Open-access Die gebruik van kleur in aanlyn woordeboeke, met oorweging van drie Afrikaanse woordeboeke

The Use of Colour in Online Dictionaries, with Consideration of Three Afrikaans Dictionaries

Abstract

Wanneer die gebruik van kleur in sommige aanlyn Afrikaanse woordeboeke oorweeg word, wil dit voorkom asof kleur soms oneffektief of lukraak ingespan word. In ander gevalle kom dit voor asof kleure gekies word om vinnig met die handelsmerkidentiteit van die woordeboekuitgewer geassosieer te word eerder as ter wille van praktiese doeleindes. Dit kan moontlik weens abstrakte of vae voorstelle vanuit die metaleksikografie wees wat onbevredigende leiding aan praktiese leksikograwe bied, maar dalk ook 'n gevolg van die Suid-Afrikaanse, en Afrikaanse, leksikografie wat relatief stadig tot die Westerse wêreld ontwikkel. Die gebruik van kleur word in hierdie artikel bespreek met oorweging van 'n paar voorstelle wat reeds in metaleksikografiese navorsing gelug is. Hierdie voorstelle word aangevul met enkele riglyne ontleen aan die inligtingstegnologie. Die toepassing, al dan nie, van die teoretiese moontlikhede word bespreek ten opsigte van die aanlyn weergawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, Aanlyn Woordeboek van die Afrikaanse Taal en die Woordeboek van Afrikaans Vandag. Daar is ruimte vir verbetering in sekere aspekte van hierdie woordeboeke se kleurgebruik, en heelwat van die opwindende, meer gevorderde moontlikhede wat deur 'n beter kleurgebruik ingehou word, is nog toekomsmusiek binne die Afrikaanse leksikografie. Nietemin is dit opmerklik dat die gebruik van kleur belowend is en vorentoe 'n groter rol in toeganklikheid kan speel.

kleurgebruik; aanlyn woordeboeke; datatoeganklikheid; woordeboekstrukture; artikelstruktuur


Abstract

When considering the use of colour in some online Afrikaans dictionaries, it seems that colour is sometimes used ineffectively or haphazardly. In other cases, colours seem to be chosen mainly to align with the dictionary publisher's brand identity, rather than for practical purposes. This may result from abstract or vague metalexicographical suggestions that offer unsatisfactory guidance to practical lexicographers but could also be the result of South African, and Afrikaans, lexicography developing slower compared to the Western world. This article discusses the use of colour is in online dictionaries, considering a few suggestions from metalexicographical research. These suggestions are then supplemented with some guidelines derived from the field of information technology. The application of the theoretical possibilities, or lack thereof, is discussed with regard to the online version of the Handwoordeboek van die Afrikaans Taal, Aanlyn Woordeboek van die Afrikaans Taal and the Woordeboek van Afrikaans Vandag. These dictionaries show room for improvement in some aspects related to colour usage, with many exciting and more advanced possibilities still a future prospect for Afrikaans lexicography. Nevertheless, it is noteworthy that the use of colour is promising and may play a greater role in accessibility in the future.

colour usage; online dictionaries; data accessibility; dictionary structures; article structure


1. Inleiding

Dit is algemeen bekend dat die leksikografiepraktyk deur die ontwikkeling en geskiedenis daarvan reeds verskeie uitdaginge en paradigmaverskuiwinge moes deurstaan (sien Gouws 2017: 430-438). Dit is ook goed bekend dat dit tans opnuut deur 'n enorme paradigmaverskuiwing uitgedaag word, naamlik die oorgang van die gedrukte na die elektroniese medium, veral na die aanlyn sfeer. In die leksikografiepraktyk se geskiedenis is hierdie oorgang onbetwisbaar die ingrypendste oorgang nóg (Gouws 2018c: 178) en dit gaan sodoende uiteraard met nuwe uitdaginge gepaard. Dit is teweeggebring deur die koms van die era van elektroniese dataverwerking, en kan sedertdien toegeskryf word aan 'n bestendige stroom tegnologiese deurbrake wat gelei het tot radikaal nuwe benaderinge in onder meer hoe leksikografiese produkte gefinansier, voorberei, saamgestel, gebruik en aangebied word (Gouws en Tarp 2024: 190).

Dit is juis op 'n aspek van die laasgenoemde vlak van vernuwing waarop hierdie artikel toegespits is. Soos Almind (2005: 37) aandui, is daar ongelukkig uitgewers (en dalk selfs leksikograwe) wat glo dat hulle 'n behoorlike aanlyn woordeboek kan publiseer deur gewoon 'n gedrukte woordeboek te digitiseer en 'n soekenjin op die gebruikerskoppelvlak van daardie digitale weergawe aan te bring. Hy (ibid.) meen dat dié uitgewers verkeerdelik veronderstel dat potensiële woordeboekgebruikers daarmee tevrede sal wees om 'n gedrukte ontwerp op 'n skerm te sien vertoon. Dit lei tot twee probleme: Daar word nie daarmee tred gehou dat 'n aanlyn woordeboek 'n produk in eie reg is nie, en as bemarkingstrategie sal die benadering misluk bloot omdat dit woordeboekgebruikers sal teleurstel (Almind 2005: 37). Hy is daarom oortuig daarvan dat leksikograwe by die beplanning van aanlyn woordeboeke dit eerder van meet af as sodanig moet beplan en nie slegs 'n gedrukte woordeboek aanlyn beskikbaar moet stel nie (Almind 2005: 37). Die grootste rede hiervoor kan toegeskryf word aan een kernbegrip: toeganklikheid (Almind 2005: 38).

Hoewel reeds twee dekades gelede gelug, geld dié siening dat baie aanlyn woordeboeke gewoon gedigitiseerde gedrukte woordeboeke is, vandag steeds heelwat aanlyn woordeboeke. Boonop bly dit, ondanks meer onlangse vordering, besonders relevant in die Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse) leksikografielandskap, waar die ontwikkeling op vele terreine steeds stadiger as verwag vorder en die aanlyn leksikografie veral agter dié van Westerse lande bly (Beyer en Louw 2022: 41). Met inagneming hiervan het hierdie artikel ten doel om een ontwerpelement van aanlyn woordeboeke, naamlik die gebruik van kleur, te bespreek. Die doel is ook om te wys op 'n paar opwindende moontlikhede en om enkele voorstelle omtrent suksesvolle aanwending van kleur te maak.

Om die bespreking hiervan te kontekstualiseer, moet die gebruik van kleur eers kortliks relatief tot die voorkoms van aanlyn woordeboeke en woordeboekstruktuur oorweeg word. Ná die teoretiese bespreking word daar gekyk hoe kleur in drie Afrikaanse woordeboeke aangewend word, naamlik die aanlyn weergawe van die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (voortaan HAT Aanlyn), die Aanlyn Woordeboek van die Afrikaanse Taal (voortaan Aanlyn WAT)1, en die Woordeboek van Afrikaans Vandag (voortaan WAV).

2. Teoretiese beskouinge oor die gebruik van kleur in woordeboeke

Voordat die gebruik van kleur in woordeboeke bespreek kan word, is dit nodig om daarop te wys dat kleurgebruik nie slegs 'n kosmetiese aanvulling tot die data-aanbieding in woordeboeke behoort te wees nie. Kleur moet eerder as nuttige hulpmiddel in 'n woordeboek se strukturele aanbod ingespan word om te verseker dat aanlyn woordeboeke as funksionele en praktiese gebruiksinstrumente kan dien. Kleur moet dus beskou word as 'n praktiese middel tot 'n doel en 'n funksionele element in woordeboekartikels.

2.1 Die verband tussen woordeboekstrukture en kleurgebruik

Woordeboeke, ook aanlyn woordeboeke, kan beskou word as draers van tekssoorte, oftewel groot tekste opgebou uit kleiner, gerangskikte tekste (Wiegand 1996: 135-136). Hierdie tekste moet só aangebied word dat die struktuur daarvan die doel van die tersaaklike tekste kan vervul (Wiegand 1983: 104). Dit beteken dat dit só gerangskik moet word dat woordeboeke as praktiese gebruiksinstrumente kan dien om woordeboekgebruikers se leksikografiese behoeftes te bevredig (Wiegand 1998: VII, 62).

Vir woordeboeke om nutsprodukte te wees, moet daar volgens Gouws (2018b: 217-218) by die beplanning van enige woordeboek, ongeag die medium, met drie integrale komponente tred gehou word: leksikografiese funksie(s), woordeboekinhoud en woordeboekstrukture. Die behoeftes en naslaanvaardighede van die beplande woordeboek se beoogde teikengebruikers behoort eerstens die funksie(s) te bepaal, waarna die inhoud op grond van die funksie(s) vasgestel moet word (sien Gouws 2018b: 217-218). Uiteindelik moet die inhoud op 'n gepaste wyse aangebied word deur die inspanning van verskillende relevante woordeboekstrukture (Gouws 2018b: 217). Gepaste woordeboekstrukture moet dus in oorleg met funksies en inhoud bepaal word.

