Open-access Die post-2024-verkiesingsomgewing - 'n politieke omgewingsverkenning en strategiese perspektief

The post-2024 election environment - a political environmental and strategic perspective

Abstract

Tydens 2024 het talle verkiesings wêreldwyd in talle toonaangewende state plaasgevind, inbegrepe die VSA, Indië, Rusland, Maleisië, Verenigde Koninkryk en talle Afrikastate, waaronder Suid-Afrika. Ongeag voorspellings tot die teendeel het die 2024-verkiesing as 'n reuseskok vir die ANC-regering gekom - toe reeds 30 jaar aan bewind met meerderhede in alle provinsies met die uitsondering van die Wes-Kaap. Met net 40,13%-steun op nasionale vlak was dit duidelik dat 'n nuwe fase in die Suid-Afrikaanse politiek betree word. Die sentrale doelstelling van hierdie navorsing is om 'n politieke omgewingsverkenning te doen van strategiese faktore, in die besonder die impak van die 2024-verkiesingsuitslag op die huidige bestei in Suid-Afrika, en om dit af te sluit met enkele toekomsgerigte perspektiewe. Die studie is kwalitatief van aard, maak gebruik van konteksanalise en interpretasie (op grond van 'n breë analitiese raamwerk), met as brandpunt die aanloop tot, en die verloop en afloop van die verkiesing en die implikasies daarvan vir die huidige politieke bestel in Suid-Afrika.

Suid-Afrika; 2024- nasionale en provinsiale verkiesings; demokrasie; koalisiepolitiek; 'n veranderende politieke omgewing; Regering van Nasionale Eenheid


Abstract

2024 was a year of elections and electoral changes throughout the world. Elections took place in countries like the USA, Britain, Russia, Malaysia, India and many other states, including several African and Southern African States. After 30 years of democracy (and democratic elections) South Africa held its seventh national and provincial elections. With the ANC support declining since 2004 and receiving only 57,9% (down from 69,7% nationally in the 2019 elections and only 47,5% in the local elections measured on a national level), questions were asked about the ANC's ability to achieve an outright majority on a national level as well as concerns about majorities in two of the biggest provinces in the country, namely Gauteng and KwaZulu-Natal (KZN). The 2024 election in South Africa took place against the backdrop of major political, economic and social challenges as well as strong trends of endemic corruption and state capture, implicating senior ANC and government elites. Service delivery was at an all-time low and major challenges regarding the provision of electricity were experienced. Major reconfigurations within the political spectrum also took place with, amongst others, the establishment of the MK under the leadership of former president Jacob Zuma. Electoral surveys, predictions and forecasts differed, with many analysts believing that the ANC would achieve a small but outright majority. However, some electoral surveys and other analysts referred to strong evidence suggesting that the ANC would lose an outright majority and that ANC support could be as low as beneath 40% support on a national level. When the election results were announced at the beginning of June 2024, it sent shock waves throughout the political establishment, with the ANC receiving only 40,13% of the national support and losing their majorities in both Gauteng and KZN, with the Northern Cape a border case. The main aim of this article is to analyse the 2024 election and establish its impact on the political environment and the changes that have taken place since. With an ANC one-party government ruling since 1994 coming to an end, the outcome of the election saw the establishment of a Government of National Unity (GNU) accommodating 10 parties (more than 70% of the national support), representative of the broad political spectrum - but excluding the anti-system MK of Jacob Zuma as well as the radical EFF. By making use of a qualitative approach, a contextual and political environmental analysis will be done by focusing on: • The political, economic and social environment in the build-up to the 2024 national and provincial elections. • Elections in South Africa and the build-up to the 2024 elections. • An analysis of the 2024 elections. • The political outcomes of a changing political environment. • Conclusions and future perspectives. A major conclusion of this research is that South Africa has entered a new phase in its political development, with new rules and challenges, both nationally and internationally. The GNU is currently facing major challenges, and the success or failure of coalition politics is going to be critical for the successful consolidation of democratic practices against the backdrop of fundamental changes nationally, but also on a regional as well as on an international level.

South Africa; 2024 national and provincial elections; democracy; coalition politics; a changing political environment; Government of National Unity


Inleiding

Hoewel nie heeltemal onverwags nie, en selfs deur sommige meningspeilings min of meer voorspel, is die uitslag van die 2024-verkiesing (nasionaal en provinsiaal) met skok, verbasing en soms selfs ontnugtering begroet. Die uitkoms was duidelik, naamlik dat Suid-Afrika nooit weer dieselfde sal wees nie en dat die polities-staatkundige bedeling vorentoe op 'n nuwe trajek geplaas sou word (Akinwotu & Bartlett, 2024:1). Terwyl politici in skok die uitkomste hiervan verwerk en talle analiste effens verdwaas toegekyk het, het 'n nuwe stel politieke werklikhede die toneel oorheers, wat dringende aandag verdien het en spoedeisend hanteer moes word.

Die uitkoms van die 2024-verkiesing is die produk van 'n proses wat reeds etlike jare gelede begin het met wat as 'n paleisrevolusie binne die ANC (2017-2019) beskou kan word, ondersteun deur 'n kompleksiteit van polities-staatkundige, ekonomiese, maatskaplike en internasionale faktore. Die samehang van bogenoemde faktore het myns insiens 'n kantelpunt geskep waarvan partypolitieke hergroeperings die uitkoms was. Dit het ten dele reeds gemanifesteer in die 2019- nasionale en provinsiale verkiesings, asook en veral na afloop van die 2021- plaaslike verkiesing.1

Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse politiek tans in 'n fase is wat soms as onderbroke ewewig beskryf word. Hierdie fase het verreikende politieke, ekonomiese en maatskaplike implikasies (vergelyk Human,1998:1-6, 9-13). Dit is trouens nie vergesog om te argumenteer dat Suid-Afrika teen bogenoemde agtergrond 'n kritieke drempelpunt bereik het deur die konsolidasie van die Suid-Afrikaanse demokratiese bestel nie; dat demokratiese spelreëls moontlik hersien en uitgebou sal moet word; en dat maatskaplike en ekonomiese hervorming ter ondersteuning van die demokratiese bestel tans uiters noodsaaklik geword het. Vandaar die totstandbrenging van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) en pogings om 'n Nasionale Dialoog te inisieer om dringende groter politieke, ekonomiese en maatskaplike vraagstukke onder die loep te neem.

Die doel van hierdie navorsing is om 'n politieke omgewingsverkenning van strategiese faktore uit te voer, veral rakende die impak van die 2024-verkiesingsuitslag op die huidige bestel in Suid-Afrika, en om dit met enkele toekomsgerigte perspektiewe af te sluit. Die studie is kwalitatief van aard, met 'n verkennende en ontledende inslag. Konteksanalise en interpretasie op grond van 'n makro-analitiese raamwerk is belangrik ten opsigte van hierdie navorsing. Konsepte en terme word geïntegreerd hanteer. Die navorsing is op die volgende aspekte toegespits:

• Politieke, ekonomiese en maatskaplike omstandighede op die vooraand van die verkiesing

• Verkiesings in Suid-Afrika en die aanloop tot die 2024-verkiesing

• Die 2024-verkiesing

• Politieke uitkomste van 'n veranderende omgewing

• Gevolgtrekkings en toekomsgerigte perspektiewe

Politieke, ekonomiese en maatskaplike omstandighede aan die vooraand van die verkiesing2

Politieke, ekonomiese, maatskaplike en internasionale omstandighede het in sekere opsigte drasties verander of telkens versleg en kan kortliks soos volg saamgevat word:

1.

Polities/Staatkundig: Op die terrein van die politiek bestaan 'n gevestigde patroon van toenemende en telkens eskalerende politieke onstabiliteit en verhoogde veiligheidsrisiko's, wat saamhang met die toepassing van 'n verswakkende staat en die verval van staats- en semistaatsinstellings (Duvenhage, 2023c:1-32; Anoniem, 2019; Gumede, 2021:2:2022c; Greffrath, 2015).3 Die oorsprong van hierdie onstabiliteit is telkens ekonomies, maatskaplik of dienslewering georiënteerd, maar manifesteer polities betreffende diensleweringspro-teste, arbeidsonrus en xenofobiese tendense. (Vergelyk ook Anoniem, 2019; Bloomberg, 2020; Erasmus & Hlangu, 2021 vir patrone en tendense van politieke onstabiliteit in Suid-Afrika.) Die politieke en institusionele verval en wanfunksionaliteit is uitgebreid en beteken dat die staat heel dikwels kernfunksies nie meer suksesvol kan uitvoer nie. Die onvermoë van die staat om hierdie kernfunksies (soos sakebeveiliging, infrastruktuur-instandhouding, dienslewering, ens.) uit te voer lei tot 'n patroon van stelseluitwyking en die totstandkoming van soms parallelle strukture op talle terreine, inbegrepe onderwys, gesondheid, infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding, veiligheid en dienslewering.

