Skulp. Hennie Aucamp. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014. 70 pp. ISBN: 978-1-4853-0069-4. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i1.22
Dat Hennie Aucamp een van die produktiefste en veelsydigste skrywers in Afrikaans was, is nie te betwyfel nie. Benewens kortverhale is hy ook bekend as skrywer van kabarettekste, liedtekste, dagboeke, kritiese opstelle en gedigte. Reeds in 1984 publiseer hy Die blou uur: 50 cocktail-kwatryne en vestig hom as beoefenaar van dié vormvaste digvorm. In Pluk die dag (1994) en Koerier (1999) word Aucamp se voorkeur vir die kwatryn voortgesit en nou in 2014 sluit hy sy omvangryke oeuvre af met Skulp, weer eens vol verse in kwatrynvorm.
Skulp staan in die teken van aflegging, van afskeid, van 'n besef van die mens se verganklikheid en 'n afwagting vir die toeslaan van "die Groot Onpartydige" (48). Reeds die motto uit Amos Oz berei die leser voor: daar word verwys na 'n eie sterfte, asook 'n gebrek aan woorde om die naderende dood te beskryf. Soos in die titelkwatryn gesuggereer, word daar nou ingekeer op die self om die onbekende en die onbetrede terreine van die lewe te ervaar.
In die ander skulp-gedig, "Nautilus pompilius" (11) word die skulp gebruik as metafoor vir die skeppingsproses met sy waarneming, verkenning en matematiese presisie-soos wanneer die digter die rymvas vers bedryf. Terselfdertyd word in die bundel diegene wat te vroeg debuteer berispe in "Debuutbundel" (21):
Haar skril stem striem my kuite,
my boude en my blaaie;
niks kan haar nou meer stuit nie,
sy staan in ligte laaie.
Aucamp skryf in hierdie versameling kwatry-ne oor die bekende gegewens in sy oeuvre. Daar is die intertekstuele spel met die wêreldletterkunde, die terughunkering na die arkadiese bestaan op die geboortegrond, die erotiek en die stuitige, asook 'n metafisiese besinning oor "veral nou" (9) wanneer die sterwensuur verwag word. Vergelyk ook die volgende kwatryn, "Heilige dae" (27):
Dié dae is heilig
en vra om geen gebed:
'n snoer vol silwer pêrels
en elkeen onbesmet.
Die wysgeer wat reeds in Kommerkrale (1989) vir ons "'n AB-jab vir akoliete" gegee het, maak geen preek uit sy lewe in hierdie latensverse nie. Hier is steeds die vintage Aucamp aan die woord wat skryf oor Arentino die digter van die wulpse vers of die regisseur van rillerprente Murnau wat opspraakwekkend aan sy einde gekom het. Daar is ook die randfigure wat so eie is aan Aucamp se oeuvre, soos in die volgende kwatryn, "Transvestiet":
Sy stoppelbaard prik sy grimering
en daar is swelsels onder sy oê,
maar die liggaamstaal en o! die ring!
bevestig sy alvermoë.
Om een bundel met dieselfde tipe vers (Aucamp het ook die sonnetvorm beoefen) te produseer en steeds die leser se aandag te kan hou, is nie almal beskore nie. Aucamp wissel die kwatrynpatroon af en steek nie vas in een tema nie; hy varieer. Soms skep 'n rymwoord of twee die gevoel van gedwongenheid ("om die akker vir die beetoes te rooi") of is daar 'n fasiele beskrywing van byvoorbeeld 'n wolkie, maar in die geheel gesien, is dit 'n welkome bydrae tot laatwerk in Afrikaans-soos Johann de Lange op die agterplat aandui.
Ter afsluiting, 'n gepaste selfrefleksiewe kwatryn, "'n Diva vertrek" (47):
Haar hand beskryf 'n halfmaan: Sy groet
terwyl haar boot vertrek, soos in 'n stoet,
na Bestemming Onbekend. Hoe lyk die nuwe plek?
en hoekom geen blomme en wimpels op die dek?
Marius Crous
Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit
Port Elizabeth
Karnaval en Lent T. T. Cloete. Tafelberg-Uitgewers. 2014. 160 pp. ISBN 978-0-624-06774-0. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i1.23
Karnaval en Lent is T T Cloete se tiende digbundel. Soos in sy voorafgaande bundels, maar meer pertinent hier, staan die spanning tussen die vleeslike en die geestelike, die soma en die pleroma. Die bundeltitel verwys na twee pole: die karnaval, die uitspattige fees in die Rooms-Katolieke kalender, en dan die Lent, die sober vastyd wat volg op die karnaval.
'n Sentrale visuele interteks waarna daar telkens teruggekeer word in die gedigte, is die bekende skildery uit 1569 van Pieter Brueghel de Oude, Die geveg tussen Karnaval en Lent, waarin wêreldse feesvieringe teenoor geestelike instellings gestel word; die vark, simbool van onreinheid en vraatsug, teenoor die vis, simbool van Christus en van reinheid.
Deur die gedigte word daar dan telkens voortdurende, onopgeloste (en onoplosbare?) uiterstes (Karnaval en Lent is immers "een gedig", aldus die bundel se subtitel) teenoor mekaar gestel: oordaad teenoor tekort, rykdom teenoor armoede, ekstroverte uitleef teenoor piëtistiese inkeer, seksuele aktiwiteit teenoor die dood, "in die eindelose onbesliste swaar / Geveg tussen Karnaval en Lent // kerk en kroeg// vismark en varkhok", 'n geveg wat "geen vredesverdrag of gewapende stilstand [ken] nie" ("Brueghel bestry Descartes en Kant", 24-5).
