Open-access Die integrasie van film in Afrikaansonderrig: Praktyke van intermediêrefaseonderwysers

The integration of film in Afrikaans education: Practices of Intermediate Phase teachers

Abstract

Hierdie artikel lewer verslag van navorsing oor die huidige gebruik van film in die Afrikaans-klaskamer van die intermediare fase (Graad 4-6). Die navorsing fokus op die ervarings van onderwysers en hoe - indien enigsins - hulle film in hulle onderrig integreer. Die bevindings toon dat film groot potensiaal het om leerders meer betrokke te maak en taalvaardighede te verbeter, maar dat implementering beperk word deur faktore soos tegnologiese probleme, tydsbeperkings, die persepsie dat film nie 'n gesaghebbende onderrigmiddel is nie, en die hoë taalvlak van sekere films. Sommige onderwysers sien film as 'n waardevolle hulpmiddel wat komplekse konsepte visueel oordra en wat veral nuttig is vir visueel ingestelde leerders. Ander vermy dit weens genoemde uitdagings of die siening dat dit nie as gesaghebbende onderrigtekste gebruik kan word nie. Die bevindings toon verder ook dat film hoofsaaklik gebruik word as aanvullende aktiwiteit om leesbegrip te versterk en letterkunde te ondersteun. Onderwysers meld egter verskeie struikelblokke, soos beperkte toegang tot toepaslike films, beperkte tyd en 'n gebrek aan riglyne in die kurrikulum. Benewens hierdie uitdagings word positiewe uitkomste ook geïdentifiseer: film stimuleer entoesiasme vir Afrikaans, bevorder kritiese denke en bied geleenthede vir die ontwikkeling van visuele en kulturele geletterdheid. Die artikel beveel aan dat onderwysers, ten opsigte van die integrasie van film in Afrikaansonderrig in die intermediêre fase, professionele ontwikkeling ontvang, en dat kurrikulumontwerpers duideliker riglyne verskaf. Die studie beklemtoon die behoefte aan beter ondersteuning en opleiding om film effektief in die Afrikaanse kurrikulum te integreer. Daar word voorgestel dat film 'n kragtige hulpmiddel kan wees om leerderbetrokkenheid en begrip te bevorder.

Film; Intermediäre Fase; Afrikaansklaskamer; Kurrikulum; Onderrigmateriaal


Abstract

This article examines the current use of film in the Afrikaans classroom for the Intermediate Phase, focusing on teachers ' experiences and the integration of film as a teaching tool. In today's media-driven world, visual literacy has become increasingly essential for engaging learners, especially in language education. Although film has the potential to enhance engagement, comprehension, and critical thinking, its integration into the Afrikaans curriculum remains inconsistent. The study investigates how film is utilised in classrooms and teachers' perceptions regarding its effectiveness. Data were gathered through qualitative methods, including open-ended questionnaires and semi-structured interviews with 28 Afrikaans teachers from various schools. The findings reveal a mixed response to the use of film in education. While some teachers embrace film as a dynamic tool for presenting complex concepts in a visually accessible manner, many encounter significant challenges that hinder its effective use. These challenges include a lack of technological resources, time constraints within the school day, and the often-advanced language of films, which can exceed learners 'proficiency levels. The research highlights two main perspectives among teachers. One group views film positively, recognising its ability to motivate learners, develop their language skills, and enrich their understanding of narrative structures. These teachers appreciate film's alignment with the needs of Generation Alpha - learners who are visually oriented and accustomed to interacting with digital media. For them, film is a valuable tool that can facilitate comprehension and foster deeper engagement with content. Moreover, they find that film encourages creativity, enhances critical thinking, and provides a multi-sensory learning experience that benefits a variety of learning styles. In contrast, another group of teachers is more sceptical about the practical implementation in the classroom. These teachers express concerns about the lack of appropriate technological infrastructure, such as projectors or sound systems, at their schools, making the use of film logistically challenging. Additionally, many feel constrained by the rigid time structure of the curriculum, which limits opportunities to incorporate extendedfilm-based activities into their lessons. Some teachers also express uncertainty about the pedagogical value of film, particularly when it is viewed as a form of entertainment rather than a serious educational tool. A recurring theme in the findings is the stigma associated with film in the classroom, with some teachers fearing that its use may be perceived by colleagues or administrators as a sign of laziness or a lack of teaching rigour. Despite these challenges, there is a consensus that film holds significant educational potential. Teachers acknowledge thatfilm can cater to different learning preferences, especially for visual learners, and provide a means to bridge the gap between abstract concepts and real-life applications. Film can be analysed to explore narrative elements such as character development, plot, and theme, similar to traditional literary works. However, the study found that teachers often hesitate to use film in this manner, as they tend to view it as supplementary rather than integral to the curriculum. The research indicates a lack of formal guidance within the curriculum regarding the use of film, with few explicit references to its educational use in the Intermediate Phase guidelines. A significant finding of the study is the gap between the potential offilm as a teaching tool and the practical realities experienced by teachers. While many teachers recognise the benefits of film, few actively incorporate it into their teaching practices. Those who do often report usingfilm sporadically, usually as a means of introducing new topics or for enrichment purposes. Very few teachers consistently use film as a core component of their lesson plans. The article concludes that while film is underutilised in the Intermediate Phase Afrikaans classroom, it has the potential to be a powerful educational tool if teachers receive the proper support. The study emphasises the need for professional development programs focused on the pedagogical uses of film. Furthermore, the inclusion of film in the curriculum should be made more explicit, with clear guidelines on how it can be used to meet language learning objectives. In summary, the article identifies both the opportunities and challenges of using film in the Afrikaans classroom. The findings suggest that while film offers significant benefits for learner engagement and language development, its effective integration requires a shift in both perception and practice. Teachers need to overcome the logistical and cultural barriers currently hindering the use of film and recognise its potential as a legitimate and valuable teaching tool. By doing so, they can enhance the learning experience for their learners, making lessons more relevant, engaging, and suited to the needs of today's visually oriented learners.

Film; Intermediate Phase; Afrikaans Classroom; Curriculum; Teaching Materials


1. Inleiding

Die afgelope paar dekades is die pedagogiese potensiaal van film - veral om leerders se betrokkenheid te verhoog en komplekse konsepte op 'n visueel toeganklike manier oor te dra - toenemend erken (Marquis et al, 2020:130; Cromarty, Young & Elias, 2023). In 'n konteks waar digitale media 'n sentrale rol in die leerders se alledaagse lewens speel, is dit noodsaaklik dat onderwysers in die intermediêrefase-Afrikaansklaskamer ook hierdie hulpmiddels doelbewus aanwend om onderrig meer relevant en effektief te maak.

Ten spyte van die erkenning van film se potensiaal as 'n onderrigmiddel (Blasco et al., 2015; Mishra, 2017), bly empiriese ondersoek na die praktiese aanwending daarvan in die intermediêre fase van die Suid-Afrikaanse konteks beperk. Die gebrek aan omvattende integrasie van film in die kurrikulum laat vrae ontstaan oor hoe die medium werklik deur onderwysers in die praktyk benut word.

Daar word verslag gedoen van die huidige benutting van film deur onderwysers in die intermediêrefase-Afrikaansklaskamer, met 'n spesifieke fokus op hoe film tans in die Huistaal-(HT) en Eerste Addisionele Taal- (EAT) klaskamers as onderrigmiddel geïntegreer en aangewend word. Die doel is om die huidige integrasie van film in die Afrikaansklaskamer van die intermediêre fase te verstaan, potensiële voordele te ondersoek en uitdagings te identifiseer.

2. Literatuuroorsig

Die effektiewe integrasie van film in die klaskamer vereis 'n diepgaande begrip van die konteks van die leerder. Leerders in die intermediêre fase behoort aan Generasie Alfa (gebore tussen 2012 en 2015) en word gekenmerk as "digitale inboorlinge" met 'n sterk visuele ingesteldheid en blootstelling aan gevorderde tegnologie vanaf 'n vroeë ouderdom (McCrindle, Wolfinger & Salt, 2009; Turk, 2017). Hulle verkies interaktiewe, visuele en speelgebaseerde leer-benaderings (Jha, 2020; McCrindle, 2022). Dié eienskappe stel unieke eise aan die onder-rigpraktyk in die Afrikaansklaskamer en benadruk die noodsaaklikheid vir onderwysers om tegnologiese hulpmiddels, soos film, doelbewus in te span om leerders te betrek, en betekenisvolle leer te fasiliteer en hulle visuele geletterdheid te ontwikkel.

