SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.74 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Town and Regional Planning

On-line version ISSN 2415-0495
Print version ISSN 1012-280X

Town reg. plan. (Online) vol.74  Bloemfontein  2019

 

EDITORIAL

 

Van die redakteur:

 

 

Prof. Das Steÿn 2019

 

 

Vanaf die begin van die mensdom was daar verskillende tipes ongelykhede tussen mense. Party kon vinniger hardloop as ander, sommige vinniger dink as ander, of ander was net groter en sterker as die res. Die menslike samestelling is van so 'n aard dat die kombinasie van menslike eienskappe nie altyd dit was wat elkeen sou verkies nie. Die mooi reus met die fyn stemmetjie, die kreupel dowe genie, die doodgoeie arbeider of enige ander kombinasie.

Om weg te kom van die "oorlewing van die sterkste" is daar groepe en gemeenskappe gevorm wat met verloop van tyd elk 'n eie kultuur ontwikkel het. Bogenoemde menslike verskille, eienskappe en soms gebreke is deur verskillende kulture verskillend hanteer. By kulture waar oorlewing elke dag 'n stryd was, is 'n persoon met 'n gebrek of ander hindernis byvoorbeeld ouderdom, wat die groep se oorlewing in gevaar stel, doodeenvoudig die kans gegun om te sterf. Soos beskawings ontwikkel het, het verskillende waardesisteme ontwikkel vir verskillende gemeenskappe met 'n eiesoortige godsdiensbeskouing wat hierdie ongelykhede tussen mense verklaar. Dit het ook berusting gebring in elke gemeenskap waar mense hul plek en rol in die gemeenskap aanvaar het as deel van 'n groter orde.

In meeste kulture was daar 'n definitiewe klasseverskil tussen landvolk (Engels 'peasants') en die verskillende groepe met sogenaamde "blou bloed" (adel, stamhoofde en geestelikes). Die Renaissance het 'n gees van vrywording in die Weste losgelaat op verskillende lewensterreine. Die mens en sy werke is nou al belangriker en vorm nou die middelpunt van menslike denke. Die mens poog om alles te verander wat nie na sy smaak is nie, gehelp deur die ontwikkeling van die moderne wetenskap en rasionele denke. Die individu word belangrik en glo sy lewenslot is nou in sy eie hande. So het daar op godsdienstige vlak die Hervorming plaasgevind wat die beheer van die samelewing deur die kerk in Noord-Europa beëindig het. Die nuwe denke het ook op politieke gebied tot die sogenaamde "Glorious Revolution" van 1688 gelei, waardeur Engeland 'n demokratiese regeringsvorm gekry het wat in die volgende eeu deur die Amerikaners en die Franse nagevolg sou word. Hierna volg die negentiende eeu wat as die Eeu van Revolusies bekend was en tot politieke demokratisering van meeste Westerse lande lei.

In hierdie tyd word aan die een kant die ou orde, die Tradisionaliste, gevind, waar kultuur en tradisie sentraal staan. Kultuur en geloof leer die mens dat elke persoon verantwoordelikheid vir sy eie lewe moet aanvaar. Die groep ag dit belangrik om beheer oor die eie sake uit te oefen. Aan die ander kant, die Moderniste, is dit die mens se vryheid wat alle denke oorheers. Vir hul het die mens 'n reg tot iets. Laasgenoemde groep, ook humanisme genoem weens hul klem op die mens, gee geboorte aan twee uiteenlopende "kinders", wat elk weer 'n eie siening van vryheid en geregtigheid het. Vir die een "kind" is die individu en sy vryheid die belangrikste en is die staat se rol beperk. Dit is die kapitalisme waar die vrye mark vir alle mense die reg verleen om bates te besit, daarmee te woeker, gelyke toegang tot die mark te verkry en op eie krag bo uit te kom. Die ander "kind", die kommunisme, glo weer dat die staat die instrument is wat gebruik moet word om gelykheid en alle menseregte soos die reg op behuising, gesondheid, onderwys, werk en gelyke behandeling te verseker. Die staat moet alle terreine van die samelewing oorheers en sal deur die effektiewe beheer tot 'n utopia lei, die werkersparadys. Beide hierdie groepe is internasionaal ingestel en poog om hul eie idees globaal uit te brei.

