Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a19
TOELATINGSARTIKELS
Wat sê die Grondwet nou eintlik? Aantekeninge oor grondwetlike taalregte en die beperkinge daarop
What does the Constitution actually say? Notes on constitutional language rights and their limitations
Terrence R Carney
Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: carnetr@unisa.ac.za
OPSOMMING
Om goeie burgers te wees, moet Suid-Afrikaners weet en verstaan wat die Grondwet sê. Konstitusionele geletterdheid is van kardinale belang vir sowel die vooruitbeweeg van demokrasie as die versekering dat die individu se basiese regte nie vertrap word nie. Dit is veral van toepassing op taalregte en in die besonder die reg om Afrikaans in amptelike ruimtes te mag gebruik. Hoewel die ontwikkeling en gebruik van Afrikaans die afgelope honderd jaar sowel gegroei het as gekniehalter is, bied die Grondwet nog steeds beregtiging. Ondanks die feit dat die amptelike status van Afrikaans inderwaarheid afgeneem het, beskerm die Grondwet sprekers met betrekking tot hul kulturele uitleef van Afrikaans, asook die reg om in Afrikaans onderrig te mag word. Noodsaakliker is Afrikaanssprekendes se verskanste reg om met die owerheid binne die regsisteem te mag kommunikeer, in Afrikaans. Om dié rede moet Afrikaanssprekendes 'n aktiewer rol speel by sowel die beskerming as die gebruik van Afrikaans as amptelike taal. En, juis daarom moet taalkundiges en taalnavorsers by die bestudering van taal (ook Afrikaans) binne die groter regskonteks betrokke raak.
Trefwoorde: Afrikaans; amptelike taal; grondwet; konstitusionele geletterdheid; konstitusionele taalregte
ABSTRACT
Many South Africans refer to concepts like "the law" and what is "legal" without really knowing what the law entails. This is especially true of the Constitution and specifically language rights. Do South Africans in general know what the Constitution says about language, and do speakers of Afrikaans in particular know how Afrikaans is protected? Constitutional literacy is a requirement of good citizenry and good citizenry implies knowledge and comprehension of the Constitution.
Since Afrikaans was elevated to official language status in 1925, South Africa has seen five different constitutions implemented. A clear shift is visible where Afrikaans became one of only two languages to serve as communication medium of the state. During this period, the duty to understand government fell to citizens. However, since the 1993 interim constitution, Afrikaans shared a more inclusive space with other languages and the duty to understand fell to government. Another visible shift is seen in both the progression and regression of Afrikaans as language of higher function. In the first 69 years as official language, Afrikaans grew in leaps and bounds but rapidly lost ground after 1994 in favour of English. Despite the fact that the new South African language dispensation has had a negative influence on the use and acceptance of Afrikaans in certain higher domains, the current Constitution still offers its speakers a number of fundamental rights through sections 6, 9, 29 and 35.
So, what does the Constitution actually say? Afrikaans is protected as one of the official languages of South Africa. Even though government and state departments are very lax in using languages apart from English, government still has a duty to communicate in Afrikaans, or welcome communication in Afrikaans directed at government, where practicable. The Constitution also protects Afrikaans as South African cultural heritage and prevents anyone from discriminating against speakers of Afrikaans based on language and cultural practice. In addition, speakers of Afrikaans have the right to receive education in the Afrikaans language, where this is practicable and fair. The Department of Education or educational institutions may not remove Afrikaans as language of tuition where there is a clear need and appreciation for Afrikaans and where implementation of an Afrikaans language policy does not prevent others from practising their constitutional rights. Lastly, anyone who finds themselves within reach of the long arm of the law is entitled to clear and understandable communication. This means that speakers may insist on speaking Afrikaans, either directly or through an interpreter, when they engage various authorities.
For speakers of Afrikaans to assert their constitutional language rights, they must improve their constitutional literacy on the one hand, and they must become active citizens in their democracy on the other. Ensuring that government fulfils their constitutional promise regarding Afrikaans, speakers must vigilantly police the state and hold it accountable where reasonable. That said, ordinary citizens are not the only ones with a responsibility. Linguists and language scholars can make valuable and necessary contributions as well. Linguists can assist by investigating the ways that speakers use language to communicate with government, and to monitor government's use and abuse of language. It is vital to understand how language functions and changes, and what limitations and challenges languages like Afrikaans experience within the much broader domain of the law. With a view of the next hundred years, there is a lot of work to be done.
