Vooraf tot die twee opstelle oor die biografieë van André P Brink en Philip Roth wat hier verskyn, het ek in meer veralgemenende terme verwys na die rol wat gebeure buite tekste om dikwels speel om die voeë en nate van tekste en opvattings daaroor in die sosiale en akademiese kontekste teen die lig op te hou vir kritiese beskouing; en ook na hoe sulke kwessies dikwels die reaksies van ontvangers van spesifieke tekste in die praktyk beïnvloed. Die probleme en kontroversies rondom en oor die genoemde biografieë wat ek verder aan wil beskryf kan gelees word as teksboekvoorbeelde van verskeie probleme wat meer algemeen voorkom en is bedoel om as 'n soort kortbegrip te dien met die oog op verdere bespreking.

    Uit die resensies oor André P Brink en die spel van liefde blyk dit dat resensente oor die algemeen lugtig is om hulle uit te laat oor kwessies wat "buite die grense" van die literêre biografie onder bespreking val, selfs al is dit kwessies wat die teks ten nouste raak. Dit is byvoorbeeld opvallend dat in die Afrikaanse besprekings van dié biografie geen resensent byvoorbeeld enige direkte vrae oor die biograaf se kwalifikasies gehad het nie: Wat was dit wat De Kock die geskikste kandidaat gemaak het om "die definitiewe biografie" te skryf van een van dié belangrike figure in die Afrikaanse literêre lewe? Het hy, om mee te begin, soos hy in 'n onderhoud te kenne gegee het, wel die nodige akademiese oorsig oor en insig in Brink se omvangryke literêre en teoretiese bydraes in Afrikaans gehad, en oor die akademiese werk wat in Afrikaans (en in ander tale) oor hom onderneem is? Dié vraag, kan 'n mens redeneer, is tog belangrik, omdat 'n omvattende akademiese biografie die biograaf se oorspronklike verklaarde doel was; en wat sekere resensente derhalwe ook verwag het. Dit is verder ook belangrik omdat die biografie wat verskyn het, minstens in teorie, moet instaan vir een wat kon gewees het, maar nooit gematerialiseer het nie. Die biograaf laat blyk naamlik in 'n voetnoot in sy biografie dat Brink voorheen deur JC Kannemeyer genader is met die versoek om sy biografie te skryf en dat hy dit van die hand gewys het.

    Dit wil verder voorkom of resensente nie 'n probleem daarin gesien het om die Afrikaanse weergawe van die biografie sonder meer as die oorspronklike teks te aanvaar en te hanteer nie; sonder inagneming byvoorbeeld van verskuiwings wat dalk ingesluip het en sonder om die sosiokulturele en spesifiek letterkundige implikasies te oorweeg van die feit dat die Brinkbiografie in Engels verskyn het met 'n swak versorgde vertaling in Afrikaans (waaroor wel kommentaar gelewer is16) kort daarna, asof die taal waarin en kuituur waarbinne die skrywer sy primêre bydrae gelewer het 'n ignoreerbare gegewe is. Die Engelse titel van die biografie ('n periteks-element wat hier onder verduidelik word) met sy Prufrock-verwysing trek Brink trouens in die Engelse invloedsfeer in; met watter doel? Boonop versterk die titel van die Afrikaanse weergawe die vermoede dat die twee tekste dalk ook nie noodwendig spieëlbeelde van mekaar is nie.

    Daar was ook nie vrae oor wat die gevolge vir die voortgesette beoefening van die literêre biografie in Afrikaans kan wees van die sensasionaliserende klemverskuiwing wat die biograaf teen die wense van Brink se weduwee ten opsigte van die fokus van die biografie aangebring het nie. Joan Hambidge het wel die kwessie van die beskikbaarmaking van Brink se dagboeke aan die biograaf opgeneem, maar op ander platforms,17 nie in die resensie nie, waar dit deel sou kon word van die literêr-kritiese diskoers oor die etiese uitdagings en implikasies van die optrede van biograwe sover dit die materiaal aangaan waarmee hulle werk, die onderwerp waaroor hulle rapporteer en die lesers vir wie hulle skryf.

    Aansluitend by die bogenoemde, is daar vrae wat gevra kan word oor die strategieë wat ingespan is om Brink se weduwee te stereotipeer en onskadelik te stel ten einde 'n biografie uit te gee wat volgens die biograaf se eie bekentenis daarop gemik was om Brink se reputasie skade te berokken. Vrae ook oor die dubbele rol wat die uitgewer, die biograaf en die media gespeel het om die biografie vooraf met die oog op die algemene leserspubliek te sensasionaliseer, terwyl uittreksels18 uit die keurdersverslae terselfdertyd ingespan is om die ontvangs van die biografie as ernstige navorsing te bevorder.

    Die oorsprong van elkeen van die bogenoemde probleme en kontroversies lê, soos verduidelik in die "Vooraf', aan die senderkompleks se kant in die kommunikasienetwerk en het in die loop van die openbare diskoers rondom die biografie in die media (lees: in die versendingskanaal) aan die lig gekom: via advertensiemateriaal, berigte, onderhoude en gepubliseerde uittreksels uit die biografie - elemente met ander woorde van Gérard Genette (1997) se "epiteks" (wat saam met elemente van die "periteks" die "parateks" vorm). Google se Kl-assistent was so hulpvaardig om die volgende Afrikaanse vertaling uit Wikipedia aan die hand te doen vir "parateks": "In literêre interpretasie is parateks materiaal wat 'n gepu-bliseerde hoofteks omring wat deur die skrywers, redakteurs, drukkers en uitgewers verskaf word. Hierdie bygevoegde (of bykomende - rj) elemente vorm 'n raam vir die hoofteks, en kan die resepsie van 'n teks of die interpretasie daarvan deur die publiek verander." Epiteks speel ook in die ontvangs van (literêre) biografieë 'n rol, wat meebring dat die kwessies wat hier bo genoem is ook vir die kritiek en teorie van biografieë implikasies het.

    Die doel met die twee stukke wat hier verskyn is om in die lig van die voorafgaande die kontoere van die openbare diskoers rondom die biografieë van André P Brink en Philip Roth na te trek (of, anders gestel: om die epiteks van die biografieë aan die senderkompleks se kant te rekonstrueer) en aan te toon hoe die diskoers in die openbare domein dien om gevestigde teoretiese en kritiese aannames oor kwessies soos (onder andere) feitelikheid, objektiwiteit en waarheid in biografieë en gevolglik ook ambisies vir die wetenskaplike koöptering van die genre te kompliseer.

    Ten einde iets van die verweefdheid en van die performatiewe karakter van die epiteks deur te gee, het ek 'n narratiewe aanpak vir die aanbieding van die twee stukke gekies en ek moet by voorbaat waarsku dat meer as een van die keurders probleme met die werkwyse gehad het. Een het openlik gewonder of 'n stoere vaktydskrif soos die Tydskrifvir Geesteswetenskappe 'n gepaste platform vir die stukke is: Waar is die gebruiklike probleem- en doelwitstelling, die klassieke uiteensit van die teorie waarop die argumente rus, die logiese ontvouing van die argument, die genommerde subopskrifte om lees te vergemaklik, die Harvard-metode van verwysings? Vir wat dit werd is, ek het ook gewonder en dit aan die hoofredakteur gestel toe ek die stukke aanvanklik voorgele het. Oor die teorie is die kort antwoord: daar bestaan nog nie 'n omvattende, algemene biografie-teorie nie; ook dus nog nie 'n gesistematiseerde teorie van die literêre biografie nie. Dié toedrag van sake word onder andere onderstreep in Van Coller se studie oor JC Steyn se NP van Wyk Louw-biografie waarin hy hom op vertaal- en romanteorie moet beroep om 'n teoretiese onderbou vir die studie te verskaf.19 Die hoop is dat die vier artikels (en dalk ander) wat sal verskyn 'n bydrae in die rigting van die ontwikkeling van so 'n teorie sal lewer. Die verwysingsraamwerk daarvoor lê egter in die praktyk, en die diskoers wat tot so 'n teorie kan lei, vind grotendeels nog in die informele (lees: ongeordende, "gevaarlike", "messy") konteks van die openbare media plaas (aan die hand van die tekste wat gesamentlik die epiteks van 'n spesifieke biografie vorm). Een van die keurders het wel hierin voldoende motivering gevind vir die afwyking van die klassieke verwysingsisteem in die stukke en die redakteur van TGW het ingestem om die afwyking toe te laat vir die doeleindes van die eksperiment: "Hierdie twee artikels maak nie gebruik van die klassieke Harvard-verwysingsisteem nie en het ook nie bronnelyste nie, hoofsaaklik omdat daar meestal na koerantartikels, blogs, meningstukke, en so meer verwys word wat aanlyn beskikbaar is. Die huidige verwysingsisteem van voetnote waarin die bronne aangedui word, is inderdaad die gepaste oplossing vir dié soort artikel." Aansluitend hierby, maak dié wyse van hantering van aktuele verwysings dit vir lesers van die elektroniese weergawe van TGW moontlik om waar moontlik tydens die lees op aktiewe skakels te klik, wat hulle direk na die tekste waarna verwys word sal neem. Op dié manier word die eksterne tekste in die huidige diskoers ingetrek en lesers in staat gestel om waarnemings en afleidings eerstehands te verifieer. Dit was hier byvoorbeeld ook handig om lesers ter plaatse insae te gee in 'n punt wat gemaak word wat andersins paragrawe sou geneem het om te verduidelik. 'n Voorbeeld ter illustrasie is die aanskouingsles wat Hambidge se resensie van die Brink-biografie bied in die subtiele (en soms nie so subtiele) strategieë wat kritici (en soms navorsers) inspan om kritiese afstand van 'n onderwerp te bewerkstellig en te sinjaleer sonder om eksplisiet te kritiseer. Deur op die skakel in die voetnoot te klik, kan lesers vinnig self nagaan hoe die resensent, sonder om 'n logiese argument aan te voer en tot 'n samevattende gevolgtrekking te kom, met die beeld van "die plaastelefoon" en 'n passende lig-ironiese toon 'n skinder-konteks skets vir 'n aantal losstaande, maar nietemin insiggewende kritiese opmerkings oor die "problematiek" van die Brink-biografie.20

    Ek hoop dat die konteks wat ek hier bo en in die Vooraf-stuk verskaf, saam met veranderinge wat in die teks self aangebring is, die stukke en hul onderliggende argumente oortuigend genoeg in "teorie" anker om die weg voor te berei vir die twee stukke wat later volg waarin die akademisering van die beoefening en bestudering van die literêre biografie die fokus vorm - en dat ek in die proses die keurders se ergste bedenkinge minstens voorlopig kan besweer sonder om die doel te ondermyn met wat van hulle beskryf het as 'njoernalistieke aanslag, sensasionalisme en skinder, waarop ek later wel terugkom.