2.1 Visuele geletterdheid

Visuele geletterdheid verwys na die vermoë om visuele inligting te interpreteer, krities te evalueer en betekenisvol te benut (Wileman, 1993; Matusiak, 2020:173). In die konteks van film sluit dit die ontleding van kamerawerk, beligting, kleurgebruik en karakterontwikkeling in (Möller, 2007). Stokes (2002:12) vergelyk visuele geletterdheid met taal - dit verg leer, insig en oefening. Om film doeltreffend in die klaskamer aan te wend, moet onderwysers oor basiese vaardighede in visuele analise en beeldspraak beskik. Die Nasionale Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) (DBO, 2011b:18) erken visuele geletterdheid as deel van taalvaardigheid, en sluit die interpretasie van visuele tekste soos reklame en spotprente in - wat 'n basis vorm vir die gebruik van film as onderrigmiddel. Die gebruik van film as 'n visuele medium dra by tot die ontwikkeling van leerders se visuele geletterdheid en die ontginning van 'n dieper betekenis van die visuele medium. Dit is egter kommerwekkend dat film nie noodwendig as 'n geskikte medium in die KABV of Jaarlikse Onderrigplan (JOP) gesien word nie. In die intermediare fase behoort die klem te val op die pedagogiese waarde wat film het en hoe film as teks in die taalklaskamer kan funksioneer.

2.2 Filmstudie en die KABV

Die KABV vir die intermediare fase verwys slegs indirek na film in verband met media-geletterdheid en resensies, sonder om filmstudie as onderriginhoud te spesifiseer (DBO, 2011b:28, 109). In teenstelling hiermee bevat die KABV vir die VOO-fase eksplisiete verwysings na filmstudie as verryking, insluitend aspekte soos dialoog, karakterbeelding en kinematografie (DBO, 2011c:28). Die teenstelling dui op 'n duidelike leemte in die intermediare fase se riglyne - veral gegewe leerders se toenemende blootstelling aan visuele media. Die gebrek aan formele erkenning van film as teks skep onsekerheid oor die geldigheid van film as onderrigmiddel in die intermediare fase. Die leemte kan moontlik juis wees omdat die meeste onderwysers film as 'n medium van genot eerder as 'n erkende tekstipe vir die klaskamer ag, of sien as 'n studie van hoe film vervaardig word en geanaliseer kan word eerder as 'n tekstipe om taalontwikkeling te ondersteun.

2.3 Film as teks

Die KABV van die intermediare fase skryf nie spesifieke tekste voor nie, en laat ruimte vir onderwysers om verskeie teksvorme, insluitend film, te gebruik (DBO, 2011a:25). Film as teks sluit geskrewe,1 ouditiewe en visuele elemente in, wat dit 'n ryk en veelsydige medium vir taalonderrig maak (Steckmest, 2021; Edgar-Hunt, Marland & Rawle, 2015).

Gillard (2019) en Vetrie (2004:39) beklemtoon dat film, soos literêre tekste, ontleed kan word met betrekking tot struktuur, karakterisering en tema, en dat dit geletterdheid, kritiese denke en kreatiewe skryf bevorder. Die gebruik van film as teks stel leerders met verskillende vaardighede in staat om op gelyke vlak deel te neem aan take, en verhoog motivering en betrokkenheid (Teasley & Wilder, 1997).

Film bied dus nie net 'n alternatiewe teksvorm nie, maar ook 'n betekenisvolle manier om leerinhoud aan te bied en literêre konsepte te ontsluit, belyn met taalonderrigbenaderings.

2.4 Onderrigbenaderings

Die KABV stel vier komplementêre onderrigbenaderings voor: teksgebaseerd, kommunikatief, proses en geïntegreerd (DBO, 2011b:14). Film kan op sinvolle wyse by elk van hierdie benaderings soos volg geïntegreer word:

Teksgebaseerde benadering: Film kan as multimodale teks gebruik word om die narratief, die tema en karakterontwikkeling te analiseer, en sluit sodoende natuurlik aan by die fokus op teksstrukture en doelgerigte teksproduksie (Edgar-Hunt et al, 2015).

Kommunikatiewe benadering: Films bied outentieke taalgebruik en kontekste, en ondersteun luister, kyk, praat en skryf binne realistiese situasies (King, 2002:248). Dit bevorder leer deur betekenisvolle taalblootstelling en verhoogde leerderbetrokkenheid (Olivier, 2009:50).

Geïntegreerde benadering: Omdat film geskrewe, ouditiewe en visuele elemente bevat, dien dit as 'n ideale medium vir geïntegreerde taalontwikkeling. Dit bied geleenthede vir veelvuldige assesseringsvorme en sluit aan by die praktiese aard van taalgebruik soos deur die KABV vereis.

Prosesbenadering: Die prosesbenadering word volgens die KABV gebruik wanneer leerders mondelinge en geskrewe tekste moet produseer (DBO, 2011a:14). Vir die gebruik van film word daar vervolgens vanaf die bestaande prosesbenadering in die KABV 'n aangepaste prosesbenadering voorgestel, wat spesifiek voorsiening maak vir die kyk van film. Die aangepaste prosesbenadering lyk as volg (sien Figuur 1):

Film kan benut word binne 'n aangepaste kykproses wat prekyk-, kyk- en postkykaktiwiteite insluit - soortgelyk aan tradisionele leesprosesse. Leerders kan idees voorspel, inligting evalueer en kreatief in verskeie taalvaardighede verwerk.

Hierdie aanpassing is belangrik, aangesien dit 'n leemte uitlig en vul ten opsigte van die gebruik van film as onderrigmateriaal. Film bied 'n ryk visuele ervaring, en deur die proses-benadering van die KABV aan te pas vir 'n kykaktiwiteit, word leerders aangemoedig om aktief deel te neem aan die leerproses waar film as teks aangewend word.

Film ondersteun dus die pedagogiese uitgangspunte van die KABV en verdien om as waardevolle onderrigmiddel oorweeg te word.

Die navorsingsmetodologie om die insigte wat deur die literatuuroorsig verkry is te toets en te verdiep word voorts uiteengesit.

3. Navorsingsmetodologie

Hierdie studie is onderneem binne die raamwerk van 'n empiriese ondersoek, met 'n interpretatiewe paradigma, kwalitatiewe benadering en fenomenologiese navorsingsontwerp. Die metodologiese keuses is gemaak om diepgaande insigte te verkry in die praktyke en subjektiewe ervarings van onderwysers wat film in die intermediêrefase-Afrikaansklaskamer gebruik. Interpretivisme fokus op die diepgaande veranderlikes en faktore wat verband hou met 'n spesifieke konteks. Dit beskou mense anders as bloot fisiese verskynsels, omdat dit diepte en betekenis toevoeg deur die aanname dat mense nie op dieselfde wyse as fisiese verskynsels ondersoek kan word nie (Alharahsheh & Pius, 2020:41). terwyl kwalitatiewe navorsing fokus op nie-numeriese data om komplekse onderwyspraktyke te verstaan (Bhandari, 2020). Die fenomenologiese ontwerp het dit moontlik gemaak om die wese van onderwysers se ervarings met filmgebruik vas te vang en die betekenis wat hulle daaraan heg, te ondersoek. Deur gebruik te maak van die genoemde metodologie kon die studie fokus op ryk, genuanseerde beskrywings wat bydra tot 'n omvattende begrip van hoe film in die klaskameromgewing geïntegreer word. Vervolgens word die deelnemers, data-insamelingsmetodes, analiseprosesse en etiese oorwegings van die studie in meer besonderhede bespreek.

