Serviços Personalizados
Journal
Artigo
Indicadores
Links relacionados
Citado por Google
Similares em Google
Compartilhar
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
versão On-line ISSN 2224-7912versão impressa ISSN 0041-4751
Resumo
DU PLESSIS, Theodorus. Taalbeplanning ná 2023 in Suid-Afrika: Implikasies vir die histories gemarginaliseerde inheemse tale, Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Afrikaans. Tydskr. geesteswet. [online]. 2025, vol.65, n.1, pp.188-212. ISSN 2224-7912. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a9.
Na aanleiding van die verklaring in 2023 van Suid-Afrikaanse Gebaretaal tot Suid-Afrika se 12de amptelike taal word in hierdie artikel krities besin oor die vooruitsigte vir taalbeplanning in Suid-Afrika. Dit word gedoen in die lig van 'n opmerking gedurende 2024 deur 'n senior staatsamptenaar dat die regering nog nie gereed is om die Agtiende Wysigingswet op die Grondwet, 1996, in werking te stel nie en dat toepassing van die Wysigingswet dieselfde onbevredigende resultaat sal oplewer as wat die aanvaarding van die nege histories gemarginaliseerde inheemse tale as amptelike tale by artikel 6(1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, vir daardie tale opgelewer het. Die studie konsentreer op die sleutelrol wat taalwetgewing by taalbeplanning speel en berus dus grotendeels op 'n ontleding van toepaslike post-1994-taalwetgewing rakende die vier ampteliketaaldomeine, naamlik wet-gewing, regspleging, administrasie en onderwys. Die ontleding word gedoen aan die hand van 'n tipologie van taalamptelikheid (statutêr, simbolies, werkend) enersyds en taalbenaderingsbeginsels andersyds, te wete funksionaliteit (doeltreffendheid) teenoor billikheid (inklusiwiteit). Een van die kernbevindinge is dat die spanning tussen laasgenoemde beginsels meebring dat post-1994-taalwetgewing in stryd met die beginsels van die Grondwet, 1996, 'n nuwe taal-hiërargie tot stand gebring het waarin Engels (en soms nog Afrikaans) as amptelike werkstaal funksioneer en die ander tale grootliks net simboliese amptelike tale is. 'n Implikasie hiervan is dat alle amptelike tale buiten Engels óf nog meer (die nege Sintutale) óf van nuuts af gemar-ginaliseer word, 'n tendens wat niks goeds voorspel vir die inwerkingstelling van 'n 12de amptelike taal nie.
Palavras-chave : taalwetgewing; taalbeplanning; taalverampteliking; taalbeleids-benaderings; ampteliketaaldomeine; taalbevoordeling; taalmarginalisering; histories gemarginaliseerde inheemse tale; Suid-Afrikaanse Gebaretaal; Afrikaans.












