SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue3Die trekos en trektoerusting in Suid-Afrika: 'n historiese perspektief author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.61 n.3 Pretoria Sep. 2021

     

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2): HEGEL - 250 JAAR LATER

     

    Hegel - 250 years later

     

     

    Op 27 Augustus verlede jaar is die 250ste geboortejaar van die Duitse filosoof, Georg Friedrich Wilhelm Hegel (1770-1831), wêreldwyd gevier. Die Fakulteit Geesteswetenskappe en die Departement Filosofie by Akademia het op Vrydag 28 Augustus 2020 'n gedenkseminaar gehou. In hierdie gedenkseminaar het 4 van die 5 medewerkers tot hierdie spesiale afdeling van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, deelgeneem. Meer hieroor later.

    Daar kan met reg gevra word waarom Hegel 250jaar later herdenk moet word en waarom in Suid-Afrika? Hegel se invloed is verreikend - wêreldwyd vind sy denke tot in ons eie tyd weerklank. Hierdie resonansie het baie te doen met sy interpretasie van die historiese lotgevalle van moderne mense in 'n moderne wêreld. Kort ná sy dood was daar reeds die bekende verdeling tussen sogenaamde linkse en regse Hegeliane, en sedertdien het sy denke fassinerende weë in kontinentale Europa (veral Duitsland en Frankryk), Brittanje en sy eertydse kolonies (soos Suid-Afrika, Australië en Kanada), en die VSA gevolg. Benewens die feit dat byna alle twintigste-eeuse filosofiese posisies 'n tipe antwoord op Hegel is, bestaan daar ook in die hedendaagse filosofie twee invloedryke posisies om Hegel te interpreteer - naamlik, die analitiese en hermeneutiese posisies wat in my artikel (Duvenage) verduidelik word.

    Vervolgens wys ek graag op 'n besonderse band tussen Hegel en Suid-Afrika voordat ek by die bydraes van hierdie spesiale afdeling uitkom. Die institusionalisering van filosofie in Suid-Afrika is in die 19de-eeu deur 'n belangrike denkskool van daardie tyd, die Britse idealisme, beïnvloed. Dit is 'n beweging waarin figure soos Bradley, Bosanquet en Green 'n sterk Hegeliaanse weergawe van idealisme gevolg het. Dit is ook so dat die eerste filosowe wat by kolleges of universiteite in Kaapstad, Stellenbosch, Pretoria, Johannesburg en Bloemfontein aangestel is, oorwegend Britse idealiste, van 'n Hegeliaanse ingesteldheid, was. Die treffendste voorbeeld in hierdie opsig is RFA Hoernlé (1880-1943). Dit is 'n boeiende verhaal hoe hy met idealistiese besieling in die verafgeleë stadjie, Kaapstad, aangeland het, en tussen 1908 en 1911 daar professor in filosofie was - en weer later aan Wits vanaf 1923 tot1943.

    Die vraag is watter aspekte van Hegel se denke vir die Britse idealisme, onder koloniale omstandighede, belangrik was. Een moontlike verklaring is dat Hegel se denke baie sterk klem lê op die vrye individu of entrepeneur-handelaar in Britse terme, maar ook die verwikkelde wederkerigheid of dialektiek tussen dié soort individu en die gemeenskap of samelewing in ag neem. Hierdie gegewe plaas Hegel natuurlik binne 'n dialektiese opvatting van die geskie-denis waar die ontvouing van die gees uiteindelik tot die hoogste goed, naamlik die absolute gees, lei. Hegel se standpunt dat die vrye individu ook sy of haar verantwoordelikhede binne die familie, burgerlike samelewing en staat moes vervul, het netjies in die raamwerk van die Britse Ryk en sy kolonies gepas - ook in Suid-Afrika. Op dusdanige wyse is Britse kolonialisme en imperialisme ook in 'n mate gelegitimeer.

    Dit is egter ook so dat die Britse idealisme betreklik snel in die sand uitgeloop het. In die 1920's en 1930's het dit in Groot-Brittanje vir die analitiese filosofie plek gemaak. Laas-genoemde filosofiese posisie, wat die toneel in die Anglo-Amerikaanse wêreld die afgelope honderd jaar oorheers, het onder leiding van Moore, Russell en Popper sterk teen die Britse idealisme as 'n oordrewe historisisme en metafisika gereageer en weer die klem op die rasioneel-outonome vrye individu geplaas. Vergeleke met histories-Engelssprekende universiteite het daar egter 'n ander tipe reaksie teenoor die Britse idealisme by Histories-Afrikaanse universiteite - soos Stellenbosch, Pretoria, Potchefstroom en Bloemfontein - ontstaan. Hierdie reaksie was nie so sterk afkeurend teenoor die Britse idealisme nie. Twee aspekte staan hier uit: Die historíese voorwaardes van kennis, wetenskap, etiek, politiek, kuns en religie, aan die een kant, en die wisselwerking tussen vrye individu en gemeenskap, aan die ander kant. Hierdie twee aspekte het natuurlik hulle onderskeie artikulerings gevind in Afrikaanse denkskole soos die fenomenologie en sy uitlopers en die Reformatoriese denke.

