Open-access Die krag van 'n soepel leksikografieteorie

The Power of a Flexible Theory of Lexicography

Abstract

In die ontwikkeling van die leksikografie het verskillende teoretiese benaderings 'n rol gespeel. Van hierdie benaderings kom ook uit ander dissiplines soos die taalwetenskap. Mettertyd het die leksikografie as selfstandige dissipline ook sy eie teorieë gekry. Hierdie teorieë is ontwikkel in die era van gedrukte woordeboeke. Die koms van die aanlyn era was 'n toets vir die krag van hierdie teoretiese benaderings. 'n Algemene leksikografieteorie wat spesifieke subteorieë soos die funksieteorie en die woordeboekstruktuurteorie insluit, kon bepaalde aanpassings ondergaan om vir sowel gedrukte as aanlyn woordeboeke as basis te dien. In hierdie bydrae word enkele kenmerke van die ontwikkeling in die leksiografieteorie bespreek, veral met betrekking tot woordeboekstrukture. Die strukture van woordeboeke moet ruimte bied vir data wat die bevrediging van die betrokke woordeboek se leksikografiese funksies kan verseker. Nuwe soekposisies in woordeboekartikels word geïdentifiseer sodat die kognitiewe en kommunikatiewe funksies in aanlyn woordeboeke in 'n beter mate bevredig kan word. Die toetrede van die operatiewe funksie vra om 'n vernuwende benadering tot datatrekking. In die era van kunsmatige intelligensie word gewys hoe 'n soepel leksikografieteorie sterk genoeg is om 'n soekposisie te skep vanwaar 'n kletsbot gekontekstualiseerde data aan die soekuniversum kan onttrek om die operatiewe funksie te bevredig.

Aanlyn Woordeboeke; Algemene Leksikografieteorie; Datatrekkingstruktuur; Geïntegreerde Mikrostruktuur; Kletsbot; Leksikografiese Funksies; Operatiewe Funksie; Semantiese Subkommentaar; Soekposisies; Soekuniversum; Soekvlak; Woordeboekstrukture


Abstract

In the development of lexicography, various theoretical approaches have played a role. Some of these approaches also originate from other disciplines, such as linguistics. Over time, lexicography as an independent discipline also established its own theories. These theories were developed in the era of printed dictionaries. The arrival of the online era tested the strength of these theoretical approaches. A general lexicographic theory, which includes specific sub-theories such as the function theory and the theory of dictionary structures, could undergo certain adaptations to serve as a basis for both printed and online dictionaries. In this contribution, several features of the development in lexicographic theory are discussed, especially regarding dictionary structures. The structures of dictionaries must accommodate data that can ensure the satisfaction of the relevant dictionary's lexicographic functions. New search positions in dictionary articles are identified so that cognitive and communicative functions in online dictionaries can be met to a better extent. The introduction of the operative function demands an innovative approach to data pulling. In the era of artificial intelligence, it is demonstrated how a flexible theory of lexicography is robust enough to create a search position from which a chatbot can extract contextualised data from the search universe to satisfy the operative function.

Chatbot; Data Pulling Structure; Dictionary Structures; General Theory Of Lexicographic; Integrated Microstructure; Lexicographic Functions; Online Dictionaries; Operative Function; Search Level; Search Positions; Search Universe; Subcomment On Semantics


1. Inleiding

Sedert Scerba (1940) se baanbrekende werk die wetenskaplike gesprek oor leksikografieteorie ingelui het, het daar talle publikasies verskyn waarin aspekte van die metaleksikografie bespreek is of waarin voorstelle vir bepaalde teoretiese benaderings gemaak is. Die vroeë bydraes oor leksikografieteorie was uitsluitlik gerig op gedrukte woordeboeke. Die oorgang vanaf gedrukte na aanlyn woordeboeke het nuwe en andersoortige eise aan hierdie teoretiese onderbou gestel. Sekere aspekte van die voorafgaande bydraes tot die ontwikkeling van die leksikografieteorie het hulle bruikbaarheid verloor, terwyl ander teoretiese gesigspunte met groter of kleiner aanpassings ook vir die aanlyn omgewing ter sake gebly het.

In hierdie bydrae word aandag gegee aan aspekte van verskillende teoretiese benaderings in die leksikografie, met die klem op daardie benaderings wat ook in die aanlyn omgewing met of sonder aanpassings behou kon word. 'n Sterk fokus is op die funksieteorie en sy posisionering binne die algemene leksikografieteorie, en daar word aangetoon hoe hierdie benadering oor die nodige soepelheid beskik om nie aan mediumspesifieke beperkinge onderhewig te wees nie. Daar word aangetoon hoe leksikografiese produkte in die era van kunsmatige intelligensie en met die gebruik van kletsbotte die toepassing van die funksieteorie, asook ander komponente van 'n algemene leksikografieteorie, verder versterk. Ten einde word daarop gewys hoe die bestek van 'n teoretiese benadering wat gekenmerk word deur eenvoud en 'n hoë aanwendbaarheidspotensiaal uitgebrei kan word om steeds ter sake te wees ondanks vernuwings en aanpassings in die onderwerp waarop die teorie gerig is of die medium waarbinne dit gebruik word.

2. Insigte uit verskillende teoretiese benaderings

Alhoewel leksikografie 'n volwaardige en selfstandige dissipline is, staan dit in 'n interaktiewe verhouding met verskeie ander dissiplines. Voor die hand liggend is veral die taalwetenskap, omdat baie woordeboeke primêr draers van taalkundige data is. In die leksikografie se verhouding met die taalwetenskap is die onderskeid tussen algemene woordeboeke waarin taal vir algemene doeleindes aangebied word en vakwoordeboeke wat op taal vir spesifieke doeleindes fokus hoogs ter sake. Die kerninhoud van algemene woordeboeke is van 'n taalkundige aard en dit word gevolglik sterk deur taalkundige insigte beïnvloed, terwyl vakwoordeboeke se kerninhoud die vakspesifieke leksikon weerspieël. Hulle word nie in dieselfde mate deur die taalkunde beïnvloed nie, maar wel deur vakspesifieke oordele en teoretiese benaderings.

Die leksikografiese praktyk het in 'n preteoretiese milieu ontwikkel en vir baie lank is woordeboeke beplan en saamgestel sonder die riglyne wat 'n leksikografieteorie bied. Omdat algemene woordeboeke veral as taalkundige hulpbronne saamgestel en gebruik is, het leksikograwe veral op hulle kennis van die taalkunde staatgemaak om die regte leiding in die woordeboeke te bied. Met verloop van tyd het sienings en teoretiese benaderings in die taalkunde ook in woordeboeke toepassings gevind. Vir die hantering van betekenisdata het insigte uit die strukturele taalkunde 'n wesenlike rol gespeel om onder meer die leksikografiese bewerking van semantiese betrekkinge korrek te hanteer (Lyons 1968; 1977). Die gebruik van semantiese velde (Lehrer 1974; Louw 1985) en later die prototipeteorie (Geeraerts 2013) asook die kognitiewe semantiek (Ostermann 2015) het ruim bygedra tot die invloed van linguistiese teorieë op die leksikografie. Nie net linguistiese teorieë nie, maar ook navorsingsmetodes in die linguistiek speel 'n rol in die leksikografie. Schierholz (2015: 326) wys byvoorbeeld daarop dat linguistiese metodes, onder meer metodes van dataversameling, nodig is in die leksikografie.

