Open-access 'n Reformatoriese kindbeskouing: In watter mate kom dit tot sy reg in die internasionale en Suid-Afrikaanse onderwysregsbestel?

A Reformational view of the child: To what extent is justice done to it in international and South African pedagogical jurisprudence?

Abstract

'n Opvoedingsfilosoof en 'n onclerwysregskunclige span kragte saam om vas te stel tot welke mate die kernaspekte van 'n Reformatoriese kindbeskouing tot hul reg in die internasionale en Suid-Afrikaanse onderwysregsbestel kom. Die eerste Ceel van die artikel verskaf 'n filosofies-Reformatoriese kinderantropologie as prinsipiële grondslag, tesame met rigtingwysers vir die daaropvolgende (onderwys)regtelike ondersoek. Die ondersoek bring aan die lig dat Reformatoriese opvoeders in die huidige tydsgewrig nog taamlik rustig en tevrede kan wees met hoe die (onderwys)reg en -regspleging in Suid-Afrika ten opsigte van die belange van kinders behartig word. Daar was egter in die onlangse verlede verwikkelinge wat op gevaar dui, tesame met sake wat in die toekoms meer aandag sal moet geniet.

kind; kinderantropologie; kindbeskouing; onderwys; opvoeding; Reformatories; onderwysreg; onderwysregspleging


Abstract

A philosopher of education and an education law expert join forces to establish to what degree justice has been done to the core aspects of Reformational child anthropology in the current international and South African education jurisprudence system. The first part of the article provides a philosophical Reformational child anthropology as a foundational basis, together with guidelines for the subsequent (education) legal investigation. The investigation reveals that Reformational educators could be relatively content, for the time being, about how (education) law and jurisprudence in South Africa concerning children are administered. However, there have been recent developments indicating danger, along with matters that will require more attention in the future.

child; child anthropology; education; education jurisprudence; education law; Reformational; upbringing; view of the child


1. Inleiding

Die wyse waarop kinders deur die ganse bestaan van die mensdom gesien, benader en opgevoed is, het in die eerste instansie afgehang van die betrokkenes se kindbeskouing of kinderantropologie. Daar kan aanvaar word dat die eerste ouers (afgesien van hoe die begrip "eerste" in hierdie konteks verstaan word) hul handelinge teenoor hul kinders en ten aansien van hulle bloot op aanvoeling en intuïsie gebaseer het. Met verloop van tyd het opeenvolgende geslagte ouers en versorgers wel kennis en kundigheid aangaande kinders en die fase van "kind wees of kindheid" opgedoen. Gevolglik het daar 'n mate van gesofistikeerdheid ingetree in ouers en versorgers se houding teenoor die kinders en in hul "grootmaak" van kinders. Sulke eeuelange ervaring met kinders en hul behoeftes het egter nie daartoe gelei dat opvoeders (ouers, versorgers, onderwysers) 'n eenduidige siening van kind wees ontwikkel het nie.

2. Probleemstelling

In beskouinge oor die kind en die fase van kind wees het die weë van ondersoekers sterk uiteengegaan. Sommige het kinders beskou as ontwikkelende wesens, ander as "agente" (mense wat iets moet en kan doen) en ander as kwesbare wesens (Bluebond-Langner & Korbin, 2007). Eenduidigheid en eenvormigheid van optrede teenoor kinders en hul opvoeding en onderwys is voorts deur die eeue onmoontlik gemaak deur verskeie omstandighede: die plaaslike omstandighede waarin die kinders gebore en grootgemaak is1; die sosiaal-ekonomiese klas, geslag, etnisiteit en kulturele gebruike en gewoontes wat die volwassenes op 'n gegewe plek en tyd ontwikkel en toegepas het; die ideale of toekomsvisie (so ongesofistikeerd as wat dit in die vroegste omstandighede moes gewees het) wat die ouers of die gemeenskap gekoester het; die sosiaal-politieke omstandighede; en vele meer. Dit is om hierdie rede dat Allerton (2020/2023) stel dat gemeenskappe grootliks van mekaar in hulle antwoorde op die volgende vrae verskil: Wat is 'n kind? Watter sorg, leiding en opleiding benodig 'n kind? Hoe doen kinders kennis van hul omgewing op? Sy kom dan tot die gevolgtrekking dat die begrip "kind wees" eintlik 'n sosiokulturele konstruksie is, met 'n verskeidenheid inhoudsgewing, afhangend van die betrokke gemeenskap. Sy kom tot die gevolgtrekking dat navorsing getoon het dat daar geen enkele universele begrip van "kind wees" as 'n bepaalde stadium in die mens se lewensiklus is nie. Om hierdie rede is dit dan ook moeilik om algemeen geldende uitsprake oor kind wees en die opvoeding en onderwys van kinders te maak.

Philippe Ariès, een van die toonaangewende ontleders van die kindertyd, het in sy boek getiteld Centuries of childhood (1960; sien Ulanowicz, 2024), gestel dat "kind wees" vir 'n lang tyd in Europa nie as 'n afsonderlike en duidelik onderskeibare fase van mens wees bestaan het nie. In die Middeleeue is kinders byvoorbeeld bloot beskou as klein volwassenes, sonder anderse kleredrag, speletjies of ruimtes.

Benewens die feit dat die kindertyd nie as 'n afsonderlike fase van mens wees beskou is nie weens die redes en omstandighede wat tot dusver gemeld is, het daar in sommige gemeenskappe ook teorieë, benaderings of sieninge ontstaan. Hierdie teorieë, benaderinge of sieninge hou verband met wat n kind behoort te wees en te doen. n Bekende voorbeeld hiervan was die Spartane se "harde individualistiese benadering" ingevolge waarvan veral seuns grootgemaak is om veerkragtig, sterk, selfversorgend en onafhanklik te wees. Dogters is dan ook grootgemaak om sulke seuns vir die weermag te lewer. Ander voorbeelde hiervan is die gebruik van kinderarbeid in Vietnam en kinderprostitusie in Thailand. Hierteenoor staan wat as die "sagte individualistiese benadering" beskou kan word ingevolge waarvan kinders met sorg, liefde en beskerming grootgemaak word as 'n unieke klein of jonger persoon (Allerton, 2020/2023). 'n Bekende voorbeeld hiervan is die Bybelse (beide Joodse en Christelike) siening van die kindertyd. Die filantropiese filosoof Jean-Jacques Rousseau het hierdie benadering in 'n sekere sin te ver gevoer deur op mens- of kindsentriese of -absoluterende wyse te veel nadruk op die "natuurlike innerlike ontwikkeling" van die kind te lê.

Volgens Allerton (2020/2023) was Britse antropoloë minder besorg as Amerikaanse antropoloë oor die psigiese ontwikkeling van kinders maar eerder meer oor hul sosialisering. Hiermee word verwys na hoe die kinders bevoegde lede van die samelewing (kan) word.

