Open-access Ek't Act

RESENSIES / REVIEWS

Ek't Act

Klara du Plessis.
Kaapstad: Karavan Press, 2025. 96 pp.
ISBN 9781037093708.

Ek't Act is Du Plessis se Suid-Afrikaanse debuut nadat sy reeds 'n volwaardige Kanadese skrywerskap opgebou het met Ekke (2018), Hell Light Flesh (2020), die transtalige samewerking G met Khashayar Mohammadi (2023) en Post-Mortem of the Event (2024). Ek't Act bestaan uit 96 bladsye en is in dertien afdelings verdeel, waarvan die name self die teatrale aangee: "Eenbedryf", "Rehearsals", drie afdelings met die titel "Act", "Acts", "Alleenspraak", "Gesigstudie", "Gedigstudie", "Curtain Call", twee afdelings genaamd "Ek 't" en "Verre teater". Die gedigte self is ongetiteld. Reeds in die afdelingsname lê die bundeltitel se dubbelsinnigheid ingebed. "Act" is om iets te doen, maar ook om 'n rol te speel; "Ek't" is sowel 'n Afrikaanse 'ek het' as 'n eggo van die Engelse handeling. Die 'ek' het dus gedoen, maar tree ook op.

Die voorblad is 'n foto van Gerhard Marx se installasie Mother and Child: twee ribbekaste, van takke gemaak, met 'n skadu wat teen 'n wit muur uitstrek. Die beeld eggo die spanning tussen die materiële en immateriële. Die hardste, innerlikste struktuur van die liggaam word uit buitenste materiaal gebou; die skadu maak 'n verdere liggaam, een wat nie van vlees is nie, maar van lig, geheue en afdruk. Hierdie fluktuering tussen die konkrete en ontasbare tree reeds na vore vanaf die eerste gedig.

Met die openingsgedig, onder die afdeling "Eenbedryf", word die leser deur 'n reeks beeldryke transformasies geneem. Die spreker word aanvanklik as huis uitgebeeld en beweeg deur temas soos erfenis, liefde en intimiteit as verskillende maniere waarop die liggaam bewoon en gelees word. Die spreker word huis, die huis word lyf, die lyf word argitektuur en ook leesteken, dan word die leesteken byna vleeslik. In die derde gedig (13), lui die openingsreëls:

Die gordyn roep ons gesigte in aanhalingstekens.

Om oop te staan en die dag oop te trek,

om die vorige nag te laat inrol

en onsself in verantwoording te klee

So word liggaam en leesteken in dieselfde gebaar verstrengel. Die herhaling van vensters en gordyne as deel van die liggaamlike skep spanning tussen binne en buite, kyk en bedek wees, begeer en terughou.

Twee afdelings wat die grootste bevrediging en fynste skryfwerk tentoonstel, is die transtalige gedigte in "Gesigstudie" en "Gedigstudie". Hier word daar nie slegs gedig waar tale ineenvloei nie, maar juis waar hulle mekaar nét nie aanraak nie: die sinaps waar betekenis nie eenvoudig oorgedra word nie, maar gevorm word. Die transtalige werk word in "Gedigstudie" (67) die skerpste wanneer

Saamgestelde betekenis

reken daar is net een taal,

taal, is

die medium van vers

ver

verte

vertaling

vertel die gedig in mond, in nood-

wendige wendinge van kennis, van rede, van

kundigheid.

oorvloei na die Engelse weergawe:

Compound sense

assumes there is language,

only verse's medium.

Perform the poem in opening.

Hierdie uittreksel illustreer ook hoe Du Plessis op vernuftige maniere sinspeel op die homofonie van woorde in een taal óf tussen Afrikaans en Engels. Die tweetaligheid word as 'n netwerk van taalspesifieke én taalgrensoorskrydende konstruksies beskou, in plaas van twee afgeslote sisteme. Op taalkundige vlak weerspieël dié benadering tot taal ook die grondbeginsel van diasistemiese konstruksiegrammatika: die idee dat meertalige individue uit één repertoire van woordeskat en grammatikale elemente selekteer, eerder as afsonderlike stelsels. In Ek't Act word betekenis juis in die een netwerk van 'taal' uitgeweb, herverbind en gekarteer: vorm en klank roep mekaar oor tale heen aan.