Uit hierdie komponente is die eerste twee redelik geyk in die metaleksikografie, en in 'n hoë mate tans nog vanselfsprekend omdat dit grotendeels onveranderd in aanlyn woordeboeke geld. Die derde komponent kan egter te midde van die huidige paradigmaverskuiwing onsekerheid en probleme lewer, want gedrukte woordeboekstrukture kan nie altyd min of meer onveranderd in aanlyn woordeboeke behou word nie (Gouws 2018b: 218). 'n Besinning hieroor, en die faktore wat dit kan beïnvloed, is daarom nodig omdat dié strukture voorsiening maak vir leksikografiese data (sowel binne of buite woordeboekartikels) sodat woordeboekgebruikers data kan opspoor (Gouws 2023: 383). Hieruit is woordeboekstrukture duidelik onontbeerlik - daarsonder sou woordeboeke, ongeag die gehalte van die woordeboekinhoud, onbevredigende produkte wees omdat woordeboekgebruikers nie vinnig en ondubbelsinnig hulle verlangde inligting daaraan sou kon onttrek nie (De Schryver 2003: 173).

Hier is die fokus nie op 'n omvattende bespreking van woordeboekstrukture nie. Daar word ook aanvaar dat heelwat van die hieropvolgende terminologie algemeen gangbaar is sodat alles nie in diepte bespreek word nie. Om die rol en die aanbod van kleurgebruik in woordeboekstrukture te verstaan, is dit nietemin nuttig om kortliks na kernstrukture en gidsstrukture te verwys, asook en veral na die interne soekstruktuur as tipe gidsstruktuur.

Alhoewel die onderskeid nie 'n verabsolutering is nie en oorvleuelings tussen en binne die kategorieë kan bestaan, kan kernstrukture as die hoofstrukture van woordeboeke beskou word terwyl gidsstrukture die sekondêre vlak uitmaak. Kernstrukture hou verband met die beskikbaarheid en posisionering van leksikografiese data (Mihindou 2006: 163) en sluit onder meer die makrostruktuur, mikrostruktuur en dataverspreidingstruktuur in (vgl. Gouws 2005: 63). Hierteenoor geld gidsstrukture byvoorbeeld die toegangstruktuur, mediostruktuur en sekere buitetekste (vgl. Gouws 2001: 104; Gouws 2005: 63), oftewel daardie strukture wat woordeboekgebruikers help om data op te spoor en van die woordeboekraadplegingsproses sin te maak (Mihindou 2006: 163).

Dit is spesifiek by gidsstrukture, soos die toegangstruktuur, waar kleur in aanlyn woordeboeke 'n groter rol kan en moet speel, en waar leksikograwe doelgerig te werk moet gaan om dit te bereik. Die toegangstruktuur bied die soekroete wat woordeboekgebruikers volg wanneer hulle woordeboeke raadpleeg om by die verlangde woordeboekartikel uit te kom (Gouws en Prinsloo 2005: 165). Dit funksioneer in samewerking met ander strukture - veral die dataverspreidingstruktuur, mikrostruktuur, mediostruktuur en artikelstruktuur - en het die belangrike doel om woordeboekgebruikers met so min as moontlik moeite die benodigde data te laat bereik (Gouws en Prinsloo 2005: 172). Daar kan onderskei word tussen 'n eksterne en interne soekstruktuur, maar daar word vervolgens slegs op die laasgenoemde gefokus. Vir meer oor die eksterne soekstruktuur kan Gouws en Prinsloo (2005), asook Wiegand en Beer (2013) geraadpleeg word.

By die interne soekstruktuur gaan dit oor die soekroete wat woordeboekgebruikers binne woordeboekartikels volg om die verlangde datatipe of datakategorie te bereik (Gouws en Prinsloo 2005: 170) sodat hulle aan hulle onmiddellike inligtingsbehoeftes kan voldoen (vgl. Tarp 2012: 328). Soos Wiegand en Beer (2013: 139) dit stel, ondersteun die interne toegangstruktuur woordeboekgebruikers om hulleself binne artikels te oriënteer nadat hulle eksterne tekstuele toegangselemente gevolg het om die tersaaklike artikel te bereik.

Hier is dit nodig om weer te verwys na De Schryver (2003: 173) se punt dat woordeboeke onbevredigende produkte sal wees as woordeboekgebruikers nie vinnige, ondubbelsinnige toegang tot data kan verkry nie. Gouws en Prinsloo (2005: 170, 172) se opmerking moet hiermee in verband gebring word wanneer hulle tereg noem dat woordeboekgebruikers selde die hele woordeboekartikel wil lees om die verlangde inligting te onttrek, en daarom meer waardering het vir woordeboeke waarin hulle vinniger toegang tot die verlangde data kan kry. Hieruit is dit duidelik dat die interne toegangstruktuur noodsaaklik is om vinnige toegang tot relevante data te verseker, en soos Wiegand en Beer (2013: 139) aandui, des te meer in langer gekondenseerde woordeboekartikels. Dit is ook hier waar kleur, indien dit effektief en funksioneel ingespan word, 'n waardevolle rol in vinniger, ondubbelsinnige toegang kan speel.

2.2 Moontlikhede vir die gebruik van kleur as toegangselement

Die vinniger en ondubbelsinnige toegang tot data in woordeboekartikels hou naas die posisionering van data verband met hoe data aangebied word, oftewel die voorkoms van 'n woordeboekartikel. Die leksikografie is nie geïsoleerd nie, soos duidelik blyk uit die oorweging van tegnologie en die ontwikkeling daarvan in die huidige paradigmaverskuiwing, soos genoem in die inleiding. In die vinnig ontwikkelende digitale wêreld waar mense se digitale geletterdheid toenemend verbeter, is dit daarom 'n wesenlike kwessie dat woordeboeke ontwikkel moet word om steeds relevant en bruikbaar te wees, ook ten opsigte van hoe dit visueel by ander eietydse digitale bronne aansluit.

Soos Gouws (2018c: 179-180) aandui, is dit nodig om te besef dat heelwat potensiële toekomstige woordeboekgebruikers tot nuwe geslagte, soos Generasie Z, behoort en hierdie geslagte volwaardige digitale burgers is vir wie die internet 'n gegewe is. Die vanselfsprekendheid van die internet in hulle lewe, asook in dié van baie lede van ander generasies, beïnvloed hoe hulle met digitale hulpbronne werk en wat hulle verwagtinge daarvan (en van die voorkoms daarvan) is. Dit is dus vir lewensvatbaarheidsredes noodsaaklik om tred te hou met gebruikers se vorderende of gevorderde digitale geletterdheid, asook hulle verwagtinge van digitale bronne. In die huidige digitale era waartydens digitale burgers dikwels bederf is met vinnige, moeitelose toegang tot 'n oorvloed inligting (vgl. Gouws en Tarp 2017: 394), sal woordeboeke wat outyds lyk of grotendeels 'n gedrukte woordeboek op 'n skerm is, onbevredigend wees en dalk in onbruik verval. Met die merkwaardige tempo waarteen kunsmatige intelligensie ontwikkel en die gebruikers daarvan van pasgemaakte oplossings kan verskaf, is dit nou dalk meer toepaslik as ooit vantevore.

Aanlyn woordeboeke moet daarom, soos reeds genoem, as 'n produk in eie reg beskou word en meer wees as 'n elektronies beskikbare gedrukte woordeboek (vgl. Almind 2005: 37). As aanlyn produkte kan daar tekens van vernuwing en ooreenkomste met bepaalde internetpraktyke wees, ook ten opsigte van die ontwerp en algemene voorkoms van woordeboeke. Rundell (2015: 320) stel byvoorbeeld dat leksikograwe kan aanvaar dat woordeboekgebruikers vertroud is met internetbeginsels, soos soekstrategieë en 'n sekere "woordeskat", maar dit geld myns insiens ook vaardighede om internetbronne te kan navigeer, waarin kleur 'n rol kan speel. Hierdie veronderstelling word bevestig deur Müller-Spitzer, Koplenig en Töpel (2012: 441) wat daarop wys dat woordeboekgebruikers 'n behoefte het aan aanlyn woordeboeke wat bekendheid toon met ander toepassings en webformateringsbeginsels.

Een vorm hiervan is die gebruik van kleur volgens bepaalde formateringsbeginsels. Swasty en Adriyanto (2017: 17-18) wys byvoorbeeld vyf ontwerpbeginsels van goeie gebruikerskoppelvlakke uit, waarvan een die goeie gebruik van kleur is. Kleur kan 'n aanwins in gebruikerskoppelvlakke se ontwerp wees (Jamil en Denes 2024: 53) deurdat dit 'n wesenlike rol in estetiese waarde, bruikbaarheid en toeganklikheid kan speel (WCAG 2024). Alhoewel die hoofdoel van aanlyn woordeboeke uiteraard nie is om estetiese waarde te hê nie, bly estetika 'n faktor omdat gebruikers se persepsie van gebruikerskoppelvlakke se estetiese waarde hulle persepsie van die bruikbaarheid daarvan kan beïnvloed. In hierdie verband verwys Alharoon en Gillan (2020: 1876) na studies wat 'n positiewe korrelasie toon tussen skynbare en inherente bruikbaarheid, dit wil sê hoe gebruikers 'n koppelvlak se gebruiksgemak skat soos gebaseer op voorkoms (nog voordat hulle dit gebruik het), teenoor die vasstelling van gebruiksgemak nadat hulle met die koppelvlak gewerk het. Dus kan aanlyn woordeboeke wat onafgerond, oudmodies of andersins onesteties is gebruikers ontmoedig om die woordeboek te gebruik. Dit sluit weer aan by Almind (2005: 37) se siening dat 'n slaafse navolging van gedruktewoordeboekbeginsels as bemarkingstrategie kan misluk omdat woordeboekgebruikers teleurgesteld kan wees in die produk.

