Open-access Erf en elders

BOOK REVIEWS

Erf en elders.

Adean van Dyk

Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika ORCID: https://orcid.org/0000-0002-0082-8129;

Kleinboer.
Gansbaai: Naledi, 2023.107 pp. ISBN 9781991256164.

In Kleinboer (oftewel Fanie de Villiers) se tweede digbundel, erf en elders (2023), word die leser vanaf die openingsgedig uitgenooi om langs die digter-spreker by die braaivleisvuur in sy agtererf in Yeoville te kom sit, waar hy vertel van dinge wat hier te vinde is, maar ook daar. Met een handgebaar wys hy na sy erf en met 'n ander na alles wat elders is.

Met die parlando as die enigste digvorm wat gebruik word en 'n anekdotiese vertelstyl wat intens persoonlik is, plaas Kleinboer homself in die geselskap van vele ander digters wat primer van die praatpoesie gebruik maak. Met hierdie publikasie in 2023 is dit egter niks nuut nie en in vergelyking met ander digters wat hierdie digvorm tegnies beter beoefen, inkluis Danie Marais en Lof tus Marais, is dit aanvanklik moeilik om hierdie bundel as vernuwend te bestempel.

Die toon wat die bundel handhaaf is nie so melankolies of liries soos dié van Kleinboer se ewekniee nie en nog minder so kreatief, hoewel 'n paar gedigte wel verras. Die onderwerpe wat aangeraak word- grootliks drank, seks en dobbel- word weens die herhaaldelike voorkoms daarvan vinnig holrug gery, maar ook deels omdat dit nie met 'n oortuigende nuuskierigheid aangepak word oor waarom dit so 'n houvas op die digter-spreker het nie.

Die bundel bied 'n soort verslaggewing oor die dinge wat die digter-spreker daagliks besig hou en waaroor hy wonder: seks, geld, drank, braai, familie, of die gras groener elders is, die stand van Suid-Afrika (beurtkrag, geweld, hoe Johannesburg en sy buurt verander en agteruitgaan), sosiale media, werk, en ook hoe om hierdie kwessies in die poesie vas te vang. Buiten vir enkele uitstaangedigte is daar nimmer 'n uicklophou in terme van hoe hierdie onderwerpe aangepak word. Die byna oneindige herhaling van gedigte wat handel oor drank, seks en dobbel sorg vir eentonigheid terwyl die gedigte wat die skryf van poesie onder die loep neem te blatant is. Die talie gedigte wat handel oor die digter wat besig is om te dig, sorg vir 'n selfbewuste toon wat te voor die hand liggend is. Paradoksaal veroorsaak laasgenoemde dat die trefkrag van 'n fokus op die alledaagse verruil word vir die skep van 'n beeld van die digter wat nie sonder sy vergrype kan dig nie.

Dit is hoe my lewe lyk, sug die digter-spreker: eentonig en herhalend. Tog wanneer die bundel nie soseer op die tegniese meriete van die onderskeidelike gedigte beoordeel word nie, maar in sy geheel, skuil daar wel waarde in hierdie eentonigheid van die bundeltematiek.

In die verlustiging in die alledaagse word dit wat hier is-in die digter-spreker se erf-gejukstaponeer met dit wat elders is en daarom verkenning noodsaak. Vasgevang in die fisiese, geografiese ruimte van sy erf, sy buurt en sy land, word ruimte 'n fisiese en metaforiese probleem om mee vrede te maak, maar terselfdertyd ook 'n uitdaging. Die vervalle Johannesburg en sy buurt, Yeoville, is tegelyk 'n ruimte waarin hy tuis voel, maar ook een wat hom aanspoor om dit wat elders is letterlik en figuurlik te verken. Dit wat hier is sluit die bekende in: Johannesburg; die self se behoeftes en drange; verslawing aan drank, seks en dobbel; die gedig en taal as iets wat aktief bemeester word; verhoudings met steeds lewende familie. Dit wat elders is regverdig verdere ondersoek en sluit ook die vreemde in: die skaamtelose verkenning van die banaliteite wat Johannesburg inhou; wêreldstede wat hy eens besoek het en wens om weer te sien; die buitenste ruimte; die verloop van tyd; die self en die poging tot selfbegrip en selfverbetering, veral omtrent die houvas wat sy verslawings op hom het en die ontvlugting wat dit bied; verlies en die dood; die poësie en taal as iets waarmee hy worstel.

