Abstract
Hierdie artikel is 'n verdere skakel in 'n reeks studies en publikasies uit die penne (rekenaars) van Suid-Afrikaanse reformatoriese opvoedkundiges wat verband hou met die sogenaamde -ismes wat hulle beskou het as bedreiginge vir die Christelike (Bybelse) siening oor opvoeding (insluitend onderwys in die sin van onderrig en leer). In hierdie deel van die artikel word eerstens 'n kort oorsig gegee oor hoe die reformatoriese opvoedkundiges tot dusver te werk gegaan het om die "-ismes" wat hulle beskou het as bedreigings vir, of as uitdagings aan die Christelike opvoeding en onderwys, aan die kaak te stel. Dit word gevolg deur 'n poging om die begrip "neoliberalisme" te omskryf en te stel wat dit breedweg impliseer, veral in 'n opvoedkundige konteks. Hierdie deel van die artikel berei die weg voor vir 'n kritiese ontleding van neoliberalisme as 'n "opvoedingsfilosofie" en van sy transendentale voorwaardes in die tweede deel van die artikel.
Kernbegrippe; liberalisme; neoliberalisme; opvoeding; onderwys; Christelike opvoeding en onderwys; onderrig en leer; filosofiese uitgangspunte; transendentale grondslae