Insigte uit Opvoedkundige Sielkunde
Titel: Insigte uit Opvoedkundige Sielkunde
Outeurs: Irma Eloff en Estelle Swart (redakteurs)
Kaapstad: Juta, 2018
Bladsye: 514
ISBN: 978 1 48512 901 1
Hierdie boek verskyn op 'n kritieke stadium vir opvoedkundige sielkunde as wetenskap en beroep in Suid-Afrika. Tans word die kernfunksies en bestek van die praktykbeoefening van geregistreerde opvoedkundige sielkundiges deur die Beroepsraad vir Sielkunde (Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, 2017) deur sielkundiges in ander registrasiekategorieë bevraagteken, omdat dit na bewering geneig is om te oorvleuel met ander registrasiekategorieë in die Sielkunde (27 - asook Strous 2018). Terselfdertyd word die tersaaklikheid van opvoedkundige sielkunde as wetenskaplike dissipline, wat 'n gevestigde grondslag in Westerse middelklasnavorsing het, vir die komplekse Suid-Afrikaanse kultuurhistoriese konteks toenemend bevraagteken en gekritiseer (17 - asook Kumar 2017 en Moolla & Lazarus 2014). Dit is vraagstukke wat werklik die toekoms van opvoedkundige sielkunde as wetenskaplike dissipline en beroep ten nouste raak en wat met die nodige sensitiwiteit maar ook waagmoed in diepte aangepak behoort te word om die toekoms daarvan in Suid-Afrika te verseker.
Hierdie boek moet egter nie as 'n poging beskou word om dergelike vraagstukke, debatte daaromheen asook die implikasies daarvan vir die pad vorentoe vir opvoedkundige sielkunde in 'n diverse samelewing in diepte aan te spreek nie (9, 17). Dit fokus volgens die redakteurs eerder daarop om huidige insigte in opvoedkundige sielkunde te verruim deur "die status quo van opvoedkundige sielkunde in Suid-Afrika weer te gee " (xxix) op kernagtige wyse en sodoende ook erkenning te verleen aan die "grense waarbinne opvoedkundige sielkunde ([tans], my invoeging) gedefinieer word" (xxix). Dit bied dan ook spesifiek aan navorsers die geleentheid om kortliks hulle navorsing aan 'n wyer gehoor bekend te stel.
Inhoudelik word die 48 hoofstukke in die boek in 10 tematiese dele verdeel wat die rykdom asook uiteenlopendheid van huidige navorsing in die vakgebied weerspieël (temas wissel byvoorbeeld tussen onderwysers in die algemeen, onderrig en leer, kognisie, taal, gesondheid en welstand, skole, opvoedkundige sielkundige ondersteuning en loopbane). Dit is nie duidelik hoe besluite rakende die formulering van algemene temas geneem is nie: is dit byvoorbeeld grotendeels gebaseer op die inhoud van opvoedkundige sielkunde kurrikula op voorgraadse en nagraadse vlak in onderwysersopleiding asook die professionele opleiding van opvoedkundige sielkundiges, of is dit gebaseer op die navorsingsbelangstellings van die onderskeie outeurs van hoofstukke (xxviii)? "Deel 2: Onderwysers" kan as voorbeeld dien. Alhoewel al drie die hoofstukke in Deel 2 (veral Hoofstuk 5) as akademies uitstekend beskou kan word, is dit nie duidelik wat die oorkoepelende tema in Deel 2 werklik is nie. Handel dit byvoorbeeld oor die onderwyser as persoon of onderwysers in die algemeen en waarom is die hoofstuk oor 'n onderwyser in wording (hoofstuk 5) hier ingesluit as die tersaaklikheid daarvan vir opvoedkundige sielkunde nie pertinent in die spesifieke hoofstuk genoem word nie? Ten spyte van die omvang van die boek sou 'n baie kort saaklike inleiding tot elke tema deur die redakteurs die leser die geleentheid gebied het om te begryp waar en hoe die onderskeie hoofstukke in die veelfasettigheid waaruit opvoedkundige sielkundige navorsing en kurrikula vir onderwysersopleiding, asook die bestaande werksaamhede van onderwysers en geregistreerde opvoedkundige sielkundiges in dié verband, inpas.
