Abstract
Die oorgang na hoër onderwys is 'n uitdagende proses vir baie studente. Studente is dikwels (onder andere) akademies ondervoorbereid. Hierdie onvoorbereidheid beïnvloed die studente se daaropvolgende akademiese prestasie, en ook uiteindelike algehele studentesukses. Dit is egter bewys dat suksesvolle studente-oorgang na hoër onderwys die grondslag vir sukses op universiteit kan lê. 'n Oorgangsprogram (Step-Up) is voor die aanvang van die eerste semester aan BCom studente aangebied om hulle sodoende beter voor te berei vir universiteit, asook om te help met die oorgang na hoër onderwys. Die oorsaaklike-vergelykende navorsingsontwerp wat aangeneem is, het getoon dat studente wat die oorgangsprogram bygewoon het, deurlopend akademies beter presteer het as diegene wat dit nie bygewoon het nie. Oorgangsprogramme kan 'n waardevolle vorm van vroeë akademiese intervensie wees wat aangewend kan en behoort te word om studentesukses te kweek en studente verder in staat te stel om meer voorbereid vir hoër onderwys te voel.
Eerstejaarstudente; oorgangsprogram; vroeë akademiese intervensie; oorsaaklike-vergelykende navorsingsontwerp; akademiese prestasie