    Wat die rekonstruksie van die epiteks betref, is dit verder belangrik om in gedagte te hou dat wat volg in pas met Genette se gebruik van die term, met die openbare teks werk, met ander woorde met inligting wat beskikbaar was/is vir enige leser (navorser, vakkundige, en ook ander) wat die nuus gevolg het, waaruit redelikerwys afleidings gemaak kan word wat die interpretasie en ontvangs van die teks sou kon beïnvloed. Dit gaan byvoorbeeld dus nie oor inligting wat selektief in sekere binnekringe (familie- en vriendekringe, die akademiese wandelgange, uitgewerskantore, die betrokkenes self, ens.) gesirkuleer het, maar waartoe meeste nie toegang sou gehad het en wat nié uiteindelik iewers in die openbare rekord vasgelê is nie. Hambidge laat blyk in haar bespreking van die biografie meermale dat sy oor sodanige "bevoorregte kennis" beskik sonder om dit bekend te maak. Navorsers wat 'n volledige geskiedenis van die ontstaan en publikasie van die Brink-biografie wil skryf, sal natuurlik dieper wil delf en byvoorbeeld onderhoude met belanghebbendes (die biograaf, die weduwee, die uitgewer, kollegas, regsgeleerdes en ander) voer, wat 'n verdere "betekenislaag" by wat reeds bekend is en aanvaar word sal voeg en kan help om "die storie reg te kry". Dit is nie hier die doel nie. Hier gaan dit vir eers net daaroor om aan te toon hoedat ten aansien van kontroversies die (openbare) epiteks dikwels ook diskrepansies kan blootlê in aannames oor wat bepaalde tekste is en doen, wat meewerk om hulle te destabiliseer.

     

    Rekonstruksie van die epiteks van André P Brink en die spel van liefde

    Die biograaf se verhaallyn

    1.

    In die voorwoord tot die Afrikaanse vertaling van die biografie skryf Leon de Kock (2019) dat die idee vir 'n Brink-biografie laat in 2015 die eerste keer by hom opgekom het en dat hy Brink se weduwee byna onmiddellik daarna met 'n voorstel genader het. Brink het vroeër dié jaar gesterf, op 6 Februarie 2015. Die voorwoord gee nie verdere besonderhede nie, maar uit berigte kan afgelei dat word dat werk aan die vertaling van Brink se liefdesbriewe aan Ingrid Jonker (in dieselfde jaar as die skrywer dood), waar De Kock hom in die skrywer-troebadoer se skoene kon plaas, deurslaggewend was vir wat sou volg. Dié projek sou hom die moontlikhede laat besef het vir nog ander publikasies waarin die oënskynlik eindeloos boeiende geskiedenis tussen Brink en Jonker nog 'n keer uitgediep sou kon word. Uit berigte wat in 2019 die verskyning van die biografie voorberei het, blyk dit dat De Kock en mev. Brink saam aan die briewe-projek gewerk het en dat volgens De Kock dit 'n "lekkef samewerking was.21Teen die agtergrond van die "lekker" samewerking is mev. Brink blykbaar oorreed en het sy "inskiklik" ingewillig om haar pas oorlede eggenoot se persoonlike dokumente aan De Kock beskikbaar te stel met die oog op 'n biografie.

    Die biografie wat op 8 Mei 2019 by Jonathan Ball verskyn het, het egter die illusies van heelparty lesers en Brink-aanhangers verpletter en was klaarblyklik nie die "monument" wat Brink se weduwee verwag het nie, want volgens berigte het sy die publikasie probeer keer.

    Drie jaar ná die euforie oor die Brink-Jonker-briewe, teen die agtergrond van die biograaf se gerapporteerde rassisties seksistiese manewales, het Deborah Steinmair lesers se verplettering só onder woorde gebring in Vrye Weekblad:

    Ons was almal begogel deur Vlam in die sneeu en You make me possible, die briefwisselings onderskeidelik tussen die jonger, onbeholpe, maar galante mannetjieskat en sy onmoont-like, onhubare muse, en in die tweede geval die ouer homme de lettres en sy vyfde jeugbruid - die sensitiwiteit, die teer erotiek, die sprokiesagtige romanse verwoord in taal wat die smal poort van die wonder deur is. || Nou word ons idille versplinter deur Brink se persoonlike joernale, genadeloos uitgestal voor die nuuskierige oë van die volk. (En van "the people" wat The Love Song of André P. Brink kan geniet.)22

    Die vinger vir die debakel is in die eerste plek na Brink se weduwee gewys. Sy was immers die een wat sy joernale aan De Kock oorhandig het en deur Hambidge daarvoor verkwalik is. Maar die kollig het ook op De Kock se optrede geval. Dit mag dus help om meer helderheid te kry oor wat die rekord van die stukkie geskiedenis soos dit ontvou het openbaar maak.

    2.

    Nuus oor 'n komende Brink-biografie het lesers die eerste keer op 16 Februarie 2016 bereik toe Penguin aangekondig het dat 'n biografie "oor die ontslape skrywer André P Brink deur Leon de Kock ... in 2018 deur Umuzi uitgegee (gaan) word".23

    De Kock se kwalifikasies is voorgehou. Sy publikasies as outeur of medeouteur is vermeld: Losing the Plot: Crime, Reality, and Fiction in Postapartheid Writing; South Africa in the Global Imaginary en Civilising Barbarians: Missionary Narrative and African Textual Response in Nineteenth-Century South Africa. Ook toekennings wat hy ontvang het: die Pringle-prys vir digkuns; SALA-toekenning vir literêre vertaling; Pringle-prys vir 'n aka-demiese artikel en die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se prys vir sy vertaling in Engels van Marlene van Niekerk se roman Triomf.

    Die aankondiging het De Kock self ook aangehaal oor wat hy met die biografie beoog het - 'n klaarblyklik weldeurdagte en deeglik ingeligte vooruitsig vir 'n uitgebreide biografie wat Brink se kreatiewe bydraes teen die breë sosiopolitieke konteks in perspektief sou stel. En tyd sou neem om deeglik uit te voer:

    Die stories rondom Brink se romans is in die breë sosiopolitieke verhale - sages oor sensuur, weerstand teen apartheid, die Sestigers, teistering en, veel later, teleurstelling met wat ná apartheid gevolg het. Dit het te make met hoe onenigheid onder Afrikaners tydens 'n beduidende tydperk in die geskiedenis in Brink se romans vorm aanneem en hoe sy romans oor ses dekades met Suid-Afrikaanse omstandighede in gesprek tree.24

    In sy voorwoord tot die biografie het De Kock (2019) later geskryf dat die oorspronklike idee was dat die biografie "sou fokus op die vormgewende aspekte van Brink se skryfwerk".25

    Ten slotte het die uitgewer ook bevestig dat De Kock se voorgenome boek 'n gemagtigde biografie sou wees: "Brink se weduwee, Karina Brink, het die publikasie gemagtig en sal aan die biograaf toegang tot Brink se persoonlike dokumente verleen."26

    Die biografie het nie soos voorsien in 2018 verskyn nie. Die eerste nuus oor die amptelike verskyning van die Brink-biografie wat lesers ontvang het, was op 30 April 2019 in 'n aankondiging deur 'n ander uitgewer, Jonathan Ball Publishing, onder die opskrif:

     

     

    'n Nuwe uitgewer en dramatiese fokusverskuiwing sedert die oorspronklike aankondiging. Anders as byvoorbeeld die hoofstroommedia in Amerika oor die lotgevalle van Philip Roth se amptelike biografie, was die Suid-Afrikaanse nuusmedia stil daaroor, asof geoordeel is dat gewone Suid-Afrikaanse koerantlesers nie oor die intriges in mediabinnekringe ingelig hoef te word nie, soos dit ook die geval was met Brink se verwisseling van uitgewers laat in sy lewe wat vir "oningeligte" lesers "vreemd" (of verdag) sou voorkom.

    De Kock deel lesers wel die een en ander oor die "nuwe" biografie mee in sy voorwoord tot die Brink-biografie: "... nadat Brink se weduwee, Karina Szczurek, my toegang gegee het tot die joernale en ek baie maande met hulle gesit het, het ek besef dit is uiters belangrik om 'n boek te skryf wat Brink se eie, dringendste belange weergee, gegrond op sy eie optekeninge oor homself en sy doen en late."28 Dié "dringendste belange", was die suggestie, was nie meer die oorspronklike "breë sosiopolitieke verhale" nie, maar "seks (en liefde)". "Seks (en liefde)" was dan ook waarop die media gefokus het, soos dit verder aan sal blyk.

    3.

    The love song of André P. Brink: A biography het amptelik op 8 Mei 2019 verskyn in wat agterna blyk 'n gebeurtenisvolle week was, met aspekte waaroor in bepaalde gevalle eers weke later in die koerante vir algemene kennisname gerapporteer is. Die titel met sy ironiserende - en volgens Shaun de Waal (2019) deels misplaaste - toespeling op die Engelse digter TS Eliot se The love song of J Alfred Prujrock was opvallend. So ook die opstuur van die onderwerp se troebadoerskap.29 Hier dus, nogmaals, die suggestie van ironiese afstand neem van die onderwerp - 'n distansiëring deur die biograaf.

    Vir die biograaf - in alle waarskynlikheid meegevoer deur die opwinding van die amptelike verskyning van die biografie wat finaal sy aansien buite die beperkte plaaslike literêre kringe moes vestig, die oorweldigende media-aandag rondom die verskyning van die boek en die amper onafwendbare nadraai van die volgehoue emosionele spanning vanweë, onder meer, die druk wat die uitgewer in die finale stadium van die publikasie op hom uitgeoefen het om die boek betyds op die rakke te kry, plus ander gebeure soos dit later sou blyk - was Mei 2019 waarskynlik grotendeels in 'n waas gehul. Selfs vir die onbetrokke toeskouer lyk dit van buite beskou na 'n sosiale nagmerrie; De Kock se Facebook-blad is byvoorbeeld ook onaktief gelaat.

    'n Ondersoeker wat met die koerantverslae sit om net eers 'n betroubare tydlyn van gebeurtenisse te rekonstrueer - wat nog te sê probeer rekonstrueer wat presies plaasgevind het, wat die uitgesproke en onderliggende beweegredes vir bepaalde besluite en optredes was én die gevolge daarvan vir die biografie en die belanghebbendes daarby - besef gou dat dit nie 'n eenvoudige onderneming is nie; dat dié tipe ondersoek kan baat by insette van opgeleide ondersoekende joernaliste.

    Dit lyk wel of die week rondom die amptelike verskyningsdatum van die boek grotendeels bestee is aan die normale aktiwiteite wat verwag kan word wanneer uitgewers se bemarkings-masjinerie aan die gang kom. Dit sluit onder andere in die beskikbaarmaking van resensiekopieë aan resensente, reëlings rondom amptelike boekbekendstellingsgeleenthede waarby die biograaf sou optree en die publikasie van uittreksels uit die biografie in die media. Rapport sou 'n uittreksel publiseer en die Afrikaanse dagpers sou bonusinhoud op hulle webblaaie plaas.

