Abstract
Die reg op behuising is 'n fundamentele mensereg, maar die gebrek aan konteks-spesifieke wetgewing en beleid oor die reg op behuising maak behuising ontoeganklik vir 'n aansienlike aantal mense wat in Afrika-stede woon. Hierdie oorsigartikel ondersoek die uitdagings van inklusiwiteit en billikheid in die verskaffing van behuising binne die raamwerk van die pan-Afrikaanse stad om wetlike raamwerke te verskaf vir beleidmakers, stedelike beplanners en belanghebbendes wat daartoe verbind is om die reg op behuising en die visie van die pan-Afrikaanse stad te verwesenlik. Dit fokus spesifiek op vier uiteenlopende Afrika-lande - Suid-Afrika, Uganda, Tanzanië en Nigerië - vir insigte in die veelvlakkige aard van behuisingsregte. Die artikel begin met 'n oorsig van die sleutelkonsepte (behuising, pan-Afrikaanse stad, billikheid, inklusiwiteit, beleidsbeplanning), gevolg deur 'n oorsig van die uitdagings van inklusiwiteit en billikheid in elk van die geselekteerde lande binne die konteks van die reg om behuising en die pan-Afrikaanse stad. Die artikel hersien dan die geselekteerde lande se pogings om die uitdagings binne die raamwerk van relevante internasionale menseregte-instrumente en die verskillende lande se grondwetlike, wetge-wende en beleidsraamwerke aan te spreek. Die konklusie is dat die reg op behuising in die pan-Afrikaanse stad 'n ambisieuse doelwit bly, met talle uitdagings om inklusiwiteit en billikheid te bewerkstellig. Dit word aanbeveel dat Afrika-lande meer aandag gee aan die reg op behuising binne die pan-Afrikaanse stad, met die klem op die behoefte aan samewerkende pogings om toegang tot veilige, voldoende en bekostigbare behuising te verseker. Dit kan onder meer gedoen word deur inligting en kennisdeling, gesamentlike infrastruktuurontwikkeling, oorgrens-samewerkings, tegnologie-oordrag en streeksfinansieringsmeganismes.