2. Die ANC se steunvlakke voor die 2024-verkiesing het sy grootste laagtepunt getoon, met die potensiaal vir toenemende konflik en geweld in die opbou tot (en ook ten opsigte van die afloop van) die genoemde verkiesing. (Vergelyk Du Toit en De Jager, 2015 vir die dalende steunvlakke van die ANC sedert 2004.) Die totstandkoming van die MK en 'n baie radikale EFF het die grondslag vir patrone van onstabiliteit gelê. Teenvoeters vir steunverliese, soos geïnisieer deur die ANC, het ingesluit populistiese wetgewing, rasgedrewe politiek, en die uitbouing en konsolidasie van patronaatskappolitiek waarin uitgebreide en verhoogde maatskaplike toelae 'n belangrike instrument was.4

3. 'n Ekonomie wat nie groei nie as gevolg van 'n gekompliseerde groep redes was kenmerkend op die vooraand van die verkiesing. Oor die laaste dekade het die ekonomie dikwels minder as 1% per jaar gegroei, met as uitkoms hoë werkloosheid, 'n beperkte belastingbasis met steeds groterwordende verpligtinge ten opsigte van die staatskas as uitkoms van populisties gedrewe inisiatiewe. Die oorsprong hiervan is grootliks ideologies, regulatief en beleidmatig van aard. Verswakkende infrastruktuur, redes wat met veiligheid en sekuriteit verband hou, verhoogde en eskalerende staatskuld, asook die ineenstorting van plaaslike regerings is verder ook grondliggend aan hierdie problematiek en kon moeilik oor die kort termyn omgekeer word. (Ongeag omgekeerde verwagtinge het die ekonomiese situasie nie tydens die Ramaphosa-era verbeter nie, maar eerder in meeste opsigte versleg.) Hiervan getuig sake soos 'n kleinerwordende persoonlike belastingbasis, eskalerende staatskuld (bereken as per capita van die bruto binnelandse produk); lae ekonomiese groei en laer vlakke van finansiële investering.)

4. Daar is maatskaplike uitdagings, waaronder die verbrokkeling van sosiale strukture (gesin, familie, ens.), armoede, werkloosheid en ongelykheid wat besig is om toe te neem, tesame met dienslewering, waaronder die voorsiening van water, elektrisiteit en sanitasie wat in talle omgewings besig is om te verval of selfs reeds in duie gestort het. Nieteenstaande hierdie uitdagings het die regering op 'n populistiese wyse beloftes gemaak rakende maatskaplike toelae, om dit te vermeerder en/of te vergroot ten spyte van finansiële beperkinge, ekonomiese inkrimping en die verval van strukture en dienslewering.

5. 'n Veranderende internasionale konteks met groot politieke risiko's en uitdagings: Suid-Afrika se anti-Westerse houding en belyning met state soos Iran, Rusland, China en 'n uitgebreide BRICS-konteks is hier belangrik.5

6. Die postkantelpuntkonteks in die Suid-Afrikaanse politiek beteken die hersamestelling en -plasing van die politieke spektrum; die werklikheid van koalisiepolitiek met gepaardgaande veranderende politieke spelreëls wat in ag geneem moet word, met implikasies vir demokratiese prosesse, stabiliteit, doeltreffende besluitneming en dienslewering. Laasgenoemde was prominent op plaaslike regeringsvlak ná afloop van die 2021-verkiesing met die uitkoms van sowat 70 "hangrade" (Duvenhage, 2020a:241-268; 2022:187-214).

Om saam te vat het Suid-Afrika op die vooraand van die 2024-verkiesing gestaan voor sy grootste uitdagings sedert 1994, met talle onsekerhede ten opsigte van die pad vorentoe. Die status quo was nie meer volhoubaar nie en die vraag was nie of daar verandering sou wees nie, maar eerder watter vorm dit sou aanneem, watter tydraamwerk hier ter sprake is, en veral wat die regerende elite se reaksie op 'n potensieel verswakkende situasie sou wees. Dit het die 2024-verkiesing die belangrikste verkiesing sedert die totstandkoming van 'n nuwe grondwetlike bedeling gemaak, met groot risiko's vir veral die regerende ANC en wat polities gesproke daaruit kan voortspruit.

Vergelyk die volgende diagrammatiese voorstelling (die samehang van die kompleksiteit van faktore as samevatting van omstandighede) op die vooraand van die verkiesing:

Drie scenario's het die potensiële uitspeel van die verkiesing aangedui, naamlik 1) 'n status quo in 'n veranderende omgewing, 2) koalisiepolitiek en nuwe spelreëls, of 3) 'n Suid-Afrikaanse Lente.6 Waar eersgenoemde verminderde steun, maar steeds 'n volstrekte meerderheid vir die ANC voorsien het, het koalisiepolitiek 'n ANC-minderheid (hetsy bo of onder 45%) in die vooruitsig gestel. Laasgenoemde het die moontlikheid van 'n onsuksesvolle verkiesing en politieke onstabiliteit en praetoriaanse politiek7 in die vooruitsig gestel. Nieteen-staande die beklemtoning van verandering binne al drie die genoemde scenario's was die finale uitkoms steeds 'n groot verrassing en skok. Dit het nietemin deel gevorm van 'n groter patroon van steunverlies wat reeds sedert 2004 aan die orde was, maar tans teen 'n versnelde tempo, met sommige meningspeilings wat wel die kol in hierdie verband getref het.

Verkiesings in Suid-Afrika en die aanloop tot die 2024-verkiesing

Verkiesingspatrone en -tendense: Sedert 1994 het verkiesings nasionaal, provinsiaal en plaaslik betreklik konstant, patroonmatig en in 'n omgewing van relatiewe politieke stabiliteit plaasgevind. Verkiesings was in die algemeen vry en regverdig (kleiner insidente is wel aangemeld), en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het onder omstandighede goeie werk gedoen. Stabiliteit was gesetel in 'n dominante partystelsel waarin die ANC bykans alle politieke instellings (Wes-Kaap en enkele plaaslike regerings uitgesonder) oorheers en polities gedomineer het. Kenmerkend van verkiesings (ten minste in die eerste twee dekades) was 'n patroon van ras- en kultuurgebaseerde sensusse, toenemende politieke apatie, eskalerende interne konflikte binne die ANC en die gepaardgaande verlaagde steun vir die ANC (Duvenhage, 2023:8-10). Stabiliteit en patroonmatigheid het nietemin geleidelik plek gemaak vir groter en vinniger verandering, met die 2021-verkiesing van plaaslike regerings (27 jaar later) wat as 'n historíese baken aangedui kan word (vergelyk Jonas (2021) se perspektief op die beëindiging van die ANC-hegemonie). Bestudeer die volgende diagram-matiese voorstelling van verlaagde steunvlakke van die ANC as motivering vir bogenoemde:

Die 2019-verkiesing (en veral die 2021- plaaslike verkiesing) het egter in die teken gestaan van groter en meer fundamentele politieke verandering, herposisionering en hersamestelling van die politieke spektrum. Gedryf deur politieke, ekonomiese en maatskaplike faktore het die Suid-Afrikaanse politiek 'n kantelpunt bereik soos vroeër aangedui en gemotiveer (Duvenhage, 2020a:241-268).8