Die kwessie van estetika en kleur as 'n belangrike ontwerpbeginsel is dus ook op woordeboekontwerp van toepassing. Soos Mihindou (2006: 165) aantoon, verkies woordeboekgebruikers daardie woordeboeke waarin kleur gebruik word omdat kleur aantrekliker en meer ekspressief is. As 'n aanwins behoort kleurgebruik egter nie net kosmetiese waarde te hê nie en dit moet funksioneel wees. Hier is Müller-Spitzer en Koplenig (2014: 144) se siening dat vorm die funksie in 'n woordeboek moet volg, relevant. Hierbenewens moet kleur in samewerking met ander elemente gebruik word en kleur kan nie die enigste manier wees waarop sekere inligting oorgedra word nie.

In die interne toegangstruktuur kan verskillende kleure woordeboekgebruikers toelaat om vinniger en makliker toegang tot die verlangde data te verkry (Mihindou 2006: 165). Eweneens wys Kilgarriff en Kosem (2012: 49) daarop dat kleurgebruik navigasie kan vergemaklik deur woordeboekgebruikers te help om tussen verskillende datatipes te onderskei. Hulle noem nie spesifieke voorbeelde nie, maar verskillende kleure kan byvoorbeeld as struktuurmerkers gebruik word om soeksones in aanlyn woordeboeke te ekspliseer en duidelik van ander af te baken. Kleur kan sodoende tot 'n meer gebruikersvriendelike mikro-argitektuur bydra deurdat sekere elemente visueel van mekaar onderskei en in spesifieke kleure geblok word. Kundige woordeboekgebruikers met 'n goeie woordeboekkultuur kan sodoende vinniger data opspoor deur die oog gewoon na die verlangde deel te laat gly. Die voorwaarde is egter dat 'n verduideliking van die betekenis van spesifieke kleure in die gebruikersgids, 'n sleutel onderaan die artikels, of iets dergeliks ingesluit moet word.

Benewens die skeiding en duidelike afbakening van verskillende soeksones, kan kleur woordeboekgebruikers help om op data af te kom wat hulle andersins dalk nie (so maklik) sou vind nie. As woordeboekgebruikers met 'n woordeboek se benadering tot kleur bekend is, kan die gebruik van verskillende kleure hulle aandag trek na soeksones wat in eenkleurige artikels tussen ander soeksones sou kon verdwyn (vgl. Mihindou 2006: 165). Hierbenewens kan kleur gebruik word om mediostrukturele verwysings duideliker sigbaar te maak en van omliggende data te onderskei, wat ook gebruikers na meer data as net die onmiddellik verlangde data kan lei. Soos tipies in internetbronne, kan mediostrukturele verwysings wat hiperskakels is as sodanig met kleur aangedui word sodat woordeboekgebruikers met 'n oogopslag kan sien waar kitstoegang tot ander verwante artikels en data moontlik is. Dit kan veral by implisiete kruisverwysings nuttig wees wat andersins maklik misgekyk kan word. Verder kan verskillende kleure gebruik word om woordeboekinterne en woordeboekeksterne kruisverwysings te onderskei. Hierdie opsies kan in verskillende mates tot politoeganklike en meer gebruikersvriendelike woordeboekartikels bydra.

Kleur kan dus gebruik word om verbande tussen verskillende dele van 'n woordeboek te lê. Mihindou (2006: 166) is byvoorbeeld ten gunste van die gebruik van bypassende kleure sodat woordeboekgebruikers verskillende tekste binne die woordeboek kan identifiseer - spesifiek deur die sentrale teks van buitetekste te onderskei. Kleur kan só as 'n tipe indeks dien omdat gebruikers vinnig kan sien waar verskillende dele van die woordeboek begin. Hierdie voorstel is uiteraard minder ter sake in aanlyn woordeboeke waarin hiperskakelroetes na verskillende woordeboekdele (wat dikwels op 'n navigasiebalk vertoon word) moontlik is. 'n Aanpassing van Mihindou se voorstel kan wel oorweeg word: Bypassende kleure kan binne woordeboekartikels en buitetekste gebruik word om woordeboekgebruikers bewus te maak van waar hulle addisionele data kan vind wat ook nuttig kan wees. Indien woordeboekgebruikers binne 'n bepaalde artikel op 'n spesifieke kleur afkom, kan dit hulle byvoorbeeld na geïntegreerde buitetekste verwys, oftewel daardie buitetekste wat tot 'n woordeboek se werklike doel bydra (Klosa en Gouws 2015: 144). Andersins kan dit die verhouding tussen dele van die sentrale teks en spesifieke buitetekste, of spesifieke dele van bepaalde buitetekste, aandui wanneer byvoorbeeld sekere struktuurmerkers, teksdele, rame om teksdele, of die skermskootagtergrond in spesifieke kleure gemerk word.

In meer gevorderde aanlyn woordeboeke kan kleur ook in artikels met 'n dinamiese veelvlakkige artikelstruktuur 'n waardevolle rol aanneem. Dié artikels kan omvattend of beperk wees: Omvattende artikels is volle artikels waarvan die geheelbeeld nie in 'n enkele skermskoot sigbaar is nie terwyl beperkte artikels dele van omvattende artikels is wat in aparte skermskote verskyn (Gouws 2018a: 52). Binne veelvlakkige artikels kan 'n soektonnel voorkom wat woordeboekgebruikers toelaat om tot die beperkte artikels toegang te verkry. Gouws en Bothma (2024: 362) beskryf 'n soektonnel as 'n struktuur waardeur 'n gebruiker stap vir stap deur verskillende artikelvlakke (die beperkte artikels) kan beweeg. Hulle beweeg dan horisontaal of sywaarts deur 'n vlak om verdere kommentaar of subkommentaar binne bepaalde vakke te bereik (Gouws 2023: 386; Gouws en Bothma 2024: 362). Hier sou 'n vertikale beweging tussen verskillende vlakke, via 'n struktuur soos 'n soekskag, ook moontlik wees.

Om deur soektonnels, of ook soekskagte, te beweeg, moet gebruikers eers op die behoefte aan addisionele data dui deur byvoorbeeld op knoppies of ander struktuurmerkers te klik (Gouws 2018a: 50). Vir hierdie beweging, hetsy na verskillende vakke of vlakke, sal 'n meer komplekse koppelvlakontwerp egter benodig word (Gouws en Bothma 2024: 361). Dit is juis by hierdie aanduiding van gebruikers se behoefte aan nog data en in meer komplekse koppelvlakontwerpe waar kleur nuttig kan wees. Dit is omdat bepaalde kleure gebruik kan word om daardie knoppies of struktuurmerkers duideliker te maak. So kan kleur dit duideliker maak waar gebruikers op versoek beperkte artikels kan vertoon, oftewel waar addisionele data beskikbaar is indien die gebruiker dit sou wou sien. Hier kan kleur ook indirek 'n rol speel in gebruikers se gemak en vermoë om verrykte en uitgebreide data te bekom.

By 'n veelvlakkige artikelstruktuur, soektonnels en soekskagte kan kleur nogmaals 'n rol speel om verbande tussen verskillende dele van 'n woordeboek te illustreer. Die addisionele data wat via sodanige soektonnels of soekskagte bekom kan word, word in 'n nuwe skermskoot vertoon wat aan die tersaaklike datatipe (soos voorbeeldmateriaal, verwante leksikale items, grammatika of illustrasies) toegewy is (Gouws 2018a: 50). Hier kan kleur veral in beperkte artikels binne soektonnels help om byvoorbeeld dele van die sentrale teks aan ander relevante dele te merk, of die sentrale teks aan spesifieke geïntegreerde buitetekste te verbind, soos bo genoem. Daarbenewens kan dit 'n rol in niegeïntegreerde buitetekste speel, dit wil sê daardie buitetekste waaraan woordeboekgebruikers nie data kan onttrek wat tot 'n woordeboek se doel bydra nie (Gouws en Prinsloo 2005: 59), soos 'n woordeboek se beleid of gebruikersgids. In laasgenoemde kan kleur byvoorbeeld wys hoe en waar spesifieke kleure in artikels voorkom om aanduiders en struktuurmerkers te merk. Tydens hulle woordeboekraadpleging kan dit woordeboekgebruikers weer help om struktuurmerkers te eien wat hulle byvoorbeeld via 'n hiperskakelroete of opskietvenster vanuit 'n woordeboekartikel kan neem na 'n niegeïntegreerde buiteteks of 'n gedeelte daarvan, soos 'n hanteringsbeleid.