Die omvang en verskeidenheid van taalkundige data in talle woordeboeksoorte en die benutting van insigte uit die teoretiese taalkunde in die leksikografie lei tot 'n siening onder sommige leksikograwe dat daar nie 'n behoefte aan 'n leksikografieteorie is nie, en selfs dat so 'n teorie nie bestaan nie. Atkins en Rundell (2008: 4) sê byvoorbeeld "This is not a book about 'theoretical lexicography' - for the very good reason that we do not believe that such a thing exists." Rundell (2012: 47-48) bespreek die standpunt van verskillende leksikograwe en taalkundiges ten opsigte van 'n leksikografieteorie. Hy noem onder meer Wierzbicka (1985: 5) wat sê dat leksikografie geen teoretiese basis het nie. Béjoint (2010: 381) sê pertinent hy glo nie daar bestaan iets soos 'n teorie van leksikografie nie en Sinclair (1984: 7) sê "there is no prospect of a theory of lexicography." Rundell (2012: 47) beklemtoon dat hy en Atkins ook tot hierdie groep denkers behoort. Ook Bogaards (2010: 317 e.v.) is skepties oor die moontlike bestaan van 'n leksikografieteorie. Vir hom verg die korrekte en uitputtende beskrywing van data in 'n woordeboek eerder die behoefte aan 'n verskeidenheid teorieë uit ander vakgebiede, onder meer die linguistiek, maar ook, in sommige gevalle, sielkunde, sosiologie en inligtingkunde.

Ondanks hierdie standpunte teen die bestaan van 'n leksikografieteorie het ander leksikograwe steeds gewerk aan die formulering van 'n eie teorie vir die leksikografie. Twee van die hoofbenaderings in hierdie verband is die algemene leksikografieteorie (Wiegand 1984) en die funksieteorie (Bergenholtz en Tarp 2002).

Die oorgang vanaf gedrukte na aanlyn leksikografie het 'n reuse-invloed op die wisselwerkende verhoudings tussen leksikografie en ander gebiede, en daarom ook ander teoretiese invloede, gehad. Dit het die interdissiplinêre aard van leksikografie as vakgebied bevestig en versterk. Naas die wisselwerking met tradisionele vakgebiede het rigtings soos rekenaarwetenskap, inligtingswetenskap, kunsmatige intelligensie, menslike taaltegnologie asook benaderings soos die bruikbaarheidsbenadering en mensgerigte ontwerp toenemend 'n rol in leksikografiese beplanning begin speel. Teoretiese benaderings rig hulle nie net op die leksikografiese inhoud en aanbieding daarvan in woordeboeke nie, maar ook op die bruikbaarheid van die toestel en die tersaaklike programmatuur (Du Plessis 2025: 4). Dit benadruk die eiesoortige gerigtheid van die leksikografie. Die benutting van elektroniese korpora in die leksikografie het tot 'n wisselwerking tussen leksikografie en korpuslinguistiek gelei wat ook bepaalde aanpassings in die teoretiese benadering tot die leksikografie meegebring het.

Ook die vakleksikografie toon 'n duidelike wisselwerking met die verskillende vakgebiede waarvoor daar woordeboeke saamgestel word. Die beplanning en samestelling van byvoorbeeld 'n ekonomiewoordeboek vereis, naas leksikografiese kundigheid, ook die bydrae van kundiges uit die ekonomie as vakgebied. Hulle moet die korrektheid van die inhoud nagaan om die daarstelling van 'n suksesvolle produk te help verseker, en 'n frekwensiewoordeboek waarvan die inhoud onder meer op statistiese ontledings berus, vereis sowel statistiese as leksikografiese kundigheid. Vergelyk in hierdie verband byvoorbeeld die sterk statistiese aanslag in Quasthoff et al. (2019) se Frequency Dictionary Afrikaans/Frekwensiewoordeboek van Afrikaans.

Die doel van hierdie bydrae is nie om die debat oor die bestaan van 'n leksikografieteorie al dan nie te heropen nie. Daar word erkenning gegee aan die voortdurende wisselwerkende verhoudinge tussen leksikografie en ander vakgebiede en aan die wesenlike invloed van linguistiese teorieë op die leksikografie, maar daar word eweneens van die standpunt uitgegaan dat die leksikografie wel 'n eie teoretiese basis het en dat daar verskillende leksikografieteorieë bestaan wat op 'n verskeidenheid aspekte van woordeboeke gerig is en nie, soos linguistiese teorieë, op taal nie.

Die teoretiese benaderings wat in hierdie bydrae betrek word, is die algemene leksikografieteorie met Wiegand as primêre bevorderaar en die funksieteorie met Bergenholtz en Tarp as primêre woordvoerders. Vervolgens word enkele opmerkings oor die begrip "teorie" gemaak. Daar word na kernaspekte van die genoemde twee teoretiese benaderings verwys voordat die fokus op die gebruik van veral leksikografiese funksies en woordeboekstrukture binne 'n omvattender leksikografieteorie val.

3. Leksikografieteorie

Tarp (2008: 9 e.v.) bied 'n uitvoerige bespreking van verskillende aspekte van die begrip "teorie" asook van verskillende leksikografiese teorieë. In hierdie artikel word daar op hierdie werk van Tarp gesteun en dit dien as vertrekpunt vir die verdere bespreking.

Tarp (2008: 9) gebruik Buhr en Klaus (1971) se verklaring van 'n teorie as uitgangspunt vir sy besinning:

A theory is a systematically organised set of statements about an area of objective reality or consciousness, i.e. logical structures reflecting the fact that certain things have certain properties or that certain relationships exist between these things.

Hierdie verklaring skep die nodige basis vir dit wat in hierdie artikel as 'n teorie beskou word. Die teoretiese benaderings waarmee daar hier gewerk word, voldoen naamlik aan die vereistes vir 'n teorie, soos in die definisie van Buhr en Klaus gestel. Dit word nie hier verder bespreek nie.

'n Onderskeid van Tarp (2008: 9) wat vir hierdie bydrae ter sake is, is dié tussen algemene en spesifieke teorieë. Volgens hom bevat 'n algemene teorie algemene samevattende stellings oor 'n vakgebied, terwyl 'n spesifieke teorie stellings oor die subgebiede van 'n algemene teorie bevat. Hy maak voorsiening vir verskillende kompeterende algemene teorieë in die leksikografie, onder meer dié van Scerba (1940) en Kromann et al. (1984). Tarp beskou die funksieteorie as 'n algemene teorie - omdat dit bepalend is vir alle fasette van 'n woordeboekmodel.