Koalisieregering op plaaslike vlak: Aanvanklik meer geleidelik en later heelwat vinniger het 'n politieke era van eenpartydominansie sy einde bereik. Nêrens was die aanduidings sterker as juis met die uitkoms van die 2021- plaaslike verkiesings nie. Vir die eerste keer het die ANC-steun tot onder 50% (47,5% nasionaal gesproke) gedaal en was daar tot soveel as 70 hangrade op plaaslike vlak direk ná afloop van die verkiesing. Wat sedert 2016 'n beperkte politieke werklikheid was, het oornag 'n groot en harde werklikheid geword en koalisiepolitiek 'n noodsaaklikheid in sekere omgewings. Veral in die metropole waar die ANC-meerderhede in minderhede verander het (met groot implikasies vir magsverhoudings - konflikterend en/ of samewerkend - tussen partye en ook tussen regimes en partye), het dit letterlik oornag in sommige gevalle 'n uiters destabiliserende werklikheid geword.9 Hoewel nie beperk tot net die metropole nie, is koalisies in stedelike omgewings soos die Tshwane-, dieJohannesburg-, die Ekurhuleni- en Nelson Mandela-metropool gekenmerk deur patrone van politieke onsta-biliteit, wisselende regerings, gebrekkige tot beperkte besluitnemingsvermoëns, wat reeds gevestigde swak diensleweringspatrone vererger het (Duvenhage, 2022; 2023; 2023c). 'n Waardestelsel, insluitende die plasing van algemene belang bo eie belang, samewerking en verdraagsaamheid eerder as konflik, en konsensus- eerder as magspolitiek binne koalisie-omgewings was duidelik afwesig en het die gebrekkige aard van demokratiese konsolidasie nieteenstaande dertig jaar van demokratiese stelsels, prosesse en verkiesings beklemtoon.

Kiesstelsel en 'n gewysigde die Kieswet 73 van 1998: Op nasionale en provinsiale vlak word daar van 'n proporsionelelysstelsel as kiesstelsel gebruik gemaak. (Plaaslik is dit 'n gemengde kiesstelsel met 50% proporsioneel en die ander 50% verkies vanuit plaaslike wyke.) Kandidaatlyste word ooreenkomstig die Kieswet volgens prioriteitsorde voorgelê aan die OVK vir goedkeuring. Na afloop van die verkiesing verwerf kandidate posisies in wetgewende instellings (wetgewers of die Nasionale Vergadering), ooreenkomstig die persentasie steun van 'n bepaalde politieke party, met lyste as riglyn vir verteenwoordiging.

Hoewel die stelsel talle voordele het, is daar veral drie nadele wat ten opsigte van die bestaande kiesstelsel uitgewys kan word, naamlik party-elite wat bepalend is in die aanwys van kandidate op partylyste. Tweedens is individue op grond van goedgekeurde lyste (die lysproporsionele kiesstelsel), anders as die enkellidkiesafdelings, nie op 'n geografiese basis (setel, ensovoorts.) verkies nie, daarom is dit moeiliker om verantwoordbaarheid (burgers na verteenwoordiger wat 'n belangrike demokratiese norm is) van toepassing te maak. Derdens dra die lys proporsionele stelsel (wat in die geval van Suid-Afrika 'n lae drempelwaarde vereis vir verteenwoordiging, soos bepaal deur die Grondwet en Kieswet) daartoe by dat groot getalle partye deelneem, volstrekte meerderhede soms moeilik bereik word en 'n fragmentasie van die politieke proses soms onafwendbaar is. Laasgenoemde lei dikwels (soos wat die geval was in sowat 70 plaaslike regerings tydens die 2021- plaaslike verkiesing) tot die nood-wendigheid van koalisiepolitiek.

Ná afloop van die 2019-verkiesing het die New Nations Movement in die Konstitusionele Hof nietemin die grondwetlikheid van die Kieswet en lysproporsionele kiesstelsel bevraag-teken. Die kernargument was dat individue verhoed word om direk aan die politiek te kan deelneem, aangesien net partye nasionale en provinsiale verteenwoordiging geniet. Boge-noemde groepering het die saak gewen en 'n ministeriële advieskomitee is aangewys om die Kieswet te wysig. Die gestelde doeldatum is twee kere oorskry, en 'n gewysigde Kieswet is uiteindelik vir goedkeuring voorgelê. Teen April 2023 is die Kieswysigingswet 1 van 2023 gepromulgeer. Die gewysigde Kieswet het nietemin verskeie besware na die oppervlak gebring, naamlik:

1. Verskillende en selfs botsende reëls geld vir politieke partye enersyds en individue andersyds ten opsigte van reg tot verteenwoordiging. (Individue mag net staan vir 50% oftewel 200 lede van die Nasionale Vergadering en moet persentasiegewys meer handtekeninge werf as bewys van ondersteuning.)

2. Hier is sprake van 'n ongelyke politieke speelveld, wat partye ten koste van individue bevoordeel.

3. Uitgebragte stemme onder of bo die kwota vir individue bevoordeel politieke partye. (Wanneer individuele kandidate meer stemme as die bepaalde kwota verdien, gaan die stemme verlore, moet herbereken word of op 'n ander basis verdiskonteer word. Hierna word verwys as die sogenaamde "overhang seats".)

4. Die proporsionelelysstelsel (wat reeds 'n groot aantal partye moet akkommodeer) word baie gekompliseer met die toevoeging van individuele name, wat die stelsel ingewikkeld en ook moeilik bestuurbaar kan maak.

(Vergelyk die Electoral Commission of South Africa (2024) en die Wysigingskieswet (2023) vir besonderhede oor bogenoemde asook die voorafgaande gedeelte.)

Enkele maande voor die 2024-verkiesing op 29 Augustus 2023, het die Vereniging vir Onafhanklike Kandidate en die One South Africa Movement die voorgestelde wysigings-wetsontwerp (soos onlangs deur die president onderteken) op 'n dringende basis voor die Grondwetlike Hof geplaas in 'n poging om die grondwetlikheid daarvan te toets. 'n Brandpunt van kritiek was die ongelyke politieke speelveld waarop individuele kandidate teen partye moes meeding. Talle instellings, waaronder die Helen Suzman Stigting, die Inclusive Society Institute en ander akademiese dinkskrums, het in die aanloop tot die verkiesing nog voorleggings en/of aanbevelings gemaak ten opsigte van 'n verbeterde kiesstelsel en/of 'n verbeterde belyning met die oorspronklike besluit van die Grondwetlike Hof. Nieteenstaande bogenoemde inisiatief is die bestaande gewysigde kieswet bykans onveranderd behou met die oog op die 2024-verkiesing.10

Met die aanvang van die 2024-verkiesing was daar 'n gewysigde kieswet, met as uitkoms 'n meer gekompliseerde toepassingsplan en ook vraagtekens oor die aard van wysigings aangebring, en of dit voldoende uitdrukking gee aan die vroeëre besluit van die Grondwetlike Hof.

Meningspeilings in die aanloop tot die verkiesing: Verskeie organisasies het in die aanloop tot die verkiesing meningspeilings uitgevoer, met wisselende akkuraatheid. IPSOS-Markinor het die ANC se steun op 27 Oktober 2023 op 43% geplaas; tydens 6 Februarie 2024 op 40,5%; en op 40,2%, soos gemeet op 27 April 2024. Die DA het in dieselfde tydgleuwe steunbasisse van onderskeidelik 20%, 20,5% en 21,9% aangedui, met die EFF op 18%, 19,6% en 11,5%. Die MK het tydens die 27 April-peiling 8,4% politieke steun weerspieël. Die Social Research Foundation het tydens April 2024 (gebaseer op 'n 60% stempersentasie) die ANC se steun op 38% geplaas, die DA op 25%, die EFF op 11%, terwyl die MK se steun op 14% bereken is. Die Brenthurst Foundation het tydens Februarie 2024 die ANC se steun op 39% geplaas, die DA op 27%, die EFF met 10%, en die MK op 13% (Duvenhage, 2024:1-30).11

Op die vooraand van die belangrike verkiesing van 2024 was die volgende duidelik:

• Suid-Afrika ervaar van die grootste polities-staatkundige, ekonomiese en maatskaplike uitdagings sedert die aanvang van demokrasie in Suid-Afrika.

• ANC-steunbasisse toon 'n konstante afwaartse trajek, met die DA wat sy steunbasis gekonsolideer het; die EFF wat stewig in peilings vertoon het; die IVP op 'n groeiende trajek, en talle nuwe partye wat onbekende faktore was, en soms te klein om steun vanuit talle peilings akkuraat te kon bepaal.

• Dit was duidelik dat 'n politieke hergroepering van kragte te wagte was, met die ANC wat duidelik steun verloor en die MK (net enkele maande oud) wat dubbelsyfers in sommige peilings behaal het.

