Bloedsomer
Neil van Heerden
Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid Afrika. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-8631-6350;
Sidney Gilroy.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2024. 304 pp. ISBN: 9780798184212.
Die gebeur selde dat 'n spanningsroman tegelyk bemdruk én teleurstel, maar Sidney Gilroy se jongste misdaadverhaal, Bloedsomer, laat my met só 'n teenstrydige gevoel. Hier is 'n boek vol belofte: dit is klaarblyklik goed geskryf en bevat al die klassieke bestanddele van 'n riller-van 'n grieselrige moordtoneel en enigmatiese leidrade tot ou geraamtes in die kas wat dreig om uit te breek-en tog het die boek my oorwegend koud gelaat. Bloedsomer dwing my om my eie reaksie te bevraagteken: lê die probleem by die teks self, of is ek as leser dalk afgestomp deur die genre se holruggeryde konvensies? Hierdie resensie is gevolglik nie 'n onkritiese loflied nie, maar eerder 'n besinning oor waarom 'n belowende verhaal my net ten dele meegevoer het.
Die 44-jarige Sidney Gilroy het hom sedert sy debuut in 2019 gevestig as 'n noemenswaardige stem in die Afrikaanse misdaadfiksie en 'n liefling van die media wat gereeld uitgenooi word om op radioprogramme en boekfeeste te verskyn. Sy vorige drie romans-Klikbek, Middemag en Vlam-het die gewilde speurder Sollie Mthembu as hoofkarakter. Gilroy se misdaadverhale het 'n sterk sosio-politieke inslag: die onderliggende sielkundige en maatskaplike oorsake van misdaad geniet by hom dikwels meer aandag as blote aksie. Met Bloedsomer, sy vierde roman, betree hy tewens nuwe terrein deur sy bekende speurheld te verruil vir 'n nuwe protagonis, ene Petunia Moraleng. Hierdie klemverskuiwing na 'n swart vrou as hoofkarakter spreek van 'n skrywer wat nie skroom om buite sy eie persoonlike verwysingsraamwerk te tree nie en demonstreer dat hy nie in 'n voorspelbare formule wil vasval nie.
Bloedsomer speel af op Mooibaai, 'n fiksionele kusdorpie in die Suid-Kaap. Hier beland Petunia, met wie lesers in Vlam vlugtig kennis gemaak het, nadat sy pas gedemoveer is van kaptein na konstabel. Petunia is weg onder 'n wolk van korrupsie-aantygings uit Parys in die Vrystaat en moet vervolgens in Mooibaai haar voete probeer vind. Skaars het sy begin soek na 'n blyplek op dié vakansiedrop of die lyke van hawelose mense begin ophoop, en Petunia moet saam met haar hardekoejawel'koUega die moorde probeer oplos. Wat volg is 'n ondersoek wat spoedig uitkring. Daar is 'n albaster, 'n sinistere Russiese kaptein, 'n geheimsinnige plaas genaamd Moordenaarskuil, en 'n testament wat meer verswyg as wat dit onthul. Deur achronologiese tydspronge heen en Gilroy se filmiese verwisseling van perspektief, ontvou 'n digte verhaal van hebsug, erfsonde, gees tes versteuring en skrynende ongelykheid wat tot ver buite die grense van Mooibaai strek. Niks is presies soos wat dit lyk nie.
Daar is heelwat in Bloedsomer wat bewonderenswaardig is. Gilroy is duidelik 'n bedrewe skrywer. In plaas van blote skok-effekte (ofskoon daar genoeg gru'beskrywings is om die nekhare van selfs die mees gesoute krimi'leser te laat rys) word die spanning in hierdie roman gaandeweg opgebou tot 'n allemagtige klimaks, en die veelheid intriges word met selfvertroue verweef. Verder spreek die boek ook belangrike temas aan: te midde van die bloedspoor is daar kommentaar op gebrokenheid in gesinne en die uitbuiting van kwesbare mense in die samelewing. Hierdie diepere dimensie verleen aan die verhaal 'n erns wat dit bo goedkoop vermaak verhef. Op papier is al die regte elemente dus teenwoordig.
Tog het Bloedsomer my nie deurgaans oorrompel nie. Wat die karakterisering betref, moet ek bely dat Petunia nie baie diep in my hart ingekruip het nie, ondanks al die lof wat haar toegeswaai is deur ander resensente. Sy word uitgebeeld as 'n held met voete van klei (en 'n seer knie), wat vermoedelik veronderstel is om die gemiddelde leser makliker met haar te laat identifiseer, maar ek vind haar die toonbeeld van "meh": nie besonder briljant as speurder nie, maar ook nie besonder innemend of komies nie. Gilroy hét kennelik met Petunia 'n waagstuk probeer, en hoewel dit ongetwyfeld verfrissend is om 'n sterk swart vrou as speurder in 'n Afrikaanse speurverhaal te sien (vergelyk by voorbeeld die nimlike kaptein Μ bali Kaleni in Deon Meyer se werk), is dit te betwyfel of Petunia in die heugenis van Afrikaanse misdaadfiksie onthou sal word as 'n huishoudelike naam. Daarteenoor is seker die interessantste figuur in die roman 'n tienermeisie met die naam Albaster wat 'n soort kluisenaarsbestaan voer in 'n kusgrot op die buitewyke van Mooibaai, maar helaas word haar potensiaal net gedeeltelik ontgin en haar karakter bly onderontwikkeld.
Blykbaar het die manuskrip oorspronklik Albasta geheet, en dit sou waarskynlik beter gewerk het, want dit sou die klem op die regte plek gelê het, maar oenskynlik het die uitgewer en/of skrywer uiteindelik besluit op Bloedsomer. Jonathan Amid beskryf die titel as "evokatief' in sy Netwerfe24'resensie (18 Maart 2024), maar as jy my vra, is Bloedsomer as titel so clichématig as wat dit niksseggend is-selfs nadat 'n mens die boek klaar gelees het werp hierdie kardinale stukkie parateks geen nuwe lig nie. Ten slotte voel die roman se aksiebelaaide ontknoping, hoewel uiters kinematies, ietwat dik vir 'n daalder en die raaisel rondom die Arno/Roan-anagram behoort vir 'n skerp leser reeds vroeg sigbaar te wees. Dit verdien ook vermelding dat disassosiatiewe identiteitsteuring (DID) nie noodwendig 'n nuwe verskynsel in die Afrikaanse misdaadfiksie is s oos w at s ommige kommentatore suggereer nie-vergelyk in dié opsig byvoorbeeld Rika Cloete se Skadukant wat in 2020 verskyn het.
My taksering van Bloedsomer is uiteindelik tweeledig. Aan die een kant lewer Gilroy 'n tegnies goed-afgeronde, meervlakkige spanningsroman-sy stilistiese vakmanskap kan nie betwyfel word nie en veral sy prosa sonder fieterjasies is besonder geskik vir die misdaadgenre. Aan die ander kant het hierdie boek my nie affektief geroer nie. Dit is die paradoks: 'n roman kan tegelyk vaardig geskryf en tog onbevredigend wees. Miskien verklap dit meer van my eie vermoeidheid met die genrekonvensies as van Gilroy se skryfvernuf lesers met vars oe mag anders voel. Uiteindelik behoort nuuskierige lesers Bloedsomer self te lees. Dalk vind jy dit meer meesleurend as ek.
