Serviços Personalizados
Journal
Artigo
Indicadores
Links relacionados
Citado por Google
Similares em Google
Compartilhar
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
versão On-line ISSN 2224-7912versão impressa ISSN 0041-4751
Resumo
FOUCHE-KARSTEN, Nadine; WIERENGA, Rone; BREED, Adri e PILON, Suléne. Afrikaans Huistaal die afgelope 100 jaar: Die bysin as gevallestudie. Tydskr. geesteswet. [online]. 2025, vol.65, n.1, pp.213-237. ISSN 2224-7912. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a10.
Die grense van grammatikale kategorieë wat op skoolvlak gebruik word, soos bysinne, behoort nie wollerig te wees nie. Tog wys Van der Merwe (1966) op die onduidelike grense van bysinkategorieë en op die feit dat Afrikaansonderwysers "skei waar nie geskei behoort te word nie". Dit wil voorkom of hierdie verwarring steeds bestaan, soos blyk uit 'n meningsopname in 2024 op sosiale media. Omdat bysinne gesofistikeerde sinskonstruksies skep en taalgebruikers bemagtig om hul ervarings van die wêreld uit te druk, wou ons vasstel tot watter mate die bysinkategorieë wat in skoolhandboeke van die afgelope 100 jaar onderskei word, deur wollerigheid gekenmerk word. Hiervoor is 'n bestekopname gedoen, beginnende by Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1924) tot by die resentste KABV-belynde handboeke vir graad 12. Daar is bevind dat die grense van die bysinkategorieë wat in hierdie bronne onderskei word, inderdaad "wollerig" is. Wollerige grense ontstaan, omdat: (i) bysinne wat dieselfde inleier het en logieserwys as dieselfde soort bysin beskou behoort te word, op grond van hul funksie as verskillende soorte bysinne gekategoriseer word; (ii) die kombinasie van verskillende kriteria vir kategorisering gebruik word; en (iii) die grense van verskillende subkategorieë van veral die bywoordelike bysin wollerig is, omdat betekenis as kategoriseringskriterium gebruik word en dieselfde bysin gevolglik as meer as een soort gekategoriseer kan word. Meerduidige kategorisering en 'n skeiding tussen bepalings en bysinne (wat as bepalings gebruik word) is ook aan die orde van die dag.
Palavras-chave : Afrikaans Huistaal; bestekopname; byvoeglike bysin; bywoordelike bysin; bysin; gesegdesin; kategorisering; onderwerpsin; skoolhand-boeke; voorwerpsin; wollerige grense.












