Open-access 'n Omvattender aanbod van semantiese data in aanlyn woordeboeke

A more comprehensive presentation of semantic data in online dictionaries

Abstract

Betekenis is die datatipe waaraan die meeste gebruikers van verklarende woordeboeke 'n behoefte het. Weens ruimtebeperkinge kan gedrukte woordeboeke slegs in 'n beperkte mate verslag doen van betekenisaspekte wat vir woordeboekgebruikers ter sake is. In die vasstelling van betekeniskenmerke wat in woordeboekverklarings aangebied word, laat leksikograwe hulle grootliks lei deur insigte vanuit ouer benaderings in die linguistiek. Gevolglik word 'n streng skeiding tussen linguistiese en ensiklopediese data dikwels steeds gehandhaaf. Na 'n oorsig oor aspekte van woordeboektipologie, woordeboekstrukture en semantiese data in gedrukte woordeboeke word daar in hierdie artikel voorstelle gemaak vir die benutting van nuwe woordeboekstrukture om 'n omvattender weergawe van semantiese data in aanlyn verklarende woordeboeke te bewerkstellig. In die verskillende semantiese subkommentare van 'n artikel word daar voorsiening gemaak vir 'n horisontale ordening van verskillende vakke wat elk 'n datatipe huisves. Meer ruimte word geskep vir semantiese data en ook vir data wat buite die bestek van tradisionele woordeboekinskrywings val. 'n Sterker fokus word ook geplaas op betekenisbetrekkinge en maniere waarop hierdie betekenisleiding in die semantiese kommentaar aangebied kan word. Nuwe tipes geïntegreerde mikrostrukture word voorgestel om die data op gepaste maniere toeganklik te maak vir gebruikers, en voorstelle word gemaak om inligting ook aan woordeboek-eksterne bronne te onttrek. Semantiese data moet so goed en so omvattend as moontlik in verklarende woordeboeke aangebied word.

betekenisparafrase; geïntegreerde mikrostruktuur; parallel-geïntegreerde mikrostruktuur; semantiese data; semantiese kommentaar; semantiese subkommentaar; skagstruktuur; soektonnel; soekuniversum; uitgestelde geïntegreerde mikrostruktuur; vakke; veelfasige geïntegreerde mikrostruktuur; vlakke


Abstract

Meaning is the type of data most frequently needed by dictionary users. Due to space restrictions printed dictionaries can only offer a limited reflection of those aspects of meaning relevant to dictionary users. In determining features of meaning to be used in explanations of meaning, lexicographers are often guided by insights from older approaches in linguistics. Consequently, a strict division is often still maintained between linguistic and encyclopaedic data. Following an overview of some aspects of dictionary typology, dictionary structures and semantic data in printed dictionaries, this paper offers suggestions for the use of new types of dictionary structures to ensure a more comprehensive presentation of semantic data in online monolingual dictionaries. In the different subcomments on semantics in dictionary articles, provision is made for a horizontal ordering of different compartments to accommodate different types of data. More space is allocated to semantic data and also to data that fall beyond the scope of traditional dictionary entries. A stronger focus is placed on semantic relations and ways in which this type of semantic guidance could be accommodated in the comment on semantics. New types of integrated microstructures are suggested to make data accessible for target users, and suggestions are also made for the retrieval of information from dictionary-external sources. Semantic data should be presented as good and as comprehensive as possible in monolingual dictionaries.

comment on semantics; compartments; delayed integrated microstructure; integrated microstructure; levels; multi-phased integrated microstructure; parallel integrated microstructure; paraphrase of meaning; search tunnel; search universe; semantic data; shaft structure; subcomment on semantics


1. Inleiding

Semantiese data is dié datatipe waarvoor die meeste gebruikers van algemene eentalige en tweetalige woordeboeke hulle tot hierdie naslaanbronne wend. In tweetalige woordeboeke is die soektog veral gerig op die vind van 'n gepaste vertaalekwivalent om die betekenis van 'n brontaalvorm in die doeltaal uit te druk. In eentalige woordeboeke is dit veral 'n verklaring van betekenis waaraan gebruikers 'n behoefte het. Die aanbod van semantiese data is egter nie beperk tot aanduiders van vertaalekwivalente en betekenisparafrases nie. Na gelang van die tipologiese aard van 'n woordeboek, bied woordeboekartikels op semantiese vlak ook leiding ten opsigte van onder meer betekenisbetrekkinge, deursigtige en ondeursigtige gelede woorde, deiktiese waardes van linguistiese uitdrukkings, semantiese gebruiksbeperkinge asook pragmatiese data. Aangesien algemene eentalige en tweetalige woordeboeke ook vir ander datatipes voorsiening moet maak, lei die ruimteprobleme in gedrukte woordeboeke daartoe dat daar selde 'n uitvoerige aanbod van semantiese data kan wees; selfs in omvattende woordeboeke. Na gelang van die woordeboeksoort maak leksikograwe 'n keuse uit die verskillende tipes semantiese data en bied dan slegs aanduiders van hierdie tipes aan. Die omvang van die weergawe van elk van hierdie aanduidertipes word ook deur die woordeboek se tipologiese beperkinge bepaal. Hierdie keuse word normaalweg op grond van die behoeftes van die teikengebruiker gemaak, maar die meeste woordeboektipes kan beswaarlik aan al die behoeftes van al die voornemende gebruikers voldoen. Alhoewel aanduiders van tipes semantiese data dikwels die besetting van soeksones in 'n woordeboekartikel oorheers, bly dit 'n beperkte aanbod wat lei tot 'n beperkte leksikografiese bewerking van die leksikale items wat deur die lemmas verteenwoordig word.

Aanlyn woordeboeke het nie dieselfde ruimteprobleme as gedrukte woordeboeke nie. Alhoewel die aanbiedingsruimte beperk is weens die skermgrootte van die rekenaar, tablet of slimfoon, laat die bergingsruimte groot hoeveelhede data toe. Leksikograwe van aanlyn woordeboeke kan, waar nodig, dus voorsiening maak vir 'n uitvoeriger aanbod van elke datatipe in vergelyking met die aanbod wat in 'n ooreenstemmende gedrukte woordeboek verskyn.

Hierdie artikel is gerig op die vind van moontlike oplossings om die omvangsprobleem van die aanbod van semantiese data in aanlyn woordeboeke te oorkom. Met inagneming van ander datatipes wat ook in woordeboeke aangebied word, is die fokus in hierdie artikel uitsluitlik op semantiese data. Die aard van die woordeboeksoort, die struktuur van die woordeboekartikel en verskillende soeksones in die artikel as soekgebied word onder die loep geneem.

2. Ter agtergrond

Voordat voorstelle vir 'n nuwe aanbod van semantiese data in aanlyn woordeboeke bespreek word, is dit noodsaaklik om kortliks aandag te gee aan enkele aspekte van gedrukte woordeboeke, by name woordeboektipologie, woordeboekstrukture asook enkele aspekte van semantiese data in gedrukte woordeboeke. Hierdie laasgenoemde aspek word voorafgegaan deur enkele verwysings na die semantiek as linguistiese studierigting.

2.1 Aspekte van woordeboektipologie

In die inleidende paragraaf is daar verwys na semantiese data in algemene eentalige en tweetalige woordeboeke. Hierdie verwysing het veral te make met die soort tipologiese indeling wat op gedrukte woordeboeke gerig is. Woordeboektipologie vorm 'n wesenlike deel van leksikografiese besprekings. Scerba (1940) het reeds gewys op die belang van tipologiese verskille tussen woordeboeke. Zgusta (1971: 198, e.v.) bied 'n uitvoerige tipologiese klassifikasie wat as basis dien vir talle latere besprekings van woordeboektipologie.

Die vroeë klassifikasie van woordeboeksoorte was uiteraard op gedrukte woordeboeke gerig en dit geld vandag steeds in 'n hoë mate - ook in talle beskouinge van die aanlyn leksikografie. Die tradisionele woordeboekklassifikasie het woordeboeke nie in waterdigte kompartemente geplaas nie, maar wel voorsiening gemaak vir oorvleueling tussen verskillende tipes. Desondanks was daar duidelike kriteria waarvolgens enige woordeboek in 'n bepaalde kategorie geplaas is. Verskillende woordeboeksoorte het verskillende gebruikersgroepe gehad en die aard en aanbod van die verstrekte data is in terme van die woordeboeksoort, die teikengebruikers, en die leksikografiese behoeftes en woordeboekvaardighede van die teikengebruikers bepaal. Algemene eentalige en tweetalige woordeboeke is in die eerste plek as linguistiese instrumente gesien wat linguistiese data aan hulle gebruikers beskikbaar moes stel. Die keuse en aanbod van data is grootliks deur die woordeboeksoort bepaal en dit het beperkte geleenthede geskep vir verandering en vernuwing.

