Abstract
'n Etiese raamwerk met die oog op die hantering van ouer gemeenskappe is meestal nie beskikbaar in ontwikkelende lande nie. Hierdie artikel bied 'n etiek-raamwerk vir openbare gesondheid wat gebruik kan word om ouerpersone-gemeenskappe en hul gepaardgaande broosheid te hanteer. Vir die ontwerp van hierdie raamwerk is 'n gemengdemetode-benadering gebruik. 'n Hoofkomponentanalise is aangewend om die inhoud van die inligting op te som. Die gedraaide komponentmatriks het nege faktore geïdentifiseer wat op die uitkoms van die opname/dataversameling gebaseer is. 'n Vyfpunt-Likertskaal is gebruik om stellings wat op die sorg van ouer persone betrekking het, te takseer. Die taksering van die genoemde stellings het bevestig dat sosiale faktore 'n invloed op die gesondheid van ouer persone uitoefen. Voorts het die taksering van die sodanige stellings ook die owerheid en ondersteuningstelsels se rol in ouer persone se versorging beklemtoon. Die voor die hand liggende skakel tussen sosiale faktore en etiek was opmerklik, asook die feit dat sosiale faktore tot etiese uitdagings bygedra het. Daar is verder bevestig dat 'n etiese raamwerk tot die gesondheid van ouer persone en hul versorging kan bydra.
Sleutelwoorde; etiese uitdagings; geriatriese gemeenskap; gesondheidsorg; ouer persone; sosiale faktore