2.3 Oorwegingspunte ten opsigte van doeltreffende kleurgebruik

Ofskoon kleur op verskeie maniere geïntegreer kan word, moet dit nie op 'n lukrake wyse geskied en bloot ingesluit word omdat die aanlyn wêreld die opsie bied nie. Dit beteken eerstens dat kleur nie oordadig gebruik moet word nie. Volgens Almind (2005: 39) moet kleur slegs gebruik word om belangrike data uit te lig, en kleurgebruik moet tot "goeie" (kontrasterende) kleure beperk word. Andersins kan oormatige kleurgebruik vinnig tot 'n sirkusontwerp lei (Almind 2005: 52), wat beteken dat dit byvoorbeeld nes die oorgebruik van tipografiese struktuurmerkers, soos kursief, vinnig steurend kan word. Dit kan lei tot 'n onaantreklike en deurmekaar voorkoms, maar kan ook teksverdigting veroorsaak wat tot 'n stadiger, potensieel dubbelsinnige inligtingonttrekking lei. Die uitdaging by die beplanning van die gebruikerskoppelvlak is dus die fyn balans tussen te veel en te min kleur.

Met verwysing na Almind (2005) se eise aan aanlyn woordeboeke, merk Fuertes-Olivera en Tarp (2014: 196-197) op dat kleur tot 'n elegante, aangename uitleg asook tot woordeboekartikels se leesbaarheid moet bydra deurdat maklik leesbare en kontrasterende kleure gekies moet word. Deur laasgenoemde toe te pas en elke datatipe in 'n nuwe reël te laat begin, kan die leesbaarheid van woordeboekartikels verhoog word (Fuertes-Olivera en Tarp 2014: 197). Dit kan ook 'n gebruikersvriendelike mikro-argitektuur bevorder deur woordeboekgebruikers toe te laat om vinnig by die verlangde data uit te kom.

Betreffende 'n elegante, aangename uitleg kan die keuse van kleure gebaseer wees op die gebruikerskoppelvlakontwerpers se persepsie van estetiese waarde (Jamil en Denes 2024: 54). Dit kan andersins gebaseer word op kleure wat pas by die tersaaklike woordeboek se kleurskema en dit wat daarmee geassosieer word (vgl. Almind 2005: 51). 'n Beperkte kleurpalet as verkose benadering kan om kosmetiese redes aanloklik wees, onder andere as dit pas by 'n woordeboek se beeld en die kleure wat daarmee geassosieer word. In die WAT se geval is die kleuridentiteit byvoorbeeld kenmerkend blou, soos prominent op die WAT se korporatiewe blad (https://www.wat.co.za/). 'n Woordeboek se kleuridentiteit kan vir handelsmerkbestuurdoeleindes belangrik wees (vgl. Swasty en Adriyanto 2017: 22), maar by produkte soos woordeboeke waarvan die primêre doel praktiese bruikbaarheid is, moet die funksionaliteit van kleurgebruik ook oorweeg word.

Ten spyte van die moontlike estetiese voordeel, kan 'n beperkte kleurpalet vir sommige woordeboekgebruikers niefunksioneel wees. Dit geld byvoorbeeld woordeboekgebruikers wat sukkel om tussen kleure te onderskei, byvoorbeeld vanweë kleurblindheid, vir wie skakeringe van hoofsaaklik een kleur (anders as swart op wit) of spesifieke kleurkombinasies niefunksioneel of moontlik selfs verwarrend of hinderlik kan wees. Die bedoelde betekenis van die kleure as tipe struktuurmerkers gaan dus verlore - bowenal in die afwesigheid van 'n sleutel of kort verduideliking van die kleure se betekenis op die artikelskermskoot. Daarbenewens kan lae kontrasterende kleure tot 'n aansienlik verminderde estetiese ervaring lei vir gebruikers wat nie so maklik tussen kleure differensieer nie (Jamil en Denes 2024: 54). Dus kan 'n beperkte kleurgebruik vir hierdie woordeboekgebruikers nóg funksioneel, nóg esteties wees.

Die gebruik van kontrasterende kleure is derhalwe belangrik. Nietemin gee nie Almind (2005) of Fuertes-Olivera en Tarp (2014) 'n bevredigende, konkrete verduideliking van wat in woordeboeke relatief tot wat moet kontrasteer nie. Buiten die tradisionele voorbeeld van wit op swart as goeie kleurpaar gee hulle ook nie verdere voorbeelde van spesifiek goeie kontrasterende kleure sodat dit duidelik is wat dit prakties beteken nie. Dié enkele voorbeeld is onvoldoende, want soos Kilgarriff en Kosem (2012: 49) aandui, is wit en swart lank reeds nie meer die enigste kleuropsies in moderne woordeboeke nie. Dit kan dalk selfs onbedoeld lei tot die voorkoms van 'n aanlyn woordeboek wat niks meer as 'n gedrukte ontwerp op 'n skerm is nie, waarteen Almind (2005: 37) waarsku. Die vroeër genoemde kwessie van estetika en die skynbare en inherente bruikbaarheid van 'n koppelvlak is ook weer ter sake. In die plek van hierdie tradisionele kombinasie verwys ander na rooi en groen as alternatiewe kleurpaar wat dikwels in gebruikerskoppelvlakke voorkom (vgl. Kilgarriff en Kosem 2012: 49; Jamil en Denes 2024: 53). Hiermee is daar egter ook 'n probleem, want rooi en groen is juis een van die algemeenste kleurpare wat vir veral kleurblinde gebruikers probleme kan veroorsaak (vgl. Soegoto, Fadhlurrahman en Hermawan 2019: 2).

Daar kan egter voorgestel word dat die kontras wat in aanlyn woordeboeke se kleurgebruik gehandhaaf moet word, op twee vlakke kan geld: eerstens tussen die voorgrond (al die tekstuele dele tesame) en die agtergrond, en tweedens tussen die tekstuele dele op die voorgrond. Betreffende die voorgrond-agtergrond-kontras moet kleure uiteraard maklik onderskeibaar wees sodat die data nie met die agtergrond versmelt nie. Dit blyk dat donker teks op 'n ligte agtergrond vir die meeste mense meer leesbaar is as ligte teks op 'n donker agtergrond - sien in hierdie verband Dobres, Chahine en Reimer (2017: 68-69) se verwysing na verskeie studies waarin dit bevind is. Verder kom dit voor asof swart of donkerblou teks op 'n wit agtergrond makliker lees en meer esteties is as ander kleurpare (Shieh en Lai 2008: 345). Beide hierdie toepassings behoort vir alle woordeboekgebruikers toeganklik te wees, want ook diegene wat soms sukkel om tussen kleurskakeringe te onderskei, kan kontras opmerk (Bigman, in Berisso 2018: 96).

'n Oorweging van die kontras tussen die voorgrond en agtergrond alleenlik verseker egter nie dat alle woordeboekgebruikers die kleurgebruik funksioneel sal ag nie. Daar moet ook kontras tussen komponente van die gebruikerskoppelvlak op die voorgrond wees (Jamil en Denes 2024: 55), oftewel teks en komponente soos struktuurmerkers, aftrekkieslyste, hiperskakels en knoppies om data te versteek of te onthul. Die maklikste manier om te verseker dat alle woordeboekgebruikers tussen voorgrondkleure kan onderskei, is om sekere kleurkombinasies in die geheel te vermy (Berisso 2018: 96) en eerder 'n sogenaamde kleurblinde kleurpalet te gebruik. 'n Kleurblinde kleurpalet maak tegelyk vir alle woordeboekgebruikers voorsiening, dus sowel gebruikers wat sukkel om tussen bepaalde kleure te onderskei as diegene wat nie probleme daarmee ervaar nie (vgl. Soegoto et al. 2019: 5). Daar is dus geen party wat deur die toepassing daarvan benadeel word nie. Prakties behels dit die vermyding van rooi-groen-kombinasies, of geel en blou saam omdat dit algemeen bekend is dat veral kleurblinde mense kan sukkel om tussen hierdie kleurkombinasies te onderskei (Berisso 2018: 94). Verder word helder en donker kleure in 'n kleurblinde palet in kombinasie gebruik sodat mense makliker tussen verskillende kleure kan differensieer (Soegoto et al. 2019: 5); die verskil tussen dié kleure is met die eerste oogopslag meer opmerklik, en helder kleure is boonop makliker onderskeibaar as dowwer kleure, wat geneig is om te vermeng (Bigman, in Berisso 2018: 96).

Met inagneming van die vroeër verwysing na aanlyn woordeboeke se aansluiting by webformateringsbeginsels, kan riglyne vir hoër inhoudstoeganklikheid op gebruikerskoppelvlakke geraadpleeg word om die gebruik van kontrasterende kleure meer konkreet te maak. Die Webinhoudtoeganklikheidsriglyne (Web Content Accessibility Guidelines in Engels, oftewel WCAG 2024) gee byvoorbeeld riglyne om toegankliker, meer gebruikersvriendelike webblaaie moontlik te maak en is gerig op kwessies wat met waarneembare en gebruiksaspekte van webblaaie verband hou. Een tegniek vanuit die riglyne (sien riglyn 1.4.3 in WCAG 2024) is die gebruik van minstens 'n 4,5:1-kontrasverhouding tussen die teks en agtergrond by gewone teks (dit wil sê, teks kleiner as 18 pt indien dit nie vetgedruk is nie, of 14 pt indien vetgedruk), of 'n 3:1-verhouding by groter teks (groter as 18 pt, soos in opskrifte). Hierdie 3:1-verhouding behoort volgens die riglyne (1.4.11 in WCAG 2024) ook van toepassing te wees op komponente in die voorgrond, soos die teks en knoppies van die koppelvlak. Dit is slegs onnodig om hierdie voorgrondkontras te handhaaf wanneer komponente soos knoppies onaktief is (dus nie interaksie van die gebruikerskant af vereis is) of waar dit deur die gebruiker gewysig is om anders te lyk as wat die webontwerper in gedagte gehad het (WCAG 2024).