In die eerste gedig, "Vooraf", word 'n tema in die vooruitsig gestel wat verder in die bundel ontgin word, naamlik sterk kritiek op die vermeende intellektuele verklaringsvermoëns van die mens, en dan spesifiek van sekere wetenskaplikes en astrofisici:
die oersop aan die begin is konsuis
gegis in die sielige
wetenskaplike kombuis
alles word daar geweeg getel en gemeet
deur mense wat gevangenes
van hulle eie intellek is
alle ken en weet
of óntken van die Daarvóór
berus dus op 'n dun slymerige
sopperige metafoor
die metafoor is hart en siel van die gedig dus
is dit onbetwisbaar dat alle wetenskap op 'n gedig berus
Hierdie wetenskaplikes ry ook aan die pen in "lewensafrigters" (116): "daar was ook geen ander digters as Hy / alleen nie / geen oorbodige lastige filosowe en teoloë / of astrante astrofisici wat aan Hom torring nie".
In die eerste afdeling, "Gedigte wat ek nie graag wou skryf nie", word die tematiek van teenoorstaande spanninge aan die bod gestel, asook die deurlopende motief van eet en die daarmee gepaardgaande, sikliese gevolg, uitskeiding. In "kat" lees ons: "ek vra vergifnis omdat ek die onreine / in my pynlike peins / saam met die spartelende vis indra" (15); in "die drie stadia": "uiteindelik sal ons sterf met vet om ons lippe / en vleis tussen ons tande as die armaggeddon kom" (17); "hoe onrein en aards is die grondstof/van my sublieme bepeinsing" (18); en in "Brueghel bestry Descartes en Kant": "ek éét / dáárom is ek" (23).
Die verbruikersgemeenskap kom telkens onder skoot; in "dronk gedraai iv" staan daar: "ons eet van tafels af wat bemes is / met die herwinning van ons eie afval en uitskot / vasgevang in die siklus wat deur ons papille / gedryf word // die onstuitbare kringloop van tafel> / toilet>tafel>toilet>seks>tafel // [...] ons die ondernemende ontwikkelaars konsumeer / die aarde met ons tande en tonge" (32-3).
In die afdeling "Die middelpunt en die teëwig" staan die soeke na en erkenning van God sentraal en dit word voortgesit in die volgende afdeling, "Hutspot", waarin, soos reeds bekend uit die Cloete-oeuvre, die heel kleinste met die heel grootste gejukstaponeer word. Die vervlegtheid van alles word weer in 'n entelegiese kragveld gestel-die verbandlegging tussen alles wat in die kosmos, as uitdyende Goddelike organisme, bestaan, en dit word met dikwels kinderlike verwondering beskryf, vergelyk die gedig "hutspot" (64):
die nietige wegkruip-gansogie en die groot
sonsoeker-sonneblom het dieselfde volmaakte
identies geordende spirale
gemaak deur dieselfde geniale
Onbemande Krag
is die misantropiese gesig
van die hottentotsgod
en Iwan die Verskriklike
saamgestel in dieselfde saamvat
kom die ribbok of nog mooier
die koedoe met sierlike horings
die stokinsek en die allermooiste
teer vlinder Pisces Australis
en die vis
Ichthus
Kritiek op die mensdom word nog sterker uitgespreek in die afdeling "Die onbemande krag": "hulle gaan Hom / as Hy in hulle hande val / uitsnuffel en doodmaak met sy eie instrumente / waarmee Hy hulle toegerus het / 'n mak gemaakte weerlig / 'n mak gemaakte meteoriet in 'n koeëldoppie // god vrees die mensvresende mense" (71). Ook: "ons is die vermeteles wat ons wonderlike self / onsself toe-eien en toereken / as onafhanklikes // [...] ons wat steels die Gans Andere eers na-doen / / en in en met sy eie stem hom daarna ontken" ("ploeg", 75-6). In "god lees koerant nadenkend" mymer God as liriese subjek: "ek het berou die eiegeregtige vrate / is te veel snoep klein happies / van my geheime toegelaat" (84).
Die kritiek teen die verworde mensdom en die verbruikersbestaan bereik 'n hoogtepunt-dikwels satiries-parodies-in die afdeling "Antroposeen" ('n term wat in die bundel verklaar word as "'n informele geologies chronologiese term wat dien om die getuienis en omvang van menslike aktiwiteite wat 'n betekenisvolle globale impak op die aarde se ekosisteme gehad het, te kenskets" (my vertaling). Die sikliese aard en (onder)gang van die mensdom word kragtig en byna aforisties op die bekende Cloete-manier in die volgende strofe vasgevang: "bedelaars by stopstrate / en prostitute vir penisse van getroude selibate / is die kinders van die fallus / en eier wat eksponensieel / eier en maag en eier en maag teel" ("vyf brak kolle 2", 97). In "nieu-karnaval: sitstaking in londen of washington" word daar skerp sinies sosiopolitieke kritiek gelewer op diegene wat "op sypaadjies van die metropole / ontlas en urineer [...] tussen slymerige kon-dome / en tente vir die avontuur om postpostmodern riskant / te lewe" (110). En die slot van "lewensafrigters" is meedoënloos (118):
ons die afstammelinge van die taai
Skeurvallei en die hoë Hoëveld
het noudat ons van Hom oorgeneem het
week lewensafrigters geword
(ek walg my siek van dié woord
hierdie teengif wat van gif gemaak is)
wat deur bleek afrigters afgerig word
vir die wekes wat ly aan angs aan stres
trauma vrees neurose psigose
afgerigte afrigters rig afrigters af my God my God ontferm U oor ons
om ons soos honde en perde
katte en papegaaie af te rig
om te lewe
Die liriese subjek vra ook in "mi gruwelt" (met die inspeling natuurlik op die mistiese digter Hadewijch) dat, as hy kan terugkeer, dit nie weer as "'n vandag se gruwende // afgerigte geoefende / gedresseerde / mens [is] nie" (121).
Die afdeling "Die onsigbare sprong" bevat onder meer pragtige gedigte oor jeugherinneringe en verse aan vriende en mededigters Heilna du Plooy, Joan Hambidge en Johann de Lange. In veral die derde vers aan De Lange ("onontsyferbare syfers") spreek Cloete se vermelde entelegiese verwondering duidelik.
