Open-access Afrikaans het wesenlik as amptelike taal verval

Afrikaans has essentially lapsed as an official language

Abstract

Ofskoon Afrikaans op 8 Mei 2025 honderd jaar een van Suid-Afrika se amptelike tale was, het dit, gemeet aan sy daadwerklik amptelike gebruik sedert die inwerkingtreding van die huidige grondwetlike bedeling in 1994, maar veral sedert die 1996-grondwet van krag geword het, in beduidende mate as amptelike taal verval. 'n Oorweging van die vyf belangrikste gebiede van die amptelike gebruik van 'n taal bring telkens aan die lig dat Afrikaans sy amptelike gebruik grootliks prysgegee het. Dit is naamlik die aanwending van taal vir die doel van (1) (nasionale) wetgewing; (2) die amptelike notulering van hofverrigtinge; (3) staats-administrasie; (4) polisiëring; en (5) openbare onderwys. Die amptelike gebruik van Afrikaans en die ander amptelike tale het geswig voor die voorkeurgebruik van Engels as gevolg waarvan Engels wesenlik Suid-Afrika se enigste daadwerklik amptelike taal geword het. Die deurslaggewende rede hiervoor is die huidige regering se politiek van transformatisme, veral aangedryf deur die beginsel van verteenwoordigendheid. Hierdie toedrag van sake is juridies moontlik gemaak deur die treffend diskresionêre aard van die ampteliketaalbepalings vervat in artikel 6 van die Grondwet. Die bepalings word transformatief vertolk en het tot 'n wesenlik eentalig Engelse ampteliketaalbedeling gelei. Hierdie verskynsel strook met wat elders in Sub-Sahara-Afrika gebeur het waar die eertydse postkoloniale administrasies telkens voorkeur gegee het aan die koloniale tale - Engels, Frans en Portugees - bo die Afrikatale.

amptelike tale; ampteliketaalgebruik; ampteliketaalregimes; formele grondwetlike wysigings; grondwetlike bepalings; hofverrigtinge; nasionale wetgewing; openbare onderwys; polisiëring; staatsadministrasie; transformatisme


Abstract

The year 2025 marks a centenary of Afrikaans as one of South Africa's official languages. From 2025 to 1994, it was one of the then two official languages; since 1994, one of eleven, and following the addition of sign language in 2023, one of twelve. However, there is scant reason for any cheerful festivities for Afrikaans's "hundredth birthday". The mere fact that section 6(1) of the present (1996) Constitution confirms the official status of Afrikaans should, for two reasons, not necessarily inspire elation. First, official status is in itself often of no moment; and secondly, constitutional provisions may, following the way they are interpreted and applied, simply lapse and/or be replaced by another official language regime. What emerges from these scenarios is that the relevant constitutional provisions exist only in name. Yet, in concrete terms, they lapse, being replaced by a new regime. This occurs notwithstanding there being no formal constitutional amendment in pursuance of the amendment provisions of the Constitution, and notwithstanding the Constitution's swaggering claim of its own supremacy. We may describe this as lapsed and substituting the Constitution. It is precisely this kind of scenario that has played out in relation to Afrikaans as an official language in the present constitutional dispensation (since 1994). In the five most important fields of official language use, it has practically ceased to be an official language. These are the fields of (1) language use for national legislation; (2) language of record in court proceedings; (3) state administration; (4) policing; and (5) public education. Hence, although Afrikaans has nominally, under section 6 of the Constitution, retained its official status, in practical terms it has deteriorated to such an extent that it is not genuinely official anymore. If, in spite of this, it is nevertheless maintained that Afrikaans is an official language, it must be conceded that official status means no more than a symbolic proclamation. The juridical foundation for this course of events is the discretionary nature of the official language provisions, conferring on organs of the state responsible for implementing these provisions inordinately broad leeway to interpret the provisions as they deem fit, more specifically, to conduct the interpretation and implementation in accordance with their ideological persuasions. The ideology driving the interpretation is that of transformationism (the national democratic revolution) perused by the post-1994 governing elite. This ideology emphatically favours the inculcation of one homogeneous statist culture, which favours a single previous colonial language - English in the case of South Africa - to the detriment of the other languages. For essentially similar reasons, developments elsewhere in post-colonial Sub-Saharan Africa have been strikingly similar. Most African states, like South Africa, are artificial creations of the erstwhile European colonial powers, and their boundaries resulted largely from the policies of these powers. Hence, in Africa, nations existed only in a territorial sense and not culturally or linguistically. Within these artificially created states, mostly devoid of the essential commonalities of nationhood, African governments must devise an official language policy. In the face of menacing centrifugal forces of inter-tribal, ethnic and accompanying linguistic tensions that could endanger the existence of African states, governments eschew the African languages that could unleash inter-communal strife. Instead, African governments opt for a tribally "neutral" European link-language which, in the face of the absence of commonalities, serves as a neutral "nation builder". Moreover, English provided the political vocabulary for resisting colonial domination and paving the way to political independence, something that the African languages were regarded as incapable of. English (or any of the other colonial languages) was a prerequisite for leadership in Africa's national movements. The elites of these movements are also basically English-speaking. This also holds true for the African National Congress (ANC) in South Africa, which is basically an English-speaking movement, or at least a movement led by an English-speaking elite. In this regard, there is a fundamental difference between national political consciousness in Africa and Europe. European national consciousness is essentially linguistic. The national consciousness of many of the communities was kindled by awareness of the national language in question, its perceived splendour and its expressive abilities, and the accompanying development of the literature of the various languages. The same holds true for Afrikaner nationalism. By contrast, African nationalism does not have a linguistic basis. They are, rather, anticolonial. They dare not emphasise any particular African language and its development because that would place the state in danger of being split up along communal lines. Regarding language use, the foremost trend in education among black parents and pupils in South Africa has been to embrace English from the earliest possible stage. Even though educationists are unanimous that children perform best when instructed in the mother tongue, black parents are equally unanimous in rejecting that opinion. The trend elsewhere in previous British dominions in Africa is the same. If no African lingua franca is available, the only suitable course to take is a "straight-for-English" approach, especially if parents see English as a prerequisite for their children's socioeconomic advancement and press the school authorities to start education with English as the medium of instruction as early as possible. After 1994, when the African National Congress assumed power in South Africa, the trend in the education of African children slanted even more strongly towards English. These forces in favour of English are redoubtable, especially if the official language clause in the Constitution is discretionary, facilitating the drive towards a single-medium English dispensation.

official languages; official language use; official language regimes formal constitutional amendments; constitutional provisions; court proceedings; national legislation; public education; policing; state administration; transformationism


1. Inleiding

Suid-Afrika - die Suid-Afrikaanse staat soos dit paslik genoem behoort te word om dit van Suid-Afrika as landstreek te onderskei - het met die formele aanvang van die grondwetlike oorgang in 1994 kragtens die 1993-Grondwet (hierna ook die tussentydse Grondwet genoem) elf amptelike tale gekry in plaas van die voorafgaande twee (artikel 3 van die tussentydse Grondwet). Dit is in artikel 6 van die huidige (1996-) Grondwet bevestig. Die 18de wysiging van die 1996-Grondwet, wat in 2023 in werking getree het, het die aantal amptelike tale tot twaalf laat aangroei deur aan Suid-Afrikaanse gebaretaal ook amptelike status te verleen.

Die twee amptelike tale (eers Engels en Nederlands en daarna Engels en Afrikaans) wat van krag was vanaf Uniewording in 1910 tot met die inwerkingtreding van die 1993-grond-wet, het altyd gelyke status geniet en alle amptelike staatsbedrywighede is wesenlik in gelyke mate in Engels en Afrikaans uitgevoer.

Artikel 137 van die Zuid-Afrikawet1 het vereis dat alle rekords, joernale en verrigtinge van die parlement in albei die amptelike tale gehou moes word en dat alle wetsontwerpe, wette en kennisgewings van die regering wat van algemene belang vir die publiek is in albei die amptelike tale moes wees. Hierdie bepaling is net so in artikel 108 van die 1961-Grondwet2opgeneem en daarna weer in die 1983-Grondwet3 wat tot die aanvang van die grondwetlike oorgang in 1994 van krag was (Malan 2011:382-384).

Hierdie bepalings is getrou nagekom en het verseker dat die Suid-Afrikaanse staat op alle terreine op die grondslag van daadwerklik gelyke behandeling van die twee amptelike tale gefunksioneer het. Die amptelike status van die tale het dus 'n daadwerklik konkrete uitwerking gehad. Dit was allermins tot blote simboliek beperk.

Met die aanvang van die grondwetlike oorgang in 1994, wat met die tussentydse Grondwet van 1993 ingelui is, het die eertydse bedeling van twee plek gemaak vir elf amptelike tale. Uiteraard kon al die tale nie volkome gelyk behandel word nie. 'n Nuwe benadering oor die behandeling van die amptelike tale moes gevind word. Wat veral op Afrikaans betrekking gehad het, was die beginsel van geen inkorting nie. Daarvolgens mag die gebruik van Afrikaans (en Engels) vir solank die tussentydse grondwet van krag was (naamlik tot in Februarie 1997), nie ingekort word nie.4

Artikel 6 van die huidige Grondwet wat op 4 Februarie 1997 in werking getree het, het die voorafgaande elf amptelike tale behou, maar het met die beginsel van nie-inkorting weggedoen.