Vervolgens word 'n belangrike punt in die raamwerk van die diskoers aangeraak wat in die res van hierdie artikel aan bod kom. Dit behels dat daar gedurende die 19de eeu met die opkoms van formele skoolonderwys vir alle kinders 'n nuwe kindgesentreerde benadering oor die wêreld heen begin posvat het. Hierdie benadering het veral gepaardgegaan met die aanvaarding van die Verenigde Nasies se Convention on the rights of the child (UN, 1989). Hoewel algemene en verpligte skoolonderwys, meestal tot die ouderdom van 16, vir baie kinders nuwe spanning in hul lewens meegebring het, was daar nou meer aandag geskenk aan dit wat kinders in hierdie lewensfase benodig het.

Die Konvensie het die gedagte van kinderregte baie prominent na vore gebring (UN, 1989). Die Konvensie het onder meer die gedagte onderstreep dat die kinderfase of -tydperk 'n tyd is waarin kinders "spesiale sorg en bystand" behoort te ontvang (UN, 1989). Een van die belangrikste bepalings kragtens artikel 3 van die Konvensie was dat daar opgetree moes word "in die beste belang van kinders" in alle sake wat met hulle te make het (UN, 1989). Voorts het artikel 12 ook gestipuleer dat die kind se mening ingewin moes word oor alle sake wat met hom of haar te make het (UN, 1989). Die Konvensie spel egter nie in soveel woorde uit hoe hierdie voorskrifte nagekom behoort te word nie (Allerton, 2020/2023). Die belangrike insig wat egter hieruit voortvloei, is dat die siening nie meer geld dat kinders bloot volwassenes in wording is nie. Kind wees word dus tans erken as n antropologiese fase in eie reg, dit wil sê 'n selfstandige modus van bestaan. Volgens Montgomery (2022) is die tyd verby dat kinders en die fase van kind wees 'n bysaak in antropologiese navorsing is.

Die voorgaande uiteensetting bring ons dan nou by die probleemvrae waaromheen die navorsing gewentel het waaroor ons in hierdie artikel verslag doen: Wat behels 'n Reformatoriese kinderantropologie (kindbeskouing)? Tot welke mate word die beginsels wat daarin na vore kom in die huidige Suid-Afrikaanse reg en -jurisprudensie erken? Dit is - soos De Muynck, Vermeulen en Kunz (2017:26) dit stel - belangrik om terug te gaan na 'n mens se kindbeeld wanneer daar oor die behartiging van kinders se belange besin word. Dit geld ook in die reg en regspleging aangaande die kind. De Muynck et al. (2017:26) stel tereg dat die meeste mense 'n spontane of naïewe opvatting van kind wees in hul agterkop het. Na hul mening is "het belangrijk om dat beeld uit te werken" (De Muynck et al., 2017:26).

3. Ondersoekmetode

Om die probleemvraag te beantwoord, het ons van 'n dubbelloopmetode gebruik gemaak. In die eerste teoreties-prinsipiële gedeelte van die navorsing waarin die ondersoek op die samestelling van n Reformatoriese kinderantropologie gerig was, het ons gebruik gemaak van interpretivisme-konstruktivisme as metode. Ons het eers gegewens en gesigspunte versamel oor die fase van kind wees. Ná afloop hiervan het ons deur interpretasie en op grond van ons Reformatoriese uitgangspunte probeer deurdring tot daardie aspekte wat lig werp op wat 'n kind presies is en wat die uitdagings van kind wees alles behels. Daarna het ons al hierdie insigte en gesigspunte (konstruktivisties) byeengebring in die kinderantropologie wat ons in die volgende afdeling van die artikel geformuleer het (vergelyk ook Mayes & De Freitas, 2007:14, 16). In die tweede navorsingsfase het ons gebruik gemaak van die regsvergelykende en regshistoriese navorsingsmetodes (Venter, 1990:161, 206). In hierdie fase het ons probeer vasstel hoe die verskillende gesigspunte van hierdie Reformatoriese kinderantropologie in die Suid-Afrikaanse onderwysreg en -regspleging weerklank gevind het.

4. 'n Reformatoriese of Skriftuurlike kindbeskouing

Die onbepaalde lidwoord '"n" is doelbewus in die opskrif hier bo gebruik. Daarmee word aangedui dat die kindbeskouing wat in hierdie afdeling uiteengesit word beperk is tot die benadering van kind wees van die outeurs van hierdie artikel. Dit sal dus nie noodwendig voldoen aan die vereistes of die benaderingswyses van (alle) ander (Reformatories denkende) kinderantropoloë nie. Die benadering of invalshoek wat vir die uiteensetting van kind wees in hierdie afdeling gekies is, was om die kind en kind wees as n bepaalde fase van mens wees te sien, vanaf geboorte tot ongeveer 18-jarige ouderdom. Laasgenoemde is gekies omdat daarmee veronderstel word dat n kind normaalweg die skool verlaat en die werkslewe of gevorderde studie betree en dus dan vir hom- of haarself lewensbesluite kan neem. Teoreties kan jongmense van hierdie ouderdom formeel-operasioneel, deur beginsels en ideale gelei, dink. Jongmense van sodanige ouderdom kan egter in baie van hierdie soort gevalle nog nie ekonomies onafhanklik van hul ouers of ander naasbestaandes leef en funksioneer nie (Piaget, 1964:176-186; Halonen & Santrock, 1996:338-339). Tweedens word die kind in hierdie uiteensetting beskou as n "wese". Hiermee word verwys na iemand of n menslike entiteit met "syn", bewussyn en karakter (Engels: "a human being"). In die derde plek word hierdie wese beskryf aan die hand van riglyne, kategorieë en gesigspunte wat die Heilige Gees in die Skrif gegee het. Dit spreek dus vanself dat die bespreking by die kind as "'n Godgeskape wese" sal begin.

Die doel van hierdie aanvanklike uiteensetting van n Christelike, Bybelse of Reformatoriese kindbeskouing is om aan die hand hiervan te bepaal welke van hierdie gesigspunte oor die kind en kind wees erken is. Verder wil daar ook bepaal word hoe hierdie gesigspunte tot hul reg gekom het (en steeds kom) in die huidige internasionale en Suid-Afrikaanse reg en regspleging. Die huidige onderwysreg en -regspleging is en word hoofsaaklik vanuit n sekulêre en sogenaamde godsdienstig-lewensbeskoulik neutrale siening of standpunt ge-promulgeer en toegepas. Juis hierom sal n mens nie die kinderantropologie wat hier onder uiteengesit word net so, in presies dieselfde vorm, in terme van sy aanslag en bewoording in die onderwysreg en -jurisprudensie kry nie. Die afdelings getiteld "Gevolgtrekking" gee egter n aanduiding van die mate - ondanks verskille in uitgangspunt, bewoording, en dies meer - waartoe die onderwysreg en -regspleging wel uitdrukking en erkenning aan die Reformatoriese kinderantropologie gee wat vervolgens uiteengesit word.