Die bundel word afgesluit met die briljante "Agteraf":
op sy beurt is die gedig omvattend geïnteresseer
in die beleefbaar eksistensiële benoembare
en vermoedelike onnaspeurbare Onbenoembare:
hoe die vis deur my ingewande gekonsumeer
word tot drek en tegelyk Ichthus simboliseer
die liggaam kan selfs as hy vermink is
homself in 'n raptus mentis
tot die eteriese sublimeer
die gedig verklaar
die omblom van soma in pleroma
is en bly onverklaarbaar
die gedig wil die geveg tussen karnaval en lent
in 'n onbesliste gewapende stilstand op die ou end
in taal besweer
Karnaval en Lent is 'n waardige toevoeging tot Cloete se oeuvre; 'n merkwaardige bundel deur 'n merkwaardige digter.
Henning Pieterse
Universiteit van Pretoria
Pretoria
[VII]. Gilbert Gibson. Kaapstad: Tafelberg, 2013. 91 pp. ISBN 978-0-624-05884-7. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i1.24
In 'n brief aan Beeld, op 15 Januarie vanjaar, betreur 'n swartgallige leser (ene "Wayne van Tzaneen") wat hy beskryf as die "verkragting van die Afrikaanse taal en taalreëls" aan die hand van hermetiese poësie soos deur Gilbert Gibson gebesig. Hy reageer naamlik op die dagblad se plasing van 'n gedig uit Gibson se vierde en jongste bundel, [VII]. Sy grootste beswaar is dat Gibson onkonvensioneel en ontoeganklik skryf. Dat die leser inderdaad uitgedaag word, is gewis, maar [VII] is allermins 'n verkragting van die taal. Inteendeel. Soos met Boomplaats (2005), Kaplyn (2007) en oogensiklopedie (2009), word die geduldige leser ryklik beloon.
Op die buiteblad verskyn die silhoeët van 'n hond. Reeds in die Engelse woord vir "hond" lê die assosiasie met God en met die volmaakte getal: sewe. In stede van 'n woord of frase, kry die bundel en elkeen van die gedigte daarbinne gevolglik 'n nommer vir 'n noemer. Dit is skaars 'n verrassing wanneer die titelgedig, nommer [7], doelbewus weggelaat word. Hierdie strategie van weglating, oftewel ellips, word op meer as een manier gebruik in die bundel om juis die gedagte aan "volmaaktheid" te ondergrawe. Vergelyk byvoorbeeld die slotreël van [6] ("daar sal niks jou") en [66] ("jou donker oë is die oorsprong van"). Die leser word gevra om daardie gapings in te vul en self verbande te probeer lê.
'n Wye verwysingsraamwerk (of minstens die bereidwilligheid om na te speur) is der-halwe nodig, omdat Gibson in [VII], soos elders in sy oeuvre, met 'n verskeidenheid intertekste in gesprek tree wat telkens die leeservaring verryk. Dit sluit vroeëre Afrikaanse digters in soos N. P van Wyk Louw [35], Elisabeth Eybers [30], Ingrid Jonker [38], Boerneef [24] en Jan F. E. Celliers [39], asook diegene wat beeldgedigte oor Marilyn Monroe geskryf het [77]. 'n Roman deur Alexander Strachan [84], Daniel Defoe se Robinson Crusoe [91], die Britse digter, Alice Oswald [24] en Gerald Manley Hopkins se gedig "To a Young Child" [2] is belangrike merkers, benewens die Bybel wat deurgaans figureer. Daar is ook verwysings na die filmwese in [60], [32] en [49], en sekere Afrikaanse volksliedere by [15] en [20] om maar enkeles te noem.
Te oordeel na die stortvloed natuurwoorde in [VII], is die plaaswêreld 'n prominente ruimte. 'n Besonder trietsige vers is [55], waar 'n pa en seun hulle verlate plaasopstal besoek ("hulle het 'n draai gery / oor die ou werf [...] nie omgekyk nie") en 'n mens wonder oor die rede vir hulle onteiening. Die spreker het ook hierdie wêreld as kind geken en "vertroetel die houvas van kinderjare" [59] in verskeie herinneringsgedigte. Soos sy vergange jeugtyd wat "net so vinnig verdwyn soos [...] die sleutel aan pieter se tou se punt" [13], of die onthou van 'n skoolromanse met die verleidelike "klara" [4] en 'n eerste musiekles [5]. Daarbenewens is die herinneringe van 'n seun cum jongman byvoorbeeld die kwetsende woorde van 'n ouer [82] en die deurgangsrites van manlikheid by die agtervolging van 'n skaapdief [26]. Hy erken: "selfs in gedigte skryf die geskiedenis my / en nie andersom nie" [57].
Die liefdesverse in [VII] is so mooi as wat hulle ambigu is-soos dit dikwels met liefdesverhoudings gaan. In [3] sien die spreker byvoorbeeld sy geliefde vir 'n wolf aan en word die spanning tussen twee geliefdes vervat in die "afbyt" en "insluk" van woorde, [22] en [20].
Dan is daar weer pragtige momente van teerheid en troos, soos die geliefde se hande wat na sy lyf se warmte soek soos bergies by 'n vierenveertiggellingdrom [9], of wanneer sy wakker in die nag luister na sy onreëlmatige asemhaling (as gevolg van apnee) en hy besef: "ek is ingebed in die opwel van jou hart / as joune klop / sal myne / as joune stop / sal myne" [28].
Ligte, selfs komiese, oomblikke is daar ook. Vergelyk byvoorbeeld [67] waar 'n man (vermoedelik 'n werktuigkundige) staan en toekyk hoe sy ontstelde vrou of meisie vloekend wegry en hy wonder oor sy "tools [...] in die boot". Dan is daar die oulike vergelyking van die spreker se seun in [61] wanneer hy meen: "oor die radio sing iemand [...] soos 'n oupa wat koud kry".