Die flink gebruik van woordspelings en homofonie kom nie alleen in die vertalings tussen Afrikaans en Engelse voor nie, maar ook waar een taal aangewend word. So word "dig tonge / diftonge" (74) byvoorbeeld 'n klankspel waar die liggaamlike orgaan (tong) en die taalkundige eenheid (diftong) saamval. Tematies word liggaam en taal deurgaans as wederkerige stelsels hanteer.

"Gesigstudie" sluit aan by hierdie vervlegting. Die gesig word 'n vorm wat die gedig self aanneem: portret, fetus, plooi, breukdeel. Wat opval is dat die Afrikaans tipografies oop en in versvorm voorkom, terwyl die Engels in paragraafvorm geskep is. In "Gedigstudie" bly albei tale in versreël getipografeer-hier word die verhouding soms asimmetries. In die transtalige gedigte is die Engels nie 'n blote talige oorskakeling van die Afrikaans nie, maar 'n tipe herinterpretasie wat die betekenis van die Afrikaans verruim, aanpas of aanvul. Met tye kom dit voor of die Afrikaans hier die plek van die digterlike, en Engels die plek van die verduidelikende inneem. Die interpretasie van beide beïnvloed mekaar soos wat die Afrikaans weergawe en die Engelse vertaling herhaaldelik gelees word.

Later in "Gesigstudie" word die gesig 'n ruimte van wording. In een gedig word die portret van die digter-spreker nie net 'n uitbeelding nie, maar 'n moontlike vorm wat die gedig self aanneem. "Ek nader die karakterskets / van binne" (60) dui op 'n impressionistiese benadering waarin Du Plessis se leefwêreld-teater, animasie en selfportret-vervleg word. Die "portret in my" wat "sigloos" is, "nee, / 'n fetus" (60), wys op 'n afwesigheid van 'n finale gestalte: nog mens, maar nog nie herkenbaar nie; nog stem, maar nog nie heeltemal gesig nie.

Die teatrale kom sterk na vore in "Acts", waar die teenwoordigheid, handeling en funksie van hande in 'n toneelstuk ontvou. Taal en liggaam integreer weereens, en die kommunikatiewe funksie van hande word gesentraliseer: "[First set of hands picks up speed. They gesticulate linguistically. They language themselves into being. How hands will be interpreted is open to the subjectivity of their viewers. See how ownership ripples through digits and their holding. Imagine that those hands are capable of holding all the seats in the auditorium.]" (43-4). Hierdie afdeling verteenwoordig 'n suksesvolle vervaging van die grens tussen poësie en dramateks.

In geheel beskou, is die bundel hoogs geslaag as digterlike werk. Die veelfasettige aard daarvan vra vir herhaalde lees en laat die leser telkens met 'n poëtiese nagloed en 'n skerper bewussyn van hoe taal, liggaam en handeling mekaar vorm.

Een punt van kritiek is wel die ondeursigtigheid van bepaalde afdelings. In "Rehearsals" neem die gedigte soms die vorm van 'n bewussynstroom aan waarin die leser deur ondeursigtige en met tye surreële beelde en sensoriese ervarings geneem word. Hoewel betekenis hier soms wegglip, bly die ervaring egter steeds esteties van aard.

Ek't Act is 'n betekenisvolle debuut binne die Afrikaanse poësie van 2025. Du Plessis plaas die transtalige projek wat sy in Kanada ontwikkel het in 'n nuwe konteks, maar nie bloot deur 'n buitelandse stem na binne te wend nie. Die ek word nie net verklaar nie, maar gebou, opgevoer en voorlopig bewoon.

Ruan Coetzer

Noordwes Universiteit
Kaapstad, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0002-0665-5900

Correspondence

ruancoet@yahoo.com

Publication Dates

  • Publication in this collection
    02 Nov 2026
  • Date of issue
location_on
Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Department of Afrikaans, Tydskrif vir Letterkunde Association Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Hatfield, Pretoria, Gauteng, ZA, 0002, Tel: +27 12 420 4075 - E-mail: tvl@postino.up.ac.za
rss_feed Acompañe los números de esta revista en su lector de RSS
Ir para arriba