Wat die hantering van betekenisaspekte in eentalige verklarende woordeboeke betref, het die onderskeid tussen omvattende woordeboeke, standaardwoordeboeke en pedagogiese woordeboeke aan elk van hierdie woordeboeksoorte 'n bepaalde datapakket voorgehou waaraan die leksikograwe hulle moes hou.

2.2 Aspekte van woordeboekstrukture

In die aanbod van semantiese data in woordeboeke speel verskillende strukture 'n rol. Vir die plasing en vind van semantiese data is die dataverspreidingstruktuur, die toegangstruktuur en die data-onttrekkingstruktuur van die hoogste belang. Vir die doel van hierdie bespreking is dit egter veral die artikelstruktuur en sy onderskeie komponente en elemente wat ter sprake gebring word.

2.2.1 Artikelstruktuur

Algemene eentalige en tweetalige woordeboeke vertoon 'n vaste artikelstruktuur met data wat veral in óf die vorm- óf die semantiese kommentaar gehuisves word. Woordeboekartikels bevat twee tipes elemente, te wete aanduiders en struktuurmerkers (vgl. Wiegand 1989a en Wiegand en Smit 2013). Aanduiders is mikrostrukturele elemente waaraan leksikografiese inligting onttrek kan word. Struktuurmerkers is elemente waaraan geen leksikografiese inligting onttrek kan word nie, maar wat bepaalde datatipes en soeksones merk. Semantiese data word deur middel van aanduiders in woordeboekartikels weergegee, en hierdie datatipe word deur middel van struktuurmerkers van ander datatipes onderskei.

Die semantiese kommentaar bevat verskillende tipes semantiese data soos die aanduiders van die betekenisparafrase, antonieme, sinonieme en, in die geval van tweetalige woordeboeke, vertaalekwivalente. In die geval van lemmas wat 'n polisemiese leksikale item verteenwoordig, bevat die semantiese kommentaar 'n semantiese subkommentaar vir elkeen van die verskillende polisemiese waardes. 'n Semantiese subkommentaar bevat die tersaaklike betekenisparafrase of vertaalekwivalent. Die semantiese kommentaar, sowel as die semantiese subkommentare, bied ook ruimte vir die weergawe van koteksaanduiders. Sulke aanduiders word nie net ter bevrediging van 'n teksproduksiefunksie verstrek nie, maar ook om die teksbegripfunksie ter wille te wees. Daarom is dit belangrik dat daar 'n duidelike verband tussen 'n betekenisparafrase of vertaalekwivalent en die verstrekte koteksinskrywings moet wees. Vir 'n ondubbelsinnige vergestalting van hierdie verband word daar voorsiening gemaak vir verskillende tipes mikrostrukture. Dit is veral die geïntegreerde en die niegeïntegreerde mikrostrukture (Wiegand 1989a: 483, 488) wat hier ter sake is en wat die verwarring teenwerk wat spruit uit die gebruik van 'n primitiewe mikrostruktuur (vgl. Gouws 2003: 107).

In die geval van 'n geïntegreerde mikrostruktuur tree een of meer koteksaanduiders in dieselfde semantiese subkommentaar, 'n integraat (sien Wiegand 1989a: 484 en Wiegand en Smit 2013: 176), as die betekenisparafrase of vertaalekwivalent op. Figuur 1, 'n deelartikel uit die HAT, bevat vyf semantiese subkommentare en telkens word die betekenisparafrase-aanduider aangevul deur een of meer koteksaanduiders wat in dieselfde integraat geïntegreer is. Die nabyheid van koteksaanduiders aan die betekenisparafrase-aanduider skep 'n verhouding van onmiddellike adressering wat vir die gebruiker 'n kitsonttrekking van inligting moontlik maak.

In die geval van 'n niegeïntegreerde mikrostruktuur word al die koteksinskrywings wat vir elk van die betekenisonderskeidinge verstrek word saam in een teksblok geplaas wat gewoonlik op die teksblokke volg wat die verskillende semantiese subkommentare huisves. Sien in hierdie verband figuur 2, 'n artikel uit die Prisma Groot woordenboek Afrikaans en Nederlands:

Die artikel van die lemma rond vertoon drie semantiese subkommentare. Elkeen bevat, in hakies, 'n bondige betekenisverklaring, gevolg deur die tersaaklike vertaalekwivalent(e). Na afloop van die derde semantiese subkommentaar is daar 'n diamantvormige nietipografiese struktuurmerker wat ter wille van kitstoegang die artikeldeel merk waar die koteksaanduiders verskyn. Hierna is daar vir elk van die voorafgaande semantiese subkommentare 'n artikelgleuf wat die gepaste koteksaanduiders bevat. Elk van hierdie artikelgleuwe het 'n nommer wat ooreenstem met 'n nommer, as polisemiemerker, van een van die voorafgaande semantiese subkommentare. Daardeur word elke koteksgleuf verbind met 'n semantiese subkommentaar wat dieselfde nommer het. Alhoewel elke semantiese subkommentaar nie koteksaanduiders as deel van die betrokke integraat bevat nie en daar 'n verhouding van afstandsadressering tussen 'n koteksaanduider en die tersaaklike vertaalekwivalent bestaan, maak die eksplisiete numeringsafparing dit vir gebruikers moontlik om probleemloos die tersaaklike koteksaanduider vir 'n bepaalde vertaalekwivalent te vind.

2.3 Enkele aspekte van die semantiek

Algemene verklarende woordeboeke word veral geraadpleeg vir die onttrekking van taalkundige inligting. Dit is veral data wat met die betekenis van 'n leksikale item te make het waarna gesoek word en dan veral daardie aanduiders wat 'n verklaring van die betekenis van 'n woord bied - die aanduiders van betekenisparafrases. As houers van taalkundige data is woordeboeke van die afgelope dekades daarop gerig om 'n suiwer linguistiese verslag van die leksikon te bied. Ook wat die weergawe van semantiese data betref, is daar gepoog om nielinguistiese data uit die betekenisparafrase-aanduiders te weer. Woordeboeke is skerp gekritiseer indien daar 'n vermenging van linguistiese en ensiklopediese data in die verklaring van betekenis aangebied is. Vergelyk in hierdie verband die kritiek op betekenisverklaring in vroeër dele van die WAT, byvoorbeeld Combrink (1979) en Odendal (1979).

Volgens Gouws (om te verskyn) poog natuurlike semantiese metataal, 'n teoretiese benadering in die linguistiek, om betekenis in te kort tot 'n beperkte stel semantiese primitiewe. Semantiese primitiewe is die eenvoudigste linguistiese konsepte. Hulle kan nie gedefinieer word deur eenvoudiger terme te gebruik nie (vgl. Wierzbicka 1972 en Levisen en Waters 2017). Om betekenis met behulp van semantiese primitiewe te identifiseer, lei tot 'n suiwer linguistiese betekenisverklaring wat universele waarde het. Fodor (1977: 155-156) beweer dat in generatiewe grammatika "a lexical item is substituted for a constituent of a phrase marker whose terminal elements are semantic primitives". Met behulp van sulke primitiewe kan die betekenis van die woord doodmaak beskryf word as "veroorsaak om nielewend te word". Ook in die strukturele semantiek lei die benadering van komponentanalise daartoe dat 'n woord se betekenis in komponente verdeel word wat slegs ruimte laat vir linguistiese data en geensins vir gebruiks- of ensiklopediese data nie. Kenmerkend hier is die weglating van alle persoonlike en nielinguistiese kenmerke.

Gouws (om te verskyn) wys daarop dat die kognitiewe semantiek 'n ander benadering volg. Hiervolgens is taal gewortel in die individu se ervaring, insluitend sintuiglike ervarings. 'n Betekenisverklaring wat op hierdie benadering gebaseer is, strek dus verder as semantiese primitiewe en komponente en bevat ook buitelinguistiese kenmerke. Volgens DiMuccio-Failla (2025: 27) se kognitiewe benadering tot betekenis, kan woorde beskou word as verteenwoordigers van ervaringskategorieë. Dit het noodwendig 'n invloed op betekenisverklaring en waar hierdie benadering in woordeboeke gevolg word, sal die betekenisparafrase veel meer insluit as die data wat deur semantiese primitiewe en komponente weergegee word. Klotz en Herbst (2016: 72) het reeds aangedui dat 'n woordeboekdefinisie 'n beskrywing is van die betekeniskenmerke van 'n leksikale item gebaseer op sy gebruik in 'n taalgemeenskap.