Boonop is die mees onderskeidende kenmerk van artikel 6 dat dit wesenlik van diskresionêre aard is. Dit is belangrik dat dit beklemtoon word. Anders as al die voorafgaande grondwetlike ampteliketaalbedelings bevat dit geen onomwonde voorskrifte oor hoe die staat die amptelike tale moet behandel nie. Artikels 6(1) tot 6(4) van die huidige Grondwet, gekenmerk deur vae en wyd-geformuleerde bepalings, het die uitwerking dat staatsorgane wat met die amptelike tale gemoeid is nou oor 'n wye diskresie beskik oor hoe hulle die amptelike tale kan behandel. Tekenend hiervan is artikel 6(4) wat onder andere die besonder breed geformuleerde en niksseggende bepaling bevat dat die amptelike tale "gelykheid van aansien" ("parity of esteem") moet geniet en billik ("equitable") behandel moet word (Malan 2011:390-393).5

Naas artikel 6 is daar ook ander bepalings wat op die gebruik van die amptelike tale betrekking het en waarna hier onder verwys sal word. Artikel 9(3) verbied onbillike diskriminasie op grond van taal en etlike ander gronde; artikel 29(2) bevat bepalings oor taalgebruik in die onderwys; en artikel 35(3)(k) oor taalgebruik in die konteks van die strafhof.

Wat die diskresionêre aard van artikel 6 betref, behoort die fokus te wees op hoe diskresie uitgeoefen word. Dit is ten slotte bepalend vir wat die bepalings konkreet beteken.

Juis die wyse waarop die diskresie sedertdien uitgeoefen is, het veroorsaak dat die amptelike gebruik van Afrikaans sedert 1996 grootliks verdwyn het. In weerwil van die diskresionêre aard van die taalbepalings was etlike spesifiek Afrikaanse kommentators heel optimisties oor die vooruitsigte vir amptelike Afrikaans in die post-1994-bedeling (Malan 2011:387-400). Die skrywer André P. Brink was byvoorbeeld nie besorg oor Afrikaans nie, aangesien die regerende ANC volgens sy ervaring "'n sagte plekkie vir Afrikaans" gehad het (Steyn 1995:117), en toe daar finaal op artikel 6 van die huidige grondwet ooreengekom is, het Fritz Kok, destydse besturende direkteur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), en Henno Cronjé, toe hoof- uitvoerende beampte van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) gunstig daarop gereageer (Steyn 1996:272).

Daar was ander, soos die deurwinterde historikus Hermann Giliomee, wat anders geoordeel het. Giliomee het gemeen dat die ANC, net soos sy eweknieë elders in Afrika, gretig was om Engels, die voormalige koloniale taal, tot die enigste openbare taal te verhef, sodat dit kon dien as waarborg vir poste en status vir die swart elite (Giliomee 2003:644). Die historikus en politieke kommentator R.W. Johnson was van mening dat die beleid van elf amptelike tale bloot geveins was (Johnson 2009:370).

2. Praktiese amptelike Engelseentaligheid

Dit was spoedig duidelik dat die skeptici soos Giliomee en Johnson gelyk gehad het en dat Suid-Afrika op amptelike Engelseentaligheid afstuur. Reeds teen die einde van die 1990's het daar uit die finale verslag van die Language Task Group (LANGTAG), 'n taakgroep van die Departement Kuns, Wetenskap en Tegnologie, getiteld Towards a national languages plan for South Africa, 'n neiging tot amptelike Engelseentaligheid geblyk. Toe al was die neiging duidelik dat Engels as die sogenaamde ankertaal deurlopend vir alle funksies gebruik word, terwyl die ander tale bloot roterend of net sporadies aan die beurt kom. Die vestiging van amptelike Engelseentaligheid het spoedig op alle terreine voltrek. Dit is 'n omvattende tema wat hier noodwendig slegs kortliks saamgevat kan word. Wat nou volg, is 'n oorsig van hoe eentaligheid op die belangrikste terreine van amptelike taalgebruik voltrek het.

2.1 Wetgewing

Op die gebied van nasionale wetgewing - die belangrikste algemene instrument van regering - is Engels is nou reeds vir etlike dekades die enigste amptelike taal (Malan 2008:59-76). Alle wetgewing - hoofwette en wysigingswette - word in Engels aangeneem en gepubliseer. Afrikaans word, net soos die ander amptelike tale, slegs lukraak as die tweede taal gebruik. Dit gebeur heel dikwels dat wysigingswette in 'n ander taal naas Engels as die hoofwet gepubliseer word. Die hoofwet word byvoorbeeld naas Engels ook in Afrikaans gepubliseer, terwyl wysigingswette daarna in ander tale naas Engels die lig sien, dog nie meer in Afrikaans nie.

Die gevolg hiervan is dat die betrokke wetgewing slegs in Engels, maar in geen ander taal nie, geraadpleeg kan word. Die wetgewing is in die ander taal slegs ten dele beskikbaar, met die gevolg dat die betrokke wet oplaas in die geheel slegs in Engels beskikbaar en bruikbaar is. Met betrekking tot nasionale wetgewing het die Suid-Afrikaanse staat derhalwe eenvoudig verengels.

2.2 Regspleging

In die howe het taal 'n nieamptelike en amptelike gebruik. Die amptelike gebruik het betrekking op die gebruik van taal vir die doeleindes van hofuitsprake (en betoogshoofde). Ten aansien daarvan het die howe wesenlik ook verengels. Uitsprake word in die oorgrote meerderheid van gevalle slegs in Engels gelewer. Die hofverslae getuig hiervan.6

Dit is grootliks die gevolg van personeelbeleid wat in die regsektor, net soos in die res van die openbare sektor, afgedwing word, asook vanweë 'n besluit van regtershoofde tydens 'n vergadering in April 2017 afgekondig deur die destydse hoofregter, Mogoeng Mogoeng.

Die personeelbeleid is gebaseer op die transformatisme-beginsel van rasse-verteen-woordigendheid. Dit vereis dat die nasionale bevolkingsprofiel by elke dienspunt waar openbare dienste gelewer word, neerslag moet vind (Malan 2009:141-155)

Die gevolg hiervan is dat aanstellings en bevorderings gemaak word op grond van die rasse-identiteit van die betrokke personeel, maar sonder inagneming van sodanige personeel se taalvaardigheid in die taal/tale van die publiek wat by die betrokke dienspunt bedien word.

Die uitwerking hiervan in die menigte scenario's van hierdie aard is dat die publiek gedwing word om te kommunikeer in Engels as die enigste taal wat hulle min of meer met die betrokke staatsfunksionaris gemeen het, en dat die betrokke diens gevolglik in Engels in plaas van die publiek se voorkeurtaal/-tale verleen word.

Wanneer personeel op grond van die beginsel van rasseverteenwoordigendheid ontplooi word, sal dit noodwendig tot 'n wesenlik algemeen Engelseentalige praktyk lei.

In die lig hiervan is dit duidelik dat rasseverteenwoordigendheid 'n kragtige instrument vir landswye verengelsing geword het. Dit het nie slegs in die konteks van die regspleging nie, maar op alle gebiede van openbare dienslewering betrekking (Malan 2010a:427-449). Talle wette, gebruike en praktyke maak daarvoor voorsiening, dermate dat oortuigend geredeneer kan word dat rasseverteenwoordigendheid 'n toonaangewende grondwetlike waarde geword het (Malan 2019:121-124).

Wat die howe betref, is dit betreklik algemene praktyk dat 'n swart persoon wat nie Afrikaans magtig is nie as 'n landdros, staatsaanklaer of klerk aangestel word by 'n dienspunt waar die publiek grootliks Afrikaans is. Net so word 'n Afrikaanstalige persoon wat nie isiZulu of Setswana magtig is nie dikwels aangestel by dienspunte waar die publiek oorwegend isiZulu of Setswana praat, omdat die weerspieëling van die nasionale bevolkingsprofiel dit vereis.

Grootskaalse verengelsing is die gevolg.

Dit is opvallend dat juis ook die strafhowe verengels het ondanks 'n grondwetlike bepaling wat behels dat strafsake verhoor moet word in die taal wat die beskuldigde verstaan en dat dit getolk moet word slegs wanneer 'n verhoor in die taal wat die beskuldigde verstaan nie moontlik is nie.7

Die besluit van die regtershoofde van 2017 dat Engels voortaan die enigste notuleringstaal sal wees, het in werklikheid grootliks bevestig wat reeds vanweë die praktyk van rasseverteenwoordigendheid algemeen neerslag gevind het.8

Dit het gebeur omdat regspraktisyns, ongeag die taalidentiteit en taalvoorkeur van hulle kliënte, vanuit die staanspoor alle tersaaklike stukke in Engels voorberei in die verwagting dat die voorsittende beampte nie hulle kliënte se taal, byvoorbeeld Afrikaans, sal verstaan nie. Die hofverrigtinge, met inbegrip van pleitstukke, getuienis, betoë en uitsprake, is derhalwe in Engels ten einde met die algemene beleid van Engelseentaligheid te konformeer in plaas van om die publiek se voorkeure in ag te neem en dienooreenkomstig diens in die publiek se voorkeurtale te verleen.

Hierdie toedrag van sake is tydverspillend, geldvermorsend en tot die nadeel van veral die behoeftige dele van die publiek. Dit bring mee dat selfs in siviele en strafregtelike verhore waarin alle deelnemers (die partye, getuies, prokureurs en advokate sowel as die voorsittende beampte) byvoorbeeld sprekers van isiXhosa is, die verrigtinge in Engels vertaal of getolk moet word.

Dit bring ook mee dat litigante wat Engels nie behoorlik magtig is nie in siviele sake op eie koste regsverteenwoordiging (en/of tolkdienste) moet bekom ten einde behoorlike toegang tot die hof te probeer verseker.9

Die slotsom is dat al die regspleging, in weerwil van grondwetlike bepalings wat die indruk van die erkenning van veeltaligheid suggereer, wesenlik verengels het.

