Open-access Kaaps en Nathan Trantraal se vertaalhabitus in Lang pad onnetoe

Kaaps and Nathan Trantraal's translation habitus in Lang pad onnetoe

Abstract

In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die vertaling van Long way down deur Jason Reynolds as Lang pad onnetoe deur Nathan Trantraal. Die vertaling is besonder goed ontvang en die UJ-prys vir Vertaling van Jeugtekste is in 2021 daarvoor aan Trantraal toegeken. Aangesien die sukses van die vertaling onder meer toegeskryf word aan die gebruik van Kaaps, word die geskrewe tradisie van Kaaps nie, maar ook die heterogene aard daarvan bekyk. Vertaalteoreties word polisisteemteorie betrek en aandag word ook gegee aan aspekte soos die (on)sigbaarheid van die vertaler en die vertaalstrategieë bekend as domestikering en vervreemding. Die konsep vertaalhabitus word ondersoek en op Nathan Trantraal van toepassing gemaak. Vervolgens word uittreksels uit die bron- en doelteks met mekaar vergelyk. Daar word aangetoon dat Lang pad onnetoe vanuit polisistemiese benadering uniek is aange-sien 'n gevestigde vertaaltradisie in Kaaps nie bestaan nie en daar min literêre tekste in Kaaps is. Na verwagting sou die vertaling 'n randposisie in Kaaps inneem. Die vertaler skep - in teenstelling met die voorspelling dat die vertaling grootliks die brontaal en -kultuur sal weerspieël - 'n vertaling wat aan die kulturele norme van die teikenstelsel voldoen. Die vertaler is sigbaar, maar terselfdertyd word deurlopend van 'n domestikerende vertaalstrategie gebruik gemaak. Domestikerende vertalings wil gewoonlik die indruk skep dat die vertaling 'n oorspronklike teks is. In Lang pad onnetoe is dit nie die geval nie en die rede is tweeledig: Nathan Trantraal se vertaalhabitus en die gebruik van Kaaps.

Nathan Trantraal; vertaling; Kaaps; polisisteemteorie; sigbaarheid van die vertaler; domestikering; vervreemding; vertaalhabitus


Abstract

The much acclaimed novel Long way down by Jason Reynolds was published in 2017. In 2018 the translation thereof as Lang pad onnetoe in Kaaps appeared in print. The translation was done by Nathan Trantraal. Trantraal is an award-winning poet, writer and artist. The translation was exceptionally well received and Trantraal was awarded the UJ prize for the translation of a youth text in 2021. Reviewers were unanimous in their praise for the use of Kaaps and not Standard Afrikaans. Kaaps is primarily a spoken variety of Afrikaans and although it has a relatively long written tradition, it is only after 1990 that a notable increase in the number of literary texts in this variety is seen. Kaaps shows internal variation, but it is argued that the various writers who use Kaaps collectively represent the linguistic features of what is viewed as Kaaps. Nathan Trantraal is one of these writers. From a literary approach to translation studies, translated texts form part of the polysystem of a particular literary system. The expectation is that if a translated text finds itself on the periphery of the polysystem of the target language, translators tend to create a text that is acceptable, and that adheres to the linguistic and cultural norms of the target system. Conversely, when a translated text is central, translators may produce adequate translations - meaning they preserve more of the source text's structure and norms. The cultural approach is concerned with issues relating to the visibility of the translator and translation strategies like domestication and foreignization. In the debate on the (in)visibility of the translator, the focus shifts away from the text and the context, and closer to the role of the translator and his/her role in the translation process. In this approach translation is studied from a sociological perspective and is particularly interested in the translator as an individual. Based on the work of Bourdieu (1991), it is argued that the translation norms applied by a translator are internalised and the product of his/her habitus, in other words of his/her personal history, professional training and experience. The concepts of field, illusion and capital are closely related to a translator's habitus. The paper analyses these concepts in relation to Nathan Trantraal and concludes that one of the reasons for the success of the translation lies in the choice of the translator and his translation habitus. Excerpts from the source and target texts are subsequenty compared to one another. It is concluded that Lang pad onnetoe is unique as there is no established translation tradition in Kaaps and there are much less written texts in Kaaps than in Standard Afrikaans. One could therefore have predicted that the translation would have taken up a peripheral position in the polysystem of Kaaps. However, in contrast to the prediction that the translator would consequently create a translation that largely reflects the source language and culture, an acceptable translation that absolutely adheres to the cultural norms of the target system is created. The variety of English in the source text is African American, and Trantraal creates an acceptable translation by using Kaaps and not Standard Afrikaans in the target text.. The translator is highly visible in the text, but at the same time a domesticating translation strategy is used throughout. This finding too, goes against the theory as domesticated translations usually want to create the impression that the translation is an original text and the translator tends to become invisible. In Lang pad onnetoe this is not the case and the reason is two-fold: Nathan Trantraal's translation habitus and the use of Kaaps.

Nathan Trantraal; translation; Kaaps; polysystem theory; visibility of the translator; domestication; foreignization; translation habitus


1. Inleiding

Nathan Trantraal is 'n digter, skrywer en kunstenaar. Naas grafiese romans soos Urban tribe (2003), geskryf saam met André Trantraal, verskyn in 2008 ook Stormkaap. Drome kom altyd andersom uit en in 2010, weer saam met André Trantraal, Coloureds. Crossroads: I live where I like (saam met André Trantraal, Koni Benson en Ashley E. Marais) verskyn in 2014. Sy digbundels sluit in Chokers en survivors (2013), wat met die ATKV-prys vir Poësie en die Ingrid Jonker-prys bekroon is, Alles het niet kom wôd (2017) en Oolog in 2020. In 2017 word die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs aan hom toegeken. Trantraal is ook 'n pro-duktiewe rubriekskrywer en in 2018 word 'n versameling van sy rubrieke wat in Rapport ver-skyn het, gepubliseer onder die titel Wit issie 'n colour nie: aangedrade stories en in 2024 nog 'n grafiese roman met die titel Die man wattie kinnes vang.

In 2017 verskyn die bekroonde roman Long way down deur Jason Reynolds. Trantraal vertaal dit in Kaaps en in 2018 verskyn dit as Lang pad onnetoe. Die vertaling word in 2021 bekroon met die UJ-prys vir Vertaling van Jeugtekste.

Die verhaalgegewe kan soos volg opgesom word: Die vyftienjarige swart Will Holloman woon in 'n arm area in 'n ongespesifiseerde VSA-stad wat gebuk gaan onder bendes en geweld. Sy broer Shawn word deur Riggs, 'n lid van die Dark Suns-bende, doodgeskiet. Die bende-wêreld het net drie reels: 1) Jy huil nie. 2) Jy klik nie. 3) Jy neem wraak. Will klim in die hysbak op die sewende vloer van die gebou waarin hy woon om sy broer se dood te gaan wreek. Op pad ondertoe ontmoet hy 'n reeks spoke uit sy verlede. Dit verwar en kompliseer sy aanvanklike perspektief van Shawn se dood en die idee van wraak. Wanneer die hyser die grondvloer ná sewe en sestig sekondes bereik, vra Shawn (se spook) vir Will of hy op pad is. Die teks eindig met Will wat moet besluit of hy die reels gaan volg, soos wat al die spoke voor hom het, en of hy anders as hulle gaan kies, met ander woorde of hy reël 3 gaan verbreek en nie wraak gaan neem nie (lees SuperSummary, 2017 vir 'n vollediger uiteensetting).

