Open-access Brief op veertigduisend voet

RESENSIES / REVIEWS

Brief op veertigduisend voet

Tom Dreyer
Kaapstad: Queillerie, 2026. 112 pp.
ISBN 9780795803437.

'n Tweede bundel het al menige digter gekelder. Tom Dreyer se tweede een volg kort ná sy debuut Nou in infrarooi (2023), wat met die ATKV-poësieprys en in 2026 met die Hertzogprys bekroon is. Dreyer se tweede bundel, Brief op veertigduisend voet, is egter 'n indrukwekkende versameling. Hier is 'n digter wat tussen verskillende ruimtes beweeg: van die Overberg tot in Antartika, van Behistun tot 'n hoogte van veertigduisend voet. Wat veral opval, is die bedrewe stilistiese aanslag en tegniese beheer. Lykdigte, landskapverse, liefdesverse, prosaverse, natuurverse (veral oor voëls), en so meer. Jeugherinneringe en verliese. Daar is fantasieë en selfs 'n reeks oor Xerxes, wat 'n mens neem na al die vertolkings van "Ombra mai fu" ("Never was a shade …") uit Händel se "Largo", die openingsaria van die opera Serse (1738), met Fritz Wunderlich as die groot vertolker van hierdie lied.

Wat veral opval en imponeer, is die digter se vermoë om disparate dinge saam te snoer. Daardie sogenaamde 'tegelykertydsaspek' van die digkuns het hy reeds bemeester in sy prosa. As romansier verskyn Erdvarkfontein (1998), Stinkafrikaners (2000), Equatoria (2006), Dorado (2016) en The Long Wave (2016) uit sy pen. Hy is ook die outeur van twee kortverhaalbundels, Polaroid (2007) en Kodachrome (2022).

Brief op veertigduisend voet word deur die uitgewershuis bemark as 'n bundel waarin daar gedui word op die "onsekere avontuur van die post-postmoderne mens". Dalk eerder metamodernisme? Die ongekaarte streke van die werklike reise geplaas teen die ongekaarte ruimtes van die binne-belewenisse. 'n Sentrale gedig is "by die ruïnes van die walvisstasie" (61):

op die laaste strand voor antarktika

maal golwe skulpgruis tot sand ek staan

in die ruïnes van 'n walvisstasie

waar noorkappers eens soos appels geskil is

hul olie getap hul vet met sense weggesny

hul vlees gekap tot 'n restant van been: kopbene

ingesout in die ewigheid van droomwit werwels

wat jy nog plek-plek in 'n duinevoet sal vind

tussen jaggeraamtes en knoetse skroot

prooi en slagter hier byeen en ewe dood

Hierdie dizain, 'n Franse digvorm wat bestaan uit tien versreëls met 'n rymende slot, wys op die digter se tegniese beheer, met die slotreëls waar "skroot" rym met "dood".

Die reeks oor Xerxes, geleef vanaf 518 v.C. tot sy teregstelling in 465 v. C., is uitstaande en hiermee aktiveer die digter die huidige ellende van Iran en die VSA. Die geskiedenis word eweneens betrek.

Die digter skryf liefdesverse wat bekoor:

liefde in die arkade

"everything not saved will be lost"

- nintendo-uittreeskerm

nou leun jy oor die gloeiende kabinet

jou skouer rakelings teen myne

vinger talmend bo 'n knoppie

nou flits die woorde 1 coin 1 play

oor die skerm van ons albei se gesigte

anderkant die ok

anderkant die polio-meisie se veselglas

in hierdie woud van skerms

waar alles fluoresseer

is jou gesig 'n sproei van piksels

jy's 'n prins-prinses tussen kwartskristalle

duikrollend deur 'n persiese nag

een salto voor die hashashin

dertien en onsterflik

In jou lyf die flikkervlam

dra jy die gloed van xerxes met jou saam

en jou blieps tref my verrukliker as woorde (27)

Hierdie gedig sal hopelik opgeneem word in Fanie Olivier se verskillende bloemlesings van Afrikaanse liefdesgedigte. Verder praat hierdie gedig intratekstueel met die ander verse in die bundel. Die moderne wêreld skakel perfek met die klassieke een.