• Akademici en verkiesingspesialiste was skepties teenoor meningspeilings en het veral gewys op die vermoë van die ANC om kort voor verkiesings die bordjies te verhang. Kortom, die meerderheid politieke analiste het 'n 50% steunbasis of meer vir die ANC voorsien; baie beperkte steun vir die MK, en net 'n beperkte-gewysigde status quo as algemene uitkoms van die verkiesing.

• Die gewysigde kiesstelsel en die rol van individuele kandidate is nie as strategies belangrik geag nie, hoewel kommer bestaan het oor die uitvoering van 'n meer gekompliseerde kiesmodel en die logistieke eise daaraan verbonde.

• Koalisiepolitiek is as moontlikheid genoem op 'n nasionale vlak en ook ten opsigte van provinsies soos KZN en Gauteng indien die ANC nie die 50% steunbasis kon bereik nie.

Met bogenoemde as agtergrond het die langverwagte, en deeglik beoordeelde verkiesing, teen die agtergrond van groot politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings plaasgevind.12

  • Ten spyte van kommer oor logistieke aspekte van die verkiesing (organisatoriese sake; die groot getal partye wat deelneem; meer stembriewe as gevolg van 'n gewysigde kiesstelsel; asook begrotingskwessies) het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) hul gereedheid vir die verkiesing vooraf beklemtoon. Daar was 27,79 miljoen geregistreerde stemgeregtigdes met 14 889 kandidate wat vir 887 setels meegeding het, beide nasionaal en in die nege provinsies. Sowat 70 politieke partye en 11 onafhanklikes is deur die OVK geakkrediteer om aan die verkiesing deel te neem. Daar was 23 292 stempunte, met die meeste in KZN (9 740), die Oos-Kaap (4 868) en Limpopo (3 216). Net 15 partye het beide nasionaal en in al nege provinsies deelgeneem. Drie stembriewe, naamlik 'n nasionale stembrief (net vir 200 lede van die Nasionale Vergadering); provinsiaal na nasionale stembrief (die ander 200 lede van die Nasionale Vergadering), en 'n provinsiale stembrief sou vir die eerste keer gebruik word13(IEC.2024. 1-4; Duvenhage, 2024:1-20).

    Inaggenome die omvang van organisatoriese en logistieke reelings asook die uitvoering van 'n reuseverkiesingsproses (met boonop 'n gewysigde kiesstelsel), het die verkiesing bo die algemene verwagting vlot verloop.14 Politieke stabiliteit was meestal aan die orde van die dag; kleiner logistieke probleme het wel opgeduik en is hanteer, terwyl kiesers kon stem in 'n vry en funksionerende omgewing. Op 3 Junie 2024 word die 7de nasionale en provinsiale verkiesing as vry en regverdig verklaar, nieteenstaande kleiner uitdagings, onder meer persoonlike aanvalle op OVK-werknemers, ondermyning van instellings, disinformasieveld-togte en intimidasie. Dit was veral die MK wat die uitslag bevraagteken het en met regstappe gedreig het, en selfs regsprosesse teen die uitslag begin het. Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing se Election Satisfaction Survey het nietemin getoon dat sowat 92% stemgeregtigdes positief gereageer het op die bestuur en hantering van die verkiesing deur die OVK, en het bevind dat "Overall, the results of the 2024 survey indicate the ongoing integrity of the election process and the Commission" (Roberts, Muller & Struwig, 2024;17). Die verwysde opname het 13 155 onderhoude gevoer (50 elk uit 300 verteenwoordigend geselekteerde stempunte) waarin aspekte van die verkiesing ondersoek is. Hierdie aspekte het ingesluit die vryheid en regverdigheid ten opsigte van die stemproses; mate van dienslewering en ondersteuning deur die OVK; die vertroue in die stemproses; die ondersteuning vir kwesbare groepe; mate van geheimhouding en tydsduur om te stem. Oor die algemeen was die uitslae positief en het dit die uitkoms van 'n vrye en regverdige verkiesing beklemtoon.15

    Die uitslag van die verkiesing en setels toegewys op onderskeidelik nasionale en provinsiale vlakke (in vergelyking met die 2019-verkiesing) kan volledig in bylaag B bestudeer word.16

    Uitstaande kenmerke van die verkiesing het ingesluit:

    1. Die ANC het as dominante hegemonie oor die laaste 30 jaar (Wes-Kaap en enkele plaaslike regerings uitgesluit) sy meerderheid nasionaal, asook provinsiaal in Gauteng en KZN verloor. In die Noord-Kaap het die ANC 'n bykans volstrekte meerderheid verwerf, maar veiligheidshalwe steun van buite (VF Plus) gebruik om politieke stabiliteit te verseker. Met 'n steunverlies van meer as 17% op nasionale vlak en minderheidsregerings in KZN en Gauteng, het hierdie verkiesing 'n daadwerklike draaipunt verteenwoordig en bewys gelewer van die politieke kantelpunt wat reeds sedert 2019 begin vorm aanneem het.

    2. Koalisiepolitiek is na dese nie net beperk tot talle plaaslike regerings (in besonder metropole) nie, maar ook nou nasionaal en in die bogenoemde twee provinsies 'n realiteit om mee rekening te hou. Koalisiepolitiek blyk nou ook 'n meer permanente kenmerk van die politieke landskap op alle vlakke te wees, met 'n nuwe stel politieke vereistes, waardegrondslag en meer gekompliseerde toepassings van demokratiese norms soos aanspreeklikheid, verantwoordbaarheid, deursigtigheid, onderhandeling en skikking in die aanloop tot besluitneming.

    3. 'n Regering van Nasionale Eenheid (RNE)17 wat uit tien partye saamgestel is en funksioneer ingevolge samewerking (soos verwoord in 'n verklaring van voorneme) wat van toepassing is op beide die uitvoerende en wetgewende terreine..

    4. Die MK met 'n radikale anti-stelsel-oriëntasie sal voortaan die amptelike opposisie vorm. Uitgaande van 'n ideologie van Marxisme-Leninisme asook Pan-Afrikanisme word beslag gegee aan 'n revolusionêre denkpatroon waarin die grondwet, die Romeins-Hollandse Reg en die Britse Gemenereg (Common Law) verwerp word (MK Party, 2024.)18 Die implikasie hiervan is dat die sentrum van die debat nou links is waar die sentrum voorheen regs was.

    5. Politieke apatie, oftewel die gebrek aan deelname van burgers aan politieke prosesse, was veral baie opvallend tydens die 2024-verkiesing. Van die 27,7 miljoen geregi-streerde stemgeregtigdes het slegs 16,2 miljoen of 58,6% stemgeregtigdes gestem. Dit beteken dat meer as 11 miljoen mense nie gestem het nie. Dit is in skerp kontras met byvoorbeeld die 89,3% wat aan die 1999-verkiesing deelgeneem het. Bereken as persentasie van alle stemgeregtigdes het net 41% deelgeneem aan die verkiesing -sowat 15% laer as die gemiddeld bereken vir 173 state oor die wêreld heen. Politieke apatie is 'n dekade-oue tendens tydens verkiesings in Suid-Afrika - 'n patroon wat oor die jare heen vererger het (vergelyk HSRC, 2024:1-11; Mbete, 2024:1-2).19 As barometer vir 'n suksesvolle demokrasie beklemtoon hierdie patroon dat die Suid-Afrikaanse demokrasie nie so gesond is as wat sommige mag voorhou nie.

    6. Hoewel dit nie 'n nuwe tendens is nie, het die 2024-verkiesing weer eens die rol van identiteit (ras, klas, kultuur en gender) betreffende stemgedrag geïllustreer. Wat wel interessant is, is dat kleiner identiteite, dus meer partye en nou ook individue, deelneem aan verkiesings, soos bevestig deur die sowat sewentig partye wat deur die OVK geakkrediteer is om aan die verkiesing deel te neem. Effektief het slegs 52 partye uiteindelik deelgeneem (vergelyk Mbete, 2024:1).

    7. Die diep verdeelde aard van die Suid-Afrikaanse politiek word toenemend in die politieke proses weerspieël, en het as uitkoms eskalerende konflik, koalisiepolitiek en heel dikwels patrone van onstabiliteit.