Die positiewe ontvangs van die vertaling blyk onder meer uit die volgende siening deur die skrywer Shirmoney Rhode (2019):

Om van die Kaapse Vlakte te kom en Lang pad onnetoe [...] te lees, is soos om 'n splinter uit jou voet te haal met 'n skerp spyker. 'n Leeservaring waarin jy jou eie wonde verder oopkrap omdat die storie só bekend en close to home is. Ek moes plek-plek die boek neersit om asem te skep, want ek is (veral nou met die bendegeweldkrisis op die Kaapse Vlakte) uiters sensitief oor die onderwerp. Dis ook waarom hierdie boek so relevant is.

Alhoewel Jason Reynolds Amerikaans is, is die temas van die boek universeel en lees dit asof die boek in die Kaap afspeel. Dis natuurlik te danke aan Nathan Trantraal se sublieme Kaapse Afrikaanse vertaling van die boek.

Omdat Kaaps so sentraal in die vertaling staan, word vervolgens kortliks na die geskrewe tradisie en die heterogeniteit van Kaaps gekyk.

2. Die geskrewe tradisie en die heterogeniteit van Kaaps

Soos uit die opmerking deur Shirmoney Rhode in die inleiding blyk, is een van die sake wat hierdie vertaling uitsonderlik maak die feit dat dit in Kaaps vertaal is. Hendricks (2024:414 e.v.) wys daarop dat, alhoewel Kaaps primer 'n gesproke variëteit is, dit ook 'n lang geskrewe tradisie het wat teruggaan na die Kaapse Moslemafrikaanse tekste wat dateer uit die eerste helfte van die negentiende eeu. Hendricks verskaf ook 'n databasis waarvolgens hy die geskrewe tekste in Kaaps klassifiseer en uit dié databasis is dit duidelik dat daar veral ná 1990 'n beduidende toename is in die aantal literêre tekste wat in Kaaps verskyn. Hy noem in die besonder die volgende skrywers: Olivia M. Coetzee, Anastasia de Vries, Brian Fredericks, Leonard Koza, Zulfah Otto-Sallies, Chase Rhys, Loit Sôls en Nathan Trantraal.

Hendricks (2024:417-419) bespreek sienings rondom Kaaps as 'n variëteit van Afrikaans en die volgende is hier van belang: Dit is moeilik om Kaaps binne 'n spesifieke geografies gedefinieerde ruimte te plaas, maar Kaaps kom wel voor in die veeltalige omgewing van die Kaapse Skiereiland. Kaaps is egter ook heterogeen met verskillende registers wat deur Moslems en Christene gebruik word. Daarteenoor is die Kaaps wat in die Kaapse onderwêreld gebruik word 'n register op sy eie. Daar kan ook tussen verskillende registers onderskei word op grond van ekonomiese klas (die werkersklas en die middelklas), en daar is ook streeksverskille (byvoorbeeld die Kaaps van die Bo-Kaap, teenoor die Kaaps wat gepraat word in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte).

Ongeag die interne variasie meen Hendricks (2024:420) die skrywers waarna hier bo verwys is, asook Fatima Allie en Peter Snyders, se gebruik van Kaaps moet as outentiek gesien word omdat hulle tekste nie net die outeurs se siening oor Kaaps weerspieël nie, maar ook 'n kollektiewe siening verteenwoordig van die taalverskynsels wat as Kaaps beskou kan word. Gesamentlik bevestig hulle werk die heterogene aard van Kaaps. Oor Nathan Trantraal se gebruik van Kaaps skryf Hendricks dat dit veral lig werp op die Kaaps wat in townships ge-praat word.

In haar resensie van die vertaling skryf Rhode (2019) sy vind die gebruik van Kaaps vir die vertaling uiters geslaag. Sy wys daarop dat Reynolds die bronteks in African American English geskryf het en dit maak gevolglik vir haar sin dat die teks in Kaaps en nie in Standaardafrikaans vertaal is nie. Na haar mening behou die vertaling in Kaaps die oorspronk-like teks se ritme.

In reaksie op die vraag waarom dit nodig is om boeke in Kaaps te vertaal, het Trantraal só gereageer:

Dit is belangrik om te demonstrate hoe dynamic en versatile die taal is. Dat dit byte 'n Kaapse context kan bestaan. Daa is baie ooreenkomste tussen die wêreld in Long way down en die Kaapse Vlakte. Maa ek is certain die taal kan binne ienagge context wêk (Afrikaans.com, 2019).

Ten einde te besin oor die waarde van die vertaling en veral die feit dat dit in Kaaps geskryf is, is dit sinvol om denkrigtings in vertaalteorie te betrek en aandag te gee aan polisisteemteorie.

3. Polisisteemteorie

Gideon Toury word beskou as die vader van Beskrywende Vertaalkunde as 'n duidelike vertakking van vertaalteorie. Sy invloedryke boek Descriptive Translation Studies and beyond (1995) het die basis gelê vir 'n sistematiese, empiriese benadering tot die bestudering van vertalings soos wat wat hulle werklik in die praktyk voorkom eerder as om te probeer voorskryf hoe sodanige vertalings gedoen moet word. Toury (1995:22-31) plaas veral die klem op die ondersoek van vertaalde tekste in die kuturele konteks van die teikengehoor en bepleit gevolglik teikengeoriënteerde analises van vertalings. Hy beskou vertalings as kulturele feite en sê:

Translations are facts of target cultures; on occasion facts of a special status, sometimes even constituing identifiable (sub)systems of their own, but the target culture in any event (Toury, 1995:29).

Beskrywende Vertaalkunde word grootliks onderlê deur polisisteemteorie. Polisisteemteorie is deur Even-Zohar (1978) ontwikkel en gaan van die veronderstelling uit dat elke literêre teks 'n posisie in 'n taal se literêre stelsel beklee. Sommige tekste staan meer sentraal binne so 'n literêre stelsel, byvoorbeeld tekste wat by skole en universiteite bestudeer word en deur die gemeenskap as belangriker as ander geag word. In wese word die sentrum van die stelsel ingeneem deur gekanoniseerde tekste. Ander literêre tekste word as van minder belang beskou en beklee randposisies in die stelsel. Die stelsel is egter dinamies van aard en daar is voortdurende beweging tussen tekste wat onderskeidelik sentrale en randposisies beklee. Volgens Evan-Zohar (1990:47) vorm vertaalde tekste ook deel van die polisisteem, maar neem dit gewoonlik 'n plek in die randposisie in omdat dit oor die algemeen as minder belangrik beskou word binne die groter letterkunde van doeltaal en -kultuur. Hy identifiseer egter drie situasies wat daartoe kan lei dat vertaalde tekste wel 'n sentrale posisie in die polisisteem van die doeltaal kan inneem, naamlik wanneer 'n letterkunde jonk is, wanneer 'n letterkunde swak is en wanneer daar 'n gaping in die letterkunde bestaan.