Tog het die geskiedenis bewys dat beide die twee benaderings uiteindelik tot armoede en onderdrukking lei. By kapitalisme is gevind dat die onbeheerde markte lei tot monopolistiese toestande waar die rykes al ryker word en die gaping tussen ryk en arm al groter word. In meeste kommunistiese of oud-kommunistiese lande kon die staat net voortbestaan as daar 'n eenparty stelsel is. Die menslike aard wys dat alle mense nie ewe hard werk om die kommunistiese ideaal te verwesentlik nie. Party is bloot lui, onbekwaam, leuenaars, kansvatters of diewe. Die stelsel werk dan nie. Die staat as die enjin wat alles moet dryf, is dan ondoeltreffend, nie in staat om dit te doen nie en word toestande meestal slegter as beter. In plaas van 'n samelewing waar almal alles wat hul nodig het, sou hê, is bevind dat die meeste mense baie swaar kry weens tekorte aan noodsaaklike goedere en dienste.

Die humanisme het egter meeste van die teorieë ontwikkel in lande wat redelik kultureel homogeen was en hierdie feit word nie altyd in ag geneem nie. Hier in Suid-Afrika is daar nie net klasseverskille nie, maar ook etniese verskille, magsverskille, godsdiensverskille, verskille tussen die mense wat een of ander vorm van modernisme aanhang teenoor die tradisionaliste wat weer die eie kultuur wil bevorder en onder andere ook mense met werk en mense sonder werk.

Die land het slegs vir 'n klein periode van sy geskiedenis positiewe ekonomiese groei beleef. Van 1954 tot 1974 is 'n groeikoers van 5% beleef en van 1994 tot 2012 'n groeikoers van 3.5% gehandhaaf, wat beteken het dat gedurende hierdie tydperke die ekonomiese groeikoers hoër was as die natuurlike bevolkingsgroei. In die eerste tydperk het almal nie eweveel in die groei gedeel nie, maar is die land ontwikkel tot 'n moderne industriële staat. Met die tweede tydperk van groei, het die geld meestal in die hande van die korporatiewe sektor beland en is die winste grotendeels landuit. Verder het 'n onproduktiewe en oneffektiewe staatsdiens, korrupsie en staatskaping daartoe gelei dat 'n groot deel van die belasting nie gebruik is om armes se toestande te verbeter nie.

Die huidige dilemma is: Hoe word die saak opgelos? Daar is 'n groot vertroue in die demokrasie en die grondwet om dit op te los. Maar dit is nie so eenvoudig nie. Eerstens is die Suid-Afrikaanse demokratiese model geskoei op 'n 50%-plus-een stelsel om te regeer. Kiesers moet nou oorgehaal word om vir 'n party te stem en die probleem is: "You can't outpromise a socialist". Verwagtinge waaraan nie voldoen kan word nie, word nou geskep en hoe meer die regering geld spandeer wat hy nie het nie, hoe meer moet van die wat het, gevat word, totdat almal ewe arm is en die stelsel in duie stort. Rykdom kan alleen versprei word as die ekonomie groei en die groei gebruik word om die behoeftiges op te help. Tweedens is in die grondwet die fout gemaak om in naam van menseregte sekere sosiaal-ekonomiese regte in die grondwet in te skryf. Verder kies die staat welke regte vanuit die grondwet toegepas word en welkes nie (taalregte vir al 11 amptelike tale het verval tot enkel Engels). Daarby het grondwette wêreldwyd 'n gemiddelde leeftyd van 20 jaar waarna 'n nuwe geslag dit verander of anders vertolk in die grondwethof. Huidiglik is eiendomsreg in die kalklig en word net 'n twee derde meerderheid benodig om dit te verander.

