Abstract
Hierdie artikel ondersoek hoe sensitiewe woorde wat verband hou met persone met gestremdhede in die "Groot Vyf" eentalige Engelse aanleerderswoordeboeke toegelig word. Die bevindings toon dat aanleerderswoordeboeke daartoe neig om omsigtig te wees in die toeligting van sodanige terme, met opmerklike verskille in die aantal woorde wat toegelig word en die voorbeelde wat verskaf word, sowel as in die insluiting van bykomende voorbeelde. Ten spyte van hierdie variasie, bied die "Groot Vyf" konsekwent voorbeelde van frases en sinne vir sensitiewe woorde aan wat 'n dekoderende sowel as enkoderende doel dien. Die analise toon dat die toeligting van sensitiewe woorde beïnvloed word deur faktore soos die woordsoort, etikettering wat ingesteldheid oordra, en hoe aktueel die woord is. Oor die algemeen word byvoeglike vorms van sensitiewe woorde meer toegelig as hulle naamwoordelike teenhangers. Sensitiewe woorde wat steeds in gebruik is, word meer dikwels toegelig as dié wat as outyds beskou word. Neutrale of eufemistiese leksikale items word meer dikwels met voorbeelde toegelig as items waaraan negatiewe konnotasies geheg word. Hierdie artikel bepleit breër toeligting van sensitiewe woorde, veral neutrale en eufemistiese woorde, en beveel aan dat die aanbieding en kwaliteit van bykomende voorbeelde geoptimaliseer word.
groot vyf; toeligting; sensitiewe woorde; persone met gestremdhede; inklusiewe taal