Die vertaalmetode wat 'n vertaler gebruik, hou volgens Toury (1995:56) verband met die posisie wat die vertaalde teks in die doeltaal inneem. Wanneer die doelteks 'n randposisie in die doeltaal se polisisteem inneem, is sy waarneming dat vertalers geneig is om tekste wat in die doeltaal se sentrum voorkom, na te boots. Die vertaler skep gevolglik 'n teks wat aan die talige en kulturele norme van die teikenstelsel voldoen. Dit gaan dus om aanvaarbaarheid van die vertaalde teks binne die doeltaal se polisisteem.

Wanneer 'n doelteks egter 'n meer sentrale rol in die doeltaal se polisisteem inneem, is vertalers geneig om in 'n mindere mate aan die doeltaal- en kultuurnorme te voldoen omdat daar minder bestaande modelle en 'n groter verdraagsaamheid in die doeltaal se polisisteem is. Die vertaalde teks weerspieël gevolglik grootliks die brontaal en -kultuur. So 'n vertaling word as toereikend beskou.

Ten einde 'n vertaalde teks op 'n empiriese en sistematiese wys te ontleed, stel Toury (1995 en 2012:93-100) 'n driestapproses voor: Stap een is om die posisie van die vertaalde teks in die polisisteem te bepaal en op grond daarvan 'n hipotese te vorm van die vertaalstrategie wat gevolg word. Dit beteken die vertaler neem nie net die teks, die lesers en hulle kulturele agtergrond in ag nie, maar ook die sosiokulturele konteks waarbinne die vertaling geskep word en in gaan funksioneer. Stap twee behels dat die bron- en doelteks met mekaar vergelyk word om vas te stel watter verskuiwings tussen die twee tekste plaasgevind het. 'n Vergelykingsbasis word opgestel waarin sekere aspekte van die twee tekste met mekaar vergelyk word. Die navorser ontleed dan die verskuiwings wat plaasgevind het ten einde die hipotese wat in stap een gevorm is, naamlik of die vertaler 'n aanvaarbare of 'n toereikende vertaling geskep het, te bevestig of te verwerp. In stap drie word op grond van die ontledings in stappe een en twee veralgemenings oor die vertaalproses gemaak. Dié veralgemenings sal, op grond van die posisie wat die vertaalde teks in die doeltaal se polisisteem inneem, waarskynlik een van twee tendense toon: Tekste wat 'n randposisie in die polisisteem beklee, sal waarskynlik gekenmerk word deur die wet van toenemende standaardisering wat beteken dat die vertaling die doeltaal-en kultuurnorme weerspieël (Toury, 2012:303-309). Daarteenoor word vertalings wat 'n primêre posisie in die polisisteem inneem, gekenmerk deur die wet van interferensie wat beteken die brontekspatrone word in die doelteks oorgedra (Toury, 2012:310-316).

Polisisteem se bydrae lê in die inagneming van die doeltaalkultuur en -norme wat uiteindelik die sogenaande kulturele wending in moderne vertaalteorie tot sy reg gekom het.

Dit beteken egter nie dat Toury die enigste persoon was om fokus op die doeltaalkutuur en norme te plaas nie. Reeds in 1988 het Mary Snellby-Horn kultuur as die kern in die kulturele benadering tot vertaling uitgelig:

The concept of culture as a totality of knowledge, proficiency and perception is fundamental in our approach to translation. If language is an integral part of culture, the translator needs not only proficiency in two languages, he must also be at home in two cultures. [...] The extent of his knowledge, proficiency and perception determines not only is ability to produce the target text, but also his understanding of the source text (Snellby-Horn, 1988:42).

Lefevere (1992:2) is van mening dat die proses wat lei tot die aanvaarding of verwerping, die kanonisering of niekanonisering van literêre werke nie deur vae faktore nie, maar deur baie konkrete faktore gedomineer word wat relatief maklik is om raak te sien indien 'n mens daarvoor begin uitkyk. Dit kan volgens hom gebeur wanneer 'n mens aandag gee aan kwessies soos mag, ideologie, instelling en manipulasie.

Venuti (1998:5) meen 'n vertaling dra altyd 'n interpretasie oor. 'n Vertaling is volgens hom 'n vreemde teks wat deels verander is, en aangevul word deur eienskappe eie aan die doeltaal. Dit is nie meer onpeilbaar vreemd nie aangesien dit verstaanbaar gemaak is deur 'n kenmerkende domestikerende styl. Volgens hom is alle vertalings, uiteindelik domestikerend van aard en nie meer onderskeibaar vreemd nie aangesien dit in 'n duidelike domestikerende styl verstaanbaar gemaak is.

Those [translations] that work best, the most powerful in recreating cultural values and the most responsible in accounting for that power, usually engage readers in domestic terms that have been defamiliarized to some extent, made fascinating by a revisionary encounter with a foreign text (Venuti, 1998:5).

In die volgende afdeling word daar aandag gegee aan vertaalstrategieë en die konsep vertalershabitus.

4. Vertaalstrategieë en vertalershabitus

4.1 Vertaalstrategieë

Met verwysing na die werk van Lefevere (1992) wys Pienaar en Dose (2024:419) daarop dat kulturele benaderings tot vertaalkunde vertalings nie net as tekste beskou nie ... maar ook as 'n manifestasie van bepaalde kulturele, politieke en ideologiese oortuigings."

Binne hierdie benaderings is veral drie sake vir hierdie bespreking van belang, naamlik sigbaarheid van die vertaler, en die konsepte domestikering en vervreemding. Sigbaarheid van die vertaler hou verband met die mate waartoe dit vir lesers duidelik is die teks is wel 'n vertaling. Dit gaan ook oor die mate waartoe die bronteks se kulturele wêreld behou word of alternatiewelik aangepas of verwring word om aan te pas by die doeltaal se kulturele norme en waardes en sodoende geassimileer of selfs geoorassimileer word.

Venuti (1998b,135-144) meen oorassimilering hou dikwels verband met vertaalstrategieë wat deur uitgewers voorgeskryf word omdat lesers dikwels voorkeur gee aan 'n teks wat vlot lees en die indruk van 'n oorspronklike en nie 'n vertaalde teks skep nie. Die eindresultaat is egter dat die vertaler en die vertaalde produk onsigbaar word, sonder enige aanduiding dat die teks deur 'n tussenganger (die vertaler) geskep is. Dié tipe vertaalstrategie lei tot domestikering. 'n Gedomestikereerde vertaling lees maklik, is deursigtig en beperk vreemde elemente in die teks tot die minimum. Hierteenoor staan die vertaalstrategie wat as vervreemding bekend staan. Wanneer dié strategie gebruik word, word die teikenleser daarvan bewus gemaak dat die oorspronklike teks uit 'n ander taal en kultuur kom (Venuti, 2013:11). Die vertaalde teks lees nie noodwendig maklik nie en kan elemente bevat wat die leser aan die oorsprong van die teks herinner. Die vertaler en die vertaling is gevolglik sigbaar.

