Open-access About verbs and language authority

TAALRUBRIEK

Oor werkwoorde en taalgesag / About verbs and language authority

Een van die hardnekkigste mites oor Afrikaanse sinsbou is "werkwoorde aan die einde van die sin". Dit is natuurlik so dat werkwoorde in Afrikaans in sekere sinskonstruksies verderaan in die sin staan as in Engels, byvoorbeeld ná die onderskikkende voegwoord dat:

They know that the elections took place last week.

Hulle weet dat die verkiesing verlede week plaasgevind het.

en nie -

Hulle weet dat die verkiesing *het plaasgevind verlede week.

Dit is waarskynlik hierdie idiomatiese plasing van werkwoorde in Afrikaanse sinne wat tot bogenoemde vuisreël van "werkwoord aan die einde van 'n sin" gelei het. Dié vuisreël is wel korrek en nuttig - maar ook nie. Dit is wel geldig in die meeste eenvoudige sinne soos bostaande, maar ons skryf tog nie altyd sulke kort, eenvoudige sinnetjies nie.

Terloops, die eerste sin van die paragrafie hier bo kon ewe goed gelui het: "Dit is waarskynlik hierdie idiomatiese plasing van werkwoorde in Afrikaanse sinne wat gelei het tot die vuisreël 'werkwoord aan die einde van 'n sin'", maar as die sinsdeel wat met wat (of een van sy maats soos waarvan, wie se, waarop of waarvoor) begin, relatief kort en eenvoudig is, verkies ek tog die werkwoord aan die einde.

Reeds in 1950 het een van ons vroeë Afrikaanse taalghoeroes, TH le Roux, in 'n artikel wat later in sy boek Afrikaanse Taalstudies1 opgeneem is, geskryf:

Dit word die laaste tyd by baie [Afrikaanssprekendes] gewoonte om, op papier, by bysin en nagestelde hoofsin die werkwoord ook daar op die end van die sin te plaas waar die natuurlike taal dit ten strengste verbied. Neem 'n sin soos die volgende: 'Groot moeilikheid is egter ondervind om genoeg beroepspelers, wat die hele dag vir repetisies beskikbaar sou wees, te vind.' Die natuurlike volgorde sou hier wees: 'Groot moeilikheid is egter ondervind om genoeg beroepspelers te vind wat die hele dag vir repetisies beskikbaar sou wees.' [my beklemtonings - JDM]

Hy voeg by dat sulke sinne nie net verwronge word nie, maar "meermale (ook) duister".

En hoe meer kompleks 'n sin word, hoe noodsaakliker word dit om die werkwoorde te plaas waar dit nie net idiomaties korrek is nie, maar vir die leser ook sinvol en verhelderend. Ek het by geleentheid die eerste drie sinne2 hier onder aangeteken, en later ook D; dit behoort hierdie punt deeglik te illustreer. A, B, C en D is die sinne soos hulle in die betrokke publikasies verskyn het en waarin die vuisreël van "werkwoord aan die einde van die sin" streng toegepas is; die gevolg is dat daar amper van die leser verwag word om 'n soort legkaart te bou. In E,

F, G en H word voorgestel hoe die sinne verbeter kan word deur werkwoorde te verskuif (die vetdruk het ek hier telkens duidelikheidshalwe bygevoeg).

A. 'n Aanklaer kan 'n saak waarby 'n kind wat na bewering 'n misdryf in Bylae 1 genoem, gepleeg het, betrokke is, afwend.

B. Hierdie simbool dui aan dat 'n bondige stelling wat die hoofpunte wat in hierdie hoofstuk bespreek is, saamvat, verstrek word.

C. Die hof moet versigtig wees as hy 'n aansoek om 'n getuie namens 'n beskuldigde wat nie verteenwoordig word nie, te roep, weier.

D. Wanneer eiendom wat binne die gesamentlike boedel van gades wat binne gemeenskap van goed getroud is, val, verkoop word, word daardie beskikking geag in gelyke dele deur die gades gedoen te wees.

Met sulke sinne moet die leser omtrent kophou om die kloutjie by die oor te kry. Dit is baie natuurliker en baie verstaanbaarder om hulle soos volg aan te pas:

E. 'n Aanklaer kan 'n saak afwend waarby 'n kind betrokke is wat na bewering 'n misdryf genoem in Bylae 1, gepleeg het. OF 'n Aanklaer kan 'n saak afwend waarby 'n kind betrokke is wat na bewering 'n misdryf gepleeg het wat in Bylae 1 genoem word.

F. Hierdie simbool dui aan dat 'n bondige stelling verstrek word wat die hoofpunte saamvat wat in hierdie hoofstuk bespreek is.

