SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 número3Translators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 MaccabeesLiterary aspects of the 2020 translation of the Bible in Afrikaans and the contribution of the literary advisors in the process of translation índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Revista

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versión On-line ISSN 2224-7912versión impresa ISSN 0041-4751

    Resumen

    JOHL, Ronél. Tydskr. geesteswet. [online]. 2025, vol.65, n.3, pp.923-946. ISSN 2224-7912.  https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n3a10.

    By 'n herlees van resensies oor Leon de Kock se 2019-biografie van André P Brink, André P Brink en die spel van liefde, is dit opvallend dat Afrikaanse literêre akademici oor die algemeen lugtig was om hulle uit te laat oor omstrede sake wat dalk geredeneer sou kon word streng "buite die grense" van die werk onder bespreking val, al het dit kwessies betrek wat blyk die teks ten nouste raak. Dit sluit in kwessies soos: 1) die impak van die omstrede ontstaan- en publikasiegeskiedenis van die Brink-biografie op die teks en 2) raakpunte tussen die biograaf se (algemene: buite-tekstuele) optrede teenoor vroue soos dit voor en ten tye van die bekend-stelling van die boek aan die lig gekom het en sy hantering van vroue in die biografie self. In akademiese literatuur oor die Brink-biografie was daar uitsprake wat daarop dui dat akademici oor die algemeen nog "bang is" vir die biografie as genre. Annemarié van Niekerk (2019) verwys byvoorbeeld in 'n resensie-artikel van André P Brink en die spel van liefde onder andere na die voortslepende reputasie van die biografie as "onrespektabel", "gevaarlik", 'n "baster". Dié veronderstelde "ongetemdheid" van die genre dien dikwels as motivering om die diskoers oor die biografie as genre terug te trek binne die veilige grense van die akademiese dissiplines, waar daar nie oor kontroversiële aktuele aangeleenthede uitspraak gelewer hoef te word nie, wat Van Niekerk ook in haar LitNet-resensieartikel doen. Die vraag word egter dan onder andere watter van die akademiese dissiplines die verantwoordelikheid moet aanvaar om 'n algemene teorie van die biografie te formuleer (dit is 'n vraag wat ek in verdere stukke in meer besonderhede onder die loep neem). Tans is daar nog nie 'n bevredigende omvattende teorie van die biografie nie. Die huidige artikel neem die idee van die (literêre) biografie as 'n teks in 'n sosiaal-historiese kommunikasienetwerk as vertrekpunt; dit behels onder meer dat die biografie nie aan die kontroversies wat dit omring, onttrek word nie. 'n Kommunikasienetwerkmodel maak dit vir navorsers onder andere moontlik om verbande te verreken wat 'n teks (soos die biografieë wat in hierdie en die volgende bydrae ter sprake is) oor tyd en ruimte heen, in bepaalde kontekste van die kommunikasie, met verskillende elemente aangaan en handhaaf: van die ontstaan en produksie van die teks af tot die ontvangs daarvan. 'n Tweede vertrekpunt is dat sekere fasette van die omringende werklikheid waarin elke teks ingebed is self ook die vorm aanneem van tekste: bemarkingstukke, bekendstellings, berigte, onderhoude, ensovoorts. Wanneer dit gaan om wat Gérard Genette die "epiteks" genoem het, behels dit daardie tekste wat 'n bepaalde teks (biografie) omring wat die ontvangs en interpretasie daarvan (kan) beïnvloed. 'n Derde vertrekpunt stel dit dat die versameling epitekste wat 'n kontroversiële hoofteks omring as 'n ontvouende narratief gekonstrueer kan word wat kan help om lig op die hoofteks (biografie) te werp. Die veronderstelling (hoop) is dat dit kan geskied op wyses wat die kompleksiteit van die betwiste teks-in-kommunikasie erken en die integriteit van die proses self sal bewaar. Die rekonstruksie van die epiteks van André P Brink en die spel van liefde het 'n aantal gegewens opgelewer wat die hoofteks ooglopend destabiliseer en 'n vraagteken plaas agter die wetenskaplike integriteit van die biografie, 'n waarneming wat 'n kritiese teksstudie van die biografie self vrugbaar verder sou kon ondersoek.

    Palabras clave : literêre nalatenskap; literêre weduwees; omstrede biografieë; openbare teks; epiteks as narratief; kommunikasienetwerkmodel; senderkom-pleks; epiteks; konteks; parateks.

            · resumen en Inglés     · texto en Africano     · Africano ( pdf )