    Voorts is daar ook vooraf onderhoude met die biograaf gevoer. Drie van die onderhoude sou later opslae maak. Eerstens was daar 'n onderhoud met AJ Opperman, Netwerk 24 se verslaggewer, wat die Dinsdag ná die amptelike verskyning van die boek gepubliseer is, waaruit dit blyk dat beide die biograaf en die uitgewer voorsien het dat die biografie Brink se aanhangers sou ontstel en tot meningsverskil sou lei. Tweedens was daar 'n video-onderhoud met Hannes van Wyk wat die volgende week op KykNET se Kwêla gebeeldsend sou word. Dié was van so 'n aard dat Hendrik Hancke van Rapport dit met die oog op die eersvolgende Sondag se koerant opgevolg het deur onderhoude te voer met mense wat die veelbewoë dag op die stel was, wat verduidelik het dat gedeeltes van die opname gesny moes word om De Kock en sy familie te beskerm; dáárom die onsamehangendheid van die onderhoud. Derdens was daar 'n onderhoud (dieselfde dag wil dit voorkom) met Elmari Rautenbach, wat op 2 Junie 2019, 'n maand later dus, in Rapport verskyn het onder wat vir lesers moes gelyk het na 'n versoenende opskrif of 'n pleidooi vir versagtende omstandighede.

    Verder was daar die gerapporteerde30 ete op 9 Mei 2019 by 'n restaurant in Observatory in die Kaap waarby De Kock se kinders teenwoordig was (waarskynlik om die verskyning van die Brink-biografie die vorige dag te vier), wat ooglopend skeefgeloop en een van sy seuns agterna verplig laat voel het om in die openbaar namens sy pa om verskoning te vra vir sy gedrag.

    4.

    Amptelik was die eerste wat Afrikaanse koerantlesers oor die biografie self te lese gekry het die uittreksel wat Rapport op 12 Mei 2019 uit die Afrikaanse vertaling van die biografie gepubliseer het. Daarin beskryf De Kock Brink se joernaalinskrywings oor sy Paryse verblyf aan huis van Breyten en Yolande Breytenbach tydens die "Europese somer van 1966": sy regverdiging (teenoor homself) van die einde van sy tweede huwelik, met Salomi Louw; die leuens wat hy aan haar vertel het; sy seksbeheptheid; sy ontmoetings met jong vroue en prostitute in Parys; sy "geloof ("ydelheid der ydelhede") in sy slag met vroue; die geslagsiekte wat hy as beloning opgedoen het.

    In sy beskrywing roep De Kock die filosofiese denksfeer van Nietzsche op om hoër (of dieper) waarde aan die gehoermoer te verleen, aan wat die biograaf interpreteer het as sy onderwerp se oorweldiging deur "'n seksualiteit" wat "uitreik na bo, tot in die allerhoogste pieke van ('n mens se) gees". En net om seker te maak sy lesers begryp, lê die biograaf 'n verband met die Engelse digter Byron via dié se biograaf, Edna O'Brien: "[He] seethed with creativity yet found it inadequate to soothe the rage and restlessness within and so the round of pleasure and debauch continued, the several women - having no name at all, but, comprising one vast, female gargantuan vortex."31

    In die verbygaan word die "broederskap" en "boeiende gesprekke" tussen Brink en Breytenbach vermeld en verduidelik dat die "aparte joernaal" wat Brink tydens sy Paryse verblyf gehou het vir 'n groot deel kreatief neerslag gevind het in die 1967-novelle Miskien nooit, waarin hy homself in 'n "'egte' fiktiewe karakter omskep", die Breytenbachs herkenbaar bygehaal en 'n werk geskep het wat ten spyte van Kannemeyer se "striemende kritiek" daarop "Afrikaanse skrywers ná Brink sterk beïnvloed en vernuwende moontlikhede blootgelê" het. Die Franse skrywer Alain Robbe-Grillet se hoog-modernisme word in die verbygaan betrek, asook Anthony Giddens se "plastic sensuality"-konstruksie. Rapport se opskrif by die gepubliseerde uittreksel was op die paaltjie af: "'Teerheid by 'n hoer. Dit bestaan. Dis daar.' - Kennis van die naglewe - Tydens 'n besoek aan Parys in 1966 raak sy 'smagting' na seks te veel vir André P. Brink, skryf Leon de Kock."32

    Dieselfde koerant sou oor die volgende drie weke 4 verdere stukke plaas, sommige met soortgelyke opruiende opskrifte. Eerstens was daar Jean Meiring se resensie met die allemintige opskrif "Dit wat André Brink dryf - 'n Vriendin sou eenmaal verwoord wat baie mense dink: 'Sy voël ja hom rond.' - André P. Brink en die spel van liefde val oop soos 'n riller wat enduit boei. Leon de Kock slaag met durf en vaart daarin om 'n komplekse man te verbeeld - een wat op byna bomenslike skaal sy drifte laat botvier het vir woorde, verhale én vroue, skryf Jean Meiring". Vervolgens 'n verdere bydrae deur Meiring oor al die foute in die Afrikaanse vertaling van die biografie.33 Dan die opvolgberig van Hancke na aanleiding van De Kock se Kwêla-onderhoud met die titel "Brink se vrou wou boek stop - 'Ons het dele uitgehaal om hom teen homself te beskerm.' - Sy gee André se seks-dagboeke, maar toe breek biograaf die 'legende' af'. Ten slotte was daar die onderhoud van Elmari Rautenbach met De Kock onder die opskrif "'Hierdie boek het my byna doodgemaak' - Net soos André P. Brink, begeer Leon de Kock ook baie vroue, maar hy is 'te nerveus om dit altyd enduit te voer'. En soos Brink probéér het, weet ook die skrywer van André P. Brink en die spel van liefde 'n mens moet ophou hiermee in die post-feministiese era, het hy aan Elmari Rautenbach gesê." Uit die koerantopskrifte is dit duidelik waar die media gereken het die klem in die biografie lê.

    Op 14 Mei 2019, die Dinsdag ná die plasing van die uittreksel in Rapport het Beeld 'n verslag van AJ Opperman se onderhoud met De Kock gepubliseer onder die opskrif "Boek oor Brink dalk omstrede - Wei uit oor 5 huwelike, baie affairs". Volgens die verslag het die biograaf sy "vrese" uitgespreek oor die uitval wat sy onthullings onder Brink-aanhangers tot gevolg sou kon hê: "Ek vrees dat die boodskapper ek verkwalik sal word, maar dit kom uit sy joernale". Die verslag onthul ook dat Karina Szczurek, die weduwee Mevrou Brink, die eerste weergawe van die manuskrip onder oë gehad het en "haar misnoeë oor die voorgenome boek te kenne gegee" het.34

    Dieselfde dag rapporteer die Cape Times, The Star en Citizen met variasies van dieselfde opskrif: "Retired Prof uses K-word. Author, academic arrested for allegedly harassing restaurant staff' en verduidelik dat De Kock op 9 Mei in hegtenis geneem is nadat 'n klag van crimen injuria teen hom gelê is, dat hy die volgende dag, Vrydag, in die hof verskyn het en voorlopig vrygelaat is met die waarskuwing om weer by 'n volgende datum te verskyn - en dat hy intussen vir evaluering en behandeling in 'n psigiatriese inrigting opgeneem is.35 Die berigte is gebaseer op 'n ooggetuieverslag wat op 'n sosialemediaplatform gerapporteer is en kommentaar van individue in die akademie, vriende en familie uitgelok het. Die formele uitval van die voorval was fel: die Universiteit van Stellenbosch se departement Engels het finaal hulle hande van hulle emeritus professor gewas en die uitgewer Jonathan Ball het De Kock, soos hy dit later gestel het, prakties "gefire" en die beplande bekendstellingsgeleenthede gekanselleer.36 Die uitgewer het wel nie so ver gegaan as WW Norton wat onderneem het om die onverspreide oplaag van Blake Bailey se Roth-biografie te verpulp toe bewerings oor dié se gedrag teenoor vroue in die nuus beland het nie. Na wat Hancke in Rapport berig het, het Jeremy Boraine van Jonathan Ball Publishing wel gesê "hulle sal nie huiwer om alle bande met [De Kock] te verbreek as daar waarheid in die bewering van rassisme steek nie". Boraine het egter ook aangedui "hulle staan steeds by De Kock se boek", verstaanbaar, want daar was immers geld op die spel. En eerliker dalk as Norton: opnames toon dat kopieë van die Norton-uitgawe van Blake Bailey (2021) se Roth-biografie wat met groot gehoeha aan die mark onttrek is, steeds in die handel beskikbaar is, hoewel dit ook mag wees dat die oorspronklik verspreide kopieë op die rak bly staan het.

    Koerantverslae oor en ná De Kock se twee optredes, veral die stukke van Steinmair en Rautenbach, het toenemend dieper in sy persoonlike lewe en karakter ingeklim, wat nie nodig is om in besonderhede te bespreek hier nie, behalwe om daarop te wys dat De Kock, hoewel hy by verskillende geleenthede laat val het dat hy Janet Malcolm se werk gelees het voordat hy die biografie aangepak het, kennelik nie haar waarskuwings oorjoernaliste en hulle "maklike verraad" teenoor hulle onderwerpe ter harte geneem het nie. Dit gesê, die persoonlike inligting wat hier en in ander verslae gerapporteer is, dui daarop dat navorsers wat die Brink-biografie krities wil ondersoek fyner na 'n paar spesifieke kwessies sal moet kyk. Dit wil blyk dat die man agter/in die biograaf, soos die man agter/in sy onderwerp, 'n "probleem met vroue" het (gehad het) en dat indien hulle Hambidge se raad sou volg en vergelykings tussen die twee se beskouings en werkwyses wil tref, hulle ook krities na hierdie aspek in die biografie behoort te kyk. Dieselfde geld die rassekwessie, wat dalk 'n verrassing kan oplewer.

    Twee ander sake wat die biografie raak het ook in die mediadekking aan die lig gekom. Uit 'n navraag van Steinmair by die Universiteit van Stellenbosch se departement Engels blyk dit dat De Kock die universiteit aan die einde van 2014 met vervroegde aftrede verlaat het ná probleme en uit 'n opmerking van De Kock self teenoor Rautenbach, dat hy finansiële probleme ondervind het, wat bepaalde besluite rondom die fokusverskuiwing van die biografie in 'n ander lig sou stel. Verder kan uit verskillende opmerkings teenoor die joernaliste ook afgelei word dat die verhouding tussen De Kock en Brink se weduwee teen die tyd dat die biografie verskyn het lank reeds versuur het en dat die biograaf homself probeer verontskuldig het.

     

    Die weduwee se verhaallyn

    1.

    Dit is moeiliker om die verhaallyn van Brink se weduwee as openbare epiteks vir die Brinkbiografie te rekonstrueer, omdat Karina Szczurek klaarblyklik, wyslik, besluit het om nie aan die media-waansin rondom die verskyning van die biografie deel te neem nie. Ná die opskudding rondom De Kock se restaurantoptrede is berig dat sy op reis is en nog nie die biografie onder oë gehad het en derhalwe nie enige kommentaar kan/wil lewer nie.

