Open-access Repliek op die artikel van Henk Stoker, die reaksie van Johan Dreyer en Kobus van der Walt en die mening van Charl-Pierre Naudé

AKTUEEL

Repliek op die artikel van Henk Stoker, die reaksie van Johan Dreyer en Kobus van der Walt en die mening van Charl-Pierre Naudé

Izak (Sakkie) Spangenberg

Professor emeritus en navorsingsgenoot Departement Bybelse en Antieke Studies UNISA E-mail:

Henk Stoker se kritiek in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe 64(2) op my artikel in TGW 63(4) het my aan die Jesus-spreuk in Lukas 6:41 laat dink: "Waarom sien jy die splinter in jou broer se oog raak, maar die balk injou eie oog merkjy nie op nie?" Hy wys 'n aantal sogenaamde redenasiefoute uit wat ek in my artikel sou gemaak het, maar is blind vir sy eie redenasiefoute - asook vir dié wat Johan Dreyer, Kobus van der Walt en Rudi Denton in TGW 63(2) gemaak het. Voorts beskuldig hy my daarvan dat ek "sensuur op artikels wil toepas, wanneer dié artikels op grond van natuurwetenskaplike navorsing aandui dat die bevindinge in ooreenstemming is met dit wat 'n groot deel van die wereldbevolking glo" (Stoker, 2024:359).

In my reaksie op die drie artikels van Dreyer en Van der Walt (2023a, 2023b, 2023c), asook die artikel van Dreyer, Van der Walt en Denton (2023) het ek nie 'n woord oor sensuur gerep nie. Ek het wél uitgewys dat daar ernstige vrae oor die gehalte van die navorsing geopper kan word. In my brief aan die Sondagkoerant Rapport (4 Februarie 2024) het ek wel die mening uitgespreek dat die artikels gediskwalifiseer behoort te word, maar dit was nie 'n pleidooi om sensuur nie.

Dit is duidelik dat die skrywers interdissiplinêre navorsing wou doen - hulle argumenteer immers dat Genesis 1-3 harmonieer met die Evolusionêre Biologie soos dit sedert Charles Darwin (19de eeu) ontwikkel het. 'n Mens verwag dus dat die skrywers op hoogte sou wees van die navorsingsbevindinge op die terrein van die moderne Bybelwetenskap en die moderne Evolusionêre Biologie. Om akademici wat gebreke in artikels uitwys daarvan te beskuldig dat hulle sensuur wil toepas, misken die aard van akademiese diskoers. Dit sal 'n kwade dag wees as akademici in Suid-Afrika nie meer ander se navorsing onder die loep mag neem en kritiek daarop mag lewer nie.

Wat is dan die "balk" wat Stoker miskyk? Volgens my mening sy aanvaarding van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) wat in die 16de eeu opgestel is, sonder om in ag te neem dat dié belydenis tydgebonde is en die wetenskaplike kennis van daardie tyd weerspieël. Dit is vir hom (en die drie ander outeurs) só 'n belangrike dokument dat hulle hul navorsing daarop baseer en derhalwe Moses as die outeur van Genesis beskou - soos wat die NGB (artikel 4) dit voorhou. Dreyer en Van der Walt se verweer teen my kritiek dat hulle die Pentateug-navorsing sedert die Reformasie ignoreer, is dat hulle bloot die Bybel napraat (2024:355). Ek huldig egter die mening dat hulle Moses as die outeur van Genesis beskou omdat die NGB hom so beskryf (NGB, artikel 4). Aangesien hulle die Bybel so getrou napraat, ontstaan die vraag waarom hulle dan nie die Bybel en die NGB navolg en na Adam as die eerste mens verwys nie (1 Kor. 15:45, Luk. 3:38; NGB, artikel 14 &15). Waarom wil hulle die wêreld daarvan oortuig dat Adam (van wie ons in Genesis 2-3 lees) nié die eerste mens was nié, maar dat daar pre-Adamitiese mense ("proto-mense") was en dat Moses ons in Genesis 1 daarvan vertel? Dit dui op 'n teenstrydigheid in die argumentvoering.

