Open-access Wat is dit met ons? Gee ons nog om?

TAALRUBRIEK

Wat is dit met ons? Gee ons nog om?

Onlangs (16 November 2024) het daar in minstens Media24 se suidelike koerant Die Burger 'n belangrike artikel uit die pen van die sanger-skrywer Koos Kombuis verskyn. Die titel van sy artikel het gelui: "'Verdomming' van 'n taal en kultuur" en daarin betreur hy onder meer die onvermoë van gewone Afrikaanssprekendes om selfs die mees basiese Afrikaans korrek te skryf en te spel. Bravo, Meneer!

Tragies soos wat daardie waarheid ook al is, was ek terselfdertyd dankbaar dat iemand anders ook die saak aanroer.

Die trefreël onder die titel van Kombuis se artikel is 'n akkurate samevatting van die tragedie van die groot meerderheid van hedendaagse Afrikaanssprekendes en -skrywendes se gebrekkige respek vir en gebrek aan kennis van die mees basiese norme van die taal waarvoor ons voorouers verbete gestry het: "Lees die deelnemers aan Kom ons braai ooit boeke of koerante? Vir hierdie mense is die idee van korrekte of normale Afrikaans skynbaar so verhewe soos Sanskrit." Kombuis het verskeie skermkiekies van sulke flaters bygevoeg, bv. "verrasende aarteppel gereg", "Uie Slaai", "bedrypsel", "lemoen botter", "Krak lekker Braaibroodjies", en so meer.

En dan het Kombuis nie eens van die mengeltaal aangeroer wat 'n mens deesdae maar alte dikwels moet aanhoor wanneer sportlui, bekendes in die vermaaklikheidsbedryf en "gewone mense" op radio of TV praat nie. Dit wil voorkom of min Afrikaanssprekendes twee sinne ná mekaar kan sê sonder om die helfte of die kern daarvan in Engels te sê, of sonder om met die bisarste, mees klakkelose vertalings vorendag te kom. As dit nie "ek doen" of "dit doen" is nie, dan kan hulle "nie daarmee deel nie" of "draai hulle die tafels op iemand" of is "iets op die kaarte".

Dankbaar soos 'n mens is dat daar Afrikaanse TV-kanale van gehalte is, het ek self ook al in die openbaar beswaar gemaak teen die tallose Afrikaanse skryffoute waarteen 'n mens op die groep kykNET-kanale vaskyk, soms in die slottitels van 'n program, soms in die skryfsels van deelnemers aan 'n program, soos dié wat Kombuis noem. In 'n gewilde en origens uitstekende reeks word in die slottitels byvoorbeeld erkenning verleen aan die onderneming verantwoordelik vir *"Haar en Haarprodukte" - klaarblyklik 'n klakkelose vertaling van "Hair and Hair Products". Hoe dié "Haar" verstaan moet word, weet nugter; selfs nie eens 'n weg-laatteken ná "Haar" kan dié spulletjie red nie. Uit die slottitels van verskeie programme wil dit voorkom of diegene wat dit opstel, geen begrip het van die skryfwyse van samestellings in Afrikaans nie en dit volkome lukraak hanteer. Dis "Assistent Redigeerder" hier en "Rekwisiete Meester" daar, en dan, vreemd genoeg, "Teksgedrewe-produksies" - wat vas moes wees, is los, en wat los moet wees, word gekoppel.

Ek het al dikwels gewonder wat die rede vir hierdie stand van sake is. Wil die spreker of skrywer hom of haar doelbewus van 'n streng verlede losmaak? Is dit blote ongeërgdheid? Is dit onkunde, soos Kombuis impliseer as hy vra of mense dan nie boeke of koerante lees nie.

Ek is tot my spyt geneig om te dink dat 'n deel van die probleem voor die deur van die onderwys gelê moet word, hoewel ouers en grootouers hoegenaamd nie vry te spreek is nie. Op skool moet 'n kind tog leer dat daar 'n verskil is tussen byvoorbeeld regisseer en regisseur, of skeur en skeer, moet en moed, brei en bry, faal en vaal, vel en fel, fors en vors, .... Skoolkinders moet tog leer om Afrikaans - trouens enige taal wat hulle in hulle lewe moet gebruik - korrek te hanteer, veral skriftelik. Word daar in die skoolleerplanne vir Afrikaans selfs die geringste aandag aan die spelreëls van Afrikaans gegee?

Onlangs stuur iemand my 'n sosialemediaplasing deur 'n gesinslid van 'n bekende rugbyspeler wat 'n operasie ondergaan het. Die plaser sê hoe dankbaar die familie is dat alles goed afgeloop het, en voeg by "al sy hare is *afgeskeur". Einá! Ek wonder of die hospitaal, verpleegpersoneel en die chirurg vir pyn en lyding gedagvaar gaan word.

Nog 'n fout wat 'n mens tog so gereeld raakloop, is *oppad. Ek het nog nooit gesien dat iemand skryf "Ek is *opkantoor / opuniversiteit / opskool" nie, maar *oppad? Nege uit die tien keer. Ek verstaan dit eenvoudig nie.

Iets wat ook baie dikwels voorkom, is die skrywende persoon se onvermoë om te onderskei tussen 'n voorsetsel + selfstandige naamwoord (soos op soek) en 'n skeibare werkwoord waarvan die deeltjie vooraan vormlik met 'n voorsetsel ooreenstem (soos opsoek), byvoorbeeld "Ek is op soek na werk/aanvaarding/'n bietjie liefde" maar "Ek wil my oupa-hulle meer gereeld op die plaas gaan opsoek" (die skeibaarheid lê in 'n ander sinskonstruksie, bv. "Ek soek nie my oupa-hulle genoeg op nie"). Ook in sulke gevalle is dit maar te dikwels "ek is *opsoek na werk".

So ook in gedagte x ingedagte : "'n Mens moet die omstandighede in gedagte hou voordat jy oordeel" maar "Sy het ingedagte haar bril in die koffie gesteek en die beskuit op haar neus probeer sit".

Ek is terdeë daarvan bewus dat informele registers van formele registers verskil, ook wat gebruiksomgewing betref, maar as Afrikaanssprekende mense deur die media met 'n groot en wydverspreide gehoor kommunikeer, minag hulle in wese hulle gehoor deur taal te gebruik wat amper nie meer Afrikaans genoem kan word nie. Ek verneem dat wyle prof. Fritz Ponelis 'n slag gesê het dat Afrikaans toenemend net vertaalde Engels word.

Die geskiedenis van Afrikaans en die ontwikkeling daarvan tot 'n standaardtaal wat 'n eeu gelede een van ons land se amptelike tale kon word, lê 'n dure plig op almal vir wie Afrikaans kosbaar is, vir wie Afrikaans die moedertaal is, om te sorg dat minstens die standaardvariëteit van Afrikaans - en "standaardvariëteit" is nie eers naastenby net formele taal en vaktaal nie - nie onherroeplik verval tot 'n mengeltaal wat weer die skeldnaam van "kombuistaal" verdien nie. Alle Afrikaanssprekendes - insluitende mediabasie, reklamehuise, ouers, grootouers, leerplanopstellers en onderwysers - moet toesien dat die geskiedenis nie ons hedendaagse Afrikaanssprekendes eendag gaan weeg en te lig bevind nie.

JD (Tom) McLachlan

E-pos:

Correspondence

tommcl@whalemail.co.za

Publication Dates

  • Publication in this collection
    12 Dec 2024
  • Date of issue
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top