Open-access Die Zondo-kommissie van Ondersoek na Staats-kaping: Wat is die redes vir die nie-implementering van sy vervolgingsaanbevelings?

The Zondo Commission of Inquiry into State Capture: What can explain the absence of prosecutions based on its recommendations?

Abstract

In hierdie bydrae ondersoek ek die vraag waarom daar nie gehoor gegee is aan die aanbevelings rakende vervolgings soos vervat in die verslae uitgereik deur die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping nie. Ek gebruik talle gesigspunte soos vervat in die post-Marxistiese literatuur oor Konflikkriminologie, veral Reiman en Leighton (2020) se Pyrrhus-nederlaagteorie wat sentraal staan in hierdie benadering, om hierdie probleem te ondersoek. Die posisie in China word ook vlugtig onder die loep geneem. Die gevolgtrekking waartoe ek kom, is dat daar heelwat raakpunte bestaan tussen staatskaping, soos deur die Zuma-Gupta kabaal bedryf, en 'n post-Marxistiese lees van misdaad in 'n fel besits- en inkomsteongelyke gemeenskap soos Suid-Afrika. Daarby kom dit voor of die nasionale vervolgingsgesag, gesien in die lig van die voortdurende voortbestaan van die betrokke kriminele kringe ná Zuma se verwydering, na alle waarskynlikheid self gekaap is.

Zondo Kommissie van Ondersoek na Staatskaping; vervolgings; Konflikkriminologie; Zuma-Gupta-kabaal; vervolgingsgesag


Abstract

In this contribution, I consider the possible reasons why none of the accused identified for prosecution by the Zondo Commission of Inquiry into Allegations of State Capture were ever prosecuted. I make use of post-structuralism as my methodology of choice and a post-Marxist theoretical perspective, namely Conflict Criminology, especially Reiman and Leighton's (2020) Pyrrhic Defeat Theory and Box's (2013) theory of the mystification of crime, to explore this phenomenon. Part of my approach is a critical assessment of conventional, mainstream criminology which, would be unable to respond sensibly to my research question. I agree with McLaughlin that the reason for this is, at least in part, the state's inability to reimagine, no less to fund research into, the victims of the wealthy and the politically connected, in most, if not all, Western democracies. By utilising Bourdieu's insight that rebel discourses from both the right and the left of the political spectrum shadow the dominant or the mainstream discourse, I postulate that both Conflict Criminology and state capture are rebel discourses flanking the dominant discourse of the day. State capture is a left-wing encroachment or rebel discourse on the dominant political project at the time, which was a lamentable failure to give effect to the ANC government's mandate to redistribute wealth in post-apartheid South Africa. As a result, an opening existed for the Zuma-Gupta cabal to popularise the mantra of radical economic transformation as a political project with the slogan of white monopoly capital (coined and popularised by the notorious British media house Bain Pottinger). Both Reiman and Leighton's (2020) Pyrrhic Defeat Theory and Box's (2013) theory of the mystification of crime show how this idea of radical economic transformation is merely a mirage to deflect attention away from the real objective of the exercise, namely the enrichment of a small, powerful elite within the ruling party. My plan for exploring this research question is to consider the topic in greater detail. I frame my contribution as an attempt to add insight to the efforts of other dot joiners, to use the well-known words of former Minister of Finance, Pravin Gordhan. This is followed by an exposition of both my methodology of choice, post-structuralism, and my theoretical perspective, Conflict Criminology. The value of post-structuralism lies in both its ability to embrace eclecticism and to tease out nuance. Conflict Criminology's post-Marxist edge is similarly valuable to explore the "distorting mirror" (to use Box's sharp insight into the mystification of power and law by the power elite in society) of ideology in deeply unequal societies, such as South Africa. Following onfrom this, I consider the notion of state capture itself, which includes the profound insight that South Africa has had a long history of this phenomenon. I also ponder Chipkin & Swilling's et al. (2018) definition of state capture as not only far more encompassing than mere corruption, but a form of oligarchy in that it aims to change the rules of the game by allowing only a small section of society to partake in the wealth redistributed in this way. Against this necessary background, I discuss the Zondo Commission of Inquiry into State Capture (why and how it came about) as well as Reiman's Pyrrhic Defeat Theory in greater detail. A discussion follows and a conclusion rounds off this contribution. In the discussion I outline five (5) areas of overlap between state capture and the Conflict Criminological literature on the wealthy and the politically connected capturing the resources of the state for the purposes of diverting the attention from the more monstrous crimes committed by the former, by focusing attention almost solely on the crimes committed by the poor and the powerless. Against this backdrop, brief reference is made to the position in China, where Xi Jinping spared no effort to eradicate corruption. I conclude that the reason for the absence of the implementation of Zondo's recommendations as to the persons deserving prosecutions is because, at least in part, the criminal networks which remained in place after Zuma 's removal, have possibly captured the National Prosecution Authority, meaning that the political will to prosecute these figured individuals is frozen.

Zondo Commission of Inquiry into Allegations of State Capture; prosecutions; post-structuralism; post-Marxist theoretical perspective; Conflict Criminology; Reiman and Leighton's (2020) Pyrrhic Defeat Theory; Box's (2013) theory of the mystification of crime; rebel discourses; radical economic transformation; capture of National Prosecution Authority


1. Inleiding

Hierdie bydrae handel oor die kwessie van staatskaping en in die besonder die vraag waarom die aanbevelings oor moontlike vervolgings, soos uiteengesit deur die Geregtelike Kommissie van Ondersoek na Bewerings van Staatskaping, Korrupsie en Bedrog in die Openbare Sektor, insluitend Staatsorgane, onder die leiding van regter Zondo (Zondo 2022; hierna die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping of bloot Zondo-Kommissie), grootliks op dowe ore geval het. Aangesien hierdie resultaat (geen vervolgings nie ondanks die miljoene wat aan die Zondo-Kommissie gespandeer is) nou min of meer as gedane sake beskou word, word die vraag oor watter teoretiese raamwerk hierdie verskynsel die beste kan verduidelik onder die soeklig geplaas.

In die literatuur is die kwessies wat ter sprake kom by staatskaping reeds belig en uitgelê: wat dit is en hoekom dit gebeur het (Chipkin, Swilling, Bhorat, Buthelezi, Duma, Prins, Mondi, Peter, Qobo & Friedenstein 2018; Pauw 2022; Buthelezi & Vale 2023), die Zondo-Kommissie se sittings en bevindinge self (Zondo 2022; Holden 2023), asook die werkswyse by staatskaping (die ideologiespoeling1 van die sogenaamde wit monopoliekapitaal ("white monopoly capital") wat deur die berugte mediamaatskappy Bain Pottinger in die Verenigde Koningkryk geformuleer is (Williams 2021)). Die vraag waarom geen strafregtelike vervolgings op die Zondo-Kommissie se werksaamhede gevolg het nie, is egter nog nie tot bevrediging beantwoord nie. Dit is hierdie gaping in die bestaande kennis wat ek in hierdie bydrae probeer aanspreek, minstens ten dele. Na my oordeel, soos ek hieronder aandui, is 'n beskouende, filosofies geïnspireerde gesigspunt by sodanige ondersoek van uiterste waarde.

Na 'n deeglike oorsig van die literatuur wat oor die verskynsel van staatskaping opgebou het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die mees bevredigende teoretiese raamwerk of teoretiese besinning wat die nie-implementering van die Zondo-Kommissie se aanbevelings kan verduidelik, die teoretiese gesigspunte is wat uit die Konflikkriminologie as subdissipline ontvou. Ek verwys spesifiek na Reiman en Leighton (2020) se pyrrhus-nederlaagteorie en ander soortgelyke teoretiese gesigspunte wat op 'n post-Marxistiese lees geskoei is.