Keywords: Afrikaans; constitution; constitutional literacy; constitutional language rights; official language
Inleiding
Die frase, "die wet", word in baie opsigte metonimies gebruik. Dit wil sê, sprekers gebruik die frase om sowel na gepromulgeerde wette as na die morele waardes van die staat (en by implikasie, die volk) te verwys. Konsepte soos "die wet oortree" en "wat die wet sê" reflekteer dikwels 'n vae idee van wat 'n land se wette inderwaarheid behels. Ons hoor gereeld iets is "teen die wet", of dat iets "wettig" is. Wat beteken dit werklik? Weet die gemiddelde Suid-Afrikaner wat sy/haar basiese regte is en wat die Grondwet behels? Weet mense wat hul taalregte is? Dalk, maar waarskynlik nie. Selfs die Konstitusionele Hof, by monde van regter Skweyiya, erken dat 'n groot aantal Suid-Afrikaners moontlik nie weet wat hul regte is nie (Kruger v President of the Republic of South Africa, par. 23).
'n Peiling deur die Stigting vir Menseregte het in 2018 bevind dat Suid-Afrikaners gelykheid voor die reg as 'n belangrike mensereg ag (Foundation of Human Rights, 2018:11). Volgens die peiling het ten minste die helfte van respondente (N = 24 897) van die Grondwet en/of die Handves van Menseregte gehoor (Foundation of Human Rights, 2018:12). Kommerwekkend is egter die Stigting se gewaarwording dat kennis van die Grondwet afneem namate armoede toeneem. Die peiling het ook gepoog om vas te stel tot watter mate respondente weet wat die Grondwet sê. Hoewel response taamlik wat ras- en ouderdomsgroepe betref, verskil het, is die algemene kennis omtrent die Grondwet besonder swak. Op grond van agt waar/onwaar-stellings het geen verteenwoordigende respondentegroep bo 45% gehaal nie, wat meer as ses korrekte antwoorde aangedui het (Foundation of Human Rights, 2018:16-17). Suid-Afrikaners is nie die enigstes wat beperkte kennis van hul grondwet het nie; die gemiddelde Amerikaner ken ook nie die basiese regte in húl belangrikste wet nie (Stevens, 2023).
Fombad (2018:495) argumenteer dat konstitusionele geletterdheid van kardinale belang is vir die vooruitbeweeg van moderne demokrasieë. De Visser en Jones (2024:30, 32-36) sluit hierby aan en voeg by dat kennis van 'n grondwet tot "goeie burgerskap" bydra. Sowel Fombad as De Visser en Jones beskryf "konstitusionele geletterdheid" as 'n bewustheid en basiese kennis van die belangrikste regte vervat in 'n grondwet, wat die algemene waardes en doelwitte insluit. Fombad (2018:495) dui ook aan dat 'n gebrek aan konstitusionele geletterdheid 'n bedreiging vir demokrasie in Afrika inhou, veral omdat gewone burgers nie weet op watter wyses hulle beskerm word nie en sodoende die weg baan vir die elite om die uitwerking van die Wet te manipuleer. Daarom moet ons ons afvra hoe geletterd die gemiddelde Afrikaans-sprekende is met betrekking tot sy/haar kennis van die huidige Grondwet en spesifiek elke Afrikaanssprekende se grondwetlike regte rakende Afrikaans. Terugkykend op die afgelope honderd jaar is dit 'n belangrike vraag om te stel. Meer nog omdat Suid-Afrika nie 'n nasionale taalwet het wat taalregte vestig, uitbrei en beskerm nie (Du Plessis, 2010). Hoe weet ons dus watter taalregte ons sedert 1925 gewen het? 'n Hersiening van die grondwetlike taalbepalings is 'n goeie begin.
Afrikaans en die Grondwet
Dit is welbekend dat die onderskeie Britse kolonies van Suid-Afrika deur middel van die Zuid-Afrika Wet tot 'n unie verklaar is. Die Zuid-Afrika Wet was die grondwet van die Unie van Suid-Afrika (hierna "Unie") en het by wyse van artikel 137 bepaal dat Engels en Hollands op gelyke voet die amptelike tale van die Unie sou wees. In 1925 word artikel 137 deur middel van die Wet op Officiële Talen van de Unie ten gunste van Afrikaans gewysig. Die bewoording van die taalwet is interessant, want dit het 'n tweeledige doel gehad:
• om enige bestaande verwarring met die betekenis van "Hollands" op te klaar, en
• Afrikaans by Hollands in te sluit.
