Open-access Die beiteltjies van Afrikaans 1

TAAL EN TONGVAL

Die beiteltjies van Afrikaans 1

Die welbekende metafoor van NP van Wyk Louw wat Afrikaans voorstel as 'n instrument waarmee wondere verrig kan word, word vir die doel van hierdie rubriek met erkenning benut om die storie te vertel van hoe die taal as so 'n instrument kon ontwikkel, en hoe dié instrument onderhou moet en kan word. In die proses wil ek ook afloer by ander tale, en veral hoe tale in dieselfde geografiese ruimte saambestaan, en die gevolge daarvan op die uiteindelike vorm daarvan. Om die bespreking te struktureer, sal ek telkens 'n vraag of twee aan die orde stel en dit dan probeer beantwoord.

'n Voorvereiste vir die optimale gebruik van enige taal om 'n belangrike rol te speel in die lewens van sy sprekers is die ontwikkeling van 'n standaardvorm. Daarom is dit van belang om onbevange te kyk na Afrikaans as gestandaardiseerde taal, m.a.w. 'n taal wat onder andere ook 'n standaardvorm besit. Maar eers moet daar duidelikheid wees oor die aard en vorming van 'n standaardtaal.

1. Wat is 'n standaardtaal, en hoe kom dit tot stand?

Om dié vraag te beantwoord, net 'n bietjie geskiedkundige agtergrond wat van belang is as ons die begrip reg wil verstaan.

Die bekende Franse outeur Victor Hugo het te midde van 'n stroom wyshede die volgende stelling kwytgeraak in Les Misérables, naamlik "Tout obéit au succès, même la grammaire" ('Alles gehoorsaam, of buig voor, sukses, selfs grammatika'). Hugo verwys hier na Horatius se stelling "Si volet usus" ('volgens gebruik'), wat sy siening van gebruik as die arbiter van taal weerspieël. Hierop kan 'n mens stellig vra: Wat is sukses, die soort waarvoor selfs grammatika moet buig? Dit sou enersyds kon beteken dat die spraak van die "suksesvolles" as norm kon dien in die gemeenskap, en dat dié spraak die grammatika van die tot dusver erkende taal kan wysig, of anders gestel, dat sprekers en skrywers hulle taalgebruik aanpas by die taalpatrone, reëel of gewaan, van hulle sosiaal meer suksesvolle gespreksgenote, waardeur vasgelegde grammatikale norme (wat by wyse van implikasie ook woordeskat insluit) 'n verandering kan ondergaan.

Beide aspekte van hierdie interpretasie sou, as 'n mens breedweg daarna kyk, betrekking kon hê op die ontstaan van 'n taal met nuwe norme, dus taalverandering as gevolg van sosiopolitieke verandering. As die sprekers van 'n "afwykende" taalvorm byvoorbeeld 'n hoë status in die gemeenskap bereik het, kan dit wat voorheen as afwykend en "niestandaard", of net eenvoudig vreemd, beskou is, nou die norm word. Dit is, in oorvereenvoudigde vorm, wat met baie tale op aarde gebeur het.

Kom ons kyk na 'n voorbeeld: Ná die Normandiese inval in Engeland in 1066, die Battle of Hastings, moes die "suiwer" Germaanse taal van die Angele en Saksers (saam met dié van die Kelte, wat vandag nog deur klein minderhede in die Britse Eilande gepraat word) buig voor die militêre, politieke, en later sosiale sukses van die Romaanse invallers van oorkant die Engelse Kanaal onder leiding van Willem die Veroweraar (Guillaume le Conquérant), wat die koningskap van Engeland ná die dood van sy verlangse neef Edward opgeëis het, en opgevolg is deur sy seun Willem le Roux (Guillaume le Roux). Vir tweehonderd jaar hierna is Engels as kombuistaal slegs deur die laer klasse gepraat, en het Frans die botoon gevoer as hoëstatustaal in die kringe waar dit saak gemaak het. Deur dié asimmetriese taalkontak moes Engels buig voor Frans. Hierdie verloedering of "verbastering", waardeur Engels groot happe van sy woordeskat aan Franse ontlenings moes afstaan (en selfs sekere sintaktiese strukture), lê waarskynlik aan die wortel van wat deur baie sprekers van Afrikaans as die Engelse gevaar beskou word, d.w.s. die bedreiging wat Anglisismes inhou. As dit nie vir dié Normandiese Franse was nie, sou 'n mens kon redeneer, was Afrikaans en Engels vandag waarskynlik taalkundig veel nader aan mekaar. Die ander kant van die munt is dat die invloed van Engels op Afrikaans waarskynlik nie so opsigtelik sou gewees het nie en dalk veel groter sou wees as waarvan ons vandag bewus is.