    Wat Szczurek se besluite was rakende die biografie van haar oorlede eggenoot, so gou ná sy dood, sou deursneelesers derhalwe moes aflei uit wat De Kock in die media vir die openbare rekord meegedeel het, gerapporteerde waarnemings van ander ingeligtes en publikasie-geskiedenisse van ander boeke wat voor en ná Brink se dood verskyn het wat as intertekste vir die biografie dien.

    Dit is ook insiggewend om na te gaan wat die geskiedenis navorsers kan leer oor die hantering van die argiewe van prominente figure en die magtiging van biografieë van gestorwe skrywers, wat in die geval van die sogenaamde groot skrywers van die twintigste eeu histories in baie gevalle die weduwee of ander naby familie en vriende toegeval het. Philip Roth se voorbeeld is insiggewend in dié opsig dat die skrywer self seker gemaak het dat hy sy biograaf aanstel en maatreëls in plek stel om te (probeer) verseker dat die gemagtigde biografie as die amptelike weergawe van sy lewe sou geld - as die standaard waaraan alle toekomstige biografieë gemeet sou word. Roth het ook onafhanklike eksekuteurs vir sy literêre nalatenskap aangestel. Nié so met De Kock en die Brink-biografie nie. Uit die openbare rekord (in hierdie geval die gerapporteerde gebeure) wil dit lyk of Brink nie voorsorg getref het oor sy persoonlike argief of vir 'n moontlike biografie nie; die laaste projek wat hom teen die einde van sy lewe besig gehou het, was die publikasie van die liefdesbriewe tussen hom en Ingrid Jonker, waaroor sommige literatore weliswaar hulle bedenkinge gelug het.

    Het Szczurek geweet hoe gevierde skrywers se weduwees dikwels in die geskiedenis opgeteken staan, sou sy waarskynlik versigtiger gedink het oor 'n biografie oor haar man so gou ná sy dood en oor die beskikbaarstelling van sy persoonlike dokumente.

    Weduwees, vorige vroue en minnaresse in die lewe en werk van befaamde skrywers, wys die geskiedenis, is/word gereeld gestereotipeerde teikens gemaak deur die literêre wêreld, ten einde hulle "onskadelik" te stel - enersyds, gemi(s)tifiseer en geromantiseer of, andersyds, tot feekse gemaak - deur skrywers, kritici, en ook biograwe. Blake Bailey se negatiewe uitbeelding van Roth se twee eksvroue in sy biografie van die skrywer tel onder onlangse 21ste eeuse voorbeelde.

    Justin Kaplan se bon mot "Shoot the widow" gee die toon aan. Dié het die segswyse gemunt om die frustrasie te beklemtoon van (manlike) biograwe wanneer hulle met vroue moet onderhandel wat as bewakers van literêre nalatenskappe optree. Op haar beurt het Meryle Secrest die segswyse as titel vir 'n boek oorgeneem. In 'n bespreking van dié werk verduidelik James Atlas, Saul Bellow se biograaf, die oorsprong daarvan:

    To explain the homicidal title first: it's an axiom coined by Justin Kaplan, the distinguished biographer of Mark Twain and Walt Whitman, and it refers to one of the main hazards we practitioners of the genre face. I instantly recognized its provenance: Kaplan, the first professional biographer I ever knew, used to warn me about the obstacles that spouses of dead subjects can strew in a prospective biographer's path: permissions withheld, archives closed, requests for interviews denied. On the one hand, you need their co-operation to get the job done; on the other, they tend to get in the way.37

    Histories beskou skakel die konsep van "die literêre weduwee" met opvattings in die twintigste eeuse Westerse letterkunde oor groot letterkunde(s) en groot skrywers wie se statuur deur navorsers, kritici en literêre geskiedskrywers (waaronder biograwe) vasgelê word - dikwels eers nadoods. Daarvoor is toegang tot die argiewe nodig, en wanneer persone met emosionele bande met 'n gestorwe skrywer die bewakers van die argiewe word, kan probleme verwag word ... en geïrriteerde biograwe. Donna Rifkind (1990:531-546) skets 'n klein tafereel wat die stief behandeling illustreer wat die weduwees van skrywers in dié konteks maklik te beurt val en 'n idee gee van die soort situasie waarin Brink se weduwee belangrike besluite oor sy nalatenskap moes maak.

    Stel jou die literêre huishouding voor, sê Rifkind (vry vertaal en aangepas - rj), waar, terwyl die groot skrywer eenkant in sy studeerkamer met sy groot lewenstaak besig is, in die voorkamer al die ondergeskikte rolspelers in sy lewe aan die woel is om die groot literêre netwerk in stand te hou: familie en vriende in een hoek en in 'n ander, in die eerste linie, diegene wat hoop om op die een of ander manier uit die lewe en sterwe van die skrywer munt te slaan - hoopvolle uitgewers, redakteurs van al die komende Versamelde Werke, literêre agente (met die oog op vertalings, ens.); in die tweede linie, al die verslaggewers en fotograwe, die protégés, bewonderaars en aanhangers van allerlei slag en soort; en, in die derde, effens eenkant, ten einde alles behoorlik in te neem, die skrywer se amptelike biograaf, dalk reeds besig om aantekeninge te maak.

    Dit is binne dié konteks wat Rifkind (1990) meen sy 'n konstante onderlangse gebrom hoor - van "rumor and speculation about all the extracurricular details crowding behind the solitary work of literary production. It is a hum generated by intense interest - most often malicious - in a writer's private life. It is the hum, in short, of the politics of literary celebrity" (ibid.).

    Dikwels eers ná die gevierde skrywer tot sterwe kom, en "korps en korpus" in staatsie lê, en die netwerk 'n plek word van samekoms van die nog lewende en die veranderlike én die komplekse "messy business" van 'n lewe opsom en in perspektief plaas, is dit wanneer 'n ander figuur ook in fokus kom. Soos Rifkind verduidelik, is dit die persoon wat nog altyd agter die skerms vir al die reëlings verantwoordelik was, vir die dekorum van die letterlike en literêre huishouding, die skrywer se inspirasie, wat sy kinders grootgemaak en sy manuskripte getik het, hom raad gegee en kritiek op sy werk-in-wording gelewer het, hom teen te veel publisiteit beskerm het en tot die heel laaste bygestaan het; die skrywer se weduwee wat, nadat die skrywer se loopbaan tot 'n einde gekom het, dikwels ook nog bereid was/is "to submit herself to the unrewarded task of preserving that career in the public imagination", maar wat ewe dikwels daarvoor verguis en tot bespotting gemaak is (ibid.).

    Volgens Rifkind is veral literêre biografieë geneig "to provide a harsh view of the writer's widow ... as a suspicious, venal shrew, arguing endlessly over copyrights and royalties, traditionally maligned as a stumbling block between the author's oeuvre and his adoring readers. And when she is not maligned, the writer's widow is satirized, made to look ridiculous for her willingness to be attached, Nora Barnacle-like, to the underside of an author's career..." (ibid.). Sarah Goldblatt, administrateur van CJ Langenhoven se nalatenskap, en die behandeling wat sy vanuit verskeie oorde ontvang het, onder andere ook in Kannemeyer se biografie van hom, se naam kom ook op.

    In die drie dekades plus sedert 1990 het baie verander en namate die 20ste eeuse era van groot skrywers begin afloop het, het die literêre weduwees ook in die vergetelheid begin raak. Met die begrafnis van Valerie Eliot, weduwee van die digter TS Eliot, in November 2012, het die Britse The Telegraph aangekondig: "Keepers of the literary flame: T S Eliot's widow Valerie was the last of her kind. The death of T S Eliot's second wife marks the end of an era in which literary widows veered close to self-sacrifice." Peter Stanford, die skrywer van die artikel, het die geleentheid gebruik om hulde te bring en ook ander Britse literêre weduwees en hulle toewyding in herinnering te roep en hulle optredes in perspektief te plaas. Vanuit die Afrikaanse literêre konteks kan nog name by die lys gevoeg word: die weduwee van Van Wyk Louw, Truida Louw, wat in 2004 oorlede is; Marié Opperman, weduwee van die digter DJ Opperman, oorlede in 1999; Sarah Goldblatt, weduwee van 'n ander aard, oorlede in 1975. In sy skrywe spekuleer Stanford ook dat "Today's writers' partners are unlikely to be so generous, so dedicated or so adoring. The literary widow, I fear, has had her day."38

    'n Era mag verby wees, maar die stereotipes wat daarmee geassosieer word het 'n nuk om dikwels nog lank in die verbeelding van 'n geslag lesers en navorsers vas te steek en hulle denke en optrede te beïnvloed. Vir bewyse hoef 'n mens net te kyk na die verguising wat Louw se weduwee in 2020 nog ontvang het oor haar aandeel aan en rol in sy amptelike biografie en Goldblatt oor baie jare, vir die instandhouding van Langenhoven se nalatenskap.

    Stanford se insig resoneer verder. In 'n nuwe era soos die huidige sou Goldblatt dalk nie bepaalde briewe tussen haar en Langenhoven vernietig het nie en sou beide sy en Truida Louw dalk hulle eie memoires en ander dokumentasie van hulle lewe met hulle gevierde wederhelftes gepubliseer het. Soos Szczurek onder andere wel gedoen het.

    3.

    Die nuwe era spaar nie noodwendig die weduwee nie. Toe Karina M Szczurek Brink in 2004 as 'n 27-jarige ontmoet en in 2005 gevra het om te trou, was hy, byna 70, 'n skrywer wat reeds begin terugkyk het op sy lewe en loopbaan. En vir die volgende dekade sou sy saamleef met terugblikke en bestekopnames, die immer teenwoordige spook van Ingrid Jonker en haar eggenoot se fisieke agteruitgang en afname in skeppingskrag, wat sy volgens aanduidings in die openbare rekord met grasie hanteer het.

    Brink het oor die jare elke faset van sy wydlopende skryfloopbaan met sorg bestuur om die maksimum voordeel daaruit te kan haal, en in die laaste dekade voor sy dood in 2015 was dit veral projekte wat gesamentlik 'n oorsig sou help gee van waaraan en waarvoor hy veral onthou wou word - sy notas aan sy toekomstige biograaf - beginnende met herdrukke rondom sy sewentigste verjaardag in 2005 van dié romans van hom wat blywende indrukke gelaat het en ander met gereelde tussenposes daarná tot in 2016, die jaar ná sy dood. Die twee boekstutte van sy laat-periode was egter 'n Vurk in die pad, sy herinneringe, wat in 2009 gepubliseer is, en Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe tussen hom en Ingrid Jonker, wat hy voor sy dood aangevoor het, maar postuum in 2016 verskyn het. Tussenin het sy laaste gepubliseerde skeppende werk, die slaweroman Philida, in 2012 verskyn en in 2013 twee versamelings uit sy gepubliseerde Paryse en Mediterreense reisherinneringe uit die sestiger- en sewentigerjare.