    Teen hierdie agtergrond kan die 5 bydraes in hierdie spesiale afdeling, soos volg ingelei word. In my eie artikel (Pieter Duvenage) word daar op die vroeë Hegel se werk gefokus -veral in sy vroeë teologiese geskrifte, en meer spesifiek sy essay "Die Gees van die Christendom en sy lotgevalle" (1797-99). Die sentrale punt hier is dat die vroeë Hegel ná 'n aanvanklike bewondering vir Kant se antropologie ten gunste van die Christelike begrip van die liefde swaai ten einde 'n kreatiewe wisselwerking tussen die vrye individu en die gemeenskap of samelewing te bewerkstellig. Aan die einde van die bydrae word aangedui hoe hierdie vroeëre denkmotiewe van Hegel met sy latere werk en projek verband hou.

    In sy bydrae oorweeg Hercules Boshoff die vraagstuk van die begrip van die waarheid in die moderne tyd as die louteringsweg wat die vrye self moet deurloop om tot absolute wete te geraak. Die waarheid word verken as dit wat enersyds diepgaande loutering (en beproewing) van vooropgestelde kennis vereis, sowel as die inagneming van ander begrippe van kennis, ten einde waarheid as geheel te oorweeg. Dit gaan hier oor die louteringsproses van die natuurlike bewussyn, via die selfbewussyn op weg na die absolute wete. So 'n louteringsproses gaan uiteindelik oor die vraagstuk oor hoe die mens se waarneming van die werklikheid deel is van 'n groter geheel.

    Ad Verbrugge se bydrae voer die kwessie van die vrye self as selfbewussyn in verhouding met ander selfbewussyne verder. Hier gaan dit veral oor die begrip van erkenning (Anerkennung) en die betekenis daarvan vir tydgenootlike politieke en sosiale debatte oor identiteit. Verbrugge gee 'n briljante rekonstruksie hoe hierdie begrip met 'n ander begrip, naamlik arbeid, onder moderne omstandighede, verband hou. Gevolglik argumenteer hy dat hedendaagse identiteits-probleme in ons tegnologiese verbruikersamelewing tot die ondermyning van tradisionele erkenningstrukture bydra wat tot beide vervreemding en massavorming lei.

    In baie opsigte sluit Charles Villet by Verbrugge se bespreking van Hegel se begrip van erkenning aan, maar hy gee dit 'n eietydse postkoloniale nuanse. Dit gaan hier oor die kwessie van die heer en die kneg in Hegel se Fenomenologie van die Gees waar beide partye (bewussyne) in die stryd om hulle vrye bestaan so van mekaar vervreem word dat hulle ook hulle menslikheid ontneem word. Villet gee in sy bydrae 'n belangrike hermeneutiese sleutel om die verdingliking (en selfs rassisme) tussen twee selfbewussyne te verstaan. Uiteindelik kom sy lees van Hegel (wat deur Fanon beïnvloed is) neer op'n pleidooi vir'n rehumanisering van beide partye via die riglyne van Hegel se begrip van wedersydse erkenning.

    Die bydraes in die spesiale afdeling word afgesluit deur Bert Olivier se kreatiewe lees van Hegel se interpretasie van kuns. Olivier wys daarop dat Hegel se stelling van die einde van kuns, onder moderne omstandighede, gekwalifiseer moet word. Hegel het nie daarmee bedoel dat kuns volledig in religie en filosofie opgehef word nie, maar dat dit as kritiese en polemiese kuns voortbestaan.'n Mens kan in die moderne kunsbewegings van die vroeë 20ste eeu - insluitende kubisme, abstrakte ekspressionisme, konseptualisme en futurisme - die beliggaming van hierdie verwagting by Hegel bespeur, waar hierdie soort kuns telkens die ontologiese aanspraak maak dat dit die ware werklikheid blootlê. As besonder treffende tydgenootlike uitdrukking van sodanige (radikale) kritiese kuns word Andy Goldsworthy se ekologiese kuns ten slotte onder die loep geplaas.

    Behalwe die 5 bydraes soos hier bo bespreek, sluit die spesiale afdeling oor Hegel met 'n knap en bondige resensie. Hier bespreek Fanie de Beer die bekende werk van Catherine Malabou, The future of Hegel: plasticity, temporality and dialectic (1995 Frans; vertaal in Engels 2005). Dit is gepas dat hierdie spesiale afdeling met 'n resensie van Fanie de Beer afgesluit word - 'n hooggeagte senior kollega in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse filosofiese wêreld.

    Pieter Duvenage

    Gasredakteur

    Augustus 2021