Die bewoording is boeiend juis omdat daar klaarblyklik onsekerheid was omtrent die rol en teenwoordigheid van Hollands en Afrikaans, en wel in so 'n mate dat 'n wet ter verduideliking daarvan uitgevaardig moes word. Nóg 'n punt van belang is dat hoewel die gebruik van Afrikaans op amptelike vlak in die lewe geroep is, dit nie Nederlands op wetgewende wyse met Afrikaans vervang het nie. Die bewoording lei tot twee moontlike gevolgtrekkings: óf Suid-Afrika het as 't ware drie amptelike tale gehad, naamlik Afrikaans, Nederlands en Engels; óf Afrikaans en Nederlands is vir regsdoeleindes as een taal beskou. Waar die taalwet van 1925 Afrikaans by Nederlands ingesluit het, het artikel 119 van die 1961-grondwet die omgekeerde verklaar, naamlik dat Nederlands by Afrikaans ingesluit word. Wanneer die 1961-wet met die 1983-wet vergelyk word, is dit ooglopend dat die amptelike status en gebruiks-moontlikheid van Nederlands eers met die 1983-grondwet verdwyn het.
Sedert Afrikaans op 27 Mei 1925 as amptelike taal begin funksioneer het, was vyf grond-wette in werking. Die 1909-wet is deur die 1961-wet vervang, waarmee die Unie van Suid-Afrika na 'n republiek verander is. Daarna is die 1961-wet met die 1983-wet vervang, wat die magte van die staatspresident uitgebrei het en (beperkte) stemreg aan 'n groter segment van die Suid-Afrikaanse bevolking gegee het. Tien jaar later is die 1983-wet deur die 1993-wet herroep. Laasgenoemde funksioneer as 'n tussentydse grondwet totdat die huidige 1996-grondwet in werking getree het. Die 1993-wet reflekteer daarom baie van die bewoording en beginsels wat in die huidige Grondwet vervat is.
Elkeen van hierdie grondwette verwys op een of ander manier na taal. Meestal word die amptelike tale benoem en hul funksie as kommunikasiemedium van die staat word uitgestippel.1 As een van twee amptelike tale moes Afrikaans deur alle staatsorgane in elke provinsie gebesig word. Die gevolg daarvan op regsterrein was beduidend, want dit beteken dat alle staatsvorms, -kennisgewings, -waarskuwings, en -korrespondensies naas Engels in Afrikaans moes verskyn. Om te verseker dat burgers die taal van die staat verstaan, moes beide tale op skool onderrig word. Die staat se mandaat om te verseker dat almal Afrikaans en Engels magtig is, was daarom ook baie belangrik. Omdat die regering daarvoor gesorg het dat almal die twee tale van die staat kon verstaan en gebruik, was die implikasie dat 'n verskansing van taalregte in die grondwet onnodig was. Dit was byvoorbeeld onnodig om te verseker dat Suid-Afrikaners in 'n taal van hul keuse deur die polisie ondervra word of voor die regbank verskyn, want elkeen se Afrikaans en/of Engels moes voldoende gewees het om hom/haar op beide amptelike en nie-amptelike vlak te kon handhaaf. Of die gemiddelde Suid-Afrikaner se taalvaardigheid noukeurig genoeg was om altyd suksesvol met die staat te kan kommunikeer, is egter 'n ander vraag. Kyk gerus na die vroeë sake R v Silber, R v Koller, R v Grundlingh en R v Hugo.
Die eerste drie grondwette dwing burgers om die tale van die staat te praat. Daar is egter 'n duidelike verskuiwing in die 1993-grondwet, waar daar van die staat verwag word om die taal van burgers te praat. Dié verskuiwing is betekenisvol, want dit het verreikende gevolge. Dit impliseer dat taal en kommunikasie een van die staat se pligte teenoor burgers is. Daar is nóg 'n implikasie: dat die staat kennis neem van sowel standaard- as niestandaardvariëteite soos Gariepafrikaans of Sepitori, asook vereenvoudigde taal. Dit is in baie opsigte 'n idealistiese benadering tot taalregte, en in talle opsigte in 'n meertalige land soos Suid-Afrika onuitvoerbaar.
Dit is so dat Afrikaans as regstaal sedert 1925 baie gegroei het, en dat die gebruik van Afrikaans as regstaal terselfdertyd sedert die 1996-grondwet drasties gekrimp het (Harms, 2012:26; Giliomee, 2014). Dit word nie meer as 'n taal van rekordhouding in die hof gebruik nie (Docrat & Kaschula, 2019), min sake word in Afrikaans aangehoor en slegs geselekteerde wette word nog deur die staat in Afrikaans vertaal en beskikbaar gestel (byvoorbeeld die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering).2 As regstaal verloor Afrikaans dus veld namate die regsisteem toenemend verengels. Ten spyte daarvan verskans die 1996-grondwet belangrike taalregte wat ook op die uiteenlopende sprekers van Afrikaans betrekking het. Maar wat sê die grondwet nou eintlik?