Die verskillende hoofstukke is grotendeels deur prominente navorsers en praktisyns nie net in opvoedkundige sielkunde nie, maar ook in verwante vakgebiede saamgestel met die gevolg dat die kort en bondige hoofstukke in die meeste gevalle boeiend lees en as akademies voortreflik beskou kan word. Tot watter mate hierdie kennis werklik relevant is vir óf die opvoedkunde óf die sielkunde óf die opvoedkundige sielkunde, sal bepaal word deur elke leser se persoonlike begrip van wat opvoedkundige sielkunde binne die Suid-Afrikaanse konteks behels. Dit is egter duidelik dat die oorkoepelende sentrale tema wat die boek saambind tot 'n eenheid gebaseer is op leer en ontwikkeling as die kernbeginsels waarop opvoedkundige sielkunde internasionaal gebaseer is en gevolglik dan ook ondersteuning wat in dié verband die beste belang van elke kind dien, insluit.
As gevolg van die groot en uiteenlopende omvang van die boek, is dit nie haalbaar om die inhoud in detail te bespreek nie. Daar is gevolglik besluit om teen die agtergrond van die huidige debatte betreffende die tersaaklikheid van opvoedkundige sielkunde binne die komplekse Suid-Afrikaanse konteks en die nood aan effektiewe ondersteuning in skool- en klasverband, slegs enkele hoofstukke in -dié verband en wat ook die uiteenlopende bestek van die vakgebied weerspieël, kortliks in meer diepte te bespreek. Daar moet daarop gewys word dat hierdie besluit egter ook daartoe gelei het dat hoofstukke wat ook as relevant beskou kan word nie ingesluit is in die bespreking nie (byvoorbeeld die hoofstukke deur Lynne Damons oor die verkenning van die kompleksiteit van aggressie en geweld binne die skoolkonteks; Salome Human-Vogel oor identiteit, motivering en prestasie; Naydene de Lange oor gender en geweld teen vroue en meisies; en Maximus Monaheng Sefotho oor gestremdheid en inklusiewe indiensneming deur die lens van opvoedkundige sielkunde).
Deel 1 wat as algemene inleiding tot die boek dien, bestaan uit vier hoofstukke wat individueel poog om die leser te oriënteer ten opsigte van wat die outeurs beskou as spesifieke aspekte van opvoedkundige sielkunde as wetenskap en beroep. Estelle Swart en Irma Eloff slaag besonder goed daarin om in hoofstuk 1 die kompleksiteit van ontwikkelinge in dié verband die afgelope twee dekades te beskryf. Wat die deelname van opvoedkundige sielkundiges in onderrig en leer betref, is hoofstuk 3 geskryf deur Motlalepule Ruth Mamapane gefokus op die integrale rol wat dit speel in skoolstelsels en onderwysersopleiding en die tersaaklikheid daarvan om bewustheid van algemene diversiteit in menslike ontwikkeling in onderrig te verbeter. Alhoewel die hoofstuk 'n uitstekende blik werp op opvoedkundige sielkundige kennis van onderrig en leer wat in meer Westerse omgewings ontwikkel is, word die toepaslikheid daarvan vir die komplekse diverse Suid-Afrikaanse konteks ongelukkig nie (moontlik as gevolg van die beperkte omvang van hoofstukke) bespreek nie.
Met spesifieke verwysing na inheemse kennisstelsels en die rol daarvan binne opvoedkundige sielkunde in Suid-Afrika moet die volgende twee hoofstukke uitgesonder word. In hoofstuk 12 slaag Patrick Mweli daarin om die leser te sensitiseer ten opsigte van die nodigheid daarvan om inheemse speletjies en stories in te sluit in onderrig en leer in klaskamers wat gekenmerk word deur leerders vanuit uiteenlopende kultuurhistoriese agtergronde. Deur van inheemse kennis gebruik te maak, word die ontwikkeling nie net van begrip vir mekaar nie maar ook sleutelvaardighede soos kritiese denke van elke kind in die klaskamer op informele wyse bevorder. In hoofstuk 26 (wat in 'n ander temagedeelte as hoofstuk 12 geplaas word), fokus Fumane Portia Khanare daarop om die perspektiewe van positiewe sielkunde wat gegrond is op Westerse kennis met die leefwêrelde van mense binne die Afrika-konteks met mekaar te versoen deur geselekteerde Afrika-spreekwoorde (in die geval Sesotho-spreekwoorde) met positiewe sielkunde in verband te bring. Die wyse waarop die outeur daarin slaag om "onlangse ontwikkelings in wetenskaplike navorsing met eeueoue wyshede binne mondelinge oorlewering in verband" (240) te bring, is voortreflik. Dit baan die weg om die potensiaal van inheemse kennisstelsels met Westers-gebaseerde kennisstelsels op innoverende en opbouende wyses in Suid-Afrikaanse klaskamers maar ook in die ondersteuningswerksaamhede van opvoedkundige sielkundiges in die algemeen uit te brei.