Hier is 'n paar voorbeelde van Oudengelse items wat in gebruik was voor die Normandiese inval (met Moderne Engelse, en hier en daar Afrikaanse, ekwivalente):

Maar, sou 'n mens kon redeneer, Engels het darem nog Engels gebly, al is dit in 'n Franse baadjie. Wat wel waar is, is dat die Franse ekwivalente 'n hoër status as die Germaans-Engelse woordeskatitems geniet het, en dat hierdie eienskap oorgedra is op moderne Engels, en deur sy kontak met Afrikaans, ook na die tegniese woordeskat van Afrikaans.

Tot dusver het ek nog net oor die "magstryd" tussen tale gepraat en niks oor standaardtaal gesê nie. Maar hierdie magstryd is 'n uiters belangrike faktor by die indeling van tale volgens belangrikheid, iets wat uiteindelik ook bepaal of 'n taal eerstens as taal beskou word, en dan as taal gestandaardiseer word. In die eerste plek bepaal die sosiale status van die sprekers van 'n taalvariëteit in die meeste gevalle of dié taalvorm as 'n taal of as 'n dialek beskou gaan word. Sprekers van 'n taalvorm wat hulle sosiopolities in 'n ondergeskikte posisie in die gemeenskap bevind, sal geneig wees om te buig voor die taal van die sosiopolities meer suksesvolle, of dan dominante, sprekers in die gemeenskap. Ons sou dus kon sê dat die skeidslyn tussen 'n taal en 'n dialek bepaal word deur die bril waardeur sprekers daarvan beskou word, en - en dit is belangrik - deur die spieël waarin sprekers na hulleself, as deel van hulle identiteit en selfbeeld, en na hulle eie taalvorm kyk. Dit beteken dat dialekte nie altyd dialekte bly nie, en ook dat tale nie altyd hulle status behou nie. Houdings teenoor taal is van deurslaggewende belang. Van die 6 000 tot 7 000 tale wat in die wêreld onderskei kan word, is 'n groot persentasie dialekte, wat, afhangende van die taalhouding en insette van die sprekers, óf gaan uitsterf, óf mettertyd die status van 'n taal gaan verwerf.

Wat is dan nou die verskil tussen 'n taal en 'n dialek? 'n Taal word anekdoties beskryf as 'n dialek met 'n vloot, "a dialect with a navy" (volgens die Jiddisje linguis Max Weinreich), dus 'n taalvorm met slaankrag. Hierdie "slaankrag" het te doen met die funksies waarvoor 'n taal gebruik kan word, en die verkryging van hierdie funksies is dan ook terselfdertyd die onderskeidende kenmerk van 'n standaardtaal. In die moderne konteks word hierdie funksies moontlik gemaak deur die kodifisering, oftewel verskrifteliking, van die taal (dialekte en informele variëteite van 'n taal kom oorwegend in mondelinge vorm voor). By kodifisering word daar eerstens op 'n ortografiese vorm vir die taal besluit. Hier dink 'n mens aan die Slawiese tale soos Pools of Russies, wat óf die Romeinse alfabet, óf die Cyrilliese alfabet gebruik, afhangende van die godsdienstige tradisie in die land (Rooms of Ortodoks); aan Urdu in Pakistan en Hindi in Indië, wat prakties dieselfde taal is, maar ook om godsdienstige redes twee verskillende ortografieë gebruik, nl. die Arabiese en Hindi-alfabet, onderskeidelik; en ook aan Afrikaans, waarvan die eerste ortografie van gedrukte publikasies in die Arabiese alfabet geskryf is, omdat daar behoefte aan die funksionele gebruik van 'n skriftelike vorm van Afrikaans vir religieuse onderrig in Islam bestaan het. Kodifisering is dan die eerste voorwaarde vir die totstandkoming van 'n standaardtaal. Natuurlik word vele dialekte ook in geskrewe vorm weergegee, en skriftelikheid is dus nog nie 'n deurslaggewende maatstaf nie. Verskrifteliking is egter 'n noodsaaklike voorwaarde waaraan voldoen moet word voordat die betrokke kode die funksies kan vervul wat daarvan 'n taal maak. Die dokumentering van taal bring ook mee dat die taal self die onderwerp van wetenskaplike studie word, deurdat rekords van die woordeskat en tekste bewaar kan word, en uiteindelik in die vorm van woordelyste, verklarende en vertalende woordeboeke en grammatikas beslag kry.