In sy oorsig oor vertaalteorie en die kulturele wending per se, wys Pym (2023:208) daarop dat daar soms verskillende dinge onder die term kultuurvertaling verstaan word, maar dat die meeste gebruike van die term vertaling in 'n hoogs menslike konteks plaas en dat vertaling dikwels vanuit die oogpunt van 'n vertaler gesien word. Hy wys ook daarop dat vertaling binne hierdie siening komplekse maatskaplike en historiese kontekste betrek.

4.2 Vertaalhabitus

In die debat oor (on)sigbaarheid van die vertaler verskuif die klem van die teks en die konteks; dit kom nader aan die vertaler en sy/haar rol in die vertaalproses. Vertaling word vanuit 'n sosiologiese perspektief ondersoek. Vanuit dié perspektief is die fokus op die vertaler as individu. Die klem op die vertaler het grootliks uit die werk van Bourdieu (1977, 1986 en 1991) ontwikkel.

Pierre Bourdieu (1977) het die konsep habitus ontwikkel ten einde te verduidelik hoe maatskaplike strukture geïnternaliseer en gereproduseer word deur individuele gedrag. Habitus verwys na diep gesetelde denkpatrone, gedrag en persepsies wat via sosialisering verkry word en as bestendige gesindhede of ingesteldhede beskou kan word. Dié ingesteldhede is egter plooibaar en kan gedrag oor kontekste heen bepaal sonder dat dit bewustelik bevraagteken word. Habitus word deur maatskaplike strukture (byvoorbeeld klas en opleiding) gevorm, maar dit vorm ook hoe individue met daardie strukture omgaan. Individue herproduseer onbewustelik die sosiale norme en hiërargieë waarmee hulle grootgeword het en hou sodoende, via hulle habitus, die bestaande orde in stand. Volgens Bourdieu is individuele optrede nie meganies in reaksie op reëls of rolle nie, maar spruit dit voort uit die interaksie tussen habitus en veld.

Volgens Bourdieu (1993:29-73) is veld die gestruktureerde maatskaplike ruimte waarbinne individue en instellings om hulpbronne, status en invloed kompeteer. Elke veld (byvoorbeeld onderwys, kuns, politiek of die regte) het sy eie spelreëls of te wel norme, waardes en verwagtinge wat gedrag beheer. Elke veld het ook sy eie vorme van kapitaal (kultureel, sosiaal, ekonomies of simbolies) en eie magsdinamika (hiërargieë en kompetisie tussen agente om beheer of geloofwaardigheid te bekom). Velde is relasioneel: 'n Agent se posisie word nie in isolasie bepaal nie, maar in verhouding tot ander in die veld. Die interaksie tussen agente se habitus (of geïnternaliseerde ingesteldhede) en die veld se strukture bepaal agente se strategieë en optredes. 'n Verdere aspek wat veral op die individu fokus, hou verband met die redes waarom iemand by 'n bepaalde professionele veld betrokke raak of daarin belê, en staan bekend as illusio. Illusio gaan oor die geloof in die waarde van 'n spesifieke veld. Dit is 'n emosionele en intellektuele belegging in die norme, doelwitte en belonings van die veld. Dit gaan oor die gevoel dat die spel wat in die bepaalde veld gespeel word, die moeite werd is (Bourdieu, 2000:241).

Gouvanvic (1997) het, in reaksie op die polisisteemteorie, Bourdieu se teorie op vertaalkunde van toepassing gemaak. Volgens hom bied polisisteemteorie nie 'n maatskaplike verduideliking vir die rol van instellings en gevestigde praktyke in die opkoms en produksie van simboliese goedere speel nie. Hy meen Bourdieu se model is die mees gepaste verklaringsmeganisme vir die kompleksiteite van kultuurprodukte (Gouvanvic, 1997:126). Hy het die konsepte habitus, veld en illusio gebruik om vertaling te analiseer vanuit 'n sosiologiese perspektief. In sy studie oor Franse vertalings van Amerikaanse wetenskapfiksie tussen 1945 en 1960, het hy ondersoek ingestel na die wyse waarop vertalers, uitgewers en resensente as agente opgetree binne 'n vertalingverwante veld met elkeen wat oor 'n ander vorm van kapitaal beskik het. Sy werk het die basis gelê vir wat later as die sosiologiese wending in vertaalstudies bekend geword het en uitgebrei is deur ander navorsers soos Simeoni 1998), Wolf (2007), Liu (2012) en Inghilleri (2023).

Teen hierdie agtergrond verwys 'n vertaalhabitus na 'n vertaler se diep gesetelde ingesteld-hede wat deur opleiding, kulturele agtergrond en professionele ervaring gevorm is (kyk ook Meylaerts, 2011:135). Hierdie ingesteldhede of denkwyses bepaal hoe vertalers tekste lees, watter vertaalkeuses hulle maak en hoe hulle met die norme in die veld omgaan. Die veld is die professionele en kulturele domein van vertaling met sy eie reëls, hiërargieë en magstrukture. Die veld bepaal dit wat as waardevol beskou word, byvoorbeeld akkuraatheid, kreatiwiteit of prestige. In die konteks van 'n vertaalhabitus verduidelik illusio waarom vertalers sekere norme volg of na uitnemendheid streef, selfs al is die eksterne beloning (roem of geld) minimaal. 'n Vertaler se illusio weerspieël sy/haar oortuiging dat vertaling hetsy kultureel, eties of artisties saak maak en dat sy/haar rol binne daardie konteks sinvol is. Illusio bly egter nou verbind aan habitus, die diep gesetelde ingesteldhede wat gevorm is deur die individu se agtergrond en ervarings. Die bestudering van 'n vertaalhabitus help om te verduidelik hoe vertalers keuses maak wat nie net hulle taalvaardigheid weerspieël nie, maar ook hulle kulturele en ideologiese ingesteldheid (kyk ook De Roubaix, 2023).

4.3 Nathan Trantraal se vertaalhabitus

Die vraag wat nou ontstaan, is hoe Nathan Trantraal se vertaalhabitus lyk.

In aansluiting by wat hierbo gemeld is, meen Simeoni (1998:1-39) dat die vertaalnorme wat 'n vertaler gebruik, geïnternaliseer en die produk van sy/haar habitus is. Trantraal skryf in Kaaps en is bekend as aktivis vir Kaaps. Vergelyk byvoorbeeld sy onderstaande uitspraak:

My Afrikaans lyk soesie mense wat it praat. Die geskiedenis van Coloured mense is heeltemaal locked up innie Afrikaans wat hulle praat. Is Engels, Dutch, Malay, Indonesian Arabic, Khoe. Dis 'n version van Afrikaans wat unedited is, sône gatekeepers en sône affectations. Die problem is net die Afrikaans wat ôs op skool gedoen 'et, het net 'n passing resemblance gehad to die Afrikaans wat ôs byrie hys gepraat 'et. Dis soos twee mense van dieselle familie wat anderste praat. Nie twee mense van een familie is mos dieselle nie (Terblanche, 2020).

