SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 número3Translation difficulties posed by the Deuterocanonical Books: Jesus Ben Sira as a case studyThe third Afrikaans church Bible: Processes and practices of a direct translation índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Revista

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versión On-line ISSN 2224-7912versión impresa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 no.3 Pretoria sep. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n3a9 

    LITERARY BIOGRAPHIES

     

    Oor biografie en kontroversie: Vooraf

     

    On biography and controversy: Preface

     

     

    Ronél Johl

    Emeritus professor, Skool vir Tale, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: csjohl@uj.ac.za

     

     

    Agtergrond

    Die idee vir 'n artikel oor die stand van die kritiek oor en rondom die biografie - meer spesifiek literêre biografieë in Afrikaans - het ruim vyf jaar gelede ontstaan na aanleiding van 'n klein relletjie rondom 'n studie oor JC Steyn se 1998-biografie van NP van Wyk Louw1 wat grotendeels agter die skerms afgespeel het. Meningsverskil het ontstaan na aanleiding van negatiewe uitsprake wat met 'n beroep op wetenskaplike teorieë in die studie gemaak is en Steyn se reg om daarop repliek te lewer in twee Louw-feesuitgawes waarby ek betrokke was. In 'n aanlyn gesprek gedurende grendeltyd in 2020 met die bekendstelling van een van die betrokke publikasies2 het ek by nabetragting tog 'n opmerking gemaak oor die oor-die-algemeen gebrekkige begronding van die diskoers oor die biografie, 'n toedrag van sake wat gereeld opgehaal word in publikasies wat die situasie probeer "regstel". Ek het ook "wat te sê gehad" oor die behoefte aan 'n toegewyde, gedissiplineerde bemoeienis met biografieë in Afrikaans-departemente. Een van my gespreksgenote3 tydens die bekendstelling, wat noue Nederlandse bande gehad het en deeglik ingelig was, was gou om my te wys op die werk oor die biografie wat lank reeds aan bepaalde Nederlandse instellings onderneem word.

    Daar was vir my twee waardevolle lesse uit die gesprek oor die aangeleentheid. Eerstens, dat Afrikaanse akademici (ten minste die ouer garde) Afrikaans en Nederlands steeds as behorende tot 'n enkele intellektuele "sfeer" beskou ten spyte van historiese gebeure in die 1970's en '80's wat 'n toe opkomende geslag Afrikaanse akademici in groot mate die geleentheid ontsê het om in Nederland te studeer, die stelselmatige ontkoppeling van die twee tale in Afrikaans-departemente en die toenemende uitfasering van Nederlands uit programme aan Suid-Afrikaanse instellings. Tweedens, dat ek veel te leer gehad het.

    In die voorwoorde tot die spesiale gedenkuitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe en in die bogenoemde Louw-publikasie het ek die hoop uitgespreek dat die studie oor Steyn se Louw-biografie aanleiding sou gee tot myns insiens noodsaaklike besinning en bespreking wat die akademiese gesprek oor literêre biografie en biografieë plaaslik meer algemeen op koers sou kry. Dit het nie gebeur nie en ek het - dalk oormoedig - besluit om self te probeer. 'n Eerste, voorlopige poging wat in 2022 vir kommentaar aan TGW voorgelê is, het in die teken gestaan van polemiek. Die voorgestelde titel was "Biografie en kontroversie in die 21ste-eeuse kritiek - tentatiewe opmerkings oor teorie". Die openingsin was 'n persoonlike waarneming: dat wanneer hulle beskou word as gebeurtenisse in die boekebedryf, literêre biografieë oor 'n besondere vermoë beskik, naamlik om in gedestabiliseerde omstandighede die totale netwerk van prosesse wat met die skryf, uitgee en ontvangs van 'n boek geaktiveer word onder die aandag van lesers te kan bring en te problematiseer, meer so as ander genres.

    Met die oog op agtergrond het ek gewys op die toe nog redelik vars in die geheue omstredenheid wat ontstaan het oor en rondom die biografieë van André P Brink (plaaslik) en Philip Roth (internasionaal), in 2019 en 2021 onderskeidelik. Dié kontroversies is natuurlik nie die enigste voorbeelde nie. Sedert die opkoms van 'n akademiese belangstelling in biografieë in die laat dekades van die twintigste eeu is daar al verskeie ander gevalle van omstredenheid gedokumenteer. Internasionale voorbeelde sluit biografieë in van Sylvia Plath en Ann Sexton wat onder andere danksy Joan Hambidge se bemoeienis met psigoanalitiese benaderings tot literatuurstudie deur die jare onder Afrikaanse navorsers en lesers se aandag gebring is. Plaaslik was daar onder andere ook omstredenheid wat in die media gerapporteer is oor en na aanleiding van die biografieë van CJ Langenhoven en NP van Wyk Louw, asook van Ingrid Jonker, Olga Kirsch en Sarah Goldblatt. Die kontroversies rondom die Brink- en Roth-biografieë het egter met die oog op 'n diskoers oor die akademisering van bemoeienis met die biografie en vir die doeleindes van hierdie projek geblyk 'n bruikbare vertrekpunt te wees.

    Die aanvanklike gedagte met "Biografie en kontroversie ..." was om net genoeg agtergrond te gee oor die soort kwessies wat omstredenheid in die spel bring sodat dit as aanknoping kon dien vir verdere bespreking oor die opkoms van 'n teoretiese belangstelling in biografieë in verskeie akademiese dissiplines wat daarby belang het. Die onderwerp was egter te omvangryk om in 'n enkele artikel te hanteer en het te veel voorafkennis by lesers veronderstel, soos voorlopige kommentaar op die konsepartikel ook laat blyk het: "1) Aan die een kant kom 'n mens weldeeglik onder die indruk van die ingewikkeldheid en wydlopendheid van enige poging tot 'n (teoretiese) besinning oor die aard en praktyk van (literêre) biografieë", maar "2) Aan die ander kant word daar miskien te veel veronderstel van die (hopelik ingeligte) leser". In die lig van dié kommentaar is die oorspronklike manuskrip uitgebrei tot vier opstelle - twee oor die "konteks" (die kontroversies rondom die Brink- en Roth-biografieë onderskei-delik) en twee waarin die teoretiese werk wat in die Afrikaans-Nederlandse akademiese konteks onderweg is onder die loep kom. Om 'n argument oor verskeie bydraes heen te ontwikkel, skep egter uiteraard bepaalde probleme. In dié geval het dit onder andere meegebring dat die kontroversies rondom spesifieke biografieë in eie reg aandag begin opeis as historíese gebeur-tenisse waaroor verkieslik tot gevolgtrekkings gekom moet word, hoe voorlopig ook al. In die tweede plek raak dit moeiliker om die teoretiese en die praktiese elemente van die argument te bestuur as (synde) interaktiewe fasette van 'n komplekse diskoers waarin mededingende teoretiese argumente histories (oor tyd) in verskillende dissiplines en domeine ontvou en as antwoorde op probleme in die praktyk aangebied word.