Die teoretiese benaderings waarop hierdie artikel steun, te wete Wiegand se algemene leksikografieteorie en Bergenholtz en Tarp se funksieteorie noop 'n kort uiteensetting van die verhouding wat in hierdie artikel tussen die twee teorieë gelê word. Alhoewel Tarp (2008) dikwels met lof van Wiegand se werk praat en erkenning gee aan die vernuwende bydrae wat dit gemaak het, spreek hy ook ernstige kritiek uit en, naas die ooreenkomste tussen die twee teorieë, wys hy ook op wesenlike verskille. Die verskille is onder meer op die vlak van Wiegand se sterker linguistiese benadering en sy gebruik van onder meer die begrippe "werklike doel", "leksikografiese funksie" en "woordeboekgebruikers". Vergelyk ook die uitgebreide bespreking in Bergenholtz en Tarp (2003). Die ooreenkomste en verskille tussen hierdie twee benaderings word nie in hierdie artikel bespreek nie. Daar word eerder aangetoon hoe hulle vir die doel van hierdie bydrae by mekaar aansluit.

Met die oog op die bespreking van die waarde van 'n aanpasbare teorie vir die leksikografie in die aanlyn era word Tarp se onderskeid tussen 'n algemene en 'n spesifieke teorie gebruik. Anders as wat Tarp dit klassifiseer, word die funksieteorie hier as 'n spesifieke teorie beskou wat 'n subteorie is van 'n algemene leksikografieteorie, en nie as 'n selfstandige algemene teorie soos dié van Wiegand nie. Funksies is 'n kernaspek van die leksikografieteorie en het 'n bepalende invloed op woordeboekinhoud en -strukture. Tog is dit eerder 'n onderafdeling van 'n algemene leksikografieteorie, net soos 'n teorie van woordeboektipologie, woordeboekstrukture of woordeboekinhoud sou wees.

In die beplanning van enige woordeboek moet die teikengebruiker en die behoeftes van die teikengebruiker vasgestel word. Op grond daarvan word die woordeboek se funksies bepaal en dan die data wat ter sake is om die bepaalde funksies te bevredig. Hierna word beslis watter leksikografiese strukture nodig is om die gekose data te akkommodeer en optimale toegang daartoe moontlik te maak. Al is die funksies van primêre belang is die data en die strukture eweneens hoogs ter sake. Al hierdie spesifieke komponente vorm saam deel van 'n algemene leksikografieteorie.

4. Ten gunste van 'n algemene teorie

In verskeie van sy publikasies, byvoorbeeld Wiegand (2006; 2007; 2008), Wiegand en Beer (2013), Wiegand, Beer en Gouws (2013), Wiegand en Gouws (2013), en Wiegand en Smit (2013), het Wiegand eksplisiet daarop gewys dat sy teorie betrekking het op gedrukte woordeboeke. Met die oorgang na die aanlyn omgewing was 'n wesenlike vraag of 'n alternatiewe teorie nodig is wat uitsluitlik op aanlyn leksikografiese produkte gerig is en naas die bestaande algemene leksikografie vir gedrukte woordeboeke gebruik moet word. 'n Enkele kragtige teorie met 'n wye bestek is aan te beveel bo twee of meer afsonderlike teorieë wat elk 'n beperkter bestek het. Ondanks Wiegand se uitsprake dat sy teorie op gedrukte woordeboeke gerig is, het die krag van hierdie teorie daartoe gelei dat dit wel aangepas kon word vir gebruik in die aanlyn omgewing. Sommige komponente van die nuwe aangepaste algemene teorie is uitsluitlik op gedrukte woordeboeke van toepassing, sommige komponente op sowel gedrukte as aanlyn produkte en sommige komponente uitsluitlik op aanlyn produkte. Aanpassings om ook die aanlyn omgewing suksesvol te bedien, moes veral ten opsigte van woordeboekstrukture gemaak word, soos blyk uit onder meer Gouws (2014; 2014a; 2014b; 2018) en Klosa en Gouws (2015). Die vasstelling van nuwe strukture wat deur die teorie moontlik gemaak en gevolglik geakkommodeer moes word, blyk onder meer uit Gouws (2018a; 2023) asook Gouws en Bothma (2024).

Anders as Wiegand se teorie is die funksieteorie van meet af as 'n mediumonafhanklike teorie geformuleer en gevolglik was 'n naatlose oorgang in die gebruik daarvan vanaf gedrukte woordeboeke na die aanlyn omgewing moontlik. Dit bevestig die krag en soepelheid van hierdie teoretiese benadering - 'n soepelheid wat dit probleemloos as spesifieke teorie en onderafdeling van 'n nuwe, uitgebreide algemene leksikografieteorie laat funksioneer.

Met behulp van aangepaste woordeboekstrukture, asook die bestaande leksikografiese funksies, kon 'n algemene leksikografieteorie in die aanlyn era steeds as basis vir die beplanning en samestelling van nuwe woordeboeke en ander leksikografiese produkte dien. Die ontwikkeling op die terrein van kunsmatige intelligensie en die toetrede van generatiewe kletsbotte het nuwe moontlikhede en uitdagings ook aan die leksikografie gestel. In die bespreking wat volg, word aandag gegee aan maniere waarop die gebruik van kletsbotte in die leksikografie, danksy 'n kragtige teorie, met 'n keuse van leksikografiese funksies en die relevante woordeboekstrukture die daarstelling van vernuwende multifunksionele leksikografiese produkte tot gevolg kan hê.

Die aanlyn omgewing het daartoe gelei dat leksikografiese produkte meer as net woordeboeke insluit, vergelyk in hierdie verband onder meer Tarp en Gouws (2023). Hierdie artikel is spesifiek op woordeboeke as leksikografiese produkte gerig. Van die aspekte wat hier bespreek word, sou ook vir ander leksikografiese produkte ter sake kon wees.

5. Toegang tot data

Die samestelling van leksikografiese produkte, ook woordeboeke, het dit ten doel om aan die teikengebruikers toegang tot spesifieke data te gee. Data kan met reg beskou word as die goudstandaard van die moderne leksikografie. Vir sowel die gedrukte as die aanlyn leksikografie is die keuse en plasing van data in die betrokke woordeboek iets wat nie lukraak gedoen mag word nie, maar in ooreenstemming met die behoeftes en naslaanvaardighede van die teikengebruiker asook die voorsiene funksies van die voorgenome woordeboek. Gevolglik is die vasstelling van 'n dataverspreidingstruktuur, vergelyk Bergenholtz, Tarp en Wiegand (1999) en Gouws (2018), van die grootste belang wanneer die woordeboekkonseptualisering as komponent van 'n oorkoepelende woordeboekplan (Wiegand 1998: 137) geformuleer word. Dit geld sowel gedrukte as aanlyn woordeboeke. Om 'n optimale toepassing van 'n uitgebreide dataverspreidingstruktuur moontlik te maak, is dit noodsaaklik dat die nodige soekposisies in die bepaalde woordeboek vasgestel word. Vir sowel gedrukte as aanlyn woordeboeke is die soeksone (dit is 'n gleuf in die woordeboekartikel), die soekgebied (dit is die woordeboekartikel), 'n soekveld (dit is die sentrale teks van 'n woordeboek) en 'n soekstreek (dit is die sentrale teks plus die buitetekste) tipiese soekposisies. Die soeksone, soekgebied en soekveld as soekposisies is reeds in Wiegand et al. (2013: 63) aan die orde gestel. Om hierdie begrippe-apparaat vir die benoeming van leksikografiese soekposisies ook by die aanlyn omgewing aan te pas, onderskei Gouws en Bothma (2024: 357) ook 'n soekdomein (dit is alle bronne in die woordeboekportaal waarbinne 'n gegewe woordeboek optree) asook 'n soekuniversum (dit is bronne buite die woordeboekportaal, byvoorbeeld die internet).