5. Buitelyne van 'n Reformatoriese kinderantropologie

5.1 Elke kind as Godgeskape wese: 'n Gawe van God

Die geboorte van n kind is geen toevalligheid weens die geslagtelike gemeenskap van die ouers nie. Die Skrif leer dat elke kind n geskenk van God aan die ouers is en aan Hom behoort (Ps. 127:3). In die Ou Testament is om baie kinders te hê as n besondere seën van die Here beskou (Ps. 127:3-5; Ps. 128). Kinders is kosbaar, nie vanweë die kwaliteite waaroor hulle beskik nie, maar wel omdat hulle skepsels van God is (De Muynck et al., 2017:27). Kinders behoort lewenslank aan God, en Hy hou sy hand oor hulle (Gen. 17:7; Hand. 2:39). God verheug Hom in die lof van kinders (Ps. 8:2; vergelyk ook Matt. 21:15-16). Jesus gebruik by geleentheid kinders om aan volwassenes te toon wat dit beteken om burgers van sy koninkryk te wees (Matt. 19:13-15).

5.2 Beeld van God

Juis omdat n kind in die volste sin van die woord n mens is, is hy of sy na die beeld van God geskape (Malan, 1986:2) en is dan hiermee saam ook die kroon van die skepping (Ps. 8). As beeld van God is die kind, soos alle mense, n rasioneel-morele wese wat in n religieuse verhouding met God staan (De Jong, 2003:71). Slegs die mens kan as 'n weerspieëling van die beeld van God dien; as mens vertoon die mens die kreatuurlike beeld van God in sy liggaamlikheid. Die mens se beeldskap van God dui egter nie verwantskap met God aan nie, dog wel n verhouding met Hom. Die mens se beeldskap van God dui, soos gestel, op 'n omvattend religieuse verhouding met Hom. Hiermee word verwys na 'n verhouding wat deur gehoorsaamheid aan God en sy wil gekenmerk word, veral in terme van die sentrale liefdesgebod. In hierdie verhouding is die mens se hart, sy persoonskern, van sentrale belang. Die mens se beeldskap is 'n gawe van God wat terselfdertyd ook 'n taak aan die mens oplê. Hierdie taak behels dat die mens in ooreenstemming met God se wet (wil) Hom moet dien in alles wat gedoen word. Die feit dat die mens na die beeld van God geskape is, het verskillende implikasies vir mens wees: Die mens moet as God se verteenwoordiger in die skepping optree, aan Hom en sy gebod gehoorsaam wees, oor die skepping heers, rentmeesterskap in die skepping nakom en diens aan sy naaste en die res van die skepping betoon (die kultuuropdrag, volgens Gen. 1:26) (Van der Walt, 2008:242).

5.3 'n Verhoudingswese

Elke kind staan in vier basiese verhoudinge: teenoor God as die Gewer van sy of haar lewe en as hul Opdraggewer in die lewe teenoor wie hulle deurlopend tot aan die einde van hul lewe verantwoording oor hul doen en late verskuldig is; teenoor die medemens en die samelewing waarin hulle gebore is, grootword en as volwassene funksioneer; teenoor die ganse skepping (in die uitvoering van die kultuuropdrag, Gen. 2:15); en teenoor hulself (versorging van hul eie liggaam, asook bekwaamwording vir 'n werk en roeping as volwassene). Die kind se verhouding met die Here (of wie hy of sy ook al in die plek van die Here stel) gee uit die staanspoor 'n hoë waarde aan die kind, en dit het belangrike implikasies vir hoe 'n mens 'n kind sien. Enige bemoeienis met 'n kind vind in die konteks van verhoudinge plaas; sulke verhoudinge kan bevorderlik sowel as nadelig vir die kind se ontwikkeling wees (De Muynck et al., 2017:26).

5.4 n Religieuse wese

Soos pas genoem, staan die mens in die eerste instansie in 'n verhouding met God, hetsy anastaties (op God gerig) of apostaties (weg van God gerig, op die een of ander plaasvervanger vir die God van die Bybel). Hierdie verhouding is fundamenteel in die lewe van die kind, en ook later as volwassene, en bepaal alle ander verhoudinge: met die medemens en die samelewing, die natuur, die werklikheid, die hele skepping en ook die self. Hierdie verhouding bepaal die hartsgesindheid van die mens. Aangesien 'n baba en 'n klein kind nie in staat is tot 'n besef van hierdie verhouding nie, moet die ouers en ander versorgers hul plig nakom om die kind en sy of haar lewe religieus te rig. Alle handelinge van die mens vloei uit hul hart, dus hul persoonskern of innerlike/diepste wese (Spr. 4:23). In die lig hiervan moet die opvoeding en sorg van die kind ten diepste "hartvorming" wees. Hiermee word daar na die vorming van die persoonskern van die kind verwys.

5.5 n Unieke wese

Elke kind - ook later as volwassene - is uniek-individueel, dus enig in sy of haar soort. Geen twee mense is immers in enige opsig presies identies nie. Om hierdie rede moet elke kind gedurende die verskillende fases van kind wees individuele aandag ontvang, maar tegelyk ook regverdig behandel word. Hoewel 'n kind uniek en enig is, moet hy of sy soos alle ander kinders behandel word - gelyk en regverdig. Daarby is dit ook belangrik om in gedagte te hou dat elke kind 'n unieke agtergrond en geskiedenis het: 'n Kind word meestal in 'n bepaalde gesins- of sosiale konteks groot: Aanvanklik word hy of sy blootgestel aan die sorg en invloede van primêre opvoeders (ouers, versorgers) en later aan sekondêre opvoeders (soos onderwysers). In daardie kontekste het die kind reeds 'n bepaalde lewensbeskoulike rigting ingeslaan; die kind se ontwikkeling is ook reeds in 'n bepaalde rigting gestuur. In sodanige kontekste is bepaalde verwagtinge dus reeds aan die kind gestel, en hy of sy is reeds aan n bepaalde opvoedingstyl (ten aansien van byvoorbeeld dissipline) blootgestel. Die kind is ook van kleinsaf aan ander invloede blootgestel (die kerk, kleuterskool, maatjies) (De Muynck et al., 2017:30).

5.6 'n Wese met unieke gawes, asook verskeie fasette, moontlikhede en potensiaal

Hoewel elke kind uniek is, en in eie reg so gesien en behandel behoort te word, deel elke kind al die modaliteite van mens wees.

Elke kind is dus

• 'n godsdienstige wese: 'n moreel-etiese wese wat reg en verkeerd kan verstaan;

• 'n wese met 'n verlede, hede en toekoms;

• n wese wat in staat is tot simboolvorming en talige kommunikasie, denke, gevoel en persepsie;

• 'n wese wat lewe en funksioneer (eet, drink en slaap, tesame met behoeftes in hierdie verband); 'n wese wat fisiek kan beweeg en funksioneer;

• 'n wese wat ruimte nodig het (om in te slaap, leef, beweeg, leer, speel, en dies meer); en

• 'n wese wat met ander en die omgewing kan omgaan.