Uit die voorafgaande bespreking kan die afleiding gemaak word dat woordeboeke wat slegs op 'n streng linguistiese interpretasie van betekenis gerig is, nie noodwendig die volle omvang van dit wat die taalgemeenskap as betekenis ervaar, weergee nie. Nuwe benaderings in die aanlyn leksikografie maak voorsiening vir aanpassings in hierdie verband.

2.4 Semantiese data in gedrukte woordeboeke

In die hieropvolgende paragrawe word enkele aspekte van semantiese data in gedrukte verklarende woordeboeke bespreek. Dit bied 'n agtergrond vir die bespreking in 'n daaropvolgende afdeling oor semantiese data in aanlyn woordeboeke.

2.4.1 Komponentanalise

Linguistiese teorieë is ten dele ter sake in die leksikografie. Die leksikografie is egter 'n dissipline uit eie reg en nie 'n subdissipline van die linguistiek nie. Daarom speel linguistiese teorieë nie 'n bepalende rol in besluite oor die opname en aanbieding van data in woordeboeke nie, alhoewel aspekte van sulke teorieë dikwels wel deur leksikograwe oorweeg word. Bepaalde benaderings in die taalwetenskap kan aangepas word vir 'n spesifieke leksikografiese gebruik.

'n Voorbeeld van so 'n aanpassing is te vinde in die linguistiese siening van semantiese primitiewe en komponentontleding. In die linguistiek lei hierdie benaderings tot 'n suiwer taalkundige analise van woordbetekenis. Die individu se ervaring van betekenis asook Wittgenstein (1953) se siening dat die betekenis van 'n woord deur sy gebruik in die taal bepaal word, word nie deur so 'n linguistiese benadering in ag geneem nie. In die leksikografiese hantering van semantiese data kan die benutting van byvoorbeeld betekeniskomponente 'n waardevolle hulp wees, maar 'n toepassing daarvan moet nie die eindpunt van die semantiese analise wees nie. Hier is 'n aanpassing nodig om vir die eiesoortigheid van leksikografiese betekenisverklaring voorsiening te maak. Na aanleiding van die werk aan Louw en Nida (1988), dit is die innoverende Grieks-Engelse woordeboek van die Nuwe Testament wat op semantiese velde gebaseer is, stel Louw (1985) 'n benadering bekend wat linguistiese teorie vir die leksikografie aanpas. In die analise van betekenis word semantiese komponente gebruik - Louw werk met drie komponenttipes, te wete gemeenskaplike komponente, diagnostiese komponente en supplementêre komponente. Die gebruik van die eersgenoemde twee tipes lei tot 'n produk vergelykbaar met dié vanuit die linguistiese benadering van komponentanalise. Hierdie analise word dan, waar nodig, aangevul met die gebruik van supplementêre komponente. Hierdie komponenttipe bied data wat nie streng semanties is nie en wat iets van 'n woord se gebruik of sy ensiklopediese waarde weergee. Die insluiting van supplementêre komponente bied 'n leksikografiese werkswyse wat die tradisionele komponentontleding van die strukturele taalkunde verbind met aspekte van die kognitiewe semantiek om 'n gepaste woordeboekbewerking moontlik te maak.

Die gebruik van supplementêre komponente het 'n invloed op die aard en omvang van die betekenisparafrase aangesien bykomende, selfs nielinguistiese, data daarby ingesluit word. Betekenisparafrases in die artikels van gedrukte woordeboeke bied ongelukkig dikwels nie voldoende ruimte vir 'n data-aanbod wat alle gebruikers se kennisbehoefte bevredig nie; veral omdat die betekenisparafrase nie 'n genoegsame hantering van supplementêre komponente toelaat nie. Dié situasie kan ingrypend verbeter word in aanlyn woordeboeke.

2.4.2 Betekenisbetrekkinge

Die leksikale semantiek sluit meer in as die betekenisverklaring van leksikale items. Die leksikon vertoon 'n netwerk van semantiese betrekkinge wat deel is van die studie-objek van die leksikale semantiek. As draers van betekenisdata moet verklarende woordeboeke ook van betekenisbetrekkinge verslag doen. Aan betrekkinge soos antonimie en sinonimie gee verklarende woordeboeke gereeld aandag, maar die spesifieke aard van 'n bepaalde sinonimiese betrekking, byvoorbeeld of dit absolute al dan gedeeltelike sinonieme is wat aangedui word, word selde vermeld. Koteksaanduiders om die voorkoms van die tersaaklike sinonimiese betrekking te illustreer, ontbreek meestal ook.

Naas sinonimie vorm hiponimie deel van die verskillende tipes betekenisbetrekkinge van semantiese insluiting. Waar woordeboeke die genus en differentia-metode gebruik in die betekenisparafrase van 'n woord wat 'n hiponiem is, is daar 'n implisiete aanduiding van 'n hiponimiese verhouding deurdat die superordinaat as gemeenskaplike komponent verstrek word. Dit is duidelik waar HAT die betekenis van die woord kool verklaar as "enigeen van die groentesoorte en -kultivars van die geslag Brassica met dikkerige groen of rooi blare wat styf ineengevleg is en 'n harde kop vorm". Hier tree groentesoort as superordinaat van kool op. Hoofsaaklik weens ruimtebeperkinge ontbreek breër semantiese leiding ten opsigte van ander hiponieme van dieselfde superordinaat in die meeste woordeboekartikels. In die betekenisparafrase van 'n woord wat 'n superordinaat is, word voorbeelde van hiponieme dikwels genoem. Vergelyk HAT se verklaring van groente as: "plante/plantdele wat 'n mens rou of gaargemaak (kan) eet, soos kool, blomkool, aartappels, (geel)wortels en ertjies ...". Hier word meer semantiese leiding verstrek, maar gebruikers kry steeds slegs 'n beperkte deel van die betrokke semantiese veld.

Antonimie is een tipe betekenisteenoorgesteldheid. Woordeboeke toon dikwels antonieme aan of hulle skep 'n soeksone vir die weergawe van betekenisteenoorgesteldes. Vir die woordeboekgebruiker op soek na inligting oor tipes teenoorgesteldes is die tipiese leksikografiese bewerking onvoldoende. Daar word nie genoegsaam inligting verstrek om die gebruiker te help om tussen byvoorbeeld antonimie, omgekeerdheid en komplementariteit (Lyons 1977: 270-280) te onderskei nie.

2.5 Onverklaarde gelede woorde

Eentalige verklarende woordeboeke het dikwels die gebruik om onverklaarde gelede woorde op te neem. Hierdie woorde kwalifiseer as lemmakandidate, maar weens ruimtebeperkinge kry hulle geen volledige bewerking nie. Die implikasie van opname as onverklaarde lemma is dat die gelede woord semanties deursigtig is en dat die betekenis afgelei kan word van die betekenisse van die samestellende dele. Deursigtigheid is nie altyd maklik vasstelbaar nie en leksikograwe mag hulle nie op die intuïsie van hulle gebruikers beroep en aanvaar dat dit wat vir die leksikograaf deursigtig is ook vir die gebruiker sal wees nie.

Begripsprobleme duik maklik op, onder meer waar die woordvariant van een of meer stamme van 'n gelede woord polisemies is. Die WAT bied byvoorbeeld agt betekenisonderskeidinge en 'n reeks subonderskeidinge in die bewerking van die selfstandige naamwoord kop. In die lys onverklaarde lemmas verskyn onder meer kopprofiel en kopskub. Behalwe dat die betekenis van hierdie woorde nie sonder meer deursigtig is nie, het die gebruiker ook geen duidelikheid oor watter een van die betekenisonderskeidinge van die lemma kop in elke onverklaarde gelede woord ter sake is nie. Vergelyk ook die bespreking van hierdie probleem in Gouws (1989: 77, e.v.).