Dit is hier nodig om daarop te wys dat riglyn 1.4.3 en 1.4.11 tipies in samehang met 1.4.6 beskou word. Dié riglyn is 'n strenger toepassing van 1.4.3 en gerig op kontrastoeganklikheid vir gebruikers met geweldige sigprobleme. Toepassing daarvan sal vereis dat gewone teks 'n 7:1-kontras (in plaas van 'n 4,5:1-kontras, soos by riglyn 1.4.3) het, en groter teks oor 'n 4,5:1-kontras (teenoor die 3:1-kontras van 1.4.3) beskik. In woordeboeke waarin teks dikwels gekondenseerd en dig is, kan hierdie riglyn egter tans nog redelik ingewikkeld wees om te handhaaf. Daar word daarom hier voorgestel dat woordeboekkoppelvlakontwerp aanvanklik op riglyn 1.4.3 en 1.4.11 gerig is, met latere toepassing van riglyn 1.4.6 indien nodig. Laasgenoemde word dus nie geïgnoreer nie, maar is dalk iets wat eerder mettertyd ingewerk kan word wanneer woordeboekplatforms werklik volwaardige aanlyn produkte word. Dit is dalk ook iets wat eerder met 'n skakelaar of skuifknoppie geaktiveer kan word sodat die gebruiker self kan bepaal of hulle teks en elemente volgens 1.4.11 geformateer wil hê.

Om hierdie riglyne se voorgestelde kontrasverhoudings prakties en maklik te kan meet, kan verskeie hulpbronne geraadpleeg word waarop 'n mens kleurkodes kan invoer om te kyk of dit aan die Webinhoudtoeganklikheidsriglyne sal voldoen. Dié platforms of toepassings gee dan vinnig terugvoer om te wys of die kleurpaar geskik kan wees of nie (sien Figuur 1 en 2 hieronder). Enkele voorbeelde sluit in TPGi se Colour Contrast Analyser (2025), WebAIM (2025), of Luminosity Colour Contrast Ratio Analyser deur Juicy Studio (2025), wat almal gratis is om te gebruik. Ander hulpbronne, ook gratis, gee weer breedvoerige voorbeelde en palette en stelle bypassende en webveilige kleure wat sigbaar behoort te wees - sien in hierdie verband byvoorbeeld die Index of Color Contrast Samples (s.a.).

Hierdie kwessie moet in verband gebring word met Müller-Spitzer en Koplenig (2014: 164) se siening dat woordeboeke sover moontlik volgens 'n hindernisvrye ontwerp saamgestel moet word. Soveel moontlik gebruikers moet die koppelvlak se ontwerp dus toeganklik vind (Jamil en Denes 2024: 53), aangesien toeganklikheid direk tot funksionaliteit bydra. Dit is veral belangrik dat woordeboeke as gebruiksinstrumente vir alle gebruikers voorsiening moet maak indien moontlike aanpassings geen party benadeel nie.

3. Kleur in die HAT Aanlyn, Aanlyn WAT en WAV

In hierdie afdeling word enkele artikels uit drie aanlyn Afrikaanse woordeboeke - die HAT Aanlyn, Aanlyn WAT en WAV - ten opsigte van kleurgebruik bespreek, met enkele opmerkinge wat ook oor die strukture of uitleg gemaak word. Daar word primêr gefokus op hoe kleur reeds in die artikels gebruik word, maar waar gepas, word voorstelle vanuit die vorige afdeling betrek om dit duideliker te maak.

Die bespreking word nie gestruktureer ten opsigte van die genoemde woordeboeke nie, maar eerder volgens kategorieë: afkortings, uitdrukkings, en geëtiketteerde lemmas. Dit is so gekies sodat die kleurgebruik by verskillende datatipes oorweeg kan word. Aandag word nie aan die datatipes of inhoud geskenk nie, maar eerder hoe die datatipes aan die woordeboekgebruiker vertoon word.

3.1 Afkortings

Indien 'n afkorting soos QR in die WAV nageslaan word (Figuur 3), is die algemene indruk van die gebruik van kleur dat meestal duidelike kleure gebruik word. Verskillende kleure word aangewend om verskillende datatipes te merk. Dit sal vaardige woordeboekgebruikers toelaat om vinnig op die verlangde data te kan afkom indien hulle die woordeboek se kleurkodes leer ken.

Dit is opmerklik dat dieselfde donkerblou (en boonop vetgedrukte teks as pluspunt) gebruik word om die lemma as gidselement te merk, asook die volvorm van die leksikale item wat deur die lemma verteenwoordig word. Dit is nuttig en gerieflik, want woordeboekgebruikers wat slegs die volvorm wil naslaan, sal dit vinnig vind deur die oog na die bypassende blou in dieselfde reël te laat gly. Die lemma en volvorm word ook duidelik van die woordsoortaanduiding en aanduiding van die Engelse oorsprong geskei, wat elk in hulle eie kleure gemerk is. In die betekenisparafraseveld word 'n nuwe kleur nogmaals gebruik, wat die betekenisparafrase as nog 'n mikrostrukturele element duidelik van die omliggende datatipes differensieer. Ná die betekenisparafrase word drie sitate aangebied, met die sitaat en gepaardgaande bronverwysing wat in twee afsonderlike kleure gemerk word. Dit is baie nuttig, want die kleurkombinasie van die sitaat en bronverwysing is duidelik onderskeibaar en 'n gebruiker kan vinnig sien waar die sitate vandaan kom en hoe oud die sitaat is. Dit kan byvoorbeeld help om die gebruikskonteks te bepaal, of die geloofwaardigheid en betroubaarheid van die sitate te probeer beoordeel. Met inagneming van die sitaat se ouderdom kan die gebruiker weer iets oor die ontwikkeling of eietydse gebruiklikheid van die leksikale item aflei.

Deur telkens die verskillende datatipes in verskillende kleure te merk, word kleur as nietipografiese struktuurmerker ingespan. Dit beteken dat kleur as formele element in die artikel gebruik word, en 'n sterker identifiseringswaarde moontlik maak deur die soeksone duideliker te merk. Dit versterk die punt van vroeër dat kleur tot 'n meer gebruikersvriendelike mikro-argitektuur kan bydra deur sekere elemente visueel van mekaar te onderskei en te blok. Soos genoem, kan kundige woordeboekgebruikers met 'n goeie woordeboekkultuur data só vinniger opspoor deur na spesifieke kleure te soek, met die voorwaarde dat 'n verduideliking van die betekenis van spesifieke kleure iewers vermeld moet word. Dit geld weer eens hier, want as kleur as struktuurmerker gebruik word, is dit nodig om dit byvoorbeeld in die gebruikersgids toe te lig wanneer die ander struktuurmerkers verklaar word.

Betreffende die sigbaarheid van die kleure is die meeste kleure donker, wat voordelig is met inagneming van die wit agtergrond. Daarbenewens is dit nuttig dat verskillende kleure, soos blou, grys, purper en 'n olyfgroen, gebruik word, asook kleure wat redelik maklik van mekaar onderskei kan word. By die gebruik van die ligter kleure kan daar egter dalk ietwat aangepas word. As die grys waarin die woordsoortaanduiding gemerk is met WebAIM (2025) teen 'n wit agtergrond getoets word, lewer dit 'n 6,79:1-kontras, wat bevredigend is met inagneming van die vroeër genoemde riglyne. Die olyfgroenkleur lewer weer 'n 4,13:1-kontras, wat nie aan die 4,5:1-mikpunt vir gewone teks voldoen nie. Dit beteken nie dat die kleur totaal onduidelik is nie, maar dit is eerder 'n aanduiding dat 'n effense aanpassing daarvan dit vir meer gebruikers duideliker sal maak. Sou die huidige olyfgroen byvoorbeeld effens donkerder gemaak word, soos met die skuifknoppie op WebAIM (2025), sal dit kan slaag sonder om die totale voorkoms drasties te moet verander (Figuur 4). Soortgelyk kan kleure op die voorgrond, oftewel die verskillende tekstuele elemente se kleure, getoets word ten einde die kontraswaarde daartussen te bepaal en aan te pas, indien nodig.

Wanneer die afkorting URL in die WAV nageslaan word (Figuur 5), is dit duidelik dat die kleurgebruik konsekwent toegepas word.

Die afkorting en volvorm is weer in dieselfde skakering blou, en ook dieselfde skakering as in die artikel van QR. Soortgelyk is die woordsoort, aanduiding van die afkorting se oorsprong, betekenisparafrase, en sitate en gepaardgaande bronverwysings konsekwent gemerk. Dit is bevredigend, want soos genoem, sal dit die woordeboekgebruiker met 'n goeie kennis van die WAV help om makliker die verlangde inligting te onttrek. Wat egter effens onduidelik is, is waarom die etiket en aanduiding van die afkorting se Engelse oorsprong in dieselfde purper gemerk is wanneer alle ander datatipes afsonderlike kleure kry.

Wanneer dieselfde lemma in die Aanlyn WAT nageslaan word (Figuur 6), is die voorkoms van die kleur met die eerste oogopslag ook redelik geslaag. Soos in die WAV, word die lemma, woordsoort, meervoudsvorm, volvorm en sitate byna elk in afsonderlike kleure gemerk.