    'n Verdere probleem wat met die ontknoping van die argument ontstaan het, was die orde waarin die opstelle aangebied moet word. Die uitgebreide stukke wat die spesifieke kontroversies as vertrekpunt neem het eerste klaargekom, maar minstens een van die keurders wat dié stukke onder oë gehad het was glad nie oortuig dat hulle enige bydrae lewer nie; inteendeel. 'n Poging om die stukke oor die akademisering en teoretisering van literêre bio-grafieë eerste te plaas was egter eweneens onbevredigend. Hierdie "Vooraf" probeer om vir die leser 'n brug tussen die praktiese en teoretiese te bou deur die meningsverskille wat in die konkrete gevalle na vore gekom het by voorbaat meer eksplisiet te herlei na die teoretiese kwessies waarmee navorsers te kampe kry in dissiplines wat hulle daarvoor beywer om die beoefening en bestudering van die biografie op 'n wetenskaplike grondslag te plaas, en om terselfdertyd 'n duideliker beeld te probeer vorm van die uitdagings vir wie ook al hulle spesi-fiek met die literêre biografie in die 21ste eeu (wil) bemoei: biograwe, navorsers, kritici.

     

    By voorbaat (1): Die Brink-biografie: Omstredenheid en kritiek

    Brink was 'n prolifieke en veelsydige literêre skrywer wat by meer as een geleentheid genomineer is vir die Nobelprys vir Letterkunde. Hy was ook 'n akademikus en 'n openbare figuur wat sedert die vroeë sestigerjare die sosiale verbeelding aangegryp het met sy openlike uitdaging van Afrikanersedes en van die destydse apartheidsregering, sy verhouding met medeskrywer Ingrid Jonker en die huwelik met sy veel jonger laaste vrou. Die omstredenheid oor en rondom sy eerste biografie4 het verskeie kwessies onder die vergrootglas geplaas. Dié het gestrek van die beskikbaarstelling van Brink se persoonlike joernale vir 'n biografie betreklik gou (vir party kritici te gou) ná sy dood; die optrede van verskeie belanghebbendes in die onderhandelings met Brink se weduwee oor 'n biografie tot met die biograaf se aanvanklike verklaarde doel daarmee en die uiteindelike vorm wat die biografie aangeneem het; die bemarkingsklem op die blootlê (en "verduideliking") van die skrywer se sekslewe en indiskresies in die voorafbemarkingsveldtog van die uitgewer en in die mediadekking tydens en onmiddellik ná die amptelike bekendstelling van die biografie.

    Toe die ergste stof gaan lê het, was daar verdere vrae: oor watter soort biografie dié dan sou wees, wie regtens daarop aanspraak kan maak om hulle oor literêre biografieë uit te spreek en in watter domein so 'n gesprek tuishoort. In resensies oor die biografie was daar vrae oor die oormatige klem in die biografie op Brink se seksuele bedrywighede ten koste van ander aspekte van sy lewe en werk.

    In 'n bespreking van die biografie5 wat op LitNet as 'n "resensie-essay" in die resensie-rubriek verskyn het, maak Annemarié van Niekerk die punt dat in teenstelling met die indruk wat in die hoofstroommedia gewek is die werk 'n wetenskaplike biografie wil wees en dat bespreking/debat daaroor derhalwe in die akademiese domein behoort plaas te vind. Om dié aanspraak te ondersteun, het sy nege kriteria onderskei waaraan die biograaf moes voldoen - dinge wat hy moes "doen" om die teks te laat uitstyg bo 'n "chronologiese kompilasie" en dit te omvorm tot 'n wetenskaplike teks - en getoets. 'n Eerste stel kriteria het gestipuleer dat die biograaf soos enige wetenskaplike navorser 'n ondersoekvraag oor die onderwerp moet formuleer, sy/haar uitgangspunte oor die biografie as genre duidelik moet uiteensit en deurgaans "onberispelik" gedokumenteerde en kontroleerbare bronne moet gebruik. 'n Tweede stel kriteria het die manier benadruk waarop die biograaf met die voorhande inligting moes handel: hy/sy moet krities en "verantwoordelik" met die betroubaarheid van die bronne omgaan en duidelik onderskei tussen feite en fiksie, feite en interpretasies. 'n Verdere kriterium beklemtoon die stilistiese gesofistikeerdheid van literêre biografieë en nog een stipuleer dat die subjek in sy/haar tyd geplaas moet word sodat ideologiese aangeleenthede soos "politiek, gender, kuns, godsdiens" na die tafel gebring en invloede bepaal en beoordeel kan word. Die sentrale kriterium, egter, die "spil" waarom alles draai, is die strukturele ordening van die biografie: om die biografie finaal iets meer en anders te maak as 'n blote chronologiese narratief moes die biograaf 'n oorkoepelende ordeningsbeginsel daaraan oplê wat die chronologie oorstyg en 'n sekere ontwikkeling aantoon. Die gevolgtrekking waartoe die stuk na aanleiding van die toepassing van al die kriteria kom, is dat De Kock aan al die gestelde vereistes voldoen het om 'n wetenskaplike biografie te waarborg; by implikasie derhalwe ook dat Brink se biograaf nie die kritiek verdien het wat hy vir die biografie ontvang het nie.

    Aanvaar 'n leser die konsensus-opvatting dat tekste wat as resensies geplaas word oor die algemeen bedoel is om oor die "gehalte" - hoe dié ook al gedefinieer mag word - van 'n teks te oordeel, is die vraag wat ná die lees van die resensie-essay bly spook of Van Niekerk van oordeel was dat die biograaf se "wetenskaplike werkwyse" die bydrae van die besondere teks oorkoepelend verhoog het. Is 'n geslaagde wetenskaplike skrywersbiografie derhalwe sonder meer ook 'n goeie literêre biografie?

