SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue1Chronology: Nuruddin FarahSol Plaatje: A Life of Solomon Tshekisho Plaatje (Brian P. Willan) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.17946 

    BOOK REVIEWS

     

    Soekenjin

     

     

    Gerda Taljaard-Gilson

    Onafhanklike navorser Pretoria, Suid-Afrika gerdagilson@gmail.com, ORCID: https://orcid.org/0000-0003-4911-1150

     

     

    Bibi Slippers.
    Kaapstad: Tafelberg, 2023. 141 pp.
    ISBN 978-0-624-09383-1.

    In 1990 vergelyk Eveleen Castelyn, in haar gedig "Terafim", huisrekenaars en woordverwerkers met "huisgode" (18). In 2023, drie en dertig jaar ná Castelyn se gedig, word Google 'n alwetende god in Bibi Slippers se gedig "Verdere vrae: God" (76), want hierdie god kan "[...] om en by 4.62 miljard antwoorde in minder as 'n halwe sekonde" verskaf aan die immer soekende mens. Die mens wat aanlyn na liefde soek, betekenis soek, antwoorde op vrae soek. Vrae soos: wie is ek? En: wie is Bibi Slippers? Vrae waarop daar nie vanselfsprekende antwoorde is nie, want watter virtuele weergawe van Slippers is die ware een? Of is sy (soos ons almal), danksy die internet, "alles, oral, helemal gelyktydig" (9)?

    Reeds in die eerste gedig "ek soek alles" (11) word die spreker "[. ] oorweldig deur die vloedgolf van [haar] behoefte wat die wêreld / wil verswelg". Die internet kan antwoorde op meeste van haar vrae verskaf, maar haar laaste vraag-"maar wat is my naam?"-bly onbeantwoord, soos 'n gebed wat nie verhoor word nie.

    In Soekenjin funksioneer die internet as 'n metafoor vir die posthumane subjek se spiritualiteitsbelewing, want binne die kuberruimte kan die mens vir ewig voortbestaan op 'n "cloud", word die mens nooit uitgewis nie, en verkry derhalwe onsterflikheid. Dié idee word in die vooruitsig gestel deur 'n opmerking wat Alan Emtage (die uitvinder van die wêreld se eerste soekenjin) gemaak het, wat as motto vir Slippers se digbundel dien: "Whether in real life or in the digital world we understand that search enables us to exist- be it in a quest for food, shelter, or a mate. Search enables life."

    Die vergestalting van die internet as 'n alom-teenwoordige opperwese, as "die groot verbinder" (15) wat oor goddelike eienskappe beskik, word reeds in Slippers se bekroonde debuutbundel Fotostaatmasjien (2016) ontgin, onder andere in "Die eerste afgod" (24) en "emoji in die skriptorium" (65). Die vraagstuk rondom egtheid van belewenis in Fotostaatmasjien keer ook terug in Soekenjin, want hier is, net soos in Slippers se debuutbundel, 'n bemoeienis met die moeilik onderskeibare teenstellings tussen werklikheid en nabootsing, realiteit en virtualiteit. "[D]ie hele besigheid van wees", merk die liriese subjek in "selfportret as poging tot stilte" (132) op, "is skimmespel, verbeelde ding".

    Die mens se integrasie met rekenaars in 'n transhumanistiese wêreld is niks nuuts nie, ook nie in die Afrikaanse digkuns nie, daarvan getuig die vele gedigte van ondermeer Joan Hambidge, Tom Gouws, Johann de Lange en Eveleen Castelyn, wat die digitale kultuur tematies en metafories aanwend om uitdrukking te gee aan verlies, eensaamheid en 'n behoefte aan liefde, vriendskap, seks en identiteit. Waar meeste van hierdie digters die kuberruimte as 'n negatiewe (geïsoleerde, onpersoonlike) omgewing uitbeeld, verbeeld Slippers dit egter as grotendeels positief, al is sy nie blind vir die beperkinge van die internet nie. Heelparty gedigte in Soekenjin gaan oor hoe die mens intimiteit, spiritualiteit en bewussyn deur die bemiddeling van rekenaars ervaar, en hoe die kubermens se identiteit deur aanlyn "posts" en "myspace-estetika" bepaal word, byvoorbeeld in die gedig "extremely online" (16).