Daar bestaan geen rede waarom dit noodwendig hierdie verloop moes neem nie. Indien beleid met betrekking tot personeelaanwending in die regsektor toegepas is met inagneming van die demografiese werklikhede in die omgewing van die tersaaklike howe, kon die verengelsing grootliks verhoed gewees het en kon strafregtelike en siviele sake grootliks in die tale van die betrokke publiek gevoer word. Sodanige alternatiewe beleid is geredelik haalbaar (Malan 2009:141-155; Malan 2016:20-59). Daar is klaaiblyklik om ideologiese redes daarteen besluit.

2.3 Staatsdiens

Indien mondelinge dienste in die staatsdiens in Afrikaans verskaf word, is dit bloot toevallig, naamlik wanneer die betrokke amptenaar en die betrokke lid van die publiek Afrikaans magtig is. Dit sal, soos gesê, bloot toevallig wees, want daar bestaan geen beleid wat taalvaardigheid vereis in die taal/tale van die omgewing waar die diens gelewer word nie. Vanweë die dwang tot rasseverteenwoordigendheid waarna hierbo verwys is, het mondelinge dienste in Afrikaans beduidend skaarser geraak. Mondelinge diens in enige van die Afrikatale is egter geredelik beskikbaar omdat verteenwoordigendheid, anders as met Afrikaans, makliker met enige van die Afrikatale vereenselwigbaar is.

In die Oos-Kaap of KwaZulu-Natal waar die oorgrote meerderheid van die sprekers 'n gemeenskaplike taal as eerste taal gebruik - isiXhosa of isiZulu onderskeidelik - sal die mondelinge dienste in daardie gebiede juis onderskeidelik in daardie tale wees. Vir Afrikaanse mense is dit nouliks beskore. In die eertydse blanke en bruin woongebiede van Stellenbosch kan jy beswaarlik diens in Afrikaans ontvang, eenvoudig omdat swart mense, wat gewoonlik nie Afrikaans (genoegsaam) magtig is nie, ontplooi sal moet word ten einde rassever-teenwoordigendheid te bewerkstellig.

Skriftelike diens is wesenlik slegs in Engels beskikbaar. Dit is slegs by wyse van uitsondering ook in ander tale beskikbaar. Aansoek- en dergelike vorms, wat die basis vorm van alle aspekte van die staatsadministrasie, is as algemene praktyk slegs Engels.

2.4 Polisie

In die polisie (SA Polisiediens) is dieselfde beleid en dinamika van krag met die gevolg dat die patroon van mondelinge diens soortgelyk is aan dié in die staatsdiens.

Skriftelike dienste is bykans uitsluitlik in Engels. Dit is standaardpraktyk dat verklarings slegs in Engels afgeneem word. Daar was trouens etlike gevalle van direktiewe wat van die polisie se bevelstrukture uitgegaan het dat verklarings uitsluitlik in Engels, en juis nie in Afrikaans nie, afgeneem moet word.10

Die onderliggende rede daarvoor is weer eens die transformatiewe beleid van rasse-verteenwoordigendheid. Wanneer personeel op grond van die beginsel van rasse-verteenwoordigendheid ontplooi word, sal dit noodwendig tot 'n algemeen Engelse praktyk lei. Wanneer aanstellings in die Afrikaanse Pretoria Moot of die nog meer Afrikaanse Upington op grond van rasseverteenwoordigendheid gemaak word, sal baie van die personeel uiteraard nie Afrikaans magtig wees nie. Die gevolg is dat die dienste, meer bepaald skriftelike dienste, in Engels sal moet wees ten einde dit vir die nie-Afrikaanstalige personeel moontlik te maak om dit te verstaan en hoegenaamd hulle werk te kan doen, ongeag wat die voorkeur van die tersaaklike lede van die publiek is.

2.5 Onderwys

Tersiêre openbare onderwys, meer bepaald waar Afrikaans as voertaal gebruik word, het sedert 1994 algaande bykans heeltemal verdwyn. Die opmars van Engels as globale, veral ekonomiese, taal is ten dele die oorsaak hiervan. So ook die feit dat akademiese aktiwiteit 'n aansienlik verhoogde graad van globalisering en gepaardgaande verengelsing beleef. Daar is wesenlik drie welbekende redes hiervoor.

Internasionale eweknie-beoordeling met die oog op die publikasie van navorsing het algemene praktyk geword, en dit bring mee dat navorsing vanuit die staanspoor in Engels is.

Nagraadse navorsing (proefskrifte en verhandelings) word insgelyks grootliks in Engels onderneem ten einde die vereiste internasionale eksterne eksaminering moontlik te maak.

In die dae van enkeltalige Afrikaanse instellings was dit betreklik algemene praktyk dat dosente handboeke vir studente in Afrikaans kon skryf. Dit was toeganklik vir al hul Afrikaansmagtige studente. Sedert die verdwyning van sodanige instellings is dit nouliks meer moontlik. Nou word handboeke deurlopend in Engels geskryf ten einde vir al die studente in meertalige (en ten slotte Engelstalige) instellings met 'n groeiende Engelse studentekorps toeganklik te wees.

Was daar nog Afrikaanse instellings, was publikasie van Afrikaanse handboeke natuurlik geredeliker haalbaar. Daar kan voorsien word dat dit nou weer by eentalige Afrikaanse instellings soos Akademia en Sol-Tech sal gebeur.

Die verskynsel van eentalig Afrikaanse tersiêre onderwys is strydig met die ANC se oortuiging dat alle instellings toeganklik vir almal moet wees. Die beskerming (en bevordering) van Afrikaans as onderrigmedium by wyse van eentalige Afrikaanse instellings wat teen verengelsing geïsoleer is, het derhalwe plek gemaak vir parallelmedium of dubbelmedium-instellings waarvan die meeste spoedig heeltemal verengels het. Die ideologiese weersin in Afrikaanse onderrig selfs in meertalige instellings wat ook 'n onderrig-aanbod in Engels gehad het, het mettertyd daartoe gelei dat Afrikaans ook by sodanige instellings uitgeweer is.11

Daar heers egter ook 'n skerp politieke vyandigheid teen die akkommodasie van Afrikaans in meertalige instellings. Hierdie sienswyse word klaarblyklik ook deur die howe gedeel, wat dieselfde uitgangspunte van transformatisme met die huidige regerende elite deel (Malan 2019:193-200). In weerwil van artikel 29(2) van die Grondwet wat lyk asof dit die uitwerking mag hê dat dit Afrikaans by openbare onderwysinstellings kan stabiliseer, het die teenoorge-stelde gebeur.

Die bepaling lui:

2. Everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonably practicable. In order to ensure the effective access to, and implementation of, this right, the state must consider all reasonable educational alternatives, including single medium institutions, taking into account -

a. equity; b. practicability; and c. the need to redress the results of past racially discriminatory laws and practices. (eie beklemtoning.)

Die (meerderheid van die) Konstitusionele Hof het hierdie bepaling onomwonde transformatief vertolk. In Afriforum and Another v University of the Free State 2018 (2) SA 185; 2018 (4) BCLR 387 (KH)) het die meerderheid van die Hof reasonable practicable (redelike doenbaarheid) vertolk as 'n maatstaf wat die ideologie van transformatisme moes bevorder. Die Hof het soos volg geredeneer:

Reasonable practicability therefore requires not only that the practicability test be met, but also that considerations of reasonableness that extend to equity and the need to cure the ills of our shameful apartheid past, be appropriately accommodated. And that is achievable only if the exercise of the right to be taught in a language of choice does not pose a threat to racial harmony or inadvertently nurture racial supremacy. That goes to practicability. The question then is, has the use of Afrikaans as a medium of instruction at the University had a comfortable co-existence with our collective aspiration to heal the divisions of the past or has it impeded the prospects of our unity in our diversity? Has race relations, particularly among students, improved or degenerated as a consequence of the University's 2003 language policy? If not, would it be "reasonably practicable" for the University to relegate Afrikaans to low-key utilization in a constitutionally permissible way?12

Die meerderheid het so geredeneer ondanks die feit dat dit wel prakties haalbaar was om onderrig in Afrikaans te verskaf, soos dit trouens nog op die stadium van die lewer van die uitspraak die geval was. Daar was 'n vraag na Afrikaanse onderrig en daar was genoeg Afrikaanstalige personeel om aan die vraag vir Afrikaanse onderwys te voldoen en dus 'n Afrikaanse baan van onderrig in stand te hou. Die meerderheid van die Konstitusionele Hof het egter besluit om 'n transformatisties-gemotiveerde betekenis aan "praktiese haalbaarheid" te verleen. Die beslissing het, op die keper beskou, daarop neergekom dat die voortsetting van 'n Afrikaanse baan van onderrig nie met transformatisme vereenselwigbaar was nie, in weerwil van die feit dat dit prakties haalbaar was.

Die meerderheid het voorts beslis dat die Universiteit (die respondent) reg was in sy besluit dat daar nie vir Afrikaans kragtens 'n parallelmediummodel van onderrig voorsiening gemaak kan word nie (al was dit prakties doenbaar) aangesien dit rassediskriminasie, rasse-eksklusiwiteit en rasse-meerderwaardigheid teweegbring. Soos blyk uit die minderheids-uitspraak van regter Froneman was daar geen getuienis om hierdie "bevinding" te regverdig nie (par. 53 van die uitspraak).