En uit een van sy rubrieke:

Mr Fowler dryp elke jaa Afrikaans en as jy Afrikaans dryp, dan kan jy maa al jou anne vakke slaag, jy dryp nog altyd die jaa, wan Afrikaans is jou hystaal, wat of course ironic was, wan Afrikaans wassie ôs se hystaal 'ie (Trantraal, 2014b).

En ook:

En ek voel oek dat kinnes oppie Kaapse Vlakte unfairly expected wôd om goed te vaar inne taal wat voogeskryf wôd as hul hystaal wanne die taal in realiteit heeltemaal vreemd is vi hulle (Afrikaans.com, 2019).

In die onderhoud van 22 Oktober 2021 sê Trantraal hy is deur die uitgewer gevra om die teks in Kaaps te vertaal. Hieroor sê Marita van der Vyver (2019) sy vind die uitgewer (Miemie du Plessis van Lapa-uitgewers) se keuse van 'n vertaler briljant want: "Dit is moeilik om aan enigiemand anders te dink wat hierdie skokkende, liriese verhaal so presies rég sou kon laat klink in Afrikaans soos die digter en skrywer Nathan Trantraal." Trantraal self was verras deur die versoek om die teks in Kaaps te vertaal, want sê hy: "Dis gewoonlik iets waarvoor ek moet baklei" (Multilingual Language Service Office, 2021).

Volgens Trantraal het hy besluit om die proses kreatief te benader en toe sy ma gevra om die hele teks in die Standaardafrikaans wat sy op skool geleer het, te vertaal. Daarna het hy haar vertaling in Kaaps herskryf en, let wel, nie vertaal nie (Multilingual Language Service Office, 2021).

Indien die bogenoemde proses wel die gevolg is, moet Lang pad onnetoe as 'n abbavertaling beskou word. 'n Abbavertaling is 'n vertaling van 'n vertaling. Die bronteks van die uiteindelike doelteks is self 'n vertaling. Daar kan ook daarna as 'n tussenteks verwys word. In die geval van die vertaling van Long way down sal die Engelse teks as die bronteks beskou kan word, Nathan se ma se vertaling as die tussenteks en Trantraal se vertaling van die tussenteks in Standaardafrikaans tot Lang pad onnetoe in Kaaps as die uiteindelike doelteks (Steyn, 2005 bespreek die geskiedenis van abbavertalings en die praktyk om Engelse vertalings van Afrikaanse romans te gebruik om Franse weergawes te skep). Nathan Trantraal se ma is Charmaine Africa, skrywer van die memoires Amma (2024). Daar is egter geen aanduiding in Lang pad onnetoe dat sy by die vertaling betrokke was nie. Omdat die tussenteks nie in die openbare domein is nie, is dit nie moontlik om die tussenteks met die finale doelteks te vergelyk nie.

Trantraal se vertelling dat hy sy ma gevra het om aanvanklik die teks in Standaardafrikaans te vertaal, gee wel iets weer van Trantraal se vertalershabitus met inbegrip van die veld, sy illusio en die verskillende soorte kapitaal waartoe hy toegang het.

In § 4.2 is die stelling gemaak dat die veld gelyk gestel word aan die professionele en kulturele domein van vertaling. Die veld bepaal dit wat waardevol is, hetsy akkuraatheid, kreatiwiteit of prestige. Die ontvangs van die vertaling van Long way down dui op die waardering wat daar in die veld is vir die kreatiwiteit van die vertaling. Die toekenning van die UJ-prys gee ook prestige aan die vertaling. Wat illusio betref, is dit uit Trantraal se eie uitsprake duidelik dat die gebruik van Kaaps vir hom 'n dryfveer is.

Die derde aspek van 'n vertaler se vertaalhabitus gaan om die drie soorte kapitaal. In Trantraal se geval kan 'n mens sekerlik argumenteer dat hy oor ekonomiese kapitaal beskik (dit wat direk in geld omgesit kan word) indien die waarde van die onderskeie pryse, die betaling vir vertalings, rubrieke en moontlik ook ander skryfwerk in ag geneem word. Trantraal se status as bekroonde digter, skrywer en kunstenaar gee aan hom kulturele kapitaal. Dieselfde geld sy aktivisme betreffende Kaaps en die gebruik van Standaardafrikaans in skole. Aan Rhodes Universiteit is hy betrokke by 'n MA-program in kreatiewe skryfwerk, spesifiek in Kaaps. Trantraal het ook 'n internasionale profiel, soos blyk uit uitnodigings en optredes in onder meer Nederland. 'n Persverklaring oor Trantraal se besoek aan Leiden in Maart 2024 vermeld:

Nathan Trantraal is een van de meest veelzijdige literaire stemmen van Zuid-Afrika: schrijver van poëzie en graphic novels, vertaler, illustrator, toneelschrijver, scenarist en columnist (Voertaal, 2024).

Naas kulturele kapitaal het Trantraal beslis ook sosiale kapitaal. In 'n onderhoud met Trantraal en sy ewe bekende vrou, die digter Ronelda Kamfer, sê Louise Viljoen haar studente verwys na Trantraal en Kamfer as 'n glanspaartjie (celebrity couple) (Soundcloud.com, 2020).

Die uitgewer het hom genader en hy is betaal vir die vertaling. Die betaling dui op ekonomiese kapitaal, maar die feit dat juis hý genader is, slaan terug op sy kulturele kapitaal (met 'n reputasie as bewese digter in Kaaps) en moontlik ook sosiale kapitaal. Dat hy bereid is om op 'n openbare platform te sê sy ma het die oorspronklike vertaling gedoen, dui ook op kulturele kapitaal. Hý kan dit sê omdat hy Nathan Trantraal is.

Na aanleiding van wat tot dusver gesê is oor Trantraal, geskrewe Kaaps, vertaalteorie met inbegrip van polisisteemteorie, domestikering en vervreemding en ook Trantraal se vertalers-habitus, word sekere dele van die bron- en die doelteks in die volgende afdeling vergelyk ten einde aan te toon hoe Kaaps as die primêre domestikerende strategie in die vertaling gebruik is.

5. NathanTrantraal se vertaling van Long way down as Lang pad onnetoe

5.1 Sigbaarheid van die vertaling

In §4 hierbo is melding gemaak van die kulturele wending en vertaalteorie wat onder meer sigbaarheid van die vertaler op die voorgrond stel. In 'n vergelyking van Long way down en Lang pad onnetoe is dit opsigtelik dat die tekste ooreenstem wat betref uitleg, spasiëring en selfs lettertipe. Die omslae verskil wel en Nathan Trantraal word duidelik vermeld as vertaler van die doelteks. Die vertaler is dus van meet af sigbaar.