Taal en taalregte in die 1996-grondwet
As voorloper tot ons huidige Grondwet het die 1993-wet 'n nuwe taalbedeling ingelui. Deur artikel 3 word die amptelike status na nege inheemse tale uitgebrei. Burgers mag voortaan in enige van die erkende Suid-Afrikaanse tale om hulp of diens vra. Burgers mag ook hulself in enige taal uitdruk en uitleef (art. 31). Artikel 32 bepaal verder dat burgers skoolopleiding in 'n taal van hul keuse mag ontvang. Artikel 107 is ewe belangrik deur persone die reg te gee om in 'n taal van hul keuse voor die regbank te verskyn. Alternatiewelik moet 'n tolk voorsien word om 'n persoon verstaanbaar te maak. Die rekord van die hof moet in al die land se amptelike tale bewaar word. Laastens bepaal Skedule 4 (XI) dat taal- en kultuurdiversiteit beskerm moet word.
Ons huidige Grondwet het daarop uitgebrei en is baie meer spesifiek omtrent taal, en by implikasie Afrikaans. Hoewel Afrikaans nou die panteon met elf ander tale deel, beskerm die Grondwet ons tale, ook Afrikaans, eksplisiet op verskeie belangrike vlakke. Van belang is onder meer artikels 6; 9(3); 29(2) en 35(k).
Deur na enkele voorbeelde te kyk, is dit duidelik hoe die insluiting van hierdie beskermingsmeganismes polities en idealisties van aard is, en dat die uitvoer/handhawing daarvan redelik uitdagend is vir 'n staat waar geld en dergelike hulpbronne beperk is. Maar sodra 'n mens dié taalregte van nader beskou, word die beperkinge in die regstaal gou duidelik.
Artikel 6(1) verhef 11 Suid-Afrikaanse tale tot amptelike tale, insluitende Afrikaans.3 Subartikel (3) bepaal dat die nasionale en provinsiale regerings te alle tye ten minste twee van die elf tale moet gebruik, maar daar word nie voorgeskryf welke tale nie. Elke regering mag dit self bepaal na aanleiding van demografie asook die praktiese uitvoerbaarheid van 'n taalkeuse. As inwoners dus op 'n bepaalde taal aandring, mag 'n regering aanvoer dat die gebruik van daardie taal buite hul praktiese (bv. finansiële) vermoëns val. Die feit dat die staat die weg van die minste weerstand volg, is sigbaar in die voortbestaan van Afrikaans naas Engels op verskeie staatsdokumente. Dink hier byvoorbeeld aan motorregistrasiedokumente wat nog in beide tale verskyn. Tekste soos dié is reeds in Afrikaans beskikbaar en die dokumentuitleg is reeds gedoen. Weens die twee-taalbeginsel in artikel 6(3)(a) hoef die staat nie geld op addisionele vertalings en teksuitleg te spandeer nie. Artikel 6(4) plaas 'n verdere verpligting op die nasionale en provinsiale regerings om hul gebruik van ampstale te monitor. Dit het egter nie gebeur nie.
Die staat se bedenklike hantering van artikel 6 het tot Lourens v President van die Republiek van Suid-Afrika aanleiding gegee, waardeur die staat gedwing is om die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (die Taalwet) in die lewe te roep. Laasgenoemde het op 2 Oktober 2012 in werking getree en het veral ten doel om elke staatsdepartement en -orgaan te dwing om 'n taalbeleid saam te stel en toe te pas. Die Wet het egter tot 'n teenoorgestelde resultaat gelei: talle staatsdepartemente het bloot 'n monotaalbeleid ten gunste van Engels ontwikkel (soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Departement van Justisie). Waar departemente beweer dat hulle amptelike meertaligheid bedryf, laat die realiteit eenvoudig veel te wense oor (Mohlahlo & Ditsele, 2022). Strydom (2004:20) verwys hierna as 'n de fcto-eentaligheid "wat onder die neus van die Grondwet se meertaligheidsbepalings" posvat.4 Dit weerspieël 'n gebrekkige politieke wil om werklik krag aan meertaligheid te gee. Trouens, die Taalwet is onder meer gebrekkig omdat partydige staatsinstellings - vir wie veeltaligheid nie 'n prioriteit is nie - hul eie taalbeleide mag skep (Pretorius, 2013).
Wat staan 'n mens te doen? Afrikaanssprekendes sou klagtes by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad kon lê (soos talle mense dikwels doen), of hulle sou daarop kon aandring dat 'n streekskantoor of 'n beampte van 'n staatsorgaan die individu in Afrikaans moet help, maar 'n positiewe resultaat is baie onwaarskynlik (Du Plessis, 2009). Dit beteken inderwaarheid dat artikel 6 van die Grondwet en artikel 4 van die Taalwet 'n niebeduidende uitwerking het, en soos Harms (2012:28) dit stel, skep dié bepalings ruimte vir politieke misbruik.