Dit is onmoontlik om binne die bestek van 'n resensie op al die aspekte van hierdie bundel te wys. Die digbundel vra volgens hierdie leser om die hele kwessie van die brief te belig. Hennie Aucamp maak in Gekaapte tyd 'n uiters tersaaklike opmerking. Die brief, meen hy, is geskryf met groter impulsiwiteit, terwyl die dagboek beskou kan word as 'n vervalser. Die brief as verklapper waar die self deurskyn (208).

Briewe is gevaarlik. Dit weet ons uit Dangerous liaisons (1782/1812) van Pierre Choderlos Laclos. Christopher Hampton het dit in 1988 verfilm en hoe kan enige mens ooit die oomblik vergeet wanneer Glen Close, as die Marquise de Merteuil, besef sy is verraai. Die gedig "Dag 89" (85) som alles op:

die wêreld is iets anders as wat ons vermoed

'n glasplaat sonder einde

'n stippel in 'n hond se oog

die laaste horison is nie 'n lyn nie

dis 'n steeds vallende refrein

soos 'n golf wat aanhou breek

ons slee gly sonder weerstand voort

die laaste koördinaat is 'n ongesêde woord.

Hierdie digter werk veral met implikasie en die "ongesêde" woord. Die digkuns is by uitstek die taal-van-stilte. Hierdie gedigte is 'briewe' aan die geliefde, maar veral aan ons die lesers wat hier die vallende refreine van 'n digter beleef en lees, soms ver in die wêreld Kittie, soms net hier in jou binneste ruimte.

Oor die panthalassa dig hy ook: die oersee wat die Pangea omring het tydens die sogenaamde Paleozoïese en Mesozoïese era wat wys op hoe ver terug in die tyd die digter beweeg. Letterlik 300 miljoen jaar gelede was sowat sewentig persent van die aarde onder water. Dreyer wil hiermee die relatiwiteit van ons bestaan beklemtoon.

Dreyer waarsku sy leser op bladsy 58 "dat sekere reise nie gekarteer kan word nie" en wanneer hy waarsku in "hierdie brief aan jou op veertigduisend voet" (50) besef die leser dat die woord "spieël" (50) nie om dowe neute daar staan nie. In "rietboot na behistun" (50) word die gedig 'n spieël waarin hy kyk. Hy skryf 'n vers (in kursief) "op vensterwasem" van die vliegtuig, "met navigasieligte wat in haar dieptes gly". Ook word die Tigris "'n spieël vol wit pelikane". 'n Soort metabesinning oor die digkuns wat die ervaring en skryfproses saamsnoer.

Die digter se kennis van voëls is loflik. Sy erkennings is vol in die kol. Hoe sy gedigte ook verwys na sy prosatekste is eweneens opvallend.

Dan is daar die gedig wat die AVBOB-digkunskompetisie verower het, en ook in Dreyer se debuutbundel opgeneem is, "slaap jy solank, dan hou ek die fort". Dit is 'n aangrypende lykdig vir Jaco Botha, waarin een vriend afskeid neem van 'n ander een (Dreyer 46-7):

intussen sal ek nog vir 'n rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank

Inderdaad het Tom Dreyer die fort gehou deur hierdie bundel te skryf waarin daarin soveel herinneringe is aan sy jeug en verlore vriendskappe.

Brief op veertigduisend voet is werklik goed. Puik afgewerk en deurdink van die "eskarp" tot die "pikselsee". 'n Verwysing in "halva" (48) som die bundel perfek op, want dié bundel tol soos 'n "derwisj-danser".

Joan Hambidge

Universiteit van Kaapstad
Kaapstad, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0009-0006-3560-1887

Geraadpleegde bronne

References

  • Aucamp, Hennie. Gekaapte tyd. Tafelberg, 1996.
  • Dreyer, Tom. Nou in infrarooi. Kwela, 2023.

Publication Dates

  • Publication in this collection
    02 Nov 2026
  • Date of issue
location_on
Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Department of Afrikaans, Tydskrif vir Letterkunde Association Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Hatfield, Pretoria, Gauteng, ZA, 0002, Tel: +27 12 420 4075 - E-mail: tvl@postino.up.ac.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top