Ongeag die bedenklike aard van hierdie redenasie, wat bowendien nie deur enige getuienis ondersteun is nie, het dit die einde van Afrikaanse onderrig by die Vrystaatse Universiteit en vir enige parallelmediumonderrig by openbare tersiêre onderwysinstellings in Suid-Afrika beteken.

Met betrekking tot die posisie van Afrikaans in hoër onderwys in die huidige grondwetlike orde merk Ludick en Breed (2025) klaarblyklik tereg op dat Afrikaans as wetenskapstaal sedert die inwerkingtreding van die huidige grondwetlike orde in 1994 opnuut onder druk verkeer vanweë die ideologieë van die huidige bewind nadat dit, gedeeltelik deur Afrikanernasionalisme aangedryf, oor die grootste gedeelte van die twintigste eeu goed gevorder het. Op hulle beurt skilder Bornman et al. (2025:313) se deeglike ondersoek deurgaans 'n prentjie van beperkte ruimtes vir Afrikaans in die hoër onderwys: "Die gebruik van Afrikaans het in so 'n mate ingekrimp dat 'n mens die indruk kry dat die taal by baie hoëronderwysinstellings bykans onsigbaar geword het." Hulle verklaar klaarblyklik tereg, en met verwysing na die werk van etlike ander navorsers, dat hierdie toedrag van sake 'n ernstige bedreiging vir die vitaliteit van die taal inhou, met die implikasie dat die volgehoue intellektualisering en modernisering van die taal aan bande gelê word. Dit kan die gevolg hê dat Afrikaans weer soos aan die begin van die twintigste eeu as 'n minderwaardige kombuistaal gestereotipeer word.

Skoolonderwys het op 'n soortgelyke trajek beweeg. Afrikaanse enkelmediumskole het drasties verminder, ofskoon daar steeds 'n beduidende aantal sodanige skole is, wat bowendien van die beste presteerders landswyd in die skoolonderwysstelsel is.

Daar bestaan geen bewys dat enige van hierdie skole rasuitsluitend is nie. Elkeen van hulle het swart leerlinge. As gevolg daarvan bestaan daar nie meer iets soos 'n wit openbare skool nie.

Nogtans is die idee van 'n Afrikaanse skool, en waarskynlik Afrikaanse onderrig in die algemeen, vir die ANC-leierskap 'n steen des aanstoots. Daarom was daar oor die jare heen knaend voorvalle van provinsiale onderwysowerhede wat Afrikaanse skole met betrekking tot hulle toelatings- voertaalbeleid afgeknou het. Hierdie skole is gedwing, dikwels baie kort voor die aanvang van die betrokke skooljaar, om leerlinge wat onderwys in Engels behoef, in te neem. Dikwels was dit 'n geval van provinsiale onderwysowerhede wat hulle verantwoordelikheid om vir die groter vraag na onderwys voorsiening te maak op individuele skole, meermaal Afrikaanse skole, afgeskuif het (Malan 2010b:261-283).

Die omstrede BELA-wet, wat die Suid-Afrikaanse Skolewet gewysig het, plaas verdere druk op die voortbestaan van Afrikaansmediumskole. Die wysiging was in werklikheid oor 'n lang tyd in ooreenstemming met die beslissings van die Konstitusionele Hof in die Rivonia-en Ermelo-saak in aantog (Department: Mpumalanga Department of Education and Another v Hoërskool Ermelo and Another 2010 (2) SA 415 2010 (3) BCLR 177 (KH) en MEC for Education in Gauteng Province and Other v Governing Body of Rivonia Primary School and Others 2013 (6) SA 582; 2013 (12) BCLR 1365 (KH)). Die effek van tersaaklike wysigings van die Suid-Afrikaanse Skolewet voortspruitend uit die gemelde beslissings, is weliswaar nie om weg te doen met beheerliggame se magte om beleid te bepaal nie, maar wel om dit in te kort. Die beheerliggaam bepaal steeds in die eerste plek die toelatingsbeleid en die taalbeleid, maar brei die gesamentlike en oorsigbevoegdheid van provinsiale onderwysowerhede daaroor uit (ingevolge artikels 5 en 6 van die Basic Education Laws Amendment Act, Wet 32 van 2024, wat onderskeidelik artikels 6 en 7 van die hoofwet, die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996, gewysig het). Beheerliggame sal dus waaksaam moet wees dat amptenare nie hulle hand in dié verband, soos dit tevore telkens al gebeur het, oorspeel nie, of waar besluite reeds geneem is, om te verseker dat dit regmatig, redelik en prosedureel billik is.13

2.6 Use of the Official languages Act

In 2012 het die Use of the Official Languages Act, 12 van 2012, in werking getree. Die aanname van die wet was die gevolg van suksesvolle litigasie van die prokureur en taalregte-aktivis, C.J.A. Lourens (Lourens v President van die Republiek van Suid Afrika en Andere 2013 (1) SA 499 (GNP)). Ongelukkig was die suksesvolle gedingvoering ten slotte 'n Pyrrhusoorwinning (skynoorwinning), want dit is veilig om te verklaar dat die wet geen uitwerking gehad het op die trajek na toenemende verengelsing nie.

3. Die daadwerklike taalbedeling: amptelike Engelseentaligheid

Vanweë die voltrekking van die amptelike taaldinamika sedert 1994, soos onder andere blyk uit die uiteensetting in deel 2 hierbo, blyk dit onteenseglik dat politieke waarnemers soos Albert Venter en R.W. Johnson gelyk het dat daar weinig gekom het van amptelike veeltaligheid soos die Grondwet suggereer. Reeds in 2000 het Venter (2000:4) verklaar dat Afrikaans nie meer 'n "staatstaal" is nie. Daaruit blyk onomwonde dat Afrikaans sy ampteliketaalstatus verbeur het en dat die ander tale toe prakties nooit ampteliketaalstatus verwerf het nie. Johnson (2009:370-1) kom insgelyks tot die gevolgtrekking dat Suid-Afrika sedert 1994 'n Engels-sprekende land geword het.

Hierdie waarnemings is korrek. Die amptelike status van Afrikaans is wesenlik kragteloos. Dit bestaan in naam in die oënskynlik oppermagtige Grondwet, maar is grootliks van sy amptelike gebruik ontneem. In weerwil van artikel 6 het die ander amptelike tale - almal behalwe Engels - ook nie enige noemenswaardige groei getoon met betrekking tot hulle amptelike gebruik nie.14

Hierdie toedrag van sake behels dat die grondwetlike status en gebruik van die amptelike tale sedert 1994, en meer bepaald sedert die inwerkingtreding van die huidige Grondwet in 1997, 'n nuwe betekenis ontwikkel het. Dit het gebeur in weerwil van die feit dat artikel 6 en die ander bepalings wat met taal te doen het nie deur die parlement ooreenkomstig die wysigingsvereistes van artikel 74 van die Grondwet gewysig is nie.15

4. Die verandering van die konstitusie

Die vraag is egter of ons hoegenaamd van 'n verandering van die Grondwet se taalbepalings kan praat indien daar nie 'n wysiging van die teks ooreenkomstig die voorskrifte van die Grondwet was nie. Wat meer is, hoe kan die Grondwet hoegenaamd op oppergesag aanspraak maak, soos wat artikel 2 van die Grondwet wel uitdruklik doen,16 as sy mees basiese voorskrifte oor wysiging verontagsaam is?

Die antwoord op hierdie vraag is dat bepalings van die Grondwet allermins die volle verhaal oor die verandering daarvan vertel. Trouens, as artikel 6 van die Grondwet met die werklike toedrag van sake oor die gebruik van die amptelike tale vergelyk moet word, toon dit 'n wesenlike wanvoorstelling.

Waarmee ons hier te make het, is dat 'n Grondwet ook deur praktyk, onder andere voortspruitend uit die werking van politieke kragte, verander kan word en inderdaad verander het. Basies drie scenario's kan onderskei word.

Eerstens kan grondwetlike bepalings eenvoudig vanweë onbruik verval, in welke geval ons van vervalle grondwetlike reg ("lapsed constitutional law") kan praat. Tweedens kan nuwe praktyke, wat van bestaande bepalings van die Grondwet afwyk, konstant gevolg word; die afwykers is daarvan oortuig dat hulle regtens optree en daar is bowendien geen remediërende optrede deur die owerheid nie. Dan het ons te doen met vervangende grondwetlike reg ("substituted constitutional law"). Derdens kan ons te doen hê met 'n scenario waar 'n bepaling in die Grondwet 'n blote formulering bly en waar daar nooit optrede in ooreenstemming met die formulering volg nie. Die formulerings is dus nooit deur gepaardgaande gedrag gevolg ten einde daadwerklike positiewe reg daar te stel nie. Dan het ons eenvoudig met doodgebore grondwetlike reg ("stillborn constitutional law") te doen (Malan 2019:85-90).

In nie een van die drie scenario's is daar grondwetlike (teks)wysigings nie, maar ons het nogtans veranderings in die daadwerklike konstitusie, dit wil sê daadwerklike konstitusionele norme wat vanweë praktiese optrede beslag gekry het. In al drie gevalle het die Grondwet, wat plegtig van sy oppergesag getuig, plek gemaak vir 'n daadwerklike konstitusie wat in ooreenstemming met die gevestigde praktyk is.

Dit is ten slotte vanweë 'n mengsel van die drie vermelde vorme van konstitusionele verandering dat ons nou, en klaarblyklik eintlik reeds vir 'n geruime tyd, 'n amptelike taalbedeling het wat beduidend van artikel 6 van die Grondwet verskil.