As uitgangspunt maak my metodologie gebruik van poststrukturalisme tesame met die insig van 'n krities-kriminologiese teoretiese raamwerk, aangesien ek sodanige vennootskap beskou as 'n paslike kombinasie in die ondersoek na my vraagstuk. My sentrale vooronderstelling in hierdie ondersoek is dat die elitevorming binne die kader van die regerende ANC, wat sedert 1994 uitgekristalliseer het, 'n post-Marxistiese teoretiese lens regverdig. Konflikkriminologie se kritiese, post-Marxistiese invalshoek word gevorm deur die belang en noodsaak om dissiplinêre grense te ontken (Young 2011:258). Dit word bevestig deur Michel Foucault se bekroonde insig rakende die paradigmaverskuiwing vanaf absolute na dissiplinêre mag wat gelei het tot gevangenisstraf as die Weste se oorwegende straftoemetingsgesigspunt (sien McLaughlin 2010:162-163).

Ek kom tot die slotsom dat die rede hoekom die persone en instansies wat deur die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping uitgewys is vir vervolging nie daadwerklik vervolg is nie, geleë is in die feit dat die vervolgingsgesag self deur die welgesteldes en/of diegene met politieke verbintenis gekaap is. Verskeie gesigspunte wat ek uit die literatuur ontgin het, het my in staat gestel om tot hierdie slotsom te kom.

Teen hierdie agtergrond skets ek vlugtig my grondplan vir die ontplooiing van my betoog. Eerstens poog ek om my navorsingsvraag omsigtig en duidelik te formuleer, waarna ek my metodologie (poststrukturalisme binne 'n krities-kriminologiese teoretiese raamwerk) verduidelik. Tweedens is dit nodig om die begrip "staatskaping" te ontgin waarna ek die mandaat van die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping sal uitlê. Met hierdie uitgangspunte uiteengesit, bring ek vervolgens Reiman en Leighton se pyrrhus-nederlaagteorie (sowel as ander gesigspunte in die krities-kriminologiese [Konflikkriminologie] literatuur) ter sprake. Ten laaste volg 'n bespreking en 'n slotsom.

2. Navorsingsvraag

In sy voorwoord tot Chipkin et al. (2018) se toonaangewende werk oor staatskaping met die titel Shadow state: the politics of state capture skryf Jonas, voormalige Adjunkminister van Finansies gedurende die Zuma-era, dat akademici 'n verpligting het "to join the dots". So verduidelik Jonas (in Chipkin et al. 2018:xvii) die vroeë begrip van die samehang van staatskaping in die volgende woorde:

By the time Mark [Swilling] and I met, there was already significant pushback against state capture from various sites of accountability, including but not limited to investigative journalists and the media in general, civil society and the judiciary. But we were still observing each new example of state capture as a separate event, denying the connection between them. We were failing to connect the dots. And what was missing was the voice of the academic community - the dot joiners.

Hierdie artikel is met 'n soortgelyke doel daarop gemik om 'n bydrae te maak om die kolletjies met mekaar te verbind ten einde die groter geheel van die prentjie te kan snap. Die gedagte van "joining the dots" het natuurlik sy oorsprong by die voormalige Suid-Afrikaanse Minister van Finansies, Pravin Gordhan.

'n Ander manier om die prentjie in groter samehang te kan waarneem, is deur die werksaamhede van die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping. Die doel van die aanstelling van die Zondo-Kommissie was natuurlik om die regering in staat te stel om die aard en omvang van die probleem te verstaan en dan gepas op te tree. Hoekom is dit belangrik om te verduidelik hoekom daar nie gevolg gegee is aan die Kommissie se vervolgingsaanbevelings nie?

Een van die belangrikste redes is dat gewone Suid-Afrikaners elke dag met staatsorgane of staatsinstellings in aanraking kom (byvoorbeeld met Binnelandse Sake, die polisie, die vervolgingsgesag, om maar net 'n paar te noem) en indien hulle nie die vertroue het dat hul aangeleenthede in goeie trou en onpartydig oorweeg sal word nie, sal daar geen sprake kan wees van die aard van dienslewering waarop alle Suid-Afrikaners geregtig is nie. Die uitwys van die redes of teoretiese raamwerk waarom die skuldiges in die Zondo-era nie vervolg is nie, is dus in almal se belang. Soos sowel Chipkin et al. (2018:13) as Holden (2023:451) argumenteer, het die verwydering van Zuma die kriminele netwerke wat onder sy bewind hoogty gevier het 'n nekslag toegedien of ten minste hul invloed grootliks verswak. Die punt is egter dat tot tyd en wyl al hierdie vorme van kriminaliteit aan die kaak gestel is, sulke netwerke nog steeds potensieel met hierdie misdadige aktiwiteite kan voortgaan en sodoende die publiek / die burgery kan benadeel. Dit geld ook vir toeriste en almal wat gebruik maak van staatsondernemings soos Eskom en Transnet. So wys Holden (2023:451) daarop dat die Kommissie dit goedgedink het dat "a proper strategy be employed to disrupt these [remaining] criminal networks (notably the money-laundering networks)". Chipkin et al. (2018:13) omskryf hierdie aspek van die verskynsel soos volg:

Undoubtedly the power elite centred on the Gupta-Zuma nexus has been critically weakened as the result of Zuma's departure. However, these networks are effective because they are remarkably resilient. They can adapt and morph to meet new circumstances.

Much will depend on the effectiveness of the Judicial Commission of Inquiry into State Capture, which will have the right to refer matters to the prosecuting authorities. (My beklemtoning)

Soos daar in die laaste sin van die voorafgaande aanhaling uitgewys is, was die gevolgtrekkings waartoe die Zondo-Kommissie sou kom ten opsigte van die identifisering van die misdadigers en hul verwagte vervolging iets waarop die meeste Suid-Afrikaners gehoop het. Soos ons nou weet, het dit egter nie gebeur nie en dit is belangrik om ondersoek in te stel na moontlike redes daarvoor.

'n Gepaste metodologie en teoretiese raamwerk is egter nodig ten einde hierdie vraagstuk behoorlik te ontgin en ek wend my vervolgens na hierdie deel van my bydrae.

3. Metodologie en teoretiese raamwerk

My gekose metodologiese benadering vir hierdie bydrae, soos ek in die inleiding uitgewys het, is poststrukturalisme. Olivier (2015) redeneer dat poststrukturalisme se hermeneutiese kentering metodologies gesproke danksy die meer insluitende "beide/en"-benadering grootliks bygedra het tot hierdie metodologiese denkwyse se aansienlike voordeel bo die van ander tradisionele "óf/óf'-metodologiese benaderings wat deur Aristoteles aan ons nagelaat is.

Terwyl postmodernisme klem lê op wording, benadruk modernisme daarenteen die waarde van is/synde. Poststrukturalisme, in teenstelling met die voorafgaande twee benaderings, vind 'n bevredigende balans tussen hierdie twee uiterstes deur hulle saam te bedink (Olivier 2013). Hierdie metodologiese oriëntasie behels gevolglik 'n intellektuele en geestesherrangskikking van die indiwidu se denkwyse op beide 'n bewuste en onbewuste vlak. Die "óf/óf"-denkwyse word dus vervang met 'n sowel/as-benadering tot teoriebewilliging. Olivier (2013:2015) betoog dat twee teenstrydige uiterstes op hierdie wyse met vrug gekombineer kan word indien hulle tesame oorweeg word eerder as die een tot die uitsluiting van die ander. My bydrae sal baat vind by 'n poststrukturalistiese perspektief eerder as by ander benaderings wat oënskynlik wedersyds uitsluitend is.

Vanselfsprekend moet my teoretiese raamwerk ook goed inpas by die bovermelde metodologie. Konflikkriminologie verskil van die hoofstroomdissipline in dié opsig dat laasgenoemde klem lê op empiriese ondersoek as die oorwegende paradigma, terwyl daar by eersgenoemde eerder 'n dringende behoefte aan 'n beskouende benadering tot misdaad bestaan (Carlen 2005:87; Young 2011; Chan 2013:312; Letter 2020:107). Om 'n denkbeeld van die Franse sosioloog Pierre Bourdieu (1930-2002) aan te haal: konflikkriminologie is 'n rebel-diskoers wat maar altyd deur die hoofstroom oorskadu word (Bourdieu 1977:164-165). My gedagte is dat die staat (lees in hierdie geval: Suid-Afrika) voorkeur verleen aan empiriese werk in kriminologie aangesien dit voldoen aan die staat se behoefte om die gemarginaliseerdes, uitgeslotenes en geringgeskattes te kalmeer. Sodoende word hierdie deel van die bevolking rustig en onder beheer gehou. McLaughlin (2010) wys daarop dat hoofstroomkriminologie se klem op sogenaamde objektiewe, empiriese bevindings reeds sedert die sestigerjare deur kritiesgesinde kriminoloë bevraagteken is.