    Aan Szczurek het Brink dit oorgelaat om vir sy 75ste verjaardag in 2010 'n bundel byeen te bring met persoonlike indrukke oor die man, sy werk en sy invloed deur "familie, vriende en vorige minnaresse; uitgewers en vertalers; kollegas en studente; skrywers en kunstenaars" - altesaam 46 bydraes. In 2013 het sy saam met prosakenner Willie Burger gewerk aan die versorging van 'n bundel oorwegend voorheen gepubliseerde kritiese opstelle oor Brink se romans. Wat sy eie uitsette deur die jare as openbare intellektueel en kritikus betref, het Brink met sy oorspronklike samestellings volstaan.

    Van haar kant af het die "vyfde en laaste mevrou Brink" kort ná haar man se dood eerstens haar eie teenhanger- of intertekste vir die twee Brink-tome geskep: haar memoires, The Fifth Mrs Brink (2017), en die liefdesbriewe tussen haar en Brink, You Make Me Possible: The Love Letters of Karina M. Szczurek & André Brink (2018). Of dié twee publikasies so gou ná Brink se dood uit 'n akademiese oogpunt - in die lig van die toe nog "lewende geskiedenis" - strategies wys was en 'n betekenisvolle bydrae tot die diskoers oor Brink se nalatenskap lewer, moet nog gesien word. In die media is vooraf groot verwagtinge rondom die publikasie van The Fifth Mrs Brink (2017) geskep. Slegs Hambidge het egter 'n bespreking daarvan in die dagblaaie gelewer (in drie koerante in die Netwerk 24- stal).39 Op die Afrikaanse uitgawe, 'n jaar ná die verskyning van De Kock se biografie, was daar geen kommentaar van Afrikaanse akademici in die pers nie. Oor You Make Me Possible: The Love Letters of Karina M. Szczurek & André Brink (2018) was daar wel 'n bespreking deur Elkarien Fourie op LitNet en (nog) nie 'n Afrikaanse vertaling nie. Daarteenoor het Brink se memoires en die Brink-Jonker-briewe in literêre kringe, juis vanweë die afgelope geskiedenis en die bewese kreatiewe neerslag wat die gebeure gevind het, wye belangstelling uitgelok. Kritici het oor die algemeen die twee boeke ook dadelik as belangwekkende bydraes tot die kontekstualisering van Brink se loopbaan aanvaar.

    4.

    Dit is duidelik dat Szczurek nie die stereotipering van die jong literêre weduwee ontsnap het nie. Reaksies op haar beskikbaarstelling van Brink se joernale en opmerkings van De Kock oor haar in die media en in die biografie self bevestig dit.

    Ek het reeds daarop gewys dat die manier waarop De Kock vroue in die Brink-biografie stereotipeer kritiese ondersoek verdien. In die wyer konteks is 'n begrip van stereotipering van belang omdat die gebruik daarvan as 'n strategie in feitelike tekste 'n bepaalde onderliggende houding blootlê, en in hierdie besondere konteks die veronderstelde objektiwiteit/ neutraliteit of wetenskaplike stabiliteit van die biografie ondermyn. Om te illustreer, hier net twee kort voorbeelde wat binne die konteks van die epiteks uitstaan. Die eerste kom voor in die uittreksel uit die biografie wat Rapport gepubliseer het; die tweede in 'n Engelse bespreking van die biografie deur Shaun de Waal. Die eerste behels 'n verwysing na Brink se tweede vrou, Salomi Louw, waar die blote feit dat sy eens "'n jong aktrise" was as 'n soort blywende (stereotiperende) merker of diskwalifiseerder aan haar geheg word, terwyl sy intussen 'n hele rits ander kwalifikasies verwerf het wat haar as individu in eie reg beter sou beskryf.40 In die geval van Szczurek, weer, word 'n opmerking deur haar - wat De Kock beleef het as 'n teken van haar ambisie - uitgesonder as 'n eienskap waarvan die leser spesifiek kennis moet neem as sou ambisie by 'n vrou onvanpas, selfs dalk onbehoorlik wees. In die slot verwys die biograaf pertinent na "Karina" as iemand wat "haar skielik in die middelpunt van die Suid-Afrikaanse letterkunde bevind [het], 'n ruimte waarin sy graag self 'n rol wou speel" (De Kock, 2019:256). Die finale kleinkry van die "ambisieuse vrou" kom egter in die vorm van 'n uitgediende, daarom stereotipe feëverhaal-einde, 'n troop wat die twee figure, Brink en Szczurek, hulle individualiteit ontneem en die kompleksiteit van die betrokke lewens negeer, die hooffiguur en sy bruid in 'n gefiksionaliseerde romantiese waas omhul en Szczurek se rol vir alle doeleindes inperk tot dié van 'n statiese figurant in "Die verhaal van André P Brink": "Maar dié ridder-swerwer," filosofeer die biograaf op die spoor van Propp se folkloristiese morfologie, "het geweier om die stryd gewonne te gee en hét toe uiteindelik - soos in 'n feëverhaal - sy ideale beminde gevind": die aspoestertjie-verhaal gesien vanuit die hoek van die prins (kyk De Kock, 2019:252). De Waal het in sy bespreking van die biografie die volgende oor die effek van De Kock se stereotipering te sê gehad: "This marriage, to the Polish-born Karina Szczurek, who was 27 when they met, is presented by De Kock as a telos in Brink's life - he finally 'got lucky'. || Such a conclusion makes a warm and fuzzy ending for the biography and Brink's life, but it feels too much like an endorsement of conservative mores, as if to say that was the woman who finally tamed him, who gave him the socially acceptable role he had been really questing for all along."41 Tot hoe 'n mate Szczurek self in die mite ingekoop het met haar eie publikasies en optredes moet ook nog vasgestel word.

    Szczurek is nie net gestereotipeerde "sprokiesheldin" en "ambisieuse vrou" nie. Sy is ook "feeks" en "vyand": in die oë van die biograaf en sy uitgewer die skurk wat die biografie in 'n laat stadium wou keer en in die oë van die kritikus Hambidge die skurk wat in die eerste plek Brink se dagboeke aan die biograaf oorhandig het. In 'n spesiale inskrywing op 26 Mei 2019 op haar blog Woorde wat Weeg spreek Hambidge haar ontevredenheid uit: "Vir my gevoel is sy [Szczurek] verantwoordelik vir die skending van mense se privaathede en briewe wat sonder toestemming in die biografie opgeneem is. Uiteraard het dit aan Brink behoort, maar ek is daar seker van dat Brink die outeur nie sou vrede hê met wat nou afspeel nie. Boonop verminder dit sy statuur as romanskrywer. Die dagboeke was doodles en om sy gemoed skoon te maak en beslis nie - volgens my - vir die openbare oog bedoel nie. Al meen die eksekuteurs nou anders."42 In 'n huisgenoot-artikel van 13 Junie 2019 gaan sy verder: "Volgens haar [verduidelik die artikelskrywer] moes Karina dalk die nagevolge oorweeg het voor sy die versameling dagboeke aan Leon oorhandig het eerder as om agterna die publikasie van die boek te probeer keer. 'Hoekom het sy nie iemand gevra wat in die joernale staan nie?' sê Joan oor die Poolse Karina, wie se kennis van Afrikaans dalk beperk is. 'Of wou sy dit dalk onbewustelik bekendmaak?' wonder sy."43 Dit is opvallend dat daar na Brink se "eksekuteurs" verwys word, maar Szczurek alleen verantwoordelik gehou word vir die besluite rakende Brink se persoonlike argief, en by implikasie vir wat die biograaf daarmee aangerig het, insluitende vir die skade wat die biografie persone in hulle private hoedanigheid berokken het.

     

    Die biograaf versus die weduwee: "verraad" in die openbare teks

    En steeds sê hulle ja wanneer 'njoernalis skakel, en steeds is hulle verstom wanneer hulle die flits sien van die lem. - Janet Malcolm

    Die probleem met De Kock se weergawe van die boek se geskiedenis begin met 'n datum-diskrepansie. Penguin Random House se aankondiging op 16 Februarie 2016 van die ooreenkoms wat hulle met De Kock en Brink se weduwee bereik het dateer ruim drie maande voor die datum waarop De Kock - in sy onderhoud met Elmari Rautenbach - gesê het hy 'n mondelinge ooreenkoms met Szczurek bereik het en sy die joernale aan hom oorhandig het. Waarmee hy dan, volgens sy voorwoord, 'n verdere "baie maande" gesit het voordat hy besluit het "dit is uiters belangrik om [eerder - rj] 'n boek te skryf wat Brink se eie, dringendste belange weergee, gegrond op sy eie optekeninge oor homself en sy doen en late". Wat hom beswaarlik 'n jaar sou laat voordat die boek, volgens die ooreenkoms met Penguin Random House Umuzi, veronderstel was om in produksie te gaan sodat dit in 2018 sou kon verskyn.

    Te oordeel aan wat De Kock aan Rautenbach meegedeel het, was die aanvanklike gesprekke met Szczurek op grond waarvan hy Penguin Random House met sy voorstel genader het taamlik vaag en informeel. Volgens hom het hy aanvanklik beplan om Marlene van Niekerk en Athol Fugard se biografieë te skryf, maar dat - toe dit nie uitwerk nie - hy later besluit het "om met Karina te praat oor die moontlikheid van 'n biografie oor Brink, wat tien maande vantevore op 'n vlug terug van België af gesterf het".44 Volgens De Kock was "Karina" baie inskiklik: "Sy het selfs aangebied ek kan in Brink se studeerkamer werk" (ibid.).

    Dié gesprek het waarskynlik kort voor of ná De Kock sy deel van die vertaling van die Brink-Jonker-briewe in Oktober 2015 voltooi het, plaasgevind. Tussen Oktober 2015 en Februarie 2016 sou hy dan 'n uitvoerige voorstel oor 'n omvattende literêre biografie van Brink aan Penguin Random House Umuzi voorgelê en die ooreenkoms met die uitgewer bereik het wat in Februarie 2016 in die media aangekondig is. In dié proses, te oordeel aan die uitgewer se aankondiging, moes hy die uitgewers laat verstaan het dat hy reeds Szczurek se magtiging verkry het en dat sy formeel ingestem het om Brink se private joernale tot sy beskikking te stel. Die vraag is dus of De Kock dieselfde voorstel ook skriftelik aan Szczurek voorgelê het of minstens (per e-pos) met haar bespreek het (want volgens sy relaas was hy toe in Amerika), en of - indien sy wel toe in beginsel toegestem het - dit op grond van hierdie voorstel was én die verwagtinge wat dit sou gewek het oor hoe die biograaf beoog het om Brink se persoonlike dokumente te gebruik. lndien hulle wel voor Februarie 2016 "'n mondelinge ooreenkoms" bereik het, is die vraag: wat was die ooreenkoms in Mei 2016 dan?