    Van Niekerk kondig teen die einde van die LitNet-bespreking egter onverwags aan dat die bespreking nié bedoel was as 'n resensie nie en dat daar derhalwe nie op die meriete as sodanig van die biografie ingegaan is nie. Wanneer in die lig van dié inligting teruggekyk word op hoe die argument ontvou het, raak dit opmerklik dat die stuk nie soseer 'n "neutrale" bespreking of "wetenskaplike studie" is nie, maar eerder 'n apologia of betoog ter verdediging van die biograaf en sy subjek, iets wat des te meer opval wanneer die stuk naas ander besprekings geplaas word:

    In nog 'n bespreking6 van die Brink-biografie, ook deur 'n vakkundige, maar dié keer in 'n vrouetydskrif, blyk 'n ander perspektief. Willie Burger betrek in sy resensie sommige van dieselfde kriteria as hier bo, maar formuleer hulle met die oog op lesers wat nie vakkundig onderlê is nie. Sy gevolgtrekking dat die Brink-biografie nié die "groot insiggewende biografie" is wat die biograaf homself ten doel gestel het om te lewer en die skrywer verdién het nie. Burger maak die punt dat die biografie juis om strukturele redes misluk het, omdat die patrone wat die biograaf in Brink se (verhoudings)-lewe en skryfwerk raakgesien en tot strukturerende beginsel vir die geheel verhef het - ten spyte van die aanvanklike pertinente insig wat dit verskaf - nie geskik is om die oorweldigende hoeveelheid beskikbare materiaal oor, rondom en deur Brink te dek en sinvol te orden nie. In stede daarvan om 'n omvattende begrip van en vir die kompleksiteit van die skrywer en sy werk in sy tyd te probeer bewerkstellig, het die biograaf gekies om op enkele elemente te fokus, veral op Brink se intieme verhoudings en seksuele ervarings en die invloed daarvan op sy skryfwerk (en omgekeerd). In die proses is aspekte van ewe veel en selfs méér belang vir 'n biografie wat "die definitiewe biografie" wil wees, weggelaat. In dié, verskraalde, konteks dien die strukturering om 'n verder-vereen-voudigde en (volgens die resensie) 'n tot vervelens toe herhaalde simplistiese (statiese) beeld van 'n komplekse en kontroversiële skrywer oor die gang van sy verskeie huwelike te skes.

    Die klaarblyklike punt is dat die wetenskaplike strukturering van die Brink-biografie nie die gehalte van die produk kon waarborg nie. Dit lyk trouens of daar inherent ook bepaalde "gevare" aan dié soort werkwyse verbonde is, waarvan (oor)vereenvoudiging een is: Soort-gelyke kritiek het ook die eerste akademiese (wetenskaplike) biografie van Philip Roth byvoorbeeld te beurt geval waarin Ira Nadel sy biografie gestruktureer het rondom die tema van Roth se lewensbepalende woede (rage) en angs.

    Lesers, veral vakkundiges, wat die besprekings rondom die Brink-biografie gevolg het, sou met reg kon wonder vir watter soort biografie die "wetenskaplike biografie" wat vroeg in die eeu in Nederland begin posvat het, as teenvoeter moes dien. In haar apologie verwys Van Niekerk na die biografie se slegte reputasie oor dekades heen en haal vakkundiges hieroor aan. Die biografie word beskryf as 'n "probleemgeval", 'n baster-genre wat vir almal wat daarby betrokke is "gevaar" inhou: die biograaf, subjek, leser, kritikus. Daar word nie ingegaan op presies wat dit is wat die biografie as genre so gevaarlik maak nie. Die oortuiging word wel uitgespreek dat die "reputasie van die biografie omgekeer (kan) word as daar groter duidelikheid kan ontstaan oor wat die vereistes vir 'n geslaagde literêre of wetenskaplike biografie is". Lesers van die stuk sou derhalwe verder ook kon wonder oor wie presies in dié besondere geval "groter duidelikheid" nodig gehad het. Dit was klaarblyklik nie Brink se biograaf nie, want dié het volgens die bespreking aan al die vereistes voldoen: dus waarskynlik die lesers en kritici.

    Waarmee teoreties geïnteresseerde lesers en kritici gelaat word, is 'n onderskeid tussen "wetenskaplike biografieë" vir die akademiese mark en "publieksbiografieë" (of ook "algemene biografieë") wat vir die "massamark" bedoel is. Markkragte (en meer pertinent: uitgewers se bemarkingstrategieë) speel derhalwe 'n belangrike rol in die kategorisering van verskillende soorte biografieë en het in die geval van die Brink-biografie bygedra om die boek in die openbare verbeelding te vestig as 'n sensasiesoekende publikasie, vir die breë mark bedoel eerder as 'n soliede akademiese werk vir vakkundig ingewydes.

    Van Niekerk erken dat die voorgenoemde onderskeid nie definitief is nie: biografieë in beide kategorieë kan op "wetenskaplike navorsing" gebaseer wees en "suksesvol" of geslaag wees. Die enigste beduidende onderskeid, word aangevoer, is dat die biograaf in die geval van algemene biografieë op 'n "vryer, losser interpreterende manier" met die materiaal omgaan, terwyl in die wetenskaplike biografie die biograaf 'n "akademiese benadering" volg. Só vaagweg geformuleer bring die onderskeid vir kritici wat individuele gevalle moet beoordeel nie duidelikheid oor die noodsaaklikheid of selfs net bruikbaarheid daarvan nie. Vakkundig beskou kom die betoog oor as 'n teorie op soek na 'n onderwerp of soos by die Renders-skool van denke by die Biografie Instituut aan die Universiteit van Groningen waarna in die apologie verwys word, as 'n akademiese dissipline op soek na 'n bestaansrede.

     

    By voorbaat (2): Die Roth-biografieë: Kritiek

    Die onderskeid tussen algemene en akademiese biografieë duik ook in ander kontroversies op, hoewel nie altyd op so 'n direkte manier as met die Brink-biografie nie. In die uiteenlopende kommentare ná die verskyning van Philip Roth se amptelike biografie7 wat uiteindelik 'n stroom vrae geword het oor omtrent elke faset van die kulturele gebeurtenis wat die publikasie simbolies verteenwoordig het, figureer die onderskeid feitlik terloops. 'n Moontlike rede is dat (literêre) teorie in Amerika in sommige oorde sedert die 1990's traksie begin verloor het en akademici wat hulle sedertdien met biografie bemoei en uitlaat daaroor merendeels praktiserende biograwe is en oor die algemeen meer belangstel in die praktyk as in die teorie van die biografie as genre. Die kruisstrome in die kulturele konteks waarin die biografie in die 21ste eeu in Amerika beoefen word en volgehoue eksperimentering met die vorm in uiteenlopende kontekste maak dit ook redelik onwaarskynlik dat 'n omvattende teorie binne die afsienbare toekoms geformuleer sal word. Nietemin voeg die uiteenlopende kommentaar oor die Roth-biografieë 'n verdere dimensie by 'n kwessie waaraan ek in die derde en vierde bydraes meer aandag gee, wat blyk 'n vakkundige stryd om die oorheersing van die terrein van biografie-studie(s) te wees.

