Abstract
Hierdie artikel identifiseer noodsaaklike ondersteuningsfunksies van projekbestuurskantore (PBKe) vir verskillende vlakke van organisatoriese projekbestuur-volwassenheid. 'n Gevalstudie vergelyk 'n PBK en 'n klein projekte departement van 'n Suid-Afrikaanse petrochemiese maatskappy. Die ontwikkelingsdrywers van organisatoriese projekbestuur-volwassenheid en noodsaaklike PBK ondersteunings-funksies is vir beide strukture geïdentifiseer. Dit blyk dat die noodsaaklike PBK-funksies afhang van die vlak van organisatoriese projekbestuur-volwassenheid, maar ook beïnvloed word deur besigheids-behoeftes. Die optimale vlak van organisatoriese projekbestuur-volwassenheid hang af van spesifieke besigheidsvereistes, en vereis nie noodwendig die hoogste vlak van organisatoriese projekbestuur-volwassenheid nie.