Dit is juis die verhouding tussen pa en seun (en oupa) wat dikwels vooropstaan in hierdie bundel. Die spreker verpleeg 'n siek kind tuis [17], verwyder heldhaftig 'n duwweltjie [25], sien die slapende kind wat droom van bofbal en Ben Ten [50], reis saam [61], speel teen hom Monopoly [75] en verbeel 'n roerende toneel van 'n kleinseun op die skoot van sy oorlede oupa: "om hom met 'n oop maan / op die aarde skat te omhels" [38]. Lees 'n mens dan [69], word dié gedig 'n treffende poging om aan drie geslagte se vaderverlies uitdrukking te gee (aldus Beukes in sy Rapport-resensie).
Verlies is weliswaar 'n sentrale tema, en daarom ook die dood. Verlies (aan geliefdes, aan die plaas, aan jeugdigheid, aan eenheid met G/god) word verstegnies onderskraag deur die vroeër genoemde tegniek van weglating, soos die feit dat [7] in sy geheel "ontbreek". Daardie leemte word egter herstel met die gerussteling van die slotgedig: "hier is die gedig van god [...] almal gaan op die ou end dood / al is daar nie 'n ons nie / gaan hy waar ek gaan / en waar jy ek." [85].
[VII] bring nooit werklik enige sluiting nie (moenie deur die punt aan die einde van [85] mislei word nie); die leser moet self daarvoor werk. Daarom bemaak die digter ook in sy testament aan ons "die terrein van ink / wat swart word voor die oë / die domein van nie die waarheid nie / maar die suggestie daarvan" [64]. Ons moet sy "spore volg / soos ink na 'n inkvis verskrik" [24], want dit is deur middel van poësie, waarin woord en sintaksis tot breekpunt gespan word (om die uitgewer na te sê) dat ons kan probeer "worstel met die hele van die heelal" [71].
Louis Esterhuizen skryf dat hermetiese poësie (waarvan Gibson een van die min praktisyns is in Afrikaans) vra vir opwindende of avontuurlustige lesers, en hy haal T S. Eliot aan wat gesê het: "Genuine poetry moves before it is understood" (2013). Ter afsluiting van sy brief in Beeld, vra Wayne van Tzaneen in sy brief sardonies:
of het ek nie
'n clue
wat aangaan
dalk is ek
beck
in my kop
'n Mens wil jouself kwalik 'n antwoord op sy retoriese vraag veroorloof, behalwe as om met Ingrid Woudstra te sê: "Die ervaring van toeganklikheid onder lesers sal verskil na gelang van die leser se agtergrondkennis oor verstegniese aspekte, sintaksis en semantiek". En amper asof in respons, sê die spreker in gedig nommer [42]:
hierdie woorde kom so naby jy
kan hulle rulk
en hulle verwerp insig
hulle verwerp oordeel [...]
want woorde is meer geheim as treinstasies
minder openbaar as logika
woorde se verdediging is beheers
Neil van Heerden
Pretoria
Geraadpleegde bronne
References
-
"Brief: Sulke gedigte 'n gemors, verkrag taal". Beeld, 15 Jan. 2014. <http://www.beeld.com/opinie>
» http://www.beeld.com/opinie -
» http://152.m.1.87/argiefberigte/rapport/2013/03/16/RH/6/17Mrt-boek01.html -
» http://www.litnet.co.za/Article/gibson-se-verse-maak-selfs-die-dood-nie-gedaan-nie -
Esterhuizen, L. "Hermetiese digkuns, danksy die genade van die raaisel". Versindaba, 28 Mei 2013. <http://versindaba.co.za/2013/05/28/louis-esterhuizen-hermetiese-digkuns-danksy-die-genade-van-die-raaisel/>
» http://versindaba.co.za/2013/05/28/louis-esterhuizen-hermetiese-digkuns-danksy-die-genade-van-die-raaisel/ - Kobra. Deon Meyer. Kaapstad: Human & Rousseau, 2013. 385 pp. ISBN: 978-0-798-16504-4. EPUB: 978-0-718-16505-1. MOBI: 978-0-798-16506-8. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i1.25
- Wanneer kaptein Bennie Griessel aan die begin van Deon Meyer se tiende roman, Kobra, na 'n bloedbad by 'n gastehuis buite Franschhoek ontbied word, kan hy hom beswaarlik indink watter komplekse wendings dié moordsaak in die loop van 385 bladsye gaan neem. Geswore Deon Meyer-aanhangers sou waarskynlik níks minder van 'n nuwe roman van dié misdaadskrywer verwag nie.
- Soos wat Meyer se internasionale aansien toeneem, vertoon sy romans-naas talle verwysings na Suid-Afrikaanse aktualiteite-ook toenemend kosmopolitiese kenmerke. Bennie se kollega, kaptein Vaughn Cupido, lewer byvoorbeeld die volgende kommentaar na aanleiding van die moordtoneel aan die begin van Kobra: "En wat is dit dié? Duitse owner van 'n boereplaas met 'n Franse naam waar 'n Brit gekidnap is. Fucking United Nations of Crime, dis wat ons nou word. And why? Cause they bring their troubles here. Soos daai Franse by Sutherland, en die Dewani-ding, and who gets the rap? Suid-fokken-Afrika." (25)
- Op dié wyse situeer Meyer die voorkoms van misdaad en geweld (wat al endemies blyk te wees aan Suid-Afrika) binne 'n véél groter konteks van internasionale ongeregtigheid, met die gevolg dat dit ook ironies gerelativeer, of ten minste gekontekstualiseer, word.