Gouws en Bothma (2024: 362 e.v.) argumenteer ten gunste van die skep van 'n inligtingsonttrekkingstruktuur. Dit moet dit vir die woordeboekgebruiker moontlik maak om inligting te kan onttrek aan die data wat die leksikograaf daar geplaas het. In die geval van gedrukte woordeboeke is 'n inligtingsonttrekkingstruktuur dikwels 'n spieëlbeeld van daardie woordeboek se dataverspreidingstruktuur. Aanlyn woordeboeke vertoon nie noodwendig dieselfde spieëlbeeldverhouding nie.

'n Toepassing volgens die tradisionele weergawe van die algemene leksikografieteorie maak dit vir die gebruiker moontlik om alle tersaaklike inligting aan die aangebode data in 'n gegewe woordeboek te onttrek. Hierdie data is deur die leksikograaf gekies en geplaas volgens die woordeboek se dataverspreidingstruktuur. In die onttrekking van inligting tree 'n gedrukte woordeboek as 'n stootmedium op, dit wil sê die gebruiker het nie 'n keuse t.o.v. dit wat aangebied word nie - die data word deur 'n sender na hulle gestoot, vergelyk Müller-Spitzer (2013: 369) en Gouws (2018a: 187). Teenoor die gedrukte woordeboek wat slegs as stootmedium funksioneer, kan 'n aanlyn woordeboek sowel 'n stoot- as 'n trekmedium wees. In 'n trekmedium kies die ontvanger self wat hulle wil ontvang. Die datastootstruktuur word aangevul word deur 'n datatrekkingstruktuur (Gouws 2018a). Die toetrede van 'n soekuniversum as soekposisie maak dit vir die leksikograaf moontlik om 'n inligtingsonttrekkingstruktuur te ontwerp waarmee die gebruiker inligting ook aan woordeboek-eksterne data kan onttrek; dit is data wat nie deur die betrokke woordeboek se dataverspreidingstruktuur in 'n leksikografiese soekposisie geplaas is nie. Die benutting van 'n leksikografiese datatrekkingstruktuur skep die moontlikheid vir die gebruiker om 'n woordeboek as vertrekpunt te gebruik vir die onttrekking van inligting aan data wat nie deur die leksikograaf hanteer is of hanteer kan word nie.

Gouws en Bothma (2024) en Gouws (2025) bespreek die gebruik van 'n dinamiese artikelstruktuur wat 'n skag- en tonnelstruktuur benut om onderskeidelik vlakke en vakke te skep vir die akkommodasie van soeksones en data. Die volgende skermskote van beperkte artikels van die lemma Zug (=trein/trek) uit die Duitse woordeboek elexiko illustreer hierdie verskynsel.

Hierdie artikel se semantiese kommentaar bestaan uit vier semantiese subkommentare wat vertikaal georden is en 'n skagstruktuur vorm. Elke semantiese subkommentaar bevat onder meer 'n enkele woord (Bahn, Eigenschaft, Gesichtsausdruck, Gruppe) wat die kern van die betrokke polisemiese waarde weergee. Die gebruiker beweeg in die skagstruktuur af tot by die semantiese subkommentaar, wat 'n bewerking van die gewenste polisemiese waarde bevat, byvoorbeeld tot by Gesichtsausdruck (=gesigsuitdrukking). 'n Klik op die merker weiter (=verder) langs die woord Gesichtsausdruck lei tot die volgende beperkte artikel:

Die inhoud van hierdie beperkte artikel is uitsluitlik gerig op 'n bewerking van die woord wat deur die lemma verteenwoordig word in een van sy polisemiese waardes. Hier is verskillende horisontaal geordende vakke aangebied. Dit is die opeenvolgende kompartemente in 'n tonnelstruktuur wat elk 'n eie data-identifiseerder het. 'n Klik op 'n spesifieke data-identifiseerder, byvoorbeeld op Sinnverwandte Wörter (= semanties verwante woorde), open daardie bepaalde vak as soeksone, soos blyk uit Figuur 3:

Gouws (2025: 64 e.v.) voer aan dat hierdie soort gebruik van 'n skag- en tonnelstruktuur die leksikograaf daartoe in staat stel om 'n verskeidenheid vakke in 'n artikel in te sluit wat aan 'n wye reeks datatipes 'n neerslagplek kan bied. Dit kan, soos in die beperkte artikel in figuur 2, versteekte data bevat wat die gebruiker op aanvraag met 'n klik op die tersaaklike data-identifiseerder kan oopmaak. Figuur 5 (Gouws 2025: 65) wys die verskillende vlakke van 'n hipotetiese artikel en ook hoe die vakke van vlak 3 uitgebrei kan word om verskillende datatipes te huisves.

Die woordeboekstruktuurteorie as onderafdeling van 'n dinamiese algemene leksikografieteorie, maak dit moontlik om die potensiaal vir beter toegang tot data te verhoog. Dit versterk die posisie van woordeboeke as voorkeurnaslaanbronne.

6. Woordeboekstrukture en leksikografiese funksies

In navolging van 'n algemene leksikografieteorie met die teorie van woordeboekstrukture en die teorie van leksikografiese funksies as onderafdelings word daar vervolgens gekyk na die uitbreiding van die data-aanbod asook 'n wyer bestek van die inligtingsonttrekkingstruktuur. Dit is belangrik om daarop te let dat die vermeerdering van die data-aanbod nie tot data-oorlading hoef te lei nie. Dit word verseker deurdat die gebruik van horisontaal geordende vakke in die vlakke van 'n artikel met 'n geïntegreerde mikrostruktuur met versteekte data die tersaaklike data eers onthul na 'n klik op die relevante data-identifiseerder.

Juis om data-oorlading in 'n woordeboek te vermy en om die teikengebruiker so goed as moontlik ter wille te wees, is daar in die funksieteorie pleidooie gelewer vir monofunksionele woordeboeke, vergelyk in hierdie verband Bergenholtz en Bergenholz (2011; 2013). Aanlyn woordeboeke met vlakke en vakke wat data bevat wat op aanvraag sigbaar raak, hoef nie tot 'n monofunksionele aanbod beperk te wees nie. Bergenholtz en Bergenholtz (2011: 207) wys wel daarop dat die aanlyn omgewing die moontlikheid skep om talle verskillende monofunksionele woordeboeke vanuit dieselfde databasis te skep deur middel van verskillende soek- en aanbiedingsmoontlikhede. Die gebruik van vernuwende woordeboekstrukture om data te akkommodeer ter bevrediging van verskillende leksikografiese funksies skep beter gebruiksmoontlikhede vir multifunksionele woordeboeke.