    Daar kan min twyfel wees dat die 2024-verkiesing 'n waterskeidingsverkiesing was met verreikende implikasies vir alle partye, in besonder die ANC, wat reeds 30 jaar aan bewind was. Die uitkomste van die verkiesing was verreikend en het 'n veranderende politieke omgewing daargestel waar daar vervolgens en ten slotte op gekonsentreer word.

    'n Veranderende politieke omgewing

    Kontekstuele perspektiewe

    Gedurende 2024 het verkiesings in meer as 60 state wêreldwyd plaasgevind. Talle verkiesings het gestaan in die teken van verandering en ontwrigting - telkens vir bestaande bewinde waarvan sommige lank in die tuig was. Buite Afrika was daar verkiesings in onder meer Bangladesj, Indonesië, Indië, die Europese Parlement, Frankryk, Sri Lanka, Japan, Finland, Portugal, Suid-Korea, Panama, Meksiko, die Verenigde Koninkryk, Uruguay, die VSA en Roemenië. Bewindsveranderinge en verliese aan steun vir bestaande regerende partye (wat soms aan koalisieregerings beslag gegee het) het voorgekom in die VSA, Brittanje, Suid-Korea en Japan (Pew Research, 2024:1-7).20

    In Afrika het talle verkiesings plaasgevind, met bewindsveranderinge in Senegal en Botswana, verlaagde steunvlakke vir SWAPO in Namibië, en politieke onstabiliteit in Mosambiek na afloop van die verkiesing daar. Dit is duidelik dat die winde van verandering (soos ook in ander dele van die wêreld) ook hier aan die orde is. Verkiesings in Afrika, soms in teenstelling met sommige ander dele van die wêreld, het telkens teen die agtergrond van korrupsie, nie-vrye en nie-regverdige verkiesings, diensleweringsuitdagings, politieke konflik en wantroue in leierskap plaasgevind (Mpani, 2024:P1-8.) Hoewel Suid-Afrika allermins losstaan van laasgenoemde, kan daar wel aanspraak gemaak word op 'n betreklik vrye en regverdige verkiesing. Soos in ander dele van die wêreld moet dit nietemin beoordeel word teen die agtergrond van verandering, en in die geval van Suid-Afrika met selfs fundamentele verandering, met as brandpunt die oudste bevrydingsbeweging op die vasteland, te wete die ANC.

    'n Verlies aan mag en die bantering daarvan

    Met 'n verlies aan steun vanaf 57,5% in 2019 tot net 40,13% in 2024, is die ANC-regime (meer as net die regering) tot in sy fondamente geskud. Die party wat onoorwinlik was en in die woorde van Jacob Zuma "tot die wederkoms sou regeer" het klaaglik misluk.21 Dit was terug na die tekenbord, koalisiegesprekke het begin en in 'n periode van enkele weke is 'n regering van nasionale eenheid op die been gebring. Die strategiese besluit ten gunste van 'n RNE waarin tien partye uiteindelik betrokke sou wees (eerder as net een of twee partye), was 'n waarborg dat die ANC sy magsbasis kon konsolideer op die grondslag van verdeel en heers. Dit was duidelik 'n poging om die ANC se magsbasis te verskans binne die beperkinge wat 'n post-verkiesingsomgewing grondwetlik/polities gestel het, en om strategiese vennote soos die SAKP en COSATU steeds aan boord te probeer hou.

    Die verdeling van kabinetsportefeuljes het die ANC dan ook proporsioneel bevoordeel; kleiner partye is bemagtig met kabinetsposisies, en die grootste opposisieparty, naamlik die DA, se mag is weer relatief gesproke beperk op grond van getalle (proporsioneel gesproke) asook invloed - verwysend na die minder invloedryke posisies in veral die kabinet. Kortom, die ANC mag die verkiesing verloor het, maar het die onderhandelinge binne die raamwerk van die RNE gewen en so min as moontlik van mag afstand gedoen. Die meerderheid strategiese posisies in die presidensie en die kabinet was nog steeds in die hande van die ANC, met die formele opposisie myns insiens ietwat verswak rakende die uitkomste van die onderhandelings.

    Regering van Nasionale Eenheid

    As 'n breë koalisie van partye verteenwoordigend van die spektrum van partye, is 'n RNE ooreenkomstig grondwetlike riglyne binne enkele weke na die 2024-verkiesing tot stand gebring. Tien partye is hier verteenwoordig, naamlik die ANC (40,18%/159 lede); DA (21,8%/87 lede); IVP (3,85%/17lede); PA (2,05%/8 lede); VF Plus (1,36%/6 lede); UDM (0,49%/3 lede); Rise Mzanzi (0,42%/2 lede); PAC (0,23%/1 lid); AL Jama-ah (0,2%/2 lede); en GOOD (0,18%/ 1 lid) (PMG:2024:1-2).22 Die grondslag van samewerking is gelê in 'n Verklaring van Voorneme. Kernbrandpunte van die ooreenkoms (in navolging van die Grondwet asook die Handves van Menseregte) het ingesluit:

    • Inklusiewe groei en werkskepping;

    • die vermindering van armoede en die aanpak van hoë lewenskoste, en

    • die bou en ontwikkeling van 'n sterk en etiese staat met 'n ontwikkelingsgerigtheid en -grondslag.

    (The GNU's Founding Statement of Intent - ANC/DA, 2024:1-3).

    Dit was reeds vroeg duidelik dat fundamentele verskille tussen partye (veral die twee grootste vennote, naamlik die DA en die ANC) bestaan oor kwessies soos omstrede wetgewing soos die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA-Onderwyswet); Nasionale Gesondheidsversekering; die sogenaamde Onteieningswet, en voorgestelde wetgewing ten opsigte van Waterbeheer); buitelandse beleid op talle vlakke en ten opsigte van talle kwessies; bestaande en reeds gevestigde wetgewing soos Swart Ekonomiese Bemagtiging en Ekwiteite; transformasie en kader ontplooiings; die toepassing van die bevindinge van die Zondo-kommissie en ander verslae wat korrupsie en ander wanpraktyke impliseer, asook ekonomiese en maatskaplike prioriteite in die algemeen, en in besonder hoe hierdie sake aangepak behoort te word in belang van groei en werkskepping. Artikel 19 van die Verklaring van Voorneme bepaal dat konsensus gesoek moet word en dat 60% steun as genoegsame konsensus (Artikel 19,3) geag sal word.

    Die president se onlangse ondertekening van beide die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) sowel as die Onteieningswet het tans 'n krisis binne die RNE veroorsaak, met president Ramaphosa wat toenemend onder druk van radikale groeperinge binne sy eie geledere verkeer (lees die Gautengse ANC, SAKP, Cosatu en andere), met boonop 'n plaaslike verkiesing wat wink in 2026. Tans wankel die RNE op 'n afgrond; bestaan daar geen sterk leierskap nie, en is ekonomiese, maatskaplike en internasionale kwessies besig om eerder te versleg.. Hoewel 'n RNE waarskynlik die beste scenario binne die huidige omgewing is (ten minste beter as voortgesette konflik en stryd), kan Suid-Afrika ook nie die onstabiliteit en besluiteloosheid van die huidige situasie verder hanteer nie. Soos ook vroeër reeds bewys, definieer koalisiepolitiek nuwe spelreëls, wat groot aanpassing verg vir beide regerings- en opposisiegroepe - sommige voormalige opponente met diep ideologiese verskille.

