Open-access Redakteursnota

AKTUEEL

Redakteursnota

Sakkie Spangenberg antwoord in die onderstaande bydrae op reaksies op die diskoers oor geloof en wetenskap in die Junie 2024-nommer, wat almal, op hul beurt, in die besonder gereageer het op sy (Spangenberg) se artikel in die Desember 2023-nommer.

Sonder om te probeer om die argumente en teenargumente in die huidige diskoers oor wetenskap en geloof op te som, stel Spangenberg sy eie siening teenoor die standpunte van Dreyer en Van der Walt, asook Stoker, in terme van enersyds 'n lees van die tersaaklike gedeeltes in Genesis "binne hulle historiese en kulturele kontekste" en andersyds 'n aanvaarding van die Nederlandse Geloofsbelydenis (en wel sonder inagneming van die tydgebondenheid van laasgenoemde dokument). Spangenberg aanvaar dus nóg Stoker se verwysing na die gedateerdheid van die bronne/dokumente-hipotese, nóg Dreyer en Van der Walt se verweer teen sy aanvanklike kritiek, naamlik dat hulle weens meer resente navorsing die dokument-hipotese verwerp en hulle siening grond op Bybelse uitsprake.

Dit gaan vir Spangenberg daarom dat teologie tans 'n tekswetenskap is, aangesien "dit gaan oor die lees en verstaan van antieke tekste", met ander woorde, dat die Bybel "saamgestel is uit tekste wat in 'n wêreld ontstaan het wat radikaal van ons s'n verskil". Om hierdie rede hou ook Naudé se voorstel vir 'n metaforologiese lees van die Bybel ook nie steek nie, want "Om a-histories oor die Christelike God, die Bybel en die wetenskap te filosofeer, dra nie veel by tot die gesprek oor die Christelike godsdiens en die wetenskap nie".

Dit is duidelik dat die geloof-wetenskap-diskoers steeds baie belangstelling uitlok en dat daar ongetwyfeld nog ruimte is vir indringende bespreking van teenoorstaande bevindings en oortuigings. Om hierdie rede nooi die redaksie lesers weereens uit om te reageer op die debat en die tersaaklike kontensieuse kwessies wat daardeur te berde gebring word. Reaksies kan wissel vanaf 'n (kort) meningstuk tot 'n volwaardige navorsingsartikel. Ons beklemtoon weereens dat debat en diskoers oor enige en alle belangwekkende vraagstukke vanuit verskillende uitgangspunte verwelkom word.

Ina Wolfaardt-Gräbe

Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe

September, 2024

Publication Dates

  • Publication in this collection
    11 June 2025
  • Date of issue
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top