As voorbeeld, word die spanning tussen dit wat deur erf gesimboliseer word en dit wat elders verteenwoordig, effektief in die gedig "oplossing" (43) uitgebeeld. In die eerste strofe erken die spreker "my lewe is in 'n groef / ek was lanklaas op 'n nuwe plek" en wys uit dat die konstante verandering van die planeet aarde se reis deur die heelal nie tel nie-"ek

praat van my groef op hierdie aarde". Eens was bordele 'n "ontvlugting" hiervoor, sê hy, maar nou vind hy dit "futiel". Die uiteindelike oplossing word gevind in die opwinding wat 'n nuwe drankwinkel bring en die besluit om 'n drankie "in my agterplaas [...]/ onder die OU apiesdoring / op 'n nuwe hemel by die braaivuur" te lig. Die jukstaponering van die spreker-wat in sy eie klein ruimte vasgevang is, met vergrype na seks en drank as oplossing-teenoor 'n byna angstige besef dat hy deel is van iets groter, is 'n vuis wat mik vir die maag.

'n Eindelike uitklophou word egter in "nota aan self' (102) gevind waarin die digter-spreker sy eie poësie kritiseer en daarmee saam ook tong in die kies die poëtiese landskap waarvan hy deel is. Hy tug homself oor die banaliteite waaroor hy dig en noem dat die gedigte wat "na seks en/of alkohol verwys" beter rangskik moet word. Kan dit wees dat die digter-spreker dus eintlik bewus is van die eentonigheid wat weens die konstante herhaling sy bundel oorheers? Hy noem dat hierdie gedigte eerder soos stede moet wees wat "nie dreig om besoedelend / skouers te skuur nie maar deur oop stukke veld / en vredige dorpies geskei word." Die klimaks wat die slotstrofe inhou wys dan op 'n rebelsheid wat hy moontlik met sy poësie wil inneem:

soms moet jy 'n strykkwartet in franschoek

se opelug Iaat speel, fanie, nie altyd net rock-

rock-rock in beknopte geboue nie.

Kleinboer is duidelik nie een vir die liriese gedig nie en dalk ook nie vir 'n meer afgeronde gedig nie. Die bundel poog eerder om met die alledaagse te stoei soos wat die digter-spreker met die poesie stoei om die alledaagse te verhewe. Die een is 'nspieëlbeeld vir die ander. Die digter-spreker kan net die rykdom van sy braaivleisvuur en drankie onder sy ou apiesdoringboom waardeer omdat hy ten volle bewus is dat hy nooit sy eie erf en alles daarin sal verower nie-nog minder dit wat elders is. Die vergryp aan drank, seks en dobbel is maar een manier om hiermee saam te leef Om daaroor te dig, is 'nander.

As Kleinboer homself met hierdie bundel wil vestig as 'n Afrikaanse Charles Bukowski, wat die alledaagse en die spannende verhouding tussen verslawing en ontvlugting met fyner nuanse en tegniese bemeestering verken, slaag hy ongelukkig nie daarin nie. Hoewel die bundel met die eerste oogopslag niks besonders is nie, bied dit in sy geheel perspektief op wat dit is om 'n gevangene van plek te wees, maar ook wat dit verg om in die eentonigheid van die alledaagse potensiële ontvlugting en verkenning raak Ce sien. Hierdie moontlikhede tart jou om die bundel weer te lees.

Publication Dates

  • Publication in this collection
    10 Sept 2025
  • Date of issue
location_on
Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Department of Afrikaans, Tydskrif vir Letterkunde Association Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Hatfield, Pretoria, Gauteng, ZA, 0002, Tel: +27 12 420 4075 - E-mail: tvl@postino.up.ac.za
rss_feed Acompanhe os números deste periódico no seu leitor de RSS
Ir para o topo