RESENSIES / REVIEWS
Atrium: Gedigte 1970-2025
Marlise Joubert
Karen de Wet (samest.).
Pretoria: Protea Boekhuis, 2025. 255 pp.
ISBN 9781485316060.
Vyf-en-vyftig jaar nadat Marlise Joubert se eerste bundel, 'n Boot in die Woestyn (1971), verskyn, publiseer Protea Boekhuis die versamelbundel Atrium, met gedigte uit al elf bundels van die digter, asook enkele nuwe gedigte. Hierdie bundel is om verskeie redes belangrik. Eerstens is dit 'n viering van die werk van 'n belangrike digter wat oor die bestek van meer as 'n halfeeu konstant gepubliseer het. Dit is egter ook vir lesers wat nie al haar bundels besit nie, 'n kortbegrip van haar digterlike werk. Derdens is Atrium 'n dwarsdeursnee van Joubert se werk waarin gedigte soos jaarringe die rypwordingsproses van 'n digter vertoon.
Om 'n seleksie van 'n digter se lewenswerk saam te stel, is geen geringe opdrag nie, nog minder is dit 'n "onskuldige" daad. Karen de Wet, samesteller van die versamelbundel, is 'n gerekende bloemleser. Dink aan bundels soos 'n Vry vrou: Gedigte van Antjie Krog (2020) en Vers en Vrou (2020). Uiteraard sal elke samesteller ander gedigte kies om in so 'n verteenwoordigende bundel op te neem. Daarom is die deeglike verantwoording aan die begin van die bundel besonder belangrik. Hierin sit De Wet oorwegings uiteen wat haar keuse uit Marlise Joubert se werk onderlê en vorm dit as't ware 'n roetekaart vir die lees van die bundel.
Ten aanvang verduidelik sy die keuse van die titel: die atrium was histories die oop binnehof van 'n Romeinse huis. Die woord verwys eweneens na die boonste twee hartkamers waar bloed ontvang word en gesuiwerde bloed weer uitgepomp word na die liggaam-metafories die digproses waar die alledaagse tot poësie "gesuiwer" word. Ook die huismetafoor loop dwarsdeur Joubert se oeuvre. Die hart figureer in haar digkuns veelvuldig: "[die] hart wat liefhet en gekwets kan word, hartsake en kamers van die hart as tematiese materiaal [soos] ontluikende liefde, versaakte liefde, moederliefde, liefde vir familie en soortgenote (kunstenaars, digters), liefde tussen minnaars." (18)
De Wet verwys ook na talryke ander temas wat in Joubert se werk voorkom, sowel as na die belangrikste stilistiese kenmerke van haar oeuvre. Sekere temas kom by herhaling voor, maar die fokus verander geleidelik. In haar vroeë bundels word liefde, erotiek en vrouwees dikwels liries-sensueel verwoord, terwyl liefde in later bundels dikwels fokus op moederskap, versorging, versoening en deernis. Vrouwees en die vroulike liggaam is sekerlik dié bekendste tema in die Joubert-oeuvre-maar ook ander temas soos die ars poetica, gesprek met ander kunstenaars, reis, familie, later kom afskeid, die sloping van die liggaam, pyn en siekte by, en in die laaste paar bundels ook sosiale kritiek en die ontsetting van oorloë. Die gesprek met haar moeder is één tema wat steeds teenwoordig is, selfs ook na die moeder se afsterwe.
De Wet het dit reggekry om 'n gebalanseerde samevatting van die ontwikkeling van dié temas in Atrium aan te bied. Die aantal gedigte wat uit elke bundel opgeneem is, suggereer die relatiewe waarde van elke bundel ten opsigte van die volledige oeuvre. Van 'n Boot in die woestyn is vyf liefdesgedigte opgeneem en een gedig wat aan die moeder gerig is. Uit Domus is agt gedigte opgeneem wat die belangrikste vroeë temas van die digter se werk verteenwoordig, naamlik die vrou, die huis as ruimte waar geliefdes saam kan wees, verskeie gedaantes van die liefde en reis. Twee outobiografiese gedigte handel oor die digter se tuisdorp-"Vir jou soos my naam" waarin die tuisdorp as't ware die digter se identiteit bepaal en "Vensters in die Waterberg".
