Abstract
'n Laekostelugredery oorweeg die implementering van 'n selfdiens-bagasie-afleweringstelsel, aangesien die huidige inboekstelsel tot buitensporige wagtye vir passasiers lei. Die navorsing wat in hierdie artikel aangebied word, gebruik diskrete-gebeurtenissimulasie om die uitvoerbaarheid van die voorgestelde stelsel te ondersoek. Die resultate van verskeie simulasie-eksperimente toon dat die implementering van selfdiens-bagasie-afleweringstoonbanke passasiers se wagtye aansienlik kan verminder, mits dit toepaslik met gebruikersaanvaardingsvlakke belyn word. Hierdie studie lewer 'n bydrae tot die veld van lughawebedryfsbestuur deur die voordele van selfdiens-bagasie-afleweringstelsels aan die hand van 'n Suid-Afrikaanse gevallestudie te illustreer, en deur 'n beter begrip van die moontlike uitwerkings en risiko's van so 'n stelsel in 'n ontwikkelende land te bevorder.