Deur opvoeding (vorming) en onderwys (onderrig en leer) moet hierdie potensiaal van die kind optimaal ontwikkel word. Volgens die Skrif is die oorkoepelende doel van die opvoeding en onderwys van die kind dat hy of sy "volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk" (2 Tim. 3:16). By alle kinders wat gesond ontwikkel, bemerk 'n mens 'n sekere mate van selfvertroue, nuuskierigheid en ontvanklikheid (De Muynck et al., 2017:29). 'n Mens bemerk egter ook belemmerende verskynsels by kinders - soos emosionele probleme, 'n gebrek aan welsyn, swak eiewaarde en 'n gebrek aan weerbaarheid - weens die gebrokenheid van mens wees. Ondanks die gebreke en tekortkominge bly die kind wel geneig tot groei, soos die res van die skepping. Juis hierom moet kinders gestimuleer word om hul gawes te beoefen en toe te pas. Hierdie beoefening en toepassing moet egter nie om eie gewin wees nie, maar moet bowenal geskied om hul Skepper daardeur te dien en te eer. Soos die opskrif van hierdie alinea stel, beskik elke kind oor unieke gawes en talente: karaktereienskappe, persoonlikhede, moontlikhede en bekwaamhede, asook verskeie gawes van hoof, hand en hart. Hierdie gawes en talente moet ontwikkel en ook prakties toegepas word.

5.7 'n Ontwikkelende wese (n wese op pad na volwassenheid)

By geboorte staan n kind by die eerste momente van sy of haar lewe, en die ouers of versorgers, soos onderwysers later, behoort die kind tot volwassenheid te lei wanneer die kind skool toe gaan. Die begrip "volwassenheid" het 'n wye omvang. Dit dui in die eerste plek op liggaamlike of fisieke volgroeidheid, dit wil sê op die stadium dat die kind as 'n grootmens beskou kan word. Dit dui egter ook op ander vorme van volwassenheid: die stadium waarop die kind as volwassene sy of haar plek in die lewe kan volstaan, psigiese en geestelike volwassenheid, ekonomiese volwassenheid, eties-morele volwassenheid (met n goeie begrip van goed en kwaad), godsdienstige volwassenheid (in staat om te bely waarin hy of sy as leidende beginsel in hul lewe glo) en juridiese volwassenheid (met 'n goeie begrip van reg en verkeerd). Die pas genoemde fasette verwys egter slegs na enkele fasette van volwassenheid (Santrock, 1998:2524-25; Burkhonov, Arlaev, Abdujalilova & Otaev, 2021:12, 7). Kinders is net soos volwassenes op 'n lewensreis, en God rus hulle op verskillende maniere vir die reis toe. Hetsy die kind (en later as volwassene) dit besef of nie, vind sy of haar lewensreis coram Deo (voor die aangesig van God) plaas. Juis daarom is elke mens (en ook elke kind) verantwoordelik, verantwoordend besig met die reis. Deur opvoeding en onderwys behoort die kind begelei te word om "de leerweg op de goede manier te gaan" (De Muynck et al., 2017:27).

5.8 'n Afhanklike, sorgbehoewende wese

Voordat hulle volwassenheid bereik, weet kinders nie watter intellektuele en ander vereistes en vaardighede hulle gaan benodig om later as volwassenes in die samelewing te kan funksioneer nie. Hulle beskik dus oor geen kennis hieroor nie, of hul opvatting hieroor is swak. Juis hierom is hulle veral aanvanklik sterk aangewese op hul opvoeders se leiding ten opsigte van welke beginsels, opvattings en vaardighede hulle behoort te bemeester ten einde eendag as volwassenes goed in die samelewing te kan inskakel en funksioneer. Opvoeders en versorgers se bemoeienis met die kind staan bekend as sosialisering: 'n proses wat gewoonlik 'n een-tot-een-verhouding tussen opvoeder en kind behels; 'n proses waardeur eersgenoemde taalvaardighede by die kind tuisbring; en 'n begrip van wat eiendom, netheid, vermyding van sekere dinge, samewerking, konvensies, norme en die duisende ander klein vaardighede wat vir 'n sinvolle lewe nodig is by die kind tuisbring (Blackburn, 2009:24).

Deur sodanige deurlopende interaksie met opvoeders soos onderwysers en ouers leer kinders ook wat vrede, vryheid, geregtigheid, fisieke en psigiese vaardighede, wilskrag, deursettingsvermoë, emosionele en morele intelligensie (insluitend morele oordeel en gevoelens) is. Kinders leer gevolglik ook hoe hierdie vaardighede bemeester kan en behoort te word. Kortom, soos Azcona (2021:3) dit stel: Kinders benodig opvoeding in die volste betekenis van die woord - opvoeding as vorming en toerusting en nie blote kennis en die aanleer van vaardighede nie. Blackburn (2009:24) stel tereg dat daar nie eintlik 'n afdoende, mees geskikte manier van opvoed is nie; elke ouerpaar en elke opvoeder ondergaan die folterende proses (agonisingprocess) om die regte manier te vind om kinders te lei en groot te maak. Die beste wat oor hierdie proses gesê kan word, is die volgende: Daar is 'n veelheid van maniere om kinders te sosialiseer - sommige slaag met sommige kinders, terwyl ander maniere of benaderings weer op hul beurt met ander kinders tot welslae lei.

Die onderliggende beginsel hier is dat die bemoeienis met die kind vir hom of haar op 'n persoonlike vlak betekenisvol moet wees. Dít behoort ook te lei tot 'n persoonlike besef van "iemand wees as God-geskapene" - iemand wat na die beeld van God geskape is en wat 'n eie identiteit besit. Alle opvoeding en onderwys, dus ook dit wat Reformatoriese opvoeders en versorgers voorsien, is daarom konteksgevoelig en -afhanklik, gesitueerd. Alle opvoedings-en onderwyshandelinge behoort gevolglik, soos Mayes en De Freitas (2007:17) dit stel, outentiek tot die bepaalde sosiale konteks te wees. Die veronderstelling is dat die sosiale konteks waarbinne die vorming geskied uit n relatief stabiele en standhoudende groep mense bestaan waarbinne n stel beginsels, norme en waardes aangehang en uitgeleef word (Mayes & De Freitas, 2007:19).

5.9 'n Sondige/herstelde wese

Weens die sondeval is elke kind ook onderwerp aan sondegebrokenheid en dus geneig tot die kwaad. Terselfdertyd, so bely die Christen-opvoeder, is die kind ook 'n herstelde en herskape wese in Jesus Christus. Die kind leef in hierdie bedeling: 'n tyd van gebrokenheid, 'n tyd van sondegebrokenheid, maar ook 'n tyd waarin daar in Jesus Christus herstel kan plaasvind (Rom. 7:19). Dit is om hierdie rede dat De Muynck et al. (2017:27) uitlig dat die opvoeder (ouer, onderwyser) weet "dat het niet vanzelfsprekend is dat een [kind] de weg op de goede manier gaat". Die kind is immers nog 'n sondige wese en benodig herskepping; hy of sy moet 'n nuwe geloofsgehoorsaamheid aan die Here bemeester en aan die dag lê.