    Rautenbach haal De Kock se verduideliking oor hoe hy in Mei 2016 uit Amerika teruggekeer en Brink se weduwee ontmoet het woordeliks aan: "ln Mei 2016 was ek terug in Suid-Afrika. Ek gaan besoek Karina vir die eerste keer. Ons drink koffie. Ek sê vir haar: 'Karina, l need to see those journals.' En sy sê vir my: 'I'm not sure whether l should show them to you.' Toe sê ek: 'What the... ? Karina, I've just signed a contract [met Penguin Random House, in daardie stadium Brink se uitgewer - rj], you have to show me the journals! You have to! You said yes, you can't say no now!'" (kyk voetnoot 44). Met De Kock se selferkende teatraliteit in die teenwoordigheid van vroue in gedagte kan enigiemand hulle die toneel indink wat tussen die biograaf en die weduwee ontvou het: hy "moes" eenvoudig die joernale kry. Die vraag is waarom toegang tot die joernale skielik dringend was, gegee die soort biografie wat hy volgens Penguin se aankondiging in die vooruitsig gestel het?

    Wat intussen verander het, en ook dít blyk uit die onderhoud met Rautenbach, is dat De Kock vóór sy ontmoeting met Szczurek in Mei 2016 reeds besluit het dat 'n omvattende literêre biografie te veel werk gaan wees en te lank gaan neem. Aan Rautenbach het hy verduidelik dat hy ná die voltooiing van die vertaling van Brink se briewe "weggeval [het] met die lees van Brink se 24 romans": "Ek het daar gestop by die romans en kritiese werk. Daar's net te veel. As jy Brink in 'n katalogus opsoek, is daar iets soos 150 blaaie. Dis ridiculous." En "byna onmiddellik" toe hy die joernale sien, vertel hy, "toe weet ek hierdie gaan 'n ander boek wees as wat ek gedink het" (kyk voetnoot 44).

    lets in die tydlyn klop egter steeds nie. Net soos De Kock verduidelik het dat Szczurek reeds tydens die vertaling van die Brink-Jonker-briewe 'n goeie idee moes kon vorm van wat in die joernale aangaan, net so het ook hy toe al sekerlik die potensiaal van Brink se joernale vir 'n skokkende biografie vermoed. Selfs vroeër, want De Kock het laat blyk dat hy reeds by die lees van Brink se herinneringe, A Fork in the Road (2009), besef het dat Brink nie alles oor die vroue in sy lewe in sy memoires meegedeel het nie en dat hy die skrywer spesifiek daaroor uitgevra het.45 Boonop was daar nog al die skinderstories oor Brink in die akademiese wandelgange wat De Kock se ore moes bereik het.

    Sy lees van Brink se joernaalinskrywings oor Jonker sou die vroeëre vermoede dus slegs bevestig (en oortref) het. Só het De Kock dit aan Rautenbach verduidelik: "En toe kom daardie Vrydagaand... Ek was stoksielalleen in my woonstelletjie, sober as a judge. Nadat ek al sy joernale van die vyftigerjare gelees het, kom ek by lngrid se storie. Twee A4-joernale, wat op 22 April 1963 met een woord begin: 'Ingrid'. || "En dit slaan my tussen die oë: Dit is 'n storie wat jy nét so kan uitgee 250 bladsye waarin 'n 28-jarige Brink vir die eerste keer sy rou weergawe van die verhouding vertel. Maar as 'rolspeler' én 'waarnemer' sy woorde en daarna sou hy die gebeure eindeloos herlees en in kantaantekeninge korrigeer of verander soos dit hom pas."46 'n Volbloed exposé sou egter nie deug nie, hoe opspraakwekkend op sigself ook al, want De Kock was onder kontrak vir 'n biografie, waarvoor hy waarskynlik reeds 'n finansiële voorskot ontvang het en waarvoor 'n publikasiedatum reeds vasgestel was. Boonop was dit vir 'n biografie dat Brink se weduwee in beginsel toestemming gegee het. 'n Middeweg was derhalwe 'n biografie waarin die ernstige temas wat hy oorspronklik in die vooruitsig gestel het tot hanteerbare proporsies teruggesnoei sou word sodat die "sappige besonderhede"47van Brink se persoonlike lewe meer gekonsentreerd (maar, onder druk, weliswaar ook gesensureer) aangebied kan word.

    Van dié plan is mevrou Brink oënskynlik nie vertel nie. Dit is ook nie duidelik of sy oor die verskuiwing na 'n nuwe uitgewer toe ingelig is nie of wat die rede daarvoor was nie. Die nuwe uitgewer moes egter van die voorstel gehou het, want hulle was bereid om regshulp in te roep om seker te maak dat die "nuwe biografie" verskyn. Toe De Kock gevra is of Szczurek toestemming gegee het vir die manier waarop die joernale uiteindelik gebruik is, was sy antwoord: "Karina het wel goedgunstiglik toestemming gegee tot op die punt dat sy snuf in die neus gekry het dat alles nie reg is nie ... volgens haar, dat ek skielik haar man beswadder. Omdat sy wil hê André moet 'n legende bly en hierdie boek gaan sy legende bietjie afkraak. Toe sê ons regsmense vir haar 'Sorry, die mondelinge kontrak wat julle aangegaan het, staan nog.'"48 (Dit is opmerklik hoé dié stelwyse die agentskap van wat Brink se reputasie aangedoen is, weg van die biograaf self af na "hierdie boek" toe verskuif en objektiveer.)

    Die doel van De Kock se besoek aan Brink se weduwee in Mei 2016 was dus waarskynlik hoofsaaklik om die joernale by haar te kry en hulle "ooreenkoms" te bevestig, maar watter ooreenkoms? Het mevrou Brink geweet van die koersverandering waartoe sy in Mei 2016 ingestem het? Volgens sy mededeling aan Rautenbach het "Karina" vir hom gesê: "'I'm scared, Leon. I don't know what's in there.'" Wat De Kock só interpreteer het: "Miskien het sy nie kans gesien nie, want ek weet uit gesprekke met Brink Karina is baie goed in Afrikaans. Dan weer móés sy 'n idee gehad het, want ons is toe al deur die Jonker-korrespondensie. Dis net 'n aanname van my. Toe sê ek: 'Karina, we'll deal with it as it comes up.' En toe sê sy oukei. En toe begin die hele proses."49

    Die rekord, daarteenoor, toon dat De Kock in Mei 2016 by Szczurek weg is met Brink se 42 Croxley-joernale en dat sy blykbaar eers 'n voltooide manuskrip onder oë gekry het50 - op dieselfde tydstip toe ander vroue, onder andere, ook genader is vir kommentaar op die manuskrip en om toestemming te gee dat hulle besonderhede gepubliseer kan word en van hulle, soos Szczurek ook, regsadvies ingewin het.

    De Kock het klaarblyklik dus ook nie die aanbod aanvaar om in Brink se studeerkamer te werk nie, want dit sou geleentheid gebied het vir deurlopende gesprek oor die ontwikkelende lewensverhaal, en, vanuit die oogpunt van 'n biograaf, vir inmenging deur die weduwee. Dit sou egter ook geleentheid gebied het vir konsultasie oor wat met die kontensieuse materiaal behoort te gebeur soos wat hy in die onderhoud met Elmari Rautenbach erken het hy teenoor Szczurek onderneem het.

    Soos blyk uit die publisiteit tydens die verskyning van The love song of André P Brink, het De Kock en sy nuwe uitgewer voor die boek se verskyning reeds geweet dat dit omstrede sou wees en ook dat dit Brink se reputasie skade kan berokken - regsaksies of dreigemente in dié verband sou dit behoorlik tuisgebring het. Deborah Steinmair verwys in haar bespreking van die biografie in Vrye Weekblad na die "gesiene akademikus, skrywer, digter en vertaler Leon de Kock se boek oor André P. Brink se liefdeslewe" wat prokureurs besig hou en "regslui se kasregisters laat klingel".51 'n Mens stel jou voor dat die uitgewer se regsverteenwoordigers vooraf deur die manuskrip gewerk en De Kock geadviseer het om dit (of bepaalde gedeeltes daaruit) voor te lê aan individue wat in Brink se lewe betrek is en wat besware teen die skending van hulle privaatheid sou kon hê, ten einde potensiële probleme sover moontlik vooraf te probeer uitstryk. En dat dít is waar die probleme begin het. Aan Elmari Rautenbach het De Kock tydens hulle onderhoud gesê: "Skryf daar: Elkeen van hierdie vroue in die joernale is kans gegee om te antwoord. Skuilname is gebruik wat Brink gebruik het, of waar vroue dit verkies het."52 Sy besondere irritasie het De Kock vir Szczurek gereserveer, omdat sy die publikasie probeer keer het toe sy uiteindelik besef het wat besig was om te gebeur. Tydens die Kwêla-onderhoud het hy aan Hannes van Wyk gesê: "Sy wou hom verheerlik. Sy't monumente vir hom gebou en ek kan dit verstaan, maar sy moet ook verstaan dat André Brink aan almal van ons behoort, nie net aan haar nie. Sy ken hom tien jaar lank, 11 jaar lank. Haar huwelik het tien jaar lank gehou. En dit was 'n wonderlike huwelik, maar sy mag nie vir my sê dat André Brink aan haar behoort nie."53

    Dat De Kock in die week van sy klein triomf in Mei 2019 klaarblyklik vir homself 'n gat gegrawe het met sy optredes en uitsprake, was waarskynlik skrale troos vir mevrou Brink. Die publikasie van die biografie het haar omgee oor haar eggenoot se nalatenskap onder verdenking gebring. Nie net is sy verkwalik omdat sy Brink se private dokumente voortydig - al was die neerslag daarvan in die biografie selektief en afgewater vir algemene verbruik - openbare besit gemaak en sy reputasie daardeur in die gedrang gebring het nie, maar sy moes ook kennis neem van hoe die dogter van haar eggenoot se voormalige minnares hom in die openbaar daarvoor verantwoordelik hou dat hy haar ma "vermoor" het - en op die koop toe die mediaseksorgie meemaak. Dit moes haar erg geraak het. Wat die beskikbaarheid van Brink se persoonlike argief in die lig hiervan vir toekomstige navorsing gaan wees, sal mens maar moet kyk.