Samehangend hiermee kan Stoker (cum sui) se oortuiging dat die openbaring in die natuur nie die openbaring in die Skrif (en vice versa) kan weerspreek nie, na die NGB (artikel 2) teruggevoer word. Stoker verwoord dit só: "Die doel van die skrywers van die vier artikels was juis 'n kritiese vergelyking van die twee wyses waarop hulle glo God Hom openbaar" (2024:362). Stoker verwys in 'n voetnota pertinent na die NGB (artikel 2). In die opsomming van sy artikel stel hy dit nog skerper wanneer hy beweer dat die navorsers met die artikels "op grond van natuurwetenskaplike navorsing aandui dat die bevindinge in ooreenstemming is met dit wat 'n groot deel van die wereldbevolking glo" (Stoker, 2024:359). Nou beroep hy hom nie meer op wat in die Bybel staan nie, maar op wat Christene dwarsoor die wêreld glo, want volgens Stoker (cum sui) is die Bybel en die leerstellings van Christelike godsdiens dieselfde konsep. Hy sinspeel hier op die bevindings van die "Pew Research Center" wat uit opnames die gevolgtrekking maak dat die meerderheid mense hulself as Christene beskou -weliswaar nie as gereformeerde Christene nie, maar dis vir Stoker van minder belang. Omdat die navorsingsbevindinge van die skrywers in ooreenstemming is met dit wat Christene wêreldwyd glo, is die skrywers van die 7GW-artikels se navorsingsbevindinge bo verdenking. Dit bly 'n vraag hoe hierdie stelling van Stoker ooreenstem met sy vroeëre opmerking waarin hy 'n argument van my met die volgende woorde weerlê: "Buitendien bepaal wat die meerderheid glo nie die waarheid van 'n argument nie" (2024:364). Wanneer hy hom op die groot aantal mense (Christene) beroep, is sy argument goed en bo verdenking, maar wanneer ék daarop wys dat die meeste Bybelwetenskaplikes Moses nie meer as die outeur van Genesis beskou nie, is dit volgens hom 'n misleidende argument ("appeal to people") (Stoker, 2024:364).

Voortvloeiend uit Stoker (cum sui) se aanvaarding van die NGB (as 'n rigtinggewende dokument vir goeie Reformatoriese navorsing) is sy onwilligheid om in te sien dat navorsing op die terrein van die Bybelwetenskappe sedert die 16de eeu met rasse skrede gevorder het, vanweë die opkoms van die Rasionalisme, die Historiese kritiek en argeologiese ontdekkings in die Nabye Ooste. Hy blyk onkundig te wees ten opsigte van die jongste navorsing oor die godsdiens van Israel en daarom beskuldig hy my van inlegkunde wanneer ek daarop wys dat Genesis duidelik meer as een god veronderstel. Omdat die NGB (artikel 9) Genesis 1:26-27 interpreteer as dat hier sprake van die Drie-eenheid is, volg Stoker dit klakkeloos na, want in die NGB staan daar: "Wanneer God sê: Laat Ons mense maak na ons beeld, blyk dit daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is." Hendrik Bosman wat hierdie kwessie in sy artikel oor die NGB bespreek, maak die volgende kritiese opmerking hieroor: "Te midde van uiteenlopende interpretasies is die moderne eksegese dit eens dat daar nie in Genesis 1:26 en 3:22 van 'n regstreekse of onomwonde bewys van die Drie-eenheid sprake is nie" (1987:58). Teen die einde van die betrokke artikel kom hy tot die volgende gevolgtrekking (Bosman, 1987:67):

Die NGB maak op 'n voorkritiese manier van die Ou Testament gebruik. Daar bestaan geen erkenning in die NGB vir die feit dat Skrifaanhaling of Skrifverwysing noodwendig op Skrifinterpretasie berus nie en dat dit derhalwe nie bloot as 'n herhaling van die Skrif beskou kan word nie. Hoewel die letterlike betekenis van die Ou Testament voorkeur geniet, funksioneer die Ou Testament dikwels as 'n spieël waarin sestiende-eeuse gereformeerde dogmatiek weerkaats word.