- By die gastehuis, La Petite Margaux, is daar drie lyke met drie perfekte kopskote. Twee van die oorledenes is militêre tipes, oud-SAPD-lyfwagte wat as persoonlike sekuriteitswagte vir Jeanette Louw, besturende direkteur van Body Armour (soos in Onsigbaar en 7 dae), gewerk het. Aan die chaos in die hoofslaapkamer wil dit lyk asof 'n vierde persoon ontvoer is. Later blyk dit ene David Patrick Adair, 'n professor in Toegepaste Wiskunde en Teoretiese Fisika aan die Universiteit van Cambridge te wees wat Suid-Afrika met 'n vervalste paspoort in die naam van Paul Anthony Morris binnegekom het.
- 'n Belangrike ontdekking is dat die patroondoppies wat op die toneel gevind is, die gravering bevat van 'n spoegkobra en die letters NM, 'n afkorting vir Naja mossambica-die Latynse naam van die Mosambiekse spoegkobra. Die aanvanklike vermoede is dat 'n internasionale huurmoordenaar, 'n gebore Mosambieker met die naam Joaquim Curado, die huurmoordenaar ("Kobra") is.
- Soos in vorige Meyer-romans worstel Bennie Griessel, as tipiese hardebaardspeurder (hard-boiled detective) met allerlei persoonlike demone en probleme. Terwyl van dié probleme-soos sy gebroke huwelik, sy drankstryd, sy afwesigheid as vader-aan gereelde lesers bekend behoort te wees, bring sy verhouding met die sangeres Alexa Barnard ook 'n hele paar nuwe probleme mee. ('n Mens sal byvoorbeeld moeilik weer met dieselfde mate van onskuld aan die woord "karnallie" kan dink.) Bennie se twyfel of hy opgevoed, vermoënd en viriel genoeg is om aan Alexa se hoë verwagtings te voldoen, asook die voortdurende vrees dat sy "die een of ander tyd deur [hom] gaan sien" (267), kan as 'n subtiele appropriasie van die konvensionale eienskappe van die macho hardebaardspeurder beskou word.
- Wat sy werk betref, gaan dit nie veel beter met Bennie nie: Hy moet byvoorbeeld op 'n daaglikse basis sy bestaan as lid van die Valke en gesamentlike operasionele bevelvoerder van die Kobra-saak regverdig, en boonop bewys lewer dat hy kan tred hou met die tyd, al praat Vaughn nog van hom as 'n "old dog" en Bones van 'n "old salt":
- Hy het die afgelope ses maande so hard gewerk om in te haal, om aan te pas by die Valke, om die hele span-ding te aanvaar en 'n doeltreffende speek in die Valke-wiel te word. Ondanks die feit dat hy die oudste speurder in die Geweldsmisdaadgroep is, verstok in die tradisionele manier van dinge doen. (54)
- Ten spyte van sy eie tekortkominge en sy bewustheid van al die gebreke in die bestel, bly Griessel 'n idealis met 'n verbete drang om die "Kobra" vas te trek:
- Want daar is vir hom iets ontsaglik afstootlik aan die hele konsep van 'n huurmoordenaar met 'n handelsmerk. Dis sosiopaties, dis arrogant, dis vir hom soort van verteenwoordigend van alles wat verkeerd is met hierdie land, almal is gelden status- en roembehep. Dis al hoe meer die wortel van die kwaad, die oorsprong van al hoe meer misdaad. (...) En om ouens te vang, dit is wat hy kan doen. In elk geval al wat hy ordéntlik kan doen. En hy kan dit nie ontken nie, hy doen dit dikwels met sukkel en foute, maar daardie oomblik wanneer jy die boeie om die fokker se polse knip en jy sê vir hom 'jy's onder arres', daar's min wat daarby kom, dit is wanneer die heelal weer balanseer, vir 'n oomblik lank. (118)
- Ondanks die feit dat Bennie Griessel waarskynlik een van die bekendste én gewildste hardebaardspeurders in Afrikaanse misdaadfiksie is, behoort Kobra in 'n groot mate aan die sjarmante grypdief, Tyrone Kleinbooi, wat as 'n andersoortige antiheld die hoofkarakter van die tweede verhaallyn van die roman uitmaak Met sy pleegpa, Uncle Solly, se praktiese diefstalraad as 'n tipe "gedagtestem" en morele kompas, steel Tyrone beursies en selfone- meestal van goedgelowige, ryk toeriste-om sy suster se universiteitskostes te dek en die huur van sy kamer te betaal.
- Wanneer hy egter die beursie van 'n besonder aanvallige Mediterreense skoonheid by die Waterfront vaslê, word hy nie net deur die sekuriteitspersoneel vasgetrek nie, maar beland ook die dodelike "Kobras" op sy spoor. Hulle slaag byvoorbeeld daarin om sy suster, Nadia, op die US-kampus te ontvoer. 'n Algoritme op die inligtingskaart in die beursie wat Tyrone gesteel het, word uiteindelik as losprys vir sy suster se lewe geëis. Oorhandig Tyrone dit nie aan die geheimsinnige "Kobras" nie, word sy suster summier tereggestel.
- Enersyds word Tyrone uitgebeeld as 'n slagoffer van die sosio-ekonomiese omstandighede waarin hy hom as jong bruin man in Suid-Afrika bevind. Hy bly egter nie handjies gevou in sy ellende vassit nie. Op besonder vernuftige wyse prakseer hy allerlei planne om dié belemmeringe te oorkom en iets van homself en sy suster (albei weeskinders) te maak.
- Aan die hand van dié besonder onthoubare karakter, dwing Meyer die leser van sy roman om sy/haar eie etiese/morele standpunte (spesifiek ten opsigte van misdaad in Suid-Afrika) te herevalueer. Aan die een kant is Tyrone 'n selferkende misdadiger wat aangekeer word vir sy oortredings; aan die ander kant kan die leser ook nie help om empatie met hom te ontwikkel en hom vir sy vindingrykheid en gladde bek te bewonder nie. Wat dinge veral kompliseer, is die feit dat Tyrone verreweg die meeste van die geld wat hy onregmatig bekom vir sy suster se universiteitskostes aanwend, én dat dit juis dié vaardighede is wat hy as grypdief aanleer wat hy uiteindelik gebruik om Nadia uit die hande van die skurke te bevry en sodoende toe te sien dat reg en geregtigheid geskied.