3.1 Deelnemers

'n Doelgerigte steekproef 2 is gebruik met 28 onderwysers, vanuit diverse skole en agtergronde, wat aan die studie deelgeneem het. Die deelnemers het bestaan uit mans en vroue met 1 tot 43 jaar ondervinding. 12 onderwysers onderrig Afrikaans HT, 13 Afrikaans EAT en drie onderrig beide HT- en EAT-leerders in graad vier tot ses. Ryk en gedetailleerde data is opgelewer oor verskillende benaderings tot filmintegrasie.

3.2 Data-insamelingsmetodes

Data is versamel deur gebruik te maak van drie hoofmetodes:

• Oop vraelyste is gebruik om aanvanklike insigte en perspektiewe van die onderwysers te verkry.

• Semigestruktureerde fokusgroeponderhoude is gekies om dieper in die temas wat uit die vraelyste na vore gekom het, in te delf.

• Dokumentanalise is ook gebruik om aanvullende data te verkry en die inligting uit die vraelyste en onderhoude te trianguleer.

3.3 Data-analise

'n Induktiewe data-analise is gebruik. Data is geanaliseer deur middel van 'n tematiese analise om patrone en temas rakende filmintegrasie te identifiseer. Atlas.ti 23-sagteware is gebruik om te help met die kodering en organisering van die data.

3.4 Etiese oorwegings

Etiese goedkeuring is van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Opvoedkunde Etiekkomitee verkry. Deelnemers het vrywillig en anoniem deelgeneem en kon op enige stadium aan die studie onttrek. Vertroulikheid, respek en eerlikheid in verslaggewing is gehandhaaf (Du Plessis, 2016:73; Hartell & Bosman, 2016:40,41).

4. BEVINDINGS

Vervolgens word die kernbevindings van die studie bespreek. Die fokus val op die gebruik van film as onderrigmateriaal in die Afrikaansklaskamer van die intermediare fase. Die data wat ingesamel is, bied insig in onderwysers se houdings teenoor filmgebruik, die waarde wat hulle daarin raaksien, sowel as die struikelblokke wat hulle ervaar. Die bevindings word tematies gerangskik om 'n gestruktureerde uiteensetting van die resultate te gee. Eerstens word daar gefokus op die film self en die verskeie aspekte wat daaruit voortvloei, waarna die ondersoek uitbrei na die rigtinggewende rol van die KABV in verband met filmgebruik in die klaskamer.

4.1 Film

In hierdie afdeling word daar 'n deursigtige blik gewerp op die rol van film in die onderwys vanuit die perspektief van die deelnemers aan die studie. Die bespreking bied 'n dieper insig in die komplekse landskap van filmgebaseerde onderrig en verken die uitdagings en geleenthede in die intermediare fase wat met die gebruik van film as onderrigmiddel gepaard gaan.

4.1.1 Aanmoediging en ontmoediging van filmgebruik

Die klaskamer bied 'n ryk omgewing vir ontdekking en leer, waar onderwysers voortdurend op soek is na innoverende maniere om leerders te inspireer en te bemagtig. Die gebruik van film as onderrigmateriaal is een van die waardevolle hulpbronne wat beskikbaar is om konsepte konkreet en betekenisvol te maak en die leerervaring te verdiep. Die besluit om film in die klaskamer te integreer, is nietemin nie altyd eenvoudig nie, en daar is 'n verskeidenheid faktore wat die besluit beïnvloed. Hierdie kompleksiteit word in die navorsing ondersoek deur die persepsies van onderwysers oor die gebruik van film in die konteks van die KABV te verken. Uit die data het dit duidelik geword dat die gebruik van film in die klaskamer twee uiterste standpunte na vore bring. Aan die een kant het sommige onderwysers die gebruik van film as 'n opwindende en aanmoedigende benadering beskou, dikwels as gevolg van die beskikbaarheid van tegnologie in die klaskamer of die vryheid wat die KABV toelaat om innoverende onderrigmetodes te kies. Aan die ander kant was daar onderwysers wat versoek het om film in die klaskamer te vermy, dikwels as gevolg van beperkings soos die gebrek aan geskikte tegnologie, tydsbeperkings, of die persepsie van 'n hoë graad van taalgebruik in films wat nie by die vaardigheidsvlak van leerders pas nie.

Die meerderheid van die onderwysers wat nie gemotiveerd voel om film te gebruik nie, het aangedui dat die afwesigheid van die nodige tegnologie in hul klaskamers 'n groot hindernis is. Daar was ook deelnemers wat benadruk het dat hulle die besluit om film te gebruik of nie, as 'n persoonlike keuse beskou het, wat dikwels gebaseer was op die spesifieke behoeftes van hul klas en die beperkte tyd wat beskikbaar is vir lesbeplanning.

S4D103 (p. 9): Nee, dit is my eie keuse. Ek mag enige media gebruik om my les te verduidelik en die verwagte uitkomste te verkry.

Hierdie bevindings dui aan dat die bereidwilligheid van onderwysers om film in die klaskamer te gebruik, beïnvloed word deur 'n kombinasie van kontekstuele en praktiese faktore.

4.1.2 Aspekte wat met film onderrig kan word

Wanneer deelnemers gevra is oor watter aspekte hulle belangrik ag in die onderrig van en met film, het daar 'n verskeidenheid van antwoorde na vore gekom. Dit word visueel in Figuur 2 opgesom.

Een opvallende waarneming uit die deelnemers se antwoorde is dat niemand taalvaardigheid of kurrikulumintegrasie as kernaspekte van filmonderrig genoem het nie. Dit kan moontlik verklaar word deur die onderwysers se ervaring en die persepsie dat film nie as 'n teks beskou word nie, maar eerder as 'n aparte genre wat buite die formele kurrikulum staan.

Dit blyk uit Figuur 2 dat die onderwysers film eerder as 'n letterkundige brondokument beskou wat vir narratiewe ontleding gebruik kan word. Hierdie perspektief dui daarop dat die onderwysers film sien as 'n hulpmiddel vir die ontleding van teks, eerder as 'n integrale komponent van die kurrikulum vir die ontwikkeling van taalvaardighede of kurrikulumintegrasie.

Hierdie bevinding benadruk die idee dat film in die onderwys dikwels beskou word as 'n aanvulling tot bestaande materiaal eerder as 'n kernonderrigmiddel. Dit laat ruimte vir verdere verkenning van hoe film meer effektief as teks in die Afrikaansklaskamer geïntegreer kan word om beide taalvaardigheid en kurrikulumdoelwitte te ondersteun.

4.1.3 Die gebruik van film as onderrigmateriaal

In die ondersoek na die huidige gebruik van film as onderrigmateriaal, het 'n tendens na vore gekom van 'n praktyk wat, hoewel bestaande, nie wyd verspreid is nie. Slegs 'n klein groep onderwysers het aangedui dat hulle film aktief in die klas gebruik, en dit was dikwels vir spesifieke doelwitte soos kreatiewe skryf, begripsvrae of as inleiding tot 'n nuwe onderwerp.

Van die deelnemers wat wel idees oor die gebruik van film gedeel het, het die meeste gespekuleer oor hoe film moontlik gebruik kan word, eerder as om bestaande praktyke te beskryf. Hierdie antwoorde was dikwels vaag en het nie 'n duidelike raamwerk vir die potensiële gebruike van film in die Afrikaansklas gebied nie. Byvoorbeeld, daar was geen spesifieke aanduiding dat film vir bepaalde taalvaardighede gebruik sal word nie, maar eerder dat dit addisioneel tot die leesboek sal dien of bloot dat hulle van die TV in die mediasentrum gebruik sal maak.

Die navorsing het aan die lig gebring dat die meeste deelnemers selde of nog nooit film as onderrigmateriaal in hul klasse gebruik het nie. Dit dui op 'n groot leemte in die gebruik van film as onderrigmateriaal. S2D1 het byvoorbeeld aangedui dat film nog nooit as 'n opsie oorweeg is nie:

S2D1 (p. 1): Ek het dit nog nooit in my klas gebruik, film, as sulks nie. Want soos ek self alreeds gesê het, die kinders sukkel al klaar reeds om Afrikaans te verstaan, om basiese beginsels te verduidelik.