Sommige woordeboeke bied meer hulp in hierdie verband, byvoorbeeld Nasionale woordeboek wat in sy aanbieding van onverklaarde lemmas 'n benadering van neslemmatisering (vgl. Wiegand 1989b: 391) volg, en telkens aantoon watter polisemiese waarde van die woord wat deur die voorafgaande hooflemma verteenwoordig word in die eerste stam van die gelede woord geaktiveer word. Dit is duidelik uit die bewerking in figuur 3. Die artikel van die lemma stroom is sesvoudig polisemies. In die lys onverklaarde lemmas word met behulp van 'n deeltrajekpolisemiemerker "(by 2)" aangetoon dat die tweede polisemiese waarde ter sake is by die onverklaarde lemmas stroombed en stroombedding, terwyl polisemiese waarde ses geaktiveer word in die sublemmas stroombaan - stroomverdeling.

'n Ondubbelsinnige vasstelling van die spesifieke betekeniswaarde van onverklaarde lemmas is nie probleemloos nie. Hier moet leksikograwe aandag gee aan Gove (1966: 183) wat aanvoer dat die self- in self-explanatory na die interpreteerder van die woord moet verwys en nie na die woord as sodanig nie - vergelyk ook Gouws (1989: 78).

In talle verklarende woordeboeke skiet die implisiete betekenisleiding by die weergawe van onverklaarde gelede woorde te kort. Teikengebruikers van 'n betrokke woordeboek kan nie sonder meer die betekenisinligting aan die aangebode data onttrek nie. Dit striem suksesvolle semantiese leiding in die artikels van verklarende woordeboeke.

3. Aanlyn woordeboeke

3.1 Woordeboektipologie

Tarp (2009: 24) onderskei tussen 'n kontemplatiewe en 'n transformatiewe benadering in die leksikografie. Eersgenoemde bring mee dat leksikograwe op dieselfde manier voortwerk aan hulle woordeboeke as hulle voorgangers, terwyl die laasgenoemde benadering daartoe lei dat leksikograwe vernuwend optree in die beplanning en samestelling van woordeboeke. Ook in die oorgang van gedrukte na aanlyn woordeboeke is daar dikwels 'n kontemplatiewe benadering met dieselfde werkswyse wat gehandhaaf word. Dit geld ook die tipologiese klassifikasie, want die indeling wat vir gedrukte woordeboeke geld, kan sonder meer of met slegs geringe aanpassings ook in die aanlyn omgewing gebruik word. Die aanlyn omgewing het egter 'n transformatiewe potensiaal en bied moontlikhede wat tot wesenlike aanpassings in die bestaande woordeboektipologie kan lei. Dit het implikasies vir baie aspekte van die leksikografiepraktyk, onder meer vir die data-aanbod en die dataverspreidingstruktuur.

In die aanlyn leksikografie speel toegang tot data 'n deurslaggewende rol. Belangriker as die beskikbaarheid van 'n bepaalde woordeboeksoort is die beskikbaarheid van die gepaste data - ongeag of dit in 'n woordeboek of in 'n databasis gevind word. Toegang tot data kan ook geïndividualiseer word sodat elke gebruiker 'n unieke toegang tot die spesifieke data kry waaraan hulle 'n behoefte het. In hierdie verband bied Gouws (2006) en Bergenholtz en Bergenholtz (2017) aanduidings van meerdere woordeboeke wat aan een databasis onttrek kan word, terwyl Bergenholtz, Bothma en Gouws (2011) wys op toegang tot vooraf geselekteerde datatipes. Die beginsels wat in hierdie publikasies ter sprake gebring is, kan in die hedendaagse aanlyn leksikografie met veel meer verfyning en presiesheid toegepas word - ook wat die beskikbaarstelling van semantiese data betref. Dit kan lei tot 'n vernuwende aanpassing in die tipologiese klassifikasie van leksikografiese bronne.

Aan 'n noukeurig beplande en gemerkte databasis kan verskillende woordeboeke onttrek word. Die data in die databasis van so 'n "moederwoordeboek" (vergelyk Gouws 2006), kan gemerk word vir spesifieke woordeboeksoorte, byvoorbeeld 'n eentalige verklarende skoolwoordeboek, aanleerderwoordeboek, standaardwoordeboek of omvattende woordeboek. Na gelang van die gebruikersprofiel, soos aangedui deur 'n gebruiker wanneer die databasis benut word, kan verskillende bewerkings van dieselfde lemma gebied word. Vir teksbegripdoeleindes kan verskillende aanduiders van die betekenisparafrase aan die databasis onttrek word en vir teksproduksiedoeleindes kan verskillende koteksaanduiders verskyn. Tradisionele woordeboektipologie is hier nie so belangrik nie, maar wel die behoeftes van die gebruiker - en dit word in die gebruikersprofiel gespesifiseer. Waar 'n gebruiker se profiel hom/haar as 'n aanleerder van 'n taal spesifiseer, sal die tersaaklike aanduider onttrek word. Aan dieselfde databasis onttrek die gebruiker wat as moedertaalspreker met 'n behoefte aan omvattende betekenisleiding gespesifiseer is, ander tersaaklike inligting.

Die databasis kan ook so opgestel word dat woordeboeke wat slegs enkele datatipes bevat daaraan onttrek kan word. Die databasis bevat al die leksikografiese data vir 'n woordeboek wat die volle spektrum van datatipes dek, maar 'n gebruiker wat slegs 'n behoefte aan, byvoorbeeld, uitspraakhulp het, onttrek slegs aanduiders wat die uitspraak van 'n betrokke woord weergee. Op dieselfde manier kan 'n woordeboek onttrek word wat slegs semantiese data bevat. Telkens kan die leksikograaf aandui watter tipes aanduiders ter sake is. In die geval van 'n uitspraakwoordeboek kan dit byvoorbeeld 'n fonetiese transkripsie van die woord wees of dit kan primêre en sekondêre klem, asook sillabeverdelings aantoon. In die geval van 'n betekeniswoordeboek is verskeie aanduidertipes moontlik, byvoorbeeld 'n betekenisparafrase, antonieme en sinonieme.

3.3 Woordeboekstrukture

Aanlyn woordeboeke vertoon 'n verskeidenheid strukture wat ooreenstem met asook verskil van strukture in gedrukte woordeboeke. Sommige strukture, byvoorbeeld die makrostruktuur, word met bepaalde aanpassings gehandhaaf. Ander strukture, byvoorbeeld die raamstruktuur, val weg in aanlyn woordeboeke, terwyl nuwe strukture, byvoorbeeld die skermskootstruktuur, na vore tree. Dit is veral die artikelstruktuur en strukture wat in en vanuit die artikel ingespan word wat vernuwingsmoontlikhede in die data-aanbod, ook dié van semantiese data, tot voordeel kan strek.

3.3.1 Die artikelstruktuur in aanlyn woordeboeke

In die hieropvolgende bespreking is die fokus uitsluitlik op aspekte van die semantiese kommentaar van die artikels van aanlyn woordeboeke. In die semantiese kommentaar vertoon aanlyn woordeboeke dikwels dieselfde statiese struktuur wat in gedrukte woordeboeke voorkom. Vergelyk in hierdie verband figuur 4, die artikel van die lemma taksonomie in die aanlyn WAT waarvan die statiese artikelstruktuur baie ooreenstem met dié van artikels in die gedrukte dele van die WAT:

Hierdie artikel vertoon 'n mikrostrukturele ordeningstruktuur met aanduiders in die semantiese kommentaar wat vertikaal georden is. 'n Vertikale hiërargiese ordening kom algemeen in woordeboekartikels voor en in gedrukte woordeboeke bied dit gemaklike interne soekroetes. 'n Vertikale ordening lei tot 'n skagstruktuur met die gebruiker wat in die interne toegangstruktuur 'n soekroete van bo na onder volg.

Aanlyn woordeboeke vertoon soms ook 'n horisontale ordening in die artikelstruktuur, soos te sien in figuur 5 uit die ANW. Die linkerkantste kolom in die skermskoot vertoon die makrostrukturele deeltrajek waarbinne die lemma hondenfluitje pas. Die volgende kolom is die begin van die artikel en bevat 'n spyskaart van datatipes en ander inskrywings waartoe die gebruiker in en vanuit die artikel toegang het. Die daaropvolgende kolom bied 'n gedeeltelike bewerking van die eerste polisemiese waarde van hondenfluitje, terwyl die regterkantste kolom bepaalde grammatiese aanduiders bevat.

Dit is 'n dinamiese artikelstruktuur - 'n klik op 'n spyskaartitem vul die middel- en/of regterkantste blok met die tersaaklike nuwe data. 'n Klik op byvoorbeeld die spyskaartinskrywing Voorbeelden, lei tot figuur 6 waar die regterkantste blok van figuur 5 verdwyn en die oorspronklike middelblok, nou die regterkantste blok, deur die bondige betekenisfrase en meegaande voorbeeldaanduiders beset word.