Benewens die Grondwet het daar met betrekking tot die taalbedeling derhalwe 'n nuwe, daadwerklike konstitusie tot stand gekom. Indien die Grondwet vandag herbewoord moes word ten einde die stand van die amptelike tale betroubaar weer te gee, sou dit gevolglik soos volg lui:

Engels is Suid-Afrika se primêre amptelike taal.

Alle wetgewing en openbare dokumente wat van algemene openbare belang is, moet in Engels wees.

Die volgende tale mag ook vir die doel van wetgewing en uitvoerende handelinge gebruik word: Sepedi, Sesotho, Setswana, siSwati, Tshivenda, Xitsonga, Afrikaans, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu.

Staatsorgane wat gemoeid is met die aanwending van die amptelike tale op elke besondere gebied het die diskresionêre bevoegdheid om te besluit watter tale, indien enige, benewens Engels gebruik word.

Dit is waar dat Engels sedert die Tweede Wêreldoorlog ten koste van die meeste ander tale gevorder het en dat globalisering oor die afgelope dekades ook in Suid-Afrika 'n kragtige stimulus ten gunste van Engels was. Dit het egter weinig te doen met die wydlopende amptelike verengelsing wat in deel 2 hierbo behandel is. Met betrekking tot amptelike verengelsing moet die vraag beantwoord word waarom die maghebbers en die staatsadministrasie in die huidige orde hulle diskresie juis so uitgeoefen het dat dit Engels dramaties bevoordeel het, Afrikaans beduidend afgeskaal het en die ander - die nuwe - amptelike tale ook bloedweinig, indien enigsins, voordeel uit hulle nuwe, oënskynlik verhewe, amptelike status kon put. Wat die optrede van die nuwe maghebbers des te meer raaiselagtig maak, is die feit dat die oorgrote meerderheid van hulle juis moedertaalsprekers van die Afrikatale is. Hoekom sou hulle dan so ongeërg, selfs minagtend, teenoor hulle eie tale wees?

5. Die maghebbers se keuse ten gunste van Engels

Ideologie is die belangrikste rede hiervoor, meer bepaald die ANC as die dominante krag in die Suid-Afrikaanse ideologie van transformatisme. Dit word gewoonlik transformasie en vaar ook dikwels onder die vaandel van die Leninistiese benaming "nasionaal-demokratiese rewolusie".

Die wese van transformatisme is dat die ANC die Suid-Afrikaanse staat se bestaan as 'n onveranderbare gegewe beskou. Alle mag en gesag in alle sfere van die samelewing moet in die leierskap van die ANC sentreer. ANC-beleidsdokumente sit dit male sonder tal so uiteen, veral in sy opeenvolgende "Strategy and Tactics"-dokumente (Gerber 2025:62-131). Transformatisme word dan met die oog op die deurvoering van die volgende twee doelwitte aangewend:

Eerstens om alle produksiefaktore, veral kapitaal, onder beheer van die ANC-gedomineerde staat te plaas. Etlike van die mees prominente beleidsdoelwitte van die ANC, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), is hierop gemik (Gerber op. cit.).

Tweedens om wesenlik 'n homogene Suid-Afrikaanse "nasie" te bewerkstellig. Vir daardie doel moet die sogenaamde nasionale vraagstuk ("national question") beslissend opgelos word. Dit behels die landswye afdwing van 'n enkele maksimaal homogene staatlike kultuur ooreenkomstig die homogeniserende "nasiebou"-projek. Daarvolgens moet alle taal-, kultuur-en dergelike kragte wat beskou word as sou dit die risiko inhou dat dit die staatlike homogeniteit, en dus ook die stabiliteit van die staat, kan ontwrig, geneutraliseer word (Malan 2019:193-200).

Afrikaans met sy eiesoortige, goed ontwikkelde literêre karakter en instellings vir Afrikaans-talige mense staan in die lig hiervan in skerp spanning met die doelwitte van transformatisme.

Ten minste drie beleidsrigtings gee uitdrukking aan kultuur- (en taal-) transformatisme. Eerstens is daar, soos die bespreking in deel 2 reeds aangetoon het, 'n sterk verbintenis tot amptelike Engelseentaligheid. Tweedens is die eis vir rasse-verteenwoordigendheid, wat reeds in deel 2.2 (Regspleging) kortliks behandel is, 'n kragtige instrument vir die afdwing van Engelse eenvormigheid.

Dit is opvallend dat ander Afrikastate, waar transformatisme en die aandrang op rasse-verteenwoordigendheid nie soos in Suid-Afrika uitdruklik vereis is nie, wesenlik dieselfde weg ten gunste van Engels (of ander tersaaklike eertydse koloniale tale, soos Frans of Portugees) ingeslaan en die Afrikatale eweneens afgeskeep het (Malan 2012:55-78).

Die uitoefening van hierdie diskresie ten gunste van die voormalige koloniale tale kom in die eerste plek teen die agtergrond van die feit dat die Afrikastate, met inbegrip van die Suid-Afrikaanse staat, wesenlik kunsmatige skeppings van die voormalige Europese koloniale moondhede is. Hul grense is ook grootliks die gevolg van die aktiwiteite van hierdie moondhede. Lank ná dekolonisasie bly die politieke kaart van Afrika die mees sigbare, blywende nalatenskap van voormalige koloniale oorheersing. Hulle het nie as't ware organies ontstaan uit hoofde van 'n gemeenskaplikheid van taal en kultuur nie. Daarom is die denkbeeld van nasionaliteit - om Zambies, Zimbabwies, Suid-Afrikaans, Nigeries, ens. te wees in die konteks van hierdie kunsmatige skeppings - hoofsaaklik die gevolg van die woekerwerk van die koloniale moondhede. Afrika-"nasies" het oplaas slegs 'n territoriale betekenis en verwys nie na taal of kultuur nie (vergelyk bv. Bamgbose 1991 en Mutua 1995:113-76).

Suid-Afrika, en dit waarna as die Suid-Afrikaanse nasie verwys word, val in dieselfde kategorie. Daar bestaan in substantiewe terme 'n Suid-Afrikaanse bevolking en burgery, maar nie 'n Suid-Afrikaanse nasie nie (Degenaar 1993:4; Gagiano 1990:32; Giliomee 1991:67). Die voormalige president van Suid-Afrika, Thabo Mbeki, het op 29 Mei 1998 in sy hoedanig-heid as adjunkpresident in 'n parlementêre toespraak verklaar dat Suid-Afrika steeds uit twee nasies bestaan - een wit en een swart (Mbeki 1998). Venter (1998:2) gaan ook uit van die aanname dat 'n Suid-Afrikaanse nasie inderdaad nie bestaan nie.

Sedert onafhanklikheid het Afrikastate onwrikbaar aan hierdie koloniaal opgelegde staatsgrense vasgeklou. Binne hierdie kunsmatig geskepte state, meestal sonder die noodsaaklike gemeenskaplikhede van nasionaliteit, moet Afrika-regerings ook 'n amptelike taalbeleid ontwerp. In die aangesig van dreigende middelpuntvliedende kragte van potensieel stam-, etniese en gepaardgaande taalkundige spanning wat die voortbestaan van Afrika-state kan ontwrig, doen regerings moeite om nie-Afrikatale as oorbruggende staatstale te kies om sodoende interkommunale spanning en wedywering te verhoed. Afrika-regerings kies eerder <n stam-"neutrale" Europese skakeltaal ("link language") wat vanweë die afwesigheid van taalgemeenskaplikheid kan dien as 'n neutrale "nasiebouer" en medium vir nasionale, trans-stamleierskap (De Varennes 1996; Bamgbose 1991:23).

Afrikane se nasionale politieke bewussyn vind dus nie beslag op die grondslag van 'n eie taal nie, maar juis op die toepaslike koloniale taal, veral Engels. Engels het die politieke woordeskat verskaf om koloniale oorheersing te weerstaan en die weg na politieke onafhank-likheid te baan. Daarenteen is die Afrikatale beskou as ontoereikend om hierdie funksie te vervul. Inteendeel, die plaaslike Afrikatale het die verdeeldheid tussen die talle etniese groepe en stamme beklemtoon en Afrikane verhinder om bewus te word van hul gemeenskaplike toestand van koloniale onderwerping en om in gemeenskap met hul mede-Afrikane 'n begrip te ontwikkel van hul gekoloniseerde toestand. Die Europese tale, en meer bepaald Engels, was die "verlosser" - die kuur wat hulle van koloniale beheer kon bevry en hulle na politieke onafhanklikheid kon lei (Mazrui 1975:45-57).

Engels was 'n voorvereiste vir leierskap in Afrika se nasionale bewegings. Die elite van hierdie bewegings is ook basies Engelssprekend (Mazrui 1975:14; Schmied 1991:23-4)

Dit geld ook vir die African National Congress (ANC) in Suid-Afrika, wat basies 'n Engelssprekende beweging is, of ten minste 'n beweging wat deur 'n Engelssprekende elite gelei word (Johnson 2009:371).

Hieroor bestaan daar 'n fundamentele verskil tussen die nasionale politieke bewussyn in Afrika in teenstelling met dié in Europa. Europese nasionale bewussyn is meestal wesenlik taal-geïnspireerd. Die nasionale bewussyn van Europese gemeenskappe word gewoonlik deur die bewussyn van die eie, nasionale taal aangevuur. Die prag en besondere uitdrukkingsvermoë van die eie taal en die gepaardgaande ontwikkeling van die letterkunde van die verskillende eie tale is skerp en gunstig beleef. (Kohn 1944:130, 132, 143, 153, 204, 229-32, 348, 429-33, 484, 496-7, 513-4 en 527-34; Hobsbawn 1994:179-81). Afrikanernasionalisme is inderdaad 'n perfekte voorbeeld van juis 'n nasionale bewussyn van hierdie aard (Zietsman 1992). Dit het gepaard gegaan met die opkoms van Afrikaans as 'n letterkundige taal sedert die laaste kwart van die 19de eeu en die gepaardgaande ontwikkeling van Afrikaans as 'n skryftaal geskik vir alle taalfunksies, met besondere inbegrip van die hoër funksies.