Hiermee hang ook die feit saam dat daar, om optimale verstaanbaarheid te verseker, tweedens 'n seleksie gemaak moet word uit al die wisselvorme (aanvanklik uit die verskillende dialekte, maar ook uit die verskillende vorme wat binne 'n taal self bestaan) om bepaalde begrippe mee te beskryf. Dit is iets wat vanaf die ontstaansperiode van 'n taal teenwoordig is, en voortgaan so lank as wat die taal verander en groei. Dit is 'n noodsaaklike voorwaarde vir die bruikbaarheid van 'n eenheidsdialek, 'n ander manier om die begrip taal (en spesifiek standaardtaal) mee te beskryf, om vir al die gebruikers daarvan verstaanbaar te wees. Seleksie is dan seker die hoofkenmerk van 'n standaardtaal, deurdat sekere norme en standaarde aangelê word om uit die wye verskeidenheid van alternatiewe vorme dié uit te kies wat as "korrek" en "aanvaarbaar" beskou word deur die breë taalgemeenskap, en optimale onderlinge begrip verseker.

Die derde belangrike eienskap van 'n standaardtaal is dié van funksie-uitbreiding, of kultivering, waardeur so 'n eenheidsdialek oor die hele spektrum van taalgebruik, en veral vir die hoër funksies, bruikbaar gemaak word. Standaardtaal word ook genoem kultuurtaal, omdat dit, benewens die "laer" domeine soos die huis, die buurt en die vriendekring, ook aangewend word in die onderwys, die kerk, die kunste, die wetenskap, die media, die reg en administrasie. Om hierdie funksie-uitbreiding moontlik te maak, moet daar natuurlik ook 'n politieke besluit geneem word dat so 'n taal veramptelik word, dus erken word vir gebruik deur regeringsinstansies om met die burgers van die staat te kommunikeer. 'n Mens sou dit nie as 'n proses kon beskryf nie, maar as 'n enkele buitetalige gebeurtenis in die proses van standaardisasie.

Funksie-uitbreiding het 'n newe-effek, naamlik sprekertaluitbreiding, omdat ook sprekers van ander tale van die bruikbaarheid (dus instrumentele waarde) van hierdie spesifieke taal bewus word en dit moet en wil verwerf - dus as nie-moedertaal. Die funksionele waarde van 'n taal word in dié opsig dan weerspieël deur die grootte van die aantal nie-moedertaliges (oftewel die sekondêre taalgemeenskap) van daardie taal.

Om saam te vat: Die drie eienskappe wat ek tot dusver genoem het - kodifisering, seleksie en funksie-uitbreiding - is dan die hoofkenmerke van 'n standaardtaal, of die noodsaaklike voorvereistes vir die ontstaan van 'n standaardtaal. Wat ook belangrik is, is dat hierdie eienskappe nie noodwendig chronologies op mekaar volg nie, en voortdurend in wisselwerking is. 'n Standaardtaal is dus nooit finaal vasgelê nie, en verander voortdurend na gelang die woordeskat reageer op veranderings in die leefwêreld van die taalgemeenskap. Dit beteken dat taalnormering 'n voortgaande proses is deurdat die standaardtaal gemoderniseer word en dat taalpraktisyns op hulle tone moet bly om nie agter te raak nie.

2. Wie besluit wat standaardtaal is?

Wanneer 'n taal genormeer (of gestandaardiseer) word, word dié taak gewoonlik opgedra aan verteenwoordigers uit die taalgemeenskap wat vir die doel aangewys word. In die geval van 'n wêreldtaal soos Frans is dit byvoorbeeld die Académie Française, en in die geval van Afrikaans, is dié taak by wet opgedra aan die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie. Met die koms van die nuwe politieke bedeling en die promulgering van die PanSAT-wet (Wet 59 van 1995), soos later gewysig, is die voormalige taalrade vervang deur nasionale taalliggame, en is die standaardiseringsfunksie oorgeneem deur sogenaamde tegniese komitees vir standaardisasie van elk van hierdie nasionale taalliggame.