    Kwessies wat na vore gekom het tydens die Roth-debat en aansluit by dié rondom die Brink-biografie behels kontroversies rondom opdraggewing vir, en daarmee saam rondom gemagtigde en niegemagtigde biografieë; die beskikbaarheid van en beheer oor toegang tot materiaal; die fyn balans tussen "(on)voldoende" kritiese afstand ten opsigte van die materiaal en empatie (of nie) vir die subjek; die onsekere onderskeid dikwels tussen feite, fiksie en interpretasies in die "werklike" lewe en in die biografie; strukturele aangeleenthede; die invloed van uitgewers en die media op die openbare mening oor biografieë; die bedoelde en werklike lesers van 'n biografie en hulle plek in die kulturele diskoers en, meer algemeen, die ontvangs of "resepsie" van biografieë in die sosiale en akademiese domeine. Verder ook vakkundige kwessies soos die onderskeid tussen of oorvleueling van kategorieë soos algemene -akademiese/wetenskaplike - literêre biografieë waaroor daar nie duidelikheid is nie.

    Hierdie kwessies, soos dié rondom die Brink-biografie ook, laat hulle geredelik aan die hand van (Roman) Jakobson se bekende sespunt-kommunikasiemodel sistematiseer: in probleme wat hulle oorsprong het aan die senderkant (die kompleks wat gevorm word deur opdraggewer, biograaf en uitgewer); dié wat met die teks en onderliggende kodes verband hou; dié wat skakel met die konteks(te) waarbinne die teks funksioneer; dié wat met die bemiddeling van die teks tussen sender en ontvanger te maak het (die sogenaamde kanaal waarlangs die boodskap gestuur word); en dié wat aan die ontvangskant ontstaan. In die praktyk is die werking van die model komplekser as wat statiese voorstellings dikwels laat blyk. Die oorspronklike model is dan ook sedert Jakobson - en sy inspirasie Karl Bühler - se werk oor die jare uitgebrei, herhaaldelik verfyn en omvorm om die werking van tekste in uiteenlopende, komplekse kommunikasienetwerke beter te help verduidelik. Een van die basiese lesse wat navorsers egter by Jakobson en sy opvolgers sou geleer het, is dat in die praktyk tekste (dus biografieë ook, én teoretiese besprekings daaroor) nie as losstaande entiteite funksioneer nie en dat verduidelikings wat dié feit uit die oog verloor by voorbaat gevaar loop om die waarde van tekste binne die wyer kulturele diskoers te verskraal, iets wat lesers ook met die lees van die stukke in hierdie projek in gedagte kan hou.

    Die aanleiding vir die omstredenheid van die Roth-biografie(ë) was 'n reeks voorvalle waarby Roth se amptelike biograaf betrokke was en wat aanvanklik op die oog af niks met die biografieë self te doen gehad het nie - opvallend baie soos dit die geval met die omstredenheid rondom die Brink-biografie was. Soos dikwels ook die geval is by kontroversies rondom biografieë sedert Freud se psigoanalitiese teorieë die twintigste eeuse sosiale verbeelding begin aanvuur het, was seksuele (wan)gedrag in die lewe en werk van beide die biograaf en sy onderwerp die spreekwoordelike vuurhoutjie by die lont. Berigte oor aanklagte teen die biograaf weens seksuele voorbereiding van jong skoolmeisies in sy sorg toe hy 'n onderwyser was en die verkragting later van een van hulle en van 'n kollega in die uitgewersbedryf het saamgeval met die bekendstelling van die biografie in die media en het binne weke vir die uitgewer en die eksekuteurs van Roth se nalatenskap in 'n probleem ontwikkel wat nie geïgnoreer kon word nie. Die uitgewer se reaksie (onder druk) was om die biografie aan die mark te onttrek en die kontrak met die biograaf op te skort, terwyl die eksekuteurs 'n tyd lank oënskynlik hulpeloos moes toekyk hoedat 'n geleentheid wat bedoel was om Roth se reputasie en statuur spoedig ná sy dood formeel te konsolideer, oorskadu word deur die skandaal rondom die biograaf. Dit was immers die verskyning van 'n amptelike biografie van 'n skrywer wat ten spyte van die omstredenheid van sy lewe en sy werk én te midde van toenemende kulturele bevraagtekening van die blote idee van groot skrywers, groot romans en 'n groot letterkunde in sommige kringe vereer is as "die laaste groot" Amerikaanse romanskrywer. 'n Skrywer wat skouers geskuur het met presidente en groot name in die rolprent-, teater- en literêre wêreld - 'n celebrity, 'n ster. En 'n geleentheid wat die boek in die openbare verbeelding moes vestig as die enigste deur Roth self gemagtigde biografie. In direkte kompetisie met die tweede, wat ironies genoeg, vier weke voor die amptelike biografie byna onopgemerk by 'n akademiese uitgewer verskyn het; in dié geval 'n biografie8 wat Roth voor sy dood aktief probeer verhinder het deur regsdreigemente, die weerhouding van dokumente en die weiering van toestemming aan die biograaf om uit sy werk te mag aanhaal. Stappe wat uiteindelik 'n wesenlike impak gehad het op die struktuur van die uiteindelike biografie, soos akademiese besprekings daarvan toon.