Die bundel so ver en verder lewer meer beleë gedigte op en die toonaard sedert Domus verander geleidelik na minder ekstaties, met soms hartseer en selfs donkerder ondertone. Die styl is nou dikwels ekspressionisties en sluit metafories en deur beeldgebruik aan by die digter as beeldende kunstenaar. Reeds hier is die duif as deurlopende simbool teenwoordig. Dit is 'n bundel wat heelwat reisgedigte bevat. Die vier gedigte wat uit Ontruiming (1986) opgeneem is, sluit stilisties by hierdie gedigte aan wat betref die ekspressionistiese styl, terwyl ontnugtering met 'n verbrokkelende verhouding en enkelouerskap nuwe temas is. In "ek vermy jou saamgestelde oë" (67) klink dit so:
maar dis waar
my enkelouerkorf
heuningloos
maak my kinders nie heel nie
Lyfsange (2001) is 'n bundel waaruit vandag steeds dikwels aangehaal word, veral bekend om sy erotiese gedigte waarin liggaam en landskap soms ineenvloei. De Wet neem sewe gedigte uit dié bundel op, veral gedigte waarin die klem val op die vrou, soos in "Die vrou loop in strate" (72-3):
die vrou van die nuwe millennium
droom van 'n ruisende koringveld
waaruit Van Gogh se leeurik vlieg
"In memoriam Strooi" lui in hierdie bundel die kat-tema in, wat veral die digter se laatwerk kenmerk, terwyl "Pa" 'n huldiging aan 'n gestorwe vader is wat verband hou met latere moeder-gedigte.
Van hier af word daar ooglopend meer gedigte uit elke bundel opgeneem en is dit duidelik dat De Wet die fase sedert Passies en passasies (2007) as die belangrikste deel van die oeuvre beskou. Die 16 gedigte in hierdie afdeling is weereens op die vroulike belewenis afgestem, met sommige van Joubert se mooiste liefdesgedigte hierby ingesluit.
Splintervlerk (2011) is 'n bundel gedigte oor pyn, siekte en liggaamlike agteruitgang, geskryf na 'n groot rugoperasie. My insig is dat dié bundel Joubert se laatwerk inlei. Daarna volg Bladspieël (2015) waarvan tien gedigte opgeneem is. Die oorheersende toonaard is nou mineur. De Wet neem uit hierdie bundel herinneringsverse op en gesprekke met medekunstenaars en familielede. Die agteruitgang van ons land kom ter sprake tesame met 'n elegie aan Nelson Mandela.
Die bundel Grondwater (2019) waarvoor Joubert sowel 'n ATKV-Woordveertjie as die SALA-poësieprys ontvang, is beslis die belangrikste in haar oeuvre. Protea Boekhuis beskryf dit as 'n sensitiewe verkenning van herinnering, verlies en die band tussen moeder en kind. Soos te verwagte, word aan dié bundel ook die meeste plek in die versamelbundel afgestaan, naamlik 23 gedigte. Die brose moederliggaam, die dood en verlange na die moeder is die tema van die meeste gedigte wat uit Grondwater opgeneem word, soos "Uitskotvers" (169-70) waarin die band tussen moeder en kind in rekenaarmetafore verwoord word:
ek is van jou en jy
die moederbord waaruit ek kom
jou kop 'n hardeskyf waarop
jou taal al hoe meer fragmenteer
Ook Disteltyd (2023) het heelwat aandag in die pers gekry. Gedigte soos "as ek tagtig word" en "die vrou loop in strate 2" (198-9) (wat in gesprek tree met 'n gelyknamige gedig in Lyfsange) het veroudering as tema en is tipies van laatwerk:
lang jare het verloop
en nou sien ek 'n ander vrou
wat helaas nie meer
in strate loop nie
Die titel Laatnageilande, Joubert se laaste bundel (2023), speel in op tyd wat uitloop. Uit hierdie bundel is 16 gedigte opgeneem. Titels soos "laaste maal" en "uitvaart" sinspeel op die dood of afskeid. Verganklikheid, liefde tussen eggenote, moeders, kinders en kleinkinders, familiegeskiedenisse en herinneringe is die oorkoepelende temas in die bundel wat ook grootliks in Atrium verteenwoordig word. Gedigte soos "irina se klavier" (206) en "wat is die woord" (222-3) bevestig Joubert se sosiale gewete, veral ten opsigte van die slagoffers van voortslepend oorloë.
Ten slotte verskyn ook nege nuwe gedigte wat nog nie voorheen verskyn het nie. Atrium is 'n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse poëtiese kanon. As kundig saamgestelde en deeglik verantwoorde versamelbundel bied dit die leser 'n kortbegrip van die poëtiese oeuvre van een van Afrikaans se mees gerekende vrouedigters.
Marlies Taljard
Onafhanklike navorser
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-2386-4760