Dit het gegeld ten opsigte van al die inheemse tale, van Afrikaans tot Zulu, terwyl Engels klaarblyklik nie in Suid-Afrika 'n standaardiseringbehoefte het nie (daar word hoofsaaklik aangeleun by Britse Engels). Voor 1994 was daar, benewens die Taalkommissie vir Afrikaans, sogenaamde taalrade vir die ander inheemse tale, maar dié liggame het min legitimiteit geniet en die spellingstandaarde wat deur hulle neergelê is, was oneffektief (gebaseer op tradisionele landelike dialekte, en het nie rekening gehou met die effek van modernisering wat die groot getalle stedelike sprekers ondergaan het nie). Ook die Taalkommissie is deur die nuwe taalbedeling geraak; dit is aanvanklik as geheel opgeneem deur die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, te wete as Tegniese Komitee vir Standaardisasie. In werklikheid het die Taalkommissie bly voortbestaan onder die vaandel van die Akademie, maar dit sou voortaan twee here dien, die PanSAT-mammon, wat 'n ruime finansiële bydrae sou maak, veral wat betref die koste van sy praktiese werksaamhede, en die Akademie self, wat in vennootskap met PanSAT in noue mate by die publikasie van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) betrokke sou bly en ook die Taalkommissie as spreekbuis oor taalsake namens die Akademie sou bly gebruik. Die doeltreffendheid van PanSAT het egter toenemend verminder, en die Taalkommissie moes mettertyd noodgedwonge op eie stoom die wa deur die drif trek.

Om terug te kom na die funksie van standaardisasie, of taalnormering. Dit is belangrik dat die aard van taalnorme goed verstaan word. Omdat taal per definisie 'n konvensionele kode is, geld norme, met ander woorde konvensies oor taalgebruik, taalvorme of variëteite. Daarsonder is onderlinge begrip onmoontlik, selfs wat betref taalgebruik in die gesin, die vriendekring en op die sportveld. (In hierdie geval is die norme ongeskrewe in die onderbewussyn van die sprekers teenwoordig.) Maar dit is veral belangrik wat betref die hoër funksies van taal, byvoorbeeld in die kerk, op die regbank, in die onderwys, wetenskap, tegniek, administrasie, ensovoorts, omdat ondubbelsinnige kommunikasie so belangrik is - indien sulke kommunikasie nie gebeur nie, kan die gevolge plek-plek selfs katastrofies wees, byvoorbeeld in mediese of regstaal. En anders as by informele normering, is dit noodsaaklik dat die norme vir die hoër funksies van taal gedokumenteer word (nie net in die onderbewuste vasgelê nie), veral omdat formele kommunikasie oorwegend in geskrewe vorm plaasvind. Daarom is die hooffunksie van standaardiseringliggame soos die Taalkommissie die bereëling van die ortografie van Standaardafrikaans, dus spesifiek van die skriftelike vorm van die woordeskatelemente. Oor die uitspraak, waar daar veel meer vryheid bestaan, en selfs wat betref sintaktiese variasie wat binne sulke kommunikasie binne Afrikaans voorkom, kan die Taalkommissie hom streng gesproke nie formeel uitspreek nie - hoewel daar dikwels versoeke oor standaarduitspraak aan die Taalkommissie gerig word. Dit sou wel moontlik wees indien die Taalkommissie 'n uitspraakwoordeboek van Afrikaans gepubliseer het (op die patroon van Le Roux en Pienaar se Uitspraakwoordeboek van Afrikaans, wat sedert 1945 talle kere hersien en herdruk is) of 'n standaardgrammatika van Afrikaans tot stand gebring het. Tot onlangs was die omvattendste beskrywende grammatika van Afrikaans, ironies genoeg, in Engels, en dit is in die buiteland uitgegee (A Grammar of Afrikaans, in 1993 deur Bruce Donaldson by Mouton de Gruyter in Berlyn), terwyl ons in Suid-Afrika aangewese was op skool- en universiteitsgrammatikas, of monografieë wat gedeeltes van die grammatika bestryk, soos Ponelis se Afrikaanse Sintaksis, Combrink se Afrikaanse Morfologie, Combrink en De Stadler se Afrikaanse Fonologie, ensovoorts. Intussen het daar wel 'n oopdomeingrammatika aanlyn tot stand gekom as deel van 'n samewerkingsprojek waarby Nederlands en Fries ook betrek is, naamlik Taalportaal (wel met gebruikmaking van Engels as tegniese beskrywingstaal), met neweprodukte in die vorm van Afrikaanse grammatikas vir verskillende vlakke van onderrig, benewens die beskikbaarheid van 'n omvattende beskrywing vir navorsers.

