Open-access Verwildering

GEDIGTE

Verwildering

1. Seeslakke

Ek sien verwilderd:
'n oormoedhorde dopgediertes,
verorberend van uitgespoelde vissies.
Waarvandaan sou hulle so onverhoeds uit die vrugwaters van die aardse lewe voortkom?
Die skepping nou onveranderlik besmet?
God het alleen sy seën oor die oersee, woes en leeg, bedien, maar alles nou verskrik.
Die dag kwyn oor die seewonings,
die son versink in die onrein skuim,
net die sekelmaan teen die nag,
wanneer die laaste glans van skeppingshoop verdwyn het, met die mens se dwase doodsdaad.

2. Verwording

My oë soek deur wolke en golwe
wat dein en spoel
na die laaste kleurespel van lig.
Hemel en see
breek nou skuimend oor my.
Wee ons! hoor ek die geroep
van ons wat in die troebel skuim oorgegee word.

3. Woorde

Sou ons self in die see in swem,
sonder hoop.
Die lewe ontglip ons.
Alles prysgegee,
soos woorde van 'n verstote digter.
Soekend na ligter
denke
snakkende na die woorde,
en verlangend na ewige rus
terwyl die onrus in die gierende golwe leef.
Nee.
Iewers raap sterre soos engele ons op hoop dat lig
deurbreek in die Môrester,
wonderbaar oor die stormsee,
en die suiwer Woord teruggee.

4. Verdrinking

'n Stem klink uit die verte op -
iemand in die dawerende see
kreet uit.
Op die strand,
'n redder, waagmoedig om die drenkeling te red,
maar die nagsee laat
gruwelik die doderyk opwel
tot Een die lewe gee tot heil van al ons drenkelinge.

5. Nag

Sterre, flikkerveegsels,
soos met 'n sagte hande oor 'n kind:
Die nag het ingeskuif oor die aand.
Die son is vroeër soos 'n kers gedoof.
Ek tas afgemat na iemand om my hand te vat,
alleen,
soos nog 'n vergetene in my land.
Die sterre word
verduister;
maar die Lig bly skyn die nag in.

Pieter Verster

Publication Dates

  • Publication in this collection
    11 June 2025
  • Date of issue
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top