'n Kritiese paradigma eerder as bloot empiriese werk is dus belangrik aangesien dit ruimte skep vir alternatiewe benaderings tot geregtigheid2 (Carlen 2013:90; Currie 2013; McLaughlin & Muncie 2013:xxiv) in die sin van verbeeldingsvlugte gerig op oorbruggingsmoontlikhede na bemagtiging en selfs bevryding. Carlen (2005:83) doen aan die hand dat "a critical criminology must try not only to think the unthinkable about crime, but also to speak the unspeakable about the conditions in which and by which it is known". Ek poog om iets soortsgelyks met hierdie bydrae te doen. Vervolgens ondersoek ek vlugtig die aard van die huidige vorm van staatskaping in Suid-Afrika.

4. Staatskaping

4.1 Wat is staatskaping?

Die begrip korrupsie is nie gelyk aan die nosie van staatskaping nie, hoewel dit wel 'n onderdeel kan vorm van die oorkoepelende begrip staatskaping. Die gedagte van staatskaping is natuurlik ook niks nuuts by die studie van kriminologie nie (Naím 2013).

Op dieselfde trant kan ook daarop gewys word dat staatskaping à la Zuma beslis ook nie die eerste keer is dat die Suid-Afrikaanse staatsorgane en hulpbronne gekaap is vir politieke oogmerke nie. Dit is die moeite werd om Chipkin et al. (2018:ix) se uitstekende definisie van staatskaping redelik uitvoerig aan te haal:

The aim of state capture is not to bypass rules to get away with corrupt behaviour; the term "corruption" obscures the politics that frequently inform these processes, treating it as a moral or cultural pathology. Yet corruption, as is often the case in South Africa, is frequently the result of a political conviction that the formal "rules of the game" are rigged against specific constituencies and it is therefore legitimate to break them. The aim of state capture is to change the formal and informal rules of the game, legitimize them and select the players who are allowed to participate.

In die ontleding van hierdie definisie is dit belangrik om daarop te let dat staatskaping nie net bestaan uit 'n misdadige netwerk nie, maar ook wesenlik 'n politieke beweging behels. Die Zuma-era se staatskaping was boonop ook nie die eerste projek van sy soort in die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Die ander voorbeelde van staatskaping was die destydse stigting van die ou Kaapse verversingspos ten behoewe van die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie, die Britse bewind in die era ná die Boererepublieke en die dekadelange kaping ten behoewe van die ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner ná die Nasionale Party se oorwinning in 1948. In hierdie verband wys Cohen (1973:624) daarop dat sogenaamde "alledaagse" misdaad nie verstaan kan word sonder begrip van die konteks waarin dit gepleeg is nie. Soos ek hieronder sal aantoon, is hierdie gedagtegang ook van toepassing by die misdade van die welgesteldes en diegene met politieke konneksies.

Ek verwys na 'n besondere vorm van staatskaping wat uiters relevant is by hierdie bespreking, naamlik die een wat die dryfveer was vir die vorm van staatskaping wat tans onder bespreking is in hierdie bydrae. So verwys Chipkin et al. (2018:2) na die staatskaping van die korporatiewe wêreld ná die demokratiese verkiesing in 1994 ten einde te verseker dat die land se basiese ekonomiese bestel onveranderd bly in weerwil van die regerende party se verkiesingsbeloftes. Terreblanche (2002, 2014) betoog dat die regerende party nie sy beloftes van herverdeling van batebesit gestand gedoen het nie en eerder 'n neoliberale agenda gevolg het met tragiese gevolge vir die oorgrote deel van die gemarginaliseerdes, uitgeslotenes en geringgeskattes. Volgens Reiman en Leighton (2020:177-180) se Pyrrhus-nederlaagteorie word die aandag afgelei van die (staats)misdade gepleeg deur sy korporatiewe bondgenote deur die aandag op die demonisering van die uitgeslotenes te vestig. In hierdie konteks maak Cohen se opmerking (hierbo) perfek sin.

Dit is binne hierdie konteks dat die Zuma-Gupta-staatskaping verstaan moet word. Hierdie gaping tussen ideaal en werklikheid as nalatenskap van die staat se verkiesingsmanifes het die ruimte geskep vir die daaropvolgende voorbeeld van staatskaping, naamlik dié van die Zuma-Gupta-kabaal (Chipkin et al. 2018:2). So verduidelik Chipkin et al. (2018:2) dan ook die wisselwerking tussen hierdie twee eietydse vorme van staatskaping:

Also well documented is the powerful role played by corporate South Africa during the transition, to ensure that a democratic state could do little to change the basic structure of the economy. This was a form of [state] capture in that powerful elites subverted the broad vision of transformation that inspired the mass democratic movement that had brought down the apartheid state.

Chipkin et al. (2018:1-2) gaan selfs so ver as om aan die hand te doen dat staatskaping vertoon as 'n bekende en herhalende patroon in Suid-Afrika se geskiedenis en dat die ontwikkeling van die politiek en staatsmaking van hierdie land kwalik verstaanbaar is sonder 'n goeie begrip van hierdie verskynsel. Dit is egter ook so, soos Holden (2023:16) aandui, dat die aanbevelings van die Zondo-Kommissie, anders as wat die geval is met 'n hofuitspraak, nie bindend op die staat is nie.

Ek verskil egter van Holden waar hy beweer dat dit die rede is hoekom soveel van die mense wat vir vervolging geïdentifiseer is nou vry rondloop (Holden 2023:16). In die lig van die feit dat die Zondo-Kommissie vier en 'n half jaar geneem het om sy projek te voltooi, meer as 400 dae van sittings gehad het, meer as 300 getuies ondervra het en 19 boekdele gepubliseer het wat altesaam 4 750 bladsye van gekonsolideerde bevindings en aanbevelings bevat (Holden 2023:1), maak dit myns insiens geen sin dat die geïdentifiseerde verdagtes van misdaad (siende dat hul nog nie skuldig bevind is nie), nie vervolg is nie. Was dit dan net 'n akademiese oefening? Sekerlik nie! Ek betoog eerder dat die politieke wilskrag ontbreek het om Zondo se aanbevelings te implementeer en ek doen 'n teoretiese raamwerk aan die hand wat die stand van sake kan verduidelik. Grootes (2024) noem dit selfs "the curious case of the Zondo Commission database and the Justice Department". Anders gestel, met al die getuienis vir suksesvolle vervolgings onder sy beheer kon die Nasionale Vervolgingsgesag nog steeds nie beweeg word om vervolgings van dié wat deur die Zondo-Kommissie geïdentifiseer is van stapel te stuur nie.

Teen hierdie agtergrond opper ek vervolgens die vraag wat die eintlike doel van die daarstelling van die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping was ten einde 'n beter vastrapplek vir my bespreking te vind.

4.2 Waaroor het die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping gegaan?

In 2016 het die destydse Openbare Beskermer, Thuli Madonsela (Public Protector South Africa 2016), 'n verslag uitgebring waarin sy aanbeveel het dat die staatspresident, wat op daardie stadium nog Jacob Zuma was, 'n regterlike kommissie van ondersoek aanstel wat ondersoek kan doen na die bewerings van grootskaalse korrupsie en staatskaping en die aanstelling daarvan in die staatskoerant aankondig. Die spesifieke omvang van haar regstellende mandaat (m.a.w. hoe die probleem aangespreek moet word) was dat Zuma 'n kommissie van ondersoek behoort aan te stel om die verhouding tussen die Gupta-broers en Zuma se eie administrasie te ondersoek. Insiggewend in haar aanbeveling was dat Zuma as staatspresident nie self die regter wat die ondersoek sou lei, kon benoem nie (aangesien hy self betrokke was), maar dat die regter aangewys sou word deur die hoofregter van die land, wat op daardie stadium HR Mogoeng Mogoeng was.

