Sinsoekers: Tussen twyfel en troos
M. Laubscher
Deparment of Practical and Missional Theology, University of the Free State, South Africa. E-mail: https://orcid.org/0000-0002-4240-1991
Cilliers, J. (Aucklandpark: UJ Pers, 2023), pp. 203, ISBN: 978-1-7764827-6-4
Johan Cilliers bly voorwaar spelend in die soeke na sin. Enige een wat 'n bietjie van sy werk ken, sou dalk gedink het sy trilogie op genade in 2020 was nou mooi voltooid en afgerond met die verskyning van Grace upon grace. Reflections on the meaning of life, of soos dit ook in Afrikaans kort daarna verskyn het, Solank ek hier is. Oor die soeke na sin. Cilliers het immers 'n geskiedenis met trilogieë wat ontluik in sy oeuvre (sien Die uitwissing van God op die kansel en Die genade van gehoorsaamheid), en daarom, gesien binne die groter prentjie, was 'n derde aflewering dalk ná die boeke oor ruimte en tyd te verwagte.
Só gesien, dink ek, gaan egter teen die grein in van wat hy probeer sê en doen in sy werk. Van meet af in die 2020-teks benadruk hy die verrassende opdaag van hierdie teks wat as 't ware homself kom skryf het. Uit die niet het die boek gekom as 'n groot en aangename verrassing. Die tyd en ruimte vir "nog" 'n (ander soort van) 'n boek oor genade - kort ná sy aftrede einde 2019 wat voorafgegaan was met die verskynings van Timing grace. Reflections on the temporality of preaching (2019) en Space for grace. Towards the aesthetics of preaching (2016), en daarna weer ingelei begin 2020 met die uitbreek van die COVID-19 pandemie - was ryp om te gebeur. En nou, die wonder, terugskouend, blyk die eintlike groot verrassing was toe nie soseer die opdaag van die boek nie, maar juis dat dit veel eerder nie as iets voltooid en afgerond na vore getree het nie.
Uitgepraat en klaar geskryf oor genade tot op 'n punt, bestaan daar nie. Punt. Natuurlik kom genade by 'n punt, maar sonder om self 'n gevange daarvan te word. Daarom is ons nóg klaar gepraat of uitgeskryf - afgestomp en afgeleef - oor wat genade se tyd en ruimte telkens vir ons moontlik maak. Die punt is, veel eerder, lyk dit vir my, dat genade nie sommer 'n punt het nie ... en as dit een het, dan word dit so deurleef dat dit allermins ontaard in iets wat stol.
Só kry ek sy punt en maak ek my punt: Nóg bepunt, nóg uitgeput. Anders gestel, dit is wonderlik as 'n boek opdaag en homself kom skryf, maar soveel te meer nog as dit aanhou sin (ook as skoor) soek en bly peuter daar waar dit jeuk (en nie jeuk nie) tussen twyfel en troos wat ons omgewe. Hier het ons te make met een van daardie "teenstrydighede" waarna hy so tussen die lyne verwys, naamlik 'n ander soort van "derde wiel aan die wa" waarmee ons kan "dwaal" soos ons koers hou, en sommer padlangs praat deur dit nie volledig byster te raak nie, "alwetende" voor in die wapad brand 'n lig, en die gesprek is nog ver van klaar.
Cilliers bly dus net so aanhou speel dat enige geprogrammeerde drieërlei plannetjie van "genade op genade" ook maar weer moet sneuwel in die graf/ gat wat dit grou. Genade ken eenvoudig nie van manipulasie nie, want dit is nie 'n som of skema waarmee ons alles en almal kan bereken nie. Sy "slotsom" aan die einde van die boek is dus nóg slot, nóg som, maar soos hy dit stel, veel eerder "die kuns van sin-skepping". Nes 'n mens nie 'n goeie boek sommer kan neersit nie, of toeslaan nie, kry 'n mens hier die indruk by hom dat jy dit nog minder sommer kan/moet klaar skryf (sien maar net die twee voorwoorde). Solank ek hier is, is dit nie 'n klaar geskryfde lewe nie. Soos 'n goeie homileet en prediker, weet hy maar alte goed, ons preke en teologie is nooit só klaar en afgerond dat dit noodwendig "dié einde" kan wees nie. En net om dit nog verder te onderstreep: Intussen, weke gelede, het sy The beautiful chaos of being. Reflections on life, aesthetics, and practical theology ook verskyn. Kortom, vir die skilder in hierdie woordkunstenaar, bly die doek oop in die sinsoeke na nuwe betekenis waarmee die lewe opnuut verbeel(d)/bes^ryf kan word. Soos hy self onderweg is en dit dikwels aanvoel en aanvoer: minder "toe-stand", meer "toe-koms" (adventus).