     

    But there is always enough blame to go around

    Rifkind se beskrywing van die prosesse wat aan die gang kom in die kanonisering van gestorwe literêre skrywers, maak dit duidelik dat dit 'n kollektiewe onderneming is wat verskillende rolspelers betrek: onder andere uitgewers, houers van die sleutels tot die argiewe en 'n verskeidenheid skrywers/skribas (o.a. literatore, kritici, literêre historici en biograwe) - die verteenwoordigers van die literêre gemeenskap wat elk 'n rol te vervul het. 'n Mens kan tereg vra waar elkeen van dié verteenwoordigers - Brink-kenners, akademiese kollegas, vriende van die skrywer - was in die besluitnemingsproses oor 'n amptelike (gemagtigde) biografie van die gevierde Afrikaanse skrywer en akademikus. Veral omdat onder die verteenwoordigers sekerlik iemand moes gewees het wat geweet het daarvan dat - soos De Kock ten aanhore van 'n gehoor teenoor Hannes van Wyk self ook te kenne gegee het - die biograaf 'n ou grief jeens sy onderwerp Brink gekoester het. Steinmair het die onderhoud en die gevolge vir De Kock opgesom: "Die Kwêla-onderhoud wat Sondag uitgesaai is, was effe gaterig, soos 'n stuk breiwerk wat 'n paar steke verloor het - dis duidelik dat onuitsaaibare dele uitgeredigeer is. De Kock het sy fokus, humeur en kredietwaardigheid verloor toe hy gaan draai by 'n grief wat hy destyds teen Brink gehad het."54

    Maar miskien moet mens by die skrywer self begin en kyk wat die openbare teks te kenne gee oor wat moontlik verkeerd geloop het met die aanstelling van sy amptelike biograaf. 'n Belangrike sleutel lê opgesluit in 'n kort berig wat 'n jaar of wat vóór Brink se dood verskyn het. Op 19 April 2013 kondig Beeld (dit sou in al die koerante in die uitgewer se stal verskyn het) onder die kriptiese titel "Brink kry ná 50 j. 'n nuwe uitgewer' naamlik aan dat Brink sy verbintenis met sy uitgewer Human en Rousseau verbreek het, sonder om redes daarvoor te verskaf. Die uitgewer was soos die opskrif te kenne gee vyf dekades - 'n hele loopbaan - lank Brink se Afrikaanse uitgewer en was onder andere tussen 2004 en 2016 vir die bestendige stroom herdrukke van werk uit sy oeuvre verantwoordelik - op die oog af dus die aangewese uit- en raadgewer van en vir 'n amptelike biografie, en by nabetragting 'n verlore geleentheid. Hierby kom 'n tweede kompliserende faktor. Dit blyk dat Kannemeyer Brink in 'n stadium genader het om sy biografie te skryf en dat Brink dit van die hand gewys het, volgens 'n voetnoot in De Kock (2019) se biografie. In 'n Afrikaanse konteks, wat die voedingsbodem van die meeste van Brink se werk was, sou Kannemeyer, in teorie minstens, 'n voor die hand liggende keuse gewees het: met sewe biografieë van skrywers op sy naam, waaronder die lewensverhale van ander van die prosaïste wat met die epogmakende Vernuwing van Sestig geassosieer is, plus 'n gemagtigde biografie van die Nobelpryswenner JM Coetzee. 'n Tweede verlore geleentheid. 'n Derde komplikasie blyk uit die volgende: Toe Brink by Human en Rousseau weg is, het hy aangedui dat sy volgende twee boeke by Umuzi sou verskyn.55 Sy en Jonker se liefdesbriewe, Vlam in die sneeu, wat in 2016 postuum verskyn het, was die eerste, met die tweede waarskynlik die roman wat, volgens berigte, ten tye van sy dood onvoltooid was. Die plan - volgens Penguin Random House (waarvan Umuzi deel is) se aankondiging daaroor - was dus dat die biografie by Brink se nuwe uitgewer, wat voortaan na sy belange sou omsien, sou verskyn. Die skuif weg van Umuzi was ooglopend nie iets wat Brink voorsien het nie, en gewis nie deel van sy toekomsplanne vir sy literêre nalatenskap nie...

     

    Slotopmerkings: meer sleutels...

    Soos uit die inleiding tot hierdie stuk geblyk het, is daar sterk verwagtinge oor die formaat waarin wetenskaplike navorsing op die terrein van die letterkunde in vaktydskrifte gerapporteer (behoort te) word.

    In klinies-wetenskaplike artikels word op hierdie punt van die verrigtinge gewoonlik oorskouend-en-opsommend teruggekyk op die disseksie van die probleem wat aan die begin aan die orde gestel is, word die "lyk" weer netjies toegewerk en tot 'n gevolgtrekking gekom. By geleentheid vind navorsers dit egter nuttig(er) om die lewende primaat in "haar" natuurlike habitat, in konteks, waar te neem. Dié soort benadering is in die 20ste eeu veral in die sosiale wetenskappe gebruik, waar dit die vorm aangeneem het van "gevallestudies", maar dié het om verskeie redes oor die jare traksie verloor, onder andere omdat die "teorie" of agenda wat die navorsing gedryf het nie altyd onmiddellik "sigbaar" was nie. Sedertdien het die benadering 'n terugkeer begin maak in die vorm van "(outo-)biografie" as 'n metode van ondersoek in navorsing wat op "geleefde werklikhede" ("lived realities") fokus56 en in historíese studies in die vorm van mikrogeskiedenisse57 wat die lewensverhale van (dikwels gewone) individue en kleiner groepe teen wyer/groter historiese gebeure projekteer.

    Annemarié van Niekerk (2019) se resensieartikel oor die Brink-biografie waarin sy tot die biograaf se verdediging kom, is "'n spookteenwoordigheid" in die huidige stuk, soos 'n swewende aanwyser ("floating signifier", soms ook "empty signifier"), op grond van 'n paar uitsprake wat sy daarin maak wat belangrik is en waaroor duidelikheid gekry moet word met die oog op 'n gedissiplineerde diskoers oor die genre: sy het dit, soos voorheen al genoem, onder andere oor die reputasie van die biografie as oor die algemeen 'n "gevaarlike" genre en oor die (literêre) Brink-biografie as, in teenstelling, 'n wetenskaplike teks wat nie in die ongereguleerde sosiale konteks, waar dit deur kontroversie omring is, bespreek behoort te word nie, maar eerder in 'n geordende akademiese konteks deur kundiges hanteer behoort te word.

    Te oordeel aan verskeie uitsprake deur kenners van die biografie (Kannemeyer, Hans Renders, Van Niekerk self, en ander waarop ek later terugkom), is dit die biografie se historiese bande met die joernalistiek, wat tot in gedrukte koerante se bont bladuitleg die aanbod naboots van die ongefilterde (ongesensureerde) "geskinder" op ou markpleine en die verversingsposte langs antieke handelsroetes, die opspraakwekkende/"sensasionele" onmiddellikheid van geskiedenis-nog-in-wording - en die stigma van "onbetroubaarheid" wat dít konvensioneel dra - wat kritici instinktief ongemaklik maak in die teenwoordigheid van die genre en die diskoers daaroor. Vermoedelik ook in die geval van die huidige stuk (veral in die vroeëre weergawe). Dit kan egter dalk net sinvol wees om dié "ongemak" te trotseer en krities te ondersoek om die waarde daarvan as 'n "werktuig" in wetenskaplike ondersoek te probeer vasstel. Met die oog dáárop kan 'n ou, maar steeds konfronterende uitspraak deur Janet Malcolm as 'n uitdaging gerig word. Malcolm (1993:9) word dikwels aangehaal oor die vergelykings wat sy tref tussen die "(t)he biographer at work" en professionele "inbrekers" wat in die laaie en kaste van hulle slagoffers rondkrap of die sameswering tussen biograwe en lesers wat soos "voyeurs" kop-in-een-mus deur die sleutelgate van slaapkamers loer. Van meer belang hier egter is haar waarneming oor die stempel van morele voortreflikheid wat die akademiese werksaamheid van die biograaf veronderstel is om aan die resultate van hulle arbeid te verleen:

    The voyeurism and busybodyism that impel writers and readers of biography alike are obscured by an apparatus of scholarship designed to give the enterprise an appearance of banklike blandness and solidity. The biographer is portrayed almost as a kind of benefactor. He is seen as sacrificing years of his life to his task, tirelessly sitting in archives and libraries and patiently conducting interviews with witnesses. There is no length he will not go to, and the more his book reflects his industry the more the reader believes that he is having an elevating literary experience, rather than simply listening to backstairs gossip and reading other people's mail. The transgressive nature of biography is rarely acknowledged, but it is the only explanation for biography's status as a popular genre (my kursief).

    My advies sou dus wees dat wanneer die (literêre) biografie as 'n sosiaal-historiese genre bestudeer word, (literatuur)wetenskaplikes die oortredende of grensoorskrydende aard daarvan as gegewe sal neem en deel maak van die (kritiese) diskoers.

    Dit is opvallend dat Van Niekerk (2019), wanneer sy dit oor die Brink-biografie as wetenskaplike teks het, die wetenskaplikheid van die biografie koppel aan dinge wat die biograaf moet doen. Die idee dat biografie is wat die biograaf doen aan, in en met die teks, veronderstel iets heel anders as die idee dat die teks 'n onafhanklike entiteit is met bepaalde intrinsieke eienskappe wat uit die omringende konteks losgemaak behoort te word.

    Soos meermale genoem, is daar tans nog geen omvattende teorie van die (literêre) biografie om die diskoers oor die biografie "wetenskaplik" te anker nie. Die huidige artikel neem die idee van die (literêre) biografie as 'n teks in 'n sosiaal-historiese kommunikasienetwerk as vertrekpunt. 'n Kommunikasienetwerkmodel maak dit moontlik om die verbande te verreken wat 'n teks (biografie) oor tyd en ruimte heen, in bepaalde kontekste van die kommunikasie, met verskillende elemente aangaan en handhaaf: van die ontstaan en produksie van die teks tot die ontvangs daarvan. 'n Tweede uitgangspunt is dat bepaalde fasette van die omringende werklikheid waarin elke teks ingebed is die vorm aanneem van tekste (byvoorbeeld bemarkingstukke, bekendstellings, berigte en onderhoude, ens.). In die geval van die sogenaamde epiteks behels dit tekste wat 'n bepaalde teks (biografie) omring wat die ontvangs en interpretasie daarvan direk (kan) beïnvloed. 'n Derde uitgangspunt is dat die versameling epitekste wat 'n kontroversiële hoofteks omring as 'n narratief gekonstrueer kan word om lig op die hoofteks (biografie) te werp, op wyses wat doelbewus nie die kompleksiteit van die teks-in-kommunikasie vereenvoudig nie, en die integriteit van die proses self sover moontlik bo verdenking probeer hou.

    Die rekonstruksie van die epiteks van die Brink-biografie hier bo het gegewens opgelewer wat ooglopend die hoofteks destabiliseer. Lesers weet byvoorbeeld nou 1) dat 'n gemagtigde akademiese biografie beplan en aangekondig is wat by Brink se nuwe uitgewer sou verskyn het; maar 2) dat, 'n jaar later as beplan, 'n in-die-pers-gesensasionaliseerde-biografie by 'n ander uitgewer verskyn het. Hulle weet ook 3) dat die biograaf se verduidelikings rakende die voorafgaande en sy onderhandelinge met Brink se weduwee daaroor nie klop nie; en 4) dat sy in 'n laat stadium blykbaar eers van die nuwe fokus uitgevind het. Hulle weet ook 5) dat sy die verskyning van die nuwe, herfokusde biografie (wat nie deel van die aanvanklike mondelinge ooreenkoms was nie) probeer keer het toe sy dit uiteindelik wel onder oë gekry het, maar 6) dat sy deur die biograaf en die nuwe uitgewer se regsverteenwoordigers "oorreed" is om nie die publikasie van die herfokusde biografie te verhinder nie. Hulle weet 7) dat die biograaf en sy uitgewer vooraf geweet het dat die "nuwe biografie" opslae sou maak en 8) dat die biografie onder andere in ooreenstemming met daardie wete bemark is. Hulle weet verder 9) dat die biograaf self te kenne gegee het dat hy die legende wat Brink wás deur die boek ontluister het, en hulle weet 10) dat hy 'n ou grief jeens Brink erken/beken het. Hulle weet ook 11) dat (aan die ontvangskant) minstens een van die resensente van die Brink-biografie die standpunt huldig dat die biografie tekens dra wat daarop dui dat die blote volume van die materiaal in die 42 "seksjoernale" wat dit ten grondslag lê en die fokus daarvan vorm, die biograaf "oorweldig" het.58 Alles in ag geneem, lyk dit of die biograaf, deur sy doen en late, grotendeels eiehandig sy teks gedestabiliseer het as 'n betroubare wetenskaplike biografie. Met dié inligting wat die epiteks beskikbaar stel, kan navorsers na die teks self terugkeer om die aanbod (insluitende die wyse van aanbieding) van die Brink-biografie krities te heroorweeg. Indien die biograaf teen dié agtergrond wel daarin geslaag het om 'n wetenskaplike biografie tot stand te bring wat reg laat geskied aan die lewe en bereikinge van sy onderwerp, sal dit inderdaad 'n merkwaardige prestasie wees.