In teenstelling hiermee het nasionale bewussyn in Afrika en Afrika-nasionalismes nie 'n taalkundige grondslag nie. Hulle is eerder antikoloniaal. Hulle durf nie klem lê op enige spesifieke, eie Afrikataal en op die ontwikkeling daarvan nie, want dit sou die staat in die doodsgevaar plaas om langs die verdelingsgrense van kultuur-, taal- of etniese gemeenskappe te verdeel (De Varennes 1996:108; Bamgbose 1991:23; Herbert 1992:14; Mazrui 1975:102).

Wat die gebruik van taal betref, is die belangrikste tendens in onderwys onder swart ouers en leerlinge in Suid-Afrika om Engels van die vroegste moontlike stadium van onderwys te verkies. Alhoewel opvoedkundiges dit eens is dat kinders die beste vaar wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word, is swart ouers ewe eensgesind in die verwerping van daardie mening (Hartshorne 1987:74-5).

Die tendens elders in vorige Britse kolonies in Afrika is dieselfde. Indien geen Afrika-lingua franca beskikbaar is nie, is die enigste geskikte koers om te volg 'n "reguit-vir-Engels"-benadering, veral as ouers Engels as die gewaarborgde weg na sosio-ekonomiese vooruitgang vir hul kinders beskou en druk op die skoolowerhede plaas om so vroeg as moontlik met Engelsmediumonderrig te begin (Schmied 1991:1-14; Phillipson 1992:8).

Ná 1994, toe die African National Congress in Suid-Afrika aan bewind gekom het, het die neiging in die onderwys van Afrika-kinders selfs sterker na Engels as die onderrigtaal in skoolonderwys geskuif. (Malan 2010b:278)

Die geneigdheid tot Engels het 'n sterk sosiale fondament, aangesien Engels algemeen gunstig ervaar word onder Afrikane reg oor die vasteland, veral in Sub-Sahara-Afrika. In baie Afrikastate word geglo dat Engels oor sekere aantreklike eienskappe beskik. Dit word as "mooi", "ryk", "logies" en "gesofistikeerd" beleef. Dit word ook gestereotipeer as "presies", wat baie hoog op prys gestel word deur Afrikane op die gebiede van die wetenskap, tegnologie en akademiese onderrig. Engels word beskou as verfyn, gesofistikeerd en superieur, oftewel verhewe, alles konsepte wat verwys na die uitmuntende gehalte van die Engelse taal. Engels word ook met die moderniteit, sukses en die opwaarts-mobiele, opgeleide, kosmopolitiese elite vereenselwig. Daar word wyd geglo dat Engels 'n persoonlike bate is en 'n instrument om 'n persoonlike loopbaan te bevorder.

Die inheemse Afrikatale kan nie hierteen wedywer nie. Sommige registers van hierdie tale bestaan beswaarlik in die Afrikatale en daarom vervul Engels die verstekposisie. Moderne terminologie ontbreek dikwels in die Afrikatale, veral op die gebied van die wetenskap en tegnologie. Daar word dikwels aangevoer dat die Afrikatale ook nie in staat sal wees om terme te ontwikkel wat tans ontbreek nie, of dat sodanige taalvermoëns eenvoudig te duur sou wees om te ontwikkel. Die Afrikatale word dikwels deur Afrikane as premodern, landelik en pregeletterd ervaar, sonder 'n ontwikkelde woordeskat en literatuur (Schmied 1991:165, 167, 170, 184; Phillipson 1992:27.)

Naas die prominente faktor van transformatisme bied die voorafgaande paragrawe 'n bondige samevatting van die opvattings en sentimente wat die uitoefening van die diskresie met betrekking tot die toepassing van die diskresionêre taalbepaling rig.

Dit is belangrike kragte, sentimente en oortuigings wat teen die agtergrond lê van die sienswyses van die vertolkers van Suid-Afrika se diskresionêre taalbepaling en wat uiteindelik die daadwerklike betekenis van hierdie bepaling medebepaal: die faktor dat Engels die taal is wat die eenheid en stabiliteit van die staat in Afrika help verseker; dat dit gedien het as die medium van koloniale bevryding (en in Suid-Afrika van wit minderheidsregering) en steeds dien as die medium vir nasionalisme; dat dit die primêre medium is om vanuit premoderntiteit en stamgebondenheid te ontsnap na moderne opvoeding, opwaartse sosiale en ekonomiese mobiliteit, sofistikasie en prestasie.

'n Ampteliketaalklousule in 'n grondwet wat in presiese besonderhede voorskryf hoe die plaaslike tale in regering, administrasie, onderwys en dergelike hoër taalfunksies gebruik moet word, sal steeds 'n opdraande stryd voer teen hierdie gedugte kragte ten gunste van Engels. Nogtans kan dit heelwat vermag om hierdie tale te beskerm en te bevorder. 'n Oop diskresionêre ampteliketaalklousule soos vervat in artikel 6 van die Grondwet kan allermins hierdie taak vervul. Inteendeel, dit baan die weg na presies die teenoorgestelde, naamlik 'n diskresie wat hierdie kragte bevoordeel in plaas daarvan om hulle te beheer en aan bande te lê en wat die weg berei het vir groeiende Engelseentaligheid wat sigself binne die huidige grondwetlike orde gevestig het.

Ek doen aan die hand dat hierdie bepalings met voorbedagte rade so geformuleer is. Dit het die ANC in staat gestel om sy opvattings ten gunste van Engelse eentaligheid met behulp van 'n diskresionêre taalbepaling te bewerkstellig.

6. Verlaagde status en uiteindelike verdwyning

Die wesenlike verdwyning van Afrikaans as amptelike taal het 'n neerdrukkende uitwerking op Afrikaans se algemene welstand. Die welstand van 'n taal is heg verweef met die status oftewel die aansien daarvan, ook in die gemoed van 'n taal se moedertaalsprekers, wat juis diegene is wat ten slotte die verantwoordelikheid vir die taal se welstand dra. (Vgl. hieroor o.m. Steyn 1980:24-54 en Malan 2014:462-481.)

Die status van 'n taal word in wesenlike mate bepaal deur die vraag of sy moedertaal-sprekers 'n hoë dunk van hulle taal het, met ander woorde: beskou hulle dit as opgewasse om die hoër taalfunksies met onderskeiding te kan vervul? Indien moedertaalsprekers van 'n taal oortuigende rede het om te glo dat hul taal wel oor daardie vermoë beskik, verkeer sodanige taal in goeie welstand. Die hoër taalfunksies behels primêr die vermoë van die taal om openbare-, regeer- onderwys- en letterkundige funksies te kan vervul. Daarby is inbegrepe die gebruik van 'n taal vir die doel van regering, wetgewing, uitvoerende handelinge, die regspleging, die beoefening van die wetenskap en tegniek, akademiese navorsing en onderrig, letterkunde en poësie.

Afrikaans beskik inderdaad oor die bewese vermoë om al hierdie en welke ander hoër funksies ook al te kan vervul. Daar bestaan afdoende getuienis hiervoor: wetgewing wat oor etlike dekades ook in Afrikaans gemaak is; derduisende hofuitsprake; die bestaan en prestasie van etlike Afrikaanse universiteite, tegniese kolleges en skole oor etlike dekades heen, derduisende verhandelings en proefskrifte in Afrikaans, vakwoordeboeke op elke moontlike gebied van die wetenskap en tegniek en derduisende boeke en tydskrifte en dergelike getuienis getuig hiervan.

Baie hiervan was te danke aan die feit dat Afrikaans oor amptelike status beskik het en deurlopend daadwerklik as amptelike taal gebruik is. Met die wesenlike verdwyning van Afrikaans se amptelike gebruik, die drastiese afskaling in die onderwys, veral hoër onderwys en die afskaling van Afrikaans se ekonomiese waarde het die moedertaalsprekers van Afrikaans se dunk van hulle taal ook 'n gevoelige knou gekry.

Afrikaans word, soos breedvoerig in deel 2 uiteengesit, baie minder vir die hoër funksies gebruik en Afrikaanstaliges ervaar dat hulle taal afnemend vir hierdie funksies gebruik word. Hulle lees en hoor dit nouliks meer. Hulle beleef hulle taal toenemend as 'n informele taal, 'n taal wat slegs vir private gebruik geskik is. Die hoë status wat Afrikaans veral danksy sy daadwerklike gebruik vir die hoër funksies verwerf het, is nou grootliks daarmee heen.

Hierdie verlaging van status is myns insiens 'n belangrike rede vir die groeiende tendens by moedertaalsprekers van Afrikaans om Afrikaans te deurspek met Engelse woorde en om Afrikaans eenvoudig swak te praat.

Vir talle tale was hierdie tendens 'n enorme terugslag wat die weg na verdwyning ingelui het. Tensy hierdie tendens gestuit word, kan dit die hartverskeurende lot wees waarvoor Afrikaans bestem is.

7. Slotsom

Die jaar 2025 was 'n herdenkingsjaar vir Afrikaans. Die herdenking het op 8 Mei 2025 'n hoogtepunt bereik. Dié datum het ons daaraan herinner dat Afrikaans presies honderd jaar gelede, op 8 Mei 1925, 'n amptelike taal van die Suid-Afrikaanse staat geword het.