Wat hierdie boek regtig besonders en anders maak soos dit bly voortborduur en speel met bekende lyne in sy werk, is hoe oop hy as mens in die boek na vore tree. Hy werk nie net met die oop boek en doek nie, maar word dit ook. Hierdie werk onderskei dit van ander werke deur heelwat meer outobiografie te bevat as in vorige werke. Die "ken-merke" van preke en skilderye deur die teks is soos gewoonlik weer daar, maar die keer word dit ook vergesel met van sy gedigte, dagboekinskrywings vanuit verskillende fases en gebeure in sy lewe, asook die soomlose invoeging van ander preke en meditasies vanuit sy vroeëre oeuvre in die prakties-teologiese nadenke waarmee hy hier en nou besig is. Dit klink dalk nou "prekerig" en "preachy", maar in werklikheid is dit allermins die geval. Of, dit is, maar van 'n ander orde ("next level"). Dit is soomloos verweef en beliggaam dat dit lees as een groter werklikheid waarmee ons deurgaans te make het. Allerlei fragmente word die heeltyd opgediep, herrangskik, herskryf en weer beskryf, en dan só verweef om as 'n vloeiende en voortgaande verhaal na vore te tree waarin die grense en skeidsmure rondom al ons kastele (tussen akademie of kerk; liturgie of lewe; of teorie of praktyk) vervaag.
Aan die begin is daar reeds groot gewag gemaak van hoe speels daar met triades en drie-delings in die teks mee omgegaan word. Vervolgens sou 'n mens maklik aan die hand van 'n tweede blik op die inhoudsopgawe die (verkeerde) indruk kon skep van daar is (immers en heel gepas net) drie kernbegrippe waarmee Sinsoekers: Tussen twyfel en troos opgesom kan word, naamlik: verlange, vervulling, en vertroosting. Elkeen van hierdie drie hoofstukke is uiteraard belangrik, maar sonder die "interspel" (as die vierde belangrike sleutelbegrip - en wat goedskiks ook vertaal kan word met peuter of speel) kom min van die "drie-enigheid" in die spel/gespeel na vore. Daarom is die raam van die inleiding en "slotsom" in die teks so belangrik, want alhoewel daar iets selfstandig (enig) is aan elk van die drie vorme van kennis, bly dit al spelend gelyk-tydig as drie-enige kennis waarmee sin vir ons al onderbroke ontsluit word. Laat die een manier van ken tog nie van die ander kennisbronne en modusse losbreek en as losstaande "eenheid/ eenhede" na vore tree nie, maar eerder so 'n skynbare eenheid opsigself onderbreek deur dit in spel te bring in die groter gebroke/onderskeidende eenheid waarin 'n gesamentlike soeke (interspel) na sin tussen twyfel en troos leef. Die drie sleutelbegrippe/hoofstukke impliseer dus 'n gelyktydige beweging (in verskillende modusse en rigtings) waarin onderbreking deur 'n oënskynlike teenstrydigheid juis nuwe wendings/horisonne ("weersprekend" en "weer sprekend" ) in die spel van die lewe loslaat. Die een kan en wil nie sonder die res nie, en daarom 'n voortdurende soeke om die gelaat van die een se keersy in die ander al spelend te ken (en dan ook heel veelseggend in die sin van kennis wat ook kan herken, erken, en beken). Dit is die tydelike (tydige en ontydige) aard van beweging tussen "verlange" (na meer, want ons weet nie alles nie), "vervulling" (daar is eenvoudig iets meer om van te weet), en "vertroosting" (dat ons immers van geweet word) wat meebring dat kennis 'n sekere relasionele (in plaas van blote rasionale) gelaat aanneem in die beliggaamde gesigsveld waarin ons onsself bevind. Die een kom net tot sy reg in gemeenskap met die res. In kort, wat Cilliers se teks my weer verder kom skool, is dat jy tussen die lyne moet lees en nie noodwendig sal val vir wat "skyn" op die oppervlak nie. Teenoor die een manier van skyn, staan 'n gans andere wyse van skyn vir ons om te onderskei.
Hierdie dieptestruktuur-formulerings is gelukkig darem ook nie so verskuil dat 'n mens talle van die plekke waar dit op die oppervlak verskyn sommer kan mis nie. Voorbeelde van sulke ryk veelseggende formuleringe en sinne in die teks is myns insiens die volgende: "Clichés klaar nie die chaos op nie" (47); of die spel met woorde oor "sinsoekers is soos sonneblomme ook sonsoekers" en nie "as sonde-blomme sinloos in jouself gekeer weg van die son" nie (81-82);
Maar ons begrip van 'nou' is te nou. 'Nou' is nie nét nou nie - dit is ook deurdronge met netnou, oftewel toekoms (93);
wanneer ek egter oor ons wese 'in Christus' praat, verkies ek die woord intologie (112);
Ons weet maar alte goed dat standpunte gou tot standbeelde stol -opgerig en ingewy deur die een of ander 'teologiese' proklamasie, met die bedoeling dat dit vir ewig moet hou (115),
en
Ons moet die versoeking weerstaan om 'Die Waarheid' te proklameer, asof ons dit in ons greep het. Ons moet versigtig wees om nie vasgelegde Godsbeelde te konstrueer asof ons God in graniet kan giet nie. Ons moet daarteen waak om God nie te patenteer en in te plooi in ons planne nie (171).
Ek sê dit weer, Johan Cilliers bly voorwaar spelend in die soeke na sin ... en ek speel (nie/net/niet) as ek dit sê ...
Date received: 20 November 2024
Date published: 17 December 2024