Holden (2023:11) wys daarop daarop dat hierdie aanbeveling van die Openbare Beskermer 'n mens onwillekeurig herinner aan die aanstelling van die Seriti-Kommissie van ondersoek na die wapenskandaal waarin Zuma beskuldig is van onbehoorlike invloed op wapentransaksies. Regter Seriti, wat deur Zuma aangestel is om die wapenskandaal te ondersoek, het, soos algemeen bekend is, 'n betreurenswaardige en uiteraard nuttelose verslag uitgebring waarin hy en sy medevoorsitter, Regter Musi, bevind het dat die wapenaankoopproses grootliks vlekkeloos en sonder tekortkomings verloop het en dat daar geen bewyse van korrupsie gevind is nie. Die Seriti-Kommissie se verslag is in Augustus 2019 deur Pretoria se Hooggeregshof ter syde gestel. Regter-President Mlambo het bevind dat die Seriti-Kommissie duidelik gefaal het om die bewerings van korrupsie enigsins betekenisvol te ondersoek.3 Zuma het op daardie stadium tereggestaan op 783 klagtes van rampokkery, korrupsie, bedrog en geldwassery wat die wapenskandaal betref en het gehoop om die Seriti-verslag, waarin bevind is dat daar geen bewys van misdadige gedrag opgespoor kon word nie, te gebruik in sy verdediging teen hierdie klagtes (News24 2019). Die aanstelling van 'n nuwe kommissie van ondersoek deur Zuma het dus geensins 'n gevoel van vertroue by die algemene publiek geskep nie.

In 'n goeie artikel wat in die aanlyn tydskrif Daily Maverick verskyn het, verbind Feinstein, Holden en Van Vuuren (2019) die wapenskandaal met die huidige vorm van staatskaping wat in hierdie bydrae onder bespreking is, soos volg: "The Arms Deal ushered a corrupt network into South Africa's democratic politics and paved the way for contemporary State Capture". Soos De Haan (1991:208) tereg uitwys, "what we need is not a better theory of crime, but a more powerful critique of [what behaviour constitutes] crime".

So wys Holden (2023:451) ook daarop dat die Kommissie tot die gevolgtrekking gekom het dat "there was 'ample evidence' for the National Prosecuting Authority to consider prosecutions of a very wide range of individuals and for a very wide range of offences". Dit het egter nie gebeur nie, en die vraag wat in hierdie bydrae ondersoek word, is waarom.

In die treffende woorde van Currie (1999), wat op die drumpel van die 21ste eeu gebesig is, behels die taak van die kriminoloog in die nuwe eeu die volgende:

[...] shift[ing] some emphasis away from the accumulation of research findings to better dissemination of what we already know, and to more skillful promotion of sensible policies based on that knowledge - policies both in and out of the criminal justice system.

Teen die agtergrond van Currie se insiggewende opmerking merk ek op dat Jacob Zuma4 in Januarie 2018 uiteindelik beweeg is om teensinnig die aanstelling van die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping aan te kondig. Dit was egter eers ná jarelange litigasie in ons howe waarin die Openbare Beskermer se aanbevelings ten gunste van die werksaamhede van sodanige kommissie bevraagteken is. In hierdie verband wys ek daarop dat die Zondo-Kommissie nege kenmerke van staatskaping uitgelig het. Behalwe vir kenmerke soos dat bronne en mag wat vir publieke gebruike bedoel is vir private behoeftes aangewend word, onbehoorlike invloed oor aanstellings en afdankings en 'n doelbewuste poging om regsoorsig en wetstoepassing te verswak, ens., wys die Kommissie spesifiek ook op die volgende kenmerk/oogmerk van staatskaping:

The use of disinformation and propaganda to manipulate the public discourse, in order to divert attention away from their wrongdoing and discredit opponents. (aangehaal in Holden 2023:19)

Hierdie oogmerk van staatskaping herinner 'n mens pertinent aan Reiman en Leighton (2020) se Pyrrhus-nederlaagteorie, en dus wend ek my vervolgens daartoe (en tot ander gesigspunte in die Konflikkriminologie).

4.3 Reiman se Pyrrhus-nederlaagteorie

Reiman omskryf hul sogenaamde Pyrrhus-nederlaagteorie as 'n proeflopie om die publiek se aandag op die misdade van die gemarginaliseerdes, uitgeslotenes en geringgeskattes (m.a.w. die armsaliges) gevestig te hou en sodoende die aandag af te lei van die meer monsteragtige misdade van die welgesteldes en politieke magsfigure. Elders beskryf ek (Letter 2023: 672) die wisselwerking tussen Box (2013) se Versluieringsteorie en Reiman en Leighton (2020) se Pyrrhus-nederlaagteorie. Alhoewel 'n Pyrrhus-oorwinning verwys na 'n oorwinning wat teen so 'n geweldige prys behaal word dat die uitslag op 'n skynoorwinning neerkom, betoog Reiman en Leighton (2020:166-171) dat 'n Pyrrhus-nederlaag beskryfkan word as 'n nederlaag wat slegs teoreties van aard is, aangesien die resultaat die eintlike doelwit van die oefening was.

So vind die demonisering van die uitgeslotenes of armsaliges as synde kriminogenies toepassing binne hierdie konteks, aangesien dit 'n nuttige doel dien om die aandag van staatsmisdade of dié van die staat se korporatiewe bondgenote af te lei (Reiman & Leighton 2020:177-180). Box (2013:292-293) doen op sy beurt aan die hand dat sommige groepe groter voordeel trek uit die begripsformulering van misdade as ander. Hy betoog in die besonder dat die strafregtelike definisies van misdade soos moord, diefstal en ander ernstige misdade teen 'n persoon en eiendom op so 'n manier geformuleer word dat dit soortgelyke en selfs ernstiger wangedrag uitsluit, terwyl laasgenoemde in groter waarskynlikheid deur welgesteldes en invloedrykes gepleeg sal word.

Oorweeg byvoorbeeld Hall (1988) se ontleding van die gemeenregtelike misdaad van man-op-vrouverkragting as synde "instrument, orifice and gender-specific" en dus 'n patriargale definisie aangesien dit slaan op die gedagte aan "natuurlike" geslagsomgang (d.w.s. penetrasie van die vrou deur die man). Om die fokus te plaas op misdade wat kenmerkend is van die gemarginaliseerdes, uitgeslotenes of geringgeskattes eerder as op dié van welgesteldes of diegene met politieke konneksies, is inderdaad die oogmerk van hierdie proeflopie. Box (2013) voeg toe tot Reiman en Leighton se insigte dat die ware stand van sake aangaande misdaad in die eietydse gemeenskap versluier ("mystification of crime") is. Hy betoog naamlik die volgende:

Maybe what is stuffed into our consciousness as the crime problem is in fact an illusion, a trick to deflect attention away from other more serious crimes and victimising behaviours which objectively cause the vast bulk of avoidable death, injury and deprivation. (Beklemtoning soos in die oorspronklike)

So verwoord Carlen (2013:101-102) dieselfde gedagte binne die konteks van die haalbaarheid van rehabilitasie soos volg:

The concept of rehabilitation, by contrast, has been and still is exclusively focused upon the crimes of the poor and the powerless. It has no relevance to corporate and other powerful criminals posing the most serious criminal risks both locally and globally and very little to the bulk of those presently filling the prisons and who have never had anything to be rehabilitated to.

As die praktyk van rehabilitasie geen vatplek vind by welgesteldes en diegene met politieke verbintenisse nie, soos Carlen betoog, is dieselfde ook van toepassing by die trefwydte van die strafreg. Marqua-Harries, Stewart en Padayachee (2019:35) se gesigspunt rakende Suid-Afrikaanse omstandighede sluit hierby aan, naamlik dat "[considering] the suffering experienced by many in marginalised and oppressed communities, prison is often an extension of community experience, including a space for gang organisation and networking". Geen wonder dan dat McLaughlin (2010:167) betoog dat hoofstroomkriminologie se blinde kol niks anders is nie as die staat se verset of weiering om navorsing oor die slagoffers van die misdade van die welgesteldes en diegene met politieke konneksies te erken en te befonds.