G. Die hof moet versigtig wees as hy 'n aansoek weier om 'n getuie te roep namens 'n beskuldigde wat nie verteenwoordig word nie.

H. Wanneer eiendom verkoop word wat binne die gesamentlike boedel val van gades wat binne gemeenskap van goed getroud is, word daardie beskikking geag in gelyke dele deur die gades gedoen te wees.

Le Roux vertel dat hy 'n slag 'n manuskrip persklaar moes maak en dat die uitgewer by hom aangedring het om tog die werkwoorde aan sinseinde te plaas. Le Roux was natuurlik nie daarmee gediend nie. Toe hy vra op grond waarvan die uitgewer daardie vereiste stel, het dié hom geantwoord dat "die onderwysers" so besluit het. Le Roux se beswaar teen die dogmatiese benadering van die uitgewer was dat dit op 'n besluit berus het, en nie op waarneming van "die lewende, beskaafde taal" en dus van wat "deur die taaleie vereis word" nie. "Dit is," sê hy, "dogmatiese, baserige taal in sy suiwerste: dit is doktrinêrisme in optima forma.'"3

Uit bostaande leer Le Roux ons drie "lesse" wat vandag nog geld - selfs meer, as mens dink aan hoe Afrikaans uit vele oorde onder druk kom:

(1) Plaas die werkwoord in veral komplekse sinne waar hulle betekenisgewys sinvol maar steeds idiomaties korrek is.

(2) Taalkundiges dink nie taalreëls uit soos wat 'n owerheid wette, reëls of voorskrifte opstel nie. Die taalreëls is wetmatighede en reëlmatighede wat op "die lewende, beskaafde taal" berus.

(3) Die lewende taal, sê Le Roux, is "ons hoogste wetboek" wat nie verkrag moet word nie.

Afgesien daarvan dat die opeenstapeling van werkwoorde soos hier bo geïllustreer, die leser kan pootjie omdat hy of sy eers legkaart moet bou, bring dit ook die gevaar mee dat 'n skrywer per ongeluk 'n werkwoord met die uitskuiwery kan laat wegval, en dan kan die leser kwalik die legkaart voltooi. So 'n geval het ek onlangs uit 'n koerant aangeteken:

"Amerika se federale hooggeregshof het gister geskiedenis gemaak deur te beslis dat oudpresidente immuniteit teen vervolging vir sekere handelinge wat binne die verpligtinge van die amp geneem word."

Hierdie sin vertoon minstens twee probleme: (i) 'n verlore werkwoord en (ii) 'n ongewone werkwoord. Die verlore werkwoord is dalk "geniet", en die ongewone werkwoord is "[handelinge] ... geneem word". As ek daardie sin moes redigeer, sou dit waarskynlik minstens so gelyk het:

"Amerika se federale hooggeregshof het gister geskiedenis gemaak deur te beslis dat oudpresidente immuniteit geniet teen vervolging vir sekere handelinge wat binne die verpligtinge van die amp verrig word."

Tersyde: In 1925 is Afrikaans by wet vir amptelike doeleindes in Suid-Afrika by "Hollands" inbegryp, en so het Afrikaans formeel 'n amptelike taal van ons land geword. Dit is terselfdertyd ook terugwerkend tot 31 Mei 1910 van krag gemaak. Volgende jaar word daardie belangrike gebeurtenis herdenk, want die erkenning van Afrikaans as 'n amptelike taal het gewis tot die ontwikkeling van Afrikaans bygedra. Maar wat help dit om 'n mylpaal soos dié te gedenk as huidige Afrikaanssprekendes nie hul ereplig nakom nie om wal te gooi daarteen dat Afrikaans toenemend net vertaalde Engels word, vol allerlei barbarismes is en krioel van Engelse woorde soos chocolate, game, amazing, blessing, beautiful, memories, meeting, challenge, share en 'n menigte ander doodgewone woorde wat doodgewone Afrikaanse ekwivalente het?

Sou Le Roux nog steeds sulke Afrikaans as "beskaafde taal" en "ons hoogste wetboek" wou of kon handhaaf?

JD (Tom) McLachlan

E-pos:

1 Le Roux, TH. 1965. XIV Die werkwoord verkeerdelik altyd op die end van die sin. In Afrikaanse Taalstudies. Pretoria: JL van Schaik, pp. 263-270.
2 Ook opgeneem in McLachlan. 2013. Werkwoorde aan die einde van 'n sin. In HAT Taal- en feitegids. Kaapstad: Pearson South Africa, p. 128.
3 Le Roux, op. cit. p. 268.

Correspondence

tommcl@whalemail.co.za

Publication Dates

  • Publication in this collection
    11 June 2025
  • Date of issue
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Acompanhe os números deste periódico no seu leitor de RSS
Ir para o topo