    Die konflik wat tussen die virtuele en werklike wêreld kan ontstaan, word uitstekend verbeeld in "DAGLIG OP DIE EERSTE" (46):

    [...] jy sleep jou vinger oor jou foon the tension is tangible

    "TINDER" sis die somer maar hierdie is die lewe die son is onbarmhartig en hoe

    swipe mens regs in die meat world, baby? [...]

    (oorspronklike kursivering)

    Die "meat world" in die bostaande aanhaling verwys na die "onbarmhartige" realiteit waarin daar nie soos in die gesimuleerde wêreld van Tinder "regs" ge-"swipe" kan word nie. Om regs te "swipe" op hierdie toep dui aan dat jy van die persoon hou wat jy voor jou op jou selfoonskerm sien, 'n aksie wat nie in "die lewe" moontlik is nie. Hier ontstaan dus spanning tussen kuberruimte en die werklike omgewing, sowel as 'n versmelting van mens en rekenaar.

    Alhoewel rekenaars die moontlikheid van andersoortige representasies van liggaamlikheid skep, kan die mens egter (nog) nie heeltemal ontvlug van die fisieke liggaam ("meat world") se beperkinge nie, al maak die internet 'n parallelle wêreld moontlik, en al is die mens se bewussyn, intimiteit en identiteit ten nouste met rekenaars verweef.

    In Soekenjin besin Slippers ook oor die persona(s) wat openbare figure in die publieke oog moet handhaaf, onder andere in die beeldgedig "La Dama col liocorno" (130):

    Geen mens kan 'n ek wees onder soveel

    oë nie. Om so te sit is 'n optrede, voorgee

    terwyl waarheid kramp in jou kaak.

    en

    [...] gewaar

    die inspanning en irritasie, die ander vrou

    (met 'n skaap in elke mou) wat my mond

    van binne af op knip moet hou.

    Die mens se nimmereindigende soeke na sinvolheid staan sentraal in Soekenjin. In "kruiper" (55) word dié ewige hunkering soos volg verwoord:

    [...] hierdie soektog kan vir ewig

    duur, hierdie chaos smeek om klassering.

    [...] ek bewe

    in die aangesig van soveel behoefte, die tienduisend roetes

    deur die tienduisend dinge.

    Danksy die internet was die mens nog nooit op een slag in kontak met soveel "vriende" nie, maar ook nog nooit so eensaam nie. Verlatenheid en verlange kom daarom, in teenstelling met Slippers se grotendeels positiewe uitbeelding van die internet, ook gedurig in hierdie bundel ter sprake, onder andere in "die somer van die cream-soda sonroom" (45):

    [...] ek het

    cream soda-sonroom op my rug probeer smeer maar een strook was altyd skelrooi en teergebrand want my eie hande aan my eie arms kon nooit bykom waar jou hande was nie

    Gebruiksartikels skiet dus, soos die spreker se arms, heeltemal te kort, want dit kan nie kompenseer vir die gebrek aan menslike aanraking nie. Ook die internet, wat in "Lonely T-Rex" (92) as "leegtes vol nagemaakte vreugde" beskryf word, kan nie opmaak vir die ontbering van liefde nie, daarom is daar in "under the pink" (134) 'n terugkeer na die self, word daar wegbeweeg van die kuberruimte, en eerder gefokus op wat "onder die vel" aangaan:

    [...] wanneer jy klaar deur die web

    gesoek het, wanneer wyd nie wyer wil nie [...] keer in. onder die pienk wag die groot werk en baie wonders. [...]

    In Soekenjin word daar dikwels met nostalgie na verouderde tegnologie gekyk en word gebruiksartikels wat in onbruik geraak het metafories van verlies en selfs die dood, soos byvoorbeeld in die volgende uittreksel uit "technoaural nostalgia whippets" (91):

    ver weg kan hulle die Nokia-luitoon hoor wat soos 'n vae herinnering van 'n verlies op die bries aankom, ook die gekekkel en gekrys van 'n dot matrix-drukker wat sy werk

    langsaam verrig, die opwen van 'n rolletjie film en die besliste

    klik van 'n analogiese kamera, uit die dae toe daar nog iets

    soos feite was. luister, daar: die sirkel-kraak van 'n draai-

    telefoon [...]

