Abstract
Hierdie artikel stel 'n robuuste raamwerk bekend om voorspellings van projektydlyne in wolkgebaseerde ondernemingshulpbronbeplanning-stelsels (ERP-stelsels) te verbeter deur tradisionele projekbestuurs-tegnieke, naamlik die kritieke-padmetode (CPM) en die program-evaluerings- en hersieningstegniek (PERT), met gevorderde masjienleermetodes te kombineer. Die kernprobleem is dat tradisionele projekbestuurstegnieke soos CPM nie onsekerheid in projektydlyne doeltreffend kan hanteer nie. Die kenmerke vir die datastel is uit die CPM- en PERT-raamwerk afgelei en met die 4M-raamwerk, naamlik mens, metode, masjien en materiaal, in verband gebring om te bepaal watter soorte onsekerhede tydens die projek voorgekom het. Die random forest-algoritme is as die primêre voorspellingsinstrument gebruik, terwyl 'n neurale netwerkmodel ook as maatstaf gebruik is om prestasie volgens metrieke soos akkuraatheid, presisie, sensitiwiteit en F1-telling te vergelyk. Die resultate het, soos verwag, getoon dat die random forest-model beter presteer het. Deur kenmerke wat uit CPM en PERT afgelei is, te integreer, kon die model kritieke faktore identifiseer, waaronder "metode" en "masjien", wat projekdoeltreffendheid sterk beïnvloed. Die raamwerk het 'n byna volmaakte klassifikasieakkuraatheid behaal (AUC: 0,997), wat die doeltreffendheid daarvan demonstreer om onsekerhede te hanteer en datagedrewe besluitneming ter verbetering van projekuitkomste moontlik te maak.