Omdat die sinsbou en uitspraak van taal grootliks gesistematiseer is en deel vorm van die grammatika en fonologie, gebiede wat tradisioneel deur taalkundiges bestudeer word, is die belangrikste probleemareas vir taalpraktisyns waarskynlik die leksikon en ortografie, en meer spesifiek vakterminologie en spelling. Die keuse van aanvaarbare terminologie en, gepaard-gaande daarmee, die "korrekte" spelling van die gekose terme, val ook op die pad van die Taalkommissie, maar dit kan vanselfsprekend nie 'n arbitrêre proses wees nie, aangesien vakkundiges uit bepaalde vakgebiede noodsaaklikerwys geraadpleeg moet word. Die Taalkommissie hou hom besig met algemene reëls wat alle moontlike scenario's op die gebied van spelling en skryfwyse dek, en werk dus eksemplaries met kategorieë, omdat die Woordelys slegs kan dien as toepassingsdemonstrasie van die spelreëls, om die aanvaarding van nuwe items in die algemene taalgebruik te sanksioneer en blommetjies te plaas op die graf van afgestorwe woorde by wyse van die skrapping van verouderde en uitgediende items.

Die Nederlandse eweknie van die Taalkommissie is die Instituut voor Nederlandse Lexicologie, wat in opdrag van die Nederlandse Taalunie die Woordenlijst Nederlandse Taal (oftewel Het Groene Boekje) saamstel. In die voorwoord by die Groene Boekje (p. 6) word 'n goeie samevatting gegee van hoe normering op die gebied van spelling plaasvind en hoe standaardisering hier bereik word:

Spelling is een afspraak die wij als taalgemeenschap maken in het belang van een duidelijke schriftelijke communicatie. Voor de taalgebruikers is het belangrijk dat alle hulpmiddelen die ter beschikking staan om goed te spellen deze afspraak erkennen. Daarom heeft de Taalunie rond de herziening van de Woordenlijst samenwerking gezocht met de producenten van gezaghebbende woordenboeken, spellinglijsten en programma's voor automatische spellingcontrole. Die samenwerking moet voorkomen dat de betrokken bronnen op spellinggebied gaan afwijken van elkaar.

Spelling is 'n ooreenkoms wat ons as 'n taalgemeenskap maak in belang van duidelike geskrewe kommunikasie. Dit is belangrik vir taalgebruikers dat alle beskikbare hulpmiddels vir korrekte spelling hierdie ooreenkoms erken. Daarom het die Nederlandse Taalunie die samewerking gesoek van die vervaardigers van gesaghebbende woordeboeke, spellyste en outomatiese speltoetsprogramme vir die hersiening van die Woordenlijst. Hierdie samewerking is bedoel om te voorkom dat die betrokke bronne van mekaar sal verskil wat spelling betref. (Vertaal EFK)

'n Interessante neweproduk van hierdie samewerking is dat alle bronne, dit wil sê woordeboeke, taalhandleidings en vakwoordelyste byvoorbeeld, wat aan hierdie gelykvormigheid voldoen, die sogenaamde spellingkeurmerk van die Nederlandse Taalunie dra - 'n soort taal-SABS-merk. Dit sien soos volg daar uit:

So 'n formalisering van onderlinge samewerking tussen outeurs en uitgewers van taalhulp-middels aan die een kant en die amptelike normeringsliggaam vir Afrikaans, te wete die Taal-kommissie, aan die ander, is myns insiens iets om ernstig te ondersoek.

Dit bring my by 'n derde vraag wat uit die voorafgaande voortvloei, naamlik die volgende:

3. Wat kan as gesagsbronne vir 'n taal beskou word?

Die uitdrukking "in die land van die blindes is eenoog koning" kan waarskynlik toegepas word op enige situasie waar gesag benodig word, en dit geld helaas ook die gebied van die taalpraktyk. Die behoefte aan gesagsbronne om standaarde te vestig is altyd teenwoordig deur die hele ontwikkelingsgang van 'n taal, en wat beskikbaar is, word dikwels aangegryp, ongeag die gehaltepeil. As 'n woord in druk verskyn het, en veral in "die woordeboek", is dit kosjer. Vir die taalpraktisyn is die gehaltepeil uiteraard van kardinale belang, en daarom is betroubare taalhulpmiddels onmisbare gereedskap.