    Koalisiepolitiek en veranderende politieke spelreëls

    Koalisies is nie heeltemal onbekend binne die Suid-Afrikaanse demokratiese bestel nie. Sedert 2016 en veral na die 2021-plaaslike verkiesings het talle koalisies, veral in die sogenaamde metropole, tot stand gekom. Met die 2024-nasionale en provinsiale verkiesings is koalisiepo-litiek ook op nasionale vlak (die RNE) en in twee provinsies, Gauteng en KZN, tot stand gebring. In die verlede (op enkele uitsonderings na) was gewone demokratiese meerderhede nodig om politieke besluite te neem. ANC-eenparty dominansie was aan die orde, maar hierdie scenario het sedertdien drastics vcrandcr, met nuwe politieke spelreëls wat gevolg moet word. Koalisiepolitiek gaan myns insiens 'n permanente deel van die politieke landskap in Suid-Afrika word, en kan volgens aanduidings en tendense selfs nog meer uitgebreid voorkom in die toekoms.23

    Koalisiepolitiek word geassosieer met konstitusionele demokrasie waarin gereelde en vrye verkiesings gehou word en waarin geen enkele party na afloop van die verkiesing 'n volstrekte meerderheid verwerf nie. Dit veronderstel samewerking tussen partye op die een of ander wyse, en daar moet institusioneel hieraan beslag gegee word. Met koalisiepolitiek, anders as eenparty-dominante partystelsels, bestaan die noodsaak om soms talle partye bymekaar te bring ingevolge die een of ander vorm van ooreenkoms/handves/verklaring van voorneme waarvolgens daar dan regeer sal word. Die suksesvolle funksionering van koalisiepolitiek appelleer sterk op 'n pakket van waardes onderliggend aan 'n demokratiese bedeling wat die volgroeide aard van die demokrasie (al dan nie) aantoon. Hierdie waardes sluit in grondwetlike regering; verantwoordbare en deelnemende regering; die handhawing van die oppergesag van die reg; politieke en administratiewe aanspreeklikheid, asook politieke verdraagsaamheid. Die afwesigheid hiervan, soos onder meer in Suid-Afrika ervaar word, het reeds gelei tot talle mislukte eksperimente betreffende koalisiepolitiek en het saamgeval met uiters negatiewe politieke en regeerkundige gevolge in verskeie omgewings.24

    Suksesvolle koalisiepolitiek is afhanklik van faktore soos betreklike politieke stabiliteit binne die staatsbestel; die gekonsolideerdheid van demokratiese waardes en praktyke; sosiale samehangendheid binne die samelewing of komponent ter sprake; elite-inkoop en politieke leierskap wat hiermee gepaard gaan, asook suksesvol funksionerende stelsels om aan algemene eise en verwagtinge te voldoen (Duvenhage, 2022:187-214; 2023:99-121).

    Waar koalisiepolitiek ter sprake is, is 'n spesifieke etos en waardestelsel as onderbou vir die bedryf van politiek noodsaaklik. Dit sluit verdraagsaamheid in ten opsigte van ander politieke standpunte/oriëntasies; 'n ingesteldheid tot onderhandeling en gesprek in die algemeen; 'n "winner-lose-it-all"-beskouing (die belangrikheid van ooreenkomste en die handhawing daarvan), en elite-konsensus as 'n grondslag vir wedersydse vertroue. Talle van hierdie aspekte is bloot beperk ontwikkel en toegepas. Vandaar die talle uitdagings waarmee koalisiepolitiek in hedendaagse Suid-Afrika gekonfronteer word (vergelyk Booysen, 2021).

    Binne die RNE ('n uitgebreide koalisie van partye oor die politieke spektrum heen) bestaan daar tans verskeie groot uitdagings wat nie net konflik genereer nie, maar selfs die voortbestaan van die instelling in gevaar stel. Die aanvaarding en toepassing van omstrede wetgewing (BELA; Onteiening; NGV en andere); optrede en handeling teen korrupsie en staatskaping (of telkens die afwesigheid daarvan), en internasionale kwessies (Israel voor die Internasionale Strafhof; politieke belyning met Rusland en Iran ten opsigte van internasionale konflikte; standpunte vir en teen Donald Trump) is bloot enkele van die belangrike kwessies waaroor daar tans nie konsensus bestaan nie, wat vererger word deur die ANC wat op dieselfde wyse wil regeer as tydens die vorige administrasie, waar 'n volstrekte meerderheid aan die orde was.

    Die onvermoë om hierdie faktore suksesvol aan te pak en die vermoë om die politiek volgens nuwe spelreëls te hanteer kan in die uiterste geval tot die val van die RNE en ook provinsiale regerings in veral KZN en Gauteng lei - 'n praktyk wat welbekend is op plaaslike regeringsvlak in verskeie omgewings.25 Die bemeestering asook suksesvolle toepassing van nuwe spelreëls kan die sukses (al dan nie) van koalisiepolitiek tydens die sewende administrasie op beide nasionale en sekere provinsiale vlakke bepaal.

    Die hergroeperings van die politieke spektrum

    Verlaagde steunvlakke vir die ANC, die verskyning van nuwe politieke akteurs en die onderprestering van andere het politieke magsbasisse herdefinieer en die hergroeperings van die politieke spektrum genoodsaak. Na afloop van die 2019-nasionale en provinsiale verkiesings en die 2021-plaaslike verkiesing het hierdie tendens momentum gekry met die 2024-nasionale en provinsiale verkiesings en die totstandkoming van die RNE, wat 'n nuwe tydvak ingelui het. Die noodsaak van politieke samewerking (alliansiesluiting voor verkiesings en koalisievorming na afloop van verkiesings) het uitdrukking gegee aan 'n spektrum van hergroepering. Kenmerke van die hergroepering sluit onder meer in:

    • Konteksgebondenheid van samewerking tussen partye (met ander woorde die aard van samewerking verskil van een konteks/omgewing na die ander). Hierdie aspek bring politieke inkonsekwentheid en konflikterende samehange na vore.

    • In samehang met die voorafgaande punte is asimmetriese koalisieformasies aan die orde. Daarvolgens werk bepaalde partye op een vlak en binne een konteks saam, net om mekaar weer in ander kontekste te opponeer. Individuele belange ten koste van groter partybelange is dikwels hier aan die orde en was waarneembaar by verskeie partye, inbegrepe die EFF, die IVP, Action South Africa, en VF Plus.26

    • Individue wat een party verlaat om by 'n ander party aan te sluit, met dikwels persoon-like voordeel in die oog, of sodanige besluit word gemotiveer deur interne partykonflik en/of die herposisionering van politieke partye.

    • Na afloop van die 2024-verkiesing het die MK, wat links van die stelsel is met 'n sterk anti-stelseloriëntasie, die rol van amptelike opposisie oorgeneem, met die voormalige formele opposisie (die DA met 'n sentrum-konserwatiewe oriëntasie) wat nou deel van die RNE geword het.

    • Algemene rolverandering van ander partye (benewens die DA) wat tans deel van die RNE is. Hierdie partye is nog besig om hul plek in 'n nuwe omgewing te vind.

    • Die formalisering van 'n sogenaamde Progressiewe Alliansie (links van sentrum) wat ten minste in naam en/of per ooreenkoms bestaan. Afhangend van die dinamika wat vorentoe binne die ANC kan uitspeel (lees die opvolgstryd; interne konflikte; die sukses of mislukking van die RNE; die rol van die MK, asook die suksesse/ mislukkings van die RNE in die opbou na die 2026-verkiesing), kan dit 'n groot impak hê op die toekoms van die ANC en partye en groeperings links van die sentrum.

    Hergroeperings en die herplasing van partye op die politieke spektrum is meestal 'n proses van onstabiliteit wat nog nie volledig voltrek het, of tot die punt van 'n nuwe ekwilibrium beweeg het nie. Hiervoor is die RNE te onvoorspelbaar, leierskapskwessies binne die ANC te gekompliseerd, die impak van die MK op onder meer die ANC te dinamies, en bestaan daar te veel onsekerheid oor wie gaan onder watter vlag aan die 2026-plaaslike verkiesing deelneem.27

    Gevolgtrekkings en toekomsperspektiewe

    Veranderinge in die makro-internasionale omgewing, insluitend eskalerende konflikte (Rusland vs. Oekraïne; die konflikte in die Midde-Ooste en andere), met selfs die potensiaal vir 'n wêreldkonflik; ekonomiese en handelsoorloë; verskuiwende magsbasisse; nuwe tegnologieë; veranderde demografiese patrone, en demokratiese verkiesings met nuwe leierskap en ideologiese oriëntasies, gee tans beslag aan 'n nuwe wêreldorde met eiesoortige en nuwe uitdagings. Binne hierdie veranderende omgewing het Suid-Afrika tydens 2024 'n water-skeidingsverkiesing ervaar, wat die staat op 'n nuwe politieke trajek geplaas het te midde van 'n plaaslike omgewing met groterwordende politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings. Hierdie omgewing is 'n omgewing van groot onsekerheid, soos beskryf in die bekende woorde van Antonio Gramsci: "The old world is dying and the new world struggles to be born; now is the time of monsters". Daar kan met reg gevra word wat die toekoms met verwysing na veral die termyn van die sewende administrasie 2024-2029 vir Suid-Afrika en die politieke bestel hier mag inhou, wat gedoen moet word, en watter risiko's en uitdagings in hierdie verband bestaan.