5.2 Die gebruik van Kaaps en ander domestikerende strategieë

Soos reeds genoem, is die milieu in die bronteks ongespesifiseer. Dieselfde geld die doelteks, maar die gebruik van Kaaps plaas die doelteksleser onmiddellik op die Kaapse Vlakte (vergelyk Shirmoney Rhode hier bo). Die gebruik van 'n variëteit (Kaaps) is die primêre instrument vir die domestikering in die doelteks. Vergelyk byvoorbeeld die gebruik van Kaaps in die verduideliking van die drie reëls in die bendewêreld:

Hendricks (2024:420 e.v.) bespreek die linguistiese eienskappe van Kaaps waarvan sommige in die voorbeeld hier bo gesien kan word. 'n Fonologiese merker van Kaaps is die postvokaliese /r/-weglating soos gesien kan word in voo (voor), vemoor (vermoor) en moodenaar (moordenaar). Nog 'n fonologiese kenmerk is vokaalverlenging plus postvokaliese /r/-weglating, soos te sien in wôd (word). Volgens Hendricks (2024:422) kom ontronding en enklisis algemeen in Kaaps voor nie, maar ook in ander variëteite van Afrikaans. In voorbeeld 1 hier bo kom ontronding voor in HYL (huil) en die enklisis van nie in baatie (baat nie). Hendricks (2024:427 e.v.) toon Kaaps word leksikaal gesproke onder meer gekenmerk deur grootskaalse, spontane gebruik van Engelse woorde wat hier bo gesien kan word in RULES (REELS). Hendricks (2024:425) skryf die Kaapse onderwêreld van bendes, gevangenisstraf en dwelmpraktyke is 'n vrugbare teelaarde vir leksikale innovering en 'n beduidende aantal tipies Kaapse leksikale items word geassosieer met die onderwêreld. In voorbeeld 1 hier bo is piemp (klik) so 'n geval.

Hendricks (2024:442) verwys na die sinonieme boere, gattas en mapoesas (die polisie) in Kaaps en noem Kaaps word gemerk deur die aantal sinonimiese leksikale items en uit-drukkings. Hy skryf die sinonimiese variasie word onderlê deur die proses van sinoniem-uitbreiding. Dit beteken die aantal sinonieme in 'n taal of 'n variëteit soos Kaaps word uitgebrei deurdat 'n reeds bestaande leksikale item (woord of uitdrukking) aangevul word met 'n leksikale item of items met 'n ooreenstemmende betekenis. Voorbeeld 2 hier onder illustreer dié stelling met tien sinonieme in Kaaps vir 'n vuurwapen.

Volgens Marita van der Vyver (2019) toon Trantraal sy staal as woordkunstenaar en vertaler "wat al die draaie van Afrikaanse straattaal ken" met hierdie woorde.

In §4 hier bo is domestikering as vertaalstrategieë bespreek en word ook reeds aangetoon hoe Kaaps as vertaalstrategie aangewend word. In voorbeeld 3 hier onder gebruik die vertaler gelyktydig twee domestikerende strategieë, naamlik die gebruik van Kaaps, maar ook amptelike tale van Suid-Afrika word gebruik. In die tweede reel word die Engelse woord (corner-store) behou en in die derde reel word 'n leenvertaling (plestieksakkie) gebruik. (Kyk Hendricks, 2024:428 vir 'n uiteensetting van die verskillende soorte ontlenings uit Engels in Kaaps.) Reels 4 en 5 gebruik Standaardafrikaans. Naas "THANK YOU" in Long way down volg ses vertaalekwivalente in ses amptelike tale van Suid-Afrika. In hierdie voorbeeld word gevolglik nie net Kaaps nie, maar ook amptelike tale van Suid-Afrika ingespan om domestikering te bewerkstellig.

In voorbeeld 4 hier onder kies die vertaler om dress shoes met kêk skoene (kerkskoene) te vertaal. Die WAT (1968:552) omskryf kerkskoene soos volg: "[Paar] skoene wat alleen of veral kerk toe gedra word; Sondagskoene; vandaar ook beste skoene, kisskoene." Die vertaling van dress shoes as kêk skoene (kerkskoene), is naas die ortografíese aanpassing (los geskryf en ortografíes aangepas om vokaalverlenging en postvokaliese /r/-weglating weer te gee) nie uniek aan Kaaps nie, maar myns insiens nog 'n voorbeeld van 'n domestikerende strategie aangesien kêk skoene (kerkskoene) baie meer idiomaties is as byvoorbeeld beste skoene.

'n Verdere voorbeeld van 'n tipies Kaapse uitspraakverskynsel in voorbeeld 4 is boe (bo) in reël 2 wat op /e/-verhoging dui (kyk Hendricks, 2024:421).

In voorbeeld 5 is dit opvallend dat die lengte-eenheid foot met voet vertaal is aangesien Suid-Afrika en by implikasie Kaaps die metrieke stelsel gebruik en nie die Britse stelsel wat in die VSA (die ruimte in Long way down) gebruik word en in die bronteks voorkom nie. Die probleem lê by die feit dat foot in reël 3 en 4 in die bronteks na lengte verwys en in reël 5 na diepte of te wel die tradisionele diepte van 'n graf. Met die eerste oogopslag wil dit voorkom asof hier vervreemdend te werk gegaan is. Toe die vertaler hieroor uitgevra is, het hy gesê: "Ek vertaal en ek skryf ook nie wanneer ek my eie werk skryf met die leser in gedagte nie. Dit moet authentic wees. Ek gebruik 'voet' omdat ons as ons praat, gebruik ons 'voet'" (Multilingual Language Service Office, 2021).

Wat die vertaler betref, is die gebruik van "voet" in reël 3 en 4 dus nie aanduidend van 'n vervreemdende vertaalstrategie nie. Inteendeel. In aansluiting by die opmerking deur Hendricks (2024:417-419) in 2 hier bo, is dit juis aanduidend van die outentieke stem van 'n skrywer wat in Kaaps skryf, in hierdie geval Trantraal.

Die doelteks bevat 'n woordelys aan die einde van die teks. Feinauer (2015:4 en 5) skryf wanneer 'n vertaler 'n woordelys of glossarium by 'n literêre teks voeg, die vertaler " ... 'n skepper pleks van 'n herskepper [word]), en dit verhoog ook die vertaler se sigbaarheid". Sy wys ook daarop dat die rede vir die

...skep van glossariums in literêre tekste is om doeltekslesers in staat te stel om so goed moontlik met die bronteksinhoud te identifiseer, en om soveel moontlik van die gebruike, denk- en uitdrukkingswyses van die brontekskultuur te verstaan.