Dit is egter so dat taalhulpmiddels in baie gevalle eerder 'n optekeningsfunksie vervul, en nie noodwendig 'n standaardiseringsfunksie nie, en in ander gevalle gewoon onvoldoende is. Kom ons kyk na een tipe hulpmiddel, naamlik woordeboeke. 'n Voorbeeld van 'n woordeboek wat so 'n optekeningsfunksie vervul, is die WAT, wat 'n omvattende woordeboek is en poog om die groots moontlike spektrum van skriftelike taalgebruik weer te gee. Dit beteken dat 'n mens nie noodwendig die WAT as standaardbron kan gebruik nie. In die voorwoord by Deel A tot O sê die hoofredakteur byvoorbeeld onder andere:

Omdat die WAT nie slegs 'n woordeboek vir Standaardafrikaans is nie, maar ook vir al die ander variëteite van Afrikaans, van toe tot nou, gee dit 'n oorsig van wat in Afrikaans aangaan, ook in die spreektaal en die streektale. Almal praat mee in die WAT.

Diegene wat dikwels hierdie bron raadpleeg, sal byvoorbeeld weet dat dit talle voorbeelde van verouderde taalgebruik bevat, deels omdat dit oor so 'n lang periode ontstaan het (en nog in wording is). Maar selfs al is daar reeds in 1925 besluit dat 'n standaardwoordeboek van Afrikaans saamgestel sou word, het die eerste deel van 'n omvattende woordeboek, naamlik die WAT, eers in 1956 verskyn. Die WAT het dus in werklikheid niks tot die vroeë kodifisering van Afrikaans bygedra nie. Maar dan moet 'n mens daarby ook in gedagte hou dat dit die primêre funksie van die WAT is om 'n rekord te verskaf van hoe Afrikaans deur die pen (en deesdae op die skerm) van sy gebruikers daar uitsien, en dat die sitate uit die WAT dus nie noodwendig kwalifiseer vir 'n spelllingkeurmerk nie. Volgens Ponelis is die behoefte aan 'n betroubare, wetenskaplik gebaseerde, samevattende naslaanwoordeboek van Standaardafrikaans een van die heel grootste prioriteite wat die voortgesette standaardisasie van Afrikaans betref. Tot op hede is daar egter slegs op die gebied van die spelling en skryfwyse 'n relatief omvattende standaardbron, naamlik die AWS, wat sedert 1917 'n kodifiseringrol in Afrikaans speel, en meer bepaald vanaf 1922, toe ingrypende veranderings van Nederlands na Afrikaans deurgevoer is (byvoorbeeld die vervanging van ij deur y, soos in mij, en van ai deur ê, soos in populair). Maar ook die AWS, hoewel dit sentraal staan in die standaardisering van die Afrikaanse spelling en skryfwyse, is, wat die woordeskat betref, eksemplaries en fragmentaries wat die breë spektrum van registers in die taal betref. Soos die AWS getoets word aan die veranderende taalwerklikheid waarin hy moet funksioneer, moet selfs hierdie bron ook deur-lopend verbeter, hersien en bygewerk word, en saamwerk met vakkundiges as termskeppers.

Deel van die antwoord op die vraag oor wat as die gesagsbronne van 'n taal (in casu Afrikaans) beskou kan word, is ook die vraag of woordeboeke altyd reg is. Die antwoord is, meen ek, reeds gegee. Terwyl woordeboeke nie altyd die pretensie het (en soms, ten onregte, wel) om die laaste woord te spreek oor dit wat as standaardvorm beskou kan word nie, moet 'n mens bewus wees van die beperkinge van woordeboeke, wat ook meegebring word deur funksionele spesialisasie. Die taalpraktisyn moet bewus wees van die soort inligting wat in omvattende woordeboeke, handwoordeboeke, vertalende woordeboeke en vakwoordeboeke aangebied word en nie aangebied word nie - om nie te praat van noodwoordeboeke, soos sak- en skoolwoordeboeke nie.