Box (2013:290) het eweneens voortgebou op McLaughlin, Carlen asook Reiman en Leighton se insigte, soos hierbo uiteengesit, en betoog voorts dat die naspeuring van "unreported, unrecorded and non-prosecuted cases" ons sal noop om vrae te stel oor "the validity of official crime statistics and the ideological deformation inherent in these". Soos Reiman en Leighton se Pyrrhus-nederlaagteorie ook uitwys, is regstoepassing gemik op die versluiering van die misdade van die welgesteldes en diegene met politieke konneksies teenoor dié van die armsaliges. In besonder wys Box daarop dat die misdade van laasgenoemde groep oordrewe vergroot word teenoor "everyone else" (Box 2013:291). Die ontginning van hierdie gedagte is belangrik aangesien dit die konteks skep vir die bespreking van staatskaping gekoppel aan poitieke verbintenisse.

Amptelike misdaadstatistiek vertoon dus 'n verwronge beeld aangesien die verskil tussen die ideaal en die werklikheid 'n toenemend ontstellende prentjie daarstel, aldus Box (2013:290). Teen hierdie bruikbare agtergrond gaan ek vervolgens voort met 'n bespreking waarin ek die vele konflikkriminologiese (ofte wel krities-kriminologiese) gesigspunte (wat myns insiens van toepassing is op die verskynsel van staatskaping) in verband bring met die verskynsel self.

Voor ek die bespreking aanvat, verwys ek vlugtig na die posisie in China waar die staatshoof, Xi Jinping, geen steen onaangeroer gelaat het om korrupsie uit te roei nie. Volgens Dong (2025), is Xi se antikorrupsieveldtog daarop gemik om die Kommunistiese Party se gesag af te dwing, nasionale integriteit te verseker en China se internasionale beeld uit te bou. Die ANC kan beslis iets by hom leer.

5. Bespreking

Cohen (1973:624) betoog dan ook dat die misdaadpleging "carried out by the powerful are not only not punished, but are not called 'crime'". 'n Goeie voorbeeld hiervan is die aanloop tot klimaatsverandering, wat nog nie as misdaad gereken word nie, maar wat een behoort te wees en waarby net 'n klein groepie mense finansieel baat gevind het (Klein 2015).

Dit is interessant om daarop te let dat terwyl die Zuma-faksie linksgesinde retoriek of beeldspraak gebruik het (die sogenaamde oorheersing van wit monopoliekapitaal teenoor radikale ekonomiese transformasie) om hul beweging te regverdig, is dit egter ook so, soos Bourdieu (1977:164-165) uitwys, dat rebeldiskoerse van beide kante van die politieke spektrum kan kom om die hoofstroomdiskoers aan te vul. So dui Chotiner (2025) byvoorbeeld in 'n goeie meningstuk in die New Yorker aan dat Donald Trump (nie uniek wat dit betref nie) vanuit 'n verregse politieke posisie daarin geslaag het om die Verenigde State te kaap:

...but Trump, who has consistently condemned the Washington "swamp", is one of many right-wing "populist" leaders and former leaders - Viktor Orbán, of Hungary; Recep Tayyip Erdogan, of Turkey; Narendra Modi, of India; Jair Bolsonaro, the former President of Brazil - who have won election by running against a supposedly corrupt system, and then become embroiled in corruption scandals that often vastly eclipse those of their predecessors.

Teen hierdie agtergrond van die breë politieke spektrum (vanaf óf links óf regs) wat as teelaarde vir staatskaping kan dien, betoog Chipkin et al. (2018:29) dat die aard van staatskaping (wat uit drie fasette bestaan) die volgende behels:

Whereas the promise of 1994 was to build a state that would serve the public good, the evidence suggests that the state institutions are being repurposed to serve the private accumulation interests of a small, powerful elite. The deepening of the corrosive culture of corruption within the state and the efforts to graft a shadow state onto the constitutional state have brought the transformation programme to a halt.

Ek doen aan die hand dat dit die eerste been van staatskaping verteenwoordig. Die tweede been word in die aanhaling hieronder (Chipkin et al. 2018:30) uiteengesit:

The need for radical economic transformation must be rescued from a political project that uses it to mask the narrow ambitions of a power elite that is only really interested in controlling access to rents and retaining political power.

En ten slotte die derde en laaste been:

Instead of the vision of a professional public service and a capable state being realised, a symbiotic relationship has emerged between a constitutional state with clear rules and laws and a shadow state comprising well-organised clientelistic and patronage networks that facilitate corruption and enrich a small power elite. The shadow state feeds off the constitutional state in ways that sap vitality from formal institutions, leaving them empty shells incapable of executing their responsibilities. (Chipkin et al. 2018:31; my beklemtoning)

My gedagtegang is dus dat die kenmerke van staatskaping tydens die Zuma-jare duidelik en effektief ooreenstem met die elemente van Reiman en Leighton (2020) se Pyrrhus-nederlaagteorie. Ek gaan vervolgens voort om die vorm van staatskaping onder bespreking te verduidelik aan die hand van bestaande bronne in die literatuur van die Konflikkriminologie. My ontleding van die aangeleentheid volg die volgende vyf stappe:

Eerstens, Reiman en Leighton (2020:177-180) se Pyrrhus-nederlaagteorie wys daarop dat die welgesteldes en diegene met politieke konneksies die regstelsel herbestem met die oog daarop dat die vervolgingsgesag die volle aandag vestig op die misdade van die gemargina-liseerdes, uitgeslotenes en geringgeskattes sodat die misdade van die eersgenoemde groep versluier word. Dit is egter ook so dat, soos een van my anonieme keurders uitwys, "die verswakking van die polisie en die vervolgingsgesag tref die totale strafregstelsel. Alle misdadigers vind baat." Na analogie van Reiman en Leighton (2020:177-180) se Pyrrhus-nederlaagteorie betoog ek dat by staatskaping die staatsgerigte mandaat van staatsorgane en ondernemings wat staatsbesit is, herbestem word met die oog daarop om welgesteldes en diegene met politieke konneksies te verryk ten koste van die verwagtings van die algemene bevolking (Chipkin et al. 2018:29).5 Hierdie sogenaamde skadustaat tap die energie van die staatsorgane tot die onvermydelike eindresultaat waar die konstitusionele staat nie meer die dryfkrag het om aan legitieme aangeleenthede aandag te skenk nie. Dieselfde opmerking is ook van toepassing by herbestemming binne die konteks van staatskaping. So wys Christie (2017:4) daarop dat die veldtog teen en vrees vir misdaad gebruik word as regverdiging vir drakoniese maatreëls.

Tweedens, soos Box (2013:291) uitwys, word die misdade van die armsaliges oordrewe vergroot, m.a.w. dit ontvang baie aandag van die algemene publiek, teenoor dié van alle ander, veral die misdade van die welgesteldes en diegene met toegang tot politieke mag. Op dieselfde wyse argumenteer ek dat die gedagte aan radikale ekonomiese transformasie (Chipkin et al. 2018:30) wat deur die Zuma-kabaal aangevoer is as die regverdiging vir hul (oorwegend geslaagde) staatskapingsproeflopie, as 'n foefie gebruik word deur die groep bestaande uit die welgesteldes en diegene met politieke konneksies as 'n versluierende spieël om die aandag weg te lei van hul werklike politieke projek (staatskaping en die herbestemming van staats-organe).6 Die kwessie van 'n politieke projek by staatskaping herinner aan Naím (2013) se argument dat die grootste gevaar by misdaadbekamping in die 21ste eeu lê by die probleem van politici wat hul gewig by misdaadkringe ingooi (waar Zuma 'n goeie voorbeeld van hierdie verskynsel is).

