<?xml version="1.0" encoding="ISO-8859-1"?><article xmlns:mml="http://www.w3.org/1998/Math/MathML" xmlns:xlink="http://www.w3.org/1999/xlink" xmlns:xsi="http://www.w3.org/2001/XMLSchema-instance">
<front>
<journal-meta>
<journal-id>0041-476X</journal-id>
<journal-title><![CDATA[Tydskrif vir Letterkunde]]></journal-title>
<abbrev-journal-title><![CDATA[Tydskr. letterkd.]]></abbrev-journal-title>
<issn>0041-476X</issn>
<publisher>
<publisher-name><![CDATA[Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria]]></publisher-name>
</publisher>
</journal-meta>
<article-meta>
<article-id>S0041-476X2012000100015</article-id>
<title-group>
<article-title xml:lang="af"><![CDATA[Melvin Whitebooi (1956-2011)]]></article-title>
</title-group>
<contrib-group>
<contrib contrib-type="author">
<name>
<surname><![CDATA[Braaf]]></surname>
<given-names><![CDATA[Peter]]></given-names>
</name>
</contrib>
</contrib-group>
<aff id="A">
<institution><![CDATA[,  ]]></institution>
<addr-line><![CDATA[ ]]></addr-line>
</aff>
<pub-date pub-type="pub">
<day>00</day>
<month>00</month>
<year>2012</year>
</pub-date>
<pub-date pub-type="epub">
<day>00</day>
<month>00</month>
<year>2012</year>
</pub-date>
<volume>49</volume>
<numero>1</numero>
<fpage>153</fpage>
<lpage>155</lpage>
<copyright-statement/>
<copyright-year/>
<self-uri xlink:href="http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&amp;pid=S0041-476X2012000100015&amp;lng=en&amp;nrm=iso&amp;tlng=en"></self-uri><self-uri xlink:href="http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_abstract&amp;pid=S0041-476X2012000100015&amp;lng=en&amp;nrm=iso&amp;tlng=en"></self-uri><self-uri xlink:href="http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_pdf&amp;pid=S0041-476X2012000100015&amp;lng=en&amp;nrm=iso&amp;tlng=en"></self-uri></article-meta>
</front><body><![CDATA[ <p align="right"><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif"><b>HULDEBLYK</b></font></p>     <p>&nbsp;</p>     <p><font size="4" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif"><b>Melvin Whitebooi (1956-2011)</b></font></p>     <p>&nbsp;</p>     <p>&nbsp;</p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif"><b>Peter Braaf</b></font></p>     <p>&nbsp;</p>     <p>&nbsp;</p>     <p align="center"><img src="/img/revistas/tvl/v49n1/a15fig01.jpg"></p>     <p>&nbsp;</p>     ]]></body>
<body><![CDATA[<p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Op Ou Krismis 2011, 24 Desember, besoek ek en my vrou Sandy drie grafte. Vir ons drie belangrike grafte, almal afgestorwe lede van die Cape Flats Players: Boccaccio Braaf, my seun; Melvin Whitebooi, my vriend en Ivan Sylvester, my skoonbroer. By elkeen se graf besef ek die kortstondigheid van die lewe en my gedagtes gaan terug na die spesiale momente wat ons gedeel het. By Melly se graf in Stikland-begraafplaas sien ek die blomme en die kranse en ek dink: "Di&eacute; familie kyk goed na jou graf en jy leef voort in hul gedagtes." En dit is reg so, want hy het hulle respek verdien. </font></p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Dit is met groot hartseer dat die Cape Flats Players vaarwel s&ecirc; aan ons jarelange vriend. Ons het mekaar vir meer as 30 jaar geken. Hy het in die tagtigerjare lid van die groep geword en 'n sleutelrol gespeel in ons toneelgroep, veral met die skryf en opvoer van sy bekende toneelstukke <i>Dit sal die bl&ecirc;rrie dag wies! </i>(1982), <i>Di&eacute; kant d&aacute;&aacute;i kant </i>(1984), <i>Koffie en kondensmelk </i>(1986) en <i>Die Goodbye People </i>(1991). </font></p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif"><i>Dit sal die bl&ecirc;rrie dag wies!