Ja, vir God, Nee vir die Kerk? Kobus Kok / Yes, to God, No to the Church?
Geresenseer deur Erna Oliver
Universiteit van Suid-Afrika. olivee@unisa.ac.za https://orcid.org/0000-0003-3606-1537
Carpe Diem, 2018, Vanderbijlpark, pp. 191, prys R149.00 ISBN 9781432208677
]]> In aansluiting by die elektroniese era, is daar 12 addisionele video's tot hierdie publikasie wat handel oor die uitdagings wat die kerk vandag in die gesig staar, wat by die boek aansluit en deur 'n kode ontsluit word. Ek kon nie die video's ontsluit om te sien of dit meer om die lyf het as wat in die boek verskyn nie.As n mens verby die selfversekerde en effens verwaande aanslag van die skrywer (wat in Europa woon) kyk, lees die boek maklik en vloeiend, al is die inhoud sekerlik vir die meeste lesers nie nuut nie. Die boek bied eerstens n bevestiging van mense se denke en belewenisse rondom die krisis waarin die Afrikaanse kerke (hy verwys hoofsaaklik na die NG Kerk) tans verkeer, en som ook die soeke na moontlike oplossings en alternatiewe roetes vir die toekoms van die Christelike geloof in Suid-Afrika op. Die tweede gedeelte van die boek, vanaf hoofstuk 7, stel egter teleur. In plaas daarvan om kreatiewe antwoorde en oplossings te bied vir die titelvraag wat hy stel, vlug die outeur eenvoudig terug na geykte, tradisionele geloofsbeginsels wat opnuut in die kerk (as instituut) toegepas moet word om verandering en vernuwing te bring. Die aanhaling van Stephan Joubert op die voorblad dat die inhoud van die boek hom "Godwaarts én Kerkwaarts" vorentoe neem, bevestig dat die antwoord op die titel van die boek "Nee" is en dat daar hoofsaaklik vir kosmetiese verandering van kerkwees gevra word.
Die boek bestaan uit 11 hoofstukke wat begin met "Moeg vir 'n moeè kerk." Die daaropvolgende drie hoofstukke word gewy aan besprekings oor die tye waarin ons leef. Hoofstuk 6 handel oor die kerk vandag en die laaste vyf hoofstukke is Kok se siening en antwoord om die krisis die hoof te bied. Dit is duidelik dat hy nie die implikasies van die titelvraag aanspreek nie, maar gelowiges oproep om opnuut die tradisionele Christelike beginsels binne die kerk uit te leef. Dit sluit in om Jesus se voorbeeld te volg, in geloof en met vertroue te leef en die "beginsels van ware dissipelskap" uit te
leef. In die laaste hoofstuk word die priesterskap van die gelowiges ingewerk in die oproep dat alle gelowiges die evangelie moet verkondig en uitdra in die konteks waarbinne hulle leef en werk. Die vraag bly dus steeds: Wat staan gelowiges te doen indien hulle nie langer kans sien om binne die sterwende kerk te leef nie?
Die bronnelys is 'n handige hulpmiddel vir lesers om die inligting rakende die werke waarna in die teks verwys word, te kan naspeur. Verder is daar ook talle verwysings in die teks na webwerwe en videomateriaal.
Die boek word aanbeveel vir alle gelowiges. Kerkleiers moet veral van die eerste ses hoofstukke kennis neem en daarop reageer, terwyl predikante preekstof uit veral die tweede gedeelte kan myn. Verder behoort gelowiges antwoorde op hierdie vraag, wat die werklikheid van die geloofskrisis raakvat, te kan formuleer in gesprek met Kok en die kerk. Gelowiges binne die kerk sowel as dié daarbuite sal stof tot nadenke en verdere ondersoek vind, wat inderdaad tot geloofsverdieping kan lei.
]]>