Die voorbeeldaanduiders wat hier verstrek word, is ter illustrasie van die spesifieke betekenisonderskeiding van die woord wat deur die lemma verteenwoordig word. Dit word in dieselfde integraat as die betekenisparafrase-aanduider verstrek en gesamentlik vertoon om as voorbeeld van 'n geïntegreerde mikrostruktuur te dien. Anders as in die geval van figuur 4, die voorbeeld uit die WAT, is die voorbeeldaanduiders nie deel van die eerste skermskoot waarin betekenisparafrase 1 vertoon word nie. Die voorbeeldaanduiders word eers na 'n verdere klik sigbaar in die integraat. Hier is dus sprake van 'n uitgestelde geïntegreerde mikrostrukuur. Die sigbaarmaking van die geïntegreerde mikrostruktuur word uitgestel tot na die klik van 'n data-identifiseerder.

Die horisontale plasing van aanduiders en teksblokke kan ook tot verdere tipes geïntegreerde mikrostrukture lei. Vergelyk in hierdie verband figuur 7-10, dele van die Duitse woordeboek elexico se hantering van die lemma Pferd:

Die semantiese kommentaar van hierdie artikel bevat verskeie subkommentare as integrate waarin die verskillende polisemiese waardes van die woord Pferd bewerk word. Deur 'n vertikale skagstruktuur in die veelvlakkige semantiese kommentaar beweeg 'n gebruiker na die relevante semantiese subkommentaar. Figuur 8 is die produk van 'n klik op die merker weiter (= verder) van 'n subkommentaar, hier dié van die betekeniswaarde Reittier (= rydier), as beperkte artikel (vergelyk Gouws en Bothma 2024: 358):

Die betekenisparafrase is die enigste aanduider in hierdie beperkte artikel, maar daar is ook die data-identifiseerders Belege (= sitate) en Ilustrationen (= illustrasies) wat elk deur die merker anzeigen (=wys) gevolg word. 'n Klik op die data-identifiseerder Belege se anzeigen lei tot figuur 9, 'n beperkte artikel wat naas die betekenisparafrase-aanduider ook die voorbeeldaanduiders vertoon, waarvan slegs enkeles in hierdie afdruk van 'n deel van die skermskoot inpas. Ook hier word 'n uitgestelde geïntegreerde mikrostruktuur benut:

Gouws en Bothma (2024: 360) toon aan hoe die verskillende vlakke wat elk een semantiese subkommentaar bevat verskillende vakke het, geïdentifiseer deur horisontaal-geordende data-identifiseerders, wat per soektonnel bereik kan word (Gouws en Bothma 2024: 362). 'n Klik op enigeen van die data-identifiseerders wat die vakke identifiseer, lei tot 'n beperkte artikel wat die lemma as gidselement bevat asook die eenwoordweergawe van die betrokke betekenisonderskeiding - hier Reittier. Die data in elkeen van hierdie vakke is gerig op die gebruik van die woord in die betrokke betekeniswaarde van die tersaaklike semantiese subkommentaar. In hierdie semantiese subkommentaar is dit nie net die voorbeeldaanduiders wat geïntegreer word nie, maar ook byvoorbeeld die kollokasies, konstruksies en verwante woorde. Figuur 10 wys hoe 'n klik op die data-identifiseerder Konstruktionen tot 'n vak lei wat verskeie konstruksies vertoon:

Verskillende tipes semantiese data word in die vakke van 'n enkele vlak aangebied en die dinamiese aard van die artikel maak dit moontlik vir 'n gebruiker om slegs dit te sien waarna hulle op soek is sonder om deur al die aanduiders hoef te worstel.

4. 'n Omvattender aanbod van semantiese data in Afrikaanse aanlyn woordeboeke

Die voorafgaande voorbeelde uit elexiko wys hoe 'n vernuwende gebruik van strukture in die woordeboekartikel tot 'n omvattender data-aanbod kan lei sonder om gebruikers aan data-oorlading bloot te stel. Afrikaanse verklarende woordeboeke kan op 'n soortgelyke manier verskillende vlakke en vakke in woordeboekartikels benut vir die aanbieding van semantiese data. In die hieropvolgende bespreking is die fokus op die aanbod van semantiese data in verklarende aanlyn woordeboeke. Tipologiese subklassifikasie van verklarende woordeboeke word nie hier in ag geneem nie, maar daar word van die standpunt uitgegaan dat leksikograwe oor die aard en omvang van semantiese data besluit na gelang van die tipologiese aard van 'n beplande woordeboek. Die voorstelle wat vervolgens gemaak word, sou ook op 'n enkele moederwoordeboek of databasis gerig kon wees waaraan verskillende woordeboeke onttrek kan word. Dit word egter nie hier bespreek nie.

4.1 Vlakke en vakke

'n Omvattende aanbod van semantiese data vereis 'n artikelstruktuur waarin data-oorlading vermy word, maar waarin vindbare data verstrek word waaraan inligting op 'n ondubbelsinnige manier onttrek kan word. Die uitleg van die woordeboekartikel en die meegaande gebruik van bepaalde strukture speel hier 'n beduidende rol. Müller-Spitzer en Koplenig (2014) gee aandag aan verskillende artikeluitlegmoontlikhede. Hulle gebruikersnavorsing het getoon dat gebruikers voorkeur gee aan die tipe uitleg soos in elexico waar versteekte data deur 'n klik op 'n data-identifiseerder gevind kan word (Müller-Spitzer en Koplenig 2014: 195). Gouws en Bothma (2024: 359-360) verwys in hierdie uitlegtipe na die benutting van vlakke en vakke om vertikale en horisontale soekposisies te skep. So 'n uitleg kan van groot waarde wees in die benutting van 'n dinamiese artikelstruktuur waar alle data nie gelyktydig gesien word nie en waar die gebruiker kan kies wanneer watter aanduiders vertoon moet word. Hier speel sowel 'n skag- as 'n tonnelstruktuur 'n wesenlike rol om die gepaste semantiese subkommentaar en die verlangde datatipe te vind.

Gegee die potensiaal van 'n dinamiese artikelstruktuur en die voordele van 'n vertikale ordening van vlakke wat verskillende semantiese subkommentare huisves en die horisontale ordening van vakke wat verskillende tipes aanduiders bevat wat tot een semantiese subkommentaar behoort, kan leksikograwe aanpassings in die dataverspreidingstruktuur aanbring wat 'n veel uitvoeriger aanbod van semantiese data tot gevolg kan hê. Voorstelle in dié verband word in die hieropvolgende bespreking gemaak.

4.2 'n Veelfasige geïntegreerde mikrostruktuur

'n Basiswoordeboekartikel bestaan uit twee kommentare, naamlik 'n vormkommentaar (VK) en 'n semantiese kommentaar (SK) (Wiegand en Smit 2013: 169 e.v.). Die ordening en plasing van aanduiders in die semantiese kommentaar word deur die tipe mikrostruktuur bepaal. Vir hierdie bespreking is slegs die geïntegreerde mikrostruktuur ter sake. Volgens Wiegand (1989a: 483) bevat 'n geïntegreerde mikrostruktuur alle artikel-interne aanduiders wat nie tot die vormkommentaar behoort nie, wat in die bestek van 'n bepaalde betekenisaanduider val en wat tot dieselfde semantiese subkommentaar as die betrokke betekenisaanduider behoort.

Dit is belangrik om daarop te let dat Wiegand hier nie net na koteksaanduiders verwys nie, maar wel na alle aanduiders in die bestek van die betekenisaanduider. Meerdere aanduidertipes kan dus tot 'n geïntegreerde mikrostruktuur behoort. 'n Horisontale ordening van vakke soos in figuur 11 se derde semantiese subkommentaar bied ruimte aan aanduiders van verskillende datatipes. Hierdie verskillende vakke is almal deel van die semantiese subkommentaar SSK 3 en val binne die bestek van hierdie semantiese subkommentaar se betekenisparafrase-aanduider (BPA). Hulle tree nie op, soos in die geval van 'n niegeïntegreerde mikrostruktuur (figuur 2), in 'n teksblok los van die semantiese subkommentare nie. Gevolglik is hier wel sprake van 'n geïntegreerde mikrostruktuur - weliswaar 'n ander tipe as wat tot dusver bespreek is. Die aanduiders van die verskillende vakke word nie gesamentlik vertoon nie. Slegs 'n enkele vak se aanduiders word vertoon na 'n klik op die betrokke data-identifiseerder. Die inhoud van die verskillende vakke word daarom elk afsonderlik deel van die integraat waarin die betekenisparafrase-aanduider optree. Binne hierdie semantiese subkommentaar geld 'n veelfasige geïntegreerde mikrostruktuur.

