Open-access "Leftists losing it" as "acting out": A psychoanalytical perspective

Abstract

In hierdie artikel word daar gepoog om die eienaardige verskynsel van "linkses wat kop verloor" ("leftists losing it") konseptueel te begryp, soos dit onmiddellik ná Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing aan die einde van 2024 gemanifesteer het. Dit is sigbaar in verskeie video's wat aanlyn beskikbaar is, waarin individue hulself op 'n onbesonne wyse gedra deur byvoorbeeld herhaaldelik te huil en te skree ten aansien van Trump se verkiesingstriomf. Daar word aangevoer dat hierdie verskynsels gevalle is van wat in psigoanalise as "acting out" ("irrasionele gedrag") bekendstaan, met ander woorde, wanneer mense hul toevlug tot pseudohandelinge neem as plaasvervanger vir 'n samehangende gesprek oor die gebeure waarop die gedrag betrekking het. Voordat 'n interpretasie van die betrokke video's aangebied word, val die soeklig op "acting out" as irrasionele gedrag vanuit Freudiaanse en Lacaniaanse psigoanalitiese oogpunte, aan die hand van begrippe soos onderdrukking, die onbewuste, trauma, onthou en oordrag. Tot die mate waartoe "acting out" ("irrasionele gedrag") herhaling insluit, word 'n teoretiese ompad via Freud se opvatting van die doodsdrif ("death instinct") onderneem ten einde die betekenis daarvan vir die verskynsels van "kop verloor" ("losing it") en "ineenstorting" ("melting down") te peil. Teen hierdie agtergrond word 'n interpretasie van die tersaaklike gedrag in die tersaaklike videomateriaal aangebied, voordat die politieke implikasies daarvan aan die hand van Arendt se beskouing van politieke mag uitgewys word. Volgens haar bestaan mag uit die voortgesette hernuwing van spraak en handeling, waardeur die verskyningsruimte gekonstitueer word. Waar sodanige wedersydse verhouding tussen mag en die (politieke) verskyningsruimte afwesig is, kan 'n mens nie samehangend van die "politieke sfeer" in die ware sin van die woord praat nie. Gevolglik kan daar aangetoon word dat die video-uitbarstings van individue wat hulself irrasioneel gedra nie as "polities" in die Arendtiaanse sin van die woord beskou kan word nie. Ten slotte word die historiese konteks waarin hierdie gebeure ontvou het, gerekonstrueer deur daarop te klem te lê dat die kiesers wat Trump ondersteun het, volgens beskikbare getuienis, oorweldigend Christelik was. Hierteenoor was 'n groot aantal van dié wat teen hom gestem het, ondersteuners van "woke" ideologie. Laasgenoemde kom daarop neer dat alle tradisionele waardes verwerp word, insluitend die Christendom, asook dit wat as "toksiese (wit) manlikheid" ("toxic [white] masculinity") bestempel word.

Christene; ineenstorting", melting down"; irrasionele gedrag, acting out"; linkses; psigoanalise; Trump


location_on
Scriber Editorial Systems Scriber Editorial Systems, 67 Sanglen 365 Glenwood Road, Faerie Glen, Pretoria, Gauteng, ZA, 0081, Tel: +27 83 973 0443 - E-mail: support@koers.co.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top