Dit is ook belangrik om die onderskeid tussen woordeboeke, glossariums en woordelyste te begryp. In die geval van woordelyste staan inligting oor die vorm van die lemma voorop, terwyl dit by 'n glossarium gaan om 'n woordelys plus semantiese verklaring. 'n Boek wat die naam "woordeboek" werd is, bestaan uit artikels wat 'n veel meer gekompliseerde inligtingsaanbod vir elke lemma bevat as in die geval van woordelyste en glossariums. Die inligtingstipes wat gesamentlik 'n woordeboekartikel uitmaak, sluit, benewens die spelling, ook kategorieë in soos betekenis (sekerlik die hoofinligtingstipe by sowel een- as meertalige woordeboeke), morfologie (byvoorbeeld meervoude, verboë vorme, ensovoorts), sintaksis (woordsoort), soms uitspraak, soos klemplasing en, by uitsondering in Suid-Afrika, fonetiese transkripsie, vertaalekwivalente by meertalige woordeboeke, gebruiksetikette, en so meer. In die geval van vakwoordeboeke is die klem, veral in Suid-Afrika, egter op beide die vorm van die lemma en van die vertaalekwivalente, en het ons inderdaad te doen met 'n hulpmiddel wat 'n standaardiseringsfunksie het. Maar, soos in die geval van die AWS, bly 'n vakwoordeboek ook net aktueel vir 'n beperkte tyd, en uitgelewer aan die tand van die tyd. Hersiening en bywerking bly en word toenemend belangrik vanweë die versnellende tegnologiese ontwikkeling wat 'n mens se kop toenemend laat duisel. Daarbenewens verskil outeurs in dieselfde vakgebied soms oor bepaalde terme, of die spelling daarvan. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid van 'n gesentraliseerde standaardiseringsliggaam vir vaktaal, wat 'n moontlike toekomstige funksie van die Tegniese Komitee vir Standaardisasie of die Taalkommissie kan wees. Een voorbeeld van 'n standaardiseringsbesluit wat die Taalkommissie in oorleg met vakkundiges geneem het, is by wisselvorme wat uitgaan op -ied of -ide (romboïed/romboïde, alkaloïed/alkaloïde, ensovoorts), asook -ien of -ine (aspirien/aspirine, proteïen/proteïne); die oorgrote meerderheid wetenskaplikes het aangedui dat hulle uitsluitlik die vorm met -ied en -ien gebruik. Dit is dan ook die enigste vorm wat as lemma in die AWS opgeneem is, hoewel die ooreenstemmende spelreël wel voorsiening maak vir die alternatief.

Omdat tegniese terminologie, of vaktaal, grotendeels aanleun by 'n internasionale woordeskat wat op Latynse en/of Griekse etimologie berus en dikwels, of meestal, via Engels op die lessenaar van 'n Afrikaanse vakkundige en ook 'n taalpraktisyn beland, plaas dit die kodifiseerder, wat nuwe terme in Afrikaans moet skep, voor die tweeledige keuse van transliterasie of verinheemsing. Die taalpraktisyn word insgelyks voor die dilemma geplaas om te kies tussen twee terme: die een internasionaal, die ander inheems, wat beide reeds deur vakkundiges gebruik word. Hierdie probleem is natuurlik nie beperk tot vaktaal nie, en deursuur die hele Afrikaanse taalwêreld.

Dit bring my by die turksvy van die vraag:

4. Hoe hanteer 'n mens taalbeïnvloeding - veral deur 'n dominante taal?

Oor hierdie onderwerp hoef ons nie name te noem nie - almal is deur jarelange kondisionering attent gemaak op die Angel-Saksiese gevaar. Frank Hendricks wys byvoorbeeld op FA Ponelis se opmerking dat die hooffokus van Standaardafrikaanse taalnormering (die bekamping van) Engelse invloed is. 'n Opvallende verskil tussen die Afrikaanse omgangstaal en Standaardafrikaans is massale kodewisseling met Engels in eersgenoemde, iets wat swaar gestigmatiseer word in Standaardafrikaans. (Ek beperk my in hierdie gesprek tot Standaardafrikaans, omdat die invloed van Engels op Omgangsafrikaans heeltemal 'n ander ball-game is, en soms die indruk wek van taalsamesmelting.)

Dit is inderdaad nodig om die selfstandigheid van Standaardafrikaans te probeer behou - die weerstand teen kolonialisering deur groter of konkurrente tale is 'n universele verskynsel. Die soort purisme wat gerig is op die selfstandigheid van 'n bepaalde standaardtaal kom algemeen voor: Standaardnederlands is byvoorbeeld uiters puristies ten opsigte van Duitse invloed en Standaardfrans ten opsigte van Engelse invloed - eintlik ironies omdat voorsate van die hedendaagse Franse reeds in die elfde eeu die hele Engelse woordeskat gehibridiseer het. (Engels sou dalk kon sê: "We are simply returning the compliment.") Nietemin, ons is in goeie geselskap as ons uitgangspunt is om nie voor die voet Engelse invloed in Standaardafri-kaans te duld nie.