Die woordelys in Lang pad onnetoe is egter nie daarop gerig om die doelteksleser te help om die brontekskultuur beter te verstaan nie. Dit is nie 'n poging om gebruike of denkwyses in die Amerikaanse kultuur vir die doelteksleser toeganklik te maak nie. Die lys van drie en dertig woorde bevat woorde in Kaaps wat moontlik nie vir Afrikaanse lesers wat nie Kaaps magtig is nie, bekend is nie. Die lys gee telkens die ekwivalent in Standaardafrikaans met 'n bladsyverwysing na waar die Kaapse vorm in die teks voorkom. Dit bevestig myns insiens die gebruik van Kaaps as die primêre domestikeringsinstrument. Naas Kaapse woorde/ uitdrukkings wat reeds hier bo aangetoon is, is verdere voorbeelde in die woordelys die volgende:

Daar is wel een gegewe in die bronteks en die doelteks wat inspeel teen die idee dat die doelteks in die Kaapse Vlakte afspeel en dit is die sentrale rol van die hysbak waarin die hele verhaal afspeel. (Die bronteks gebruik die woord elevator (p. 73) en die doelteks afwisselend lift en elevator (p. 77). Tipiese woonstelblokke op die Kaapse Vlakte het nie hysbakke nie, maar trappe. Ook hier domestikeer die vertaler egter. Die L wat lobby (grondvloer) in die Amerikaanse hysbak aandui, word op p. 79 in die doelteks die syfer 1 wat Will en sy broer toe hulle klein was "virre joke met 'n koki-pen op die 1 van die onneste knoppie veranne [het] na 'n L". L staan vir loser.

In die bostaande afdeling is gewys op sigbaarheid van die vertaler in Lang pad onnetoe en die gebruik van Kaaps as domestikerende strategie is geïllustreer. Daar is ook gewys op die gebruik van amptelike Suid-Afrikaanse tale en ander domestikerende strategies.

6. Gevolgtrekking

In hierdie ondersoek is gekyk na die vertaling van Long way down deur Jason Reynolds as Lang pad onnetoe deur Nathan Trantraal. Die vertaling is besonder goed ontvang. Een aspek wat telkens deur resensente uitgelig is, is die bronteks wat in Kaaps en nie in Standaardafrikaans vertaal is nie.

Alhoewel Kaaps primêr 'n gesproke variëteit van Afrikaans is, bestaan 'n gevestigde skryftradisie daarvan wel en sedert 1990 is daar 'n beduidende toename in die aantal literêre tekste wat in Kaaps verskyn. Ten spyte van interne variasie in Kaaps verteenwoordig die skrywers wat in Kaaps skryf kollektief die taalverskynsels wat as Kaaps beskou word. Nathan Trantraal is een van hierdie skrywers.

Vertaalteoreties beskou, vorm vertaalde tekste ook deel van die polisisteem van 'n literêre stelsel. Die verwagting is dat indien 'n teks 'n randposisie in die polisisteem van die doeltaal inneem, vertalers geneig is om 'n aanvaarbare teks te skep wat aan die linguistiese en kulturele norme van die teikenstelsel voldoen. Daarteenoor word verwag dat vertalers geneig is om in 'n minder mate aan die doeltaal- en kultuurnorme te voldoen indien die doelteks 'n meer sentrale rol in die polisisteem van die doeltaal inneem en eerder 'n toereikende teks skep. Alhoewel sekere gekanoniseerde tekste in Kaaps voorkom, is Lang pad onnetoe uniek in die sin dat 'n gevestigde vertaaltradisie in Kaaps nie bestaan nie en daar baie minder geskrewe tekste in Kaaps as in Standaardafrikaans is. Dit sou dus verwag kon word dat die vertaling 'n randposisie in Kaaps sou inneem. Die vertaler skep egter, in teenstelling met die verwagting dat die vertaling grootliks die brontaal en -kultuur sal weerspieël, 'n aanvaarbare vertaling waarin die vertaling grootliks aan die kulturele norme van die teikenstelsel voldoen. Hy doen dit deur die gebruik van 'n variëteit wat, soos die variëteit wat in die bronteks gebruik is, nie gestandaardiseer is nie.

Die vertaler is sigbaar, maar terselfdertyd word deurlopend van 'n domestikerende vertaalstrategie gebruik gemaak. Ook dit werk teen die teorie in aangesien domestikerende vertalings gewoonlik die indruk wil skep dat die vertaling 'n oorspronklike teks is en die vertaler onsigbaar word. In Lang pad onnetoe is dit nie die geval nie en die rede daarvoor is tweeledig: Nathan Trantraal se vertaalhabitus wat onder meer gekenmerk word deur die gebruik van Kaaps.