Hierdie sienings neem egter nie die verskeie fasette van film as genre in ag nie. Film bevat juis talle visuele wenke wat begrip kan vergemaklik, omdat betekenis soms gegenereer kan word sonder volledige taalbegrip. Die film Wall-E, byvoorbeeld, kommunikeer sterk temas van omgewingsbewustheid en die noodsaaklikheid van menslike verbintenis, hoofsaaklik deur nie-verbale middele soos visuele beelde en karakteraksies. Pixar se animasiekortfilms is ook illustratiewe voorbeelde, aangesien hierdie kortfilms slegs musikale agtergronde en geen dialoog het nie. 'n Moontlike probleem is dat sommige onderwysers slegs vollengtefilms sou oorweeg, en nie die opsie van korter animasies of gedeeltes van films nie. Daar bestaan die moontlikheid dat film in sekere klaskamers hoofsaaklik met passiewe kyk geassosieer word., maar dit is juis hier waar onderwysers aktief betrokke moet wees en taalvaardighede in aktiwiteite moet integreer, en by uitstek as fasiliteerder optree.

Daar was egter 'n handvol deelnemers wat positief teenoor die gebruik van film in die klaskamer gestaan het, en wat film of videomateriaal van tyd tot tyd gebruik. S1D1 het entoesiasties verklaar:

S1D1 (p. 1): So dis 'n "amazing" ding, dit is, jy weet, daar is soveel hulpbronne wat jy kan gebruik,, YouTube, Netflix en al daai het Afrikaanse films op, so dis vir my lekker, want hulle verstaan die storie, hulle kan visueel met dit assosieer.

S4D2 het genoem dat hulle soms die Future-Fun CAPS gebruik, waar kort stories en video's as deel van die inhoud ingesluit word. S9D3 het suksesvolle ervaring met spesifieke Afrikaanse films in die graad 5-klas en het Trompie en die Boksombende gebruik.

Tussen hierdie positiewe ervarings het sommige deelnemers ook hul beperkings uitgelig. S2D2, S3D1 en S7D1 het afsonderlik beklemtoon dat 'n gebrek aan toerusting 'n hindernis is. S7D1 som dit as volg op:

S7D1 (p. 1): Dis vir ons moeilik, want ons het nie noodwendig die toerusting om hierdie goeters te doen nie, ons het nie toegang tot byvoorbeeld projektors, skerms en goeters nie.

S3D1 verduidelik dat leerders eers aan film as 'n teks gewoond moet raak, en dat leerders vroeër blootgestel moet word aan film sodat dit van nut kan wees in die intermediare fase. Die onderwysers is egter ook nie bereid om blootstelling te gee in hul klas nie.

Laastens het S2D2 'n ernstige tekort aan gepaste Afrikaanse films vir die intermediare fase as 'n belemmering in die effektiewe gebruik van film as onderrigmateriaal aangedui.

Die deelnemers se uiteenlopende ervarings en opinies oor filmgebruik werp lig op die verskeidenheid persepsies binne die onderriggemeenskap. Terwyl sommige onderwysers opgewonde is oor die moontlikhede wat film kan bied, bestaan daar ook verskeie uitdagings wat die implementering daarvan bemoeilik en veroorsaak dat ander deelnemers nie film gebruik nie, en selfs nie daarmee wil eksperimenteer nie.

4.1.4 Die rol van film in skoolonderrig

Tydens die ondersoek na die rol van film in skoolonderrig, het deelnemers verskeie insigte gedeel oor die belangrikheid van film as onderrigmateriaal. 'n Oorweldigende meerderheid van 23 deelnemers het erken dat hulle glo dat film belangrik is vir skoolonderrig, alhoewel hulle dit nog nie self gebruik het nie. Volgens die deelnemers kan film leerders se visuele sintuie prikkel, die begrip van stories versterk, en 'n nuwe insig en belangstelling in die vak bied. Daar is erkenning dat film kan help om lesse interessanter te maak en visueel ingestelde leerders te ondersteun.

Een groep deelnemers het gesinspeel op die idee dat die integrasie van film bydra tot 'n toegankliker onderrigervaring en die potensiaal het om taalvaardighede te versterk deur die ontleding van film as teksmedium. Hulle het die alomteenwoordigheid van tegnologie in leerders se lewens benadruk en voorgestel dat die gebruik van film in die klaskamer die belangstelling van leerders kan aanwakker.

Terselfdertyd het 'n klein groepie deelnemers nie film as belangrik in skoolonderrig beskou nie. Hulle het bekommernisse uitgespreek oor die taalvermoë van leerders, die betroubaarheid van bronne, en die reeds veeleisende aard van die onderrigprogram. Dit blyk dat daar 'n mate van onsekerheid is oor die vaardighede wat deur film onderrig kan word. Die uiteenlopende perspektiewe van die deelnemers illustreer die kompleksiteit van die rol van film in skool-onderrig, die uiteenlopende interpretasies van die KABV en die noodsaaklikheid van 'n deeglike oorweging van die voor- en nadele van die gebruik van film as onderrigmateriaal.

4.1.5 Film in vergelyking met ander genres

Die meeste deelnemers meen dat leerders film meer boeiend ervaar as ander genres soos kortverhale of romans. Hulle beskou film as toeganklik, vinnig en visueel stimulerend - faktore wat veral by moderne, visueel ingestelde leerders aanklank vind. Alhoewel 'n klein groepie deelnemers noem dat persoonlike voorkeure steeds 'n rol speel, dui die algemene konsensus op film se potensiaal om leerderbetrokkenheid te verhoog - 'n waarneming wat ooreenstem met bevindings in vorige afdelings.

4.1.6 Die waarde van film as onderrigmateriaal in die onderrig van Afrikaans

Die insluiting van film as 'n teks in die intermediêre fase se kurrikulum is van groot belang. In 'n tydperk waar visuele kommunikasie 'n al hoe groter rol in ons samelewing speel, is dit noodsaaklik vir leerders om die vaardighede te ontwikkel om visuele tekste, soos films, te verstaan en te interpreteer. Films kan ook 'n sterk emosionele impak op kykers hê (Sindelar, 2022), en bied 'n ryk platform vir die verteenwoordiging van diverse kulturele stemme en identiteite, wat waardevolle gesprekke oor kulturele diversiteit en inklusiwiteit kan aanmoedig (Bahat & Ovsenik, 2020). Verder kan die bestudering van films leerders help om emosionele intelligensie te ontwikkel deur die herkenning en begrip van emosies in narratiewe kontekste (Bahat & Ovsenik, 2020), terwyl dit ook help om kritiese denke te konseptualiseer (Baratta, 2019:1).

Hoewel die meeste deelnemers óf geen film in hul klaskamers gebruik het nie, óf dit nog nooit oorweeg het nie, het ek hulle gevra wat hulle as die moontlike voordele van die integrasie van film in die Afrikaansklas beskou. Die genoemde voordele was uiteenlopend, met elke deelnemer (behalwe een wat geen antwoord verskaf het nie) wat verskeie voordele aangedui het. Die perspektiewe van die deelnemers oor hierdie voordele word in Figuur 3 geïllustreer.

Uit die moontlike voordele wat deur die deelnemers oor die gebruik van film in die klaskamer genoem is, blyk daar konsensus te wees dat die integrasie van film as onderrigmateriaal 'n positiewe impak op beide leerders en onderwysers kan hê. Tog word film nie oorwegend deur onderwysers gebruik nie. Die gebruik van film kan die leerervaring meer boeiend maak, leerders se aandag langer behou en hulle meer betrokke by die leerproses maak. Dit kan ook die onderwyser help om verskillende leerstyle te akkommodeer en dalk leerders bereik wat nie deur tradisionele onderrigmetodes bereik word nie.

Volgens die onderwysers lê die kognitiewe voordele van film daarin dat dit leerders help om makliker te onthou, 'n breër verwysingsraamwerk te ontwikkel en beter te presteer. Dit kan leerders help om konsepte beter te internaliseer en hul begrip te verbeter.