Artikel 9 van die Grondwet verklaar dat elkeen in Suid-Afrika gelyk is en gelyke beskerming voor die wet geniet. Daardie mensereg word verder deur subartikels (3) en (4) beskerm deur sowel die staat as persone te verbied om te diskrimineer. Taal is een van die gronde waarteen niemand mag diskrimineer nie. Dié verskansing het verreikende gevolge, want taal is nou verwant aan identiteit en identiteit is 'n belangrike faktor betreffende waardigheid (Strydom, 2004:19; Harms, 2012:21; Louw, 2022:7). As sodanig lees 'n mens dié subartikels saam met artikels 30 en 31 wat bepaal dat elkeen die reg het om die taal en kultuur van sy/haar keuse uit te leef. Niemand mag jou verhoed om jou taal te praat en op uiteenlopende maniere uit te leef nie (solank as wat die spreker se uitlewing nie iemand anders se grondwetlike regte skend nie, natuurlik). Wat beteken dit? 'n Werkgewer mag nie 'n "slegs Engels"-omgewing skep en almal dwing om Engels te praat as die werkerskorps meertalig is nie. 'n Werkgewer mag moontlik 'n geldige argument aanvoer dat die uitsluitlike gebruik van een taal veiligheid in die werkplek (of iets soortgelyks) kan/moet bevorder. In só 'n geval sou dit moeilik wees om 'n goeie teenargument te formuleer (Louw, 2022:11-12). Die keersy van die munt is ook geldig. As die meeste van die werkers 'n bepaalde taal besig, kan die werkgewer dit nie ignoreer nie en is daar 'n verpligting om noodsaaklike inligting ook in dáárdie taal te kommunikeer.
Die net span nog wyer. Wanneer belangrike inligting aan die groter publiek gekommunikeer moet word, wat ingeligte besluitneming raak, rus daar ook 'n plig op regerings- en private instansies om met plaaslike gemeenskappe in hul taal te kommunikeer (sien Cape Killarney Property Investments (Pty) Ltd v Mahamba en South Durban Community Environmental Alliance v Minister of Forestry, Fisheries and the Environment). Dus, hoewel artikel 6 oënskynlik min impak op die gebruik van amptelike tale het, bied artikel 9 'n manier om die regering en private (regs)persone verantwoordelik te hou. Die onus is wel op die betrokke spraakgemeenskap om beide die staat en private organisasies te monitor.
Artikel 29(2) gee aan Suid-Afrikaners die reg om onderwys by staatsinstellings in 'n taal van hul keuse te ontvang. Beteken dit dat my kind by enige skool in Afrikaans onderrig mag word? Nee. Die versoek moet "redelik uitvoerbaar" wees. Dit is vanselfsprekend onredelik om van 'n skool te verwag om - ten koste van die meerderheid - aan een of twee leerders Afrikaansonderrig te voorsien wanneer honderde leerders nie Afrikaans verstaan nie en die skool nie die geld of menslike hulpbronne het om aan 'n noemenswaardige minderheid se wense te voldoen nie (Nkosi v Vermaak). Wat egter as minderheidsgroepe geld en wat redelik uitvoerbaar is, wissel van konteks tot konteks. Die minimum kriteria sluit billikheid, uit-voerbaarheid en 'n regstelling van vorige rasdiskriminerende wette en praktyke in.
Laasgenoemde is veral in die Ermelo-saak belig waar 'n skool aanvanklik gedwing is om sy Afrikaanse taalbeleid te verander om leerders vir wie daar nie 'n ander skool was nie, te akkommodeer. Adjunkhoofregter Moseneke het op sensitiewe wyse betoog dat leerders se grondwetlike reg tot basiese opvoeding aan 'n staatskool nie op grond van taal ontneem mag word nie. Ofskoon hy nie die Afrikaanssprekende leerders wil benadeel nie, word daar van hom verwag om 'n billike beslissing te maak. Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het 'n soortgelyke argument probeer bou toe hulle Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf het (Giliomee, 2014; Du Plessis, 2017). Die Konstitusionele Hof het egter breedvoerig in die noemenswaardige Chairperson of the Council of the University of South Africa (UNISA) v Afriforum NPC aangedui waarom Unisa se afskaffing van Afrikaans ongrondwetlik was. Unisa kon eenvoudig nie voldoende aandui waarom hul besluit redelik uitvoerbaar was nie. Die hof het aangedui dat die vraag na Afrikaans groot genoeg was en die gebruik van Afrikaans aan Unisa nie personeel of sprekers van ander tale benadeel het nie.5 Die eensydige besluit om 'n groot aantal Afrikaanssprekende studente van hul regte ingevolge artikel 29(2) te ontneem, het effektiewelik geboemerang juis omrede die voortsetting van Afrikaans aan Unisa as billik, uitvoerbaar en niediskriminerend beskou is.