Vanuit 'n funksieperspektief bied vlakke en vakke moontlikhede om die multifunksionele aard van 'n woordeboek te versterk sonder om die gebruiker te belas of te verwar. In die semantiese subkommentaar word koteksinskrywings, sowel voorbeeldsinne as kollokasies, verskaf. Dit word gedoen ter bevrediging van die woordeboek se teksproduksiefunksie. Vir die gebruiker wat uitvoeriger teksproduksieleiding nodig het, maar ook vir die gebruiker wat op soek is na uitvoeriger inligting oor sintaktiese patrone waarin die woord wat deur die lemma verteenwoordig word, optree, is die verstrekte koteksinskrywings dikwels onvoldoende. In óf die vakke vir voorbeeldmateriaal en kollokasies óf 'n bykomende vak kan 'n skakel gegee word na die optrede van die betrokke woord in die korpus van die woordeboek. 'n Klik op hierdie skakel bied aan die gebruiker toegang tot die korpus as woordeboekeksterne bron, en deur die inligtingsonttrekkingstruktuur word die woordeboek 'n trekmedium met 'n datatrekking wat data onttrek wat nie deur die woordeboek se dataverspreidingstruktuur daargestel is nie. Weer eens skep die woordeboekstruktuur die moontlikheid om inligting te onttrek, al is dit aan woordeboekeksterne data, om 'n geïdentifiseerde funksie van die woordeboek ten beste te kan bevredig.

Gouws (2025) wys ook op die gebruik van vakke om data van 'n meer ensiklopediese aard te akkommodeer ter wille van 'n woordeboek se kognitiewe funksie. In 'n multifunksionele woordeboek wat op 'n wye gebruikersgroep gerig is, kan die kognitiewe funksie ook in die bewerking van vakterme bereik word. Na gelang van die geïdentifiseerde teikengebruikersgroep sluit 'n algemene woordeboek wel sekere vakterme as lemmata in. Dit is veral daardie terme wat in die kommunikasie tussen deskundige en leek gebruik word, byvoorbeeld terme uit die mediese omgewing, die regswetenskap en die ekonomie. Terme word op so 'n manier verklaar dat dit vir die vakkundige leek verstaanbaar is. Die pasiënt kry 'n verklaring van 'n mediese term wat deur die algemene praktisyn gebruik word of die kliënt kry 'n verklaring van 'n regsterm wat die prokureur gebruik. 'n Algemene woordeboek is nie 'n bron wat tipies deur vakkundiges gebruik word vir die verklaring van terme uit hulle vakgebiede nie. Daarom sal die betekenisparafrase van terme wat in 'n algemene woordeboek opgeneem word tipies op die leek gerig wees. 'n Toegewysde vak in 'n betrokke semantiese subkommentaar kan wel die kognitiewe funksie van 'n woordeboek sterker ter wille wees deur 'n effens uitgebreider definisie te bied met meer vakkundige inhoud wat ook vir die semideskundige van waarde kan wees.

Data ter bevrediging van sowel die kommunikatiewe funksies van teksbegrip en teksproduksie as die kognitiewe funksie val binne die verstek opdrag asook 'n effens uitgebreide opdrag van algemene woordeboeke. Dit is wel belangrik dat die woordeboekstrukture vir die akkommodasie van sulke data voorsiening moet maak deurdat die leksikograaf in die woordeboekkonseptualiseringsplan die voorsiene leksikografiese funksies duidelik uitspel. Die keuse van data en die tersaaklike strukture word dan in ooreenstemming met daardie funksies beplan.

Daar is, naas die kommunikatiewe en kognitiewe funksies, ook ander leksikografiese funksies. Hierdie funksies word veel minder in ag geneem in die beplanning en samestelling van woordeboeke. Twee sulke funksies is die interpretatiewe funksie en die operatiewe funksie - vergelyk Tarp (2007) en Agerbo (2017; 2017a; 2019). In die hieropvolgende afdeling word aandag gegee aan maniere waarop die operatiewe funksie in aanlyn woordeboeke bevredig kan word.

7. Die operatiewe funksie

Tarp (2007: 177) wys daarop dat daar in die literatuur boeke en ander bronne is wat nie ontwerp is om in kognitiewe of kommunikatiewe situasies gebruik te word nie, maar in situasies waar daar raad gegee moet word oor hoe om byvoorbeeld 'n sekere masjien of instrument te hanteer of hoe om 'n bepaalde taak uit te voer. Dit is 'n operatiewe situasie. Tarp (2007: 178) voer aan dat nieleksikografiese bronne kan baat by 'n leksikografiese benadering en hy pleit daarvoor dat die operatiewe situasie by die kognitiewe en kommunikatiewe situasies gevoeg moet word, dit is by daardie gebruikersituasies wat lei tot kognitiewe en kommunikatiewe funksies - soos wat gereeld in woordeboeke bevredig moet word. Die tipiese leksikografiese gebruikersituasies is nie van 'n operatiewe aard nie, omdat gebruikers gewoonlik nie 'n woordeboek gebruik om raad te kry oor hoe om iets te maak nie. Die vasstelling van 'n operatiewe situasie impliseer dat so 'n situasie ook tydens die raadpleging van 'n woordeboek mag voorkom. Dit impliseer die toetrede van 'n bykomende leksikografiese funksie, te wete 'n operatiewe funksies. Hierdie moontlikheid moet ook in die beplanning en samestelling van woordeboeke in ag geneem word.

Alhoewel die operatiewe situasie nie 'n algemene leksikografiese gebruikersituasie is nie wys Agerbo (2017a: 365 e.v.) op verskillende woordeboeke, vanaf so vroeg as 1774 tot so onlangs as 2011, wat wel 'n operatiewe funksie gehad het. Dié funksie het nog selde in metaleksikografiese literatuur ter sprake gekom. Dit is onder meer daaraan toe te skryf dat tradisionele benaderings tot die aard van die data wat in woordeboeke opgeneem word nie ruimte gelaat het vir data wat in 'n operatiewe gebruikersituasie nodig mag wees nie omdat die tipiese gebruikersbehoeftes in so 'n situasie onbekend was. Dit is naamlik haas onmoontlik om te weet na watter soort instruksies 'n gebruiker sou vra tydens die raadpleging van 'n spesifieke woord in 'n woordeboek. Waar 'n woordeboek bloot as stootmedium dien, kan 'n operatiewe funksie beswaarlik bevredig word. 'n Soepel leksikografieteorie wat vir vernuwende strukture voorsiening maak met woordeboeke wat nie net as stootmedium dien nie maar ook as trekmedium, moet dan ook metodes kan ontwerp wat 'n operatiewe funksie kan bevredig. Die data wat hiervoor gevind kan word, lê buite die meeste leksikografiese soekposisies, selfs buite 'n gewone leksikografiese korpus. Dit kan wel in die soekuniversum gevind word.

In woordeboeke is 'n tradisionele mikrostruktuur 'n ordeningstruktuur waarvolgens die aanduiders as draers van leksikografiese data in die woordeboekartikel georden word (Hausmann en Wiegand 1989: 344). Waar 'n woordeboek 'n geïntegreerde mikrostruktuur het, vergelyk Wiegand (1989: 483 e.v.), Gouws (2025: 64), bevat elke semantiese subkommentaar van 'n artikel al daardie artikel-interne aanduiders wat nie tot die vormkommentaar behoort nie en binne die bestek val van die betrokke polisemiese onderskeiding van die woord wat deur die lemma benoem word. 'n Semantiese subkommentaar huisves 'n verskeidenheid aanduiders en tree as 'n eiesoortige soekposisie op, naamlik 'n soekvlak.

