SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.102 issue6Somerset Hospital: South Africa's oldest hospitalArthur Charles Keast (30 may 1927 - 12 february 2010) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


SAMJ: South African Medical Journal

On-line version ISSN 2078-5135
Print version ISSN 0256-9574

SAMJ, S. Afr. med. j. vol.102 n.6 Pretoria Jun. 2012

 

OBITUARY

 

Willem Abraham Cronjé

 

 

'One brief shining moment', soos die lewe van John F Kennedy dikwels beskryf is, so was die lewe van Willie Cronjé. Willie is op 20 Maart 1967 gebore. Op die ouderdom van 44 jaar, op 17 Januarie 2012, sterf hy in 'n wildkamp op sy plaas naby Boshof in die Vrystaat. Sy eie buffel se horing penetreer sy borskas en ruptuur sy pulmonale vena in 'n fratsongeluk. Hy sak inmekaar en sterf voor sy seun Willem.

Willie het van kleins af getoon dat hy nie net 'n gewone mens was nie. Hy was die steunpilaar en voorbeeld vir sy klasmaats, studentevriende, gesin, broers en susters. Willie het van jongs af sy pa Willie soos 'n skaduwee gevolg om alles van boerdery, tot in die fynste besonderhede, te leer. Willie besluit egter in matriek om dokter te word en studeer aan die Universiteit van Pretoria.

Ná sy internskap aan Middelburg Hospitaal vestig hy hom in Pietersburg/Polokwane waar hy 'n suksesvolle huisartspraktyk opbou. Hy was gewild en geliefd by sy pasiënte en kollegas.

Vroeg reeds begin sy eerste liefde deurskemer en ontwikkel hy saam met sy pa plase in die Bosveld en later in die Vrystaat. Willie word 'n uitnemende wildboer en verwerf bekendheid vir die teling van swartwitpense en ander skaars wildsoorte soos bastergemsbokke en goue wildebeeste. Ironies genoeg was sy grootste liefde vir sy buffels wat hy met trots kon aanskou.

Saam met sy vriend John Kriel, oogkundige van Polokwane, begin hy nog 'n nuwe projek. Mosate Lodge, 'n luukse oornagkompleks en konferensiesentrum, verrys in Polokwane. Die projek is so suksesvol dat 'n tweede Mosate Lodge in Lephalale/Ellisras sy deure open.

Willie se belangstellings was besonder wyd. Hy word 'n kranige vlieënier wat in sy eie vliegtuig na sy wydverspreide sakebelange vlieg. Hy was ook 'n entoesiastiese teler van Arabier perde en het gereeld aan uithouritte deelgeneem.

Willie was 'n besonderse pa vir sy twee talentvolle kinders, Willem, 'n eerstejaar BCom (Rek)-student aan Tukkies, en Elisma, graad 11-leerder aan die Hoërskool Menlopark. Sy vrou Liesl het hom deur dik en dun bygestaan. Hulle is in 1992 getroud nadat hy afgestudeer het en sy haar onderwysstudies en termyn as primaria van Huis Madelief by Tukkies voltooi het.

Liesl is die dogter van dr. Johan Krüger, voormalige president van SAMA, en suster van dr. Mannie Krüger, Nasionale Raadslid van SAMA.

Willie se twee broers en drie susters is almal medici - Elda is 'n oogkundige, Marietha 'n huisarts, Cornél 'n tandarts, Roelof 'n oftalmoloog, en Jan 'n huisarts.

Sy vriend, Claude Moller, skryf: 'He was a cut above the rest ... .' 'Alles wat hy gedoen, gedink, gemaak, gekoop, gedra, gery en gebou het, was in daardie genre. Ek betrap myself daagliks in hierdie denkvlugte oor hom; talle gesprekke by baie vure oor baie ure; ek dink ons dilemma is dat hy vir ons onvervangbaar is.' Op 20 Januarie groet meer as 500 vriende, familie en kollegas in 'n volgepakte Lynnwood Gemeente hierdie merkwaardige geneesheer. Ons mis hom baie!

 

 

Johan Krüger

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License