Belangrike stellings wat die voordele bevestig, sluit in:

S1D4 (p. 20): Ja, party leerders leer makliker met visuele bronne.

S5D13 (p. 14): Ja, dit kan EAT-leerlinge help met die uitspraak van woorde.

S6D14 (p. 4): Ja, bevorder verbeelding, gebruik meer as een sintuig en bevorder dus geheue. Bevorder taal en taalvaardigheid.

S7D20 (p. 14): Ja, want dan word verskillende leerders geakkommodeer (ouditiewe en visuele leerders). Dit sal die werk ook pret maak vir die leerders.

S9D24 (p. 4): Ja, verbreed leerders se verwysingsraamwerk.

Die resultate dui daarop dat die effektiewe integrasie van film in die Afrikaansklas 'n wye verskeidenheid voordele vir leerders kan inhou. Merkwaardig is dat selfs onderwysers wat nie film gebruik nie, die waarde daarvan erken. Dit wys op 'n bewustheid van die potensiaal van film as onderrigmiddel. Tog bestaan daar 'n duidelike gaping tussen teoretiese aanvaarding en praktiese implementering. Verskeie deelnemers skram steeds weg van die gebruik van film, ondanks hul erkenning van die moontlike voordele. Alhoewel slegs 'n klein groepie onder-wysers tans werklik film integreer, beskou die meerderheid dit tog as relevant en toepaslik binne die Afrikaansklaskamer. So verwoord deelnemer S1D1 dit:

S1D1 (p. 3 ): Want daar is mense wat nie 'n storieboek kan lees nie, maar visueel 'n ding kan sien en dit kan onthou.

S1D2 stem hiermee saam:

S1D2 (p. 3): En veral as hulle ook sukkel om te skryf, soos byvoorbeeld die LSEN-kinders. Van hulle kan nie behoorlik skryf nie, so as hulle die storie kyk, kan hulle vir jou vertel.

Die konteks van die skool speel ook 'n belangrike rol, soos deur S2D1 aangedui:

S2D1 (p. 2): Ek dink dit sal lekker wees vir die kinders, dit sal iets anders wees vir die kinders, dit het 'n plek, maar 'n mens kan ook net die skool in gedagte bring, want soos ek sê ons skool se Afrikaans is baie swak. As dit dalk miskien 'n sterker Afrikaanse Huistaal-skool was, met graagte, maar ek dink dit hang net af van die skool.

Vanuit hierdie onderwysers se stellings is dit duidelik dat hulle film as 'n moontlike teks in die Afrikaansklaskamer sien, en dat dit oorwegend vanuit die konteks van hul leerders se omstandighede en vermoë gemotiveer is en dat die taalvaardigheid wat deur die bepaalde aktiwiteit ontwikkel moet word sentraal moet staan. Dit is egter nie die geval met al die deelnemers nie, soos gesien kan word in S3D2 se siening dat dit slegs van waarde is vir Afrikaans Huistaal-leerders (S3D2, p. 2) of ouer leerders, soos in die Senior of VOO-fase (S3D1, p. 2). S3D3 (p. 1) het selfs aangevoer dat dit moeilik is om films in die laerskool te gebruik.

Volgens laasgenoemde deelnemers het film, soos in die KABV weergegee, geen plek in die intermediêre fase nie. Die deelnemers se beskouing of film gepas is en gebruik kan word in die intermediêre fase is nie die enigste oorweging wat die deelnemers gegee het wanneer hulle die gebruik van film in die Afrikaansklaskamer beoordeel nie. Verskeie onderwysers het aangedui dat dissipline, en die geval van goeie dissipline in hul klaskamer wanneer film gebruik word, 'n groot oorweging is.

Hierdie siening is nie net ondersteun deur die oorgrote meerderheid van die deelnemers nie, maar as 'n sterk oorweging verwoord wanneer hulle besluit oor watter aktiwiteite om in die klas aan te wend. S3D2 het aangedui dat dit juis dalk ook leerders se belangstelling in Afrikaans en Afrikaanse films as medium is wat leerders se dissipline negatief kan beïnvloed, veral as hulle nie verstaan wat in die film gesê word nie.

Alhoewel sommige onderwysers aangedui het dat hulle die waarde van film in dié fase kan sien, en dit sou wou gebruik, was daar egter tydens die skoolbesoeke en die semigestruktureerde fokusgroeponderhoude geen lesplanne of voorbeelde wat die onderwysers kon verskaf om aan te dui dat hulle dit wel in sekere omstandighede gebruik nie. Daarom kan daar van die veronderstelling uitgegaan word dat film op hierdie stadium uiters min tot geensins in die onderskeie onderwysers se klaskamers gebruik word nie, selfs al het verskeie deelnemers aangedui dat die literatuurprojek in die derde kwartaal 'n uitstekende geleentheid sou wees om film in die kurrikulum te integreer (S1D2, S8D1, S6D3, S9D2, S9D3).

4.1.7 Uitdagings ten opsigte van die gebruik van film as onderrigmateriaal

Die potensiaal van film bring unieke uitdagings vir die Afrikaansonderwyser na vore. Tydens die onderhoude het verskeie uitdagings op die voorgrond getree wat dit vir onderwysers moeilik, of selfs onmoontlik, maak om film effektief in die Afrikaansklas te gebruik. Hierdie uitdagings word kortliks in Figuur 4 opgesom.

Die uitdagings wat deur die onderwysers uiteengesit word, is nie net geldig nie, maar kan ook die bereidwilligheid van onderwysers beïnvloed.

Tegnologie- en kragprobleme is uitdagings wat vir die meeste onderwysers onoorkombaar is. Sonder toegang tot tegnologie kan film nie gewys word nie, en as daar geen krag is nie, word die keuses verder beperk.

Dissipline en tyd as uitdagings kan 'n beduidende rol speel. Onderwysers moet nie net voldoen aan die vereistes van die Departement van Onderwys nie, maar dissipline in die klaskamer is ook fundamenteel vir effektiewe leer.

Die uitdagings rakende geskikte hulpmiddels en gepaste taalgebruik in daardie hulpbronne word ten sterkste beïnvloed deur onderwysers se kennis van beskikbare hulpmiddels of hul vaardighede om self hulpbronne te skep. Daarom moet daar ondersoek word wat deelnemers as kriteria vir die seleksie van 'n gepaste film beskou.

4.1.8 Stigma gekoppel aan die gebruik van film in die klaskamer

Tydens die onderhoude het dit ook aan die lig gekom dat sommige onderwysers probeer om die gebruik van film te vermy weens die negatiewe stigma wat in die skoolomgewing daaraan gekoppel word. Hierdie bespreking was beperk tot S1, en word deur die volgende aanhaling bevestig:

S1D1 (p. 8): So in jou kop kan jy nie net agteroor sit en 'n fliek kyk en dan dink dat jy jou kinders leer nie. Dit was vir my 'n groot aanpassing om dit te doen. Want nou dink ek, my kinders kyk fliek. Jy weet, ek is nie 'n onderwyser nie. Maar dan loop daar nou 'n ander onderwyser verby, dan dink hulle die juffrou is veronderstel om klas te gee, nou kyk sy fliek. Ek het dieselfde, ek het ook SWgegee jare terug, toe doen hulle die Khoi-San. Toe wys ek vir hulle daai fliek van Leon Schuster, met die heilige eier waarmee hulle rugby speel. En ek het baie kritiek daarteen gekry. Die hoof, en goed, het gedink ek is besig om te speel. Ek is te lui om my werk te doen, nou wys ek vir hulle 'n fliek. En dis eintlik nie so nie. Maar sien, dis die probleem, dan loop meneer verby ons klasse, en hy sien hier is juffrou besig om Eksodus te kyk. So ek dink dit is ook, daardie perspektief kan ook net verander, van, ons is nie lui nie. Ons gebruik dit regtig as 'n addisionele bron. En jy lewe in die moderne wêreld. Jy het kindertjies wat eerder betrokke gaan wees om, en dit is nie altyd noodwendig die regte ding nie, maar jy gaan 'n kind dalk beter leer deur vir hom 'n TV-program te laat kyk as wat jy gaan leer hoe om boek te lees.