    Met die bostaande gebruiksartikels word daar, soos ook elders in die bundel, fenomelogies en tegnomorfisties omgegaan deurdat rekenaars, afstandbeheerders, sproeiers, dakwaaiers, longmasjiene en 'n slimhuis vermenslik word; want dit is nie net mense wat objekte bemeester en beheer nie, maar ook objekte wat 'n vormende invloed op die mens het. Só byvoorbeeld, word die spreker in "the genre-bending post-everything world Bon Iver helped create" (126), wakker in 'n wêreld "waarin [haar rekenaar se] cursor soos 'n hart klop [...]".

    Tegnologie wat in onbruik geraak het, word gelykgestel aan die mens se verganklikheid wat verkonkretiseer word in die vele gedigte oor verlies onder die opskrif "gmail: argiewe van die lewe" (94), hetsy dit die einde van 'n liefdesverhouding, of die afsterwe van 'n vriend is. Hierdie e-pos-gedigte, ondermeer "LIEWE C" (96), getuig van Slippers se vaardigheid as digter:

    [... ] jy moes jouself leer sweef

    en ek respekteer dat dit soveel geverg het. ek leef

    in spyt en kruip jou agterna, maar daar trek jy al. [...]

    In "oggend: 'n indeks" (60) word die natuurlike wêreld moeiteloos versmelt met die kunsmatige:

    daar is voëlgesang soos luitone, soveel fone wat vibreer, dial-up-

    modems en tv games in blare en gras.

    [...]

    [...] die nag is op life-support, long-

    masjiene haal in die verte asem. die son sit haar gps-horlosie aan [...]

    Die reël "'n bandsaag wil besigheid praat [...]", dui weer op masjiene wat al hoe meer mens word, want die grens tussen mens en masjien vervaag toenemend, sodat objekte 'n verlengstuk van die menslike liggaam word.

    Laasgenoemde stelling word bevestig in "Cornflake Girl" (120):

    Daar kom 'n dag waarop 'n meisie weet sy is vyftig persent weefsel

    en vyftig persent wikipedia, net vesel en feite, dis ek daai [...]

    Soekenjin het nie 'n inhoudsopgawe nie, want dit weerspieël die simultane aard van die internet waarop "alles, oral, helemal gelyktydig" (9) gebeur. Die spreker in "alles: 'n cento" (13) beaam hierdie stelling:

    'n Mens hoef net na jou eie lewe te kyk om te sien hoe absurd dit is om te dink

    dat alles verduidelik kan word as 'n eenvoudige liniêre proses van oorsaak en

    gevolg: Jy kan nie alles gelyk voel nie, tot jy kan.

    Die gedigtitels "space dog", "Past the Mission", "Pretty Good Year" en "Cornflake Girl" is almal geneem uit Tori Amos se album Under the Pink (1994). Soos Amos se lirieke op hierdie album, gaan ook Slippers se gedigte oor introspeksie en 'n behoefte aan betekenis en spiritualteit. Soekenjin is egter nie 'n blote imitasie van Amos se werk nie, inteendeel. Slippers gaan op 'n idiosinkratiese wyse daarmee om, soos byvoorbeeld in "Past the Mission" (39) waar roosname gelys word om tot by die gevolgtrekking te kom "dat elke oomblik van vreugde 'n groot / hoeveelheid onkunde veronderstel".

    Slippers betrek ook The National en Bon Iver se lirieke in haar gedigte. Die resultaat is verse wat dalk met die eerste oogopslag enkelvoudig mag lyk, maar wat inderwaarheid uiters genuanseerd en meerduidig te werk gaan met die temas van verlies, liefde, teleurstelling, eensaamheid, depressie en verganklikheid. Deur middel van hierdie filosofiese gedigte bewys Slippers dat oorspronklike kreatiwiteit steeds moontlik is in 'n wêreld waar outentisiteit deur kunsmatige intelligensie bedreig word, ofskoon sy juis in beide haar bundels te kenne gee dat niks nuut onder die son is nie, dat alles uiteindelik nabootsings van nabootsings is.

    Met Soekenjin skud Slippers haar verpakking as "popdigter" af, want dié gedigte benodig nie die foefie van pienk papier nie. Dit kan alleen staan. En dit staan sterk.

     

    Geraadpleegde bron

    Castelyn, Eveleen. Minder as die engele. Human & Rousseau, 1990.         [ Links ]