Derdens wys Box (2013:290) daarop dat die ontginning van "unreported, unrecorded and non-prosecuted cases" ons sal aanspoor om vrae te stel oor "the validity of official crime statistics and the ideological deformation inherent in these". Op dieselfde trant betoog ek dat die belhamels wat hul skuldig gemaak het aan staatskaping ook nie vervolg gaan word nie. Die ideologiese verwringing van die vervolgingsproses is hier ook duidelik te sien, in wese omdat die vervolging van die indiwidue wat deur die Zondo-Kommissie uitgewys is, nie plaasgevind het nie (Democratic Alliance s.a.; Maseko 2022; Daily Investor 2023; Stone & Ngoepe 2023; Grootes 2024; Steyn 2025).

Vierdens doen Box (2013:290) aan die hand dat die amptelike misdaadstatistiek vertoon as 'n versluierde spieëlbeeld wat drogbeelde optower aangesien die verskil tussen die ideaal en die werklikheid 'n toenemend ontstellende prentjie skilder. Op dieselfde wyse vertoon die simbiotiese verhouding tussen die skadustaat en die konstitutionele staat nie soos dit in werklikheid daarna uitsien nie, maar wel as 'n drogbeeld (Chipkin et al. 2018:31). Die ware aard van dié verhouding is nie vir Jan Alleman sigbaar nie. Dit verteenwoordig inderdaad staatskaping aangesien die staatsorgane wat betrek word, uitgetap en herbestem word vir die private gewin van 'n klein minderheid welgesteldes en diegene met politieke konneksies (soos algemeen bekend).

Vyfdens wys Carlen (2013:101-102) daarop dat die begrip rehabilitasie slegs op die misdade van die gemarginaliseerdes, uitgeslotenes of geringgeskattes slaan, en dit is interessant genoeg hierdie groep mense wat niks het waarna hulle gerehabiliteer kan word nie. Kriegler (2018) toon op dieselfde trant aan dat alle pogings om geweldsmisdaad in Suid-Afrika te bekamp, mank gaan aan die feit dat dit direk verband hou met hoë, onaanvaarbare vlakke van besits- en inkomsteongelykheid. Die reëls van die spel wat vir die gemarginaliseerde groep geld, is duidelik nie op dieselfde wyse van toepassing op die misdade van die welgesteldes en diegene met politieke konneksies nie. Op dieselfde trant betoog Chipkin et al.( 2018:29) dat staatskaping die transformasieprojekte van die staat grootliks ingeperk of selfs beëindig het. Of mens met die transformasieprojekte van die ANC-regering saamstem al dan nie, die verskynsel van staatskaping het die taak van die regering soos dit in die opset van 'n konstitusionele staat verstaan word heeltemal verwring. Om Carlen se beeldspraak te gebruik: staatskaping bevoordeel 'n klein minderheid net soos rehabilitasie gerig is op daardie (groot gros van) oortreders wat niks het om na gerehabiliteer te word nie. Anders gestel: die gemarginaliseerdes in die gemeenskap het reeds finansieel gesproke so min om op terug te val dat hul "rehabilitasie" (indien hulle skuldig bevind sou word aan 'n misdaad) niksseggend sou wees.

In die lig van hierdie vyf verstommende ooreenkomste tussen staatskaping en die literatuur soos vervat in die kritieke kriminologie, meer in besonder soos verwoord deur Reiman en Leighton (2020:177-180) se Pyrrhus-nederlaagteorie, doen ek aan die hand dat die doel van die aanstelling van die kommissie daarin geleë was om juis die beskuldigdes se vervolging te vermy. Die kritieke kriminologiese literatuur verwys inderdaad na die staatskaping van die regstelsel deur die welgesteldes en diegene met politieke konneksies ten koste van alle ander groepe, maar in die besonder van minderbevoorregtes.

Ek verstout my selfs om te redeneer dat die taak van die Zondo-Kommissie juis was om die skuldiges wat by die Zuma-Gupta-staatskapingsoefenlopie betrokke was, te identifiseer. Merten (2019) wys byvoorbeeld daarop dat Zuma se staatskaping (siende dat daar meer as een voorval van staatskaping in Suid-Afrika se geskiedenis voorgekom het) Suid-Afrika 'n rapsie minder as 5 triljoen rand gekos het. Hierdie sweer in die Suid-Afrikaanse psige moet sekerlik uitgesny en versorg word met gemeenskapsgenesing as die doelwit. Teen hierdie agtergrond kan ek beslis die posisie in China, met Xi Jinping se ongenaakbare veldtog teen korrupsie, aan die ANC-regering vir oorweging voorlê.

6. Slotsom

My uitgangspunt en gevolgtrekking is in ooreenstemming met dié van Chipkin et al. (2018:2), naamlik dat geen enkele vorm van staatskaping vir Suid-Afrika aanvaarbaar is nie. Verder dui dit ook daarop dat my ontleding belangrik is ten einde te verseker dat Zuma se nalatenskap van agtergeblewe kriminele netwerke oopgevlek en sover moontlik uitgewis word. Kan dit deels 'n verduideliking bied vir die vraag waarom die vervolging van persone uitgewys as kandidate daarvoor in Zondo se aanbevelings nie plaasgevind het nie? Met ander woorde, is hierdie netwerke nog té kragdadig of magtig om sonder verwyl omvergegooi te word? Anders gestel, is die invloed van voorvermelde kriminele netwerke sodanig dat dit die politieke wil om genoemde persone te vervolg, lamgelê het?

Indien dit wel die geval is, is my ontleding soveel te meer nodig. In hierdie opsig was my gekose metodologie (poststrukturalisme) en teoretiese raamwerk (gesigspunte ontleen aan die Konflikkriminologie) 'n goeie keuse om hierdie vraagstuk te ondersoek.

Teen hierdie agtergrond kom ek tot die gevolgtrekking dat dit verstommend is hoe akkuraat die kenmerke van Box se Versluieringsteorie en Reiman en Leighton se Pyrrhus-nederlaagteorie ooreenkom met die kenmerke van staatskaping à la Zuma soos deur die interdissiplinêre groep navorsers (sien Chipkin et al. 2018:29-31) uiteengesit. Hierdie demonstrasie benadruk die waarde van die Konflikkriminologie as teoretiese raamwerk in die beligting van elitemisdaad in 'n kapitalistiese samelewing. Dit is amper onveranderd ook van toepassing op sogenaamde sosialistiese en outokratiese staatsbestelle, maar daaroor wil ek my nie in hierdie bydrae uitlaat nie. Wat die eersgenoemde situasie betref, ontbreek die politieke wilskrag om vervolgings van stapel te stuur, onder meer omdat die kriminele netwerke, waarna Chipkin et al. (2018) verwys, nog te sterk is en gevolglik onverstoord voortgaan met hul bedrywighede, selfs in die afwesigheid van Zuma, die hoofbelhamel.

Die mening geopper deur Holden (2023), waarna hierbo verwys is, dat die rede waarom daar nie gehoor gegee is aan die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping se vervolgingsaanbevelings nie geleë is in die feit dat die aanbevelings nie bindend is nie, moet dus summier verwerp word as naïef en oningelig. Die miljarde rande, jare se tyd (vier en 'n half jaar) en ontsaglike moeite wat in hierdie oefenlopie belê is, kan nie bloot 'n akademiese oefening bly nie. Daarvoor het ons as 'n veelrassige Suid-Afrika met 'n geskiedenis van pyn en ellende in die lig van amper vier eeue se rasgebaseerde konflik, heeltemal te ver gekom. Dit is so veral omdat my krities-kriminologiese gesigspunte die staatskaping onder Zuma se bestuur as misdaad volgens Reiman en Leighton (2020) se beginsels kon klassifiseer. My vlugtige verwysing na die VSA en China bevestig my gevolgtrekking.

