Open-access Sirkelgang

BOOK REVIEWS

Sirkelgang

Marlies Taljard

Onafhanklike navorser, Pretoria, Suid-Afrika. ORCID: https://orcid.org/0000-0003-2386-4760;

Johann Lodewyk Marais.
Gansbaai: Naledi, 2023. 86 pp. ISBN 9781991256096.

Johann Lodewyk Marais se veertiende bundel, Sirkdgang, is 'n komplekse, meervoudig gelaagde werk. Die motto-gedig, "Interteks" (9), suggereer die belangrikste bundelkodes en -temas:

'n Mens kan nie verhelp om meer te leer

wanneer jy die aarde in jou hand neem

en gebuk by die kleisloot 'n vorm,

oeroud én nuut, te voorskyn wil bring nie.

Tel dit met eerbied op: Dit is rou klei

Met miljoene vingeraldrukke op.

Op die voorblad pryk 'n afbeelding van Lynette ten Krooden se olieverfwerk Greenstone-stratum uit haar Gaiareeks-'n sirkel. Gaia, die Griekse aardgodin verteenwoordig binne die moderne ekofilosofie die hipotese dat die aarde se biosfeer en geologie één ekosisteem of organisme is wat alle lewe onderhou. Die sirkel word verbind met skepping, eenheid, heelheid, volledigheid, oneindigheid, vernuwing, interverbondenheid, spiritualiteit en die siklus: lewe- dood-wedergeboorte. "Sirkelgang" is, volgens die Aanlyn HAT, "beweging wat in homself sluit".

Die sinekdogee "die aarde in jou hand neem" (9) is een van die belangrikste konsepte waarop die bundel berus. Dat die kleine in die grote teenwoordig is en andersom, hou verband met die idee dat die fundamentele boustene van die heelal of van stelsels, soortgelyke organisatoriese beginsels vertoon as die groter strukture wat hulle vorm. Daardeur word die kompleksiteit van die heelal erken, asook ons onvermoe om dit ten volle te begryp of dit op enkelvoudige wyse te bedink en te verwoord.

Die stylfiguur waarin "rou klei" (9) die aarde en alles wat deel is daarvan verteenwoordig, soos die digter-spreker se "voorouers [wat] steeds ter ruste lê / in bestrede en belaste aarde" ("Die uur", 86), is myns insiens die sterkste koherensiekrag wat die bundel as eenheid saambind. Grond is 'n produk van groeiende, sterwende en ontbindende lewensvorme. Daarin kom geologiese vorme voor wat op huUe beurt lewe onderhou en toestande skep vir lewe. Dit is verteenwoordigend van die aarde self en kom binne 'n veelheid betekenisonderskeidinge dwarsdeur die bundel voor. Die betekenis van gelyktydigheid én siklisiteit staan voorop deurdat die stuk klei "miljoene vingerafdrukke" (9) in sigself bevat, van primitiewe lewe tot die hede.

Die eerste bundelafdeling sluit aan by die motto-gedig deurdat dit aspekte van die paleontologie ontgin. In die aanvangsgedig word die plastiek dinosourus uit 'n "Lucky Packet" en die versteende blaar gejukstaponeer "in die uitstalkas" by die digter-spreker se huis (13). In "Neanderdal" (15) word "stukke been, werktuie / en die oorskiet van huUe binnegoed" tot digterlike stof omskep wat op sy beurt ons voorouer Homo neanderthalensis, wat "op die aarde sonder spore verdwyn", nogeens tot lewe opgeroep.

Grond en sy talryke metonimiese en metaforiese betekenisse kry gestalte in afdeling II wanneer "grond" uitgebrei word om plek, ruimte, en grondbesit in te sluit. Die sirkelgang van die lewe, soos verteenwoordig deur die familie en familiegeskiedenis as aaneenskakeling van geslagte is vandag ten nouste met grondbesit verbonde. In hierdie afdeling is Marais die geskiedkundige aan die woord en word plekke wat reeds in vorige bundels en in sy nie-fiksie besoek is, herbesoek: die Letsitelevallei in "Coach house" (21), "Platrand" (23, 24), "Warden" (25), "Ladysmith - Harrismith" (30) en die binneland van Afrika ("Reisplan", 36). Oral is daar spore van die digter se persoonlike geskiedenis en diegene wat voorheen daar was:

Platrand, Ladysmith

Hierdie beskermende hande omsluit

die beendere wat liddiet en buskruit

weleer oor hierdie landskap verstrooi het

en laat rus onder die Hap van die kluit. (23)

Hiermee is ons terug by die aanvangsgedig se "rou klei" en die spore van lewe wat daarin verseel is. Grond is hier die metafoor waarin herinneringe bewaar en opgesluit lê en aan die hand waarvan ons as tans lewendes ons identiteit skep. Grond het in hierdie gedig ook die betekenis van beskerming of geborgenheid én van (uiteindelike) rus.