Hier word die volvorm egter as betekenisparafrase beskou en in swart gegee, wat teenoor die blou, vetgedrukte lemma en meervoudsvorm staan. Relatief tot die WAV sal die benadering effens meer moeite van die woordeboekgebruiker vereis, want die gebruiker kan nie in dieselfde reël net aanhou soek na die blou waarin die lemma gegee is om die volvorm te kry nie. Die gebruiker moet eerder die besonderhede lees om dit te bekom. Nietemin is die woordsoort wat in pienkpers gemerk is duidelik onderskeibaar van die lemma en meervoudsvorm. In die betekenisparafrase is 'n ander voordeel dat die presiseringkruisverwysings wat deur hiperskakels gevolg kan word, gemerk is in die blou kenmerkend van hiperskakels. In dié wyse voldoen die Aanlyn WAT aan Müller-Spitzer et al. (2012: 441) se reeds genoemde punt dat woordeboekgebruikers wil hê aanlyn woordeboeke moet 'n bekendheid met ander toepassings en webformateringsbeginsels toon. Woordeboekgebruikers behoort die hiperskakels danksy die tipiese blou onmiddellik as sodanig te kan eien, wat gerieflik is en toeganklikheid verhoog.

Iets wat nie in die WAV gedoen is nie, maar hier 'n aanwins is, is die groen blok om die leksikale item wat nageslaan is. Dít laat woordeboekgebruikers toe om vinnig deur die artikel te kan gaan en die gesoekte item te kan raaksien, ongeag waar dit in die artikel staan. In die geval van 'n naamwoord soos URL is dit nuttig as 'n gebruiker iets oor die sintaktiese optrede wil kan aflei deur byvoorbeeld te kyk watter lidwoord(e) voor die item kan staan, of in ander items se geval dalk watter setsels daarmee optree, of 'n adjektief attributief of predikatief optree, ensovoorts. Daar is hier egter twee beperkinge. Die woordeboekgebruiker het eerstens nie die opsie om die blok te verwyder nie. Dit is egter wenslik om byvoorbeeld 'n knoppie te kan druk wat die blok afhaal of die opsie geheel afsit sodat 'n skoner weergawe van die artikel telkens vertoon word. Die tweede beperking is dat die groen blok slegs om die gesoekte vorm van die lemma verskyn. In die geval van byvoorbeeld 'n werkwoord sal slegs die teenwoordige tyd gemerk word as die woordeboekgebruiker dit so gesoek het; enige ander vorm van dieselfde item (soos die verledetydsvorm of die leksikale item as deelwoord) bly ongemerk. As die gebruiker spesifiek net daardie vorm soek, is dit nuttig. Dit sou wel nuttiger wees om moontlik 'n tweede soekmoontlikheid in te sluit wat alle vorme van die item merk om ook daardie vorme wat nie ingetik is nie, in te sluit.

Wat die WAT-redaksie verder kan oorweeg, is om soos in die WAV die bronverwysings in ander kleure as die sitate te merk. Die WAT is 'n omvattende woordeboek, en omvattendheid behoort ook op mikrostrukturele vlak en binne elke mikrostrukturele element te geld (Gouws 2017: 442). Daarom kan dit nuttig wees om bronverwysings in ander kleure te merk omdat dit as visuele skeiding tussen sitate kan dien en gebruikers sal toelaat om vinnig die ouderdom en bron van elke sitaat vas te stel. Hoewel die WAT 'n sinchroniese woordeboek is, beskik dit as langtermynprojek ook in 'n mate oor diachroniese kenmerke. Dit is tipies van omvattende woordeboeke dat daar 'n mate van 'n chronologiese aanduiding van vorm- en betekenisontwikkeling is (Gouws en Prinsloo 2005: 49). Deur dan bronverwysings duideliker van die sitate te onderskei, kan woordeboekgebruikers met 'n oorsig die diachroniese gegewens raaksien, wat behulpsaam kan wees.

3.2 Uitdrukkings

Die artikels wat hierbo gewys is, is telkens kort. In sodanige artikels is dit waarskynlik vir woordeboekgebruikers makliker om die verlangde data te vind, ongeag die kleurgebruik, omdat daar gewoon minder data is wat hulle moet deurwerk. In langer artikels wat veral algemeen is in 'n omvattende woordeboek soos die Aanlyn WAT kan dit egter ingewikkelder wees, en 'n gebruikersvriendelike mikro-argitektuur (wat sinvolle kleurgebruik insluit) is dan juis noodsaaklik. Dit is omdat langer artikels uiteraard meer data bevat en 'n hoë kwantiteit data wat swak bestuur word, kan daartoe lei dat woordeboekgebruikers data-oorlading ervaar (Gouws en Tarp 2017: 392). Dit vind plaas wanneer iemand se eiesoortige kapasiteit om inligting te verwerk en in te neem, oorskry word (Speier, Valacich en Vessey, in Gouws en Tarp 2017: 395). Die gevolge is dat gebruikers angs of verwarring ervaar, en hulle onttrek dan nie die benodigde inligting nie omdat dit waarvan hulle probeer sin maak ongeorganiseerd, onbeheersd en inkoherent voorkom (Wurman en Bradford, in Gouws en Tarp 2017: 395). Die artikels kom dan opgeblaas voor en raak weens 'n oorvloed data onprakties (Gouws en Tarp 2017: 392). Dit verhoed direk dat 'n woordeboek aan sy doel as praktiese gebruiksinstrument kan voldoen.

Indien soveel byvoorbeeld in die Aanlyn WAT nageslaan word (Figuur 7), behoort dit uit die uitdrukkingsrubriek duidelik te wees waarom die kwessie van data-oorlading belangrik is om te oorweeg in teksdigte, gekondenseerde artikels. Hier is dieselfde lof oor duidelike kleurgebruik wat vroeër genoem is nie sonder meer van toepassing nie. Die uitdrukkinghofie (asook die twee subhofies "gespesialiseerd" en "idiomaties") is duidelik in swart gemerk en kan maklik gedifferensieer word van die kernkomponent as soekwoord, maar van daar af sal die data onder die subhofies nie vir alle woordeboekgebruikers ewe duidelik onderskeibaar wees nie.

Soos hierbo te sien, word drie kleure gebruik om onderskeidelik die volgende te merk: 'n mosgroen kleur vir die uitdrukking en betekenisparafrase, 'n asuurblou vir die wisselvorm, en 'n blougroen vir die sitate. Relatief tot mekaar lyk die kontrasverhoudings soos volg indien die kleurkodes op WebAIM (2025) ingevoer word: 1,49:1 vir die mosgroen teenoor asuurblou; 1,36:1 wanneer die mosgroen teenoor die blougroen gemeet word; en 1,09:1 vir die asuurblou relatief tot die blougroen. Hierdie groenblou palet kan esteties wees deurdat dit pas by die WAT se kenmerkende blou palet, waarna vroeër ook verwys is, maar dit misluk redelik in die 4,5:1-mikpunt vir gewone teks. Dié mikpunt is wel net 'n riglyn, maar die lae kontras tussen die gebruikte kleure dui daarop dat minstens sommige gebruikers, veral kleurblinde of siggestremde gebruikers, dit uitdagend kan vind om gemaklik en met sekerheid tussen hierdie kleure te onderskei. Dit lei weer tot 'n minder effektiewe en praktiese gebruik van kleur wat veroorsaak dat dit 'n woordeboekgebruiker langer kan neem om deur die data te werk omdat hulle nie met dieselfde gemak as voorheen net direk die tersaaklike deel kan identifiseer deur 'n spesifieke kleur te soek nie.

Dit kan uiteindelik in artikels so lank soos dié van soveel (en veral in langer artikels omdat die Aanlyn WAT ook baie daarvan bevat) moontlik tot data-oorlading lei. Dit is omdat baie data in die artikel gehuisves moet word, maar nie noodwendig goed bestuur word in terme van hoe dit uitgelê is en van omliggende data geskei word nie. Die vroeër punt oor 'n dinamiese veelvlakkige artikelstruktuur geld weer hier, want in lang artikels soos in die Aanlyn WAT kan 'n soektonnel en die gebruik van beperkte artikels help om data-oorlading te vermy. Daarbenewens kan dit woordeboekgebruikers self laat besluit in watter mate hulle verrykte en uitgebreide data wil bekom. Soos genoem, kan kleur so ingespan word om woordeboekgebruikers te wys waar hulle die behoefte op meer data moet aandui om sodoende deur die soektonnel te beweeg. Dit kan ook gebruik word om data binne die soektonnel met ander dele van die woordeboek in verband te bring.

Indien die wisselvorm suffel nageslaan word (Figuur 8), is die situasie ietwat beter. Hier is die risiko van data-oorlading effens minder en dit behoort makliker te wees om tussen datatipes te onderskei.

Hier word die etiket "geselstaal" telkens in purper aangedui, wat dit goed onderskei van die omliggende teks en wat ook heelwat sigbaarder is. Om seker te maak dat dit sluit, word die etiket in soveel se artikel ingesluit, maar daar word dit in die betekenisparafrase as parentese gedoen. In terme van kleur word dit weer in mosgroen gedoen, wat dit minder sigbaar maak. Laasgenoemde maak wel sin met oorweging van die Aanlyn WAT se benadering, maar die gebruik van 'n ander, maklik onderskeibare kleur om 'n etiket in die minder gebruiklike wisselvorm "suffel" se artikel aan te dui, is baie nuttig.