Die semantiese subkommentaar van 'n artikel met 'n veelfasige geïntegreerde mikrostruktuur kan, naas die vertikaalgeordende soekgleuf (dit is die gidsvak waarin die betrokke polisemiese waarde se betekenisparafrase aangedui word), 'n minimum van twee en 'n onbeperkte maksimum vakke bevat met data wat binne die bestek van die betekenisparafrase val. Die geïntegreerde aard van die mikrostruktuur word nie deur die gelyktydige integrasie van die inhoud van al die vakke gesamentlik bepaal nie, maar deur die integrasie, in verskillende fases, van die inhoud van 'n individuele vak en die gidsvak. 'n Klik op die data-identifiseerder van, byvoorbeeld, vak 1, skep 'n geïntegreerde mikrostruktuur, ook 'n uitgestelde geïntegreerde mikrostruktuur soos in die ANW (figuur 6), met vak 1 wat saam met die gidsvak hierdie geïntegreerde mikrostruktuur vorm. Telkens skep die klik op 'n data-identifiseerder 'n onmiddellike adressering tussen die data van daardie vak en die optrede van die leksikale item wat deur die lemma verteenwoordig word in die polisemiese waarde soos deur die betekenisparafrase aangetoon. Figuur 12 wys hoe so 'n integrasie van die gidsvak en 'n horisontaal-geordende vak 'n parallel-geïntegreerde mikrostruktuur vorm.

4.2.1 Besetting van die vakke

'n Vernuwende aspek van verklarende aanlyn woordeboeke is die dataverspreiding en ‑aanbod in die verskillende vakke van 'n artikelvlak. Elke vertikaal-geordende vlak wat die bewerking van 'n afsonderlike semantiese subkommentaar huisves, begin met 'n gidsvak wat gevolg word deur horisontaal-geordende vakke wat elk 'n parallel-geïntegreerde mikrostruktuur vertoon. Die gidsvak bevat tipieserwys 'n herhaling van die lemmateken met, indien nodig, een of meer leksikografiese etikette om bepaalde afwykings te merk van die optrede van die woord wat deur die lemma verteenwoordig word in die spesifieke polisemiese waarde. Daarnaas word die tersaaklike betekenisparafrase-aanduider ook verstrek. Daar is 'n onmiddellik lemmatiese adressering tussen die betekenisparafrase-aanduider en die lemma wat as gidselement van die gidsvak optree. So 'n lemmatiese adressering geld ook vanuit elke afsonderlike vak wat parallel aan die gidsvak aangebied word.

Die leksikograaf het die vryheid om te bepaal in watter volgorde die data in die verskillende vakke verstrek moet word. Dit moet nie 'n arbitrêre besluit wees nie, maar moet tematiese samehang asook die behoeftes van die aangewese teikengebruiker in ag neem. Deur elke vak van 'n gepaste data-identifiseerder te voorsien, vergelyk figuur 13, kry die gebruiker 'n oorsig oor die datatipes wat in die betrokke semantiese subkommentaar aangebied word. Let wel, slegs enkele datatipes word in hierdie figuur vertoon. Veel meer tipes kan probleemloos in 'n veelfasige geïntegreerde mikrostruktuur geakkommodeer word.

4.2.1.1 Betekenis +

Hier word die eerste vak beset deur data ter aanvulling van die betekenisparafrase. Soos vroeër in hierdie artikel genoem, is taal gewortel in die individu se ervaring en die individu se interpretasie van 'n woord se betekenis is gebaseer op hierdie ervarings. Van hierdie ervaringsdata val buite die eng linguistiese benadering van betekenisverklaring waarvan die hoofbetekenisparafrase blyke gee. In 'n vak wat onmiddellik op die gidsvak volg, kan 'n heenkome gebied word aan bykomende, selfs ook buitelinguistiese, data wat die leksikograaf as belangrik beskou ter ondersteuning en ter aanvulling van die data in die betekenisparafrase. Op hierdie manier word voorsiening gemaak, onder meer deur die benutting van supplementêre kenmerke, vir die bevrediging van 'n breër kognitiewe funksie van die betrokke woordeboek. 'n Parallel-geïntegreerde mikrostruktuur plaas hierdie betekenis +-data in dieselfde integraat as die data in die gidsvak.

4.2.1.2 Koteksleiding

4.2.1.2.1 Voorbeeldsinne

'n Tipiese kenmerk van 'n geïntegreerde mikrostruktuur is die plasing van koteksaanduiders in dieselfde integraat as die betekenisparafrase-aanduider. 'n Klik op die data-identifiseerder van vak 2 skep 'n parallel-geïntegreerde mikrostruktuur, as onderdeel van die veelfasige geïntegreerde mikrostruktuur, wat koteksaanduiders met die betekenisparafrase verbind. Die woordeboekgebruiker wat slegs 'n teksbegripbehoefte het se woordeboekraadpleging hoef nie verder as 'n kyk na die gidsvak te gaan nie. Waar 'n teksproduksiefunksie bevredig moet word, lei 'n klik op die koteksmerker die gebruiker na die ondersteunende voorbeeldsinne - wat poëme en/of sitate kan wees.

Woordeboeke verstrek voorbeeldsinne ter wille van teksproduksiebehoeftes, maar voorbeeldsinne ondersteun ook beter teksbegrip. Vir leksikograwe is dit nie altyd ewe maklik om te weet of 'n bepaalde optrede van 'n woord 'n eie betekenisonderskeiding verteenwoordig al dan 'n bepaalde gebruik van die woord in 'n bestaande betekenisonderskeiding nie. Behoort die optrede van die woord kort in 'n kort referaat en 'n kort rok tot verskillende betekenisonderskeidinge of is dit verskillende gebruike van dieselfde betekenisonderskeiding, te wete "van beperkte afmeting"? Vergelyk ook Gouws (1987). In 'n vak wat voorbeeldsinne bevat, kan 'n groter verskeidenheid voorbeelde verstrek word ter illustrasie van die bepaalde betekensonderskeiding, maar ook van verskillende gebruike van 'n woord in dieselfde betekenisonderskeiding. Dit verteenwoordig 'n uitbreiding van koteksaanduiders en bied toegevoegde waarde aan die aanlyn woordeboek.

4.2.1.2.2 Kollokasies

Ter wille van omvattender koteksleiding kan dit nuttig wees om tussen voorbeeldsinne en kollokasies te onderskei. Dit word soms ook in gedrukte woordeboeke gedoen, maar dikwels met beperkter aandag aan kollokasies. Daarom bied vak 3 verdere koteksleiding, te wete kollokasie-aanduiders. Die verstrekking van kollokasies kan belangrik wees vir teksproduksiedoeleindes. Kollokasies is nie leksikale items in eie reg nie. Desondanks kan woordeboeke hoër status aan hulle gee as net dié van koteksaanduiders. Naas die gee van kollokasies as koteksaanduiders gerig op die lemma kan verdere koteksaanduiders verskaf word waarin nie net die woord optree wat deur die lemma verteenwoordig word nie, maar die kollokasie as sodanig. Kollokasies word dan verhef tot sekondêre bewerkingseenhede wat as adres van 'n eie koteksaanduider optree. So 'n koteksaanduider is deel van 'n tweeledige adresseringsverhouding, naamlik 'n lemmatiese adressering asook 'n nielemmatiese adressering met die kollokasie wat die adres is. Die tweede koteksvak in figuur 13 (vak 3) kan kollokasies bevat met die lemma as een van die komponente - hetsy as basis hetsy as kollokator. Naas hierdie kollokasies kan die vak ook voorbeeldmateriaal bevat as koteksaanduiders van die betrokke kollokasies.

'n Vak wat kollokasies bevat asook voorbeeldmateriaal met die kollokasie as adres verteenwoordig 'n verdere tipe geïntegreerde mikrostruktuur. Die onmiddellike adressering van koteksaanduider en kollokasie skep 'n eie integraat en bied 'n vak-interne geïntegreerde mikrostruktuur. Die geïntegreerde mikrostruktuur wat in die semantiese subkommentaar geld, is die primêre geïntegreerde mikrostruktuur, terwyl die geïntegreerde mikrostruktuur wat slegs binne 'n vak geld as 'n sekondêre geïntegreerde mikrostruktuur beskou kan word.