Inderdaad kom ek tot die gevolgtrekking dat die rede waarom nie een van die persone of instansies wat deur die Zondo-Kommissie vir regsvervolging uitgesonder is daadwerklik vervolg is nie, dieselfde is as wat die dryfveer agter Reiman en Leighton (2020) se Pyrrhus-nederlaagteorie en Box (2013) se Versluieringsteorie. Dit is naamlik dat die regstelsel deur die welgesteldes en diegene met politieke konneksies gekaap is, net soos die staat deur Zuma en sy trawante gekaap is, en herbestem is om dié groep se belange te beskerm en te bevorder, ten koste van die vervolgingsgesag se mandaat en die belange van alle Suid-Afrikaners in die algemeen. Deel van die proses is om, net soos die Zuma-kabaal die aandag weggelei het van hul doelwit van private gewin deur die aandag te vestig op die idee van radikale ekonomiese transformasie, die openbare belangstelling gerig te hou op die misdade van armsaliges en weg van verreikende misdade van invloedrykes. Ek doen dus aan die hand dat ek met hierdie bydrae poog om Chipkin et al. (2018:29-31) se definisie van staatskaping uit te brei na 'n kategorie wat nie voorheen as kaping geëien is nie.

Ten slotte wil ek my verstout om die opmerking te maak dat dit geen wonder is nie dat Konflikkriminologie met die gepaardgaande beskouende, filosofiese oogmerk so 'n verwaarloosde akademiese dissipline in Suid-Afrika is nie. Die empiriese kriminologie voer hier die botoon, onder andere omdat dit gerieflik is vir die regerende party om nie te na aan die senustelsel van ons nuwe bewind te kom nie. In die raak woorde van McLaughlin (2010:167), wat hier uiters toepaslik is: the blind spot of conventional criminology retains its steadfast refusal to research victimization by the powerful, not least because the state does not recognize nor fund such research."

BIBLIOGRAFIE

  • Bourdieu, P. 1977. Outline of a Theory of Practice. Translated by R. Nice. Cambridge: Cambridge University Press.
  • Box, S. 2013. Crime, power and ideological mystification. In McLaughlin & Muncie (eds). Criminological perspectives: Essential readings (3rd ed). London: Sage, pp. 287-300.
  • Buthelezi, M. & Vale, P. (eds). 2023. State capture in South Africa: How and why it happened. Johannesburg: Wits University Press.
  • Carlen, P. 2005. In praise of Critical Criminology. Outlines. Critical Practice Studies, 7(2):83-90. https://doi.org/10.7146/ocps.v7i2.2105.
    » https://doi.org/10.7146/ocps.v7i2.2105
  • Carlen, P. 2013. Against rehabilitation; for reparative justice. In Ball, Tauri, O'Brien & Carrington (eds). Crime, justice and social democracy: International perspectives. London: Palgrave Macmillan, pp. 89-104.
  • Chan, J. 2013. Globalization, reflexivity and the practice of Criminology. In McLaughlin & Muncie (eds). Criminological perspectives: Essential readings (3rd ed.). London: Sage, pp. 597-615.
  • Chipkin, I., Swilling, M., Bhorat, H., Buthelezi, M., Duma, S., Prins, N., Mondi, L., Peter, C., Qobo, M. & Friedenstein, H. 2018. Shadow state: The politics of state capture. Johannesburg: Wits University Press.
  • Chotiner, I. 2025. Donald Trump's culture of corruption. The New Yorker, 16 May. https://www.newyorker.com/news/q-and-a/donald-trumps-culture-of-corruption?utm_source=nl&utm_brand=tny&utm_mailing=TNY_Humor_Free_051625&utm_campaign=aud-dev&utm [17 May 2025].
    » https://www.newyorker.com/news/q-and-a/donald-trumps-culture-of-corruption?utm_source=nl&utm_brand=tny&utm_mailing=TNY_Humor_Free_051625&utm_campaign=aud-dev&utm
  • Christie, N. 2017. Crime control as industry: Towards gulags, Western style (3rd ed.). London: Routledge.
  • Cohen, S. 1973. Folk devils and moral panics. London: MacGibbon & Kee.
  • Currie, E. 1999. Reflections on crime and criminology at the millenium. Western Criminology Review, 2(1):np. http://www.westemcriminology.org/documents/WCR/v02n1/currie/currie.html [12 May 2025].
    » http://www.westemcriminology.org/documents/WCR/v02n1/currie/currie.html
  • Daily Investor 2023. Politicians implicated in state capture - where they are now. Daily Investor, 17 July. https://dailyinvestor.com/south-africa/23543/politicians-implicated-in-state-capture-where-they-are-now/ [12 May 2025].
    » https://dailyinvestor.com/south-africa/23543/politicians-implicated-in-state-capture-where-they-are-now/
  • De Haan, W. 1991. Abolitionism and crime control: A contradiction in terms. In Stenson & Cowell (eds.). The politics of crime control. London: Sage, pp. 203-217.
  • Democratic Alliance. s.a. Track the consequences of Zondo's State Capture reports. https://www.da.org.za/statecaptureconsequences [25 April 2025].
    » https://www.da.org.za/statecaptureconsequences
  • Dong, L. 2025. Xi Jinping's Anti-Corruption Campaign and Political Consolidation. In China's Path to Global Status. Singapore: Palgrave, pp. 99-108. Macmillanhttps://doi.org/10.1007/978-981-96-6921-9_8
    » https://doi.org/10.1007/978-981-96-6921-9_8
  • Feinstein, A., Holden, P. & Van Vuuren, H. 2019. Decision to set aside Seriti Commission findings will have a profound impact. Daily Maverick, 21 August. https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-08-21-decision-to-set-aside-seriti-commission-findings-will-have-a-profound-impact/ [14 May 2025].
    » https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-08-21-decision-to-set-aside-seriti-commission-findings-will-have-a-profound-impact/
  • Grootes, S. 2024. Justice delayed, denied, degraded - the curious case of the Zondo Commission database and the Justice Department. Daily Maverick, 14 August. https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-08-14-justice-delayed-denied-degraded-the-curious-case-of-the-zondo-commission-database-and-the-justice-department/ [12 May 2025].
    » https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-08-14-justice-delayed-denied-degraded-the-curious-case-of-the-zondo-commission-database-and-the-justice-department/
  • Hall, C. 1988. Rape: The politics of definition. South African Law Journal, 105:67-82.
  • Holden, P. 2023. Zondo at your fingertips: The definitive guide to the Zondo Report. Johannesburg: Jacana Media.
  • Kriegler, A. 2018. South Africa won't become less violent until it's more equal. The Conversation Africa, 12 September. https://theconversation.com/south-africa-wont-become-less-violent-until-its-more-equal-103116 [18 May 2025].
    » https://theconversation.com/south-africa-wont-become-less-violent-until-its-more-equal-103116
  • Letter, C. 2020. Critical Theory's role in enhancing praxis in post-apartheid South Africa: The case for a critical criminology. Acta Academica 52(2):106-130. https://doi.org/10.18820/24150479/aa52i2/6.
    » https://doi.org/10.18820/24150479/aa52i2/6
  • Letter, C. 2023. Is die strafrehabilitasieparadigma ontslape in Suid Afrika? 'n Besinning oor moontlike beleidsformulering. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 63(3):655-685. http://ojs.tgwsak.co.za/index.php/TGW/article/view/426/410.
    » http://ojs.tgwsak.co.za/index.php/TGW/article/view/426/410
  • Marqua-Harries, L., Stewart, G. & Padayachee, V. 2019. Towards transforming a system: Re-thinking incarceration for youth (and beyond). South African Crime Quarterly, 68:33-40. https://doi.org/10.17159/2413-3108/2019/v0n68a5632.
    » https://doi.org/10.17159/2413-3108/2019/v0n68a5632
  • Maseko, N. 2022. South Africa's Zondo commission: Damning report exposes rampant corruption. BBC, 23 June. https://www.bbc.com/news/world-africa-61912737 [25 April 2025].
    » https://www.bbc.com/news/world-africa-61912737
  • McLaughlin, E. 2010. Critical criminology. In McLaughlin & Newburn (eds). The Sage handbook of criminological theory (3rd ed.). London: Sage, pp. 153-174.
  • McLaughlin, E. & Muncie, J. 2013. Introduction: Theorizing crime and criminal justice. In McLaughlin & Muncie (eds). Criminological perspectives: Essential readings (3rd ed.). London: Sage, pp. xix-xxviii.
  • Merten, M. 2019. State capture wipes out third of SA's R4.9-trillion GDP - never mind lost trust, confidence, opportunity. Daily Maverick, 1 March. https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-03-01-state-capture-wipes-out-third-of-sas-r4-9-trillion-gdp-never-mind-lost-trust-confidence-opportunity/ [18 May 2025].
    » https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-03-01-state-capture-wipes-out-third-of-sas-r4-9-trillion-gdp-never-mind-lost-trust-confidence-opportunity/
  • Naím, M. 2013. The drug trade, the politicization of criminals and the criminalization of politicians. In McLaughlin & Muncie (eds). Criminological perspectives: Essential readings (3rd ed.). London: Sage, pp. 621-629.
  • News24 2019. Seriti arms deal report can no longer be used as a defence by Zuma - former MP Andrew Feinstein. 21 August. https://www.news24.com/seriti-arms-deal-report-can-no-longer-be-used-as-a-defence-by-zuma-former-mp-andrew-feinstein-20190821 [14 May 2025].
    » https://www.news24.com/seriti-arms-deal-report-can-no-longer-be-used-as-a-defence-by-zuma-former-mp-andrew-feinstein-20190821
  • Olivier, B. 2013. Modernism, postmodernism and poststructuralism, the difference. Mail & Guardian Thoughtleader, 24 May. http://thoughtleader.co.za/bertolivier/2013/05/24/modemismpostmodemism-and-poststructuralism-the-difference/ [9 January 2018].
    » http://thoughtleader.co.za/bertolivier/2013/05/24/modemismpostmodemism-and-poststructuralism-the-difference/
  • Olivier, B. 2015. The tacit influences on one's ways of teaching and doing research. Alternation Special Edition, 16:346-371.
  • Pauw, P. 2022. Our poisoned land: Living in the shadows of Zuma 's keepers. Cape Town: Tafelberg.
  • Public Protector South Africa 2016. State ofcapture: A report ofthepublic protector. Pretoria: Government Printers. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201611/stateofcapturereport14october2016_1.pdf [8 May 2025].
    » https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201611/stateofcapturereport14october2016_1.pdf
  • Reiman, J. & Leighton, P. [1979] 2020. The rich get richer and the poor get prison: Thinking critically about class and criminal justice (12th ed). London: Routledge.
  • Simon, J. 2013. Governing through crime. In McLaughlin & Muncie (eds). Criminological perspectives: Essential readings (3rd ed.). London: Sage, pp. 531-546.
  • Steyn, C. 2025. Adv. Glynnis Breytenbach: The TRC & the Zondo Commission - The long, hard fight for justice. BizNews, 5 May. https://www.biznews.com/interviews/breytenbach-trc-zondo-commission-fight-justice [12 May 2025].
    » https://www.biznews.com/interviews/breytenbach-trc-zondo-commission-fight-justice
  • Stone, S. & Ngoepe, K. 2023. Zondo exposed: What the Commission did not want SA to know. Independent on Sunday, 3 January. https://iol.co.za/sundayindependent/new-01-03-zondo-exposed-what-the-commission-did-not-want-sa-to-know/ [25 April 2025].
    » https://iol.co.za/sundayindependent/new-01-03-zondo-exposed-what-the-commission-did-not-want-sa-to-know/
  • Terreblanche, S. 2002. A history of inequality in South Africa, 1652-2000. Pietermaritzburg: University of Natal Press.
  • Terreblanche, S. 2014. Verdeelde land: Hoe die oorgang Suid-Afrika gefaal het. Kaapstad: Tafelberg.
  • Williams, A. 2021. Deep collusion: Bain and the capture of South Africa. Cape Town: Tafelberg.
  • Young, J. [2002] 2011. Critical criminology in the twenty-first century: Critique, irony and the always unfinished. In Carrington & Hogg (eds). Critical criminology: Issues, debates, challenges. Oxford: Routledge, pp. 251-274.
  • Zondo, Justice R.M.M. 2022. Judicial Commission of Inquiry into allegations of state capture, corruption and fraud in the public sector including organs of state: Report. Vol. 1 of 19 volumes. Pretoria: Government Printers. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/202201/judicialcommission-inquiry-state-capture-reportpart-1.pdf [18 January 2022].
    » https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/202201/judicialcommission-inquiry-state-capture-reportpart-1.pdf