    Aanvanklik het dit gelyk of die eksekuteurs maar vir lief geneem het daarmee dat die biograaf die skandaal kaap en met hulle implisiete goedkeuring die Roth-biografie laat verskyn het by 'n uitgewery wat reeds 'n reputasie opgebou het vir die uitgee van "bedenklike" boeke wat die norme van die Amerikaanse samelewing uitdaag. En op die koop toe 'n wyd aangekondigde kontrak met die uitgewer sluit om 'n memoir oor die skandaal te publiseer waarin hy volgens die reklame-materiaal verskeie "affiniteite" tussen hom en die onderwerp van sy biografie sou aantoon, 'n "bekentenis" wat onverwags aansluit by 'n waarneming deur een van die resensente9 van die Brink-biografie oor die waarskynlike affiniteite tussen Brink en sy biograaf en gewig verleen aan haar voorstel aan navorsers om 'n psigoanalitiese ondersoek daaroor te onderneem. Toe die eksekuteurs van die Roth-nalatenskap wel tot aksie oorgaan, was dit beslis. Die private Roth-argief is agter slot en grendel geplaas en ingevolge 'n vroeëre stipulasie van Roth sou sekere van die persoonlike dokumente waartoe die biograaf eksklusiewe toegang gehad het en wat prominent in die biografie figureer, vernietig word. Wat onder andere sou meebring dat Roth-navorsers en toekomstige biograwe nooit die geleentheid sal kry om die feitelikheid van die amptelike biografie te kontroleer nie en die amptelike biografie de facto "die definitiewe biografie" sal bly. Die ooreenkomste met die nagevolge van die kontroversie rondom die Brink-biografie is ook hier ooglopend. In die lig van die behandeling van Brink se weduwee deur die biograaf en die uitgewer en ernstige besware deur kritici oor die beskikbaarstelling van die joernale aan die biograaf is daar 'n kans dat die materiaal wat die basis van die biografie gevorm het nie weer - of minstens nie gou weer - aan voornemende navorsers beskikbaar gestel sal word nie.

    Steeds aan die produksiekant van die kommunikasieketting, het daar ook ander bewyse aan die lig gekom van die uiterstes waartoe Roth gegaan het om nie net sy biograaf self aan te wys nie, maar ook om die soort beeld wat sy gemagtigde biografie van hom sou voorhou, te beheer. En Roth het nie 'n droë akademiese biografie in die oog gehad waarin sy lewe en werk krities afstandelik op mekaar afgestem word nie, maar een wat hom "warts and all" in al sy "interessante" kompleksiteit sou toon; een wat nie sou wegskram van die walglike (repellent) nie, maar een wat sy "kant van die saak" sou stel. Wat op die oog af kontra-intuïtief oorkom, maar te midde van die Amerikaanse biografiese eksperimenteerlus rondom die millenniumwending, en sedertdien, boeiende moontlikhede vir die eweneens eksperimenteerlustige skrywer sou oopmaak waarvan sy biograaf dalk onbewus was (meer hieroor verder aan).

    Die resepsie/ontvangs van die Roth-biografieë regverdig 'n afsonderlike studie. Opnames toon 'n uiteenlopende belangstelling in die twee biografieë ten spyte daarvan dat die akademiese biografie nie as sodanig bemark word nie en voornemende lesers hulle hoofsaaklik deur die posisionering van die uitgewer, Oxford University Press, moet laat lei. Om 'n beter begrip te kry van waar die swaartepunt van die biografiese diskoers oor celeèr/'ty-skrywerfigure soos Roth en Brink en ander skrywers lê en wat die kulturele invloed van die akademiese diskoers oor literêre biografieë in die 21ste eeu is, moet navorsers eerstens 'n beeld probeer vorm van wie die werklike lesers van dié soort biografieë is, hoeveel boeke in die voorskryfmark verkoop word en hoeveel aankope byvoorbeeld deur biblioteke is. Daarvoor is betreklik akkurate verkoopsyfers nodig; navorsing in die verband word egter tans nog deur peperduur NielsenBookData-subskripsies aan bande gelê. 'n Opname by Amazon en Goodreads se webtuistes vroeg in 2025 toon egter wel dat sedert die verskyning van die twee werke in 2021 47 lesers een of ander rangordening aan die akademiese biografie toegeken het teenoor 1 788 graderings van die gemagtigde "algemene" biografie. Die laasgenoemde is eweneens nie watwonders nie, veral wanneer die verkoopsyfers van die biografieë van sommige ander sogenaamde glans- en kultusfigure10 in aanmerking geneem word. Die 2020-biografie11 (die negentiende of twintigste tot dusver, afhangende van kriteria) van Sylvia Plath, wat sedert haar dood in 1963 'n kultusfiguur geword het, het intussen 4 107 graderings en 840 resensies op Goodreads gelok plus 1 082 graderings op Amazon. Die graderings van die Brink-biografie teen vroeg 2025 was 'n somtotaal van 40.

    Die Literary Hub-platform lys en verskaf skakels na 37 resensies van die "algemene" Roth-biografie in die hoofstroommedia en in ander publikasies wat aan die bespreking van nuwe boeke toegewy word. Dié besprekings, wat meestal vóór die amptelike publikasiedatum (en vóór die skandaal) verskyn het as deel van die uitgewer se vooraf bemarkingsveldtog, wissel van positief tot entoesiasties. Tog was daar selfs voordat die aanklagte teen die biograaf in die media verskyn het ook resensente wat vrae gehad het: byvoorbeeld oor die manier waarop Bailey hom in Roth se lewensverhaal ingeskryf het, sy gebrek aan kritiese afstand van sy onderwerp, die grotendeels eensydige aanbieding van Roth se twiste met sy voormalige vroue en sy oormatige klem op die skrywer se sekslewe en huwelike; daarteenoor, die betreklik min aandag wat aan Roth se oeuvre bestee word.

    Daar was min algemene bespreking in die hoofstroommedia oor Nadel se akademiese Roth-biografie en die ontvangs daarvan was oor die algemeen louwarm, wat, soos hier bo blyk, strook met die algemene ontvangs deur lesers op elektroniese platforms. Vakkundige kritiek wat mettertyd in toegewyde (vak)tydskrifte soos Roth Studies begin verskyn het, toon die slaggate waarin biograwe met analitiese, wetenskaplike biografieë kan trap en ook hoedat kritici na presies dieselfde gegewens kan kyk en tot radikaal uiteenlopende gevolgtrekkings kom. Een kritikus het byvoorbeeld lof gehad vir die wyse waarop die biograaf die skrywer se lewe en werk uitvoerig op mekaar afstem en van die biografie 'n "waardevolle toekomstige naslaanbron" maak ('n "literêre biografie" in een van die gebruike van die termpaar). 'n Ander, daarteenoor, het die aanname in die biografie dat die skrywer se werk en lewe op 'n direkte manier in verband gebring kan word, as "onkrities" afgemaak en die biograaf gekritiseer as "toondoof vir Roth se ironiese werkwyse. Roth het oor jare aantoonbaar uit sy pad gegaan om sowel in die algemene omgang as in sy kreatiewe werk bepaalde indrukke of persepsies oor/van hom te bevorder, net om hulle daarna weer te destabiliseer. In die proses het hy 'n "outobiografiese" oeuvre tot stand gebring wat gekenmerk word deur 'n volgehoue eksperimentering met "outeurskap, waarheid, misleiding, toedigting, geheue, representasie en identiteit" en daarop gemik is om alle sekerheid of vastigheid vir die ontvangers van sy tekste te ondermyn.