Miskien is dit nou tyd om te herbesin oor hoe die verskeidenheid van mense en volke binne hierdie land geakkommodeer word? Die Verenigde State van Amerika beroep hul ook op 'n regstaat, 'n regstaat wat 'n republiek van verskillende state is en waar die verskillende state beskerm word teen die mag van oorheersing van die massas, die demokrasie. In Suid-Afrika word mense al meer op grond van die met werk en die sonder werk verdeel. Dit kan lei tot 'n konflik tussen die wat het en die wat nie het nie. Suid-Afrikaners is waarskynlik onder die indruk dat hierdie 'n ryk land is, maar in werklikheid is die SA bruto nasionale produk (BNP) kleiner as die van die stad Amsterdam.1Wat kan in Suid-Afrika gedoen word om die land te beskerm teen 'n oglokrasie?

Een manier is om ruimte te maak vir verskillende keuses van bestaan in die land. Die verskille oor hoe 'n samelewing saamgestel word, skep verskillende verwagtinge. Vir tradisionaliste is dit om kinders groot te maak in 'n gemeenskap wat die eie waardes hoog ag. Vir die moderniste is dit 'n wêreld wat of deur kapitalisme of deur sosialisme oorheers word. Kan daar in plaas van een groot gemeenskap wat tot 'n vrugtesap saamgepers word, 'n kaleidoskoop van moontlikhede wees, soos 'n vrugteslaai waarin die verskillende vrugte elk herkenbaar is en elk sy eie bestaansreg het? Kan daar plek vir die verskillende soorte tradisionaliste in Suid-Afrika wees, soos die Zoeloe, die Venda, die Xhosa, die Afrikaner en ander tradisionele gemeenskappe, met ruimte om hulself te wees? Kan daar dele van Suid-Afrika wees wat die vrye mark aanhang en die skeppers van werk en groei wees? Vrystede soos Singapoer en Hong Kong wat kan werk verskaf vir omliggende gemeenskappe? Kan daar dele wees waar mense toegelaat word om die sosialisme of kommunisme te beoefen as dit hul keuse is?

Klosterman (1978) het in 'n artikel "Foundations for normative planning" getoon dat die Westerse beplanning deur twee belangrike intellektuele tradisies ontwikkel het, naamlik die rasionele tradisie en die hervormingstradisie, wat bygedra het om van die Weste 'n beter plek te maak. Alle pogings moet dus ekonomies haalbaar wees in die strewe om mense te help om in 'n beter posisie te kom, sonder om revolusionêr met die verlede te breek. Klosterman het tot die gevolgtrekking gekom dat waardevrye beplanning in beginsel onmoontlik is aangesien beplanning wesentlik polities van aard is. Die verskille tussen die tradisionaliste en die moderniste behels verskillende politieke benaderings of ideologieë om 'n probleem op te los. As die demokrasie daartoe lei dat slegs een ideologie oorheers, dan is daar baie verloorders in die spel van beplanning. Daar moet waarskynlik eerder 'n verskeidenheid van moontlikhede toegelaat word, waartussen die bevolking kan kies. Mense kan dan inskakel by welke een van die oplossings hulle ondersteun, of geld verdien in een en woon in 'n ander gebied. 'n Suid-Afrika wat uit verskillende kantonne of federasies of stadsrade bestaan wat elk outonoom is om self te kies welke ideologie vir die betrokke groep van belang is. Beplanners sal moet help om die limiete van moontlikhede hier bloot te lê.

 

 

1 Vir 2018 word die BNP van Amsterdam as US$350 biljoen aangegee en die van Suid-Afrika as US$349 biljoen. Die bevolking van Amsterdam is minder as een miljoen teenoor SA se 57 miljoen sonder onwettige immigrante.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License