Hierdie aanhaling illustreer die stigma wat sommige onderwysers ervaar oor die gebruik van film in die klaskamer. S1D1 erken die uitdaging om film as 'n leermiddel te aanvaar, veral deur ouer generasies, en dui aan dat negatiewe persepsies verband hou met die idee dat die gebruik van film luiheid of 'n gebrek aan toewyding aan die onderrigproses impliseer. Om hierdie persepsies te verander, moet die onderwyser die pedagogiese waarde van film aan die hoof en ander onderwysers verduidelik. Dit dui ook op 'n groter probleem in die onderwys, waar daar steeds 'n fokus is op tradisionele onderrigmetodes soos stilsit en luister, eerder as om die wêreld te ondersoek, kreatief te wees, en te onderrig op 'n manier wat leerders bevoordeel.

Die feit dat film byvoorbeeld gebruik word om leerders na afloop van eksamens in sommige skoolkontekste op te pas terwyl onderwysers administratiewe take voltooi, dra by tot hierdie stigma. Film kan egter 'n waardevolle onderrigmateriaal wees wat leerervarings kan uitbrei en leerders in 'n moderne konteks kan betrek, mits die onderwyser aktief by die proses betrokke is. Indien ander onderwysers verby die klas loop en waarneem dat die onderwyser saam sit en kyk of ander take verrig terwyl die film vertoon word, sal hulle waarskynlik 'n negatiewe konnotasie daaraan koppel. Indien die onderwyser egter aktief as fasiliteerder tydens die filmvertoning optree, wat insluit om die film te stop, klasbesprekings te lei en leerders te betrek, sal die proses meer opvoedkundig wees en minder geneig wees om 'n negatiewe stigma op te lewer.

Hierdie bespreking toon die noodsaaklikheid van 'n verandering in persepsies oor die gebruik van film in die klaskamer, en die erkenning van die potensiële waarde daarvan as effektiewe onderrigmateriaal.

4.1.9 Opleiding

Aangesien die gebruik van film onder die deelnemers so beperk was, was ek geïnteresseerd om uit te vind of die deelnemers dink dat dit 'n vereiste moet wees dat daar opleiding en blootstelling aan onderwysers gegee word ten opsigte van die gebruik van film in die intermediêre fase.

'n Oorweldigende 17 deelnemers het geantwoord dat hulle wel dink dat opleiding in hierdie verband voordelig kan wees. Sommiges het ook hul antwoorde gestaaf:

S3D8 (p. 10): Ja, onderwysers moet verander en kan aanpas. Mens is nooit te oud om te leer nie.

S5D12 (p. 5): Ja - dit vorm deel van die nuwe ontwikkeling van tegnologie.

S5D14 (p. 15): Ja, want skole doen nog steeds die tradisionele manier van leerders leer. Blootstelling aan ander maniere van leer is belangrik vir ontwikkeling.

S7D21 (p. 15): Ja, want die opleiding sal onderwysers help om film as onderrigmateriaal effektief in die klas te gebruik en toe te pas indien nodig.

Twee deelnemers, S2D6 en S4D10, het toegegee dat dit miskien voordelig kan wees, terwyl ses deelnemers gevoel het dat dit glad nie nodig is nie. Sommige redes hiervoor sluit in:

S2D5 (p. 5): Nee, dit is elke onderwyser se keuse. Film is vir my meer gepas in senior fase en dalk ook vir Huistaalleerders. Eerste Addisionele Taalleerders sukkel om werk te verstaan.

S6D16 (p. 10): Nee, want die KABV maak nie elke kwartaal daarvoor voorsiening nie. Tyd is te min! Daar is wel hulpbronne op die internet beskikbaar wat gebruik kan word wanneer die projekte voltooi moet word.

S7D19 (p. 5): Nee, nie almal gaan die filmgenre gebruik nie.

Weereens is die deelnemers se uiteenlopende opinies 'n bewys dat die skoollandskap veranderend en konteksgebonde is. Nie slegs die skool se konteks is belangrik in hierdie verband nie, maar ook die onderwysers se sterk opinies. Sommiges is baie positief en bereid om aan te pas, en sien die moontlike voordele in, terwyl ander bankvas in hul oortuiging is dat verandering nie voordelig is nie, en dat hulle nie addisionele opleiding sal waardeer of selfs oorweeg nie. Die onderwysers wat genoem het dat opleiding van waarde kan wees, fokus op verskillende elemente van opleiding. Alhoewel daar onderwysers is wat aandui dat opleiding oor die gebruik van film voordelig kan wees, is daar by die meerderheid onderwysers 'n sterk argument vir opleiding in die gebruik van tegnologie.

4.2 Die KABV se voorsiening vir die gebruik van film

'n Sentrale aspek wat belangrik is ten opsigte van die gebruik van film in die Afrikaansklas, is hoe die KABV voorsiening maak vir die gebruik en integrasie daarvan. Die vraelys het 'n vraag bevat oor of die deelnemers dink dat die KABV voorsiening maak vir die gebruik van film.

Agt van die deelnemers het gesê dat die KABV wel voorsiening maak vir die gebruik van film. Sekere deelnemers het ekstra verduidelikings gegee, wat dui op 'n dieper begrip van hoe film in die onderrig ingesluit kan word.

S1D4 (p. 19): Ja, daar word gesê dat daar gebruik gemaak word van verskillende bronne.

S2D6 (p. 8): Ja, want die KABV moedig aan dat leerders se verskillende sintuie tydens die les betrek word.

S4D10 (p. 8): Ja, volgens die KABVhet 'n onderwyser die keuse om die media te gebruik wat die beste gepas is vir 'n spesifieke les, bv. films, DVD 's, musiek, boeke.

S9D26 (p. 9): Ja, onderwysers kry basiese riglyne en kan dan self kreatief raak ten opsigte van media/films in klas of as projek.

Terwyl 15 van die deelnemers die KABV nie beskou as 'n ondersteunende raamwerk vir die gebruik van film as onderrigmateriaal in die klaskamer nie, het sommige deelnemers spesifieke bekommernisse uitgespreek oor hoe die KABV nie aansluit by die behoeftes van moderne leerders nie. Deelnemer 2 is van mening dat die KABV opgedateer moet word om te voldoen aan die behoeftes van die moderne kind, terwyl deelnemer 19 die waarneming gedeel het dat die KABV 'n swaarder klem lê op lees en praat.

'n Aantal deelnemers het gevoel dat die KABV, spesifiek weens die beperkte tyd wat beskikbaar is in die klaskamer teenoor die aktiwiteite wat van onderwysers verwag word om te doen, nie genoeg speling gee vir die gebruik van film nie. Die volgende kommentare illustreer die onderwysers se gevoel hieroor:

S4D9 (p. 3): Nee. Daar is baie min tyd in die KABV om tegnologie te gebruik.

S6D15 (p. 3): Nie lang films nie, want die KABV is volgepak en die werk moet gedoen word. Ekstra geleenthede vir leerders neem ook baie tyd in beslag.

S6D16 (p. 9): Nee, die werkslading is te groot en die tyd is hopeloos te min.

Weereens dui die uiteenlopende sienings oor die rol van die KABV ten opsigte van filmgebruik op die komplekse omgewing waarin onderwysers werk, sowel as die spanning tussen die amptelike riglyne en die realiteite van die klaskamer. Tydsbeperkings in die klas blyk vir die meeste onderwysers 'n struikelblok te wees, veral in terme van die verwagtinge van die KABV Desondanks dui hulle aan dat hulle vryheid het om ander hulpmiddels te gebruik. Film word dikwels uitgesluit omdat die beknopte kurrikulum en beperkte onderrigtyd onderwysers noop om slegs kerninhoud te prioritiseer, wat visuele hulpmiddels soos film as nie-essensieel laat voorkom. Individuele interpretasie speel ook 'n rol in die implementering van die KABV; hoewel dieselfde JOP aan verskillende onderwysers gegee word, interpreteer elke onderwyser dit op 'n unieke manier.