Die verhouding tussen die artikel vir soveel en suffel word verder in die uitdrukkingsrubriek gesluit deurdat daar na "soveel" gepresiseer word, wat gepas is wanneer 'n woordeboekgebruiker na die meer gebruiklike wisselvorm verwys moet word. Wat dit egter vir sommige gebruikers ingewikkeld kan maak, is dat hierdie presisering in 'n redelik soortgelyke blou gedoen word as die hiperskakelverwysings bo die uitdrukkingsrubriek. Gebruikers wat sukkel om tussen sekere kleure te onderskei, kan dan dalk verward wees wanneer hulle op die teks, byvoorbeeld "SOVEEL AS 1 (SOVEEL II, uitdr.)", probeer klik en niks gebeur nie. Die kenmerkende blou waarin hiperskakels gemerk word, is dus goed, maar wanneer daar in 'n soortgelyke kleur gepresiseer word sonder 'n hiperskakel, kan dit minder effektief wees. Die soortgelyke kleure verg op die een plek 'n interaksie van die gebruiker en laat op 'n ander plek nie so iets toe nie.

As bogenoemde kleurkombinasies aangepas moet word om vir meer gebruikers duidelik te kan wees, kan dit soos by die WAV se olyfgroen van vroeër ietwat aangepas word deur die kleure se helderheid (hoe lig of donker dit is) te verander, of 'n bietjie met die saturasie te speel. Andersins, en dit is hier waarskynlik die makliker roete, kan daar herbesin word oor die Aanlyn WAT se kleurgebruik en met 'n kleurblinde palet in gedagte beplan word. Dit beteken dat die WAT se bloue grotendeels behou kan word en goed saam met oranje, rooi of bruin gebruik kan word, maar nie so goed saam met pers, groen of dowwe grys nie (vgl. Soegoto et al. 2019: 4-5). Dit is boonop reeds duidelik in hoe goed die kleur van die etiket werk, asook hoe die kombinasie van die valer groene en bloue minder geslaagd is.

Wanneer die uitdrukkingsveld in die HAT Aanlyn oorweeg word, byvoorbeeld in die artikel van vlieg (Figuur 9), is dit dadelik opmerklik dat 'n eenvoudiger, skoner ontwerp gevolg is.

Hierdie eenvoudiger, skoner ontwerp is uiteraard in 'n mate omdat die HAT Aanlyn as handwoordeboek nie so omvattend hoef en behoort te wees soos die Aanlyn WAT nie. Sonder die insluiting van sitate by uitdrukkings is dit ook makliker om 'n gebruikersvriendelike mikro-argitektuur te bewerkstellig. Nietemin is daar goeie beginsels toegepas wat die artikel toeganklik maak. Die groen blok om die gesoekte woord is reeds bespreek soos dit in die Aanlyn WAT voorkom, maar dit is weer hier noemenswaardig en nuttig. Dit het egter soos by die Aanlyn WAT dieselfde beperkinge. Wat die HAT Aanlyn se eiesoortigheid betref, is dat die purper kleur waarin die uitdrukkings gegee word heel onderskeibaar is van die swart waarin die uitdrukkinghofie en betekenisparafrase van elke uitdrukking aangebied is.

Iets wat hierdie benadering nog beter maak, is dat die purper redelik verskil van die ander kleure in die artikel, met uitsondering van die rooierige kleur van die lemma en nommers wat die betekenisonderskeidinge merk. Laasgenoemde is egter nie 'n probleem nie, want die purper staan nie direk langs of naby genoeg aan die rooi vir die kleure om verwarrend te wees nie. Betreffende die ander kleure is dit opmerklik dat swart, blou, oranje en olyfgroen gebruik word, wat almal kontrasgewys redelik van purper verskil. Gevolglik sou daar steeds maklik tussen die data onderskei kon word selfs al was meer data, soos kollokasies en/of sitate, ingesluit. Daar kan aangeneem word dat kollokasies en/of sitate in blou gegee sou word ter aansluiting by hoe dit in die res van die artikel gedoen is. Indien wel, sou dit steeds duidelik onderskeibaar wees van die uitdrukking in purper en die gepaardgaande betekenisparafrase in swart. Die probleem in die Aanlyn WAT se hantering van uitdrukkings is dus nie uitsluitlik vanweë die kwantiteit data nie, maar in 'n mate weens 'n wanbestuur, of eerder swakker aanbieding, van die data.

3.3 Geëtiketteerde lemmas

In al drie woordeboeke kan die gebruik van kleur 'n waardevolle rol by die oordrag van pragmatiese inligting speel deurdat dit etikette duideliker sigbaar kan maak. Etikette speel 'n belangrike rol omdat dit enige afwyking van die standaardtaal aandui, byvoorbeeld ten opsigte van formaliteit, gebruiksfrekwensie of gebiedsverankering, of andersins nuttige en nodige gegewens oor die gebruiksfeer oordra. Hierdie gegewens kan by sekere leksikale items veral belangrik wees, en 'n woordeboekgebruiker wat nie duidelik genoeg van die etiket bewus gemaak word nie, kan byvoorbeeld in die verleentheid gestel word wanneer hulle 'n item as neutraal interpreteer wanneer dit eintlik minder gepas is vir 'n bepaalde situasie of selfs kwetsend is. Kleur kan juis hier gebruik word om dié beperkinge op die gebruik van 'n leksikale item verteenwoordig deur die lemma vir woordeboekgebruikers duideliker aan te dui.

Dit is byvoorbeeld duidelik hoe etikette in die WAV gemerk word, soos in die artikel vir moffie (Figuur 10). In dié artikel word moffie duidelik as informeel geëtiketteer in die bepaalde betekenisonderskeidinge wat in die WAV opgeneem word. Die gebruik van purper laat die etiket beter uitstaan relatief tot sowel die blou van die lemma en meervoudsvorm wat reg voor dit verskyn as die swart waarin die betekenisparafrase kort daarna gegee word. Daarbenewens laat die kleur die etiket duidelik by die ander kontekstuele leiding aansluit, want so ook is dieselfde purper gebruik om "deur lede van die LGBTQIA-gemeenskap gebruik om na hulle self te verwys" en "dikwels kwetsend, neerhalend deur cisgender mense gebruik in verwysings na lede van die LGBTQIA-gemeenskap" te merk. Hierdie besonderhede is belangrik om uit te lig en dui duidelik die gebruiksbeperkinge aan om te wys dat die leksikale item "onder" die standaardtaal is en nie as neutraal geag moet word nie.

Soortgelyk word etikette goed met kleur in die Aanlyn WAT uitgelig, soos genoem. Dit is ook hier goed in gevalle waar 'n lemma 'n potensiaal neerhalende leksikale item verteenwoordig, soos in die Aanlyn WAT se hantering van raaiselkind (Figuur 11).

In só 'n geval kan woordeboekgebruikers van 'n omvattende woordeboek egter wonder wat in die Aanlyn WAT as neerhalend beskou word, of verdere toeligting oor etikette en hulle gebruik verlang. Hulle kan moontlik ook wonder waarom sekere items, veral rassismes, aansienlik korter en minder omvattend as ander items bewerk word. Vir hierdie gebruikers kan dit nuttig wees as kleur dan gebruik word om die verhouding tussen die etiket en die bepaalde buiteteks, in die Aanlyn WAT se geval die hanteringsbeleid vir beledigende en sensitiewe leksikale items, duidelik te maak. Dit kan op 'n paar maniere gedoen word, maar die etiket kan byvoorbeeld in een kleur gemerk word wat die gebruiker via hiperskakelroete na die bypassende buiteteks neem wat met dieselfde kleur omraam word om die relevante teksdeel uit te lig. Nog 'n moontlikheid is 'n opskietspyskaart wat aan die kant van die skerm vertoon word, met oortjies na verskillende buitetekste in die WAT. Die oortjie na die hanteringsbeleid as tersaaklike buiteteks kan dan byvoorbeeld in dieselfde kleur gemerk word. Andersins kan 'n knoppie of ander simbool in een kleur binne die artikel gemerk word, met so 'n tipe oortjie in dieselfde kleur. Sodoende kan woordeboekgebruikers bewus gemaak word van waar hulle addisionele toeligting kan bekom om die woordeboek se spesifieke benadering beter te verstaan.

4. Gevolgtrekking

Uit die bespreking van die enkele punte is dit duidelik dat kleur 'n belangrike rol in aanlyn woordeboeke se artikel kan en moet speel. Dit is omdat dit toegang kan verbeter en 'n wesenlike bydrae tot 'n gebruikersvriendelike mikro-argitektuur kan lewer deur as nietipografiese struktuurmerker ingespan te word. Kleur alleenlik kan nie hierdie werk verrig nie, en moet ook nie die enigste middel wees waardeur bepaalde gegewens oorgedra word nie. Desondanks is dit iets wat 'n rol kan speel in hoe suksesvol 'n woordeboek as praktiese gebruiksinstrument kan dien. Daarom is dit nodig om doelbewus te dink oor die gebruik van kleur en die moontlikhede wat dit in die artikelstruktuur inhou, asook oor hoe die gebruik duidelik iewers toegelig moet word sodat woordeboekgebruikers dit kan verstaan. Heelwat van die moontlikhede in die teoretiese oorsig is egter tans nog toekomsmusiek in die Afrikaanse leksikografie, soos die veelvlakkige artikelstruktuur. Dit is nietemin opmerklik dat kleur in 'n woordeboek soos die WAV waaraan werk meer onlangs begin is reeds doeltreffend begin gebruik word, selfs al is daar nog by oorweging van die individuele kleure 'n bietjie ruimte vir verbetering. Die ontwikkeling is wel belowend en hou opwindende moontlikhede in.