Ontvang: 2025-06-06
Goedgekeur: 2026-02-17
Gepubliseer: Maart 2026

Casper Lötter het in 2018 sy PhD in Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Hy is tans 'n konflikkriminoloog verbonde aan Noordwes-Universiteit se Skool vir Filosofie (Potchefstroom) as buitengewone navorsings-genoot. Van sy werk het reeds in Conversation Africa verskyn en hy skryf ook gereeld vir Mail & Guardian se Thoughtleader-rubriek. In 2019 was hy 'n nadoktorale beurshouer van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Casper Lötter obtained his PhD in Philosophy from the University of the Free State in 2018. He is currently a conflict criminologist attached to the North-West University School of Philosophy (Potchefstroom) as an extraordinary research fellow. Some of his work has appeared in Conversation Africa and he also writes regularly for the Mail & Guardian's Thought-leader column. In 2019 he was a postdoctoral fellow of the South African Academy of Science and Arts.
1 Ideologiespoeling verwys na 'n vorm van ideologiese indoktrinasie wat in outokrasieë soos in China en Rusland te vinde is. Hier word geen alternatiewe denkmodelle geduld nie.
2 Al kan daar wel betoog word, soos een van my anonieme keurders uitwys, dat empiriese werk ook deur 'n eiesoortige paradigma onderskraag word.
3 Corruption Watch andAnother v Arms Procurement Commission and Others (81368/2016) [2019] ZAGPPHC 351; [2019] 4 All SA 53 (GP); 2019 (10) BCLR 1218 (GP); 2020 (2) SA 165 (GP); 2020 (2) SACR 315 (GP) (21 August 2019) https://www.saflii.org/za/cases/ZAGPPHC/2019/351.html [14 May 2025].
4 Zuma v Office of the Public Protector and Others (1447/2018) [2020] ZASCA 138 (30 October 2020) https://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2020/138.html [14 May 2025]. So bevind die Hoogste Hof van Appèl (Coram: MAYA P, ZONDI, DAMBUZA and SCHIPPERS JJA and UNTERHALTER AJA) op [35] die volgende: "Mr Zuma was motivaty personal interests in reviewing the Public Protector's decision [and this observation] is buttressed by the following facts. He challenged the remedial action on every conceivable ground. He could have appointed the commission immediately and still sought declaratory relief as to the lawfulness of the remedial action. Mr Zuma's own conduct demonstrates that this route was both available and feasible. On 22 December 2017, while still President, he lodged an appeal against the high court's order [dismissing Zuma's objections to the establishing of the Commission] and stated publicly on 9 January 2018 that the appointment of a commission could not wait any longer whilst his appeal was pending. And at no stage before, or during the review proceedings, did Mir Zuma even suggest - as he now contends - that the Constitution permits the Deputy President to perform the functions of the President, where the latter is unable to do so. That, of course, would have undercut his argument that only the President had the power to appoint a commission of enquiry, and rendered the review application pointless."
5 Een van my anonieme keurders wys tereg daarop dat "'n goeie derde van die burgery op staatstoelae is".
6 Dit is wel so dat "radikale ekonomiese transformasie is nie net op die aganda van die Zuma-groep nie. Dit is ook die beleid van die ANC, meer bepaald die groepering wat Zuma-faksie teenstaan" (soos een van my keurders my herhinder). Die verskil tussen Zuma se benadering en dié van die ANC is egter dat eersgenoemde dit as 'n politeke foefie gebruik om sy misdadige gedrag te verbloem.

Correspondence

casperlttr@gmail.com; ORCID:

Publication Dates

  • Publication in this collection
    09 June 2026
  • Date of issue

History

  • Received
    06 June 2025
  • Accepted
    17 Feb 2026
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Acompañe los números de esta revista en su lector de RSS
Ir para arriba