Open-access Informele nedersettings en agterplaasverhurings deur 'n sosiale volhoubaarheidslens - 'n gevallestudie in Oudtshoorn, Suid-Afrika

Abstract

Sosiale volhoubaarheid is 'n beduidende navorsingsveld in post-apartheid Suid-Afrika gegewe die uitdagings en ongelykhede wat veral in stedelike gebiede in die gesig gestaar word waar miljoene in informele nedersettings en informele agterplaasverhurings gehuisves word. Hierdie artikel ondersoek die informele agterplaasverhurings verskynsel in Suid-Afrika deur 'n sosiale volhoubaarheidslens gefokus op 'n gevallestudie in Bridgton en Bongolethu, Oudtshoorn. Kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsingsbevindinge dui op verskeie eienskappe ter ondersteuning van sosiale volhoubaarheid, gerugsteun deur familiële verbintenisse tussen verhuurders en hul agterplaashuurders. Die artikel onthul ook sekere uitdagings tot sosiale volhoubaarheid wat deur agterplaasverhuring teweeg gebring word, hoofsaaklik toegeskryf aan die kwaliteit van strukture en ander sosiale kwelpunte. In die geheel, verskaf die artikel ' gekontekstualiseerde blik op sosiale volhoubaarheid en die informele agterplaasverhuringsektor en bied aan owerhede en ander besluitnemers 'n meer genuanseerde begrip van die kompleksiteit en potensiaal wat die sektor in kleiner dorpe en die res van Suid-Afrika inhou.

Sosiale volhoubaarheid; lae-inkomste behuising; informele agterplaasverhuring


location_on
University of the Free State University of the Free State, Bloemfontein, Free State, ZA, 9301, Tel: +27 51 401 3546 - E-mail: trp@ufs.ac.za
rss_feed Acompañe los números de esta revista en su lector de RSS
Ir para arriba