Indien die Webinhoudtoeganklikheidsriglyne oorweeg word, is dit duidelik dat kleur 'n rol in sensitiwiteit kan speel en redaksies kan help om hulle begrip van sensitiwiteit te verbreed. Wat hiermee bedoel word, is dat sensitiwiteit nie net ten opsigte van pragmatiese inligting oor bepaalde leksikale items hoef te geld nie. Dit kan ook geïnterpreteer word ten opsigte van bepaalde gebruikersbehoeftes en -vermoëns. Dit is veral moontlik en nodig in aanlyn woordeboeke waarin kleiner aanpassings geen party sal benadeel nie, maar wel vir dié gebruikers wat dit nodig het 'n verskil kan maak sodat 'n woordeboek vir daardie gebruikers as praktiese gebruiksinstrument kan dien.

Eindnote

1 Soos aangekondig in 'n nuusbrief van 9 April 2025, het die Aanlyn WAT 'n nuwe baadjie gekry, wat onder meer 'n nuwe kleurskema insluit. Die skermskote wat in hierdie artikel ingesluit is, is egter reeds in Februarie 2025 geneem. Die nuusbrief is hier beskikbaar: https://www.wat.co.za/wat-wys-sy-kleure/

Bronnelys

Woordeboeke

Aanlyn WAT:

Woordeboek van die Afrikaanse Taal. https://www-woordeboek-co-za/ [20 Februarie 2025]

HAT Aanlyn

: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. https://mml-hat-co-za/ [24 Februarie 2025]

WAV: Woordeboek van Afrikaans Vandag. https://afrikaans-vandag.co.za/ [20 Februarie 2025]

Ander bronne

References

  • Almind, R. 2005. Designing Internet Dictionaries. Hermes, Journal of Linguistics 18(34): 37-54.
  • Berisso, K. 2018. Addressing Color Blind Awareness in the Classroom. Journal of Business and Management Sciences 6(3): 93-99.
  • Beyer, H.L. en P.A. Louw. 2022. Aspekte van vernuwing in die Afrikaanse leksikografie: Standaard- en pedagogiese woordeboeke as barometer. Lexikos 32(3): 25-48.
  • De Schryver, G.-M. 2003. Lexicographers' Dreams in the Electronic-dictionary Age. International Journal of Lexicography 16(2): 143-199.
  • Dobres, J., Chahine, N. en B. Reimer. 2017. Effects of Ambient Illumination, Contrast Polarity, and Letter Size on Text Legibility under Glance-Like Reading. Applied Ergonomics 60: 68-73.
  • Fuertes-Olivera, P.A. en S. Tarp. 2014. Theory and Practice of Specialised Online Dictionaries: Lexicography versus Terminography. Berlyn: De Gruyter.
  • Gouws, R.H. 2001. The Use of an Improved Access Structure in Dictionaries. Lexikos 11: 101-111.
  • Gouws, R.H. 2005. Oor die verhouding tussen woordeboekstrukture, woordeboekinhoud en leksikografiese funksies. Lexikos 15: 52-69.
  • Gouws, R.H. 2017. Leksikografie. Carstens, W.A.M. en N. Bosman (Reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde: 429-463. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.
  • Gouws, R.H. 2018a. Accessibility, Access Structures and Access Procedures. Jesenšek, V. en M. Enčeva (Reds.). 2018. Wörterbuchstrukturen zwischen Theorie und Praxis: 35-56. Berlyn: De Gruyter.
  • Gouws, R.H. 2018b. Internet Lexicography in the 21st Century. Engelberg, S., Kämper, H. en P. Storjohann (Reds.). 2018. Wortschatz: Theorie, Empirie, Dokumentation: 215-236. Berlyn: De Gruyter.
  • Gouws, R.H. 2018c. 'n Leksikografiese datatrekkingstruktuur vir aanlyn woordeboeke. Lexikos 28: 177-195.
  • Gouws, R.H. 2023. Nuwe raamstruktuurtipes in aanlyn woordeboeke. Lexikos 33(1): 382-403.
  • Gouws, R.H. en T.J.D. Bothma. 2024. Aspekte van inligtingsonttrekkingstrukture in aanlyn woordeboeke. Lexikos 34(1): 355-370.
  • Gouws, R.H. en D.J. Prinsloo. 2005. Principles and Practice of South African Lexicography. Stellenbosch: SUN PReSS.
  • Gouws, R.H. en S. Tarp. 2017. Information Overload and Data Overload in Lexicography. International Journal of Lexicography 30(4): 389-415.
  • Gouws, R.H. en S. Tarp. 2024. Despite Current Challenges: Lexicography Has a Bright Future. Lexicographica 40(1): 187-212.
  • Index of Color Contrast Samples. s.a. https://web.archive.org/web/20160814160227/; http://trace.wisc.edu/contrast-ratio-examples [28 Februarie 2025]
  • Jamil, A. en G. Denes. 2024. Investigating Color-Blind User-Interface Accessibility via Simulated Interfaces. Computers 13(2): 53-68.
  • Juicy Studio. 2025. Luminosity Colour Contrast Ratio Analyser. https://juicystudio.com/services/luminositycontrastratio.php [28 Februarie 2025]
  • Kilgarriff, A. en I. Kosem. 2012. Corpus Tools for Lexicographers. Granger, S. en M. Paquot (Reds.). 2012. Electronic Lexicography: 31-55. Oxford: Oxford University Press.
  • Mihindou, G.-R. 2006. A Theoretical Model for a Yipunu-English-French Explanatory Dictionary of Medical Terms. Ongepubliseerde D.Litt.-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
  • Müller-Spitzer, C. en A. Koplenig. 2014. Online Dictionaries: Expectations and Demands. Müller-Spitzer, C. (Red.). 2014. Using Online Dictionaries: 143-188. Berlyn: De Gruyter.
  • Müller-Spitzer, C., Koplenig, A. en A. Töpel. 2012. Online Dictionary Use: Key Findings from an Empirical Research Project. Granger, S. en M. Paquot (Reds.). 2012. Electronic Lexicography. 425-457. Oxford: Oxford University Press.
  • Rundell, M. 2015. From Print to Digital: Implications for Dictionary Policy and Lexicographic Conventions. Lexikos 25: 301-322.
  • Shieh, K.-K. en Y.-K. Lai. 2008. Effects of Ambient Illumination, Luminance Contrast, and Stimulus Type on Subjective Preference of VDT Target and Background Color Combinations. Perceptual and Motor Skills 107(2): 336-352.
  • Soegoto, E.S., M.A. Fadhlurrahman en Y.A. Hermawan. 2019. Video Streaming Application Design for Color Blind Users. Journal of Physics: Conference Series 1402(6): 1-8.
  • Swasty, W. en A.R. Adriyanto. 2017. Does Color Matter on Web User Interface Design? CommIT (Communication & Information Technology) Journal 11(1): 17-24.
  • Tarp, S. 2012. Do We Need a (New) Theory of Lexicography? Lexikos 22: 321-332.
  • TPGi. 2025. Colour Contrast Analyser (CCA). https://www.tpgi.com/color-contrast-checker/ [28 Februarie 2025]
  • WCAG (Web Content Accessibility Guidelines) 2.2. 2024. W3C Recommendation 12 December 2024. https://www.w3.org/TR/WCAG21/ [27 Februarie 2025]
  • WebAIM. 2025. Contrast Checker. https://webaim.org/resources/contrastchecker/ [28 Februarie 2025]
  • Wiegand, H.E. 1983. Ansätze zu einer allgemeinen Theorie der Lexikographie. Schildt, J. en D. Viehweger (Reds.). 1983. Die Lexikographie von heute und das Wörterbuch von morgen: Analysen - Probleme - Vorschläge: 92-127. Berlyn: Akademie der Wissenschaften der DDR, Zentralinstitut für Sprachwissenschaft.
  • Wiegand, H.E. 1996. A Theory of Lexicographic Texts: An Overview. South African Journal of Linguistics 14(4): 134-149.
  • Wiegand, H.E. 1998. Wörterbuchforschung: Untersuchungen zur Wörterbuchbenutzung, zur Theorie, Geschichte, Kritik und Automatisiering der Lexicographie. Berlyn: De Gruyter.
  • Wiegand, H.E. en S. Beer. 2013. Access Structures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography: 110-149. Berlyn/New York: De Gruyter.

Publication Dates

  • Publication in this collection
    12 Jan 2026
  • Date of issue
location_on
Bureau of the WAT Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Lexikos Posbus 245, Stellenbosch, Western Cape, ZA, 7599, Tel: +27 21 808 9046 - E-mail: tha@sun.ac.za
rss_feed Acompanhe os números deste periódico no seu leitor de RSS
Ir para o topo