- Hierdie morele/etiese ambivalensie wat die leser in Kobra ervaar, bereik 'n hoogtepunt wanneer die laaste deel van die roman in 'n wraakspel ontaard: in tipies "Wilde Weste"-styl vat Tyrone 'n hele groep "giftige" huurmoordenaars met sy kennis van en vertroudheid met selfone, asook die treinverbindings in die Skiereiland, aan. Wanneer hy hulle uiteindelik uitoorlê, word hy deur kaptein Vaughn Cupido 'n tweede kans gegun: "Make a life, Tyrone. Few people get the chance. [...] Jy's 'n brave ou. Baie brave. Jou suster is lucky om jou te hê." (371)
- Hoewel uiters verrassend en onthutsend is die slot van Meyer se roman nie heeltemal nuut óf uniek nie. Nie alleen herinner dit aan die verrassende slot van sy roman Infanta (2004) nie, maar byvoorbeeld ook aan die kortverhale van Arthur Conan Doyle waarin sy bekende speurderkarakter, Sherlock Holmes, die misdadiger doelbewus laat ontsnap.
- In sy bespreking van speurverhale merk Skenazy (113) tereg op dat die hardebaard-speurverhaal gestruktureer word deur 'n plot met 'n dubbele ritme "advancing inevitably forward in time while simultaneously moving backward, against the narrative flow, to resolve the violence and disruption that have prompted the client to seek out the detective in the first place". Ofskoon die retrospektiewe gedeelte van die vertelling dikwels 'n daling van spanning tot gevolg kan hê, slaag Meyer uiters behendig daarin om nie net die spanningslyn deurentyd hoog te hou nie, maar dit selfs ook geleidelik te intensiveer. Gedurende Bennie, Vaughn en Tyrone se jaagtog teen tyd aan die einde van die roman, word die skroewe behoorlik vasgedraai.
- Soos in talle ander tydgenootlike Suid-Afrikaanse speur- en misdaadromans, word daar in Kobra baie duidelik sosiopolitieke kommentaar gelewer op die huidige stand van sake in ons relatief jong demokrasie. Dit is egter opvallend-en myns insiens ook verblydend-dat Meyer karakters soos Bennie en Vaughn se skeptisisme en ontnugtering, deurgaans aan die hand van iemand soos Mbali Kaleni se politieke optimisme en onwrikbare geloof in die bepalings van die grondwet gebalanseer en gekenter word.
- Leon de Kock het al by meer as een geleentheid na Deon Meyer se misdaadromans as "sonderlinge karakterstudies" verwys. Wat veral in Kobra beïndruk, is Meyer se vermoë om in 'n redelik digbevolkte en hoofsaaklik intrigegedrewe roman, oortuigende karakters van vlees en bloed aan die hand van karakteropenbarende, dikwels skreeusnaakse, dialoog te skep. Soos in 13 uur en 7 dae word humor ook veel kwistiger aangewend as in sy eerste romans, maar sonder dat dit enigsins ligsinnig raak of afbreuk doen aan die spannende erns van gebeure.
- As daar nie 'n mate van literêre snobisme ten opsigte van sogenaamde "ontspanningslektuur" in die algemeen, en misdaadfiksie in die besonder, bestaan het nie, sou Deon Meyer nie net as een van die voorste Suid-Afrikaanse skrywers gereken word nie, maar sou hy in alle waarskynlik ook véél meer "literêre" pryse verower het.
- Thys Human
- Thys.Human@nwu.ac.za
- Noordwes-Universiteit
- Potchefstroom
- Geraadpleegde bron
- Skenazy, P. "Behind the Territory Ahead". Los Angeles in Fiction: A Collection of Essays. Ed. David Fine. Albuquerque: U of New Mexico P, 1995: 103-25.
Op die skutblad van Die sideboard word Simon Bruinders se romandebuut voorgestel as "'n liefdesverhaal van 'n man se liefde vir sy familie, sy gemeenskap en vir houtwerk Maar dis veral 'n verhaal oor Abraham se stryd vir grond [...] en van 'n kinderlike geloof, al woed die lewenstorme om jou".
Met die lees van Die sideboard het ek die hand van 'n ervare redakteur gemis. Bruinders se neiging tot soetsappige natuurbeskrywings, sy voorkeur vir edele volksfigure, enkele spelfoute, die ongemotiveerde intervensie van 'n verre byfiguur om die sideboard op 'n vendusie te koop of soos hierbo gedui die poging tot harmonieuse sluiting, sou met vrug aangepas of uitgeredigeer kon word. Van die verhoudings tussen die verskillende figure sou ook skerper kon wees, onder meer dié tussen Abraham en Kobus, Koos Venter se liberale seun, of dié tussen Abraham en van sy kinders.
Hein Willemse
Universiteit van Pretoria
Pretoria
Marié Heese se nuutste roman Vuurklip speel af in die oertyd, soos beskryf in die subtitel. Die mense van die Walvisstam woon aan die Suidkus van Afrika en hul wedervaringe word aan die leser gebring deur die oë van Ama, 'n jong vrou van dié stam. Haar weergawe word afgewissel met die van die stam se Sjamaan. Die roman lees soos 'n sage en die verhaal van Ama word vervleg met die van haar stam, maar ook met die van die omringende stamme.
Soos reeds genoem, lees Vuurklip soos 'n sage, en die omvang en bekendheid van die gebeure herinner aan van die groot familiesages op televisie of selfs 'n dramatiese sepie. Die spanningslyn rondom die lot van Ama en haar mense word deurgaans volgehou. Tussen die vreemde rituele en gelowe, maak die hantering van etlike tydlose en selfs hedendaagse temas hierdie roman uit die oertyd 'n hedendaagse verhaal.