    Die gevolg is dat sommige kritici Bailey se gemagtigde biografie, op grond van Roth se volgehoue inmenging en "manipulasie", as 'n voortsetting van die skrywer se eksperimentering sien; 'n strategie wat van Roth in ooreenstemming met die trajek van sy oeuvre die spook-skrywer (of minstens medeouteur) van sy eie biografie sou maak. Waarmee 'n ander gebruik van die termpaar "literêre biografie" geaktiveer word wat in 'n postmoderne konteks 'n spesifieke betekenistoepassing aanneem: dié van die biografie as ('n onstabiele) literêre teks. Dusdoende beweeg die navorser op die terrein van kontroversies wat met die teks en die kodes wat dit onderlê te make het, asook met die kontekstualiserende kanale waarlangs tekste tussen senders en ontvangers bemiddel word.

     

    By voorbaat (3): "Literêre biografie"

    Dit mag die moeite werd wees om hier vooraf te let op 'n paar maniere waarop die termpaar "literêre biografie" in die literêre diskoers gebruik word, omdat meer duidelikheid hieroor in die teoretiese stukke wat in die vooruitsig gestel is kan help om die akademiese vyandigheid uit sekere oorde oor die omgang met biografie in 'n literêre konteks beter te begryp.

    "Literêre biografie" akkommodeer verskeie betekenistoepassings; ek wys op drie wat pertinent vir die huidige doeleindes ter sake is:

    1) Die termpaar word onder andere gereeld gebruik om losweg te verwys na wat JC Kannemeyer verkies het om eerder "skrywersbiografieë" te noem: algemene biografieë van digters, dramaturge en prosaskrywers wat 'n bepaalde statuur in die literêre kanon en/of 'n vergelykbare status in die openbare lewe verwerf het wat 'n sistematiese oorsig oor die verloop van so 'n skrywer se persoonlike en openbare lewe sou regverdig. Sulke biografieë was op 'n tyd baie hagiografies van aard - 'n viering van die prestasies van die gebiografiseerde onderwerp. Die opkoms van die psigoanalise en die invloedryke voorbeelde van Freud en die Britse biograaf Lytton Strachey het die aandag van literêre biograwe in die twintigste eeu egter toenemend laat verskuif na persoonlike aspekte van die skrywer se lewe wat voorheen as taboe beskou is. Voorbeelde in Afrikaans sluit in Leon Rousseau se biografie van Eugène Marais waarin aandag gewy word aan Marais se morfienverslawing, JC Kannemeyer se biografie van CJ Langenhoven wat onder meer ook die skrywer se drankverslawing beskryf, JC Steyn se Van Wyk Louw-biografie wat Louw se buite-egtelike verhouding met die digter Sheila Cussons betrek en die genoemde Brink-biografie van De Kock met sy swaar klem op die skrywer se sekslewe wat kritiek uitgelok het.

    Spesifieke gebruiksvoorbeelde laat blyk dat daar onderliggend aan die bogenoemde toepassing van die termpaar dikwels 'n kulturele standaard veronderstel is/word wat bepaal dat hoë of groot letterkunde die hoogtepunt van 'n kultuur is waarin literêre skrywers die topposisie beklee. "Literêre biografieë" in dié konteks sluit weliswaar dikwels ook biografieë in van ander kreatiewe verteenwoordigers van die kulturele groep, byvoorbeeld musici, kunstenaars, argitekte, hoewel in mindere posisies, soos wanneer Kannemeyer se biografie van sy vriend, die argitek Hannes Meiring, ook vermeld word wanneer sy literêre biografieë ter sprake kom. Dié, meestal onuitgesproke, kulturele vooroordeel bring ook mee dat besprekings oor "die literêre biografie" dikwels sonder verduideliking 'n diskoers word oor "die biografie" sonder meer, waar die (meestal ongedefinieerde) "literêre biografie" diens doen as prototipe van die genre in die geheel.

    Van die kritiek wat Steyn se "lewensverhaal" van Louw uitgelok het dui egter op 'n tweede gebruik van die termpaar. Te midde van groot lof wat die biografie toegeswaai is, was daar ook kritiek oor die (te) min aandag in die "verhaal" aan Louw se digkuns, wat insiggewend is wanneer dit saamgelees word met die kritiek op wat kritici ervaar het as Steyn se afskeep van die verhouding tussen Louw en Cussons in weerwil van die bewese kreatiewe neerslag van dié verhouding in die werk van albei digters. 2) Die tweede gebruik van die termpaar dui naamlik op 'n klemverskuiwing in verwagtinge van wat literêre biografieë is en doen. In dié betekenistoepassing verwys die termpaar na biografieë waarin die biograaf 'n vakkundig onderlegde lesersgroep in die oog het en die klem laat val op die kreatiewe prestasie van die skrywer binne die raamwerk van sy lewensverloop en die tyd waarin hy geleef het en aktief was, en veral die maniere waarop dié fasette mekaar onderling beïnvloed of weerspieël, op die manier wat Nadel (hier bo) probeer doen het.

    Opvallend was voorbeelde van literêre biografieë binne dié "kategorie" tot min of meer die laaste dekade van die vorige eeu merendeels biografieë deur "manlike biograwe" oor "manlike skrywers". Ook hierdie gebruik veronderstel derhalwe 'n meestal onuitgesproke vooroordeel, soos wanneer die relatief min literêre biografieë oor vroueskrywers byvoorbeeld ter sprake kom. Vrae oor die onderverteenwoordiging van vroue in die literêre kanon word dikwels met teenvrae beantwoord. In die Amerikaanse hoofstroommedia was daar in 2013 byvoorbeeld nog die vraag oor waar die groot Amerikaanse roman deur 'n vroueskrywer dan is? Die vooroordeel resoneer ook in Afrikaanse kritici se "verbasing" oor die aantal biografieë en biografiese studies wat al oor Ingrid Jonker verskyn het sedert haar dood in 1963, terwyl (manlike) literatore haar meestal as 'n "mindere figuur" in die Afrikaanse letterkunde waardeer (het); of in die oordeel oor Elisabeth Eybers, wat lank bloot as "'n aanvullende figuur" in die vroeë Afrikaanse kanon gereken is; of in Olga Kirsch se geval, oor wie se biografie daar in 2018 ook polemiek was, en wat op die koop toe as 'n figuur "buite" die Afrikaanse hoofstroom-kultuur geposisioneer word. Dit resoneer ook in die verwondering oor die steeds groeiende biografie-"industrie" rondom Sylvia Plath, wie se literêre statuur grootliks eers ná haar dood (en danksy haar destyds vervreemde eggenoot, Ted Hughes) gevestig is. Dieselfde vooroordeel "verklaar" deels dalk ook die feit dat daar nog nie 'n literêre biografie oor Cussons verskyn het nie.