4.2.1 Taalvaardighede

Die manier waarop onderwysers film in die taalonderrig toepas, onthul interessante nuanses in die benadering tot taalvaardighede.

In die vraelyste is die vraag gevra of deelnemers film meer vir sommige taalvaardighede as ander gebruik. 'n Belangrike verskynsel het hiermee aan die lig gekom. Sekere onderwysers weet nie wat die verskil tussen taalvaardigheid en taalstrukture en -konvensies is nie. Hulle gebruik die twee terme as uitruilbare verwysings, met die uitsluitlike betekenis van taalstrukture en -konvensies. Daar is dus 'n duidelike behoefte om die twee terme verder te verduidelik.

Taalvaardigheid verwys na die verskillende vaardighede waarop die KABV fokus: Lees en kyk; Luister en praat; Skryf en aanbied; en Taalstrukture en -konvensies. Taalstrukture en -konvensies daarenteen verwys na die reëls en konvensies wat gebruik word wanneer iemand 'n spesifieke taal praat of skryf. Hierdie reëls sluit grammatika, sintaksis, spelling en ander konvensies in wat bepaal hoe woorde en sinne korrek gevorm en gebruik moet word. Figuur 5 bied 'n visuele opsomming om die twee terme te onderskei.

Nege deelnemers het gesê dat die vraag nie van toepassing is op hul konteks nie, of die antwoord bloot oopgelaat. Sommige van hierdie deelnemers gebruik glad nie film in hul klasse nie, so daarom sou hulle nie hierdie vraag kon beantwoord nie. 'n Moontlike rede kan ook die gaping in inhoudskennis wees, en dat hulle dus nie seker is oor die spesifieke betekenis van die term taalvaardigheid nie.

Deelnemer 7 was die enigste een wat gesê het dat hulle al die taalvaardighede betrek:

S4D7 (p. 3): Nee, 'n balans word gehou om filmgrepe by alle taalvaardighede van toepassing te maak.

Deelnemer 12 het gesê dat hulle film meer gebruik vir luister en praat. Deelnemer 21 gebruik dit meer vir lees en kyk, en deelnemer 25 gebruik film meer in skryf en aanbied, "om boustene van 'n verhaal en karakterisering te onderrig en te ontwikkel".

Dit is duidelik uit die antwoorde dat daar nie 'n algemene opvatting is dat film in al die taalvaardighede gebruik kan word as hulpmiddel nie. Dit wys dat daar duideliker kommunikasie rondom terminologie sowel as metodes in die onderrigpraktyk moet wees, aangesien film juis as teks of onderrigmateriaal gebruik kan word om al vier die taalvaardighede aan te bied. Die feit dat die deelnemers afsonderlik verskeie taalvaardighede genoem het, bewys dat film juis aanpasbaar is en gebruik kan word vir die verskillende taalvaardighede.

4.2.2 Kennis van inhoud en kurrikulum

'n Diepgaande kennis van die kurrikulum en inhoud is krities vir die suksesvolle integrasie van film as onderrigmateriaal. Onderwysers moet begrip hê van watter spesifieke onderrigdoelwitte, kurrikuluminhoud en kurrikulumvereistes deur die gebruik van film bereik moet word. Hulle moet kan bepaal hoe die film inpas by die vakinhoud en die doelwitte van onderrig wat in die KABV en die JOP deurgegee word.

S1D1 noem dat die leerders baie goed is om assosiasies te maak:

S1D1 (p. 2): Dat hulle die lees, die spelling, dit alles kan sien, en dan kan hulle uitspraak hoor op die film.

Leerders leer dus die beste wanneer al vier taalvaardighede by 'n enkele eenheid betrek word, net soos wat die KABV dit voorskryf in die tweeweeklikse onderrigplanne.

Die belyning van die KABV en die JOP, en hoe film daarin pas, is ook 'n belangrike aspek. Hierdie spanning tussen die ideale van die KABV en die praktyk van die JOP moet in ag geneem word wanneer films as onderrigmateriaal gebruik word.

Die bevindings van die studie toon dat die gebruik van film in die Afrikaansklaskamer in die intermediêre fase 'n komplekse en uiteenlopende ervaring is. Aan die een kant sien sekere onderwysers die gebruik van film as 'n opwindende en innoverende onderrigmetode, veral wanneer tegnologie in die klaskamer beskikbaar is. Hierdie onderwysers erken dat film leerderbetrokkenheid bevorder en komplekse konsepte op 'n visuele manier oordra, wat die leerders se leerervaring verryk.

Aan die ander kant het ander onderwysers probleme ondervind met die implementering van film in hul onderrigpraktyke. Die mees algemene uitdagings sluit in die gebrek aan toepaslike tegnologie, beperkte tyd tydens die skooldag, en die hoë taalvlak van films, wat dikwels bo die vaardigheidsvlak van die leerders is. Verder is daar ook 'n algemene wanpersepsie dat die gebruik van film as luiheid beskou word, wat sommige onderwysers ontmoedig om dit as 'n volwaardige onderrigmiddel te gebruik.

Die potensiële voordele van film in die klas word nietemin wyd erken. Film het die vermoë om visuele leerders te betrek, asook om leerders se taalvaardighede, begrip en kritiese denke te ontwikkel deur die ontleding van teks- en narratiewe elemente. Ten spyte van die uitdagings, is daar 'n duidelike erkenning van film se waarde in die onderrig van Afrikaans, veral vir leerders wat beter op visuele stimuli reageer.

5. Gevolgtrekking en samevatting

Die doel van hierdie artikel was om te rapporteer oor die ondersoek van hoe film tans in die Afrikaansklaskamer van die intermediêre fase gebruik word, asook om die uitdagings, geleenthede en voordele wat daarmee gepaard gaan, te identifiseer. Die bevindings het 'n duidelike verdeeldheid onder onderwysers uitgewys. Terwyl sommige die potensiaal van film erken en dit innoverend aanwend om leerders meer betrokke te maak, sukkel ander om dit effektief, indien enigsins, te gebruik weens persoonlike oortuigings, tegnologiese en tydsbeperkings, asook die kompleksiteit van die taal wat in films gebruik word.

Ondanks hierdie uitdagings is daar algemene ooreenstemming dat film waardevolle voordele bied, veral vir visuele leerders. Dit verbeter nie net taalvaardighede en kritiese denke nie, maar bied ook 'n alternatiewe manier om komplekse konsepte te verduidelik en leerderbetrokkenheid te verhoog. Die gebruik van film as 'n onderrigmiddel is nie net relevant vir die huidige digitale generasie nie, maar kan ook 'n kragtige instrument wees om leerderdiversiteit in die klaskamer te akkommodeer.

Die studie beklemtoon egter die behoefte aan beter ondersteuning, opleiding en toegang tot tegnologie om die doeltreffende integrasie van film in die klaskamer te verseker. Deur vir hierdie hindernisse oplossings te bedink, kan film 'n kernkomponent van Afrikaanse taal-onderrig word en as 'n sterk hulpmiddel dien om leerprosesse te verbeter en te verryk.

Verdere navorsing kan fokus op die ontwikkeling van praktiese raamwerke en riglyne vir die gebruik van film wat konkreet in die onderrigpraktyk toegepas kan word. Dit sluit die ontwerp van ondersteuningsmateriaal, die identifisering van toepaslike films vir verskillende taalvlakke, en die ontwikkeling van opleidingsprogramme vir onderwysers in. Empiriese studies wat die uitwerking van gestruktureerde filmintegrasie op leerderuitkomste ondersoek, sal bykomende bewys lewer vir die waarde van film as onderrigmiddel. Só kan toekomstige navorsing bydra tot die samestelling van riglyne wat nie net die teoretiese waarde van film bevestig nie, maar ook die praktiese bruikbaarheid daarvan in die Afrikaansklaskamer verseker.