In haar aantekeninge oor die taal wat in die roman gebruik word, skryf Heese: "Natuurlik kan niemand presies weet hoe die taal van die baie vroëe voorbeelde van die spesie Homo Sapiens-ons almal se voorouers, in hooftrekke reeds soos ons-geklink het nie." (343) Die skrywer se besluit om die roman in "annerlike Afrikaans" (345) te skryf, is 'n interessante een. Sy beskryf ook hoe sy te werk gegaan het om hierdie taal en die leefwêreld van die karakters deur middel van navorsing asook verbeelding te vergestalt. Dat die skryf van hierdie roman besondere verbeeldingskrag geverg het, is baie duidelik
Doret Jordaan
Universiteit van Zoeloeland
KwaDlangezwa
Die verhale saamgebundel in Spoorvat. Jeugherinneringe van Suid-Afrikaanse skrywers is die resultaat van 'n uitnodiging deur die samestellers aan gepubliseerde skrywers om 'n kort teks te skryf oor die wêreld van hulle jeug en die belangrike gebeure daarin wat hulle gevorm het, of wat hulle steeds onthou as 'n besondere ervaring. Die gevolg is outobiografiese verhale of sketse van 36 skrywers, van Margaret Bakkes tot Fanie Viljoen en Ingrid Winterbach (alfabeties gerangskik).
Vir die leser bekend met heelwat van die skrywers se ander werk is daar die intertekstuele herkenning van ander verhale en temas in die betrokke skrywers se oeuvre. Enkele voorbeelde hiervan (vir hierdie leser) is die herkenning van Margaret Bakkes se verhale oor die Stormberge, M. C. Botha se skaaktekste, Rita Gilfillan se verhale in Van stiltes en stemme, Helena Gunter se Heidelberg-verhale, Marié Heese en Audrey Blignault se essays, Riana Scheepers se jeugverhale en karakters in van haar kortverhale en Dana Snyman se vertellings waarin sy pa figureer.
Johan Anker
Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie
Wellington
Dit is egter nie net Immelman se persoonlike griewe wat in sy rubrieke neerslag vind nie. In "Klagtes" geniet lesers se nietige griewe, wat ingestroom het ná 'n vorige rubriek oor klagtes, 'n oomblik in die son. In "He is doing his best" word die griewe van lesers teenoor skrywers in die vorm van ongunstige kritiek, of flak, bespreek Hier, soos in "Pretbederwer", word geïllustreer hoe ander se griewe eindelik 'n mens teen die bors kan stuit.
Behalwe vir die vermaaklike leesstof, brokkies algemene kennis en stof tot nadenke bied Briewe, Baarde en Barmhartigheid heelwat materiaal vir 'n kluitklaplys (die sogenaamde "bucket list") al is dit net om "'n ordentelike baard te kweek" of soos Immelman se wens: die Manketti's te besoek voor jy "aftjop".
Annika Mouton
Universiteit van Pretoria
Pretoria
Dat de Zuid-Afrikaanse schrijfster Irma Joubert in haar romans gebruik maakte van deze historische overeenkomsten moet zonder meer met interesse verwelkomd worden. Het probleem ligt echter daarin dat ze zowel in de opbouw van haar protagonisten, de plot, alsook in de weergave van de literaire ruimte onophoudelijk zakt. De politiek onbewuste jonge Pool Wladek groeit op in de mijnkoolstad Katowice, gaat in 1976 met haar vriendin op uitstapje naar Radom waar hij, volop toevallig, deelneemt aan een arbeidersstaking. In 1980 begeeft hij zich als student naar Gdañk, daar wordt hij eveneens getuige van de Grote Geschiedenis als schakelpersoon tussen de stakende scheepswerf en de buitenwereld. Deze gebeurtenis betekent voor hem een politieke rite de passage: "Wladek voel 'n halfbekende opwinding in hom opstu, dieselfde opwinding wat hy jare terug in Radom ervaar het. Ek is deel van 'n nuwe geslag Pole, dink hy [...]. Ek is deel van 'n geslag wat genoeg het van die Sowjet-oorheersing. Ek is deel van 'n geslag Pole wat trots is op ons Katolieke geloof, trots is op ons Poolse herkoms, trots op ons unieke taal-en nie bang is om dit te sê nie." Soortgelijke naïviteiten zijn in het boek helaas op meerdere plaatsen te vinden. Wladek wordt zodoende tot een spreekbuis van de meest onwaarschijnlijke clichés over de Poolse geschiedenis.
De politiek betrokken Wladek wordt verraden door zijn vriendin. Dat haar naam Teresa foutief (zoals de meeste Poolse namen in het boek) wordt gespeld is minder opvallend dan haar achternaam, Dzierzynski. Verdient echt elke verklikster de naam van de beruchte Russische revolutionair van Pools-adelijke afkomst, "Bloedige Felix", oprichter van de Tsjeka, de eerste bolsjewistische geheime dienst? De van de naderende verraad op de hoogte gestelde Wladek gaat met zijn voetbalteam naar Tsjecho-Slowakije en wordt daaruit als het ware gekatapulteerd naar zijn oom Jakub (in de tekst alweer consequent foutief weergegeven als Jakób), die om politieke redenen sinds de jaren vijftig in Zuid-Afrika woont. Dat Wladek na duizend en één gebeurtenissen uiteindelijk op de Zuid-Afrikaanse protagoniste Katharina wordt verliefd, spreekt vanaf het prille begin vanzelf. Toch wordt de lezer onderweg nog geconfronteerd met even naïeve lessen in de geschiedenis van de Zuid-Afrikaanse struggle. Zelfs de nieuwe Afrikaanse muziek uit de jaren tachtig wordt tot prooi van deze banale uitlegstrategieën. "Wladek, hoor jy die magtige dreuning? [...] Dis die lied van 'n volk wat ontwaak, van Kaapland af tot bo in die noorde, tot hier in die Last Outpost. Luister hoe dawer die akkoorde: Dit is die lied van Jong Suid-Afrika, van die nuwe trek na die nuwe Suid-Afrika."