    Dit is dikwels hierdie "sub-kategorie" van die literêre biografie wat op die spel is wanneer die akademisering van die beoefening en bestudering van die biografie ter sprake kom en "teorie" bygehaal word om 'n verbandlegging tussen 'n skrywer se lewe en sy literêre oeuvre te regverdig. Nadel se Roth-biografie en die kritiese reaksies daarop gee 'n aanduiding van die problematiese aard van dié gebruik. Sommige kritiese besprekings maak byvoorbeeld die punt dat Nadel ten spyte daarvan dat hy dit as doelwit vir homself gestel het en ten spyte van sy nougesette afstemming van die lewe en die werk van Roth nie 'n oortuigende "psigobio-grafie" tot stand kon bring nie. Omdat hy op die openbare rekord moes steun vir materiaal vir die biografie en 'n oorvloed fyn besonderhede as bewyse moes aanbied, was die mening onder kritici dat die resultaat eerder 'n "sosiobiografie" is wat die subjek en sy oeuvre in 'n reeks sosiale kringe inbind as wat dit insig in Roth die uitsonderlike man en sy werk bied.

    3) Nog 'n gebruik van die termpaar wat aandag verdien, plaas die "literariserende" aspek van biografieë - (veral) in reaksie op die postmodernisme - op die voorgrond. Hiermee word bedoel die inspan van strategieë wat tradisioneel gebruik sou word om die status van 'n teks binne die literêre domein (as fiksie) te sinjaleer, soos wanneer Kannemeyer, Langenhoven se biograaf, in 'n andersins konvensionele biografie12 'n raamvertellingstegniek inspan om die biografie te help orden of wanneer die biograaf van Sarah Goldblatt - laasgenoemde eksekuteur en intieme vertroueling van Langenhoven - na aanleiding van die enigma van die twee se verhouding haar biografie13 as 'n speurverhaal struktureer. Bailey se Roth-biografie is 'n komplekser en meer ambivalente geval soos ek probeer aantoon. 'n Meer ekstreme Afrikaanse voorbeeld van 'n biografie wat die poreuse grense tussen feite, interpretasie en fiksie uitdaag en literêr kompliseer, is Stephanus Muller (2014) se biografie14 van die modernistiese komponis Arnold van Wyk, Nagmusiek, wat belangrike pryse vir beide fiksie en niefiksie verower het.

    Die gebruik van die termpaar resoneer, soos in die voorbeeld van Kannemeyer se Langenhoven-biografie (hier onder), meer algemeen in konvensionele akademiese beskouings wat op die biografie as 'n narratiewe literêre aktiwiteit fokus. Dit is opvattings wat die klem laat val op die narratiewe sintese van die lewe-en-werk in biografieë in teenstelling tot biografieë wat volstaan met 'n beredeneerde (rasionele) uiteensetting van die analitiese of tematiese geledinge van die lewe en die werk. Hiermee, voorlopig, enkele voorbeelde van die tipe komplikasies waartoe 'n "losse" gebruik van die termpaar aanleiding kan gee: (a) So byvoor-beeld het sommige resensente, ten spyte van Kannemeyer se aandrang daarop dat biograwe nie literêre kunstenaars (romanskrywers) is nie (en by implikasie dat biografieë nie as/soos romans hanteer behoort te word nie), sy Langenhoven-biografie aangeprys juis omdat dit "soos 'n roman" lees (met ander woorde soos 'n roman gestruktureer is), terwyl ander die volgehoue litanie van besonderhede in die biografie opgemerk en gekritiseer het. b) In die genoemde studie van die Van Wyk Louw-biografie gebruik Van Coller (2020) ook, onder andere, die idee van die biografie "as roman", as literêre teks, as teoretiese grondslag om die gebreke uit te wys van wat Steyn persoonlik as 'n ongekunstelde feitelike narratief, "verhaal" of "kroniek", van Louw aangebied het. c) En in 'n bespreking van Bailey se gemagtigde Roth-biografie in The New York Times prys Cynthia Ozick Philip Roth. The biography (anachronisties) aan as "'n narratiewe meesterstuk" in die 19de eeuse realistiese tradisie van Dostojefski:

    19th-century novel lives on. Its name today is Biography; its nature is that of Dostoyevskian magnitude. And Blake Bailey's comprehensive life of Philip Roth - to tell it outright - is a narrative masterwork both of wholeness and particularity, of crises wedded to character, of character erupting into insight, insight into desire, and desire into destiny. Roth was never to be a mute inglorious Milton. To imagine him without fame is to strip him bare.15

     

    Vorentoe

    Wanneer die ontvouende akademiese diskoers oor die (literêre) biografie in die Afrikaanse en Nederlandse konteks(te) teen dié agtergrond beskou word, word dit duidelik dat in bepaalde kontekste spesifieke gebruiksmoontlikhede van die termpaar strategies geaktiveer word om die "literêre biografie" af te speel teen die teoreties begeleide of wetenskaplike biografie waarvan die Groningense Biografie Instituut onder andere 'n voorstander is. In die debat, waarop in die derde en vierde opstelle teruggekom word, word die "literêre biografie" dissiplinêr strategies geposisioneer om in te staan vir alles wat (sommiges in) die akademiese gemeenskap meen "gevaarlik" is omtrent die biografie as genre en die rede waarom dit in 'n akademiese konteks "gereguleer" behoort te word.