Die Israelitiese godsdiens was van die begin af politeïsties en vertoon duidelik ooreenkomste met die Kanaänitiese godsdiens (vgl. Ps. 29 en 82). "In earlier times Israelites and Judahites were polytheists like any other Canaanites and worshipped Yhwh as a god of weather and of fertility" (Stavrakopoulou & Barton, 2010:3). Hierdie godsdiens (Jahwisme) het eers later (tydens en ná die ballingskap) via henoteïsme en monolatrie tot 'n monoteïsme (Judaïsme) ontwikkel. Ná die argeologiese ontdekkings in 1947 by Ugarit aan die kus van Sirië, die ontdekking van die inskripsie by Khirbet el-Qom naby Hebron in 1967, asook die Kuntillet '4/rud-inskripsie in die Negev in 1975/6, is dit duidelik dat die beeld wat die Ou Testamentiese boeke aan lesers voorhou rakende Israel se godsdiens, nie meer op sigwaarde aanvaar kan word nie. "The decipherment of the inscriptions and their subsequent discussion sparked new interest in the history of Israelite religion which was, in the wake of this discussion, increasingly judged to be Canaanite too" (Niehr, 2010:24).

Omdat hedendaagse Ou Testamentici tekste soos Genesis 1 en Genesis 2-3 binne hul historiese en kulturele kontekste lees en interpreteer, kom hulle tot ander gevolgtrekkings as die opstellers van die NGB, hedendaagse dogmatici en Christen-apologete oor wat die woorde "Laat Ons mense maak ..." (Gen. 1:26) beteken. Die opstellers van die NGB het nie oor die huidige kennis beskik nie en hulle maak van voorkritiese Skrifuitleg gebruik. Voorts deel hulle die oortuiging dat Skrifaanhaling en -verwysing bloot herhalings van die gedagtes in die Bybel is. Dit is egter 'n oorvereenvoudigde siening. Ons het in die NGB reeds met interpretasies van tekste te doen. Die skrywers van die Bybel het in die eerste millennium v.C. geleef, die opstellers van die NGB het in die 16de eeu n.C. geleef, terwyl ons in die 21ste eeu leef. Hierdie historiese tydsverloop word glad nie deur Stoker (cum sui) verreken nie. Dit is dan waar Charl-Pierre Naudé se mening oor die debat "wetenskap en God" (2024:344-353) skipbreuk ly.

Om a-histories oor die Christelike God, die Bybel en die wetenskap te filosofeer, dra nie veel by tot die gesprek oor die Christelike godsdiens en die wetenskap nie. Die Christelike godsdiens bestaan nie van alle ewigheid af nie, maar het uit die vroeë Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk (515 v.C.-70 n.C.) ontwikkel. Voorts het die ou Israeliete nie 'n Drie-eenheid geken nie. Die idee van 'n Drie-eenheid is 'n Grieks-filosofiese konstruk uit die vierde eeu n.C. deur middel waarvan die biskoppe aan Jesus goddelike status toegeken het. Nie alle Christene wat gedurende die eerste drie eeue n.C. geleef het, het só oor Jesus gedink en geskryf nie. "Pluriformiteit en diversiteit hebben het christendom vanaf het allereerste begin gekenmerkt," skryf Luttikhuizen (2005:21).

Teologie is tans 'n tekswetenskap, want dit gaan oor die lees en verstaan van antieke tekste. Die wetenskaplike bestudering van die Bybel oor die afgelope vierhonderd jaar het navorsers se oë geopen vir die feit dat die Bybel saamgestel is uit tekste wat in 'n wêreld ontstaan het wat radikaal van ons s'n verskil. Volgens daardie skrywers het hulle in 'n drie-verdieping-heelal geleef waar die gode op die boonste verdieping, mense op die middelverdieping en allerlei chaosmonsters in die waters onder die aarde (kelderverdieping) woon. Die NGB reflekteer nog hierdie verstaan van die kosmos.