In 'n aanlyn woordeboek is die bergingsruimte nie so beperk as wat die geval in 'n gedrukte woordeboek is nie. 'n Soekvlak kan gevolglik 'n groter verskeidenheid aanduiders bevat wat deel vorm van 'n geïntegreerde mikrostruktuur. Aanlyn woordeboeke kan in 'n veel hoër mate ook gebruik maak van data wat deur middel van 'n datatrekkingstruktuur aan woordeboekeksterne bronne in die soekuniversum onttrek en in 'n vak van 'n soekvlak geplaas word. Dit kan grootliks bydra tot 'n uitvoeriger bevrediging van onder meer die woordeboek se teksproduksie- en kognitiewe funksies. Waar daar vanuit 'n soekvlak na 'n woordeboekeksterne soekposisie beweeg word, kan data na 'n woordeboekinterne soekposisie, tipieserwys die soekvlak, getrek word. Dan word inligting aan daardie data onttrek. 'n Wesenlike gevaar wat bestaan, is dat die datatrekkingstruktuur nie kontekssensitief is nie. Dit mag data trek wat nie van toepassing is op daardie spesifieke betekenisonderskeiding wat in die soekvlak as vertrekpunt dien nie. In die prekletsbotera het Bothma en Gouws (2022) reeds gewys op die belang van kontekstualisering wanneer woordeboeke geraadpleeg word wat aan e-lesers gekoppel is. Die ideaal is dat die slim sagteware van sowel die e-leser as die gekoppelde woordeboek dit vir die gebruiker moontlik moet maak om 'n woord wat in die e-leser nageslaan word se konteks so te interpreteer dat die gebruiker na die regte soekvlak met die regte betekenisonderskeiding, in die regte artikel in die gekoppelde woordeboek gelei word. Waar 'n vak van 'n soekvlak 'n blote skakel bevat na 'n woordeboekeksterne bron, byvoorbeeld die internet, sal die skakeling tussen die woordeboek en die bron in die soekuniversum waarskynlik nie gesofistikeerd genoeg wees om gepaste kontekstualisering te vermag nie.

Pogings van leksikograwe om die multifunksionaliteit van hulle aanlyn woordeboeke te versterk deur ook die operatiewe funksie in te sluit, kan slaag indien die struktuur voorsiening maak vir die akkommodasie van nuwe tipes gekontekstualiseerde inskrywings. Die bestek van 'n mikrostruktuur kan uitgebrei word om 'n vak te bevat met 'n inskrywing wat toegang gee tot 'n kletsbot. So 'n kletsbot het nie toegang tot al die woordeboekdata nie en kan dit dus nie in sy groot taalmodel opneem nie. Vanuit 'n probleem wat die woordeboekgebruiker binne 'n bepaalde semantiese subkommentaar van 'n artikel ervaar, gee die gebruiker aan die kletsbot 'n por om 'n oplossing vir die bepaalde probleem te soek. As komponent van die geïntegreerde mikrostruktuur val die opdragte wat die kletsbot kan uitvoer telkens binne die bestek van 'n element van 'n geïntegreerde mikrostruktuur, dit wil sê, in terme van Wiegand (1989: 483) se verklaring, binne die bestek van die betrokke polisemiese onderskeiding van die woord wat deur die lemma verteenwoordig word. Die mikrostrukturele vertrekpunt van 'n kletsbotpor skep die konteks vir die data wat in antwoord op die gegewe por gelewer word. Gevolglik sal die benutting van die kletsbot vanuit 'n gegewe vak en vlak die tersaaklike kontekstualisering bereik, sonder dat die kletsbot toegang tot ander woordeboekdata het. Gebruikers moet ook weet dat die kletsbot nie gekeurde data verskaf nie en dit moet deurgaans met die nodige omsigtigheid hanteer word. Die moontlike integrering van so 'n kletsbot hang uiteraard van die woordeboeksoort af asook van die opdrag aan so 'n woordeboek en sy gebruiks- en gebruikersituasie.

In die aanlyn HAT (Luther et al. 2015) het die artikel van die lemma slaai twee semantiese subkommentare met die tweede betekenisonderskeiding wat in twee onderafdelings uiteenval, te wete "groenteslaai" en "vrugteslaai."

In 'n aanlyn woordeboek wat so 'n semantiese bewerking bevat en ook 'n vak in elke vlak het wat toegang tot 'n geïntegreerde kletsbot gee, sou die operatiewe funksie in werking gestel kon word, byvoorbeeld om vas te stel hoe 'n slaai gemaak word. Indien die gebruiker hierdie vraag ten opsigte van die eerste onderafdeling (groenteslaai) van die tweede semantiese subkommentaar as porvraag sou stel, sou die kletsbot vanuit 'n vak in die subvlak (groenteslaai) benut kon word. Die afparing van kontekste tussen vlakke in 'n woordeboekartikel en data in die soekuniversum sou dan tot 'n gekontekstualiseerde datatrekking met terugvoering soos die volgende gelei het:

Porvraag: Hoe maak 'n mens 'n slaai?

Alhoewel baie gebruikers hulle regstreeks tot 'n kletsbot of die internet sal wend om hierdie soort inligting te bekom, word die woordeboek nou 'n veeldoelige en multifunksionele hulpbron. Die ruimte wat 'n geïntegreerde mikrostruktuur, volgens die moontlikhede van 'n aangepaste algemene leksikografieteorie, bied om ook 'n skakel na 'n geïntegreerde kletsbot te bevat, lei tot 'n omvattende en dinamiese inligtingsonttrekkingstruktuur en 'n basis vanwaar die gebruiker ook inligting kan onttrek wat nie tradisioneel vanuit 'n woordeboek bereikbaar was nie. So 'n woordeboek word 'n bron wat toegang bied tot haas onbeperkte data wat in die soekuniversum optree. 'n Woordeboek word veel meer as 'n draer van die tradisionele tipes leksikografiese data. Gebruikers wat die woord selfoon in 'n woordeboek nagaan, mag hulle skielik in 'n operatiewe gebruikersituasie bevind deurdat hulle wil weet hoe data van een selfoon na 'n ander oorgedra word. Vanuit die tersaaklike soekvlak van die woordeboek beweeg die gebruiker na die vak wat die geïntegreerde kletsbot bevat. Die relevante porvraag word gestel en die woordeboek bied die tersaaklike terugvoer aan die gebruiker, met hulp wat nie in tradisionele woordeboeke gevind sou kon word nie.

Porvraag: Hoe laai 'n mens data van een selfoon oor na 'n ander een?

ChatGPT se antwoord:

Daar is verskeie maniere om data van een selfoon na 'n ander oor te dra. Die maklikste metode hang af van of albei fone dieselfde tipe is.