    Gegewe die groepering van politieke kragte na afloop van die 2024-verkiesing is 'n stabiele en werkende RNE kernbelangrik vir algemene politieke stabiliteit in die land en die vermoë om bindende en gesaghebbende besluite te neem wat nie net groterwordende uitdagings kan aanpak nie, maar ook leiding kan neem en rigting kan aandui in die onsekere tye soos wat hier aangetoon word. 'n Onstabiele RNE, soos tans aan die orde is (gegewe die ondertekening van die BELA-wet asook die Onteieningswet sonder behoorlike konsultasie met ander veral leidende partye), is 'n resep vir onstabiliteit. Anders as om te regeer soos wat die geval was tydens die sesde administrasie (toe die ANC nasionaal 'n volstrekte meerderheid gehad het) sal die werklikheid van nuwe spelreëls, inbegrepe konsultasie, erkenning van mekaar se bona fides en die onttrekking van partye soos die DA, VF Plus en moontlik andere (met verrekening dat die MK en EFF steeds buite die groepering bly), die RNE in 'n krisis dompel deurdat volstrekte meerderhede vir noodsaaklike besluitneming (lees begroting ens.) nie voltrek sal kan word nie. Dit kan 'n regeringskrisis in die hand werk en lei tot konflik eerder as samewerking op die pad vorentoe. Daar bestaan tans 'n aantal risiko's wat die RNE sal moet bestuur ten einde suksesvol te wees, indien dit wel moontlik is:

    • Indien Ramaphosa van binne, van buite of in kombinasie verwyder sou word, beteken dit mees waarskynlik die einde van die RNE in sy huidige formaat. Dit is daarom belangrik dat sy posisie, hoewel soms uiters kwesbaar, in hierdie opsig beskerm moet word. Hierdie perspektief is wel net geldig tot die mate waartoe Ramaphosa die nodige leierskap kan voorsien in hierdie moeilike en uitdagende tye - iets wat tot dusver nie aan verwagtinge voldoen het nie.

    • Indien die RNE tot 'n val sou kom, is 'n minderheidsregering en selfs 'n vervroegde verkiesing moontlikhede. Beide sal myns insiens patrone van politieke onstabiliteit laat toeneem.

    • Die onttrekking van bogenoemde partye (DA,VF Plus en andere) aan die RNE kan ook 'n oorname van progressiewe kragte binne die ANC en samewerking met die MKP en EFF bevorder. Dit is tans meer onwaarskynlik, veral omdat die MKP sal aandring op die verwydering van Ramaphosa voordat samewerking kan plaasvind.

    • Die ANC se voortsetting om die Nasionaal Demokratiese Rewolusie-idee en die prioriteite wat hiermee geassosieer word, ten koste van samewerking eensydig uit te voer, sal myns insiens uiteindelik lei tot die onttrekking van partye soos die DA en die VF Plus.

    • Asimmetriese opposisie (soos voorheen bespreek) hou ook groot risiko's in vir stabiele koalisies op alle vlakke. Myns insiens word stukke wetgewing benodig om koalisies en ook alliansies te reguleer, om groter orde en stabiliteit binne hierdie omgewing te verseker. Dit sluit moontlike registrasie by die OVK in, indien dit sou kon help om stabiliteit, noodsaaklik vir goeie regeerkundige praktyke, te kan help verseker.

    • Suksesvolle regering ingevolge die hantering van belangrike kwessies, waaronder ekonomiese groei, maatskaplike uitdagings, wet-en-orde-aangeleenthede; die suksesvolle navigering van internasionale verhoudinge, en ander uitstaande sake is krities belangrik. In samehang met laasgenoemde sal die prestasie van RNE-vennote tydens die komende 2026-verkiesing uiters belangrik wees vir die stabiliteit en voortbestaan van hierdie instelling. Trajekte voorspel op hierdie tydstip min positief vir veral die ANC.

    Die wyse hoe bogenoemde uitspeel of voltrek word, kan bepaal of Suid-Afrika 'n slegte of goeie scenario tydens die sewende administrasie gaan hê. Die vermoë om suksesvolle fundamentele hervorming in hierdie tyd ooreenkomstig die Nasionale Forum-idee aan te bring, kan van kernbelang wees.

    Dit is van die uiterste belang dat die RNE nie net met homself gemoeid bly nie, maar daadwerklik die land staatkundig, polities en ook regeerkundig vorentoe neem in 'n tyd van groot onsekerheid. Myns insiens is dit wat nodig is, die fundamentele hervorming van die oorhoofse politieke, ekonomiese en maatskaplike stelsel, met prioriteite wat insluit:

    • Staatsbou en nasiebou-inisiatiewe in die breedste sin van die woord.

    • Die heropbou en vernuwing van infrastruktuur en instellings gemoeid met dienslewering.

    • Die fundamentele hersiening van transformasie (en die veronderstellings waarop dit gebou is) ingevolge geïntegreerde ontwikkeling (polities, ekonomies en maatskaplik).

    • 'n Beleidsomgewing wat bevorderlik is vir ekonomiese groei en ontwikkeling, en waarin veral van die oormatige regulatiewe beheer ontslae geraak word.

    • 'n Belastingraamwerk wat inklusief en breër is, waarin koerse van so 'n aard is dat dit investering sal bevorder.

    • Internasionale betrekkinge en vennootskappe wat Suid-Afrika se belang polities, ekonomies en maatskaplik kan bevorder.28

    • Die herstel van wet en orde en die heropbou van instellings wat op talle vlakke hieraan uitdrukking moet gee. (Dit sluit in die stryd teen korrupsie en ander wanpraktyke, waaronder georganiseerde misdaad en sluipmoorde.)

    Met Suid-Afrika op 'n nuwe trajek, met nuwe en selfs meer gekompliseerde uitdagings op talle vlakke, sal die RNE nie net 'n nuwe grondslag moet lê nie, maar daadwerklik hierop moet bou. Die politieke kantelpunt, waarna vroeër verwys is, het homself nog nie volledig voltrek nie en in samehang met van die grootste internasionale politieke grondverskuiwings sedert 1991 (met die val van die Berlynse muur) kan talle mure gebou word en skanse afgebreek word. Dit is 'n ope vraag of Suid-Afrika met die RNE (soos sake tans staan) gereed is vir die uitdagings op die pad vorentoe.