BIBLIOGRAFIE

Ontvang: 2025-09-15
Goedgekeur: 2026-01-29
Gepubliseer: Junie 2026

Florence Coertzen is 'n dosent in die Departement Afrikaans vir Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit en dien as programkoör-dineerder van die Afstandprogram vir die Intermediare Fase. Sy het meer as 'n dekade se ondervinding in die onderrig van leerders vanaf die Intermediêre tot die Senior fase en VOO-fase. Florence beskik oor 'n meestersgraad in die geesteswetenskappe en 'n PhD in Kurrikulum-studies, met 'n fokus op die gebruik van film in Afrikaansklaskamers.
Haar navorsingsbelangstellings sluit die integrasie van tegnologie in onderrig en leer in, met spesifieke fokus op kreatiewe en multimodale benaderings tot taalonderrig. Sy neem deel aan verskeie gemeenskaps- en navorsingsprojekte wat fokus op tegnologie-ondersteunde en spelgebaseerde leerbenaderings. Florence bring krea-tiwiteit en verbeelding na beide haar navorsing en klaskamerpraktyk, en streef daarna om studente op 'n dinamiese, leerdergesentreerde wyse te begelei.
Buite haar akademiese werk is Florence 'n toegewyde eggenoot en ma van twee seuns, en sy is passievol oor die ontwikkeling van toekomstige onderwysers en die verbetering van Afrikaansonderrig in Suid-Afrikaanse skole.
Florence Coertzen is a lecturer in the Department of Afrikaans for Education at the North-West University and serves as the programme coordinator of the Intermediate Phase distance learning programme. She has over a decade of experience in teaching learners from Intermediate to Senior Phase, as well as the FET phase. Florence holds a master's degree in humanities and a PhD in Curriculum Studies, with a focus on the use of film in Afrikaans classrooms.
Her research interests include the integration of technology in teaching and learning, with a specific focus on creative and multimodal approaches to language teaching. She participates in various community and research projects that focus on technology-assisted and play-based learning approaches. Florence brings creativity and imagination to both her research and classroom practice, and strives to guide students in a dynamic, learner-centred manner.
Outside of her academic work, Florence is a dedicated wife and mother of two sons, and she is passionate about developing future teachers and improving Afrikaans education in South African schools.

Prof. Elma Marais is 'n medeprofessor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), Suid-Afrika. Sy spesialiseer in taalonderrig, kurrikuluminnovasie en opvoedkundige tegnologie, met 'n fokus op die integrasie van digitale hulpmiddels soos kunsmatige intelligensie en spel-gebaseerde pedagogieë, insluitend LEGO® Six Bricks®, in die opleiding van onderwysers.
Sy het 'n PhD in Kurrikulumstudies aan die NWU verwerf en het aanvullende nagraadse kwalifikasies in Hoër Onderwys, Instruksionele Ontwerp en Onderrig met Tegnologie voltooi. In 2023 ontvang sy die instelling se toekenning vir gemeenskapsbetrokkenheid in onderrig en leer vir haar werk met LEGO® as onderrigmiddel in gemeenskappe.
Prof. Marais is 'n ervare navorser op die gebied van opvoedkundige tegnologie, spelgebaseerde leer en onderrigpraktyk. Sy het reeds verskeie befondsde projekte wat fokus op die gebruik van gemengde realiteit in taalonder-wyseropleiding, kunsmatige intelligensie en die insluiting van manipuleerbare hulpmiddels soos LEGO® Six Bricks® in die onderwys gelei en daaraan deelgeneem. Sy publiseer gereeld in akademiese tydskrifte en tree op as studieleier vir MEd- en PhD-studente in verwante velde. Haar werk dra steeds by tot innoverende onder-rigpraktyke en die professionele ontwikkeling van toekomstige opvoeders.
Prof. Elma Marais is an Associate Professor in the Faculty of Education at the North-West University (NWU), South Africa. Her scholarly expertise lies in language education, curriculum innovation, and educational technology, with a particular emphasis on the integration of digital tools such as artificial intelligence and play-based pedagogies, including LEGO® Six Bricks®, in teacher education.
She holds a PhD in Curriculum Studies from the NWU and has completed additional postgraduate qualifications in Higher Education, Instructional Design, and Teaching with Technology. In 2023 she received NWU's institutional award for community engagement in teaching and learning in recognition of her work with LEGO® as a teaching tool in diverse communities.
Prof. Marais is an established researcher in educational technology, play-based learning, and pedagogical practice. She has led and contributed to several externally funded projects focused on mixed reality in language teacher education, the role of artificial intelligence in higher education, and the integration of manipulative learning tools such as LEGO® Six Bricks® in teaching and learning. She publishes regularly in peer-reviewed journals and supervises MEd and PhD students in related fields. Through her research and teaching, she continues to advance innovative pedagogical practices and contribute to the professional development of future educators.

Dr. Rochelle Marais-Botha is 'n Senior Lektor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit, waar sy deel is van die Skool vir Taalonderwys, Vakgroep Afrikaans vir Onderwys.
Haar onderrigverantwoordelikhede sluit Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal in, met 'n fokus daarop om toekomstige opvoeders toe te rus met sterk vakkennis en pedagogiese vaardighede. Dr. Marais-Botha se navorsing sentreer rondom die integrasie van tegnologie as pedagogiese hulpmiddel in die Afrikaanse klaskamer, met 'n besondere belangstelling in die ontwikkeling van innoverende onderrigbronne wat taalonderrig en -leer bevorder. Haar akademiese werk weerspieël 'n sterk verbintenis tot die bevordering van onderrigpraktyke deur digitale hulpmiddels en interaktiewe metodologieë wat leer-derbetrokkenheid versterk.
Sedert haar aanstelling in 2013 het sy betekenisvolle bydraes gelewer tot onderrig, navorsing en programontwikkeling. Sy dien tans as programleier van die BEd Intermediêre Fase, 'n rol waarin sy toesig hou oor kurrikulumkoördinering, programgehalte en studente se akademiese ontwikkeling.
Deur haar leierskap, onderrig en navorsing lewer dr. Marais-Botha 'n wesenlike bydrae tot die vooruitgang van Afrikaanse onderwys en onderwysersopleiding, en verseker sy dat gegradueerdes goed voorberei is vir meertalige en tegnologies dinamiese klaskameromgewings.
Dr Rochelle Marais-Botha is a Senior Lecturer in the Faculty of Education at North-West University, where she serves within the School of Language Education, Subject Group Afrikaans for Education.
Her teaching responsibilities include Afrikaans Home Language and First Additional Language, where she focuses on preparing future educators with strong subject knowledge and pedagogical expertise. Dr Marais-Botha's research is centred on the integration of technology as a pedagogical tool in the Afrikaans classroom, with a particular interest in innovative resource creation that enhances language teaching and learning. Her scholarship reflects a strong commitment to advancing teaching practices through digital tools and interactive methodologies that foster learner engagement. Since her appointment in 2013, she has made significant contributions to teaching, research, and programme development. She currently acts as Programme Leader for the BEd Intermediate Phase, a role in which she oversees curriculum coordination, programme quality, and student academic development.
Through her leadership, teaching, and research, Dr Marais-Botha contributes to the advancement of Afrikaans education and teacher training, ensuring that graduates are well-prepared for multilingual and technologically dynamic classroom environments.
1 Film as teks bevat geskrewe elemente soos draaiboeke, onderskrifte, tekste in die beeld (soos aanhalings of SMS'e), en titel- of krediettonele, wat almal gebruik kan word om lees- en skryfvaardighede in die taalonderrig te versterk.
2 'n Doelgerigte steekproef is 'n navorsingsmetode waarin deelnemers bewustellk gekies word omdat hulle spesifieke eienskappe of ervaringe het wat relevant is vir die studie.
3 In hierdie artikel word skole geïdentifiseer as S1, S2, ensovoorts, en deelnemers word benoem volgens hul skool en hul volgorde van deelname aan die studie. Byvoorbeeld, S3D4 verwys na die vierde deelnemer van Skool 3.

Publication Dates

  • Publication in this collection
    29 June 2026
  • Date of issue

History

  • Received
    15 Sept 2025
  • Accepted
    29 Jan 2026
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Acompanhe os números deste periódico no seu leitor de RSS
Ir para o topo