    Biograwe reflekteer eeue al oor die biografie: oor die uitdagings van die genre en oor hulle werkwyses. Hulle beskouings en veralgemenings reflekteer merendeels eie praktyke, by tye "in gesprek" met ander, maar vorm 'n lang, ryk tradisie wat met vrug bestudeer kan word. Akademiese navorsers het eers regtig in onlangse dekades sistematies begin kennis neem. Die opkoms van 'n toegewyde akademiese belangstelling in die biografie dateer soos reeds gemeld drie, vier dekades terug. Die toedrag van sake laat verskeie vrae in die midde. Byvoorbeeld: waarom juis 'n "wetenskaplike" benadering, waarom juis nou op dié tydstip? Waarom is die literêre biografie só 'n probleem vir sommige wetenskaplikes? En: het die wetenskaplike diskoers daaroor (al) die antwoorde? Hierdie is van die vrae wat ek veral in die twee "teoretiese" bydraes aan die orde stel en binne 'n historíese raamwerk probeer posisioneer. Eers, egter, vra ek die vraag: wat kan kontroversies oor en na aanleiding van literêre biografieë ons meer algemeen leer?

     

     

    Ontvang: 2025-05-20
    Goedgekeur: 2025-07-23
    Gepubliseer: September 2025

     

     

     

    Ronél Johl is emeritus professor aan die Universiteit van Johannesburg. Sy het die graad DLitt et Phil aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf met 'n proefskrif getitel "Literêre evaluering en die huidige stand van die Afrikaanse literêre kritiek: 'n ondersoek na aspekte van die literêre kritiek van die sestiger- en sewentigerjare", wat gepubliseer is as Kritiek in krisis.
    Sy was sedert 1988 in verskeie bestuursposte verbonde aan dié universiteit (sedert 2005 die Universiteit van Johannesburg).
    Verskeie magister- en doktorale studies oor vertaling, oorklanking, en tweedetaal- en letter-kundeonderrig is onder haar leiding voltooi. Deur die jare was sy ook as redakteur, mederedakteur en medewerker betrokke by verskeie tydskrifte, spesiale uitgawes en publikasies. In 2020 was sy gasredakteur van 'n spesiale uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe by geleentheid van die vyftigste herdenking van die sterfjaar van NP van Wyk Louw. Sy is ook die redakteur van 'n Huldiging: NP van Wyk Louw: Silwer herberg in die Sneeu (2020).
    Haar eie publikasies handel oor aspekte van en begrippe binne die literêre kritiek en teorie, kritiese denke en geletterdheid, taalopvattings en mimesis (ikonisiteit).
    Ronél Johl is professor emerita at the University of Johannesburg. She completed a DLitt et Phil degree at the Rand Afrikaans University with a thesis on aspects of literary evaluation in Afrikaans literary criticism in SA during the politically volatile 1970s, which was published as Kritiek in krisis ("Criticism in Crisis").
    She was attached to the Rand Afrikaans University (later the University of Johannesburg) in various managerial capacities from 1988 to 2017.
    Several master's and doctoral studies in the fields of translation, dubbing, and second language and literature teaching have been completed under her supervision. She also acted as editor or co-editor for and contributed to a number of journals, special issues and other publications throughout the years. In 2020 she acted as guest editor for a special edition of Tydskrifvir Geesteswetenskappe commemorating the 50th year of the passing of NP van Wyk Louw. She is also editor of 'n Huldiging: NP van Wyk Louw: Silwer herberg in die Sneeu (2020).
    Her own publications focus on aspects of and concepts in literary theory and criticism, critical thinking and literacies, language theory and mimesis (iconicity).
    1 Van Coller, HP. 2020. Voorstellings en posisionerings in Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal deur J.C. Steyn. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2):413-433.
    2 Johl, Ronèl (red.). 2020. 'n Huldiging: NP van Wyk Louw: Silwer herberg in die Sneeu. Suid-Afrika: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
    3 Jacques van der Elst.
    4 In Engels: De Kock, Leon. 2019. The Love Song ofAndré P. Brink: A Biography. Jeppestown: Jonathan Ball. https://search.ebscohost.com/login.aspx?direct=true&scope=site&db=nlebk&db=nlabk&AN=2136210. In Afrikaans: De Kock, Leon. 2019. André P. Brink en die spel van liefde. Johannesburg: Jonathan Ball Uitgewers.
    5 Van Niekerk, Annemarié. 2019. Leon de Kock se André P Brink en die spel van liefde: 'n LitNet Akademies-resensie-essay. https://www.litnet.co.za/leon-de-kock-se-andre-p-brink-en-die-spel-van-liefde-n-litnet-akademies-resensie-essay/
    6 Burger, Willie. 2019. Willie Burger kyk na Leon de Kock se biografie van André P Brink. In: Vrouekeur, 22 Junie 2019. https://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/kies-n-boek-andre-p-brink
    7 Bailey, Blake. 2021. Philip Roth: The Biography. New York: WW Norton.
    8 Nadel, Ira. 2021. Philip Roth: A Counterlife. Oxford University Press.
    9 Hambidge, Joan. 2019. Openhartig, ongehoord en totaal onverbloemd. Beeld, 20 Mei 2019, p. 9. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/openhartig-ongehoord-en-totaal-onverbloemd-20190519?fbclid=IwAR3dNsmCZqzi2e7-swu4NJnm4_AfiVscq1Un1OlAHAefmTgAY0Pf3qE_9BU
    10 Byvoorbeeld dié van twee lede van die Britse koninklike familie: dié van die destydse prinses van Wallis, Diana, waarna JC Kannemeyer in 'n voordrag verwys het oor probleme wat die ontwikkeling van die literêre biografie in Afrikaans aan bande gelê het en Spare, die biografie-cum-memoir van die prinses se jongste seun, wat tans die status beklee as "die vinnigsverkopende biografie in die geskiedenis".
    11 Clark, Heather L. 2020. Red Comet: The Short Life and Blazing Art of Sylvia Plath. New York: Alfred A. Knopf.
    12 Kannemeyer, John Christoffel. 1995. Langenhoven,'n Lewe. Kaapstad: Tafelberg.
    13 In Afrikaans: Malherbe, Dominique. 2021. Op Soek na Saartjie: Langenhoven se Geheime Liefde. Kaapstad: Tafelberg. https://search.ebscohost.com/login.aspx?direct=true&scope=site&db=nlebk&db=nlabk&AN=2905953- In Engels: Malherbe, Dominique. 2021. SearchingforSarah: The Woman Who Loved Langenhoven. Cape Town: Tafelberg.
    14 Muller, Stephanus (en Arnold Van Wyk). 2014. Nagmusiek. Johannesburg: Fourthwall Books.
    15 Ozick, Cynthia. 2021. His life as A man. New York Times Book Review, 11 April 2021. https://www.proquest.com/magazines/his-life-as-man/docview/2510531759/se-2 (toegang bevestig op 17 Julie 2025).