As albei Android-fone is:

1. Skakel die nuwe foon aan.

2. Kies Kopieer data of Stel op vanaf ou toestel.

3. Verbind die twee fone met 'n USB-kabel (indien moontlik) of gebruik Wi-Fi.

4. Kies wat jy wil oordra, soos kontakte, foto's, video's, toepassings en instellings.

5. Wag totdat die oordrag voltooi is.

As albei iPhones is:

1. Plaas die twee iPhones naby mekaar.

2. Skakel die nuwe iPhone aan en gebruik Quick Start.

3. Volg die instruksies op die skerm.

4. Jy kan data direk vanaf die ou iPhone of vanaf 'n iCloud-rugsteun oordra.

Van Android na iPhone:

· Gebruik die Move to iOS-toepassing op die Android-foon. Dit dra kontakte, boodskappe, foto's, video's en sommige ander data oor.

Van iPhone na Android:

· Baie Android-fone (bv. Samsung en Google Pixel) bied 'n ingeboude oordragproses wanneer jy die nuwe foon opstel. Jy kan gewoonlik 'n kabel of Wi-Fi gebruik.

As jy my kan sê:

· Watter ou foon jy het (bv. Samsung, Huawei, iPhone)?

· Watter nuwe foon jy het?

kan ek vir jou die presiese stappe gee.

(https://chatgpt.com/share/6a69c5f6-5adc-83ea-a669-77f4e046effc?ogimg=plain)

Leksikografiese funksies is nie afhanklik van 'n bepaalde medium nie. Funksies om bepaalde woordeboekgebruikers se leksikografiese behoeftes te bevredig, is ewe toepaslik in gedrukte as in aanlyn leksikografiese produkte. Die beperkings met betrekking tot die medium lê eerder in die leksikografiese strukture. Wiegand se algemene leksikografieteorie met 'n spesifieke teorie van woordeboekstrukture as onderafdeling kan aangepas word om die bevrediging van tradisionele leksikografiese funksies soos die kommunikatiewe en kognitiewe funksies ook in aanlyn leksikografiese produkte te verseker. Dit kan ook aangepas word om die bevrediging van ander funksies, soos die operatiewe funksie, te bereik. Tarp (2008: 81) definieer 'n leksikografiese funksie soos volg:

A lexicographical function is the satisfaction of the specific types of lexicographically relevant need that may arise in a specific type of potential user in a specific type of extra-lexicographical situation.

Vir die gebruiker met 'n operatiewe behoefte maak 'n soepel leksikografieteorie daarvoor voorsiening dat woordeboekstrukture, soos die mikrostruktuur, die datatrekkingstruktuur en die inligtingsonttrekkingstruktuur, aangepas word om 'n gepaste soekposisie te skep en toegang tot gekontekstualiseerde data in die soekuniversum te verseker, sodat die betrokke operatiewe behoefte bevredig kan word. Na gelang van die behoefte van die gebruiker is verskillende leksikografiese funksies op aanvraag beskikbaar.

8. Ten slotte: die aanpasbaarheid van 'n soepel teorie

Om die beste moontlike leksikografiese produkte te verseker, moet die leksikografiese praktyk 'n soepel en aanpasbare teorie as basis hê. So 'n teorie moet nie net deur eenvoud gekenmerk word nie, maar dit moet genoegsame verklarings- en voorspellingskrag hê en 'n bestek wat 'n wye toepassingswaarde verseker. Binne die raamwerk van Wiegand se algemene leksikografieteorie maak Hausmann en Wiegand (1989: 347) voorsiening vir verskillende tipes mikrostrukture, onder meer die verpligte mikrostruktuur en die absoluut verpligte mikrostruktuur. Die verskil is daarin geleë dat alle woordeboekartikels nie homogeen is nie en verskillende tipes aanduiders bevat en die artikelstruktuur kan na gelang van omstandighede en in ooreenstemming met die aard van die spesifieke mikrostruktuur aangepas word. Gouws en Prinsloo (2005: 138) onderskei tussen 'n verpligte mikrostruktuur en 'n uitgebreide verpligte mikrostruktuur waar laasgenoemde struktuur voorsiening maak vir bykomende soeksones in 'n woordeboekartikel om bykomende aanduiders wat draers van datatipes is te akkommodeer.

Waar 'n algemene leksikografieteorie aangepas en uitgebrei word om veranderde tegnologiese moontlikhede in ag te neem, kan woordeboekartikels ontwerp word wat deur 'n uitbreiding van vakke in 'n bepaalde vlak voorsiening maak vir die opname van 'n geïntegreerde kletsbot. Dit is 'n aanpassing gemotiveer deur die onderlinge invloed van twee spesifieke subteorieë as onderafdelings van 'n algemene teorie. Die funksieteorie bied 'n bykomende funksie, te wete die operatiewe funksie, en die struktuurteorie skep 'n soeksone binne 'n bepaalde soekvlak vanwaar die gebruiker toegang tot woordeboekeksterne data kan kry om die betrokke funksie te bevredig.

'n Soepel teorie pas by die eise van veranderende omstandighede aan en verseker 'n verhoging in die gehalte van leksikografiese produkte.