5.10 n Geroepe wese, iemand met 'n lewensbestemming

Elke mens word gebore as iemand met 'n lewensbestemming, geroep om "iemand te wees" as volwassene, met 'n bepaalde taak. Die mate waartoe die mens in staat is om sy of haar lewensbestemming te bereik en lewensideale te verwesenlik, hang van baie faktore af. Dit sluit onder meer die volgende in: die persoon se roepingsbesef, die bereidheid om 'n bepaalde roeping te volg, allerlei persoonlike en materiële omstandighede, asook die ingebore potensiaal en bereidheid om te leer en te ontwikkel. Elke mens (aanvanklik as kind en later as volwassene) het ook tot 'n wisselende mate 'n besef van verantwoordelikheid: letterlik 'n besef van "antwoordgewing" op sy of haar lewensroeping, wat ook die mens se kultuuropdrag insluit (Gen. 2:15; vergelyk ook Santrock, 1998:24-25).

5.11 'n Sosiale wese

Geen kind is ooit n eiland op sigself nie; hy of sy is van die eerste dag af blootgestel aan allerlei sosiale invloede, waarvan die sosiale media deesdae n groot komponent uitmaak (De Muynck et al., 2017:30). Elke kind word in n bepaalde maatskaplike konteks gebore en grootgemaak. Dit is hierdie konteks wat onder meer bepaal hoe die kind grootgemaak en opgevoed moet word sodat hy of sy eendag as volwassene n aanvaarbare en betekenisvolle plek in die samelewing kan inneem en daarin kan funksioneer. Elke samelewing het n eie opvatting oor wat volwassenheid en goed funksionerende mens wees beteken, en kinders word binne die raamwerk van daardie opvatting grootgemaak (Azcona, 2021:1)

5.12 'n Moreel-etiese wese

n Baba word sonder moreel-etiese beginsels en norme gebore, en dit verg opvoeding (as sorgsame leiding en toerusting) om die gangbare moreel-etiese norme en beginsels by n kind tuis te bring. Hierdie proses vorm, aldus Miedema (2016:3, 11), deel van die godsdienstig-lewensbeskoulike vorming van die kind en in n Christelike huis binne die raamwerk van n vertrouens- en verbondsverhouding. In so 'n konteks put die opvoeders hul oriëntasie en inspirasie uit die Heilige Skrif en word alles binne die raamwerk van God se bemoeienis met die mens en die hele skepping geplaas. Die kind is as mens geskape met 'n ingebore sin vir die moreel-etiese. Die Skrif gebruik die woord "hart" vir hierdie ingebore sin, vir die innerlike wese van die mens (Spr. 4:23; Spr. 16:13;2; Kron. 12:14; Neh. 4:6; 1 Kon. 3:12). Morele besluite vind in die hart van die mens plaas (Gen. 20:5; Job 11:13). Die hart is dus die setel of die verwysingspunt van 'n mens as wilswese wat ook denkend is en persipieer. In sommige gevalle, aldus Towner (2015), word die woord "siel" in die Skrif gebruik vir die innerlike persoon, die diepste wese van die mens. Die "siel" speel die sentrale rol by die maak van keuses (Deut. 18:6; Pred. 7:28).

In die volgende afdeling word kortliks uiteengesit hoe en tot welke mate tekens van die kindbeskouing wat in hierdie afdeling geskets is in die onderwysregsopset aangetref word.

6. Die mate waarin spore van die uiteengesette Reformatoriese antropologie hier bo in die huidige internasionale en Suid-Afrikaanse reg en regspleging (-jurisprudensie) gevind kan word

Suid-Afrika het die Verenigde Nasies se Konvensie (UN, 1989) in 1993 onderteken en vervolgens op 16 Junie 1995 geratifiseer. Hierdie gebeurtenis het n bepalende invloed gehad op die formulering van artikel 28 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (SA, 1996a), asook op die bewoording van die latere artikel 18 van die 2005-Kinderwet (SA, 2005). In die opvolgende gedeelte van hierdie artikel word die inhoud van hierdie bepalings teen die agtergrond van die voorafgaande prinsipiële gedeelte van die artikel bespreek. Aangesien die sistematiek van 'n Reformatoriese antropologie van dié van die reg verskil, kan die aanbieding hierna nie kongruent wees aan die prinsipiële uiteensetting hier bo nie. Dieselfde problematiek aangaande hoe die kind gesien behoort te word, kom egter aan die orde, dog onder regstipiese opskrifte.

6.1 Die kind as synde sorgbehoewend

Reeds in die aanloop tot internasionale instrumente, soos die bogenoemde Konvensie (UN, 1989), word 'n verandering rakende die sorgbehoewendheid van die kind bemerk. In die voorrede van die Verenigde Nasies se Declaration of the rights of the child (UN, 1959) word die afhanklikheid van die kind beklemtoon. In beginsel 7 van dié dokument word die belange van die kind pertinent benadruk.2

6.2 Die groei van die kind as ontwikkelende wese onderweg na volwassenheid

In ooreenstemming met die bepalings van die Convention on the rights of the child (UN, 1989) en die Oorkonde van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE, 1999) beklemtoon die Suid-Afrikaanse Grondwet (SA, 1996a) die belangrikheid van kinderontwikkeling. In artikel 6 en 7 van die daaropvolgende Kinderwet (SA, 2005) word daar uitdruklik na die beste belange van die kind verwys as een van die rigtinggewende oorwegings vir die kind se ontwikkeling. In artikel 28 van die Grondwet, waar die regte van die kind gestipuleer word, word die beste belange van die kind in subartikel (2) verhef tot 'n "deurslaggewende oorweging in elke aangeleentheid wat die kind raak" (SA, 1996a). In die hofsaak Minister of Education v Harris (2000) bevind die regter byvoorbeeld dat die gestelde ouderdomsvereiste vir die toelating van die betrokke kind tot graad een in die betrokke geval ongeldig was. Die rede wat hy hiervoor aanvoer, is omdat dit die ontwikkeling van die leerder sou benadeel.

6.3 Die kind enig/uniek in sy of haar geskapenheid

In ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Konvensie (UN, 1989) as internasionale riglyn insake die kind en sy of haar belange lê Suid-Afrikaanse wetgewing ook klem op die unieke geskapenheid van die kind binne die diversiteit van menslike bestaan. Nie alleen het die kind kragtens artikel 8 van die Konvensie (UN, 1989) die reg om binne sy of haar diversiteit eerbiedig te word nie, maar ook om dit te kan uitleef.