Maar met die oorweldigende getuienis tot ons beskikking het ons inderdaad bloot herdenk dat Afrikaans honderd jaar gelede amptelike status verwerf het en die Grondwet sedert daardie datum gelas het dat Afrikaans gelyk met Engels behandel moes word. Daardie gebeurtenis is hoofsaaklik moontlik gemaak danksy die destyds oplaaiende krag van Afrikanernasionalisme.

Maar ons herdenk nie dat Afrikaans nou vir honderd jaar lank 'n amptelike taal is en dat sy amptelike status nou sy tweede eeu betree het nie. Daardie reëling is sedert die inwerkingtreding van die huidige Grondwet in 1997 uitfaseer. Reeds in nagenoeg die jaar 2000 het Afrikaans sy daadwerklik amptelike status verloor. Terugskouend was Afrikaans derhalwe vir nagenoeg 75 jaar - vanaf 1925 tot 2000 - 'n amptelike taal. Tans is Afrikaans ten beste slegs in naam 'n amptelike taal wat gebruik mag word indien dit ons huidige maghebbers behaag. En gewoonlik behaag dit hulle nie, soos die uiteensetting in deel 2 toon vanweë die oorwegings wat in deel 3 verduidelik is.

Die jaar 2025, en meer bepaald die datum 8 Mei 2025, was derhalwe nie die honderdste verjaarsdag van Afrikaans as amptelike taal nie. Hierdie datum het bloot 'n historiese betekenis. Die datum is slegs terugskouend van belang. Dit is die datum waarop Afrikaans honderd jaar gelede een van Suid-Afrika se amptelike tale geword het onder aanvoering van die destydse Nasionale Party, en met D.F. Malan as minister van binnelandse sake in J.B.M. Hertzog se Pakt-kabinet (Steyn 2014:205-6 en dan veral 154). Daardie reeling het egter geruime tyd gelede vanweë vervangende gebruik as daadwerklik grondwetlike reg verval.

Afrikaans is in konkrete terme nie meer 'n amptelike taal nie. Indien ons Afrikaans se honderdste verjaarsdag as amptelike taal vier, verbly ons onsself daarin dat Afrikaans se amptelike status bloot 'n nominale bestaan voer.17 Dit bestaan slegs in naam, maar is in konkrete terme ongedaan gemaak en met 'n Engelseentalige bedeling vervang. Dit bied min rede vir blydskap en geen stof vir 'n vrolike viering nie. Daarom is daar oortuigende rede vir Cerneels Lourens se oënskynlik siniese oordeel dat 'n viering van Afrikaans se honderdste bestaansjaar as 'n amptelike taal onvanpas is - nouliks meer as 'n vrolike begrafnis.

Wat die jaar 2025, en meer bepaald die datum 8 Mei 2025, wel is, is 'n oproep tot kragtige ingryping deur die Afrikaanse burgerlike samelewing om te vergoed vir die gevoelige verliese wat Afrikaans gely het, dermate dat dit nie meer 'n staatstaal is nie. Sommige sektore in die Afrikaanse burgerlike samelewing het reeds met behulp van nuwe instellings daarmee begin en belowende vordering gemaak. Die groot werk lê egter nog voor.

Boeke, artikels en proefskrifte

BIBLIOGRAFIE

  • Bamgbose, A. 1991. Language and the nation: The language question in sub-Saharan Africa. Edinburgh: Edenburgh University Press.
  • Beckman, J. 2025. Die trajek van Afrikaans as inheemse onderwystaal van 1925 tot 2025: Gedagtes oor die verlede, die hede en die toekoms. Tydskrif vir die Geesteswetenskappe, 65:256-284.
  • Bornman, E., Steenkamp, C., Wierenga, R. & Carstens, W. 2025. Afrikaans in die hoër onderwys: Enkele tendense uit die ondersoeke Staat van het Nederlands en Stand van Afrikaans. Tydskrif vir die Geesteswetenskappe, 65:285-316.
  • Degenaar, J. 1993.Nations and nationalism: The myth of a South African nation. Occasional Paper No. 40. Kaapstad: Idasa.
  • De Varennes, F. 1996. Language minorities and human rights. Den Haag: Marthinus Nijhoff.
  • Gagiano, J. 1990. The contenders. In Esterhuyse, W. en Du Toit, A. (eds.) The Myth makers: the elusive bargain for South Africa's future. Stellenbosch: Southern Book Publishers.
  • Giliomee, H. 1991. Building a new nation: Alternative approaches. In Cloete, F., Schlemmer, L. and Van Vuuren. D. (reds). Policy options for a new South Africa. Pretoria: RGN Uitgewery.
  • Giliomee, H. 2003. The Afrikaners: Biography of a people. Kaapstad: Tafelberg.
  • Hartshorne, K.B. 1987. Language policy in African education in South Africa 1910-1985, with particular reference to the issue of medium of instruction. In Young, Y. (red). 1987. Essays in honour of LW Lanham: Bridging the gap between theory and practice in English second language education. Kaapstad: Maskew Miller Longman.
  • Herbert, R.K. (red). 1992. Language and society in Africa: The theory and practice of sociolinguistics. Johannesburg: Witwatersrand University Press.
  • Hobsbawn, E. The rise of ethno-linguistic nationalisms. In Hutchinson, J. en Smith, A.D. (reds). 1994. Nationalism. Oxford: Oxford University Press.
  • Johnson, R.W. 2009. South Africa's brave new world: The beloved country since the end of apartheid. Londen: Allen Lane.
  • Kohn, H. 1944. The idea of nationalism. Toronto: Macmillan.
  • Lourens, C.J.A. 2025. 100 jaar 'n amptelike taal: 'n vrolike begrafnis? Maroela Media, 21 Februarie 2025. https://maroelamedia.co.za/debat/diskoers/100-jaar-n-amptelike-taal-n-vrolike-begrafnis/
    » https://maroelamedia.co.za/debat/diskoers/100-jaar-n-amptelike-taal-n-vrolike-begrafnis/
  • Ludick, H. en Breed, A. 2025. 'n Bestekopname en korpus van hedendaagse Wetenskapsafrikaans. Tydskrifvirdie Geesteswetenskappe, 65:86-132.
  • Malan, K. 2008. Observations and suggestions on the use of the official languages in national legislation. SA Public Law/Publiekreg, 23:59-76.
  • Malan, K. 2009. Observations on the use of the official languages for the recording of court proceedings. Tydskrifvir die Suid-Afrikaanse reg / Journal for South African Law. 141-155.
  • Malan, K. 2010a. Die Grondwet, onderwysowerhede en die pad vorentoe vir Afrikaanse skole. 2010. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 50:261-283.
  • Malan, K. 2010b. Observations on representivity, democracy and homogenization. Tydskrifvir die Suid-Afrikaanse reg / Journal for South African Law. 427-449.
  • Malan, K. 2011. The discretionary nature of the official language clause of the Constitution. SA Public Law/Publiekreg, 26:381-407.
  • Malan, K. 2012. 'n Oorweging van die kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse Grondwet. LitnetAkademies, 9:55-78.
  • Malan, K. 2014. Taalverval met besondere verwysing na die ideologieë en praktyke van verstaatliking. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 54:462-481.
  • Malan, K. 2016. Considering an appropriate language policy for judicial proceedings in South Africa. Revue de Droit Linguistique / Journal for Language Law, 20:20-59.
  • Malan, K. 2019 There is no supreme constitution - a critique of statist-individualist constitutionalism. Stellenbosch: African SUN Media
  • Mazrui, A.A. 1975. The political sociology of the English language. Den Haag: Mouton.
  • Mutua, MW. 1995. Why redraw the map of Africa: A moral and legal inquiry. Michigan Journal of International Law, 16:1113-1176.
  • Phillipson, R. 1992. Linguistic imperialism. Oxford: Oxford University Press.
  • Schmied. J.J. 1991. English in Africa: An introduction. London: Longman.
  • Scott. J. 2025. Die stand van Afrikaans in ons regswese in historiese perspektief en 'n vooruitskouing. Tydskrifvir die Suid-Afrikaanse Reg / Journal for South African Law, TSAR 649-669.
  • Steyn, J.C. 1980. Tuiste in eie taal: die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.
  • Steyn, J.C. 1995. Die taalstryd in die oorgangstyd: Gesindhede teenoor Afrikaans 1990-1994. Stilet Supplementum :1-149.
  • Steyn, J.C. 1996. Die taalklousule in die nuwe Grondwet: Moontlike toepassing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 36:272-83.
  • Steyn, J.C. 2014. Ons gaan 'n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal.
  • Venter, A.J. 1998. Questions of national identity in post-apartheid South Africa. Occasional Papers 2. Johannesburg: Konrad Adenhauer Stiftung.
  • Venter A.J.2000. Ons het PW-tyd oorleef. Rapport 29 Oktober 2000 p. 4.
  • Zietsman, P.H. 1992. Die taal is gans die volk: Woelinge en dryfvere in die stryd om die Afrikaner se taal. Pretoria: Unisa Uitgewery.
  • Regspraak
  • AfriForum and Another v University of the Free State 2018 (2) SA 185; 2018 (4) BCLR 387 (KH).
  • AfriForum NPC v Chairman of the Council of the University of South Africa (765/2018) [2020] ZASCA 79.
  • Daniels v Scribante and Another 2017 (4) SA 341; 2017 (8) BCLR 949 (KH).
  • Department: Mpumalanga Department ofEducation and Another v Hoërskool Ermelo and Another 2010 (2) SA 415 2010 (3) BCLR 177 (KH).
  • Gauteng Provincial Legislature In re: Gauteng School Education Bill of1995 1996 (4) BCLR 537; 1996 (3) SA 165 (KH).
  • Lourens v President van die Republiek van Suid Afrika en Andere 2013 (1) SA 499 (GNP).
  • Lungisa v S 2021 1 SACR HHA.
  • MEC for Education in Gauteng Province and Other v Governing Body of Rivonia Primary School and Others 2013 (6) SA 582; 2013 (12) BCLR 1365 (KH).
  • S v Julies 1996 (7) BCLR 899; 1996 (4) SA 313 (KH).
  • Grondwette en wetgewing
  • Basic Education Laws Amendment Act, Act 32 of 2024.
  • Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 32 van 1961 (Die 1961-Grondwet).
  • Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 110 van 1983 (Die 1983-Grondwet).
  • Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 200 van 1993 (Die tussentydse Grondwet).
  • Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Die 1996-Grondwet).
  • Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996.
  • Wet op Landdroshowe, Wet 2 van 1944.
  • Zuid-Afrikawet / South African Act van 1909.
  • Ongepubliseerde proefskrifte
  • Gerber, G.A. 2025. Assessing the beneficiaries of the broad-based Black Economic Empowerment Programme within the normative framework of international law and the Constitution. Ongepubliseerde LLD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.
  • Parlementêre toesprake
  • Mbeki, T. 1998. Reconciliation and nation building. Government Communications (GCIS), 29 Mei 1998.
  • Koerantberigte
  • Sunday Times, 16 April 2017. Afrikaans sentenced to death: English now sole official court language. https://www.timeslive.co.za/sunday-times/news/2017-04-16-afrikaans-sentenced-to-death-english-now-sole-official-court-language/.
    » https://www.timeslive.co.za/sunday-times/news/2017-04-16-afrikaans-sentenced-to-death-english-now-sole-official-court-language/
  • Onderhoude
  • Deacon, J. Uitvoerende hoof van FEDSAS. Telefoniese raadpleging en e-poswisseling. Begin Oktober 2025.

