Open-access Wilma Stockenström: Met my wysvingertop

RESENSIES / REVIEWS

Wilma Stockenström: Met my wysvingertop

Ronel Foster (red.).
Pretoria: Protea Boekhuis, 2024. 334 pp.
ISBN 9781485316022.

In die Afrikaanse letterkunde beoefen slegs 'n handjievol persone meerdere literêre genres met onderskeiding-André P. Brink, George Weideman, Breyten Breytenbach en Antjie Krog is van die name wat opduik. Verder is dit uitsonderlik dat 'n individu die Hertzogprys vir prosa én poësie verower. Dit is presies wat Wilma Stockenström in haar loopbaan vermag het naas 'n rits ander literêre pryse. Benewens haar literêre produksie lewer sy ook as aktrise 'n bydrae tot die uitvoerende kunste.

Derhalwe is dit gepas dat hulde gebring word aan dié uitsonderlike literêre figuur in die sewentiende nommer van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks vir Hertzogpryswenners. Die boek bevat waardevolle inligting oor Stockenström se werk en lewe en verskillende tekstipes maak deel uit van die versameling, naamlik agt goed nagevorsde akademiese artikels; 'n bygewerkte skrywersprofiel; vier commendatio's; 'n essay oor Stockenström en Ants Kirsipuu se bemoeienis met Mosambiek; ses huldigingsgedigte deur onderskeidelik Johann de Lange en Joan Hambidge en vier Engelse vertalings van haar gedigte deur De Lange. Boonop is ook 'n uitgesoekte bibliografie van resensies, akademiese artikels asook verhandelings en proefskrifte oor haar werk ingesluit. Hierdie is die volledigste bibliografie wat ek nog gesien het in die huldigingsreeks en iets wat beslis in toekomstige nommers tuishoort. Verder is dit goed om te sien dat bydraes Stockenström se veelsydigheid reflekteer en nie slegs op één genre fokus nie.

Hein Viljoen toon oortuigend aan hoe die tradisie van die Simbolisme op 'n outonome en eiesoortige wyse in Van vergetelheid en van glans (1976) manifesteer. Viljoen se insiggewende teksanalise van verbandhoudende gedigte ondersteun telkens sy sinvolle gevolgtrekkings en laat 'n netjiese en koherente indruk.

In haar bydrae fokus Alettie van den Heever op Stockenström as donker ekodigter. Van den Heever demonstreer 'n stewige greep op teoretiese begrondings betreffende Morton se donker ekologie en die wyer ekokritiek. Dit is veral opvallend hoe vernuftig sy toepaslike teoretiese beskouings inspan om meer lig te werp op die permutasies van die donker ekologie in Stockenström se klipgedigte.

Marius Crous plaas sy artikel binne die wyer konteks van die tanatologie. Hy toon op 'n boeiende wyse aan hoe Stockenström se paradoksale ondermyning van konvensionele opvattings oor die dood in haar poësie inderwaarheid 'n nuwe vitalistiese beskouing van die sterwensproses verteenwoordig wat die grense tussen lewe en dood verplaas.

In sy artikel bied Thys Human 'n alternatiewe lesing van Abjater wat so lag (1991) en opper die moontlikheid dat 'n versoening plaasvind tussen Abjater se "eerste" en "tweede" lag in die vorm van 'n derde, verbeelde of geantisipeerde lag. Weereens word gevolgtrekkings op behoorlike teksanalise geskoei.

Op haar beurt ondersoek Amanda Marais identiteitskonstruksie via liminale en heterotopiese ruimtes in Abjater wat so lag. Marais bied 'n interessante toepassing van komplekse teoretiese uitgangspunte in terme van liminaliteit en heterotopie om uiteindelik met oortuiging te beredeneer dat beide transgressie en subversie 'n rol speel in die vroulike hoofkarakter se identiteitskonstruksie.

Bibi Burger kom tot die gevolgtrekking dat water en die kremetartboom in Die kremetartekspedisie (1981) as modelle dien vir alternatiewe narratiewe as deel van 'n destabilisering van normatiewe koloniale en Afrikanernasionalistiese narratiewe. Sy bied hiermee 'n verhelderende perspektief op een van Stockenström se mees hermetiese tekste.

Temple Hauptfleisch verreken Stockenström se bydrae tot die uitvoerende kunste in sy uiters volledige bestekopname. Hierdie is 'n dimensie van Stockenström se repertoire wat tot op hede baie min aandag gekry het en Hauptfleisch vul gewis 'n navorsingsleemte deur verspreide inligting oor Stockenström se loopbaan in die uitvoerende kunste op 'n geïntegreerde wyse byeen te bring.

Frederick Botha se herwaardering en inskatting van Laaste middagmaal (1978) is 'n belangrike toevoeging tot Suid-Afrikaanse teaterstudies. Botha verskaf 'n deeglike literêr-historiese kontekstualisering en voer sy betoog op 'n onderhoudende manier. Hy toon deeglik aan hoe Stockenström se enigste gepubliseerde drama vir lank misken is as 'n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse versetdrama en ook as voorganger dien van latere betrokke familiedramas. Die raakpunte wat hy met Deon Opperman se Stille nag (1990) identifiseer, word oorredend geargumenteer.

As 'n geheel verteenwoordig al agt akademiese artikels 'n verruiming van die bestaande navorsingsliteratuur oor Stockenström. Die redaksionele versorging is van hoë gehalte, maar dit is jammer dat die pragtige foto's van Stockenström se wel en weë op die verkeerde plek in die bundel verskyn. Dit hoort nie by Hauptfleisch se artikel nie en moet eerder as 'n outonome komponent aangebied word.

Dit is wel 'n uitstekende idee om prys-commedatio's in te sluit, want dit funksioneer as mini-bestekopnames wat lonende insigte bied. Dikwels verdwyn commendatio's in die vergetelheid en ek sal graag die insluiting hiervan in toekomstige huldigingspublikasies wil sien.

Met die lees van Johann de Lange se viertal Engelse vertalings van Stockenström-gedigte word mens opnuut bewus van De Lange se bedrewenheid as literêre vertaler. Sy vertaling van Stockenström se "Die eland" (seker een van haar bekendste verse) is uitmuntend. Na my mening is dit 'n besonder moeilike gedig om te vertaal, maar die derde strofe van "The eland" (283) is tekenend van De Lange se vernuf:

the large ochre animal stands up from the dust

and looks over life patiently painted

from the cave mouth beside the guarri bush hollow

Die Stockenström-huldigingsbundel lewer bewys dat verskillende maniere bestaan om hulde te bring aan een van Afrikaans se toonaangewende vrouedigters. Die suiwer akademiese komponent word op 'n sinvolle manier aangevul deur digterlike huldiging en bruikbare biografiese en bibliografiese inligting sodat die leser uiteindelik 'n gebalanseerde geheelbeeld kan vorm. Die bundel skep die indruk van 'n indringende bemoeienis met Stockenström se veelvuldige bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

Neil Cochrane

Universiteit van Suid-Afrika
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0001-7630-0585

Publication Dates

  • Publication in this collection
    02 Nov 2026
  • Date of issue
location_on
Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Department of Afrikaans, Tydskrif vir Letterkunde Association Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Hatfield, Pretoria, Gauteng, ZA, 0002, Tel: +27 12 420 4075 - E-mail: tvl@postino.up.ac.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top