Dat Tolbos als populaire, onderhoudende literatuur werd gedacht en geschreven is mij duidelijk. Elke genre verdient echter een minimum van literaire kwaliteit en deze werd in Tolbos jammer genoeg niet gewaarborgd.
Pawet Zajas
Adam Mickiewicz Universiteit
Poznañ, Pole
Herman Koch se onlangse roman, Die aandete, verskyn oorspronklik in Nederlands as Het diner in 2009. Die gewildheid van die roman (en van die skrywer) in die Nederlandse letterkunde blyk uit die toneelstuk van 2012 wat op die roman gebaseer is en die verfilming van die verhaal in 2013. Alhoewel Koch al sedert 1985 as skrywer werksaam is, is Die aandete sy internasionale deurbraak en dit is in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo. Die roman vind nie net aanklank by 'n Nederlandse en Afrikaanse leserskring nie-dit het reeds in 13 tale verskyn. Wanneer 'n mens die roman lees, is hierdie gewildheid nie verbasend nie. Die kwessies van familie-eenheid, geweld en oorerflikheid wat ondersoek word, transendeer die Nederlandse gemeenskap waarbinne die verhaal afspeel.
Wat die vertaling van die roman betref, kom Daniel Hugo weereens met 'n puik Afrikaanse eindproduk vorendag. Hugo het reeds jare se ondervinding in die vertaling van Nederlandse tekste en vertaal onder andere ook werke van Tom Lanoye, Herman de Coninck en Harry Mulisch. Die aandete is opnuut 'n voorbeeld van Hugo se indrukwekkende vertalingsvermoë en -ervaring. In 'n oomblik van aggressie en ergenis druk die karakter homself in goed gekruide Afrikaans uit: "Jy het my baie goed gehoor, drol. Ek het saam met my seun hierheen gekom om aan te bied dat ons jou donnerse ruit sal betaal, nie om na jou strontstories oor kinders wat sokker speel te luister nie." Die roman lees gemaklik in Afrikaans en die leser word slegs herinner aan die Nederlandse omgewing deur die verwysings na spesifieke plekke en enkele handelinge wat nie in 'n Suid-Afrikaanse leefwêreld alledaags is nie.
Monja Basson
Universiteit van Pretoria
Pretoria
Prysgewyse het Bossenbroek hom al bewys toe hy vir sy doktorale proefskrif Volk voor Indië (1992) die Schouwenburg-prijs verower het.
Twee van sy ander produkte, Holland op zijn breedst: Indië en Zuid-Afrika in de Nederlandse cultuur omstreeks 1900, en 'n hoofstuk oor Willem Leyds as historikus in 'n ander bundel, was waardevolle voorbereiding vir die skryf van De Boerenoorlog.
Die drie ankerpersone is die Nederlandse juris en agtereenvolgens staatsprokureur en staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Willem Leyds; die Britse oorlogsverslaggewer en soldaat, Winston Churchill; en Deneys Reitz, jeugdige burger van die Zuid-Afrikaansche Republiek en skrywer van die klassieke Commando. Al drie van hulle het die merkwaardige vermoë gehad om oral op te duik waar dinge gebeur. En daarom dus 'n goeie keuse vir Bossenbroek.
Laas met Thomas Pakenham se Boer War in 1979 is hierdie resensent so verower deur 'n meesleurende skryfstyl soos dié van Bossenbroek Soms knetter epigrammatiese sinne soos masjiengeweervuur, en oorspronklike en dikwels besonder gevatte woordkeuses volg mekaar snel op. Die skrywer benut die plastisiteit en rykdom van die Nederlandse taal verstommend doeltreffend. Die resultaat: 'n pragtige stuk prosa, wat hierdie werk 'n leessensasie maak. Veroorloof die resensent dan dat hy 'n hele aantal voorbeelde gee, gegewe die tydskrif waarin hierdie resensie verskyn:
Koerantinterpretasies: "Wat De Volksstem de Britten in de schoenen schoof, wierp The Times de Boeren voor de voeten." (250)
Wat het ons hier? Ten spyte van die genoemde besware, 'n werk wat hierdie resensent se siel en historiese sin verryk het. Breed gaan hy op die boekrakke staan. Verdienstelik Onlangs het De Boerenoorlog ook in Afrikaans verskyn en 'n Engelse uitgawe vir die Britse mark word voorberei. My innige simpatie aan die vertalers wat aan hierdie woordkunstenaar se towerwerk reg moet laat geskied.
Fransjohan Pretorius
Universiteit van Pretoria
Pretoria
The forces that (re)make and break Johannesburg as a migrant city are examined in the chapters "The Notice: Rethinking Urban Governance in the Age of Mobility" (chapter 2) and "The Station, Camp and Refugee: Xenophobic Violence and the City" (chapter 5). The former takes Hobbesian readings of the modern state's maintenance of urban order through regulation, civil codes and municipal authorities and looks at how they are (re)configured by the survival strategies of female street traders operating illegally on the city pavements. Kihato illustrates how the coproduction of order (state law) and disorder (street law) (re)configures the city / home as "the creation of hybrid practices that meld official with unofficial, formal with informal, legal with illegal" (44). However, the study is not blind to the implosion of this liminal state of (dis)order. The latter chapter therefore explores (un)belonging and the dichotomy of inclusion/exclusion through the interrelated narratives of the May 2008 xenophobic violence that displaced thousands of foreign migrants across the country. Agamben's theories about the concentration camp as a "state of exception" are interwoven with the perspectives of a South African Police sergeant (98-102) and a refugee (108-11) shift the tones of the book to a humanitarian consideration of political liminality or statelessness. The skilful interrogation of terms such as refugee, asylum seeker and immigrant highlights the shifting boundaries of legality and illegality that make the refugee camp the ultimate symbol of homelessness.
Polo Moji
University of Pretoria
Pretoria