4.2.1.3 Betekenisbetrekkinge

Vak 4 en 5 is gemerk vir bepaalde tipes betekenisbetrekkinge, te wete sinonimie en semantiese teenoorgesteldes. Die leksikon bevat 'n netwerk betekenisbetrekkinge en in verdere vakke sou daar ook aan ander tipes betekenisbetrekkinge aandag gegee kon word, byvoorbeeld hiponimie. Vergelyk ook die bespreking in 2.4.2.

4.2.1.3.1 Sinonieme

Aanduiders van sinonieme is woordeboekinskrywings waarby gebruikers baie kan baat. In woordeboeke word sinonieme op verskillende maniere en in verskillende artikelgleuwe verstrek, telkens as inskrywings met 'n lemmatiese adressering. Sinoniemaanduiders kry selde in woordeboeke 'n eie bewerking om die aard van die betrokke sinonimiese betrekking duidelik te maak. Woordeboeke onderskei nie konsekwent tussen absolute en gedeeltelike sinonimie nie en dit kan striemend wees vir die kommunikatiewe sukses van die woordeboekgebruiker.

'n Omvattender aanbod van semantiese data behoort ook tot 'n omvattender verslag van betekenisbetrekkinge te lei. In vak 4 sou daar dus tussen absolute en gedeeltelike sinonieme onderskei kan word en gepaardgaande voorbeeldmateriaal sou die korrekte gebruik kon illustreer. As 'n voorbeeld: in die bewerking van die woord besope behoort dronk nie sonder verdere inskrywings as sinoniem verstrek te word nie. Besope het 'n verhouding van gedeeltelike sinonimie met dronk en die aanduider van dronk as sinoniem moet vergesel wees van 'n merker van die spesifieke polisemiese waarde van dronk wat in 'n sinonimiese betekenisbetrekking tot besope staan. Sonder hierdie aanvullende inskrywing sou die gebruik van dronk in die betekenisonderskeiding "lighoofdig" ten onregte ook as sinonimies tot besope gesien kon word. Naas 'n aanduiding van die tipe sinonimiese verhouding asook van spesifieke betekenisonderskeidinge van woorde wat by so 'n verhouding betrokke is, kan voorbeeldmateriaal daartoe bydra om die sinonimiese verhouding te ekspliseer en die gebruiker van beter semantiese leiding te voorsien. Waar sinoniemaanduiders deur koteksaanduiders ondersteun word, vertoon die woordeboek nogmaals 'n vak-intern geïntegreerde mikrostruktuur.

4.2.1.3.2 Betekenisteenoorgesteldes

Binne die breë veld van semantiese opposisie kan verskillende tipes betrekkinge van teenoorgesteldheid onderskei word, byvoorbeeld antonimie, omgekeerdheid en komplementariteit. 'n Woordeboek wat as taalkundenaslaanbron dien, moet 'n presiese hantering van hierdie betrekkinge bied en moet dit vermy om 'n term soos antoniem oorkoepelend te gebruik vir die verskillende tipes teenoorgesteldheid.

Vak 5 kan data bevat om verskillende tipes betekenisteenoorgesteldheid voor te stel en gebruikers moet op 'n ondubbelsinnige manier tussen die tipes kan onderskei. 'n Benoeming van die onderskeie tipes betekenisteenoorgesteldes tesame met die gebruik van relevante koteksaanduiders sal ook 'n waardevolle rol kan speel om gebruikers vertroud te maak met die onderskeie gebruike van die verskillende woordpare. Ook hier word 'n vak-interne geïntegreerde mikrostruktuur weer eens benut.

4.2.1.4 Ander data in die semantiese subkommentaar

Ruimtebesparing is geen groot kwessie in aanlyn woordeboeke nie. Daar is voldoende bergings- en aanbiedingsruimte om afstand te doen van ruimtebesparingsmetodes soos teksverdigting asook makrostrukturele nesting en nisting. Die vormkommentaar van 'n woordeboekartikel kan 'n gleuf bevat waarin verskillende tipes ongelede woorde verstrek word ter illustrasie van woordboumoontlikhede met die woord wat deur die lemma verteenwoordig word as boumiddel. Sulke gelede woorde word om morfologiese redes opgeneem en nie om as onverklaarde lemmas implisiete betekenisleiding te gee nie. As deel van die semantiese opdrag van 'n aanlyn woordeboek kan nisting en nesting uitgeskakel word ten gunste van 'n opname van daardie betrokke gelede leksikale items wat as lemmas kwalifiseer, as gidselemente van artikels wat 'n volledige bewerking bied. Hier is dan 'n eksplisiete oordrag van die gelede woorde se betekeniswaarde en nie, soos in die geval van onverklaarde lemmas, slegs 'n implisiete aanduiding nie. In aanlyn woordeboeke behoort eksplisiete betekenisoordrag prioriteitswaarde te hê.

Die aanbod van semantiese data in verklarende woordeboeke kan nog veel verder uitgebrei word en die vernuwende benutting van leksikografiese strukture dra daartoe by om 'n geskikte huisvesting van data te bewerkstellig. Woordeboeke is nie meer net draers van tekstipes nie, vergelyk Wiegand (1996), maar hulle bevat ook nietekstuele data soos klank- en beeldmateriaal. Sulke data kan ook as deel van die semantiese kommentaar aangebied word. In die horisontale ordening van data kan 'n semantiese subkommentaar 'n vak bevat met illustrasieprente wat in 'n verhouding van ostensiewe adressering (Gouws 1994) tot die lemma staan.

Aanlyn woordeboeke het verskillende soekposisies, te wete:

- die soeksone, dit is 'n gleuf in 'n woordeboekartikel waar 'n bepaalde aanduider of datatipe geplaas word;

- die soekgebied, dit is die individuele woordeboekartikel;

- die soekveld, dit is die woordeboek se sentrale teks wat die verskillende artikeltrajekte bevat;

- die soekstreek, dit is die volle woordeboek met sy sentrale teks plus die verskillende buitetekste;

- die soekdomein, dit is die portaal waarbinne aanlyn woordeboeke geplaas kan word; en

- die soekuniversum, dit is die omgewing buite die soekdomein, byvoorbeeld die internet of ander woordeboekportaal-eksterne bronne waartoe gebruikers via die woordeboek toegang het (Gouws 2023: 383, e.v.)

'n Optimale benutting van soekposisies kan ook die uitbreiding van die aanbod van semantiese data bevoordeel. Hier is dit veral die soekdomein en die soekuniversum wat nuwe moontlikhede skep.

4.3 Semantiese data vanuit die soekdomein en die soekuniversum

Die soeksone, soekgebied, soekveld en soekstreek is tradisionele soekposisies binne 'n woordeboek en terreine waar semantiese data geplaas kan word - soos gesien in die besetting van vlakke en vakke in woordeboekartikels, dit is in 'n woordeboek se soekgebiede. Die soekdomein en soekuniversum is soekposisies buite die woordeboek wat as vertrekpunt van 'n woordeboekraadplegingsprosedure dien, maar wat 'n verrykingswaarde aan 'n woordeboek bied wat die aard en omvang van onttrekbare inligting betref.

Daar is reeds vroeër in hierdie artikel verwys na Bergenholtz en Bergenholtz (2017) se voorstelle om meerdere woordeboeke aan een databasis te onttrek. Met behulp van slim sagteware kan leksikografiese data ook aan sowel woordeboeke as ander bronne onttrek word. Die leksikograwe van 'n verklarende aanlyn woordeboek wat in 'n woordeboekportaal optree, moet bewus wees van die tipe inhoud van die ander woordeboeke in die portaal. 'n Woordeboekportaal-interne kruisverwysingstelsel kan dit dan moontlik maak om vanuit 'n artikel in een woordeboek na 'n verlangde datatipe in 'n ander woordeboek in dieselfde soekdomein te beweeg. 'n Tipe semantiese data wat nie in 'n gegewe woordeboek aangebied word nie kan vanuit daardie woordeboek in 'n ander woordeboek van die portaal gevind word. Wisselwerking binne 'n soekdomein kan ook tot 'n omvattender beskikbaarstelling van semantiese data lei.

