Open-access Verskansing: Die voorkoms en gebruik van beperkings- en weerhoudingsmerkers in studente se argumentatiewe tekste

Hedging: The occurrence and use of restriction and restraint markers in students' argumentative texts

Abstract

Metadiskoers word in twee kategorieë verdeel, naamlik tekstuele en interpersoonlike metadiskoers. Tekstuele metadiskoers behels die gebruik van woorde en frases om teksinligting op 'n koherente wyse te organiseer, terwyl interpersoonlike metadiskoers die skrywer in staat stel om 'n skrywer-leser-verhouding te bewerkstellig. Verskansers, as deel van die interpersoonlike metadiskoerskategorie, word spesifiek gebruik om skrywerstandpunte te kwalifiseer. Eerstens versag dit skrywerstandpunte tot 'n algehele moontlikheid, en skep sodoende ruimte vir die leser se mening rakende die onderwerp van bespreking. Tweedens toon dit aan wanneer 'n skrywer hom/haar van die standpunte en/of selfs die evaluering daarvan distansieer. Die literatuur word gekenmerk deur verskeie studies rakende die gebruik van verskansing in akademiese tekste, maar daar bestaan 'n leemte oor die gebruik daarvan in Afrikaans-sprekende eerstejaarstudente se geskrewe tekste. As sodanig poog die onderhawige artikel om lig te werp op die tipe verskansers wat deur Afrikaanssprekende eerstejaarstudente gebruik word; die frekwensie in gebruik van verskansers oor al drie die dele van die tekste, naamlik die inleiding, die liggaam (inhoudelike gedeelte) en die slot; of die verskansers korrek en gepas gebruik word; en of daar 'n beduidende verskil is in die gebruik van verskansers tussen studente wat ondergemiddeld, gemiddeld en bogemiddeld presteer het in hulle geskrewe argumente. Die resultate van die ondersoek toon dat Afrikaanssprekende eerstejaarstudente met aanvang van hulle universiteitstudie nie noodwendig ervare is in die gebruik van verskansing nie. Beperkings- en weerhoudingsmerkers het selde in die argumente gefigureer. Derhalwe word aanbeveel dat Afrikaanssprekende eerstejaarstudente op universiteit in Akademiesegeletterdheidsmodules geakkultureer behoort te word ten opsigte van die belangrikheid én die gebruik van verskansing in hulle geskrewe argumente.

metadiskoers; tekstuele metadiskoers; interpersoonlike metadiskoers; Afrikaanssprekende eerstejaarstudente; geskrewe argumente; verskansing; beperkingsmerkers; weerhoudingsmerkers


location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Acompañe los números de esta revista en su lector de RSS
Ir para arriba