Deel 6 van die boek het as tema Gesondheid en Welstand en veral hoofstukke 25, 26 (reeds bespreek) en 27 val op as besonder bruikbaar binne praktykbeoefening in diverse skole en skoolgemeenskappe deur onderwysers en geregistreerde opvoedkundige sielkundiges. Begrip vir menslike interaksie in leer en onderrigkontekste word beskou as belangrike vaardigheid in opvoedkundige sielkunde. In hoofstuk 25, gebaseer op indieptenavorsing binne Suid-Afrikaanse skoolkontekste, beskryf Ansie Elizabeth Kitching 'n verhoudinggefokusde benadering tot die optimale ontwikkeling van leer en welstand in skole, klaskamers en wyer skoolomgewings. Aangesien praktyke van beide onderwysers en opvoedkundige sielkundiges dikwels as gevolg van werksdruk en spanning nie op deurlopende basis menslike interaktiewe gedrag en die komplekse dinamika in dié verband in ag neem nie, kan hierdie spesifieke hoofstuk 'n besondere bydrae lewer tot die uitbreiding van kontekstueel relevante praktykbeoefening van opvoedkundige sielkundiges wat binne skool en breër gemeenskap-sisteme werksaam is. Hoofstuk 27 deur Linda Theron oor skoolgebaseerde ondersteuning van veerkragtigheid, wat gebaseer is op internasionale asook Suid-Afrikaanse navorsing, slaag daarin om teorie en praktyk met mekaar te versoen te midde van huidige argumente betreffende waar die klem behoort te val: op die wyse waarop kinders struikelblokke oorkom of op die wyse waarop samelewings die struikelblokke kan verander. In samehang met hoofstuk 25 slaag hierdie 3 hoofstukke daarin om lesers werklik in staat te stel om kennis en insig in sleutelkwessies - binne die belangrike rolle wat aktiewe vennootskappe binne verhoudingsgebaseerde benaderings in 'n diverse samelewing waarin inheemse kennisstelsels geaktiveer word - te begryp en ook aan te spreek. In hoofstuk 46 (deel 10: Loopbane) oriënteer Kobus Maree die leser ten opsigte van lewensontwerp: om mense te help om suksesvolle lewens te konstrueer en maatskaplike bydraes te maak met behulp van beroepsaanpasbaarheid binne plaaslike omstandighede. Hy slaag gevolglik op voortreflike wyse daarin om die tersaaklikheid van lewensontwerp vir Suid-Afrikaanse klaskamers binne diverse kultuur-historíese kontekste te plaas en opvoedkundige sielkundiges van 'n prakties bruikbare teoretiese en konseptuele raamwerk te voorsien om beroepsverwante aanbevelings te kan maak.
Soos reeds genoem, slaag hierdie versamelwerk van insigte uit opvoedkundige sielkunde besonder goed daarin om die diversiteit van sieninge asook navorsingsfokusse binne opvoedkundige sielkunde as wetenskaplike dissipline en beroep vir beide onderwyser en geregistreerde opvoedkundige sielkundige weer te gee. Die inhoud is toeganklik vir sowel leek as kenner van die vakgebied en die uiteenlopende maar ook betekenisvolle navorsing binne die vakdissipline word kort en bondig bespreek.
Dit moet egter ten slotte weereens beklemtoon word dat opvoedkundige sielkunde - juis as gevolg van die uiteenlopende aard van navorsing en diverse sieninge binne die beroep - self rondom relevante elemente in opleiding in gevaar staan om gemarginaliseer te word binne 'n konstant veranderende Suid-Afrikaanse samelewing. Die redakteurs as leidende figure binne opvoedkundige sielkunde in Suid-Afrika word derhalwe aangemoedig om hierdie boek slegs as eerste stap te beskou in die erkenning van die aansienlike vordering wat in die vakdissipline tot dusver gemaak is (9). Dit behoort opgevolg te word met 'n tweede boek wat die vraagstukke en moontlike oplossings in dié verband betreffende die pad vorentoe in diepte sal aanspreek om sodoende opvoedkundige sielkunde in staat te stel om 'n leidende en onontbeerlike rol in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel asook breër samelewing te speel.