Laastens bied artikel 35 noodsaaklike voorskrifte in die geval van arrestasie, aanhouding en beskuldiging. Dit is veral hier dat taal 'n kardinale rol speel, want individue moet in staat wees om ingeligte besluite te neem oor die pad vorentoe. Dit kan net gebeur indien die individu se menseregte beskerm en nagekom word. Om dit te verseker, moet enige kommunikasie toeganklik en verstaanbaar wees. Baie Suid-Afrikaners het nie genoegsame skoolopleiding om die sisteem noukeurig te navigeer nie. Die meeste van ons is - teen betaling - van ander afhanklik om ons daarmee by te staan. Die ideaal is selfbemagtiging. Volgens artikel 35(3)(k) het elke persoon die reg tot 'n regverdige verhoor wat insluit dat elkeen in 'n verstaanbare taal verhoor mag word. Let op dat die Grondwet van 'n "verstaanbare" taal praat, en nie 'n taal van die individu se keuse nie. Die staat word nie verplig om 'n regsproses in jóú taal te voer nie. Indien die individu nie die taal van die hof verstaan nie, moet 'n tolk dienooreenkom-stig aangestel word. In Thwala v S het die beskuldigde hom tot die Konstitusionele Hof gewend omdat sy verhoor in Afrikaans plaasgevind het en nóg hy nóg sy verteenwoordiger Afrikaans magtig was. Ons hoogste hof het egter bevind dat die verhoor deurgaans getolk is en dat die beskuldigde die proses kon volg. Met ander woorde, die klem hier is eerder op begrip as taalvoorkeur.
In 'n ouer saak, S v Pienaar, het 'n Afrikaanssprekende beskuldigde versoek dat sy Engelssprekende regsverteenwoordiger onttrek omdat hy nie voldoende Engels magtig was nie en die verteenwoordiger nie kon verstaan nie. Hoewel die verhoorhof die versoek toegestaan het, het die hof nie 'n alternatiewe verteenwoordiger voorgestel of 'n tolk beskikbaar gemaak nie. Omdat die beskuldigde eintlik eentalig was, het die Departement van Justisie 'n verantwoordelikheid teenoor die beskuldigde gehad om hom in Afrikaans by te staan.
In sy beslissing van die Pienaar-saak maak regter Buys 'n waardevolle punt dat waar die betrokkenes binne die regsisteem oorwegend een taal praat, daardie taal voorrang moet geniet. Hy verwys na die feit dat die meerderheid sake in die Noord-Kaap in Afrikaans plaasvind. Voorsittende beamptes, regsverteenwoordigers en beskuldigdes is meestal Afrikaanssprekend. Om alle prosesse dan in Engels te moet bestuur (en telkens te moet tolk), bevorder nie die regsproses nie. Soos regter Buys dit stel: "Diegene wat dus direk betrokke is by die regsproses word as gevolg van die miskenning van hulle taal volle toegang tot en behoorlike begrip van hofverrigtinge ontsê" (par. 15).
Wat die Grondwet wel duidelik maak, is dat elkeen die reg het om alle kommunikasie binne die regsisteem te verstaan en vir elkeen om hom/haar verstaanbaar te maak. Daarom mag Afrikaanssprekendes binne die juridiese sfeer op Afrikaans aandring. Die staat het 'n plig om verstaanbaar te kommunikeer sodat elkeen 'n gelyke kans mag staan. Trouens, dit is een van die klaarblyklike veronderstellings van 'n taal wat amptelike status geniet, dat die staat daardie taal deurlopend sal gebruik en dat enigeen met die owerheid in daardie taal mag praat (Malan, 2015:119; Du Plessis, 2010:70-73).
Gevolgtrekking
Tydens die eerste 69 ampsjare het Afrikaans as instrument gedien waardeur alle Suid-Afrikaners met die staat moes praat. Sedert 1994 is Afrikaans se instrumentele rol meestal tot Afrikaanssprekendes beperk. Dit is so dat Afrikaans tans die knie voor Engels moet buig, soos soveel wêreldtale. Afrikaans word egter nog steeds grondwetlik beskerm en daardie beskerming bied etlike maniere waarop sprekers hulself mag laat geld. Dit vereis wel 'n aktiewer deelname aan die groter Suid-Afrikaanse demokrasie en ook konstitusionele geletterdheid. Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners in die algemeen, en sprekers van Afrikaans in die besonder, kennis neem van hul taalregte asook dié van ander. In die belang van veeltaligheid is dit vir die Afrikaanse spraakgemeenskap ewe onontbeerlik om ander taalgroepe te ondersteun en bewus te wees van die ruimte wat ons in beslag neem. Om Afrikaans as amptelike taal lewend te hou, moet sprekers kreatief en gemotiveerd aan die demokrasie deelneem en die staat op etiese wyse verantwoordelik hou.