Op grond van 'n kind se eiesoortige (unieke) fisieke en kognitiewe talente asook vaardighede het hy of sy kragtens artikel 29(a) van die Konvensie (UN, 1989) byvoorbeeld die reg om die geleentheid gegun te ord dit ten volle uit te leef en te laat ontwikkel.3

6.4 Geregtig op godsdiensvryheid

Die internasionaal erkende Amerikaanse regskrywer Witte (1993:1) stel dat godsdiensvryheid wêreldwyd aanvaar word as die hoogste vryheid (first liberty) wat in enige fundamenteel-regtelike bedeling beskerm moet word. Na sy mening is godsdiensvryheid die "most inalienable and sacred of all rights" (Witte, 1993:1). In ooreenstemming met hierdie siening laat artikel 15 van die Suid-Afrikaanse Grondwet ruimte aan elke burger om hul geloof, gewete, gedagtes en mening ten volle uit te leef. Binne hierdie ruimte kan ook die kind geloofsvryheid geniet (SA, 1996a). Voorts bepaal die Suid-Afrikaanse Skolewet (SA, 1996(b)) dat leerders ook in skoolverband hul geloofsvryheid tydens godsdiensbeoefening kan uitleef. In die Gautengse Hoërhofsaak Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie v Laerskool Randhart and others (2017) is die beginsel gehandhaaf dat skole gereelde godsdiensoefeninge mag hou. Die gewysigde Skolewet (SA, 1996b) klaar dié kwessie ook finaal op.4

6.5 Geneigdheid tot die kwaad

Die mens is weens sy geneigdheid tot optrede in ooreenstemming met sy vleeslike (sondige) natuur steeds tot die verkeerde geneig. Juis hierom is die formulering van regulatoriese riglyne 'n noodwendigheid vir die ordelik-harmoniese funksionering van die samelewing. Dit geld ook in die geval van die opgroeiende jeug.

Artikel 8 van die Skolewet (1996(b)) bepaal dat die beheerliggaam van elke skool 'n gedragskode vir leerders moet opstel. In die gedragskode moet daar onderskei word tussen twee vorme van verkeerde gedrag: wangedrag en ernstige wangedrag. Ernstige vorme van wangedrag behels gedrag wat die leerder aan moontlike skorsing en/of finale uitsetting uit die skool blootstel. Aanvullend tot die bepalings van die Suid-Afrikaanse Skolewet is die Riglyn vir beheerliggame vir die opstel van gedragskodes in 1998 (SA, 1998) gepubliseer ten einde orde en dissipline in die skool te kan verseker.

In die inleiding tot dié Riglyn word die doel vir die formulering van skoolreëls uiteengesit. Eerstens het hierdie formulering ten doel om 'n gedissiplineerde en doelgerigte omgewing te skep waarbinne effektiewe onderrig en leer kan gedy. In die res van die inleiding kom die sterk opvoedende ondertoon van die dokument se toekomsgerigtheid soos volg na vore: Die skoolreëls het ten doel om leerders in te lig oor hoe om hulle in hul skool te gedra ten einde hulle vir aanvaarbare gedragspatrone in hul toekomstige burgerlike en openbare lewens voor te berei. Dit het ook ten doel om die leerder met kundigheid, kennis en vaardighede ter voorbereiding van waardige burgerskap toe te rus.

Op grond van bovermelde siening word ook aangetoon dat korrektiewe optrede 'n positiewe, opbouende benadering eerder as 'n strafgerigte benadering - tot die leerder - behoort te wees. Die nadruk in die Riglyn-dokument val duidelik op die aanleer van selfdissipline en op 'n voorbeeldige gedragspatroon.

Die algemene proses van die afwenteling van gesag en optrede, soos in die Child Justice Act (SA, 2008) voorgeskryf, maak voorsiening vir die hantering van jeugdiges wat hulle aan kriminele oortredings skuldig gemaak het. Die hantering van sulke gevalle word gewoonlik deur die howe na n sosiale werker of gepaste sielkundige afgewentel in n poging om die jeugdige oortreder te rehabiliteer. Die doelstellings van hierdie wet word soos volg in artikel 51 uiteengesit:

• Die oorhoofse benadering tot afwenteling is deel van 'n regstellende proses.

• Hoewel die jeugdige aanspreeklik vir sy of haar kriminele oortreding gehou word, geskied die vervolging buite die formele, algemeen-gebruiklike krim-inele regsprosesse.

• Die betrokke jeugdige bly aanspreeklik vir die skade wat hy of sy berokken het.

• Die ideaal is dat die jeugdige rehabiliteer ten einde weer in die familie asook die skool- en algemene gemeenskap opgeneem te kan word.

• 'n Geleentheid word aan die slagoffer gegee om die skade wat hy of sy gely het met die oortreder te bespreek en om sy of haar siening daaroor bloot te lê.5

6.6 Die sosialisering en verhoudingsbegronding van die jongmens

Ingevolge die Suid-Afrikaanse gemenereg word die gesin beskou as die basiese sosiale eenheid wat gewoonlik uit die man, vrou en hul kinders bestaan (Hosten, Edwards, Nathan & Bosman, 1979:315). In die gesin vind 'n mens dan ook die grondslag vir die ontstaan en ontwikkeling van interpersoonlike verhoudings. Die waarde van meer uitgebreide familiebande en die meegaande verhoudingsbelewenisse is deur regter O'Regan in haar grondwetlike hofuitspraak Dawood and another v Minister of Home Affairs and others (2000) soos volg gestel: Dit is "an opportunity to achieve personal fulfilment in an aspect of life that is of central significance". Hierdie benadering is ook te vind in die Convention on the rights of the child (UN, 1989) waarvolgens die ouerhuis 'n sleutelrol in die opvoedende vormingsfunksie van die gesin speel. Die opvoeding van 'n kind kan optimaal gedy in die beskermende omgewing van die ouerhuis. In die Dawood-saak is daar ook na die fundamentele reg van menswaardigheid verwys as die grondslag vir menslike verhoudingsvorming.

6.7 Uniekheid van die kind

Volgens artikel 12-16 van die Convention on the rights of the child (UN, 1989) moet nasionale state ruimte laat vir die kind om ongehinderd as 'n unieke geskapene te kan ontwikkel. Ingevolge die besluite wat deur die state se verteenwoordigers geneem is, behoort die betrokke staatspartye toe te sien dat die kinders, sonder inperking, die volgende regte moet kan geniet:

• Dié wat die vermoë het om 'n eie mening oor aangeleenthede te vorm, moet toegelaat word om hul sieninge vryelik te lug in aangeleenthede wat hul eie belange raak, insluitend ten aansien van regs- en/of administratiewe aangeleenthede.

• Kinders moet vryheid van spraak geniet, insluitend die reg om ondersoek in te stel, inligting in te win en dit dan vry te stel, beide mondeling en skriftelik, of in enige ander medium van keuse.

• Kinders moet vryheid van assosiasie geniet, insluitend die vryheid om vreedsame byeenkomste te mag bywoon.

• Kinders moet die reg op vryheid van gedagte, gewete en geloof hê.

Wat die kind se vryheid van geloof betref, kan daar na die Transvaalse Hoërhof se bevinding in die saak van Kotze v Kotze (2003) verwys word. Dié hof het beveel dat die betrokke egskeidingsooreenkoms so gewysig moes word dat die kind die reg sal hê om (later) vryelik te kan besluit watter geloof hy of sy wil aanhang.