In die derde afdeling van die bundel word plek/ruimte en herinnering met mekaar verweef In "Kompanjiestuin" (42) is dit skrywers soos Karei Schoeman en die digters van Dertig wat betrek word om hierdie verweefdheid uit te beeld. "Klaarfontein" (43) is een van die teerste liefdesgedigte uit die digter se pen, 'n digter wat meermale oenskynlik objektief by sy stof betrokke is. Die slotreëls lui:

Maar nou ontmoet ek jou in die vleiland

langs die rivier, in die koppe en berge -

vlinderwit tussen vergeet-my-nietjies,

in papiersonnetjies van sewejaartjies

in ons geestelike eskarp in die berge

waar jou sielsteenwoordigheid tuis is.

"Onvoltooid II" (44) is eweneens 'n pragtige liefdesgedig met eggo's van Van Wyk Louw, en in 'n gedig soos "Kroegpraatjies" (41) is Marais die knap verteller wat fassineer en suggereer en die leser met meer vrae as antwoorde laat.

Afdeling IV, getiteld "Siel van die slang" (na aanleiding van E.N. Marais se "Die siel van die mier") reik terug na die digter se vroeer kritiese diere-, insek-en plantstudies. Oeroboros kom wel nie eksplisiet in enige gedig voor nie, maar kan nie buite rekening gelaat word by die interpretasie van gedigte in dié afdeling nie. Wat sterker uit die verf kom, is die skrik en die slang as onheilswese: "ek vlug gillend los uit Pa se hand" ("Gewone luislang", 47) en oor die rinkhals met vermorselde kop (50):

Wanneer die son sak,

vaar sy gees glo op

na die duiwel toe.

In "Pofadder" (52) word die mens se bemoeienis met die koudbloediges beskryf aan die hand van 'n ingewikkelde operasie op 'n pofadder-maar, helaas, om die mens en sy selfsugtige motiewe te dien deur die gifkliere te verwyder.

Een van die ordenende gedigte in die bundel, "Beesmis" (59) in Afdeling V, verwys terug na die motto-gedig deur die uitbeelding van 'n mini-ekosisteem en die sirkelgang van die lewe in/op die grond:

Hierdie teken van Afrikaners lê

oop en bloot op die grasvlakte en lok

die miskruiers om dieper te grawe,

aandag te gee aan besonderhede

van malse grasse, takke en blare

op dié dag se spyskaart: die voorkeure

van die heersers van die savanne

wat maak en breek, hulle harte uitstort

oor wat eetbaar, geurig en bros is

en uitgewerp word vir een en almal

om weg te dra, te vreet en te verteer

tot alles weer na die aarde terugval.

Poëtiese besinning oor die voedselketting en die mens se selfsugtige manipulasie daarvan, is die hooftema van Afdeling V. Hier demonstreer die digter sy virtuose omgang met taal as 'n vlymskerp instrument van kritiek teen die mens wat sigself as losstaande van en verhewe bo ander spesies en natuursiklusse beskou. Die ysingwekkende frase "[k]om uit Afrika die grondgedagte / dat alles wat lewe geeet mag word?" (74) in die volgende afdeling, verwoord ook die donker ondertoon van hierdie afdeling waarin "lewende wesens / klaargemaak [word] vir die toestande wat wag" (60): "die flits van 'n lem [...] / voor ons jou dele / vlymskerp opsny" (61). Kronologies en al hoe meer gestroop word dié unheimliche reis uitgebeeld totdat in die laaste gedig in hierdie afdeling, "Karkas" (63), nog net die verwerkte snitte beesvleis opgenoem word.

Die voorlaas te afdeling fokus enersyds op die bewaring en andersyds op die vernietiging van die aarde en die mens. Figure soos Mahatma Gandhi (69), Wladimir Poetin (71), Jair Bolsonaro (76) en Greta Thunberg (77) vorm die tema van verskeie gedigte. Teen die grein vra die onthutsende ars poetica-gedig "AK'47" (70) dat ons wéér die krag van die poëtiese woord bedink: "Michael Kalashnikov was 'n digter", maar hy het ook 'n "gasgedrewe / aanvalsgeweer bedink [...] lig genoeg vir 'n kind om te kan dra". En die slot:

Maar die skuld vir die bloed wat vergiet is

en 'n klad op nagedagtenis laat:

Kan 'n digter se verse dit uitwis?

Die slotafdeling bevat enkele korter gedigte, onder andere dié haikoe (83) wat die bundeltema netjies opsom:

Die afgesaagde

naboom het in sy spinthout

'n volmaakte ster.

Die slotgedig, "Die uur" (86), 'n pragtige stemmingsvolle vers, sluit eweneens aan by die motto-gedig én by die eerste afdeling deur verwysing na voorvadergrafte en die sirkelgang van tyd.

Oorkoepelend beskou is Sirkelgang 'n fyn afgewerkte en deeglik beplande bundel deur 'n meester van die understatanent, 'n perfeksionis wat sy gedigte tot die been stroop om die essensie bloot te lê-'n vakman wat sowel klassieke as vrye vorme meesterlik beoefen. Johann Lodewyk Marais herbevestig met hierdie bundel sy plek as een van die belangrikste digters in die kanon van die Afrikaanse poesie.

Correspondence

taljard.marlies@gmail.com

Publication Dates

  • Publication in this collection
    10 Sept 2025
  • Date of issue
location_on
Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Department of Afrikaans, Tydskrif vir Letterkunde Association Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Hatfield, Pretoria, Gauteng, ZA, 0002, Tel: +27 12 420 4075 - E-mail: tvl@postino.up.ac.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top