Bronnelys

A. Woordeboeke

References

  • Buhr, M. en G. Klaus (Reds.). 1971. Philosophisches Wörterbuch. Berlyn: Das europäische Buch. elexiko: https://www.owid.de/docs/elex/start.jsp [Geraadpleeg: Julie 2026.
  • ]
  • Quasthoff, U., S. Fiedler, E. Hallsteinsdóttir, R.H. Gouws en D. Goldhahn (Reds.). 2019. Frequency Dictionary Afrikaans/Frekwensiewoordeboek van Afrikaans. Leipzig: Leipzig Universitätsverlag.
  • B. Ander bronne
  • Agerbo, H. 2017. The Interpretive Function: To Be or Not to Be, That is the Question. Lexikos 27: 1-15.
  • Agerbo, H. 2017a. Monofunctional and Polyfunctional Information Tools with an Operative Function. Lexicographica 33: 361-390.
  • Agerbo, H. 2019. A Theoretical Description of the Operative Function and its Implementation in the Conceptualisation of Danish Lexicographical Tools in Physical Training. Ongepubliseerde proefskrif. Aarhus: Aarhus Universiteit.
  • Béjoint, H. 2010. The Lexicography of English. Oxford: Oxford University Press.
  • Bergenholtz, H. en I. Bergenholtz. 2011. A Dictionary is a Tool, a Good Dictionary is a Monofunctional Tool. Fuertes-Olivera, P.A. en H. Bergenholtz (Reds.). 2011. e-Lexicography: The Internet, Digital Initiatives and Lexicography: 187-207. Londen/New York: Continuum.
  • Bergenholtz, H. en S. Tarp. 2002. Die moderne lexikographische Funktionslehre. Diskussionsbeitrag zu neuen und alten Paradigmen, die Wörterbücher als Gebrauchsgegenstände verstehen. Lexicographica 18: 253-263.
  • Bergenholtz, H. en S. Tarp. 2003. Two Opposing Theories: On H.E. Wiegand's Recent Discovery of Lexicographic Functions. Hermes, Journal of Linguistics 31: 171-196.
  • Bergenholtz, H., S. Tarp en H.E. Wiegand. 1999. Datendistributionsstrukturen, Makro- und Mikrostrukturen in neueren Fachwörterbüchern. Hoffmann, L. et al. (Reds.). 1999. Fachsprachen. Ein internationales Handbuch zur Fachsprachenforschung und Terminologiewissenschaft / Languages for Special Purposes. An International Handbook of Special-Language and Terminology Research, Bd./Vol. 2: 1762-1832. Berlyn: De Gruyter.
  • Bergenholtz, I. en H. Bergenholtz. 2013. One Database, Four Monofunctional Dictionaries. Hermes 50: 119-125.
  • Bogaards, P. 2010. Lexicography: Science without Theory. De Schryver, G.-M. (Red.). 2010. A Way with Words: Recent Advances in Lexical Theory and Analysis. A Festschrift for Patrick Hanks: 313-322. Kampala: Menha Publishers.
  • Bothma, T.J.D. en R.H. Gouws. 2022. Information Needs and Contextualization in the Consultation Process of Dictionaries that Are Linked to e-Texts. Lexikos 32(2): 53-81.
  • Du Plessis, A.H. 2025. 'n Teoretiese model vir leksikografiese produkte op selfone. Ongepubliseerde proefskrif. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
  • Geeraerts, D. 2013. The Treatment of Meaning in Dictionaries and Prototype Theory. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013: 487-495.
  • Gouws, R.H. 2014. Article Structures: Moving from Printed to e-Dictionaries. Lexikos 24: 155-177.
  • Gouws, R.H. 2014a. Makrostruktuuraanpassings vanaf gedrukte na e-woordeboeke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54(3): 481-504.
  • Gouws, R.H. 2014b. Expanding the Notion of Addressing Relations. Lexicography 1(2): 159-184.
  • Gouws, R.H. 2018. Expanding the Data Distribution Structure. Lexicographica 34: 225-237.
  • Gouws, R.H. 2023. Nuwe raamstruktuurtipes in aanlyn woordeboeke. Lexikos 33(1): 382-403.
  • Gouws, R.H. 2025. 'n Omvattender aanbod van semantiese data in aanlyn woordeboeke. Lexikos 35(2): 46-74.
  • Gouws, R.H. en T.J.D. Bothma. 2024. Aspekte van inligtingsonttrekkingstrukture in aanlyn woordeboeke. Lexikos 34(1): 355-370.
  • Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlyn: De Gruyter.
  • Hausmann, F.J., O. Reichmann, H.E. Wiegand en L. Zgusta (Reds.). 1989-1991. Wörterbücher. Dictionaries. Dictionnaires. An International Encyclopedia of Lexicography. Berlyn: De Gruyter.
  • Hausmann, F.J. en H.E. Wiegand. 1989. Component Parts and Structures of General Monolingual Dictionaries: A Survey. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 328-360.
  • Klosa, A. en R.H. Gouws. 2015. Outer Features in e-Dictionaries. Lexicographica 31: 142-172.
  • Kromann, H.-P., T. Riiber en P. Rosbach.1984. Überlegungen zu Grundfragen der zweisprachigen Lexikographie. Wiegand, H.E. (Red.). 1984. Studien zur neuhochdeutschen Lexikographie: 159-238. Hildesheim: Georg Olms Verlag.
  • Louw, J.P. 1985. A Semantic Domain Approach to Lexicography. Louw, J.P. (Red.). 1985. Lexicography and Translation: 157-197. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
  • Lyons, J. 1968. Introduction to Theoretical Linguistics. Cambridge: Cambridge University Press.
  • Lyons, J. 1977. Semantics. Cambridge: Cambridge University Press.
  • Müller-Spitzer, C. 2013. Textual Structures in Electronic Dictionaries. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013: 367-381.
  • Ostermann, C. 2015. Cognitive Lexicography: A New Approach to Lexicography Making Use of Cognitive Semantics. Berlyn/Boston: De Gruyter.
  • Rundell, M. 2012. It Works in Practice but Will it Work in Theory? The Uneasy Relationship between Lexicography and Matters Theoretical. Fjeld, R.V. en J.M. Torjusen (Reds.). 2012. Proceedings of the 15th EURALEX International Congress, 7-11 August 2012, Oslo: 47-92. Oslo: Universiteit van Oslo.
  • Scerba, L. 1940. Opyt obshchei teorii leksikografii. Izvestiia Akademii Nauk SSSR, Otdelenie literatury i iazyka 3: 89-117. (Engelse vertaling deur D.M.T.Cr. Farina 1995: Towards a General Theory of Lexicography. International Journal of Lexicography 8(4): 314-350).
  • Sinclair, J. 1984. Lexicography as an Academic Subject. Hartmann, R.R.K. (Red.). 1984. LEXeter '83 Proceedings. Papers from the International Conference on Lexicography at Exeter, 9-12 September 1983: 3-12. Tübingen: Max Niemeyer.
  • Tarp, S. 2007. Lexicography in the Information Age. Lexikos 17: 170-179.
  • Tarp, S. 2008. Lexicography in the Borderland between Knowledge and Non-knowledge. General Lexicographical Theory with Particular Focus on Learner's Lexicography. Tübingen: Max Niemeyer.
  • Tarp, S. en R.H. Gouws. 2023: A Necessary Redefinition of Lexicography in the Digital Age: Glossography, Dictionography and Implications for the Future. Lexikos 33(1): 425-447.
  • Wiegand, H.E. 1984. On the Structure and Contents of a General Theory of Lexicography. Hartmann, R.R.K. (Red.). 1984. LEXeter '83 Proceedings. Papers from the International Conference on Lexicography at Exeter, 9-12 September 1983: 13-30. Tübingen: Max Niemeyer.
  • Wiegand, H.E. 1989. Arten von Mikrostrukturen im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 462-501.
  • Wiegand, H.E. 1998. Wörterbuchforschung. Berlyn: De Gruyter.
  • Wiegand, H.E. 2006. Adressierung in Printwörterbüchern. Präzisierungen und weiterführende Überlegungen. Lexicographica 22: 187-261.
  • Wiegand, H.E. 2007. Über Zugriffspfade in Printwörterbüchern. Ein Beitrag zur Schnittstelle von Benutzungshandlungen und Wörterbuchform. Lexikos 17: 180-211.
  • Wiegand, H.E. 2008. Wörterbuchregister. Grundlagen einer Theorie der Register in modernen Printwörterbüchern. Lexikos 18: 256-302.
  • Wiegand, H.E. en S. Beer. 2013. Access Structures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013: 110-149.
  • Wiegand, H.E., S. Beer en R.H. Gouws. 2013. Textual Structures in Printed Dictionaries: An Overview. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013: 31-73.
  • Wiegand, H.E. en R.H. Gouws. 2013. Macrostructures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013: 73-110.
  • Wiegand, H.E. en M. Smit. 2013. Microstructures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013: 149-214.
  • Wierzbicka, A. 1985. Lexicography and Conceptual Analysis. Ann Arbor: Karoma.

C. Kletsbotte

Publication Dates

  • Publication in this collection
    10 Nov 2026
  • Date of issue
location_on
Bureau of the WAT Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Lexikos Posbus 245, Stellenbosch, Western Cape, ZA, 7599, Tel: +27 21 808 9046 - E-mail: tha@sun.ac.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top