    BIBLIOGRAFIE

    Ontvang: 2025-08-06
    Goedgekeur: 2026-02-03
    Gepubliseer: Maart 2026

    André Duvenhage is 'n navorsingsprofessor aan die NWU en 'n politieke wetenskaplike, en spesialiseer in die veld van politieke verandering met as toepassing die Suid-Afrikaanse verband. Hy is 'n bekende in media- en joernalistieke kringe en word dikwels as politieke kommentator gehoor. Hy is reeds meer as 35 jaar verbonde aan akademiese instellings soos die UVS en die NWU. Sy groot belangstelling is die toekoms en hy werk ook in die veld van scenario-ontledings.
    André Duvenhage is a research Professor at the NWU and a political scientist, and specialises in the field of political change as applied to the South African context. He is well-known in media and journalistic circles, and is often heard as political commentator. He has been attached for longer than 35 years to academic institutions like the UFS and the NWU. His major interest is the future and he also works in the field of scenario analysis.
    1 Vergelyk Duvenhage (2020a:241-268) se artikel Suid-Afrika by 'n kantelpunt: 'n slegte-saak-scenario?, en Suid-Afrika in 'n smeltkroes van verandering: eietydse en toekomsperspektiewe (2020b:137-162) vir die agtergrond en perspektief ten opsigte van die genoemde kantelpunt en die uitspeel daarvan.
    2 Na hierdie aspekte word daar net baie oorsigtelik verwys ter wille van noodsaaklike agtergrond. Vir meer volledige besonderhede in hierdie verband kan Duvenhage (2020a:241-268; 2020b:137-162; 2023a:116-148; 2023c:1-32) en Johnson (2019a; 2019b; 2020a; 2020b; 2020c, 2021; 2023) geraadpleeg word.
    3 Vir meer besonderhede oor die gekompliseerde en gedetailleerde aard van konflik en geweld, asook die verval van orde en stabiliteit in Suid-Afrika, kan Bloomberg (2020), Daily Investor (2022), Duvenhage (2023c), Eunomix (2020), Harding (2021), Vhumbunu (2021), Majozi (2023), en Malan (2023) geraadpleeg word.
    4 Hier word spesifiek verwys na pogings om artikel 25 van die Grondwet te wysig, Nasionale Gesondheidsversekering, die BELA-wet en die beoogde wetlike beheer en regulering van water.
    5 Suid-Afrika word ook toenemend (ten minste vanuit die Weste en in besonder die VSA) beskou as 'n staat wat met terreurorganisasies saamwerk en hulle finansier, of terreurgelde binne sy finansiële stelsels het, en is ook onlangs op die sogenaamde grys lys geplaas (Burger, 2023).
    6 Vergelyk Duvenhage (2023b) vir besonderhede oor hierdie scenario's en die uitkomste wat daarvolgens in die vooruitsig gestel is.
    7 Praetoriaanse politiek verwys na die intervensie van veiligheidsinstellings op die terrein van die politiek om sodoende orde, stabiliteit en sekerheid te bewerkstellig (Huntington, 1968:237-261).
    8 Die werk van Malcolm Gladwell, The tipping point: How little things can make a big difference (2000) het die teoretiese grondslag vir hierdie akademiese perspektief gelê . 'n Kantelpunt verwys na 'n kleiner krag of gebeurtenis (of kombinasies van faktore) wat 'n reeds onstabiele situasie verby 'n drempelpunt neem, met meestal verreikende verandering en onvoorspelbaarheid as uitkoms. In sy artikel Foreseeing the unforeseeable (2013:20-25) wys Andrew Nathan daarop dat dit baie moeilik is om kantelpunte by voorbaat te antisipeer. Hierdie argument is op Suid-Afrika toegepas (vergelyk Duvenhage,2020a).
    9 Heywood (2002:264) beskryf koalisies as "[...] a grouping of actors brought together either through the perception of a common threat, or through the recognition that their goals cannot be achieved by working seperately. " Soms word hierna in politiek verwys as "the partnership of unequals". Waar alliansies geassosieer word met samewerking voor verkiesings, word koalisies gekenmerk deur samewerking ná afloop van verkiesings (Kadima, 2006).
    10 Myns insiens het die gewysigde kieswet en die implementering van die kiesstelsel in 'n gewysigde vorm nie 'n gelyke speelveld as uitkoms nie. Vorentoe kan verdere wysigings aan die kieswet nie uitgesluit word nie.
    11 Raadpleeg ook Duvenhage (2024a:1-30) se aanbieding Suid-Afrika se belangrikste verkiesing sedert 1994 voor 'n byeenkoms van die SAAWK te Potchefstroom vir meer besonderhede oor die meningspeilings.
    12 As deelnemer aan talle akademiese ontledings, gesprekke en diskoerse ten opsigte van die 2024-verkiesing, kon waargeeem word dat baie min akademici gereken het dat die ANC onder 50% steun sou kry. Met uitsondering van enkele meningspeilings (en moontlik sommige analiste) was die nasionale uitslag van 40,18% 'n totale verrassing en was skok en verbasing aan die orde van die dag toe die uitslae bekend gemaak is.
    13 Vroeër is net twee stembriewe gebruik, maar die wysiging aan die kieswet, soos vroeër aangedui waarvolgens ruimte gemaak moes word vir onafhanklike kandidate, het 'n derde stembrief genoodsaak.
    14 Met die voltooiing van die 2024-verkiesing (voordat die uitslag bekendgemaak is) is daar reeds 579 klagtes geregistreer. Hierdie klagtes was meestal nie substantief van aard nie, en die verkiesing is uiteindelik vry en regverdig verklaar (SABC:2024:1-7). Dit was die MK wat uiters ontevrede was, maar hulle was onsuksesvol om die uitslag se geldigheid juridies te kon betwis.
    15 Kritiek is wel uitgespreek ten opsigte van die partydigheid van amptenare, soos in die genoemde verslag weerspieël (Roberts, Muller & Struwig,2024:1-18).
    16 Sien Bylaag B aan die einde van die teks.
    17 Verskeie voorbeelde van RNE's word histories aangetref. 'n RNE verwys na 'n uitgebreide koalisieregering wat tydens 'n nasionale krisis of na afloop van byvoorbeeld 'n oorlog eenheid en stabiliteit ingevolge uitgebreide samewerking van partye binne die groter politieke spektrum wil bevorder en bewerkstellig. In essensie gaan dit hier oor uitgebreide samewerking met as uitkoms gesamentlike besluitneming en konsensus.
    18 Die grondwet van die MK beklemtoon sy radikale en anti-stelsel oriëntasie deur die verwerping van die grondwet en die beginsels waarop die bestaande regsorde gebou is; die vereniging van alle progressiewe kragte nasionaal en internasionaal om doelwitte te bereik; die radikale verdeling van natuurlike en ekonomiese hulpbronne vir almal; demokratiese sentralisme soos geassosieer met kommunistiese state, en gedekoloniseerde onderwys - om na enkele belangrike aspekte te verwys. Lesers word verwys na die Grondwet van die MK (2024:1-62).
    19 Lae vlakke van registrasie word veral by jeuggroepe aangetref. Vir 'n gedetailleerde ontleding van patrone en tendense ten opsigte van apatie onder kiesers kan Mbete se Making sense of voter turnout in the 2024 South African National and Provincial elections (2024:117-149) geraadpleeg word.
    20 Die verkiesing wat in Rusland plaasgevind het, was nie demokraties van aard nie. In beide Duitsland en Kanada het die bestaande regerings onlangs tot 'n val gekom en is 'n verkiesing in eersgenoemde vir Februarie 2025 geskeduleer, met laasgenoemde wat voor einde Oktober 2025 na die stembus moet gaan. In beide gevalle is die kanse goed dat konserwatiewe en regsgesindes die bewinde in die onderskeie state kan oorneem, wat deel vorm van 'n gevestigde patroon in hierdie verband in Westerse state met inbegrip van die VSA, Nederland, Oostenryk en Frankryk, met Engeland 'n effense uitsondering.
    21 Dit is nogal ironies dat juis Jacob Zuma se MK die grootste enkele rede was vir die groot verlies aan steun vir die regerende ANC.
    22 Sonder die steun van die DA en die VF-Plus is die totaal slegs 193 lede in die Nasionale Vergadering, wat nie 'n volstrekte meerderheid van 200 plus 1 is nie.
    23 Hierdie perspektief het as grondslag die waarskynlike uitkomste van die 2026-plaaslike verkiesing asook die 2029-nasionale en provinsiale verkiesing, inaggenome bestaande tendense en patrone, histories vasgelê.
    24 Raadpleeg Duvenhage (2023:99-121) se artikel Koalisiepolitiek: die kuns van die (on)moontlike, vir besonderhede oor die konsep, sy toepassing en uitdagings hiervan binne die Suid-Afrikaanse konteks.
    25 Die DA het na die ondertekening van die omstrede Onteieningswet Klousule 19,3 van die Verklaring van Voorneme waarop die RNE tot stand gekom het, geaktiveer waarvolgens 'n 60% inkoop van deelnemende partye as grondslag vir besluitneming moet dien. Dit dui op die kwesbaarheid van die RNE op hierdie oomblik, veral en indien die DA, VF-Plus en moontlik andere sou besluit om te onttrek of teen "RNE-besluite" in die Nasionale Vergadering te stem.
    26 Optrede is onlangs geloods teen Francois du Rand van die VF-Plus wat die ANC ondersteun het in die verwydering van 'n DA-burgermeester te Swellendam. Laasgenoemde het 'n mosie van die ANC om die DA-burgermeester te verwyder ondersteun, en implisiet met eersgenoemde party (die ANC) belyn (Groenewald, 2025 se verklaring in hierdie verband).
    27 Die SAKP het onlangs aangedui dat hulle afsonderlik van die ANC aan die 2026-plaaslike verkiesings kan deelneem.
    28 Die huidige konflik met die Trump-administrasie in die VSA is geensins in Suid-Afrika se belang nie.

    Supplementary Data

    The supplementary data is available in pdf: [Supplementary data]

    Supplementary data

    Publication Dates

    • Publication in this collection
      09 June 2026
    • Date of issue

    History

    • Received
      06 Aug 2025
    • Accepted
      03 Feb 2026
    location_on
    Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
    rss_feed Acompañe los números de esta revista en su lector de RSS
    Ir para arriba