</i> was Melvin (15 April 1956-10 November 2011) se debuut wat hy spesiaal vir die Cape Flats Players geskryf het en die gedwonge Distrik Sesverskuiwings as tema gehad het. Dit het 'n aanduiding gegee van sy skryftalent en sy vermo&euml; om relevant te wees en om mense na sy opvoerings te trek. Vader Basil van Rensburg, 'n kampvegter vir die oorspronklike Distriksessers, het dit beskou as 'n stuk wat "herinneringe terugbring" en andere het dit as 'n pleidooi vir menslikheid en verandering ervaar. Di&eacute; gewilde stuk is in die middel-tagtigerjare selfs tot in Johannesburg opgevoer en hieroor het <i>The Star-</i>resensent Ian Gray op 19 Junie 1984 veel lof gehad: "It would take a remarkable politician indeed to explain away forced removals, whether convinced or coerced to any audience after a performance of this new play by Cape Town journalist Melvin Whitebooi." </font></p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Die stuk is veral op die Kaapse Vlakte voor entoesiastiese gehore opgevoer soos <i>The District Mail</i> van Somerset-Wes op 8 Junie 1984 getuig: "<i>Dit sal die bl&ecirc;rrie dag wies! </i>The successful drama production which was presented in Somerset West and Macassar at the end of April, is being brought back by public demand." Ook Kerneels Breytenbach skryf in <i>Die Burger </i>van 10 Maart 1984 dat te midde van gerugte oor die ondergang van Afrikaans hierdie toneelstuk die teendeel bewys het: "Die De Langekommissie vertel in sy verslag hoe die gebruik van Afrikaans op die Kaapse Vlakte styg, en Melvin Whitebooi se <i>Dit sal die bl&ecirc;rrie dag wies!</i> het die vitaliteit van daardie groeipunt bewys. Min mense besef dat dit die enigste Afrikaanse opvoering in Kaapstad is wat die afgelope twintig jaar 'n ten volle uitverkoopte speelvlak had." In 1982 het die stuk die Kellerprinz-dramafees gewen en as deel van die wenprys is dit oor die hele land opgevoer. Dit het meer as 800 vertonings beleef en met na raming 1000 toneelgangers per opvoering moes meer as 800 000 mense dit gesien het. </font></p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Al was Melvin 'n rustige man met 'n sagte stem wat selde opgewonde of oorstuur geraak het, het hy 'n duidelike idee gehad van wat hy met sy toneelstukke wou bereik. Hy was nie 'n onbetrokke skrywer nie, hy was verteenwoordigend van 'n stem wat gehoor moes word en wat anders gepraat het as waaraan mense gewoond was. In die gepubliseerde verslag van die Swart Afrikaanse Skrywersimposium van 1985, <i>Swart Afrikaanse Skrywers</i>, stel hy dit onomwonde: "Ek dra gewoonlik 'n sosiopolitieke boodskap oor, en my stukke pas by die Cape Flats Players wat probeer om die mense op die platteland bewus te maak van die sosio-politieke situasie en om hulle op te hef." Elders in 'n <i>Rapport</i>-artikel op 17 Junie 1984 skryf hy: </font></p> <font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">     <blockquote> Bruin drama sorg self dat hy gehoor word. Die bruin stem is 'n stem wat gehoor <i>moet</i> word. En al word hy gestil omdat uitgewers en die televisie nie daarin belang stel nie, sal hy voortleef tussen sy mense. Nou is daar dalk diegene wat vra wat die bruin dramaturg aan sy mense vertel. Alles. Ons vertel hulle van die Groeps gebiedewet, di&eacute; wet, d&aacute;&aacute;i wet, maar ons weet ook