Taalkundiges het ook 'n rol te speel. Van den Berg en Kotzé (2022:575) praat van 'n "interdissiplinêre operateur", 'n taalkundige wat tussen taal- en regsdissiplines beweeg om reg en regverdigheid te probeer bewerkstellig. Om regsgeleerdes en taalaktiviste te onderskraag, is dit redelik en noodsaaklik dat taalnavorsers húl bydrae binne regsverband maak. Dit is nodig dat ons die veranderende rol van taal binne regskonteks beter verstaan. Dit is ook van belang om taal, regstaal en taal binne regskonteks te monitor om seker te maak dat die owerheid sy verantwoordelikheid teenoor burgers nakom en nie situasies skep waardeur sprekers op grond van taal benadeel word nie. As gewone mense benodig ons daagliks toegang tot inligting om ingeligte besluite te kan neem. Wanneer ons nie verstaan wat die staat en private organisasies vir ons sê nie, of erger, wanneer ons nie kan aflei watter inligting van ons weerhou word nie, is ons magteloos. Daarom is dit belangrik om te weet hoe taal, en veral Afrikaans, ons kan bemagtig. En juis hiér kan taalkundiges oor die volgende honderd jaar 'n verskil maak.
BIBLIOGRAFIE
Constitutional Review Committee. 2020. Language submissions: Overview. Parliamentary Monitoring Group. 9 October 2020. https://pmg.org.za/committee-meeting/31161/ [3 Junie 2024]. [ Links ]
De Visser, M & Jones, BC. 2024. Unpacking constitutional literacy. Global Constitutionalism, 13(1):29-52. [ Links ]
Docrat, Z & Kaschula, RH. 2019. Monolingual language of record. A critique of South Arica's new policy directives. In Ralarala, Kaschula & Heydon (eds). New frontiers in forensic linguistics. Themes and perspectives in language and the law in Africa and beyond. Stellenbosch: Sun Press, pp. 71-88. [ Links ]
Du Plessis, T. 2009. Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en die regulering van taalsigbaarheid in Suid-Afrika - 'n ontleding van taalregteklagtes. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 27(2):173-188. [ Links ]
Du Plessis, T. 2010. 'n Taalwet vir Suid-Afrika? Die rol van sosiolinguistiese beginsels by die ontleding van taalwetgewing. LitNet Akademies, 7(2):65-97. [ Links ]
Du Plessis, T. 2017. Taalbeleidshersiening en die ontplanning van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 53:78-96. [ Links ]
Fombad, CM. 2018. Constitutional literacy in Africa: Challenges and prospects. Commonwealth Law Bulletin, 44(3):492-513. [ Links ]
Foundation for Human Rights. 2018. Democracy challenged: South Africa's largest attitudinal survey on the Constitution. Johannesburg: FHR. [ Links ]
Giliomee, H. 2014. Die troebel toekoms van die Afrikaner enAfrikaans. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 54(4):571-595. [ Links ]
Harms, LTC. 2012. Law and language in a multilingual society. Potchefstroom Electronic Law Journal, 15(2):21-31. [ Links ]
Louw, AM. 2022. Language discrimination in the context of South African workplace discrimination law. Potchefstroom Electronic Law Journal, 25:1-39. [ Links ]
Malan, K. 2015. Die begrip "amptelikheid" van 'n taal in die lig van onlangse buitelandse regspraak. Tydskrifvir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 78(1):116-120. [ Links ]
Mohlahlo, AL & Ditsele, T. 2022. Exploring multilingualism at the national department levels in South Africa post the Use of Official Languages Act of 2012. Literator, 43(1):1-9. [ Links ]
Pretorius, JL. 2013. The Use of Official Languages Act: Diversity affirmed? Potchefstroom Electronic Law Journal, 16(1):281-319. [ Links ]
Stevens, S. 2023. Do Americans know their rights? Survey says: No. The Fire. https://www.thefire.org/news/do-americans-know-their-rights-survey-says-no [22 July 2024]. [ Links ]
Strydom, H. 2004. Het ons vordering gemaak na 'n menswaardige taalbedeling in Suid-Afrika? Woord en Daad, Winter 2004:19-21. [ Links ]
Van den Berg, K & Kotzé, EF. 2022. Forensiese linguistiek. In Carstens & Van Dyk (reds.). Toegepaste taalkunde in Afrikaans. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, pp. 559-580. [ Links ]
SAKE
Afriforum v University of the Free State 2018 (4) BCLR 387 (CC).