Koos Malan is 'n emeritus professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria en is steeds aktief gemoeid met doktorale leiding. Hy publiseer op die gebied van die teorie van die konstitusionele reg, konstitusionalisme, konstitusionele verandering (naas grondwetlike tekswysiging), konstitusionele interpretasie, minderheidskwessies en taalreg. Benewens nagenoeg sestig akademiese artikels, is hy die outeur van twee akademiese monograwe, Politokrasie - 'n peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir 'n antwoord daarop (wat ook in Engels gepubliseer is), There is no supreme constitution - a critique of statist-individualist constitutionalism en saam met Prof. Ilze Grobbelaar du Plessis 'n studente-handboek in die konstitusionele reg. Hy publiseer gereeld in die populêre media, soos Netwerk24, Politicsweb, BizNews, The Common Sense en Maroela Media oor grondwetlik en politiek-verwante kwessies. Prof. Malan is 'n genoot van Sakeliga.
Koos Malan is an emeritus professor of public law at the University of Pretoria. He is still actively involved in doctoral guidance. He publishes in the fields of the theory of constitutional law, constitutionalism, constitutional change (besides text amendments), constitutional interpretation, minority questions and language law. He has published approximately sixty academic articles. Malan is the author of two monographs entitled Politicracy - an assessment of the coercive logic of the territorial state and ideas around a response to it (also published in Afrikaans), There is no supreme - a critique of statist-individualist constitutionalism and together with Prof Ilze Grobbelaar du Plessis, a student handbook on constitutional law. He regularly publishes in the popular media such as Netwerk24, Politicsweb, BizNews, The Common Sense and Maroela Media on constitutional and political questions. Prof. Malan is a fellow of Sakeliga (Business League).
1 Die Zuid-Afrikawet / South African Act van 1909 was 'n wet van die Britse parlement waardeur die Unie van Suid-Afrika amptelik op 31 Mei 1910 tot stand gekom het.
2 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 32 van 1961.
3 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 110 van 1983, ook aangevul deur ander bepalings soos artikel 2 van die Wet op Landdroshowe, Wet 2 van 1944.
4 Dit is vervat in artikel 3(2) van die tussentydse Grondwet wat gelui het: "Rights relating to language and the status of languages existing at the commencement of this Constitution shall not be diminished, and provision shall be made by an Act of Parliament for rights relating to language and the status of languages existing only at regional level, to be extended nationally in accordance with the principles set out in subsection (9)."
5 Artikel 6(2) belas die staat met die plig om praktiese en positiewe stappe te doen om die status van die amptelike inheemse Afrikatale te verhoog en hulle gebruik te bevorder. Dit is insgelyks diskresionêr, aangesien dit by poltieke besluitnemers en amptenare berus om te bepaal hoe hieraan uitvoering gegee word.
6 Dit het in enkele gevalle gebeur dat die Konstitusionele Hof in dieselfde saak uitsprake in Afrikaans naas Engels gelewer het. Vgl. bv. 'n baie kort uitspraak van Kriegler R in S v Julies 1996 (7) BCLR 899; 1996 (4) SA 313 (KH); in Gauteng Provincial Legislature In re: Gauteng School Education Bill of1995 1996 (4) BCLR 537; 1996 (3) SA 165 (KH) het Kriegler R 'n ses paragrawe lange uitspraak gelewer waarin hy die hoofuitspraak ondersteun het; in Daniels v Scribante and Another 2017 (4) SA 341; 2017 (8) BCLR 949 (KH) het Froneman 'n betreklik breedvoerige minderheidsuitspraak met sy eie bykomstige beredenering ter ondersteuning van die hoofuitspraak gelewer; In AfriForum and Another v University of the Free State 2018 (2) SA 185); 2018 (4) BCLR 387 (KH) het Froneman R sewe paragrawe van sy minderheidsuitspraak waarin hy van die meerderheid verskil het in Afrikaans naas Engels gelewer. Daar het ook in onlangse tye ywer vir uitsprake in van die ander amptelike tale ontstaan, meer bepaald in isiXhosa. Daar is enkele uitsprake in dié taal uit die pen van hoofregter Mandisa Maya. Ter sake is AfriForum NPC v Chairman of the Council of the University of South Africa (765/2018) [2020] ZASCA 79 en Lungisa v S 2021 1 SACR HHA. Vgl. hieroor verder voetnoot 69 van Scott R: "Die stand van Afrikaans in ons regswese in historiese perspektief en 'n vooruitskouing" 2025 (4) Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg 649-669. Ek bedank graag UP- LLB-student, Michael Wessels, vir sy hulp met die versameling van hierdie inligting.
7 Die Engelse teks van artikel 35(3)(k) van die Grondwet lui: "Every accused person has a right to a fair trial, which includes the right to be tried in a language that the accused person understands or, if that is not practicable, to have the proceedings interpreted in that language."
8 Sover vasgestel kan word, het hierdie besluit nooit êrens in amptelike vorm in die Staatskoerant verskyn nie. Daar is wel op 16 April 2017 daaroor in die Sunday Times berig: "Afrikaans sentenced to death: English now sole official court language" https://www.timeslive.co.za/sunday-times/news/2017-04-16-afrikaans-sentenced-to-death-english-now-sole-official-court-language/ [20 Augustus 2025]
9 In strafsake word tolkdienste op staatskoste verskaf op grond van die praktyk wat nog altyd in Suid-Afrika gevolg is. In siviele aangeleenthede is tolkdienste egter vir die rekening van die kliënt(e).
10 Byvoorbeeld 'n direktief van die Noord-Kaapse Adjunk- Provinsiale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gedateer 12 Maart 2025.
11 Dit is basies die lot wat alle eertyds Afrikaanse en tweetalige universiteite te beurt geval het, naamlik die Universiteit van Port Elizabeth (nou die Nelson Mandela University), die Universiteit van Suid-Afrika, die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg), die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Pretoria en tans in groeiende mate ook die Universiteit van Stellenbosch en Noordwes-Universiteit. Dieselfde geld die voormalige technikons, tans bekend as tegniese universiteite.
12
13 Ek gee graag erkenning aan dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS, vir sy insigte met betrekking tot hierdie aangeleentheid. Vgl. verder met betrekking tot die vertolking van hierdie bepalings van BELA die bespreking van Beckman 2025:277-281.
14 Nie een van hierdie tale word as notuleringstaal in die howe gebruik nie; nie een het enige vordering as voertaal op enige van die vlakke in die onderwys gemaak nie. Hulle word, net soos Afrikaans, ook baie gering as skriftelike kommunikasietaal in die staatsdiens gebruik. Hulle word wel nou en dan vir die doel van wetgewing gebruik, maar het om dieselfde redes as wat in 2.1 met betrekking tot Afrikaans verduidelik is, geen praktiese aanwending nie.
15 Artikel 74 lê streng vereistes met betrekking tot die wysiging van die Grondwet neer. Onder andere word 'n tweederde meerderheid van die Nasionale Vergadering daarvoor vereis.
16 Artikel 2 van die Grondwet lui: "This Constitution is the supreme law of the Republic; law or conduct inconsistent with it is invalid, and the obligations imposed by it must be fulfilled."
17 Cerneels Lourens het goeie rede vir die sardoniese artikel "100 jaar 'n amptelike taal: 'n vrolike begrafnis?" Maroela Media 21 Februarie 2025.

Correspondence

koosmalan4@gmail.com

Publication Dates

  • Publication in this collection
    09 June 2026
  • Date of issue
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top