Engelse invloed vind egter op verskillende wyses neerslag in die Afrikaans van Standaardtaalgebruikers: Eerstens die opsigtelike leenwoorde, met huidjie en muidjie uit Engels (garage, speaker, gentleman, jokkie, klub, skrum, ensovoorts); tweedens die trans-literasie van Engelse terme van veral Romaanse herkoms (nasionaal, universiteit, preskriptief, geografies, edukasie, matematies, matematiek, ekspansie, appresieer, artifisieel, burokrasie, regisseur, ensovoorts - die aanvaarbaarheid van hierdie items is skalêr, en kan dus volgens 'n skaal ingedeel word); derdens die leenvertaling van Engelse leksikale items (tronkvoël, staafkode, familiedokter, opeindig, uitmis, vonkprop, verkeerslig - hier is daar insgelyks sprake van selektiewe en skalêre aanvaarbaarheid); vierdens die oordrag van morfologie (statistieke, studies, uitvoere) en sintaksis (hulle het (mekaar) ontmoet, ek het (my)verslaap, die weermag het (hom) onttrek, hulle moes ontruim/die basis ontruim, hulle groei die ekonomie, of rus die spelers); en laastens die leenvertaling van fraseologie (skouer aan die wiel sit teenoor hand aan die ploeg slaan, uit iemand se hand eet teenoor na iemand se pype dans, handig inkom teenoor nuttig te pas kom, jou sterre dank teenoor jou hoed agterna gooi). Tensy 'n mens bewus gemaak is van die herkoms van sulke uitdrukkings of wel die Engelse ekwivalent ken, is daar dikwels geen aanduiding van "vergiftiging" nie.

Hoe nou gemaak? 'n Paar beginsels (en 'n mens kan daaroor verskil):

• Leenwoorde alleen as dit 'n kulturele eksotisme verteenwoordig waarvoor daar geen direkte Afrikaanse ekwivalent bestaan nie, of dan wel as dit al so ingeburger is dat 'n Afrikaanse skepping geforseerd aandoen.

• Getranslitereerde woorde by nuwe items wat verskillend gebruik word in verskillende kontekste of selfs 'n ander konnotatiewe waarde het - soms is 'n getranslitereerde woord ook nie semanties presies identiek aan die inheemse ekwivalent nie; maar outogtone items indien daar 'n gevestigde Afrikaanse ekwivalent bestaan (vraag: wanneer kan dit as gevestig beskou word?) - sommige dissiplines sondig uitermate in dié opsig, byvoorbeeld in die pedagogees van opvoedkundiges.

• By leenvertalings van leksikale items geld die beginsel eweneens dat bestaande items nie deur gemaakte, en soms belaglike, leenvertalings vervang moet word nie - aan die ander kant is sommige leenvertalings deursigtig en gepas (byvoorbeeld verkeerslig, ensovoorts).

• By die oordrag van morfologie en sintaksis word daar onnodig van die idiomatiese aard van Afrikaans afgewyk, hoewel 'n mens soms probeer rasionaliseer deur te onderskei tussen byvoorbeeld statistiek en statistieke, en dergelike.

• Leenvertaling van fraseologie is een area waar Afrikaans redelik weerloos is, omdat daar taalsgewys nie juis 'n opsigtelike verskil waar te neem is nie (Vergelyk blaffende honde byt nie, iemand 'n guns doen, op diens wees, op roep/bystand wees, met moord wegkom, ensovoorts) Dis 'n grys area, waar ou strydrosse stadig maar seker in die modder wegsak en bitter moet bes gee voor die "domheidsmag". Maar ook hier geld die beginsel dat 'n raak segswyse in Afrikaans wat nog redelik algemeen voorkom, nie sito-sito op die altaar geoffer behoort te word nie.

• Samevattend kan 'n mens nou die vraag vra of taalnorme beskou kan word as die gereedskap of instrumente van 'n taalpraktisyn. En om terug te keer na die Van Wyk Louw-metafoor, kan 'n beitel enersyds beskou word as 'n instrument in die hand van 'n beeldhouer om vorm te gee aan waarmee gewerk word, sodat die materiaal 'n voorwerp van nut of skoonheid kan word. Om vorm te gee aan die taal waarmee ons werk, moet daar uiteraard ook voldoen word aan die eise van presisie en doelmatigheid om iets te word waarmee taalhandelinge ten beste uitgevoer kan word.

Ernst Kotzé

Publication Dates

  • Publication in this collection
    09 June 2026
  • Date of issue
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top