Naudé doen 'n beroep dat ons nooit moet ophou "om God se bestaan te veronderstel nie" en vervolg dan met die woorde: "Deur so 'n veronderstelling hou ons juis die deure en vensters oop op die omringende onwetenheid waarna ek vir die doel van hierdie artikel met die woord donkerte verwys het" (Naudé, 2024:346). Anders as hy verkies ek om te sê: "Laat ons nie ophou om verhale te vertel nie, want sonder verhale is die lewe saai en dikwels onverstaanbaar". Die wetenskaplike verhale wat in ons dag vertel word, is meevoerend en lewensverrykend - al tree 'n godkarakter nie daarin op nie. Hierdie verhale hoef nie met die Bybel of enige ander godsdienstige geskrif te harmonieer om betekenis of gesag te dra nie. In hulself het hierdie verhale betekenis en gesag en verryk dit ons lewens omdat dit ons help om onsself en die wêreld om ons te verstaan.

Die bostaande skrywers kan die woorde van Lester Grabbe ('n Britse Ou Testamentikus) ter harte neem: "[W]e do violence to the Bible if we attempt to make it speak in pseudoscientific ways about modern science and technology. The Bible is not a scientific treatise and cannot offer that sort of information about the world" (2018:159).

BIBLIOGRAFIE

  • Bosman, HL. 1987. Die gebruik van die Ou Testament in die Nederlandse Geloofsbelydenis. In Bosman, HL, Hofmeyr, JW, Scheffler, EH, Van Eeden, IJ & Van Niekerk, E. Die Nederlandse Geloofsbelydenis - Ontstaan, Skrifgebruik en Gebruik. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika, pp. 53-69.
  • Dreyer, J & Van der Walt, K. 2023a. Die ontstaan van lewe: "In die begin was die Woord daar." Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):211-228.
  • Dreyer, J & Van der Walt, K. 2023b. Die oorsprong van die mens: "Laat Ons mense maak." Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):229-245.
  • Dreyer, J & Van der Walt, K. 2023c. Boosheid van die mens: "Tot stof sal jy terugkeer." Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):246-261.
  • Dreyer, J & Van der Walt, K, 2024. Kommentaar op Spangenberg, I. 2023. Die Bybel, die Christelike geloof en die natuurwetenskappe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 64(2):354-356.
  • Dreyer, J, Van der Walt, K & Denton, R. 2023. Die oorsprong van alles: "Dit was aand en dit was oggend." Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):192-210.
  • Grabbe, LL. 2018. Faith and Fossils: The Bible, Creation and Evolution. Grand Rapids: Wiliam B. Eerdmans.
  • Luttikhuizen, GP. 2005. De veelvormigheid en het vroegste christendom. Budel: Damon.
  • Niehr, H. 2010. 'Israelite' Religion and 'Canaanite' Religion. In Stavrakopoulou, F & Barton, J. (ed.). Religious Diversity in Ancient Israel and Judah. London: T & T Clark, pp. 23-36.
  • Spangenberg, IJJ. 2023. Die Bybel, die Christelike geloof en die natuurwetenskappe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(4):947-970.
  • Spangenberg, IJJ. 2024. Navorsers verswyg hoe naïef hulle in die Bybel glo. Rapport Weekliks, (4 Feb):12.
  • Stavrakopoulou, F & Barton, J. 2010. Introduction: Religious Diversity in Ancient Israel and Judah. In Stavrakopoulou, F & Barton, J (ed.). Religious Diversity in Ancient Israel and Judah. London: T & T Clark, pp. 1-8.
  • Stoker, H. 2024. (On)bevooroordeelde benaderings tot die bevindings van wetenskaplike ondersoek: 'n Reaksie op die geloof-wetenskap-diskoers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 64(2):357-374.

Publication Dates

  • Publication in this collection
    11 June 2025
  • Date of issue
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Acompanhe os números deste periódico no seu leitor de RSS
Ir para o topo