Cape Killarney Property Investments (Pty) Ltd v Mahamba 2000 (2) SA 67 (C).
Chairperson of the Council of the University of South Africa (UNISA) v Afriforum NPC 2022 (3) BCLR 291 (CC).
Gelyke Kanse v Chairperson of the Senate of the University of Stellenbosch [2019] ZACC 38.
Head of Department: Mpumalanga Department of Education v HoërskoolErmelo (CCT40/09) [2009] ZACC 32.
Kruger v President of the Republic of South Africa (CCT57/07) [2008] ZACC 17.
Lourens v Die President van die Republiek van Suid-Afrika [2010] JOL 25222 (GNP).
Nkosi v Vermaak Saakno. 77/2007 (30 September 2008).
R v Grundlingh 1945 EDL 144.
R v Hugo 1939 WLD 387.
R v Koller 1939 CPD 444. R v Silber 1940 AD 187.
S v Pienaar 2000 (2) SACR 143 (NC).
South Durban Community Environmental Alliance v Minister of Forestry, Fisheries and the Environment (17554/2021) [2022] ZAGPPHC 741 (6 October 2022).
Thwala v S 2019 (1) BCLR 156 (CC).
WETTE
Grondwet van Suid-Afrika 32 van 1961.
Grondwet van Suid-Afrika 110 van 1983.
Grondwet van Suid-Afrika 200 van 1993.
Grondwet van Suid-Afrika 108 van 1996.
Grondwet Agtien Wysigingswet 3 van 2023.
Inkomstewet Wysingingswet 12 van 2024.
Wet op die Gebruik van Amptelike Tale 12 van 2012.
Wet op die Persoonlike Gebruik van Cannabis 7 van 2024.
Wet op Nasionale Gesondheidsversekering 20 van 2023.
Wet op Officiële Talen van de Unie 8 van 1925.
Zuid-Afrika Wet 1909.
Ontvang: 2024-09-13
Goedgekeur: 2025-01-09
Gepubliseer: Maart 2025

Terrence R Carney is medeprofessor in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy is 'n aktiewe navorser op die gebied van regstaal en fokus meestal op betekenis en begrip binne regskontekste asook op forensiese taalkunde. Naas sy publikasies in regstydskrifte, publiseer hy die boek Linguistics for Legal Interpretation in 2023, wat die aandag op taalkundige wetsuitleg vestig en op regspraktisyns en voorsittende beamptes afgestem is. Hy is tans mederedakteur van die vaktydskrif Language Matters.
Terrence RCarney is associate professor of Afrikaans linguistics at the University of South Africa. He is an active researcher of language and law and focuses mostly on meaning and comprehension within legal contexts and on forensic linguistics. In addition to his publications in law journals, he published the book Linguistics for Legal Interpretation in 2023, which draws attention to a linguistic approach to statutory interpretation and is targeted at legal practitioners and presiding officers. He is currently associate editor of the journal Language Matters.
1 Vergelyk artikels 108 en 109 in die 1996-grondwet; artikel 3 van die 1993-grondwet en artikel 89 van die 1983-grondwet. Du Plessis (2010) dui aan dat 'n nasionale taalwet hierdie grondwetlike artikels verder sou bevestig en uitbrei.
2 Sommige wette is kwansuis in Afrikaans beskikbaar, maar vertoon slegs in Engels wanneer dokumente afgelaai word. Die Inkomstewet Wysigingswet 12 van 2024 is een voorbeeld. Die Wet op Persoonlike Gebruik van Cannabis 7 van 2024 is na Sepedi vertaal, maar die Skedules is nog steeds in Afrikaans.
3 Die Grondwet is in Julie 2023 gewysig om Suid-Afrikaanse gebaretaal as twaalfde ampstaal te erken. Sien artikel 1 van die Grondwet Agtien Wysigingswet.
4 Tydens 'n vergadering van die Konstitusionele Hersieningskomitee se Taalportefeulje in 2020 is die vraag gestel wat presies daar met "ampstaal" bedoel word wanneer Engels klaarblyklik die enigste taal is wat op nasionale vlak gebruik word (CRC, 2020).
5 In Afriforum v University of the Free State en Gelyke Kanse v Chairperson of the Senate of the University of Stellenbosch is daar telkens bevind dat die gebruik van Afrikaans ingevolge art. 29(2)(c) van die Grondwet tot rassespanning en uitsluiting kan lei. As sodanig word die versoek om Afrikaans te behou binne hierdie onderrigkonteks as onredelik beskou.