Elke kind is ook uniek wat sy of haar talente, aanleg, asook kognitiewe gawes en vaardighede betref. Artikel 28 van die vermelde Konvensie (UN, 1989) handel oor die identifisering en ontwikkeling van die diversiteit van kinders se aanleg, soos in hul unieke gawes, kognitiewe en/of fisieke vaardighede en talente vergestalt. In artikel 28 word die volgende beroep derhalwe op lidlande van die Verenigde Nasies gedoen: Daar moet toegesien word dat daar veral in sekondêre skole verskeie opvoedingsgeleenthede beskikbaar sal wees om aan dié diverse behoeftes van leerders te kan voorsien. Hierdie artikel verwys na algemene en beroepsgerigte onderwys as 'n moontlike wyse om in hierdie behoefte te voorsien.

7. Gevolgtrekking

In die voorafgaande oorsig en bespreking het twee normaalweg wyd uiteenlopende dissiplines soos twee riviere in mekaar ingestroom. Die eerste deel van die artikel het voortgevloei uit die filosofiese kinderantropologie en is vanuit 'n Reformatoriese strekking en inslag benader. Sowel opvoedkundiges as regsgeleerdes is oor die algemeen met 'n generiese kindbeskouing vertroud - een wat as algemeen-geldig vir alle kinders beskou kan word, afgesien van lewensbeskoulike rigting en inslag. In hierdie lig is besluit om vir die doeleindes van hierdie artikel op 'n Reformatoriese siening te konsentreer, wat enersyds meer beperk as die algemene (sekulêre) is. Andersyds is hierdie siening tog ook meer vas en omlyn omdat dit in 'n bepaalde lewensopvatting (die Reformatoriese) gefundeer is. Hierdie manier van doen het gelei tot waarna as "'n Reformatoriese kindbeskouing of siening van kind wees" verwys is.

Die insigte voortvloeiend uit die Reformatoriese kindbeskouing wat na vore gekom het, het in die tweede fase van die ondersoek gedien as agtergrond waarteen die internasionale en Suid-Afrikaanse reg en jurisprudensie ondersoek kon word. Dit is gedoen met die doel om vas te stel tot welke mate die kinderantropologiese perspektiewe van die eerste gedeelte van die artikel daarin erken word en of dit die nodige bestaansruimte ontvang.

Die volgende tabel toon tot welke mate die beginsels van die Reformatoriese kindbeskouing, wat in afdeling 5 uiteengesit is, ook in die bespreking van die relevante regspleging in afdeling 6 na vore kom. Laasgenoemde word wel in regstegniese vorm en formulering gedoen:

Die eerste wat tydens die ondersoek opgeval het, was dat die reg sy eie sistematiek volg en dat sy kategorieë gevolglik nie een vir een met die opskrifte van 'n filosofiese kinderantropologie klop nie. Dit dek wel dieselfde terrein (vraagstukke). Wat ten tweede opvallend was, was dat daar tog gemeenskaplike perspektiewe na vore gekom het, hoewel die invalshoeke van die twee dissiplines geheel en al verskil. Hiermee saam was dit ook opvallend dat standpunte en riglyne met mekaar ooreenstem. Die derde wat opgeval het, en daarmee word dan ook 'n antwoord op die navorsingsvraag gebied, is die volgende: In die breë gestel, vind die hoofperspektiewe van 'n Reformatoriese kinderantropologie (soos in hierdie artikel uitgespel) weerklank in internasionale en nasionale regsinstrumente. Hoewel die positiewe internasionale en Suid-Afrikaanse reg nie vanuit die een of ander religieuse of lewensbeskoulike perspektief oor die kind en sy of haar regte handel nie, laat dit wel ruimte vir 'n Reformatoriese siening van die kind. Die regspleging bepaal byvoorbeeld dat die kind geregtig is op die vryheid om sy of haar godsdienstige oriëntasie uit te leef. Hierdie bepaling skep die ruimte vir die kinders van Reformatoriese ouers om hul Christelike lewens- en wêreldbeskouing uit te leef. Op dieselfde manier skep die reg se erkenning van die sorgbehoewendheid van die kind ruimte vir 'n Reformatoriese siening oor die kind se afhanklikheid en behoefte aan sorg. Sodanige ruimteskepping deur die reg en regspleging geld ook vir die ander Reformatoriese perspektiewe op die kind. Gevolglik is die implikasie dat die regsbestel tans op hierdie manier nog ruimte vir die Reformatoriese (en derhalwe ook ander) kindbeskouinge skep.

In hierdie lig gesien, kan die Reformatoriese opvoeder (ouer, onderwyser, versorger) in die huidige tydsgewrig nog tevrede wees met die bestaande onderwyswetgewing en die breë regsomgewing waarin hulle in Suid-Afrika leef en werk. Daar is, sover vasgestel kon word, niks pertinent in die regspleging aangaande kinders wat die Reformatoriese opvoeder hoef te ontstel nie, mits die bestaande regsriglyne nagekom en uitgevoer word.

Tydens die skryf van hierdie artikel was daar wel 'n ontwikkeling in onderwyswetgewing wat weens die aard daarvan onrus in die gemoed van Reformatoriese opvoeders, veral dié van skoolgaande kinders, kan skep. Op 6 Desember 2021 is die Wysigingswet vir Basiese Onderwys ter tafel gelê ingevolge waarvan ouerseggenskap in die formele onderwys van hul kinders, soos in openbare skole aangebied, aansienlik verminder sou word. Op 13 September 2024 is hierdie voorstelle, in die omgang bekend as die BELA-wetsontwerp (Basic Education Laws Amendment Act) (SA, 2021), deur die president van Suid-Afrika tot wet 32 van 2024 verklaar. Die president het egter nie die twee klousules wat met die taal- en toelatingsbeleid van openbare skole te make het onderteken nie. Aan sodanige verskynsels sal daar in die toekoms wel aandag geskenk moet word.

8. Slotopmerking

Hierdie artikel is die resultaat van 'n ongewone en interessante samevloeiing van twee dissiplines wat in die normale gang van sake nie juis met mekaar te make het nie. (Aan die meeste hoëronderwysinstansies word hierdie sake selfs in twee of meer afsonderlike fakulteite - soos die opvoedkunde, regte en geesteswetenskappe - gehuisves.) Die filosofies-Reformatoriese kinderantropologie het 'n prinsipiële grondslag en rigtingwysers verskaf vir die daaropvolgende (onderwys)regtelike en jurisprudensiële ondersoek. Laasgenoemde het getoon dat Reformatoriese opvoeders in die huidige tydsgewrig rustig en tevrede kan wees oor hoe die (onderwys)reg en regspleging in Suid-Afrika ten opsigte van die belange van kinders behartig word.