VERWYSINGS

References

  • Afrikaans.com. 2019. https://afrikaans.com/2019/02/19/nathan-trantraal-oor-sy-vertaling-van-lang-pad-onnetoe-video/ [2 Mei 2025].
    » https://afrikaans.com/2019/02/19/nathan-trantraal-oor-sy-vertaling-van-lang-pad-onnetoe-video/
  • Africa, C. 2024. Amma. Kaapstad: Tafelberg.
  • Bourdieu, P. 1977. Outline of a Theory of Practice. Cambridge: Cambridge University Press.
  • Bourdieu, P. 1986. The forms of capital. In: Richardson, J.G. (eds.). Handbook of theory and research for the sociology of education. New York: Greenwood, pp. 241-258.
  • Bourdieu, P. 1991. Language and symbolic power. Cambridge: Polite Press.
  • Bourdieu, P. 1993. The Field of Cultural Production: Essays on Art and Literature. Cambridge: Polity Press.
  • Bourdieu, P. 2000. Pascalian Meditations. Stanford: Stanford University Press.
  • De Roubaix, L. 2023. André P. Brink as vertaler. Doktorale proefskrif. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
  • Even-Zohar, I. 1978. The position of translated literature within the literary polysystem. In: Venuti, L. (ed.). The Translation studies reader. New York & London: Routledge, pp. 199-204.
  • Even-Zohar, I. 1990. The Position of Translated Literature within the Literary Polysystem. In: Polysystem Studies Poetics Today, 11(1). Durham NC: Duke University Press, pp. 45-51.
  • Feinauer, I. 2015. 'n Taalkundige kykna die glossariums in literêre vertaalprodukte. Stellenbosch: Sun Media.
  • Gouvanvic, Jean-Marc. 1997. Translation and the Shape of Things to Come: The Emergence of American Science Fiction in France. The Translator 3(2), pp. 125-152.
  • Hendricks, F. 2024. Kaaps as variety of Afrikaans. In: Carstens, W.A.M. and Bosman, N. (eds.). Afrikaans Linguistics Contemporary Perspectives. Stellenbosch: Sun Media. Chapter 10, pp. 411-465.
  • Inghilleri, M. 2023. Sociological approaches. The Routledge Handbook of Translation Theory and Concepts. London and New York: Routledge, pp. 241-262.
  • Lefevere, A. 1992. Translation, rewriting and the manipulation of literary fame. London & New York: Routledge.
  • Liu, J. 2012. Habitus of Translators as Socialized Individuals: Bourdieu's Account. Theory and Practice in Language Studies, 2(6), pp. 1168-1173.
  • Meylaerts, R. 2011. Habitus and self-imange of native literary author-translators in diglossic societies. In: Sela-Sheffy, R. and Schlesinger, M. (eds.). Identity and Status in the Translational Professions. Amsterdam & Philadelphia: John Benjamins, pp. 135-149.
  • Multilingual Language Service Office. 2021. https://www.youtube.com/watch?v=cpHPng_lZ98 [2 May 2025].
    » https://www.youtube.com/watch?v=cpHPng_lZ98
  • Pienaar, M. en Dose, S. 2024. Vertaalkunde. In: Carstens, W.A.M. en Van Dyk, T.J. (reds.). Toegepaste Taalkunde in Afrikaans. Pretoria: Van Schaik, hoofstuk 21, pp. 40-428.
  • Pym, A. 2023. Exploring Translation Theories (3rd ed). New York & London: Routledge.
  • Reynolds, J. 2017. Long way down. New York: Atheneum.
  • Reynolds, J. 2018. Lang Pad Onnetoe. Vertaal deur Trantraal, Nathan. Midrand: LAPA Uitgewers.
  • Rhode, S. 2019. Resensie: Langpadonnetoe deur Jason Reynolds, vertaal deur Trantraal, Nathan. https://www.litnet.co.za/resensie-lang-pad-onnetoe-deur-jason-reynolds/ [26 Maart 2025].
    » https://www.litnet.co.za/resensie-lang-pad-onnetoe-deur-jason-reynolds/
  • Snell-Hornby, M. 1988. Translation Studies: An Integrated Approach. Amsterdam: John Bejamins.
  • Simeoni, D. 1998. The pivotal status of the translator's habitus. Target, 10(1):1-39.
  • Snijman, F.J. (red.). 1968. Woordeboekvan dieAfrikaanse Taal. Vyfde deel, J-KL. Pretoria: Staatsdrukker.
  • Soundcloud.com. 2020. https://soundcloud.com/nbpublishers/twee-digters-tesame [2 Mei 2025].
    » https://soundcloud.com/nbpublishers/twee-digters-tesame
  • Steyn, J. 2015. Van doekvoet na eendvoet: Die vertaling van Afrikaanse romans in Afrikaans. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) 12(1). https://www.litnet.co.za/van-doekvoet-na-eendvoet-die-vertaling-van-afrikaanse-romans-in-frans/ [13 Augustus 2025].
    » https://www.litnet.co.za/van-doekvoet-na-eendvoet-die-vertaling-van-afrikaanse-romans-in-frans/
  • SuperSummary. 2017. https://www.supersummary.com/long-way-down/summary/ [2 May 2025].
    » https://www.supersummary.com/long-way-down/summary/
  • Terblanche, E. 2020. Nathan Trantraal (1983-). ATKV/LitNet-Skrywersalbum. Nathan Trantraal (1983-) - LitNet [14 April 2025].
  • Toury, G. 1995. Descriptive translation studies and beyond. Amsterdam: John Benjamins.
  • Toury, G. 2012. Descriptive Translation Studies - and Beyond (Revised edition). Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins.
  • Trantraal, N. en Trantraal, A. 2003 Urban tribe. Cape Town: Cape Argus.
  • Trantraal, N. 2008. Stormkaap: drome kom altyd andersom uit. Kaapstad: Tafelberg.
  • Trantraal, N. en Trantraal, A. 2010. Coloureds. Kaapstad: Tafelberg & Jincom Uitgewers.
  • Trantraal, N. 2013. Chokers en survivors. Kaapstad: Kwela.
  • Trantraal, N., Trantraal, A., Benson, B. en Marais, A. 2014. Crossroads: I live where I like. Kaapstad: Isotrope Media.
  • Trantraal, N. 2014b. Skryf 'it soes jy praat. LitNet. [23 April 2025].
  • Trantraal, N. 2017. Alles het niet kom wôd. Kaapstad: Kwela.
  • Trantraal, N. 2018. Wit issie 'n colour nie: angedrade stories. Kaapstad: Kwela.
  • Trantraal, N. 2020. Oolog. Kaapstad: Kwela.
  • Trantraal, N. 2024. Die man wattie kinnes vang. Kaapstad: Kwela.
  • Van der Vyver, M. 2019. Benderoman is briljant. Netwerk24. https://www.netwerk24.com/benderoman-is-briljant-20190118 [23 April 2025].
    » https://www.netwerk24.com/benderoman-is-briljant-20190118
  • Venuti, L. (ed.). 1995. The translator's invisibility: a history of translation. London & New York: Routledge.
  • Venuti, L. 1998. The Scandals of Translation. Towards an ethics of difference. London & New York: Routledge.
  • Venuti, L 1989b. Introduction. In: Venuti, L. (ed.). Special Issue, The Translator 4(2), Studies in inter-cultural communication. Translation and Minority. Manchester: St. Jerome Publishing, pp. 1351-44.
  • Venuti, L. 2013. Translation changes everything. Theory andPractice. London & New York: Routledge.
  • Voertaal. 2024. https://voertaal.nu/persbericht-graphic-novels-in-zuid-afrika-het-werk-van-nathan-trantraal/ [2 Mei 2025].
    » https://voertaal.nu/persbericht-graphic-novels-in-zuid-afrika-het-werk-van-nathan-trantraal/
  • Wolf M. 2007. The emergence of a sociology of translation. In: Wolf, M. and Fukari, A. (eds.). Constructing a Sociology of Translation. Amsterdam & Philadelphia: John Benjamins, pp. 1-36.

Ontvang: 2025-05-10
Goedgekeur: 2026-01-10
Gepubliseer: Maart 2026

Marné Pienaar is 'n professor in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Sy is die medeskrywer van die 6-talige woorde-boek Veeltalige Vertaalterminologie/Multilingual Translation Terminology, asook die 5-talige woordeboek Interpreting terminology/Termino-logie van het tolken/Tolkterminologie/Mareo a botoloki/Amatemu okutolika. Sy was 'n lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het ook op direksie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal gedien. Sy is by die Suid-Afrikaanse Verta-lersinstituut geakkrediteer as 'n simultane tolk. Sy doen veral navorsing oor aspekte van vertaal-studies, tolking en semantiek.
Marné Pienaar is a professor of Afrikaans linguistics at the University of Johannesburg. She is the co-author of the sextualingual dictionary Veeltalige Vertaalterminologie/Multilingual Translation Terminology as well as the quadri-lingual dictionary Interpreting terminology/ Terminologie van het tolken/Tolkterminologie/ Mareo a botoloki/Amatemu okutolika. She was a member of the Language Commission of the South African Academy of Arts and Science and served on the board of directors of the Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Dictionary of the Afrikaans language). She is a simultaneous interpreter accredited by the South African Translators' Institute. Her research focusses on translation studies, interpreting and semantics.

Publication Dates

  • Publication in this collection
    09 June 2026
  • Date of issue

History

  • Received
    10 May 2025
  • Accepted
    10 Jan 2026
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top