Die soekuniversum maak dit moontlik om toegang te kry tot data wat buite die grense van 'n woordeboek en woordeboekportaal val. Deur die gebruik van 'n leksikografiese datatrekkingstruktuur, vergelyk Gouws (2018), is die onttrekking van inligting aan data uit leksikografiese en ander bronne moontlik. Die inligting wat onttrek word aan die data in 'n koteksvak van 'n woordeboekartikel kan aangevul word met data vanuit die woordeboek se korpus. Hier moet die gebruiker daarop bedag wees dat die korpusdata nie geredigeer is nie. Bykomende korpusdata kan bydra tot hoër vlakke van teksbegrip en tot 'n beter interpretasie van die gebruik van 'n bepaalde woord. Dit bied ook meer insig in die breër konteks van 'n sitaat. So 'n datatrekking brei die omvang van die betekenis- en gebruiksleiding uit wat 'n woordeboek bied en verhoog die status van die woordeboek as 'n gesaghebbende en verteenwoordigende bron van taalkundige kennis.

'n Datatrekkingstruktuur skep ook die moontlikheid om vanuit 'n woordeboekartikel inligting aan internetbronne te onttrek. Veral ensiklopediese inligting ter bevrediging van 'n woordeboek se kognitiewe funksie kan op hierdie manier verkry word. Hierdie soort datatrekking is reeds 'n keuse in verskeie woordeboeke. Vergelyk in hierdie verband figuur 14, 'n skermskoot van 'n deelartikel van die lemma auto in dict.cc. 'n Klik op die inligtingsmerker naas 'n bepaalde woord bied 'n opskietspyskaart van waar gebruikers deur 'n verdere klik na onder meer Google gelei kan word om toegang te kry tot aanvullende semantiese en ander data:

5. Ten slotte

Die aanbieding van semantiese data is een van die hoofopdragte van die opstellers van verklarende woordeboeke. Die moontlikhede wat die aanlyn omgewing bied, kan daartoe lei dat woordeboeke 'n veel omvattender en uitvoeriger aanbod van semantiese data vertoon. Leksikograwe moet op 'n kundige en dikwels vernuwende manier met woordeboekstrukture omgaan. Daar moet wegbeweeg word van 'n dataverspreiding en ‑plasing wat alle data gelyktydig sigbaar maak vir gebruikers. Deur data in verskillende vlakke en vakke aan te bied en volgens 'n veelfasige geïntegreerde mikrostruktuur te orden, kan gebruikers slegs daardie semantiese inligting onttrek waaraan hulle 'n behoefte het - sonder om deur al die soeksones in 'n omvangryke woordeboekartikel te worstel. Woordeboek-interne data kan aangevul word deur aan gebruikers toegang tot data in die soekuniversum te gee. Sulke prosedures verhoog die waarde van 'n woordeboek as 'n omvattende bron van taalkundige kennis.

Om woordeboeke relevant te hou vir die teikengebruikers moet leksikograwe pogings aanwend om meer en meer gerigte data in hulle woordeboeke op te neem, maar ook om die woordeboek as vertrekpunt vir soektogte in ander bronne te laat dien. Hiervoor skep die dekking van semantiese data 'n ideale geleentheid.

Bronnelys

Woordeboeke

ANW = Algemeen Nederlands Woordenboek. http://anw.inl.nl/ [April 2025]

References

  • De Villiers, M. et al. (Reds.). 19887. Nasionale woordeboek. Kaapstad: Nasou.
  • dict.cc = https://www.dict.cc/ [Mei 2025].
  • elexiko = http://www.owid.de/wb/elexiko/start.html [April 2025]
  • HAT = Luther, J. et al. (Reds.). 20156 HAT: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson.
  • WAT = Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
  • Ander bronne
  • Bergenholtz, I. en H. Bergenholtz. 2017. One Database, Four Monofunctional Dictionaries. Hermes 50: 119-125.
  • Bergenholtz, H., T.J.D. Bothma en R.H. Gouws. 2011. A Model for Integrated Dictionaries of Fixed Expressions. Kosen, I. en K. Kosen (Reds.). 2011. Electronic Lexicography in the 21st Century: New Applications for New Users: Proceedings of eLex 2011, Bled, Slovenia, 10-12 November 2011: 34-42. Ljubljana: Trojina, Institute for Applied Slovene Studies.
  • Combrink, J.G.H. 1979. Die sesde deel van die WAT. Standpunte 140 (32-2): 49-64.
  • DiMuccio-Failla, P.V. 2025. A Theory for a Usage-Based Cognitive Lexicography. Giacomini, L. en V. Piunno (Reds.). 2025. Patterns of Meaning in Lexicography and Lexicology: 19-90. Berlyn/Boston: De Gruyter.
  • Fodor, J.D. 1977. Semantics: Theories of Meaning in Generative Grammar. New York: Crowell.
  • Gouws, R.H. 1987. Lexical Meaning versus Contextual Evidence in Dictionary Articles. Dictionaries 9: 87-96.
  • Gouws, R.H. 2003. Aspekte van mikrostrukturele verskeidenheid en inkonsekwentheid in woordeboeke. Lexikos 13: 92-110.
  • Gouws, R.H. 2006. Die zweisprachige Lexikographie Afrikaans-Deutsch - Eine metalexikographische Herausforderung. Dimova, A., V. Jesenšek en P. Petkov (Reds.). 2006. Zweisprachige Lexikographie und Deutsch als Fremdsprache: 49-58. Hildesheim: Georg Olms.
  • Gouws, R.H. 2018. 'n Leksikografiese datatrekkingstruktuur vir aanlyn woordeboeke. Lexikos 28: 177-195.
  • Gouws, R.H. 2023. Nuwe raamstruktuurtipes in aanlyn woordeboeke. Lexikos 33(1): 382-403.
  • Gouws, R.H. (om te verskyn). Definitional Methods in Lexical Semantics.
  • Gouws, R.H. en T.J.D. Bothma. 2024. Aspekte van inligtingsonttrekkingstrukture in aanlyn woordeboeke. Lexikos 34(1): 355-370.
  • Gove, P.B. 1966. Self-Explanatory Words. American Speech 41: 182-198.
  • Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991. Wörterbücher. Dictionaries. Dictionnaires. An International Encyclopedia of Lexicography. Berlyn: De Gruyter.
  • Klotz, M. en T. Herbst. 2016. English Dictionaries. A Linguistic Introduction. Berlyn: Erich Schmidt.
  • Levisen, C. en S. Waters (Reds.). 2017. Cultural Keywords in Discourse. Amsterdam: John Benjamins.
  • Louw, J.P. 1985. A Semantic Domain Approach to Lexicography. Louw, J.P. (Red.). 1985. Lexicography and Translation: 157-197. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
  • Lyons, J. 1977. Semantics. Cambridge: Cambridge University Press.
  • Müller-Spitzer, C. en A. Koplenig. 2014. Questions of Design. Müller-Spitzer, C. (Red.). 2016. Using Online Dictionaries: 189-204. Berlyn/Boston: De Gruyter.
  • Odendal, F.F. 1979. Plus positief en plus negatief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 19(1): 24-41.
  • Scerba, L. 1940. Opyt obshchei teorii leksikografii. Izvestiia Akademii Nauk SSSR, Otdelenie literatury i iazyka 3: 89-117. (Engelse vertaling deur D.M.T.Cr. Farina 1995: Towards a General Theory of Lexicography. International Journal of Lexicography 8(4): 314-350).
  • Tarp, S. 2009. Beyond Lexicography: New Visions and Challenges in the Information Age. Bergenholtz, H., S. Nielsen en S. Tarp. (Reds.). 2009. Lexicography at a Crossroads: Dictionaries and Encyclopedias Today, Lexicographical Tools Tomorrow: 17-32. Bern: Peter Lang.
  • Wiegand, H.E. 1989a. Arten von Mikrostrukturen im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 462-501.
  • Wiegand, H.E. 1989b. Aspekte der Makrostruktur im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch: alphabetische Anordnungsformen und ihre Probleme. Hausmann, F.J. et al. (Reds.) 1989-1991: 371-409.
  • Wiegand, H.E. 1996. A Theory of Lexicographic Texts. An Overview. SA Journal of Linguistics 14(4): 134-149.
  • Wiegand, H.E. en M. Smit. 2013. Microstructures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography: 149-214. Berlyn/New York: De Gruyter.
  • Wierzbicka, A. 1972. Semantic Primitives. Frankfurt: Athenäum.
  • Wittgenstein, L. 1953. Philosophical Investigations. Oxford: Blackwell.

* Met waardering opgedra aan Frikkie Lombard.

Publication Dates

  • Publication in this collection
    12 Jan 2026
  • Date of issue
location_on
Bureau of the WAT Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Lexikos Posbus 245, Stellenbosch, Western Cape, ZA, 7599, Tel: +27 21 808 9046 - E-mail: tha@sun.ac.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top