     

    INTERTEKSTE VIR DIE STUK

    De Kock, Leon. 2019. André P Brink en die spel van liefde:'n biografie. [S.l.]: Jonathan Ball. https://ebook.yourcloudlibrary.com/library/oclc/detail/vvg5xz9.         [ Links ]

    Genette, Gérard. 1997. Paratexts: Thresholds of Interpretation. Cambridge: Cambridge University Press. http://site.ebrary.com/id/10462004.         [ Links ]

    Malcolm, Janet. 1993. The Silent Woman: Sylvia Plath and Ted Hughes. London: Vintage. https://app.kortext.com/borrow/2521730.         [ Links ]

    Rifkind, Donna. 1990. "Literary Widows." The American Scholar. 59(4):531-546. https://www.jstor.org/stable/41211833.         [ Links ]

    Van Niekerk, Annemarié. 2019. Leon de Kock se André P Brink en die spel van liefde: 'n LitNet Akademies-resensie-essay. LitNet. 18 Julie 2019. https://www.litnet.co.za/leon-de-kock-se-andre-p-brink-en-die-spel-van-liefde-n-litnet-akademies-resensie-essay/        [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2024-04-15
    Goedgekeur: 2025-07-23
    Gepubliseer: September 2025

     

     

    16 Foute, foute net waar jy kyk | Netwerk24. 30 Junie 2019. https://www.netwerk24.com/foute-foute-net-waar-jy-kyk-20190629.
    17 Herrie woed oor André P. Brink se wilde eskapades | Huisgenoot; WOORDE WAT WEEG: Polemies | Sexton - Brink - De Kock. https://www.netwerk24.com/huisgenoot/bekendes/herrie-woed-oor-andre-p-brink-se-wilde-eskapades-20190607
    18 Die uittreksels het oorspronklik op die uitgewer se webblad verskyn, maar is intussen verwyder. Soektogte na die biograaf, die biografie en die onderwerp op die webblad lewer tans geen resultate op nie.
    19 Van Coller, HP. Voorstellings en posisionerings in Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal deur JC Steyn. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, June 2020, 60(2): 413-433. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n2all
    20 https://www.netwerk24.com/netwerk24/openhartig-ongehoord-en-totaal-onverbloemd-20190519
    21 Boek oor Brink dalk omstrede - Wei uit oor 5 huwelike, baie affairs. Beeld, 14 Mei 2019, p. 7.
    22 "Sy wás 'n klein maagd" - bespiegelings oor sekspeste, genieë en André P. Brink se spel van liefde. Vrye Weekblad, 24 Mei 2019, aanlyn. Die bekende anti-apartheidskoerant Vrye Weekblad het, na 'n lang onderbreking, in 2019, die jaar waarin hierdie kommentaar verskyn het, 'n terugkeer gemaak as 'n aanlyn publikasie. Met die nuus in 2025 dat die blad permanent sluit, het toegang tot Vrye Weekblad se argief skynbaar ook verdwyn.
    23 Biografie oor André P Brink deur Leon de Kock op pad | Penguin SA (bookslive.co.za). Die Engelse aankondiging is ook steeds beskikbaar by die volgende webadres: https://www.penguinrandomhouse.co.za/penguinbooksblog/brink-biography-leon-de-kock-be-published-umuzi.
    24 Biografie oor André P Brink deur Leon de Kock op pad | Penguin SA (bookslive.co.za).
    25 De Kock, Leon. 2019. André P Brink en die spel van liefde, Voorwoord.
    26 Biografie oor André P Brink deur Leon de Kock op pad | Penguin SA (bookslive.co.za).
    27 None spared in Leon de Kock's intimate biography of André P Brink (timeslive.co.za).
    28 De Kock, Leon. 2019. André P Brink en die spel van liefde, Voorwoord.
    29 De Waal, S. 2019. "A love for writing and women", Mail & Guardian: Web Edition Articles, 24 Mei (online NewsBank). A love for writing and women - The Mail & Guardian.
    30 "Retired Prof uses K-word. Author, academic arrested for allegedly harassing restaurant staff", Cape Times, 9 Mei 2023, p. 3.
    31 Die aanhaling kom uit: O'Brien Edna. 2009. Byron in Love. Londen. Weidenfeld & Nicolson.
    32 "'Teerheid by 'n hoer. Dit bestaan. Dis daar.' - Kennis van die naglewe - Tydens 'n besoek aan Parys in 1966 raak sy 'smagting' na seks te veel vir André P. Brink, skryf Leon de Kock." Rapport, Mei 12, 2019, pp. 4, 5. Kennis van die naglewe | Netwerk24.
    33 Foute, foute net waar jy kyk | Netwerk24. 30 Junie 2019. https://www.netwerk24.com/foute-foute-net-waar-jy-kyk-20190629.
    34 "Boek oor Brink dalk omstrede - Wei uit oor 5 huwelike, baie affairs." Beeld, 14 Mei 2019, p. 7.
    35 "Retired Prof uses K-word. Author, academic arrested for allegedly harassing restaurant staff", Cape Times, 9 Mei 2023, p. 3.
    36 "Brink se vrou wou boek stop - 'Ons het dele uitgehaal om hom teen homself te beskerm.' - Sy gee André se seks-dagboeke, maar toe breek biograaf die 'legende' af." Rapport, 26 Mei 2019, p. 3. https://www.netwerk24.com/netwerk24/brink-se-vrou-wou-boek-stop-20190525.
    37 'n Uittreksel uit die bespreking kan gelees word op: https://www.amazon.com/Shoot-Widow-Adventures-Biographer-Subject/dp/0307264831
    38 https://www.telegraph.co.uk/culture/books/9672458/Keepers-of-the-literary-flame-T-S-Eliots-widow-Valerie-was-the-last-of-her-kind.html
    39 Memoires. "Aangrypende verslag van liefde én verlies." Beeld. 14 Aug. 2017, p. 7.
    40 Vergelyk die uittreksel uit die biografie in Rapport: "'Teerheid by 'n hoer. Dit bestaan. Dis daar.' - Kennis van die naglewe - Tydens 'n besoek aan Parys in 1966 raak sy 'smagting' na seks te veel vir André P. Brink, skryf Leon de Kock." Rapport, Mei 12, 2019, pp. 4, 5.
    41 De Waal, S. 2019. "A love for writing and women", Mail & Guardian: Web Edition Articles, 24 Mei (online NewsBank).
    42 https://joanhambidge.blogspot.com/2019/05/
    43 "Kennis van sy aande." Huisgenoot. 13 Junie 2019, pp. 18, 19.
    44 "'Hierdie boek het my byna doodgemaak' - Net soos André P. Brink, begeer Leon de Kock ook baie vroue, maar hy is 'te nerveus om dit altyd enduit te voer'. En soos Brink probéér het, weet ook die skrywer van André P. Brink en die spel van liefde 'n mens moet ophou hiermee in die post-feministiese era, het hy aan Elmari Rautenbach gesê", Rapport, 2 Junie, p.12,13. https://www.netwerk24.com/netwerk24/hierdie-boek-het-my-byna-doodgemaak-20190602
    45 "Boek oor Brink dalk omstrede - Wei uit oor 5 huwelike, baie affairs." Beeld, 14 Mei 2019, p. 7.
    46 "'Hierdie boek het my byna doodgemaak' ..." https://www.netwerk24.com/netwerk24/hierdie-boek-het-my-byna-doodgemaak-20190602
    47 "Brink se vrou wou boek stop - 'Ons het dele uitgehaal om hom teen homself te beskerm.' - Sy gee André se seks-dagboeke, maar toe breek biograaf die 'legende' af." Rapport, 26 Mei 2019, p. 3. https://www.netwerk24.com/netwerk24/brink-se-vrou-wou-boek-stop-20190525
    48 "Brink se vrou wou boek stop ..." https://www.netwerk24.com/netwerk24/brink-se-vrou-wou-boek-stop-20190525
    49 "'Hierdie boek het my byna doodgemaak' ..." https://www.netwerk24.com/netwerk24/hierdie-boek-het-my-byna-doodgemaak-20190602
    50 "Boek oor Brink dalk omstrede - Wei uit oor 5 huwelike, baie affairs." Beeld, 14 Mei 2019, p. 7.
    51 "'Sy wás 'n klein maagd' - bespiegelings oor sekspeste, genieë en André P. Brink se spel van liefde." Vrye Weekblad, 24 Mei 2019, aanlyn.
    52 "'Hierdie boek het my byna doodgemaak' ..." https://www.netwerk24.com/netwerk24/hierdie-boek-het-my-byna-doodgemaak-20190602
    53 "Brink se vrou wou boek stop ..." https://www.netwerk24.com/netwerk24/brink-se-vrou-wou-boek-stop-20190525.
    54 "'Sy wás 'n klein maagd' - bespiegelings oor sekspeste, genieë en André P. Brink se spel van liefde." Vrye Weekblad, 24 Mei 2019, aanlyn. Die bekende anti-apartheidskoerant het na 'n lang onderbreking in 2019, die jaar waarin hierdie kommentaar verskyn het, 'n terugkeer gemaak as 'n aanlyn publikasie. Met die nuus in 2025 dat die blad permanent sluit, het toegang tot Vrye Weekblad se argief skynbaar ook verdwyn.
    55 "Brink kry ná 50j. 'n nuwe uitgewer." Beeld. 19 Apr. 2013, p. 3.
    56 Die volgende werk is 'n goeie wegspringplek om 'n idee te kry van die benadering: Chamber-layne, Prue, Joanna Bornat, & Tom Wengraf, reds. 2000. The Turn to Biographical Methods in Social Science : Comparative Issues and Examples. London: Routledge. https://search.ebscohost.com/direct.asp?db=sih&jid=13OQ&scope=site
    57 Vir 'n wegspring kyk: John-Paul A Ghobrial, Introduction: Seeing the World like a Micro-historian, Past & Present, Volume 242, Issue Supplement_14, November 2019, Pages 1-22, https://doi.org/10.1093/pastj/gtz046
    58 Klik hier om meer te lees: https://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/kies-n-boek-andre-p-brink.