hulle is nie engeltjies nie, en betig hulle omdat hulle byvoorbeeld apartheid onder mekaar toepas, omdat hulle so verdeeld is. </blockquote> </font>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Sy stukke getuig van sy betrokkenheid:<i> Di&eacute; kant d&aacute;&aacute;i kant</i> het gehandel oor verdeeldheid in die swart sportgemeenskap met die uitgesproke anti-apartheidsliggaam SACOS aan die een kant teenoor die meer toeskietlike en gematigde SA Federasie aan die ander kant; <i>Koffie en kondensmelk </i>het die ongemaklikheid van apartheid in die skoonheidsbedryf onder die loep geneem, waar die belaglikheid van 'n wit Miss South Africa en 'n swart Miss Africa South aan die kaak gestel is. In <i>Die Goodbye People </i>het hy die probleem van die verwaarlosing van mense in inrigtings vir sielsiekes en ouetehuise aangepak, en in di&eacute; stuk hy het nie omgegee om sy gehore te betig nie, want "hulle is nie engeltjies nie". </font></p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Melvin was 'n joernalis wat in <i>Rapport, Die Burger</i> en <i>Die Son</i> gewys het wat dit is om oor ons mense en gebeure in ons gemeenskap te skryf. Hy het oor plaaslike <i>bands </i>en sport geskryf en onbekende skrywers en jonger kunstenaars aan die woord gestel. Hy het verby status gekyk en vir derduisende lesers van <i>Die Burger-Ekstra </i>was hy Melly die gewilde, plat-op-die-aarde-skrywer van veertien koerantvervolgverhale: <i>Smeltkroes van die liefde </i>(1977), <i>Miranda is haar naam</i> (1978), <i>Meisie van die see </i>(1978), <i>Angela se verhaal </i>(1980), <i>Jou dag sal jy kry </i>(1980), <i>Met bloed sal jy betaal </i>(1982), <i>Siener van die dood </i>(1983), <i>Nag van die Swart Arend </i>(1983), <i>Siener van die dood: die jare daarna </i>(1984), <i>Vrou agter die masker </i>(1985), <i>Rykmanshoogte </i>(1985), <i>Dogter van die duiwel </i>(1985), <i>Jy soek jou dood </i>(1986) en <i>Blou Bloed </i>(1988). </font></p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Sy kortverhale is in 'n aantal verhaalbundels opgeneem; hy het ook die toneelstukke <i>Die draadsitter </i>(1991), <i>'n Woensdag in April </i>(1995) en die radiodrama <i>Die re&euml;nmaker </i>(1986) geskryf; hy was die draaiboekskrywer van die televisiereeks <i>Die Allemans </i>(1991) en die enkel televisiedrama <i>Tot jy dood is </i>(1994). By sy graf op Ou Krismisdag het ek onthou dat hy soveel tyd gemaak het vir sy gemeenskap en daarvoor eer ons hom. </font></p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Ons by die Cape Flats Players sal Melvin Whitebooi onthou as 'n talentvolle skrywer wat 'n onblusbare kreatiwiteit gehad het; hy was nederig en 'n allemansvriend; hy het onbaatsugtige diens aan sy gemeenskap gelewer en hy was lojaal teenoor sy vriende en familie, en sy werksetiek was onberispelik. Hy is gebore in die township Schauderville in Port Elizabeth en het sy matriek aan die sekond&ecirc;re skool op Uitenhage voltooi. Hy laat sy vrou Roseline en sy kinders Siobhan en Aarika agter.</font></p>     ]]></body>
<body><![CDATA[<p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif"> Ek onthou hom met deernis en mag sy nalatenskap nie verlore gaan nie. </font></p>     <p>&nbsp;</p>     <p>&nbsp;</p>     <p><font size="2" face="Verdana, Arial, Helvetica, sans-serif">Peter Braaf is 'n stigterslid van die Cape Flats Players en sedert 1972 betrokke by Afrikaanse amateurtoneel. </font></p>      ]]></body>
<REFERENCES></REFERENCES
</article>