Bronverwysings

References

  • Allerton, C. 2020/2023. Childhood. (In Stein, F., ed. The open encyclopedia of anthropology. http://doi.org/10.29164/20child.
    » http://doi.org/10.29164/20child.)
  • )
    » https://doi.org/10.20935/AL2302
  • Blackburn, S. 2009. What do we really know? London: Quercus.
  • Bluebond-Langner, M. & Korbin, J.E. 2007. Challenges and opportunities in the anthropology of childhoods: An introduction to "children, childhoods, and childhood studies". American anthropologist, 109(2). https://doi.org/10.1525/aa2007.109.2.241.
    » https://doi.org/10.1525/aa2007.109.2.241
  • Burkhonov, A., Arlaev, O., Abdujalilova, S. & Otaev, A. 2021. Responsibility as a criterion for determining personal maturity. E35 Web of conferences 244, 11059. https://doi.org/10.1051/e3sconf/202124411059.
    » https://doi.org/10.1051/e3sconf/202124411059
  • Dawood and another v Minister of Home Affairs and others. 2000(1). SA 997 (C).
  • De Jong, N. 2003. Education in the truth. Phillipsburg: P&R Publishing.
  • De Muynck, A., Vermeulen, H. & Kunz, B. 2017. Essenties van Christelijk leraarschap: Een kleine onderwijspedagogiek. Gouda: De Driestar Educatief.
  • Halonen, J.S. & Santrock, J.W. 1996. Psychology: Contexts of behavior. Boston: McGraw Hill.
  • Hosten, W.J., Edwards, A.B., Nathan, C. & Bosman, F. 1979. Inleiding tot die Suid-Afrikaanse reg en regsleer. Durban: Butterworths.
  • Kotze v Kotze. 2003(3). SA 628 (T).
  • Le Cordeur, M. 2024. Joshlin is almal se baby. Beeld, 13, 19 Maart.
  • Mayes, T. & De Freitas, S. 2007. Learning and e-learning. (In Beetham H. & Sharpe, R., eds. Rethinking pedagogy for a digital age. London: Routledge. pp. 11-24.
  • )
    » https://www.google.com/search?q=philippe+aries+centuries+of+childhood& oq=P& gs lcrp=EgZjaHJvbWUqDwgAECMYJxjjAhiABBiKBTIPCAAQIxgnGOMCGIAEGIoFMgwIAR AuGCcYgAQYigUyBggCEEUYOTINCAMQABiDARixAxiABDIGCAQQRRg9MgYIBRBFGDwyBggGEEUYPDIGCAcQRRhB0gE INjY2MWowajeoAgCwAgA& sourceid=chrome& ie=UTF-8
  • Miedema, S. 2016. De spanningsvolle en potentieel complementaire relatie van pedagogiek en theologie. Lezing voor het Netwerk Pedagogie, Teologie en Onderwys. Gouda: Driestar Educatief.
  • Minister of Education v Harris. 2000. SA 1297 (CC). (Case 30218/2000) T 14, 48.
    » https://doi.org/10.4102/koers.v73i2.160
  • Montgomery, H. 2022. Anthropology of childhood: Oxford Bibliographies. Oxfordbibliographies.com/display/document/obo-9780199791231/obo-9780199791231-002.xml Date of access: 16 November 2023.
    » Oxfordbibliographies.com/display/document/obo-9780199791231/obo-9780199791231-002
  • Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie v Laerskool Randhart and others. 2017(3). All SA 943 (GJ).
  • Organisation of African Unity (OAU). 1999. African charter on the rights and welfare of the child. Addis Ababa: s.n.
  • Piaget, J. 1964. Part 1: Cognitive development in children: Piaget development and learning. Journal of research in science teaching, 2(3):176-186. https://doi.org/10.1002/tea.3660020306
    » https://doi.org/10.1002/tea.3660020306
  • Santrock, J.W. 1998. Adolescence. Boston: McGraw Hill.
  • South Africa (SA). 1998. Guidelines for the consideration of governing bodies in adopting a code of conduct for learners. (Notice 776). Government Gazette, 395:18900, 15 May.
  • South Africa (SA). 2005. Children's Act. Pretoria: Government Printing Works.
  • Suid-Afrika (SA). 1996a. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Pretoria: Staatsdrukker.
  • Suid-Afrika (SA). 1996b. Suid-Afrikaanse Skolewet. Pretoria: Staatsdrukker.
  • Towner, P.H. 2015. Mind/reason. www.biblestudytools.com/dictionaries/bakers-evangelical-dictionary/mind-reason.html Date of access: 16 June 2015.
    » www.biblestudytools.com/dictionaries/bakers-evangelical-dictionary/mind-reason.html
  • United Nations (UN). 1959. Declaration of the rights of the child. New York: United Nations Organisation.
  • United Nations (UN). 1989. Convention on the rights of the child. New York: United Nations Organisation.
  • Venter, F. 1990. Regsnavorsing: Metode en publikasie. Kaapstad: Juta & Kie.
  • Witte, J. 1993. The South African experience in religious human rights - what can be learned from the American experience? Journal for juridical science, 18(1):1-27.

Correspondence:

DATES: Published: 13 December 2024

1 Hierdie punt is onlangs onderstreep deur die verdwyning en die vermoedelike verkoop van die sesjarige Joshlin Smith in Saldanha aan die Suid-Afrikaanse Weskus. Le Cordeur (2024:13) meld tereg dat dit moeilik is om korrekte statistiek oor kinderverdwynings in Suid-Afrika te bekom aangesien baie gevalle nooit aangemeld word nie. Na raming word daar in die afgelope 16 jaar ongeveer 1 000 kinders per jaar as vermis aangegee; van hierdie 16 000 is 4 000 nog nie weer gevind nie.
2 "... the child, by reason of his physical and mental immaturity, needs special safeguards and care, including appropriate legal protection, before as well as after birth ..." (UN, 1959).
"[-] ... mankind owes to the child the best it has to give ..." (UN, 1959).
"[- ] Principle 7: "... The best interests of the child shall be the guiding principle of those responsible for his education and guidance ..." (UN, 1959).
3 Artikel 8: "State Parties undertake to respect the right of the child to preserve his or her identity, including nationality, name and family relations as recognised by law without unlawful interference." (SA, 1996b)
Artikel 29(1a): "State parties agree that the education of the child shall be directed to the development of the child's personality, talents, and mental and physical abilities to their fullest potential." (SA, 1996b)
4 Artikel 7: "Subject to the Constitution and any applicable provincial law, religious observances may be conducted at a public school under rules issued by the governing body if such observances are conducted on an equitable basis and attendance to them by learners and members of staff is free and voluntary." (SA, 1996b)
5 In die praktyk blyk dit dat dit die ideaal is om versoening tussen die oortreder en die slagoffer te bewerkstellig.
Rolverdeling
Prof Oosthuizen het die artikel gekonsipieer, en het die deel wat oor die onderwysreg handel, geskryf. Prof Van der Walt het die argument gestruktureer, en die prinsipiele deel oor die reformatoriese kindbeskouing geskryf.

Correspondence

hannesv290@gmail.com

Publication Dates

  • Publication in this collection
    05 Feb 2025
  • Date of issue
location_on
Scriber Editorial Systems Scriber Editorial Systems, 67 Sanglen 365 Glenwood Road, Faerie Glen, Pretoria, Gauteng, ZA, 0081, Tel: +27 83 973 0443 - E-mail: support@koers.co.za
rss_feed Stay informed of issues for this journal through your RSS reader
Go to top